Andries Bezuidenhout. Doop – ʼn gedig oor hysbakke

Leonard Cohen vertel graag van die hysbak in die Chelsea Hotel in New York. Die hysbak is ʼn tipe tegnologie waarvan hy baie hou. Dis eenvoudig. Jy druk ʼn knoppie en dit neem jou na die vloer waar jy wil wees. Een keer het hy vir Janis Joplin in die hotel se hysbak raakgeloop. Sy’t gesê sy’s op soek na Kris Kristofferson. Cohen het geantwoord dat sy haarself gelukkig kon ag, want hy is Kris Kristofferson. Al het Janis Joplin geweet Leonard Cohen is nie Kris Kristofferson nie, is die twee toe na ʼn kamer toe waar hulle vir ʼn paar dae lank gebly het. Cohen se lied “Chelsea Hotel nr. 2” bly een van my gunsteling lirieke. Hier is ʼn uittreksel:

I remember you well in the Chelsea Hotel
you were famous, your heart was a legend.
You told me again you preferred handsome men
but for me you would make an exception.
And clenching your fist for the ones like us
who are oppressed by the figures of beauty,
you fixed yourself, you said, “Well never mind,
we are ugly but we have the music.”

Dan is daar Johannes Kerkorrel se verwysing na Hillbrow se Chelsea Hotel in sy lied “Hillbrow”. Ek hou ook van die hysbak as tegnologie. Ek hou egter meer van krane en baddens, veral in die oggend. Jy draai eers die warmkraan oop, laat die bad vol loop. Dan koue water, soos melk in koffie – net genoeg dat jou verhemelte nie brand nie. Doop die lyf soos droë beskuit. Vir ʼn paar dae lank het vriende in my en Irma se woonstel gebly terwyl hulle verhuis. Ons het tydelik in die woonstel wat as my ateljee en Irma se studeerkamer dien, ingetrek. Die badkamervenster is reg oorkant die gebou se hysbak. Elke oggend het ek in die bad gelê en na die klank van die masjien se kabels en katrolle geluister, asook gesprekke van mense wat vir die hysbak wag.

Vyf, dalk reeds sesuur?
Oggendverkeer geparkeer
neffens my badkamervenster,
gepaarde skoene ʼn getytafel
wat wag op die sesde vloer
vir waterpaskatrolle om te draai
en die stiptelike hok
om hulle op te laai.

Ek week my skelet in die bad,
dryf ʼn oomblik langer
van hierdie stroom af weg,
maar voorspelbaar,
soos die son en die maan
se gewedywer oor die see,
dink ek aan water en alles
wat later vandag moet gebeur.

Meestal wag hulle suutjies,
alleen voor die skuifdeur.
Soms flits ʼn selfoonskerm
deur die wasem –
ʼn vuurvlieg wat piep
om teks te suggereer
en dan die hysbakdeur
wat oopkreun om buisligdruppels
teen teëls te laat kondenseer
net om my dan weer
alleen met stoom en stilte te laat.

Seine en golwe, dink ek,
hou almal beskikbaar,
binne bereik –
gepekelde insigte
van badtydfilosofie.

Partykeer wag hulle in pare.
Woorde in wolke,
beneweld bo superheldkoppe
op ʼn comicbladsyruit.
Waaroor praat hulle,
hierdie mense
wat anderkant die venster wag?

Wat maak jy vir aandete?
Sal jy die kinders na skool gaan haal?

Ek salf my met sjampoe,
druk my ore onder die water
as nóg een die hysbak bestyg
om na benede te daal.

Lees gerus meer oor die Chelsea Hotel waaroor Leonard Cohen sing.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Andries Bezuidenhout. Doop – ʼn gedig oor hysbakke”

  1. Estelle Bester :

    Dankie Andries, hiervoor. In die eerste jare wat ek in Johannesburg kom woon het, was Hillbrow se Chelsea so belangrik in ons lewens. En daar het ons kennis gemaak met Jaques Brell. Ek woon al 43 jaar in die geliefde stad en dis seker sowat 40 jaar gelede gelede dié kennismaking. As dit nie vir Johannesburg was nie, het ek dalk ook nooit vir Leonard Cohen geken nie. In Zoeloeland was dit toe baie anders!