Clinton V. du Plessis. Detroit

Detroit

 

 

Die hamer het geval.

 

Uiteindelik, die vertoning is oor,

die gordyn sak,

die ligte doof uit,

net wie het wat verloor?

 

Die politici het plegtig gesweer,

híér sit ons die beloofde land weer,

aanmekaar,

Ford:

 

met bout en moer en enjin en oorpak

kom die nuwe kerk, die fabriek,

en die vakverbond

met die hoed en die pak, en die gladdemond

kom predik, die nuwe evangelie:

 

8 uur werk per dag,

40 uur per week,

pensioen,

gesondheidsorg,

híér sweis ons die Amerikaanse droom aan die troon

van die hemel vas,

die werker, beërwe die aarde.

 

Motown.

 

Hierdie kon Springsteen se “ My hometown” gewees

het waarvan hy so, knop-in-die-keel sing,

miskien “Reason to believe,”

miskien Dylan se “Union Sundown,”

hulle het agter die masker van die waarheid,

die grynslag van die leuen sien skuil.

 

Leë huise registreer nie meer verbande nie,

die woonstelle sterwe met afgedopte mure,

die roggel van verstropte waterkrane, gekraakte ruite,

die verlate strate, sonder ligte,

baar rot en roes,

flenter neontekens staan soos kruise,

die wolf hardloop uitasem van deur

tot deur.

 

Elders, die bankiers en likwidateurs

in pakke, met bril,

beraam planne, was onskuldig die hande,

verpak versigtig, semanties die slegte nuus,  

fabriseer kitsflink nuwe leuens:

 

The show must go on:

Detroit, word ‘n voorspel, tot ‘n groter road show.

 

(c) Clinton V. Du Plessis / 2013

 

Bron: Wikipedia.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.