Onderhoud met Nathan Trantraal

 

Otherwise voel jy extremely vulnerable

Louis Esterhuizen gesels met Nathan Trantraal oor sy debuutbundel, Chokers en survivors.

 *

 Voorwoord

 

Chokers en survivors is peanut-butter-en-jêm-brood

Issie eeste en laaste kee wat ek myself gan explain.

Na dié vra jy my fokkol, lyste net:

as jy nie kan byhou met die storie nie, dan issitie vi jou nie

ôs het vi twie jaa geliewe op chokers en survivors en flou tea.

 

© Nathan Trantraal (Uit: Chokers en survivors, 2013: Kwela Boeke)

 

***

LE: Nathan, van harte geluk met ‘n kragtige debuut; ‘n bundel waarop daar al baie lank gewag is, myns insiens omrede dit die leser konfronteer met realiteite wat ver buite die grense van taal en ruimte beweeg … Nietemin, ‘n vraag wat jy na alle waarskynlikheid tot vervelens toe gaan moet beantwoord, is jou keuse om die gedigte in Kaaps te skryf. Is hierdie gewoon omrede dit jou hartstaal is, of probeer jy ook ‘n ander stelling hiermee maak?

NT: Ek hettie reg gedink daaoo nie. Ek kannie anneste skryf ie. Ek sal die boek in Engels geskryf et as ek gedink et ek kan.

LE: Uiteraard gaan daar vergelykings tussen jou gedigte en Adam Small, ‘n uiters gedugte voorganger, getref word. Sit só ‘n vergelyking gemaklik in jou klere, of is dit iets wat effentjies soos grond in die mond voel?

NT: Ek dinkie dat ek soe sensitive is dat comparisons met ‘n anne, ouer writer my ienage emotonial distress sal cause ie. Maa as jy my vra of ek personally dink daa is ienagge corrolation tussen my en Adam Small gan ek nuu moet se. Adam Small hettie Kaaps geskryf ie, for instance. Hy hettie Kaaps gepraat ie. Ek respek sy stilte. Dis al wat ek rerag kan se oo hom. Ek wens mee writers wil stilbly. 

LE: Vertel vir ons iets omtrent die titel van jou bundel? Waarna verwys dit?

NT: Dit refer na ’n sandwich. Peanut Butter and Jam sandwich. Os het daaop geliewe vi twie jaa. Os was arm os het niks gehad ie. Die govermnent sponsor mos siekere skole wat in arm plekke is met die brood en die jam en soe. Die kinnes willitie ietie.Soe dan het my baby suste die brood wat oo was vi os gebring om by die hys te iet.

LE: Ek vind die bundel se chronologiese indeling volgens blyplek besonder interessant; veral omrede dit die leser laat vermoed dat hier ‘n bepaalde groeiproses ter sprake is van jeugjare in Bishop Lavis na Mitchell’s Plein en weer terug na Bishops Lavis, elf jaar later. Is ek reg hiermee, of volg dit gewoon maar jou eie omswerwinge?

NT: Die chronology was definitely deliberate. Die eeste jare in Bishop Lavis is my Songs of Innocence suppose ek. Daityd het ek nog saam my ouma gebly. Ek was baie lief vi haa. En sy het Bishop Lavis inne different soot light ge cast vi my. Later toe os Mitchells Plain toe trek toe exist os in ’n soot bubble. My childhood daa was soes ’n Norman Rockwell painting. Baie naive gewies dai tyd, wide eyed en full of expectation. Toe syp my pa os se hys onne os yt. En toe trek os trug Lavis toe na my oupa se hys wat ek sieke net drie kee gesien et in die veetien jaa wat os innie Plain gebly et. Bishop Lavis het my gebriek en rebuild, en my die meaning van absurdity gelee.

LE: Myns insiens lê die krag van jou verse in die oorweldigende eerlikheid daarvan; iets wat my laat vermoed dat jy waarskynlik sterk idees het rondom die sogenaamde “integriteit” van die vers. Weeg dié oorweging – die etiese basis van die vers – vir jou byvoorbeeld swaarder as die estetiese aanbod daarvan?

NT: Ek wietie, ek is equally lief vi beauty en truth. En somtyds is die twie goed vi my surrogates vi mekaa. Die waarheid kan altyd vi my mooi wies.

LE: Die kwessie van humor. Nathan, ek het lanklaas sulke wrang humor in ‘n bundel teëgekom. Hoe belangrik is hierdie komponent vir jou? (Skryf jy daarnatoe, of is dit maar iets wat in jou ervaringswêreld ingebed lê?) Ek vra hierdie vraag omrede dit soms op die taal af in die segswyse vasgevang sit, maar soms is die situasie wat jy beskryf, huilsnaaks.

NT: Ek is bly as mense lag vi die gedigte. As ek voo lies especially. Otherwise voel jy extremely vulnerable. In os se familie lag  jy vi alles. Is os se way van om met niks te deal ie.

LE: Jy is ook bekend as kunstenaar van comic strips soos Stormkaap: Drome kom altyd andersom uit (2008)  Coloureds(2010)  en Issues waaraan jy tans werk. Bestaan daar vir jou ‘n bepaalde wisselwerking tussen wat jy as strip-kunstenaar doen en jou digkuns?

NT: Ek wietie, ja daa is min difference tussen die gedigte en die comics. Dis dieselfde stories, dieselfde geskryf. Ek is op die oomblik biesag met ’n comic van illustrated poems.

LE: Ten slotte ‘n paar meer persoonlike vrae. Jy kom my voor as iemand wat besonder kreatief is. Is dit moontlik vir jou om te bepaal waar hierdie drang tot ‘skepping’ – in watter vorm ook al – vir jou ontstaan het?

NT: Ek kom uit ’n eccentric familie. Ek het ’n uncle wie paint, hy is actually ’n drug addict full-time, maa hy paint oek. Hy paint soes Gaugiun. Hy maak sy eie paint yt colouring pencils en finger paint soes wat jy vi klein kinnes sal koep. Dan sit hy in sy shack wat hy vi hom gebou et in my oupa se jaat, en da paint hy paintings wat hy vi niemand wys ie. En dan het my ma ’n niefie wie die heeltyd anne mense se boeke mettie hand ooskryf in fine print, perfect letters. Hy het sieke die Bybel ennie Dictionary tien kee oo geskryf. Soes dai character innie Borgias storie wie Don Quixote ooskryf. Ek hoep altyd ek issie soes hulle nie. My ma het nou onlangs ‘n boek geskryf. Is brilliant. My ouer broe is ’n skrywer en ’n artist, os wek saam. Is sieke innie bloed.   

LE: Hierdie is nié jou eerste publikasie nie. So was daar byvoorbeeld ook van jou gedigte opgeneem in Nuwe Stemme 4 (2010: Tafelberg). Was daar ook ander publikasies, afgesien van die reeds genoemde comic strips?

NT: Jy confuse my nou met my broe André. Hy het in Nuwe Stemme 4 gepublish. Maa ek suppose dai is interesting within itself. Is swaa somtyds om te distinguish tussen os. Die een is soms soes ie anne een se skaduwee. Ek het gedigte gepublish in This is my land wat compiled was deu Meg van de Merwe, Sindiwe Magona en Antjie Krog.

LE: Verlede jaar het jy ‘n aantal maande in Amsterdam tuisgegaan. Het hierdie ervarings iets daarmee te doen dat jy na jare van huiwerige afwagting sover gekom het om jou gedigte te publiseer? Met ander woorde: watter invloed het dié oorsese ervarings op jou eie skryfwerk gehad?

NT: Ek het my boek klaar geskryf voo ek Amsterdam toe gegan et. Ek het vi ’n maand geskryf en toe vi soe drie maande recover in Amsterdam. Ek wietie, Nederland is ’n awesome plek, maa it issie die soot plek wat jou inspire om ienagge iets te doen nie. Daa is fokkol stories in Nederland wan niks gebeu daa nie. Issie price wat jy betaal vi comfort. Dai is hoekom hulle ammel skryf oo hulle affairs, hulle psychiatrist en hoe hulle ma se borsmelk suur was.

LE: Nathan, die aanhalings en verwysings wat jy saam met jou gedigte gebruik laat ‘n mens besef dat jy nie net wydbelese is nie, maar ook sommer baie wyd luister. Is daar ‘n bepaalde iemand of iets wat jy sou kon uitsonder wat ‘n bepalende invloed op jou skryfwerk het?

NT: Ja music bedoel baie vi my. Toe ek op skool was het al ie songs op my favourite album, Urban  Hymns van The Verve neegeskryf in ’n boek en vi my meisie op wie ek velief was gegie en vi haa gese ek het ’n digbundel vi haa geskryf. Was in die music soe ek het gewiet sy sallie it kennie. Die band, The Hold Steady se album Boys and Girls in America het ’n massive influence op my gehad en dan Glasvegas, ’n Scottish band wie songs in hulle eie dialect skryf en in hulle eie fucked up accents sing.

LE: Dankie vir hierdie geleentheid om oor ‘n bundel te gesels wat myns insiens ons poësie-landskap gaan herdefinieer, Nathan. Kan jy dalk asseblief by wyse van groet ‘n gedig hieronder plaas wat jy graag met die lesers sal wil deel? (Miskien kan jy sommer motiveer hoekom jy juis dié gedig kies?)

NT: “Ronelda”: Ek het die gedig ge choose omdat die gedig tien die trend van die rest van die bundel gan. Ek issie net ’n cynical fuck ie. Ek is ’n baie optimistic pesoon. En ek het goeie mense in my liewe. En somtyds wil ek daaoo praat. Besides, Ronelda is responsible vi die feit dat ek Chokers geskryf et. Sy het insist ek kan skryf, en ek wil maa net nooit he sy moet vekeed wiesie.

***

Ronelda

 

I pull off your jeans and you spill Jack & Coke in my collar

I melt like a witch and scream I’m so sorry for everything.

– The National, “Baby, we’ll be fine”

 

Ôs sit allien oppie bankie,

my broe is gou weg ma nie vi lankie.

Ôs het heeldag gesit en praat

maa ôs hettie hie oo gepraatie

en ekkittie hie oo gedinkie.

Ôs het nette gedrai rondom mekaa

maa ek herrittie soe bedoelie

en ekkittie vi jou soe gesien nie

en nou êrens in my kop

hette orchestra ’n symphony begin speel.

 

Daa isse electric current rondom ôs

ennit trek ôs na mekaa toe.

Ek praat aneen maa ek dinkie

jy kannie hoo wat ek sê nie

wan jy sit net en smile

en biewe binnetoe en ek wiet wat

ek vi jou wil sê, wat ek wil sê is

moenie beweegie en moenie praatie

wan as jy nou beweeg

en as jy nou jou mon oepmaak

gannie hele wêreld ytmekaa yt val.

 

© Nathan Trantraal (Uit: Chokers en survivors, 2013: Kelwa Boeke)

 

 

Nathan, Ronelda & Seymour

Nathan Trantraal is in 1983 in Kaapstad gebore. In 2003 debuteer hy en sy broer André hul eerste strip, Urban Tribe, vir die Cape Argus. In 2008 publiseer Tafelberg Stormkaap:Drome kom altyd andersom uit, ’n grafiese roman. Daarop volg Coloureds (Jincom Uitgewers). Tans teken hy die weeklikse strip The Richenbaums vir die Cape Times.

Hy is getroud met Ronelda S. Kamfer en pa van ’n dogtertjie, Seymour.

Chokers en survivors is sy debuutdigbundel.

  

Omslag

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Onderhoud met Nathan Trantraal”

  1. Annemarie van Niekerk :

    Uitstekende interview! Ronelda en Nathan bly nou vir ‘n tydjie by ons in Den Haag en ek is elke dag maar weer van vooraf gegooi deur Nathan se geweldige belesenheid. Mens betrap hom nie maklik op ‘n boek uit die wêreldliteratuur wat hy nog nie gelees het, musiek wat hy nie ken nie, ‘n filosoof wie se werk hy nie op die punte van sy vingers kan juggle nie. En die geskiedenis van die filmkuns is by hom tweede natuur. Die man is net eenvoudig briljant. Ek weet nie of ek al in die wêreld van die akademie iemand met soveel kennis teegekom het nie, beslis nie in SA nie, maar selfs hier in Europa sal hy hulle een vir een ‘n go gee. Met ‘n ongelooflike sin vir humor. En boonop is hy so ‘n liewe pa en sorgsame man vir Ronelda. Dis mooi om hulle te bekyk en dan kan mens nie glo wat hulle al alles meegemaak het nie.

  2. Carina van der Walt :

    “Een echt nieuw geluid” sal die Nederlanders om my sê en dan ook nog toevoeg: “Het is de hoogste tijd.” Trantaal sluit wat my betref net aan by Small omdat hy in Kaaps-Afrikaans skryf. Ek vermoed sterk dat hy nie die godsdiens georiënteerdheid van Small het nie, soos in “Ko, lat ons sing” wat begin met ‘Vrinne / lat ons die Bybel oepeslaan’ of in “Groot Krismisgabet”: ‘Here / nou weer lowe ons jdou’. Ek vermoed ook dat die lydsame houding van Small onder apartheid in gedigte soos “Oppie parara” en “What abou’de lo?” by Trantaal ontbreek. Tereg! Demokrasie is amptelik amper 20 jaar oud, Trantaal se hele volwasse lewe. Die bekoring in bg. gedig lê vir my o.a. in ‘n op en wakker Kaaps wat hier ook in staat is om ‘n kwesbare moment van vervlietende bekoring asemophou raak te verwoord. Woorde soos ‘wan je sit net en smile / en biewe binnetoe’ en ‘… as jy nou jou mon oepmaak / gannie hele wêreld ytmekaa yt val” is universele bekoring wat niks met godsdiens of politiek te make het nie. Nathal Trantaal se debuut maak my opreg nuuskierig. Ek sal sy werk graag verder wil vergelyk met Small, S.V. Petersen e.a., maar ook met Wopko Jensma.

  3. Mellet Moll :

    “Daa is fokkol stories in Nederland wan niks gebeu daa nie. Issie price wat jy betaal vi comfort. Dai is hoekom hulle ammel skryf oo hulle affairs, hulle psychiatrist en hoe hulle ma se borsmelk suur was.”

    Hierdie opmerking vat soveel raak van die soms verwaande eksistensiële siel wat die gemak van die 21ste eeu skep, in teenstelling met die werklikhede wat Trantraal raakvat. Ek kan nie wag om die bundel te lees nie. Hier kom gewis iets wat ons nie onaangeraak gaan laat nie, iets wat die dinge sê wat dalk soms ongesê is.

    Dankie vir goeie onderhoud.

  4. Die-man-wat-vra :

    Nou wietekkie
    wat al die goed betekenie
    cos’ as jy die woode afwas
    sit ons dannie
    ma’ net mit chokers en flou tea nie?

  5. […] Onderhoud met Nathan Trantraal – Versindaba […]