Joan Hambidge. Enantiodromania

Enantiodromia

 

Ek is ‘n gedig

wat ‘n plek

soek om te gebeur:

 

op my psige ingebreek

deur katdiewe

van die digkuns.

 

My paspoort en ID

raak soek as ek vra:

wié roep daar?

 

Op reis in ‘n sirkelgang

weet ek nou

jy sal klip uit bloed tap.

 

‘n Orkaan waai

die huis van die gedig

hermeties onderstebo:

 

Jannie Smuts dra

in sy saalsak

Kantwerk –

 

wolf, wolf

blaas blaas

voor die deur:

 

 

 

 

word eerder mana (sic!)

uit die hemele

 

van die onbewuste

soos Carl Gustav

dit netjies stel:

 

complexio oppositorum

hou my dag en nag

tobbend oor oorgange:

 

dié bostaande formule

onbegrypend nes ‘n akker

breek in my gemoed:

 

gedagvaar deur die dood

en verloën oor die liefde,

dus as hermiet verban.

 

Die spreker (én leser)

bly skuilhou én kopkrap in die

kelders van onthou.

 

 

© Joan Hambidge/2013

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Joan Hambidge. Enantiodromania”

  1. Louis :

    Joan, hierdie is ‘n kragtige (en uiters poëtiese!) antwoord op die hele gesprek rondom die sogenaamde hermetiese digkuns. dankie daarvoor.
    Op Wikipedia het ek ‘n besonder interessante omskrywing van die begrip “Enantiodromia” teëgekom: “Enantiodromia. Literally, ‘running counter to,’ referring to the emergence of the unconscious opposite in the course of time. This characteristic phenomenon practically always occurs when an extreme, one-sided tendency dominates conscious life; in time an equally powerful counterposition is built up, which first inhibits the conscious performance and subsequently breaks through the conscious control. (“Definitions,” ibid., par. 709)
    Fassinerend.

  2. Joan Hambidge :

    En die hermetiese spel duur voort. Die titel is (per ongeluk) op die Versindaba “Enantiodromania”, ‘n lieflike verskrywing en beslis ‘n verdere ontginning van die begrip. Ek dink die “verkeerde” titel is puik.