Resensie. “Chokers en survivors” (Nathan Trantraal)

 

Chokers en survivors. Deur Nathan Trantraal. Kwela Boeke. ISBN 978-0-7957-0488-8

 Resensent: Bernard Odendaal

Op die agterplat van Chokers en survivors word die digter van dié debuutbundel aan die leser bekend gestel as gevestigde strip- en grafiese-romanskepper (in samewerking met sy broer, André) en as eggenoot van die digter Ronelda S. Kamfer.

Dis gegewens wat as verwysings terug te vind is in sommige van die gedigte in Chokers en survivors. Tesame met die woonbuurt- en datumaanduidings as opskrifte van die drie bundelafdelings (en wat strook met wat ek aangaande Trantraal se lewe weet), word sodoende beklemtoon dat ’n outobiografiese lees van die bundel nie onvanpas sal wees nie.

Die outobiografisering moet waarskynlik as outentifiseringstrategie gesien word. Van laasgenoemde is die Kaapse taalidioom wat in hierdie bundel benut word, waarskynlik die belangrikste middel. In die “Voorwoord”-gedig word byvoorbeeld verduidelik dat die bundeltitel op “peanut-butter-en-jêm-brood” slaan, iets waarop “ôs” (die digter en sy medekunstenaarbroer, blykens uitlatings in sekere gedigte) “vi twie jaa geliewe [het]”. Op eiesoortig nadruklike wyse verklaar die digter dan dat die leser verder “fokkol” aangaande die betekenisse van uitdrukkings in die gebruikte idioom van hom moet vra nie: “as jy nie kan byhou met die storie nie, dan issitie vi jou nie”.

Die idioom is as ’t ware die vergestalting van die leefervaring wat vertolk word, vol “[m]arks of weakness, marks of woe” (blykens die aanhaling uit William Blake se “London” as een van die bundelmotto’s) ’n lewe wat “no future for you no future for me” bied (luidens ’n tweede bundelmotto, aangehaal uit ’n werk van Craig Finn). En dis eintlik net ’n eerstehandse spreker van daardie idioom wat die betrokke belewenis kan vertolk. Vandaar die derde bundelmotto (uit Jim en John Thomas se Predator):

 

Dutch: So why don’t you use the regular army? What do you need us for?  

Dillon: Cause some damn fool accused you of being the best.

 

Op afwisselend – en soms gelyktydig – sketsagtige en anekdotiese trant word die bietjie wel en die baie wee van die “chokers” (daardie betekenis skuil ook in die bundeltitel) van die Kaapse Vlakte weergegee, wat derhalwe op ’n manier ’n voortsetting verteenwoordig van die strip- en grafiese-romansierswerk van die gebroeders Trantraal.

’n Bepaalde afstandelikheid, ’n terughoudendheid van vertelling en uitbeelding, sonder opvallende waarnemers- en vertellersbewoëndheid (al voer ’n eerstepersoonsverteller die woord), kenmerk meestal die aanbieding. Sy ma het hom geleer “hustle” (“dai vrou-allien-sôg-vi-ses-kinnes hustle”), verklaar die subjek in “Hammie”:

 

My ma het my gelee

ommie sentimental te wiesie.

Die eeste ding wat sy gepawn et

was haa trouringe.

 

Let op die volgende (uit die gedig “Fifa 06”) waar die subjek sy dronk, aggressiewe pa te lyf gaan deur hom herhaaldelik teen die kop te skop:

           

Die way ek my pa skop is baie Fifa 06,

it voel ’n bietjie fake en unconvincing

asof ek net deerie motions gan.

 

Afstandelikheid, die buitestandersposisie, is die verkieslike lewenshouding vir hom:

 

            Dais my idea vanne goeie tyd,

soelank ammel hulleself enjoy

en soelank ekkie hoef te participatie.

            (“Chokers”)

 

Die styl, die taalidioom met sy argeloos-, grof- en beperkthede, werk in die ontsentimentalisering mee. “[E]k et ’n horrible Afrikaans vocabulary,” verklaar die spreker in “Groot Verseboek”: “Soe helfte vannie tyd vestaan ekkie / waarvan die cunts innie Groot Verseboek praatie.” Dis eintlik ómdat hy self ’n verstikker van die “ghetto” (bladsy 25) is – hy het “nog altyd fokkol van [homself] gemaakie”, lui dit in “Oujaasnagte” – dat hy die outentieke vertolker van daardie verstikkende armoede, uitsigloosheid, geweldpleging en bandeloosheid kan wees. Vergelyk:

 

            Daa is ganse innie pad,

’n honned stray honne,

’n dysend stray mense

en as jy vesigtig narie gesigte kyk

sal jy sien dat hulle ammel

al virre dysend jaa dood is –

            die mense,

            die ganse

            ennie honne.

            (“Valhallapark”)

 

Of:

            Ek dink by myself tronk is ampe

soese rite of passage as jy coloured is:

one way or the other gan jy vi iets mang.

Fokkol te doen met wie of wat jy issie.

Is ampe soes fokken pilgrimage,

soesie slamse wat Makka toe gan.

 

Die opvallende benutting van emosionerende stylfigure en beeldspraak soos in bostaande passasies is relatief skaars in Chokers en survivors, soos trouens al die “gewone” poëtiese skeppingsmiddele – “omdat ek wiet my poetry is kak / en dat ekkie kan skryfie,” beweer die “ek” in “South Korea”.

Punt is: Die “poëtiese” laag, die styl- en versbougrepe, dit wat die aandag op die digterlike medium self vestig, is hoofsaaklik dun aangebring. Opsetlik so. (Die subjek ken die werk van ’n Van Wyk Louw, ’n Sheila Cussons en ’n Ingrid Jonker, van ’n Vermeer en ’n Donatello, blykens die name en verwysings wat in sommige gedigte val; hy is nie rêrig so ongesofistikeerd nie. Sy belesenheid blyk trouens reeds uit die talle bundel- en gedigmotto’s in die bundel.)

Want dis die verstikkende, wanhoopwekkende realiteit self, die afgryslike en konfronterende hierheid daarvan, wat moet deurskyn – “tot hie en nie vêderie” (titel van die openingsgedig), wil die digter ons laat gaan. “Wies careful van mense wat hulle harte op hulle moue dra / wan sukke mense wysie altyd vi jou hulle regte hartie,” waarsku hy voorts in die eerste strofe van dieselfde gedig.

Daarom beeld hy vir ons ’n “Swat Hannes” uit; of ’n openbaar “skommelende” (masturberende) oupa Derra; of ’n Albert wat hom by die karaoke verbeel hy is een van die Bee Gees, naamlik die dwelmverslaafde een wat selfmoord gepleeg het en wat nou asof

 

            […] sy dood gefake et

Lavis toe getrek et

black face angesit et

my ma-hulle betaal et om te sê hy is hulle broe

 

sy cocaine exchange et vi buttons

champagne virre bier

sy mansion virre Wendy house

sy beauty virre beast

die stage virre shipyard

stardom vi obscurity

success vi failure

caviar virre chokers dite.

(“Chokers”)

 

Die digterlike effek word verreweg oorwegend deur die benutting van die Kaapse taalidioom self bewerkstellig. (Waaraangaande ek nie kon help om te wonder nie: Waarom is dit byna uitsluitlik die Afrikaanse woordeskat wat by die weergawe van Kaaps foneties gespel word, terwyl dit nie die geval is met die Engels daarin nie? Ek is nie oortuig dat dié anomalie getrou aan die werklikheid is nie.)

Die afslytende potensiaal van sodanige aanpak word op oorwegend treffende wyses teengewerk in die bundel. Hier en daar duik korter, liedagtige verse op. En die liries-roerende gedigte “Woensdag, 16 Februarie 1988” (tweede gedig in die bundel, met sy beligting van die gawe van die onbewoë dae, die “klom dae wat niks gebee nie”) en “Ronelda” (slotgedig in die bundel, oor die liefde as “electric current om ôs”) omraam as ’t ware die ontluisterende werklikheidstekening tussenin.

’n Ander reddende middel – wat, soos die liefde van die ma en die eggenote, van die “choker” iets van ’n “survivor” maak – is humorvolheid. Die tekening van die subjek se geduld met die begeerlike vrou se voorlesery uit gekanoniseerde Afrikaanse werke omwille die (verhoopte) seksuele toenadering wat daardeur bewerkstellig sou word (“Groot Verseboek”), of sy verligting as sy broer en sy pa baklei sodat dit die einde van ’n gesinsuitstappie in die “groot geel Peugeot” beteken (“”geel walvis”), is byvoorbeeld kostelik. Selfs die uitbeelding van onthutsende gebeure geskied nie sonder (aweregse) humor nie (“twie taties”, “bladwisselend”, ensovoorts). Trouens, aan die verleiding van ietwat verkneukelde voortborduring op sulke situasies (byvoorbeeld in “15 11 28 3 29 bonus: 48” en “Chokers”), soos ook op die seggingsgehalte van Kaaps (soos blyk uit die aangehaalde gedeelte uit “Chokers” hierbo), ontkom Trantraal somtyds nié.

Chokers en survivors is ’n boeiende debuut, een wat onthuts, vermaak, tref. Trantraal staan daarmee nie terug vir die uitstaande werk wat die vermelde Ronelda S. Kamfer onlangs gelewer het met betrekking tot die digterlike vertolking van die lewe in die arm woonbuurte van die Kaapse Vlakte nie.      

 

(c) Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

 

 

 Resensie geborg deur :

 

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie. “Chokers en survivors” (Nathan Trantraal)”

  1. Joan Hambidge :

    Ek dink die drie bundelafdelings betrek Dante se Divina Commedia oftewel Heilige Komedie (Inferno, Purgatoria, Paradiso) veral as ‘n mens sien dat die bundel opgedra word aan sy broer, André (Il miglior fabbro) wat ons dan neem na die kreatiewe verhouding tussen Eliot en Pound. Dit is immers die opdrag tot The wasteland.
    Daar is ‘n volgehoue spel in hierdie bundel, soos by gert vlok nel, van ingelig-wees en maak asof jy nie weet wat ernstige digkuns behels nie. En ook parodiëring daarvan soos “die Here wiet alien 2”.

  2. Joan Hambidge :

    My volledige bespreking is op my blog

    http://joanhambidge.blogspot.com/

  3. http://www.youtube.com/watch?v=d–GGcid7D4&sns=fb
    Vir mense wat ook nie televisies het nie of wat nie vroeg genoeg vir ontbyttelevisie opstaan nie. Ek hou van Nathan Trantraal se klasperspektief in die onderhoud.