Onderhoud met Johann Lodewyk Marais

Louis Esterhuizen in gesprek met Johann Lodewyk Marais oor In die bloute (2012)

 

LE: Johann, van harte geluk met ’n verruklike toevoeging tot jou reeds indrukwekkende oeuvre; dié bundel het ek geweldig gevind … Kom ons begin dan sommer daar: Hoe het die idee vir dié “seeboek” tot stand gekom?

JLM: Baie dankie, Louis. Die see speel geruime tyd reeds ’n rol in my poësie. Op 19 April 2009 het ek op Versindaba (http://versindaba.co.za/2009/04/19/poetiese-leerjare-jl-marais/) redelik uitgebreid oor my belangstelling in dié rigting geskryf. Ek het onder meer vertel van ’n opmerking van die Duitse filosoof Hans-Georg Gadamer in 1980 tydens ’n lesing by die Universiteit van Pretoria. Een van die dinge wat die mens uniek maak, was volgens hom dat ons ons dooies se grafte met skulpe versier. Dié opmerking van die vader van die hermeneutiese etiek het die verwantskap tussen dink en dank beklemtoon en heelparty van my jeugervarings in ’n filosofiese en/of poëties verrykte verband geplaas. ’n Hand vol gedigte oor die see (en heelparty ander onderwerpe!) het daarop gevolg. Ná die publikasie van Aves (2002) het ek ernstig aan die moontlikheid begin dink om ’n bundel uitsluitlik aan die see te wy, maar dit was natuurlik makliker gedink as gedaan. Vir my wat nie by die see grootgeword het of daar woon nie, was dit ’n uitdaging omdat dit my sou dwing om deur middel van leeswerk, navorsing en eerstehandse ervaring meer van die onderwerp tewete te kom. Die werk van digters soos J. Slauerhoff, Pablo Neruda, Uys Krige, D.J. Opperman, Derick Walcott en Grace Nichols het natuurlik die idee vir so ’n bundel verder gevoed.

LE: Jy is jare reeds bekend as een van ons tegnies mees vernuftige digters; iemand wat nie net die afsonderlike verse noukeurig afrond nie, maar ook die bundel as geheel. Is hierdie konsepmatige benadering vir jou belangrik? En indien wel, hoekom?

JLM: Daar is inderdaad ’n duidelike konsepmatige benadering in van my bundels te bespeur. Hiervan is Aves (2002) en In die bloute sekerlik die beste voorbeelde. In die Afrikaanse literatuur het die eenheidsbundel nogal ’n hoë status waarvan Opperman se Komas uit ’n bamboesstok (1979) nog altyd ’n modelvoorbeeld is. Oor die eenheid van sekere Afrikaanse digbundels het Edith H. Raidt en Leon Strydom belangrike studies onderneem, terwyl Evert van der Starre en Ad Zuiderent in De tweede gisting: Over de compositie van dichtbundels (2001) eweneens die onderwerp ter sprake bring. ’n Digbundel hoef natuurlik nie ’n duidelike eenheid te vorm om goed te wees nie (dink byvoorbeeld aan N.P. van Wyk Louw se Nuwe verse, 1954) en dalk het die konseptuele benadering die status van die enkel teks ’n bietjie aangetas. My poësie is ’n projek en die fokus op sekere temas help my om verder aan hierdie projek te werk. Die fokus op ’n bepaalde onderwerp inhibeer weliswaar soms my spontane skryf van gedigte oor ander onderwerpe (soos toe ek aan Aves gewerk het), maar daar kom altyd gedigte by wat ek nie “beplan” het nie. Ek het ook heelwat “bundellose” gedigte in my laai.

LE: Tussen In die bloute en jou vorige bundels bestaan daar uiteraard heelwat raakpunte. Tog is daar ook met dié bundel belangrike groeipunte na ’n ander tematiek – en veral tegniese aanslag – teenwoordig. Kan jy dalk hierop uitbrei, asseblief? Anders gestel: Hoe plaas jy as digter In die bloute binne jou oeuvre?

Heelwat van die eerste gedigte wat ek vir hierdie bundel geskryf het, het uit agt versreёls bestaan. Nadat ek A. Roland Holst se Een winter aan zee (1938) gelees het, het ek besluit om met die agtreёlige vers te eksperimenteer. Daar het egter ander korter én langer gedigte bygekom, maar ek het tog probeer om ’n redelik kompakte gedig te skryf waarin ek verskillende spesies aan die orde stel. Ek het probeer om die dinglikheid en (ander-)soortigheid van seelewe te ondersoek en redelik spontaan het die gedigte ’n ander karakter gekry (of so voel ek in elk geval).

Hoe die bundel in my oeuvre inpas sou ek natuurlik veral by my lesers wou hoor. Tematies sluit die bundel aan by my vroeëre gedigte oor voëls, soogdiere en plante en is deel van my poging om oor lewe op aarde te skryf. Die bundel bevestig waarskynlik my belangstelling in die biologiese wetenskappe en mense wat hulle daarmee besig gehou het. Ek werk in die Darwinistiese tradisie en bou ’n legkaart oor lewe op aarde, sodat ek beter kan verstaan en die wonder en weerloosheid van lewe te midde van die globale omgewingskrisis kan aantoon. Hierna sou ek nog oor insekte, kieme, virusse en bakterieë wou skryf. Ek het egter ook ander belangstellings wat my op ander paadjies deur die landskap kan neem.

LE: Ek het die indeling van die bundel besonder interessant gevind, aangesien die sewe afdelings elkeen ’n bepaalde fokus (en aanslag) het, maar terselfdertyd ook na mekaar toe uitreik ten einde ’n afgeronde geheel daar te stel. Vertel kortliks hoe jy die bundel ingedeel het?

JLM: Die bundel bevat ’n inleidende gedig of programgedig, gedigte waarin die projek uitgestippel word, gedigte oor biologiese seelewe, seeplante, mense wat hulle met die see bemoei het, gedigte oor meer persoonlike “seebelewenisse” en ’n laaste gedig wat teen die vernietiging van lewe op aarde waarsku. Eendag gaan ek hopelik nog ’n bundel publiseer waarin die gedigte bloot alfabeties volgens die titels van die gedigte gerangskik is. En ’n bundel waarin die cowboy in die rigting van die ondergaande son ry.

LE: ’n Geweldige fonds in dié gedigte is die indrukwekkende galery van Afrikaanse benamings: lemoenspons, maanjellievis, tierkourie, toldolfyn, rooimangliet en nog vele ander. Is hierdie almal erkende benamings of het jy ook van neologismes gebruik gemaak?

Hierdie is almal erkende benamings en ek het moeite gedoen om die name in die subtitels te kontroleer en minstens een gesaghebbende bron te hê vir elke naam wat ek gebruik. By die gedigte oor individuele spesies gebruik ek ook die wetenskaplike name. Hierdie name behoort dit vir die leser maklik te maak om vas te stel oor presies watter spesie elke gedig handel; maar wetenskaplike naamgewing is ’n uiters interessante onderwerp. In die subtitels is ’n boeiende stuk natuur- en kultuurgeskiedenis opgesluit. Ek hoop dat daar lesers sal wees wat erns met hierdie name sal maak omdat dit hulle met verrassende nuwe wêrelde sal laat kennis maak. Miskien moet ek weer noem dat ek werklik in die onderwerpe waaroor ek skryf belangstel en dat my gedigte nie net as ’n “literêre projek” gesien moet word nie.

LE: Nog ’n kenmerk van dié bundel is die verskeidenheid ten opsigte van sowel tyd as lokalisering. Uiteraard laat dit ’n mens wonder oor hoe dié verse tot stand gekom het … Moes jy baie navorsing doen of is die meeste van dié verse op eie ervarings gebaseer?

JLM: My gedigte is op sowel eie ervaring as navorsing gebaseer. Sonder genoeg eie ervarings oor die see sou dit onmoontlik gewees het om oor die onderwerp te skryf. Die ervaring wat ek as sosiaal-wetenskaplike naby Tshipise in die Limpopo-provinsie opgedoen het, het byvoorbeeld neerslag in “Landslak” gevind waarin ek skryf oor werklike ervarings wat ek in daardie kremetart- en landslakryke gebied gehad het. Die prikkel vir die gedig “Tierkourie” was ’n gesprek met ’n oudstudentemaat en deesdae taalonderwyseres by die Hoërskool Menlopark in Pretoria, naamlik Nerine Ahlers. Sy het vertel van ’n Franse gedig waarin die digter “selfs die binnekant van die gedig” beskryf het. Ek het nog nie die gedig gelees waarvan sy vertel het nie, maar haar opmerkings was die direkte prikkel vir die skryf van my gedig; asook heelparty ander van my seegedigte. Nog ander gedigte is geskryf na aanleiding van persoonlike ervarings by die see, byvoorbeeld “Rooimangliet” oor die mangliete wat ek voor die Keniaanse paleoantropoloog dr. Richard E. Leakey se Swahili-strandhuis op Lamu-eiland in Kenia gesien het. Die talle boeke wat ek oor verskillende aspekte van die see geraadpleeg het, word ook op een of ander manier in van die gedigte betrek. Ek mag ook net byvoeg dat navorsing wat ek doen nie noodwendig aanleiding tot gedigte gee nie. Enkele jare gelede het ek ’n lang artikel oor “C. Louis Leipoldt en J. Slauerhoff se reisgedigte oor die Ooste” vir Ronel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.) se Over grenzen/Oor grense: ’n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poësie (2009) geskryf. Die navorsing vir die artikel het maande geduur en ek het Slauerhoff se gedigte deeglik bestudeer. Dié ywer het egter nie direk tot een van die seegedigte in In die bloute aanleiding gegee nie.

LE: ’n Verrassende verwysing onder aan die gedig “Maanjellievis” (p.21) gee erkenning aan Laura Riding, ’n ietwat minder bekende digter wat nie net jare lank Robert Graves se meeloper was nie, maar ook van die meer opwindende digters in die 1930’s was. In 1941 het sy haar egter formeel van die digkuns gedistansieer en dié stap in 1976 verduidelik met die volgende stelling: “My faith in poetry was at heart a faith in language as the elementary wisdom.” Haar toenemende besef dat taal as sodanig ontoereikend is om die menslike ervaring te verwoord, het tot haar ontnugtering en gevolglike distansiëring aanleiding gegee. Is ek verkeerd indien ek heelwat van dié ontnugtering (frustrasie?) ook in hierdie verse van jou raaklees?

JLM: Louis, dit is ’n interessante waarneming. My gedigte probeer iets weergee van die komplekse verhouding tussen my/ons en die omringende werklikheid. In talle van die gedigte in In die bloute probeer ek om iets van hierdie magteloosheid om die dinge om ons te ken en weer te gee. Filosowe soos Martin Heidegger, Hans Georg-Gadamer en Jacques Derrida het ook baie daartoe bygedra om my van die ongemaklike verhouding tussen die mens en die omringende werklikheid bewus te maak. Taal is nie noodwendig toereikend om byvoorbeeld die oneindige verskeidenheid lewe op aarde tot spreke te bring nie. Daarom is gedigte dikwels bloot aantekeninge, kanttekeninge, optekeninge, skrifbeelde. Ja, “Iets staan in sterre-en-helderte geskryf:/ en ek skryf ná in stof,” het Van Wyk Louw in “Ex unguine leonem” in Tristia (1962) gesê. Deur middel van die poësie probeer ek nietemin om iets van ’n wete of kennis van ons wêreld te oor te dra.

LE: Johann, jy is baie aktief met die plaas van gedigte en lewering van kommentaar op veral Facebook, in so ’n mate dat jy vereer is met Die Orde van die Goue Pen vir jou bevordering van die Afrikaanse digkuns via sosiale media. Watter voordele bied dié wyer (sosiale) betrokkenheid vir jou as digter?

Die sosiale media het my ’n groot aantal nuwe lesers besorg. Hulle is mense wat andersins niks van my sou geweet het nie of glad nie met my werk in aanraking sou kom nie. Heelwat van my Facebook-vriende is kennisse van my skool- en kinderdae en dit was ’n groot verrassing om weer van hierdie mense te hoor en om te weet dat hulle al van my gedigte gelees het. Daarbenewens gebruik ek ook die sosiale media as “werkswinkel” vir my gedigte. Ek publiseer natuurlik ook graag van my gedigte in literêre tydskrifte, waar ek ook die geleentheid gebruik om my gedigte te toets voor hulle uiteindelik in ’n bundel opgeneem word. Ons as digters het nie noodwendig baie lesers nie en ons moet hulle soms maar self gaan soek. Daarbenewens hou ek van die gedagte om nuwe publikasiegeleenthede en -vorme te verken.

LE: In jou loopbaan het jy al verskeie pryse ontvang. Aan die einde van verlede jaar is jou vorige bundel, Diorama, byvoorbeeld met die SALA-toekenning vir Afrikaanse poësie bekroon. Daarom die óú tandeknersvraag: Wat beteken hierdie pryse vir jou? Ervaar jy dit as intimiderend of inspirerend?

Pryse is inspirerend en belangrik, maar die uitdagings van nuwe skryfwerk (in my geval ook meer onlangs in ’n ander dissipline soos Geskiedenis waarin ek hopelik in September 2013 my doktorsgraad sal verwerf) en die daaglikse bestaan laat my gewoonlik nie te veel oor bekronings besin nie. Ek verdien ook my brood in ’n omgewing waarin min aandag aan my as skrywer gegee word. Ek het geen probleem daarmee nie. Ek het in ’n nuwe Suid-Afrika geleer om in verskillende kontekste te funksioneer en oorlewe.

LE: Ten slotte, ’n gedig waarna ek telkens terugkeer is die treffende vers “Please, let me wonder” (p.69), ’n vers wat nie net jou tegniese vernuf toon nie, maar ook die emosionele diepgang wat jy met dié bundel bereik. Sal jy daarom so vriendelik wees om dit hieronder te plaas as leestoegif, asseblief? En baie dankie vir die geleentheid om oor ’n besonderse toevoeging tot ons digkuns te kon gesels.

 

PLEASE, LET ME WONDER

 

 

Sy het dadelbruin en mooi teruggekom

van die strand af en in ’n fles water

seeslakke en klipvissies geskommel.

 

                *

 

In die opdrifsels van notaboeke

het ek woorde van verlange gevind.

 

                *

 

Die see skuur skouer met die strand

en lê sy diepste geheime

reg voor my voete oop en bloot.             

 

                *

 

Ek wil nie fondament wees nie –

eerder ’n steier teen die buitemure

waarteen die suidooster ruk en pluk.

 

                 *

 

’n Brander is net ’n brander as hy breek.

                                Wanneer hy klaar is, hou hy op bestaan,

                                maar soms gaan die brander net aan en aan.

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.