Joan Hambidge. Pneuma

Pneuma

 

Die onaantasbare iets, genaamd

siel, psige, onbewuste

is lotsbepalend;

dit wat ligter of swaarder

as ‘n veer

op ‘n Egiptiese skaal

lê: setel dit binne-in

of buite die self?

Dalk vasgevang in taal,

aldus Jacques L.,

in ‘n triadiese verbintenis

verbeelde-simboliese-reële

vasgeknoop?

Nee, meen jy:

net so min

as wat die vierkant

kan sirkel

of die reghoek

se vierkantwortels

maklik verplant

is die psige, siel,

of-wat-ook-al,

té veel onder neon-ligte,

ge-you tube, gewikipedia

soos ‘n wafferse celeb

in Cannes aan die handtekeninge

verkwansel, die pers aan’t pypkan,

vir jou Keltiese aard

in navolging van John O’Donohue

nou maar een te veel.

Die siel onderneem

‘n duimpiereis

en verkies stilte bó

die myle en myle van leë praat.

 

© Joan Hambidge / 2013

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Joan Hambidge. Pneuma”

  1. Heilna :

    ‘n Baie mooi gedig. Ook uiters aktueel. Die openbare gesprek oor die verborge en onderliggende dimensies van die psige is goed en nodig, maar die pendulum het so ver uitgeswaai dat die gesprekke oor die psige die psige self kan determineer en uiteindelik inhibeer. Vandaar my instemming en begrip vir ‘n siel se duimpiereis.