Resensie/essay: Nuwe Stemme 5

Nuwe stemme 5

Saamgestel deur Heilna du Plooy & Loftus Marais ,  ISBN 978 0 624 058861; Tafelberg, 2013.

Resensie-essay deur Joan Hambidge

 

ʼn Eksperimentele werkswinkel-essay

I Mirakels en muses

Nuwe Stemme 5

Op versoek van die webmeester, Marlise Joubert, skryf ek hierdie verslag oor Nuwe stemme 5.

Goed, willig ek in, maar verduidelik: dit kan nie ʼn gedistansieerde resensie wees nie. Ek is immers self besig met die begeleiding en ontdekking van jong talent. Hierom besluit ek dan op ʼn essay wat die prosesse sal verduidelik. ʼn Soort apologia pro domo. Maar sonder om kritiese afstand in te boet.

Nuwe stemme is nou reeds ʼn instelling in ons digkuns en as aktiewe kreatiewe skryfwerk-begeleier van die digkuns (in sowel Afrikaans as Engels) word daar na tendense én prosesse gekyk. Kreatiewe Skryfwerk word tans aan verskeie universiteite aangebied en by die UP se Winterskool het ek die afgelope paar jaar in ʼn koue winter voornemende digters van raad bedien. Hier is drie nuwe stemmers meegemaak. (Een nuwe stemmer was in my kursus.) Binne een week probeer jy as gepubliseerde skrywer-fabrieksgeheime verklap. Nie altyd met sukses nie. ʼn Jong, seergemaakte digter daag na twee dae nie op nie; ʼn ander een weier om jou raad te aanvaar (en jy wonder waarom is jy hier?) Selfs ʼn klagte dat jy nie genoeg aandag gee aan iemand se “uitstaande” werk nie…

En my mantras is algemeen bekend. Jy kan net dig as jy kan lees (en gelees het). Jy moet ten minste Groot verseboek ken en handleidings oor die digkuns plunder soos Ottone M. Riccio se The intimate art of poetry. Dit is gepubliseer deur Prentice Hall in 1978.

Daar is nie ʼn metafisiese reël wat vir elke gedig geld nie. Die goeie digter skep sy/haar eie reëls. Maar jy moet dit ken om dit te kan breek. En jy skryf altyd teen die back drop van ʼn tradisie.

1 ʼn Goeie gedig is konkreet;

2 ʼn Goeie gedig se beelde klop (kongrueer) soos ʼn kasboek;

3 ʼn Goeie gedig se slot vang alles op;

4  Skryf met ʼn woordeboek langs jou; verkieslik ook ʼn sinoniemwoordeboek;

5  Moenie ʼn woord herhaal in ʼn gedig nie (ʼn les geleer by De Lange) tensy dit funksioneel is;

6 Gebruik leestekens;

7 Bly weg van verkleinwoorde;

8 Bestudeer digterlike vorme en oefen om ʼn distigon te skryf (o.a.) soos ʼn tennisspeler afslane oefen;

9 Wees bedag op die maklike rymwoord;

10 Bly weg van geykte beelde

11 en gebruik uitroeptekens spaars!

12 Kontroleer feite, behalwe as jy opsetlik ʼn gat in die betekenis van die gedig wil los;

13 Vermy geleerde of grootdoenerige woorde;

14 Moenie die gedig vir die leser interpreteer nie; die gedig moet sélf die betekenis oordra;

15 Probeer die woord “wat” vermy, omdat dit al te maklik in prosa mag oorgaan;

16 Moenie preek nie;

17 Sorg dat die interne grammatika van die gedig reg is…

Die sintaksis moet die gedig voortdryf. Miskien iets soos klippe in troebel waters waaroor ʼn mens kan loop;

18 Tel die sillabes sodat jy die metriese patroon noukeurig kan volg.

Hier is nog raad:

“Fabrieksgeheime: 3 digters gee raad”: http://johanndelange.blogspot.com/2011/05/fabrieksgeheime-3-digters-gee-raad.html

Alle digters het mentors, al is dit net simboliese mentors wat hulle raaklees in bundels of bloemlesings. Toe ek as jong digter op die toneel gekom het in 1982 was publikasie in Standpunte of Tydskrif vir letterkunde ʼn eer. Deesdae is daar die internet met vele webruimtes (o.a. Litnet & Versindaba) waar digters kan publiseer. Persoonlik gebruik ek beide ruimtes as ʼn toetsterrein en skroom nie om ʼn vers te herskryf nie. Studente wat onder my studeer aan die UK mag nie publiseer tydens die kursus nie, omdat die portefeulje oorspronklik moet wees. Daar is wel “publikasie” in die vorm van klasbywoning en die blootstelling aan ʼn sirkel van lesers. En voortydige blootstelling is sleg vir jong digters wat aan hierdie swak debuut geken sal word.

Die mentor moet eweneens die verbintenis óphef wanneer die bundel voltooi is sodat die jong digter sy/haar eie stem alleen kan ontwikkel. Werklike mentorskap moet dan verplaas word na simboliese mentorskap.

Digterlike stamina. Dit is waarskynlik die belangrikste eis vir die digterskap. Kan jy aanhou en uithou soos ʼn Comrades-atleet?

En wees eerlik met jouself: hoekom dig jy? Heilna du Plooy spreek hierdie kwessie aan in haar inleiding. Volgens my is die digkuns nie ʼn plek vir hipertrofiese, selfingenome mense nie. In jou hart moet jy altyd twyfel aan jou talent en nederig bly voor die groter figure wat al die terrein bestryk het. As jy skryf vir pryse, trofees, applous of simboliese onderskeidings, mis jy die punt van hierdie bedryf volledig.

Nou onlangs het ek begin met ʼn essay oor Lacan en Kreatiewe Skryfwerk na aanleiding van die TV-reeks In Treatment. Net soos die analysand sy/haar analis kies, bly dit die reg van die voornemende kreatiewe student om te besluit watter skryfkursus jou sal pas. Aniel Botha, Fourie Botha, Karen Kuhn, Martina Klopper, Hennie Nortjé, Carina Stander – in alfabetiese volgorde – het onder my gestudeer en solo-bundels gelewer. Daar is nog ander talent wat wag op solo-publikasie.

Ook ek had my mentors. In boeke was dit nog altyd Eybers en Van Wyk Louw; Sylvia Plath en Anne Sexton; nóú Michael Donaghy en immer Wallace Stevens – te veel om op te noem. In lewende lywe was dit Opperman in 1977 in ʼn derdejaarkursus met sy befaamde letterkundige laboratorium waar hy sinryke lesse geleer het.

Gedigte is anoniem voorgelê in ʼn boekie saamgebind en Opperman was die fasiliteerder wat jou geweldig baie geleer oor die prosesse ágter die digkuns. Hy het gewys daarop dat daar stryd is. Sy digterlike loopbaan was dikwels antwoorde op Van Wyk Louw. Ons ken Harold Bloom se “the anxiety of influence” en die siening van “belatedness” – ʼn mens veg in jou gemoed met diegene wat reeds dit wat jy wil sê soveel beter gedoen het.

En natuurlik is daar Johann de Lange wat deur die jare my verse gelees het. By hom het ek die wáárdevolste les geleer: om te kan dig, moet jy kan lees; stiplees. En wanneer ʼn gedig voltooi is, moet jy jou eie kritikus word en kyk na die gedig asof jy dit nie geskryf het nie.

Jy moet dus met jouself kan skaduboks. Ek rond nou ʼn bundel af en keer terug na die gedigte:

http://www.litnet.co.za/Article/vir-wie-skryf-jy-jou-gedigte

Wat ek verander na:

44 Vir wie skryf jy jou gedigte?

Vir Johann de Lange

Vir woordfeeste waar, uitgestal

saam met ander “gewilde digters”,

jou optrede verydel word

deur laatkommers of feesgangers

op soek na iets beters

wat die deur oop en

toe laat konsertina?

Vir daardie geliefde wat nooit die gedig

oor jou hunkering en pyn

sal lees nie en net onthou

dat die bed immer haaks was?

Vir ʼn vlymbekkige kritikus

ʼn byltjie aan’t slyp

oor ʼn onbetaalde rekening

op ʼn ander plek en tyd?

Vir skoolkennisse van wie jy nóg die naam,

en nóg minder die bynaam kan onthou,

wat familiêre groete stuur

via ʼn ander onbekende siel?

Vir jou pa aan die “ander kant”

wat in drome verskyn

aan jou oudste suster

in ʼn blazer en das

en met woorde van vertroosting?

Vir jou ma wat jy versoek

om eerder nie die gedigte te lees nie,

sodat die pyn van ʼn troostelose jeug

stiekem kan verbygaan?

Vir jou terapeut met wie jy laatnag-gesprekke

voer oor jou verknoopte psige

en wat jou aanmoedig om tóg aan te hou?

Vir jou vriend wie se kind

selfdood pleeg sonder ʼn afskeidsnota?

Vir jou mede-digters wat smaal

“die voorlaaste bundel was beter”?

Vir buitelandse digters wat ontsyfer

aan vertalings getransporteer

van een taal na ʼn ander, immer in transit?

Vir jou susterskind

skrywend aan ʼn opstel oor jou digkuns

timmer timmer laatnag?

 

L’envoi

 

Vergewe die wrang aanslag, liewe leser,

(en ʼn gedig wat oop-en-toe konsertina)

keer terug na Auden, o amateur, en weet:

ʼn gedig laat niks gebeur!

 

Wat die belangrike vraag aktiveer: vir WIE skryf jy jou gedigte? (En vir WAT?)

Wees genadeloos. Skryf die vers af. Gooi hom weg. Of sit dit in ʼn legger: op die regte tyd sal die vers sig aanmeld.

 

II Woord en wederwoord

Die belangrikste aspek van die Nuwe stemme-reeks is dat dit ʼn seleksie bevat van digters wat ook werkswinkels aangebied het. Heilna du Plooy het dan ook in ʼn onderhoud op hierdie aspek kommentaar gelewer. http://versindaba.co.za/2013/05/31/onderhoud-met-heilna-du-plooy-oor-nuwe-stemme-5/

Geen mentor kan “objektief” of “neutraal” wees nie. Maar die student kies die mentor en moet die simboliese gesag van die mentor aanvaar anders kan die proses nie voltooi word nie. Hierom verwys hierdie mentor haar studente altyd na sang. Daar bestaan vele voorbeelde, maar kyk op YouTube na hierdie een met Monserrat Cabballé as die leermeester. http://www.youtube.com/watch?v=OIdh7TVH1tE

What makes a great soprano.

Kiri te Kanawa seg dit kos jare se oefen. En kyk hoe gee sy praktiese raad oor asemhaling. Ek leer ook my student om gedigte hardop voor te lees.

En gee Kiri te Kanawa die volgende raad: “simplify the technique”.

En jy moet sterk, fiks, in “proper shape” wees – net soos die digter eweneens emosioneel moet fiks bly.  Soos die operasanger moet vasstaan om die hoë note uit te kry, moet die digter weer en weer terugkeer na die gedig en daaraan skaaf.

Of gaan goegeloer hoe Leonard Bernstein met Carreras se gal werk in die repetisie van West Side Story.

http://www.youtube.com/watch?v=NfsLQwnQjwA

Carreras! Carreras!

Of wat van Sutherland!

 

http://www.youtube.com/watch?v=Q2UrybixmZ4

Daar is uiters talentvolle digters wat saam met my op die toneel verskyn het, wat jammer genoeg verdwyn het. Dalk is dit ʼn blote gebrek aan belangstelling, maar ek dink dit het ook iets te make met dit wat Renée Fleming benadruk: ʼn opvoering duur drie ure; dit is emosioneel uitmergelend want jy sing dikwels oor verlies en pyn. En wie wil nou jaar in en jaar uit gedigte skryf oor die afwesige vader, isolasie, nostalgie, verlore liefdes as jy ʼn ryk sakeman kan wees? Of ʼn gigolo?

 

III Dolosgooiers van die woord

Ware digters mag verskil in aansien, maar hulle het almal dieselfde DNA. Hulle bly aanhou, aanhou, aanhou totdat hulle ʼn uitgewer vind wat belangstel. En bly hulle voortskryf – ten spyte van wat ander mag sê of nie sê nie. Trouens, daar is digters wat doodgeswyg is en tog aangehou het. Thomas Wentworth Higginson het na sy kritiese reaksie nie vir Emily Dickinson stilgemaak nie. Sy het nou wel in haar lewe net 7 verse gepubliseer nie, maar steeds bly dig.

Neem kritiese raad ter harte en move on.

Gaan kyk na die resepsie van De Lange se bundels deur die jare en wat ʼn opdraande stryd dit was vir hom om te kom tot waar hy nou as ʼn gerekende digter staan. http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/studie-die-resepsie-van-die-digkuns-en.html

 

IV Digterlike diagnose

ʼn Gevestigde digter en jonger digter is die samestellers van Nuwe stemme wat nou al die vyfde nommer beleef. Dit is ʼn vertoonkas vir jong digters wat nog nie genoeg gedigte het vir ʼn solo-bundel nie, maar genoegsame belofte vertoon. Daar is vele talente wat deur hierdie proses van werkswinkels en publikasies beweeg het tot ʼn volwaardige digdebuut. Die werkswinkels, so verneem ons, is al hoe “dringender”. In die pers noem Loftus Marais die bundel “byderwets, vernuwend en relevant” (Beeld, 14 Mei 2013 http://www.beeld.com/vermaak/2013-05-14-18-nuwe-stemme-klink-op) 1.

Byderwets en relevant ja, vernuwend dalk nie oral nie. Vernuwing is ʼn groot woord. Die drif-tot-vernuwing is ʼn bo-menslike eis; en wat dikwels as vernuwend gesien word, staan reeds in menige gepubliseerde gedigte. Vernuwend as kritiese eis is dikwels moeilik – en “vernuwend” is digters wat die kanon dramaties verander. Figure soos Opperman, Breytenbach, Cloete, o.a. Andersins praat ons eerder van ʼn eie stem.

Die bloemlesing bevat ʼn deeglike verantwoording van Heilna du Plooy. En ʼn goeie inleiding deur Loftus Marais. Du Plooy skryf sober, akademies en Marais wys op die onnodigheid van so ʼn inleiding, omdat die gedigte op hul eie bene moet staan. Die bundel bevat ook nie biografiese besonderhede van die digters nie; ons word dus gedwing om te fokus op die gedigte.

Nou die bundel – terloops, die lys van name agterop is onvolledig en ons sien net name en gedigte. Geen bio-inleiding wat die aandag aftrek of jou bevooroordeeld maak nie.

Met ʼn eerste lees, val hierdie verse my op:

 

Gerhard Bothma:”Silhoeëtte” (21)

Joan-Mari Barendse:”America’s next top poet”(40)

Desmond Painter:”By die reünie”(61); “Jy het Griekeland gehaat” (65) ; “Sondagmiddag” (67)

Neil Cochrane:”Lyfvaart: pastiche” (75)

Fanie Viljoen:”dekonstruksie” (85)

Alwyn Roux:”Teken” (97)

Ihette Jacobs:”The sound-of-silence” (104)

Jaco Barnard-Naudé:”Manu magister” (55)

Hilda Smits:”deesdae is Londen my stad” (111)

Pieter Odendaal se “die eerste steen” (129); “Meiose” (151)

Natuurlik verraai dit iets van my leesvoorkeure. Ek hou van reisgedigte, reünies, pastiches of postmodernistiese speletjies, intertekste, stiltes, afwesige lover’s wat die vers aanstig en die tegelykertydsaspek van die gedig: daar waar die onderwerp en die tegniese aanslag een word. Kortom, ek hou van tegniek. Maar tegniek soos ʼn bedrewe gokker jou kul met ʼn vinnige beweging van die hand.

Met ʼn tweede lees, sien ek hierdie twee verse op die Versindaba se webblad:

Overberg

berge ou seer lywe

in die wind

onder ’n papryp son

gis lande koring

skape drentel rond

’n valk se skadu

volg hom oor die afgrond

 (Gerhard Bothma)

 

Ja, less is more. Die slot en begin is treffend. En hoe meer ʼn mens lees, hoe meer karring die vers aan jou gemoed.

 

vir pa, soos die ander

 

pa die sluise bruis vanaand weer soos in kanale are wat bars

deur die nate van tyd pa ek was in amsterdam die water het

geblink in die donker daar was swart vlekke swane en ons het

bier gedrink en geproost soos regte kaaskoppe pa en daar was

sprake van groningen in ’n bar daar was lang mans wangbene

gekap uit been en voor vondelpark het ek vir eybers

raakgeloop en mense het binnensmonds gemompel en ek het

op die punte van my tone geluister soos toe ek as kind julle

geheime taal wou ontsyfer daar was die flits van fietse in lane

my kamera-oog het geknip gefokus die dag het silwer geskarrel

in die tonnel van my oog en in die sekondewaas was ouma

hilda ook daar saam met jou pa

(Hilda Smits)

Die interteks is kennelik Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark”. Ongelukkig oordonder die interteks die vers. Moenie sleg voel nie. Sy sny ons almal se tonge uit. Boonop kry ʼn mens die gevoel die digter het nog nie uitgekom by dit wat sy werklik vir die pa (en ander) wil sê nie.

Wel goed is die bewussynstroomtegniek en die assosiasies wat die spreker maak.

 

V Swaarte –en Ligpunte

In haar sinryke inleiding vra Heilna du Plooy onder andere: Hoekom lees ons gedigte, terwyl gedigte tog nie die wêreld kan verander nie? Sy wys op die tematiek in die bundel: die liefde, die dood, vigs, die media, die ouers (veral die vaderfiguur), ontnugtering, e.d.m. – bekende bakens in die digkuns…

Hoeveel van hierdie gedigte kom by Roman Jakobson se eis uit, naamlik om gewone taal georganiseerde geweld aan te doen?, soos Du Plooy dan aanhaal. Om die klip dus klipperiger te maak, soos Sklovský dit so netjies geformuleer het.

En hiervoor kyk ʼn mens na beelde en nie na persoonlike opmerkings van die digters nie.

 

Enkele kanttekeninge:

Georganiseerde geweld of om die klip “klipperiger” te maak is waarskynlik die moeilikste eis van die digkuns. Aan nuutsegging of oorspronklikheid word die digter immers gemeet.

Met my derde lees, is ek veral onder die indruk van die oorspronklike beelde in die gedig “Ballade” (135) van Pieter Odendaal.

 

Die treintrok het gedig geword

die lied was ons enjambement

en almal was veeltalig een,

behalwe die simpel vent.

 

En “oë wat sci-fi-strale skiet” is ook skerp.

Die digter bring die wêreld van die digkuns, treinry (ja die strofes is soos treintrokke) en beelde uit die filmwêreld. Ook die aanwesigheid van selfone word hier ingebring met die wete dat die digkuns tóg iets is waarmee die spreker ander kan uitoorlê. En dis hierdie geloof in die digkuns wat waarskynlik soveel belofte inhou vir hierdie digterskap. In die gedig “die see glim soos die weerkaatsings van die boek” (131) is daar dieselfde ont-plooiing van taal.

Ek dink hier aan “die kerktoring se stilblyvinger”, “ry daar ʼn fiets // uit die garage van my harsings” (133).

In “Meiose” (132) lees ons oor die pa:

“sy maag peul uit soos ʼn struggle song”.

“die eerste steen” (129) (vir Adam Small) is ʼn vers wat reeds wyd aandag ontlok het. 

Hilda Smits se “Vir Primo Levi” (114) imponeer eweneens.

“By die reünie” (61) van Desmond Painter is die onthoubare beslis:

Die maan is ʼn semenvlek

op die swart onderbroek

van die aand…

Tegelykertydsaspek:

Daardie gegewe waar die gedig twee sake oormekaar skuif sodat dit één word, vind ons by Jaco Barnard-Naudé in “Manu magister” (55)

 

Manu magister

 

die een hand

           reik skielik

oor ’n styfwit tafeldoek

            na die ander

hand

die een hand vreeslik femme

           die ander o so straight:

 

’n gedig ontspring

by verbode aanraking.

 

en in “Overberg” (20) van Gerhard Bothma wat ek weer aanhaal om my argument te staaf:

 

Overberg

berge ou seer lywe

in die wind

onder ’n papryp son

gis lande koring

skape drentel rond

’n valk se skadu

volg hom oor die afgrond

 

Temas:

Gedigte oor ouers en siekte vind ons hier – soos “Alzheimer” (123) van Izak du Plessis waarin die siektetoestand konkreet verbeeld word. “Die moeitelose selfmoord van dominee De Waal” (126) wys hoe ʼn psigiese dood in wese ʼn soort selfdood word.

Die liefde vind weerklank in die snaakse “The sound-of-silence” (104) van Ihette Jacobs. Joan-Mari Barendse se “America’s next top poet” (40) is ironies oor die vraag: kan ʼn mens met toewyding ʼn digter word soos ʼn supermodel? Absoluut!

 

America’s next top poet

 

Volgens ’n voorste modelafrigter

kan enigiemand

met toewyding

’n goeie dieet

strawwe oefening

professionele grimering

ontwerpersklere

plastiese chirurgie

en die regte gene

’n supermodel word

ek wonder

geld dit ook vir digters?

 

Eensaamheid en nostalgie is te vinde in die digkuns van G.P. Terblanche.

Die skryfproses en die bemoeienis met die digkuns is ʼn belangrike tema vir Hendrik van Niekerk wat selfkrities blyk te wees oor die “metaforiese branders” (33, “Verligting in skoon word”). Desmond Painter ervaar ook die skryfproses en die gesprek met die liefdesgedig in Afrikaans wat dikwels op ellende en eensaamheid uitloop (“Sondagmiddag”, 67).

Die “geding met God” vind ons by Wicus Luwes in die aangrypende “’n Beknopte lewe” (43):

ons lewe in skofte

en leer honde om hul pote vir ons te gee…

Oloff de Wet en Desmond Painter gee indrukke van ʼn vreemde landskap soos in “moya” (49) en “Jy het Griekeland gehaat” (65).

Die impak van TV en die impak van plastiek word verïroniseer deur Fanie Viljoen in “plastiek” (87).

Die skilderkuns as uitweg en digterlike konstruk vind ons in “Sneeukoningin” van Gisela Ullyatt (92).

Toespelings:

Adriaan Coetzee se gedig “laat die kind kom” (118) speel in op Leipoldt se oorlogsverse oor die Boereoorlog en Ingrid Jonker se beroemde gedig wat Mandela weer lewendig gemaak het. Dit is ʼn slim gedig, omdat die leser se voorkennis van die geskiedenis aangespreek word. Dit aktiveer eweneens die taalstryd.

 

laat die kind kom

 

laat die kind kom na my Afrikaansklas

om sy taak oor Leipoldt

in swak skrif op rooi karton

naas plakkate van landmyne en handgranate

teen die muur te plak

laat die kind kom en my halssnoere

op die voorblad bespreek in Voorligting

laat die kind kom na my skoolsale

vol foto’s van Kruger tot Mandela

en Hoe groot is U sing

 

Neil Cochrane en Alwyn Roux se gesprekke met die tradisie is gesofistikeerd. Eersgenoemde met postmodernistiese aanslag (“Lyfvaart: ʼn pastiche”, 75) en laasgenoemde in sy gesprekke met Breytenbach.

Desmond Painter bely pront hy het ʼn gedig afgekyk (“Aanvaarding”, 62).

Carina van der Walt maak aanspraak met die mona lisa-obsessie in “Amon L’isa” (79) en “kontra-komposisie” (81) word ʼn slim kuns-paper chase.

Fanie Viljoen noem ʼn gedig “dekonstruksie” (85).

 

Tegnieke:

Facebook maak hier konkreet sy opwagting (Desmond Painter se “Vier Facebook Status Updates”, 71).

Daar is beelddigte – wat dui op groter afstand van die self – soos die gedig oor Rosa Luxemburg (“Gesoek: Rosa Luxemburg” van Jaco Barnard-Naudé, 58) en die reeds genoemde “Vir Pirmo Levi” (114) van Smits.

Die spel met die sonnetvorm is ook hier (“Jeugfoto: ʼn vals sonnet”, 55) van Barnard-Naudé. Die vierreëlige vers word aangetref in “Silhoeëtte’ (21) deur Gerhard Bothma.

Die distigon vind ons by Barnard-Naudé in “In transit” (54).

Adriaan Coetzee maak ons attent op die aanwesigheid van die speltoetser (“Instrumentalis”, 117) en die spanning tussen natuur en masjiene.

Die kaberetagtige vers vind ons ook hier, soos by Desmond Painter wat die oeroue spanning tussen die lied en die digkuns aktiveer (“Miss Jesus”, 63).

Neil Cochrane is speels en ironies in sy pomo-verse.

 

Kritiek:

Die naamregister agterop is onvolledig.

 

Boeke en internetverwysings vir verdere bestudering:

A.P. Grové: Woord en wonder. Nasou, 1984.

Henning Snyman: Mirakel en muse. Perskor, 1983.

Camille Paglia: Break blow burn. Knopf Doubleday, 2005.

Ottone M. Riccio: The intimate art of writing poetry. Prentice Hall, 1978.

Johann de Lange se blog Kaapse paragrawe.

https://www.dropbox.com/lightbox/home/GEWILDSTE%20GEDIGTE

Heilna du Plooy sluit tereg haar inleiding af met ʼn verwysing na Sheila Cussons, iemand wat destyds in Opperman se Stiebeuel-reeks gedebuteer het en gegroei het tot een van die grootste digters in Afrikaans. Haar debuut Plektrum bly ʼn hoogtepunt.

Kom ons kyk wie gaan genoeg stamina hê om alleen te debuteer. Daar is genoeg blyke van genoegsame talent in hierdie versameling wat ʼn mens hoop gee vir die “loneliness of the long distance poet”.                                      

Ek wil nie al die gedigte aanhaal nie, omdat die leser die boek moet koop!

Joan Hambidge

Junie 2013

Is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK. Haar laaste bundel heet Lot se vrou (2012). In September verskyn Meditasies by Human & Rousseau. Vir Visums by verstek (2011) is sy bekroon met ʼn ATKV-Woordveertjie. Hoe ouer sy word, hoe meer voel sy dat net vleis en tamaties gegradeer behoort te word.

Sy glo ook dat ʼn mens met elke bundel soos ʼn slang moet kan vervel en nuwe tegnieke onder die knie behoort te kry. Haar blog heet Woorde wat weeg. http://joanhambidge.blogspot.com/

Sy is op pad Viëtnam toe aan die einde van die jaar en probeer haar hand waag aan die luc bát.

http://en.wikipedia.org/wiki/L%E1%BB%A5c_b%C3%A1t

 

Endnote:

Beeld, 14 Mei 2013 http://www.beeld.com/vermaak/2013-05-14-18-nuwe-stemme-klink-op

18 nuwe stemme klink op


Rudolf Stehle

Dinsdag 14 Mei 2013

Die vyfde bundel in die Nuwe stemme-poësiereeks verskyn die einde van die maand by Tafelberg.

Die samestellers van Nuwe stemme 5 is die digter Loftus Marais en letterkundige en digter Heilna du Plooy.

Vorige samestellers was George Weideman en Anastasia de Vries (1997), Petra Müller en Nèlleke de Jager (2001), Antjie Krog en Alfred Schaffer (2005) en Danie Marais en Ronel Foster (2010).

Talle digters het oor die jare in dié reeks gedebuteer, onder wie Marais self, Martjie Bosman, Ilse van Staden, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal, Jo Prins, Melt Myburgh, Danie Marais en Ronelda S. Kamfer.

Inskrywings vir die bundel is in Desember 2011 oopgestel en die sluitingsdatum was 31 Maart verlede jaar.

Aspirantdigters is ook genooi om by Nuwe stemme 5 se Facebook-groep aan te sluit en drie van hul beste verse op dié groep se blad te plaas sodat hulle kommentaar van belangstellendes kon verreken voordat hulle hul inskrywings finaal ingedien het.

“Ek het so ’n groot boks met al die ingeskrewe gedigte gaan haal by die Tafelberg-kantore,” vertel Marais.

“Dit was geweldig moeilike leeswerk. Die meeste van die skryfwerk was erg naïef. Maar die wat uitgestaan het, het darem wérklikwaar uitgestaan.”

Tussen 15 en 30 digters is toe genooi om eksklusief lede van ’n finale Facebook-groep te word, waarop enkele gedigte krities bespreek is.

“Dit was maar vreemd en ongemaklik by tye – ek dink ’n medium soos Facebook is nie iets wat die digkuns en diepte-gesprek noodwendig vergemaklik of enigsins aanmoedig nie. Maar baie van die digters het tog wel daarby baat gevind,” sê Marais.

Daarna is ’n kleiner groep digters gekies om vroeg vanjaar naweekwerksessies – een in Kaapstad en een in Johannesburg – by te woon.

“Die werksessies was baie pret – hoewel dit ook maar vreemd was hier en daar. Jong digters hanteer kritiek op verskillende maniere. Party praat baie, ander luister net.”

Net die heel beste gedigte is na afloop van die werksessies vir publikasie gekies.

“Ek en Heilna moes maar basies net gedigte uitkies wat vir ons wérk. En dan het ons oop, gemaklike gesprekke gehad met die digters oor algemene en spesifieke slaggate – om hulle só te probeer help met die ontwikkeling van hul stemme. ’n Mens wil nie te veel inmeng nie, maar poësieskryf is ook ’n ambag, ’n mens kan ook sekere dinge leer rég doen.”

Die 18 digters wat in Nuwe stemme 5 opgeneem is, is Joan-Mari Barend-se, Jaco Barnard-Naudé, Gerhard J. Bothma, Neil Cochrane, Adriaan Coetzee, Oloff de Wet, Izak du Plessis, Ihette Jacobs, Pieter Odendaal, Desmond Painter, Alwyn Roux, Hilda A. Smits, GP (Gerrie) Terblanche, Gisela Ullyatt, Carina van der Walt, Hendrik Albertus Cornelis van Niekerk, Fanie Viljoen en Wicus Luwes.

“Die ontdekking van werklik oorspronklike stemme was iets opwindends – dit gee ’n mens letterlik energie, jy wil self opspring en gaan skryf,” sê Marais.

Hy beskou Nuwe stemme 5 as ’n soort antwoord op “daardie behoudende stroming in die Afrikaanse leespubliek” waarvan die pas verskene Die gewildste Afrikaanse gedigte “met al die ou, effe stowwerige skoolgedigte” getuig.

“Nuwe stemme 5 is vars, byderwets, vernuwend en relevant.”

 

 Resensie geborg deur :

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie/essay: Nuwe Stemme 5”

  1. adriaan :

    ek stem saam Joan, die sleutel vir my lê in die titel van Antjie se keur: Digter wordende.