Johann Lodewyk Marais. Dedan Kimathi

Dedan Kimathi

 

Dedan Kimathi,

seun van Waithuthi

en Waciuri wa Kabuga

is gebore in Gathuthi

in die Nyeri-distrik.

 

Dedan Kimathi

sweer met grond

in sy vuiste geklem

oor die ingewande

van ’n bokram.

 

Dedan Kimathi

kan tien myl ver

op sy maag kruip

en homself in ’n voël

of luiperd verander.

 

Dedan Kimathi,

met lang hare,

kamoefleerbaadjie

en fluweelbroek

beland in ’n strik.

 

Dedan Kimathi,

die onsigbare leier

van Mau Mau,

se maer lyk hang

aan ’n galgtou.

 

© Johann Lodewyk Marais / 2013

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Johann Lodewyk Marais. Dedan Kimathi”

  1. Johann Lodewyk Marais :

    “[I]an Henderson and his crew’s most glorious moment came when they captured the famous and elusive Mau Mau guerrilla leader, Field Marshal Dedan Kimathi. The ultimate symbol of Mau Mau resistance, Kimathi was interrogated after his capture and eventually tried and hung” (Caroline Elkins, “Britain’s Gulag: The Brutal End of Empire in Kenya”, 2005, p. 54). Elkins het in 2006 die Pulitzerprys vir dié boek ontvang. Kyk ook David Njeng’ere, “Dedan Kimathi: Leader of the Mau Mau” (2003). Veldmaarskalk Kimathi het tussen 1920 en 1957 gelewe.

  2. Neels Jackson :

    Ek hou baie hiervan.

  3. Ivan Mocke :

    Wat ‘n gedig! Dankie, Johann. Ek’s mal oor die slot.

  4. Johann Lodewyk Marais :

    Dankie, Neels en Ivan. Vandag is daar nog steeds meningsverskille oor of Mau Mau ’n nasionalistiese of stamrebellie was; en selfs of dit ’n betekenisvolle rol in die verkryging van Kenia se onafhanklikheid gespeel het. A.P.J. van Rensburg beweer in “Afrikaverskeidenheid” dit is sinneloos om te argumenteer of Mau-Mau ‘’n breё nasionalistiese of ’n enkele stamgebonde beweging was. Mau-Mau was albei'(p. 56). Die Mau Mau-eed het weliswaar ander stamme uitgesluit. Ook Thomas Pakenham meen in “The Scramble for Africa” ‘the origins and character of Mau-Mau are disputed’ en lê veral die klem op die Britte se diskriminasie teen die Kikuyu, wat hulle vreemdelinge in hulle eie land gemaak het, en die verlies van hulle grond (p. 677). Die opstand het uiteraard baie tot die verandering in swart mense se politieke posisie in Kenia bygedra, maar selfs ná onafhanklikheid het Keniane ’n ongemaklike verhouding met hierdie geskiedenis gehad. Tot op hede is geen monument ter herinnering aan Mau Mau opgerig nie. ’n Beeld van Dedan Kimathi is eers in 2007 op die hoek van Kimathi- en Mama Nginastraat in Nairobi onthul.