Gisela Ullyatt. Mary Oliver en die Zen van aandagtigheid

’n Digter wat redelik onbekend is aan Suid-Afrikaanse poësieliefhebbers is Mary Oliver. Sy is tans een van die gewildste digters in Amerika en elke voorlesing van haar trek vol gehoorsale. Dit was egter nie altyd so nie, omdat sy die grootste gedeelte van haar digterslewe byna geen onderhoude toegestaan het nie (wat steeds die geval is) en grotendeels in anonimiteit geleef het. Die rede vir haar gewildheid is die toeganklikheid van haar verse, alhoewel dit nie beteken dat haar gedigte simplisties is nie. Sy wen die Pulitzerprys in 1984 vir haar digbundel, American Primitive, en tot op hede publiseer sy nagenoeg vier-en-twintig digbundels, drie essay-bundels en twee boeke oor prosodiese digvorme.

Oliver is ’n boorling van Ohio (gebore in 1935) en het in Cleveland grootgeword. Sy het van kindsbeen af haar toevlug in die natuur geneem en skool gebank om Walt Whitman in die woud te lees. In die sestigerjare vestig sy haar in Provincetown, Massachusetts, en meeste van haar digbundels handel oor dié gebied se natuurskoon wat woude, die see en ’n aantal kleinerige mere insluit. Provincetown is ’n magneet vir skrywers en kunstenaars wat soos sy, ook spirituele asiel daar gevind het.

Haar oeuvre omvat ’n diepgaande konneksie met die alledaagse, soos veral sigbaar in die natuur. Die uitbeelding van die alledaagse is veral merkbaar in die volgende versreëls in haar gedig, “Mindful”:

Nor am I talking

    about the exceptional

 

the fearful, the dreadful,

     the very extravagant –

         but of the ordinary,

            the common, the very drab,

 

 the daily presentations.

Aandagtigheid (‘mindfulness’) sluit aan by die ervaring van die alledaagse en is die kern van haar boodskap aan lesers: skenk aandag aan die hede. Sonder aandagtigheid gaan die wêreld jou verby. Daar is dus ’n groot mate van Zen-belewenis wat deur haar digkuns vloei, ’n ervaring van kenshō wat ’n skielike deurbraak of verhelderende ervaring – veral gedurende meditasie – beteken. Oliver het Japan in die vroeë tagtigs besoek en akademici daar het haar gedigte in ’n Oosterse konteks geplaas, alhoewel sy dit nie altyd op ’n frappante wyse gebruik wanneer sy skryf nie:

I think sometimes my poems have a sort of Eastern circularity – the sense of seeing something, the epiphany, and making something of it which is news for oneself.

Die epifanie, of skielike insig waarvan sy praat, is veral opmerklik in die laaste drie strofes van “When Death Comes” (Wild Geese:73):

When it’s over, I want to say: all my life

 

I was a bride married to amazement.

I was the bridegroom, taking the world into my arms.

 

When it’s over, I don’t want to wonder

if I have made of my life something particular, and real.

I don’t want to find myself sighing, and frightened,

or full of argument.

 

I don’t want to end up simply having visited this world.

Dis hierdie verwondering wat sy aan haar lesers – of hulle na ’n voorlesing luister of haar digbundels lees – oordra. In een van die seldsame onderhoude wat met haar gevoer is deur die jare, haal sy Flaubert aan waarmee sy die konsepte van verwondering en aandagtigheid illustreer:

“Flaubert says something wonderful: ‘Talent is long patience, and originality an effort of will and of intense observation.’ I lived for years with that, trying for intense observation, believing in it. Well, I still do!” (Oliver in Swanson 1990:7).

Vir Oliver is verwondering ook deel van die natuurlike vloei van alles, die lewe sowel as verganklikheid/dood. “In Blackwater Woods” besin sy oor hierdie kerntema:

Every year

everything

I have ever learned

in my lifetime

leads back to this: the fires

and the black river of loss

whose other side

 

is salvation,

whose meaning

none of us will ever know.

Die laaste deel van dié gedig kommunikeer direk met lesers (deur die imperatiewe opdrag) deur drie prinsipes te omskryf wat hulle help om verlies te verwerk. Die motief is eenduidig wat sy hier oordra: die ondraaglikheid van verganklikheid word draagliker wanneer jy dit aanpak sonder aanklewing. Dit is verknogtheid aan vergane dinge wat emosionele lyding in die individu veroorsaak:

To live in this world

you must be able

to do three things:

to love what is mortal;

to hold it

 

against your bones knowing

your own life depends on it;

and, when the time comes to let it go,

to let it go.

Dus maan Oliver haar lesers om selfs oor die dood verwonderd te wees, juis omdat dit so onlosmaaklik is van alles wat leef; daarom sal opmerksame lesers bestek neem van hul eie lewens:

Doesn’t everything die at last, and too soon?

Tell me, what is it you plan to do

 

with your one wild and precious life?

En hiermee word Mary Oliver die “bride of amazement” soos vroeër gesien in “When death comes”. Só oorbrug sy as bruid van die digkuns twee skynbare dualistiese begrippe: lewe en dood. En albei verdien ’n kans tot besinning en verwondering.

Bronne:

Oliver, M. 1983. American Primitive. Boston:MA, Little, Brown.

Oliver, M. 1990. House of Light. Boston, MA:Beacon.

OLiver, M. 2004. Why I Wake Early. Boston, MA: Beacon.

Oliver, M. 2006. Wild Geese: Selected Poems. Tarset, Northumberland: Bloodaxe Books.

Ratiner, S. 2002. Mary Oliver – A Solitary Walk. In Ratiner, S. ed. 2002. Giving Their Word: Conversations with Contemporary Poets. Amherst and Boston, MA: University of Massachusetts Press, 39-65.

Swanson, E.  1990. The Language of Dreams: An Interview with Mary Oliver. Bloomsbury Review Mei/Junie, 10(3),1-6.

 

Gisela Ullyatt

Gisela Ullyatt is ’n Vrystater in murg en been. Sy is gebore in Bloemfontein in 1977 en behaal die grade MA (Duits) en MA (Engelse taalstudie) aan die Universiteit van die Vrystaat. Haar PhD-navorsing (NWU) handel oor die Amerikaanse digter, Mary Oliver, gesien deur die raamwerk van Boeddhisme. Sy dig sedert haar hoërskooldae en in 1995 wen sy die De Kat/ATKV-poësieprys en in 1998 die Volksblad/Dept Afr/Nederlands-prys vir die beste gedig. Sy publiseer ook gedigte in Litera en Honderd Dichters 6. Sy en haar man, Tony, se eerste liefde is literêre vertaling en neem deel aan vertalingsprojekte soos In a Burning Sea (tans op Versindaba se webblad) en die SA Akademie vir Kuns en Wetenskap.

 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Gisela Ullyatt. Mary Oliver en die Zen van aandagtigheid”

  1. Rene Bohnen :

    Lekker blog, dankie, ek het dit geniet!

  2. Gisela Ullyatt :

    Dankie, René!

  3. Maria Steyn :

    Dit is verfrissend om iets oor Mary Oliver in Suid-Afrika te lees!
    Ek skryf vanaf 1999 haiku en tanka in Engels via e-pos saam met digters van verskillende lande. Dit is beslis nie ‘intellektuele’ poësie nie en die misleidende eenvoud daarvan veroorsaak dikwels dat lesers die subtiele diepte van hierdie genres miskyk. Internetvriende het my ‘n paar jaar gelede aan die werk van Mary Oliver voorgestel. (Alhoewel sy nie haiku en tanka skryf sover ek weet nie.)Die diepte, eenvoud en verwondering in haar skryfwerk, soos so goed deur Gisela Ullyat beskryf, is inspirerend.
    Vir die wat belangstel is daar ‘n video (en ek dink audio) onderhoud met Mary Oliver op http://www.lannanfoundation.org. Spesifiek: http://podcast.lannan.org/?s=Mary+Oliver&submit=GO
    Beslis die moeite werd.
    Maria Steyn/Rautenbach

  4. Gisela Ullyatt :

    Maria, dankie vir die inligting. Oliver is inderdaad redelik onbekend aan poësiekringe. Dit sal wonderlik wees as sy op universiteitsvlak bekendgestel kan word!

  5. carina van der walt :

    Gisela, is dit nie maar ons almal se diepste versugting nie, op watter manier dan ook: “I don’t want to end up simply having visited the world.”? Dankie vir die bekendstelling aan Mary Oliver se werk. Ek maak van dit my ‘bed toe gaan’ gedigreël vir vanaand.

  6. Hilda :

    Dankie, Gisela. Pragtig hierdie –
    “Every year
    everything
    I have ever learned
    in my lifetime
    leads back to this: the fires
    and the black river of loss
    whose other side…”

  7. Gisela Ullyatt :

    Dankie Carina en Hilda. Hoe meer mens Oliver lees, hoe meer begin mens die wysheid van haar verse verstaan. Dis amper verslawend!

  8. Nicolette van der Walt :

    So lekker gewees om hierdie artikel oor een van my gunsteling digters, Mary Oliver, te lees. Daar is soveel diepte en lewenswysheid in haar gedigte en ek lief veral die natuurlike elemente in haar verse. ‘n Ander gunsteling van my is Jane Hirshfield. Hulle skryfwerk illustreer die trefkrag van eenvoud. Dankie!

    Een van my gunsteling reels is hierdie uit At Great Pond:

    “I am almost the lily —
    almost the bird vanishing over the water
    on its sleeves of night.”

  9. Gisela Ullyatt :

    Dankie Nicolette. Mary Oliver is ‘n digter wat ‘n groot impak het op Amerikaanse gehore op die oomblik alhoewel sy reeds in die sestigerjare gepubliseer het. Ek is altyd bly om te hoor dat daar wel lesers soos jy is wat haar digkuns geniet, want Suid-Afrikaanse lesers oor die algemeen is nie altyd bekend met meeste van haar (vele) digbundels nie. Ek sal beslis Jane Hirschfield gaan opsoek, dankie vir die ‘tip’.