Onderhoud met Melanie Grobler

 

 

Die gesprek as skeppende proses

Gesprek tussen Frans Human en Melanie Grobler tydens die bekendstelling van Deur ruite van die reis (2013: Human & Rousseau) by Graffiti Boekwinkel, Lynnwood Bridge, Pretoria. 30 Mei 2013

***

strandhuis

 

As die maan wydoog oor die oggendsee sak

vou die oggendlig om die melkhoutbos

sterk en geweldig die weivelde van die nag wat nou rus

teen die berghange, waar ek skuil tussen ’n paar groot rotse

                                                                        skryf ek ’n reël aan jou

dan neem ek die kronkelpaadjie huis toe

oorval deur blosende wolke pluk ek slanke riete

lang ure sit ek op die kaartstoel tot die ruimte

oorgeneem word deur die ritseling van die siel

vanoggend sidder ’n hoë wind bokant die strandhuis.

 

Voor ek my linkerhand uitsteek

om die oggendson nader te wink

omhels die kring van jou afwesigheid my.

 

                        Is dít alleenheid

Hierdie oopbloei van gedagtes?

 

(c) Melanie Grobler (Uit: Deur ruite van die reis, 2013: Human & Rousseau)

 

Frans Human: Baie geluk, Melanie, met hierdie besondere bundel. Jy het dit reggekry om iemand van die eksakte wetenskap wat met sy voete reg in die middel van die werklikheid van die bewustelike staan, op ’n reis buite tyd en ruimte te neem: na die tydlose, die misterie van die kosmos, deur modderige stegies, tussen geweerskote en sonsondergang, na die plek van sjamaan en die mistieke, na die fontein van oerdrome, waar Christus se varkblom blom. Die maan, die dreunsange en die kringe van alleenheid is deel van die reis. Jy dig hier met vryheid van vers en vorm ‒ en jy doen dit goed.

Uit twee resensies van jou digbundel haal ek aan:

 Zandra Bezuidenhout skryf in Rapport: na tien jaar is sy (Melanie) terug met ’n fassinerende bundel wat haar staanplek in die Afrikaanse poësie galery bevestig.

Tom Gouws: Hierdie merkwaardige bundel se eiesoortige eenderse andersheid verryk die Afrikaanse poësie onteenseglik.

Dis my voorreg om hierdie gesprek met jou te voer: Die 100 gewildste Afrikaanse gedigte uit 1300 benoemde gedigte is verlede jaar vir die eerste keer per stemming aangewys. Hoekom meen jy dat so min gedigte wat in die laaste 30 jaar verskyn het, die lys gehaal het?

Melanie Grobler: My studiegebied is kunsgeskiedenis waar ek geleer het dat dit moeilik is om ’n in-diepte interpretasie en oordeel oor kontemporêre kreatiewe werk te maak. Mens het jare en jare se afstand nodig om hierdie werk te beoordeel en in ’n spesifieke tydgees te plaas. Vandag speel sosiale faktore, politieke sieninge, oorloë, identiteitskrisis, invloed van die internet en alternatiewe metodes van publikasie, dreigende ekologiese rampe en die instroming van mens na Suid-Afrika, ’n groot rol by skrywers, kunstenaars, musikante en filmmakers ensovoorts. Miskien sal hierdie tydperk eers oor honderd jaar in ’n moontlike verstaanbare tydslot geplaas kan word. Paradoksaal ‒ digkuns moet in sy tyd staan, maar nie van sy tyd wees nie.

FH: Is daar enige gedigte wat jy graag op hierdie lys sou wou sien?

MG: Nee, ek is tevrede met die 100 gewildste Afrikaanse gedigte. Hierdie versameling gedigte is grootliks gedoen deur lede van leeskringe. Ek behoort self aan die Tafelberg Leeskring en weet hoe hulle met tekste omgang. Ek vertrou hulle oordeel, al is hulle miskien ’n mindere stem (volgens die Kompleksiteite Teorie van prof. Paul Cilliers is die minderheidstem net so belangrik as die meerderheidstem).

FH: Wil jy nie iets sê oor kontemporêre digkuns nie.

MG:  ’n Pluimpie vir Marlise Joubert, webmeester van Versindaba, en André Brink vir die samestelling  van ’n versameling vertalings van hedendaagse gedigte. Die manuskrip, in a burning sea, – contemporary Afrikaans poetry in translation, is gedeeltelik tans op die webblad beskikbaar vir lesers.  Iewers het ek gelees dat prof. Louise Viljoen voel dat dit nou die tyd van die roman is. Alhoewel kontemporêre digkuns nie veel mainstream ondersteuning kry nie, glo ek dat dit nog nooit so goed met Afrikaanse digkuns gegaan het as nou nie. Vir my is dit ’n soort underground beweging wat alles baie interessant maak.

FH:  Ek wou nie regtig vra waarom die betrokke titel vir jou bundel nie. Almal vra dit. Toe ek egter hierdie bundel lees en oorlees het ek bewus geword van die feit dat die opskrif van elke gedig baie sê. In die lig hiervan, waarom Deur ruite van die reis?

MG: Dit was eerstens ’n digterlike keuse, ’n goeie Boere-alliterasie. Tweedens is die titel geïnspireer deur ’n besoek aan die Guinness Museum waar ek voor ’n groot venster gestaan het waarop die woorde, have a good day, gestensil was. Ek kon net gedeeltes van die stad sien. Terugskouend besef ek dat die digter dig omdat hy of sy die flardes van die lewe as gedigte versamel en bewaar. ’n Blik deur die ruit is die gedig wat momente van die verganklike lewensreis bewaar.

FH:  Dit was vir my interessant dat jy ruite gebruik en nie byvoorbeeld vensters nie. Deur vensters van die reis. Kyk ek deur die ruite sien ek waarskynlik nie die geheel nie, maar ’n beperkte deel van die hele prentjie.

MG: Omdat ek nie die totale prentjie helder sien nie, word die verborge deel die mistieke, die metafisiese transendensie of die keersy van die werklikheid.

FH:  Sou vensters moontlik die skaal swaai na ’n meer werklikheidsaanslag?

MG: Ek wou in die digbundel werk met innerlike prosesse of binne reise, of die binnewerk, of die binne plek. Ek was nie geïnteresseerd in ’n meer werklikheids -aanslag nie.

FH:  “Wie ek werklik is, lê buite tyd en ruimte”. Dit was jou woorde toe jy met Heilna du Plooy gesels het.

MG: Die ek waaroor ek geskryf het is die tydlose ek.

FH:  Melanie, jy het ook aan Heilna verduidelik en ek haal aan: “Het helder gekies om hier te vertoef, in die half-donker, op die buitenste grens van bewussyn waar ek deur die ruite van die hemel na die aarde kyk.” Eerstens, ‘op die buitenste grens van die bewussyn’. In my lewe saam met die eksakte wetenskap is ek in die middel van die bewuste met sy beproefde natuurwette. Om na die buitenste grens van die bewussyn te verskuif en oor die grens na die mistieke te gaan, maak van jou bundel ’n opwindende reis.

MG: My antwoord aan Heilna was ’n poëtiese moment wat ek toegelaat het. Die antwoord self is ’n misterie en dra mistiese kwaliteite.

FH: Tweedens, ‘het helder gekies om hier te vertoef, in die half-donker, op die buitenste grens van bewussyn waar ek deur die ruite van die hemel na die aarde kyk’. Waarna ek eintlik wil verwys is halfdonker. Dis opvallend hoe oorwegend die volgende begrippe in jou werk verskyn: Nag, skemer, donker en swart. Ook die maan kom baie voor. Die maan word hier gebruik in teenstelling met die son. Die son laat immers die wolke van misterie voor sy helder lig verdwyn. Is hier ’n donkerder inslag in jou werk?

MG: Die begrippe waarna jy verwys is nie ’n toestand van depressie nie maar die persoonlike binnewêreld wat ook deel van die nag wêreld is.

FH: Breyten Breytenbach verwys na Tom Gouws se resensie as propvol oorspronklike insigte en raak formulerings. Hy stem saam met Tom as hy die vergestalting van jou digterskap as ’n eiesoortige eenderse andersheid beskryf. Vir Breyten is iedere gedig ’n ‘verleë vertaling’.

MG: Breyten se siening dat iedere gedig [van elke digter] ’n verleë vertaling is, bring groot troos.

FH: Watter Afrikaanse digter sou jy sê het die grootste invloed op jou gehad.

MG: My studie oor Breyten se skilderkuns en digkuns en sy rol as openbare figuur het tien jaar lank geduur. Wat my opval is dat hy sy werk verryk word deur konstant nuwe begrippe te gebruik. Een van die begrippe waaroor hy dig en filosofeer is die nomadiese [poetry does nothing. It only makes the nothing move.] Alhoewel Breyten my denkprosesse beïnvloed het, moes ek van hom losbreek om by my eie konsepte uit te kom. ’n Konsep waarmee ek tans werk is disobience of ongehoorsaamheid, om my binnestem te volg en nie toe te laat dat ander verwag dat ek hul stem sal volg nie.

FH:  Jou verwysing na die Russiese digter Anna Akhmatowa is vir my interessant. Jy verwys meer as twee keer na haar in jou bundel:

 

die wond van die gedig (p. 27)

 

Laat my tog net een keer weer in die helder wond

Van die gedig op die vuur van Akhmatowa wag

***

die sandlopers (p. 35)

 

Hier in my dorpie by die skryftafel word ons oorval

deur ’n winterstorm

                        is dit Akhmatowa

wat nou na die asemhaling van gedigte luister?

 

***

die blinde kartograaf (p. 82)

 

heelnag staan Osip Mandelstam by die deur van die dodehuis

eers met dagbreek draai hy weg, Dan praat hy weer.

***

Watter invloed het Akhmatowa en Mandelstam op jou werk?

MG: Ek het in Die Waterbreker begin skryf oor Akhmatowa en Mandelstam. Hulle is digterlike reisgenote wat ek in die negentiger jare in Moskou ontmoet het. Ek was op ses geleenthede na Rusland vir lang besoeke aan ons dogter. Die twee digters is nie net “ruit-studies” nie; vir my vergestalt hulle die konfrontasie met die self in die landskap van domkerke, dachas, beierende klokke en die gelade teenwoordigheid van die Sowjet Unie gedurende Stalin se dae. Mens sien Mayakovski saam met sy minnares, Lilia Brik op ’n straathoek staan. I am so lonely like the single eye of the man on the pathways to the blind, skryf Mayakovski. Die invloed van hierdie twee digters het egter ook meer te doen met die gelade atmosfeer en die bewuswording van die gelaagdheid van verskillende gebeurtenisse in verskillende tye in Rusland.

FH: Jy gebruik die woord sneeu asook metafore van sneeu opvallend baie in die bundel. Sneeuhoenders, sneeuloper, dodemis van sneeu, opdrifsels van sneeu en nog twee en twintig ander begrippe. Duidelik het sneeu verskeie betekenisse.

MG: As skrywer van gedigte is daar altyd die stryd teen middelmatigheid. Die oordrewe gebruik van dié element gooi wal teen afgewaterde skryfwerk. Ek maak ook gebruik van die vier elemente (vuur, lug, water en grond). Water is ’n binnelandskap waar daar binnewerk gedoen word en die metafoor vir hierdie binnelandskap is sneeu. Sneeu is die wit skaduwee van die liefde.

FH: Dit lyk vir my glad nie na toeval dat jy verskeie kere na lopers verwys nie. Strandloper, sneeuloper, dagloper en verskeie kere slaaplopers.

MG: Die lopers is dié wat ons deur die ruit sien, dié wat soos ons nooit by hulle bestemming aankom nie.

FH:  Op sowat veertien plekke gebruik jy dreunsange. Moet die dreunsang ’n spesifieke atmosfeer skep?

MG: In Rusland se Ortodokse Kerk is die dreunsang (chants) deel van die liturgiese bediening. Ek het verskeie plekke in die digbundel gebruik gemaak van die ritmiese dreunsange. Mens sou sê dat hierdie ritme die leser toelaat om die hartklop van die digbundel te hoor.

FH:  Ek was verras oor die gedigte waarin die ou man voorkom. Word jy hier deur die naderende dood van die ou man gekonfronteer? Kom ons kyk daarna hierna:

wind en weer (p. 54)

ou man met wit hare by die denneboom

ou man geklee in ’n jas van misweer; verdwyn die ou man soos mis.

***

man tussen riete van agterdog (p15)

ou man dun en regop tussen rugwerwels,

ek merk die plek van die gety,

 ouman tussen riete van agterdog.

***

MG: Die eerste gedagte wat by my opkom is die storie van Die ou man met die enorme vlerke geskryf deur Gabriel García Márquez. Maar laat ek jou vraag antwoord. Die skryfwerk het tog ook te doen met verganklikheid. In wind en weer, is die ou man die draer van die erotiek. By man tussen die riete van agterdog, dans die ou man in die water. Deur sy optrede wek hy die indruk van iemand wat reeds sy verstand kwyt is. Voor hy in die middelwater verdrink merk die vrou die plek en die gety.

FM:  Kan jy die woorde ‘ou man tussen riete van agterdog’ verduidelik.

MG: Daar is nie ’n letterlike verklaring vir jou vraag nie, maar ek soek soms na ’n wending in my gedigte. ‘Ou man tussen die riete van agterdog’ is ’n goeie voorbeeld.

FH:  Waarom sal ’n mens in ’n Afrikaanse gedig ook Franse en Portugese woorde en sinne gebruik?

MG: Ons is familie van Esme en Gilberto Bonegio en het ’n groot liefde ontwikkel vir die Portuguese musiek veral die fado, die flamingo, die taal, stories en kos en het ook na Portugal gereis. Dis egter nie ongewoon om vreemde tale in Afrikaanse gedigte raak te loop nie. Die gedig, ouvir a minha voz de fora,(p. 93) is ’n liefdesgedig wat in Lissabon afspeel.

FH: Ek was besonder getref deur jou reis na Groenland. Die gedig arktiese reis (49) tref. Die paradoks van die walvis wat sy weemoed oordra aan die walvis paar. So ook die agt variasies op die tema van die Fimbulvetr. Ook die agste variasie op p51:  waar maanlig deur die mis van gedagtes vloei. Wat is dit van hierdie ysige uitgestrektheid wat jou bekoor?

MG: Vir jare reeds hunker my kreatiewe ek na die woestyn. Ek het gedink dat meeste mense passies het wat hul deur hul lewens vergesel maar uitgevind dat dit nie noodwendig so is nie. Die ysige uitgestrektheid bekoor my wel maar dis ook ’n noodwendigheid. In Die Waterdraer het ek oor die Baltiese See geskryf. Ek skryf gedigte oor die woestyn, die uitgestrekte ysvlakte en die see omdat dit my na ’n intensie dimensie lei wat niks te doen het met die eet van kos, of slaap of loop nie. Dis is om onder water te skryf.

FH: Daar is ’n hele paar verwysings na entropie, van verval in jou bundel. Besoek aan Ciprus: gebarste marmervloere van die tempel. Wue aan die Parfuumrivier: ’n toegeslikte fort; vervalle koloniale huis ….

MG: Ek is glad nie bewus van die tema van verval in my digbundel nie en sien uit om die tema verder te ondersoek.

FH:  Jy verwys minstens in vier gedigte na die sjamaan. In –

wind en weer (p.55)

en die sjamaan roep my nader om te wys

waar hy ’n klein sakkie naby die begraafplaas van ysberge

gebêre het

***

wie onthou (62)

wie onthou die kleur van die sjamaan se winterjas

***

Doña Maria Sabina Van Huautla de Jiménez (p. 63), en

 ***

die karteerders (p. 81)

die woestyn sjamaan se kleed van genade.

***

 

MG: Dona Maria Sabina was ’n Meksikaanse digter en sjamaan wat mense van hulle siektes geheel het deur haar gedigte aan hulle voor te lees. Sy was wêreldwyd bekend en in die sestigerjare is pelgrimstogte na haar nederige huisie in die berge onderneem. Ek werk met die siekte motief in die bundel en is reeds ’n tyd lank betrokke by haar verse. Het ’n aantal vertaal wat in my digbundel opgeneem is. Op ’n simboliese vlak was die vertaling ’n persoonlike heling. Lynn McTaggart skryf in haar boek Zero Point Field, dat ’n spesifieke deel van die quantum fisika sê dat die bloudruk van die gesonde liggaam en gees in die Zero Point Field teenwoordig is. Volgens McTaggart is hierdie veld ook in die liggaam van die sjamaan teenwoordig. Dit sal goed wees om ’n studie oor hierdie aspek te maak.

FH:  In jou gedig, “as weerlig voëls my jaag” (p.7) praat jy van die donkeroog-kartograaf. Nou wil ek die donkeroog kartograaf vra oor die ‘blinde kartograaf” (p. 81) en “kaartwerk” (p. 83). Is Tom se siening dat daar ’n verband tussen jou navorsing vir jou MA, Kalligrafie op geografie en die gedigte oor die karteerders is?

MG: Kaartwerk het te doen met die reis. In dié opsig klop kaartwerk met die algehele tema van die reisiger. Ek skryf ook tans ’n roman oor karteerders en kaarte. Van die kaartgedigte kom uit die roman.

FH: Ek onthou wat jy vir Heilna in ’n onderhoud gesê het: “… Het helder gekies om hier te vertoef, in die half-donker, op die buitenste grens van bewussyn waar ek deur die ruite van die hemel na die aarde kyk.In my lewe saam met die eksakte wetenskap is ek in die middel van die bewustelike met sy beproefde natuurwette. Om na die buitenste grens van die bewussyn te verskuif en oor die grens na die mistieke, die bonatuurlik, maak van jou bundel ’n onvergeetlike en opwindende reis. Maar dis die gedig “as die weerligvoëls my jaag” (p.7) wat die digbundel vir my oopgemaak het, wat my in staat gestel het om die werklikheid agter te laat en saam met jou aan te kom “by die deur wat langsaam oopmaak /  dan trap [ons] diep in die opdrifsels van sneeu /  die soutwater van lang wintersmaande.”

Kan jy ten laaste iets oor die buiteblad sê?

MG: Die foto deur Andreas Swart is in die omgewing van Walvisbaai geneem en is ’n verlenging van die woestyntema.

FH: Ons lees ’n kwatryn voor.

kwatryne

Sonder begrip hang ons aan die heelal

soos verstrooide beendere roep ons na mekaar

geteister deur honderd klokke

gee ons vorm aan ons eensame gedagtes.

***

Melanie Grobler debuteer in 1992 met Tye en Swye in die lewe van Hester H. Vir die bundel verwerf sy die Rapport-prys van daardie jaar. Die waterbreker het in 2004 verskyn.  In Tye en Swye in die Lewe van Hester H word die “ek” se posisie in die speelveld van magstrukture ondersoek, veral in die politiek, die voorgeslag en die gesin.  Melanie woon op Pringlebaai.

Frans Human is ’n afgetrede vennoot en direkteur van ’n internasionale ouditeursfirma. Hy het ’n meestersgraad in belasting en ’n doktorsgraad in rekeningkunde en was nooit voltyds op universiteit nie. Na sy aftrede uit die internasionale ouditeursfirma, het Frans hom by sy vrou Gerda se korporatiewe reisbestuur onderneming aangesluit en saam ’n suksesvolle besigheid gebou. Hy word in die tyd ook direkteur en voorsitter van ’n Suider-Afrikaanse reisgroep. Na sy uittrede uit die reisbedryf bestee hy tyd aan finansiële modelle en beleggings. Doen ook self-studie oor quantum fisika en die teologie. Hy neem aktief deel in besprekings-groepe oor hierdie en verwante onderwerpe. Van kleintyd af beklee letterkunde en veral Afrikaanse poësie ’n spesiale plek in sy hart.

 

Omslag

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.