Carina van der Walt. Kamfer en die Trias Politica

 

Tydens die Afrikaanse fees in Den Haag die afgelope somer kon ek nie Ronelda Kamfer se optrede bywoon nie. Ek ken egter Kamfer se werk. Nadat ek haar ’n paar jaar gelede in Rotterdam met Winternachten gehoor het, volg ek haar ontwikkeling. Kamfer het met die sukses van haar eerste bundel haar werk as verpleegster gestaak om Afrikaans aan die UWK te gaan studeer. Was dit regtig nodig? Ek het ’n paar vrae oor haar ontwikkeling aan haar gestel:

Dink jy akademiese studie is nodig om van jou ‘n beter digter te maak? “Nee, ek het gaan studeer toe my debuut al twee jaar op die rakke is. As jy regtig kan skryf, het jy net ‘n papier, pen en jou waarheid nodig. Ek is klaar met my Afrikaanse studie. Antjie Krog was ’n inspirerende leier.”

Wat het die meeste invloed op jou ontwikkeling as digter gehad: jou studie of blootstelling aan ander digters deur organisasies soos Winternachten? “My studies was a waste van tyd. Organisasies beteken net iets as iemand betaal word. Al wat ek regtig geleer het as student was dat die Afrikaanse fakulteit by UWK die coolste mense het. Ek het meer by hulle geleer as in die boeke. Ek leer ook elke dag by my familie en vriende. ’n Skrywer waarvan ek hou is nog steeds Charles Bukowski. My man, Nathan, lees baie. Dit forseer my om ook te lees. Ek lees graag Junot Diaz en my goeie vriendin, die Indiese digter Meena Kandasamy.”

Met Kamfer se uitsprake hierbo dring sy aan op die deurbreking van die volgende vreemde tendens in Afrikaans: wie durf skryf, moet ook kritiseer en moet verkieslik ook die letterkunde bestudeer. Dit is asof studie ’n voorwaarde is om as skrywer ernstig opgeneem te word. ’n Demokratiese letterkunde werk egter nie so nie. In die Nederlandse letterkunde is daar byvoorbeeld ’n duideliker Trias Politica of ’n skeiding van magte as in die Afrikaans letterkunde.

Trias Politica is ’n begrip wat eintlik verband hou met die moderne staatsmag. Dit kom uit die leer van Montesquieu en is ’n les uit die Verligting. Daarvolgens word mag in drie dele verdeel: die wetgewende, die uitvoerende en die geregtelike of kontrolerende mag. Hierdie drie magte moet in ewewig bly om die staat se demokrasie in stand te hou. Ek gebruik graag die kulturele wetenskaplike Itamar Even-Zohar, verbonde aan die Universiteit van Tel Aviv, se polisisteem teorie as basis vir my eie betoog. Even-Zohar het probeer om verhoudings tussen sisteme in letterkunde en taal te ontleed na aanleiding van ander verskyningsvorme in die omringende kultuur.

In die wêreld van letterkunde kan die wetgewende mag as die geleerdes op die top van die literêre piramide beskou word. Dit is die letterkundiges wat nuwe literêre werk moet lees, moet kategoriseer en moet inpas tussen literêre tendense (plaaslik en wêreldwyd). Letterkundiges is verantwoordelik vir die opskryf van die literatuurgeskiedenis van ’n taal. Hulle dien op redaksies van literêre tydskrifte en keur akademiese artikels oor literêre werk. Sodra letterkundiges egter kreatiewe werk vir publikasie in dieselfde tydskrifte keur en selfs aanbevelings maak oor toegestuurde tekste, gaan hulle één stap te ver. Letterkundiges se take behoort nie verdeel te wees tussen die erkenning van nuwe kreatiewe werk aan die een kant en die toekenning van literêre pryse vir dieselfde kreatiewe werk aan die anderkant nie. Natuurlik hoort hulle tuis op die beoordelingspanele van pryse.

Die uitvoerende mag is ’n letterkunde se skrywers en uitgewers. Hulle wat met woorde werk en met oorspronklike romans, digbundels of toneeltekste vorendag kom. Skrywers word onder andere deur die muse geïnspireer om iets uit niets te maak, sonder dat hulle noodwendig geleerd moet wees. Dit is dus soos Kamfer sê: ’n skrywer het “net ‘n papier, pen en … waarheid nodig.” Enige iemand wat wil skryf, moet kan skryf én ernstig opgeneem word – eerstens deur hulle uitgewers, dan deur hulle medeskrywers (wat juis op die redaksies van literêre tydskrifte tuishoort, uitsluitlik vir die keuring van nuwe werk) en daarna deur die lesers. Sodoende ontstaan ’n breë en gesonde basis van skrywers in die literêre piramide.

Die geregtelike of kontrolerende mag lê by ’n letterkunde se groot middelste laag lesers in die literêre piramide. Lesers is verantwoordelik vir die menings oor nuwe werk in gesprekke of op papier. Resensies en literêre kritiek (selfs so min soos ’n brief na aanleiding van ’n boek- of bundelbespreking met die skrywer) is verkieslik die stokperdjies van doodgewone lesers soos verpleegsters, polisiemanne en onderwysers. Dít is die ideaal. Dinge verloop egter dikwels ’n bietjie anders, ook in die Nederlandse letterkunde. Hoe ontwikkel ’n taal se letterkunde demokraties?

’n Letterkundige moet neutraal staan teenoor sy vak. Hy mag nie voorskriftelik wees oor wát geskryf, hóé dit geskryf of deur wié dit geskryf word nie. Indien ’n letterkundige dit wél doen, neem hy die rol van ’n valse wetenskaplike aan wat die objek van sy studie probeer beïnvloed. In ’n moderne staat sal hy dan as ’n diktator gebrandmerk word. Van resensies en kontroversiële uitsprake behoort ’n letterkundige ver weg te bly, veral as hy sélf ook kreatief skryf – wat die magsverhoudinge in ’n taal se letterkunde lelik kan versteur. Ongelukkig gebeur sulke dinge nog met jong en talentvolle Afrikaanse skrywers soos Kamfer en haar man, Nathan Trantraal.

Skrywers mag dit onder letterkundiges se neuse te vryf waar hulle nuwe werk inpas by ’n tendens of in die kanon, maar dit is die letterkundige se keuse om dit te bevestig of dit af te wys. Skouers skuur by letterkundiges vir ’n prys is uit. Skrywers mag alles waaroor hulle uitgevra word aan hulle lesers en resensente vertel. Dis deel van ’n gesonde, demokratiese letterkunde as skrywers saam met die breër leserspubliek ander skrywers se werk resenseer. Is hulle nie juis die vakmanne nie?

’n Taal se lesers moet genoeg leeskennis en selfvertroue hê om deel te kan neem aan besprekings en resensies te kan skryf. Dit sal net gebeur as hulle van jongs af baie lees en in ’n tradisie grootgeword het van versies skryf. Slegs dán ontwikkel daar respek vir die vakmanskap van skryf. En al word die meeste mense uit so ’n tipe opvoeding geleentheidskrywers weet hulle uit eie ervaring hoe moeilik skryf is. Hulle kan goeie werk herken – ook sonder ’n resensie of ’n letterkundige se uitsprake.

Word dit nie tyd dat die Afrikaanse letterkunde werk maak van groter demokrasie tussen sy verskillende sisteme nie? Waar is dit dan beter om kers te gaan opsteek as by die moedertaal?

In Nederlands begin ’n breë basis van lesers en skrywers om Sinterklaas-rympies op vier jaar te skryf. Later word dit verjaarsdagrympies vir maatjies; trouversies vir vriende en afskeidsversies vir ouers en bejaarde familie. Die volwasse Nederlandse leser se mening word gewoonlik ingelei met: “Volgens mý…”Baie “volgens my”-e vorm die middelste laag van die Nederlandse literêre piramide, nie altyd sonder frustrasie van die letterkundiges met hulle indrukwekkende algemene kennis nie! Tog word die letterkundiges demokraties beperk tot wetenskaplike uitsprake.

In Afrikaans voel dit asof dieselfde piramide op sy kop staan. Die skrywersbasis is te klein in vergelyking met die topswaar hoeveelheid letterkundiges, terwyl die middelste laag passievolle lesers byna heeltemal ontbreek. Word hierdie middelste laag lesers en (sommige) skrywers miskien in Afrikaans geïntimideer? Is daar een of ander onsigbare literêre leier wat voorskryf wat’s reg en wat’s verkeerd; wat mag en wag mag nié geskryf word nie? Word hy in stand gehou deur (kreatief skrywende) letterkundiges met trekkies van diktators?

Dit is geen demokratiese letterkunde nie! Volgens mý snak die Afrikaanse letterkunde na ’n duideliker en heilsamer skeiding van magte. Kamfer is die moderne beliggaming van Justitia. Geblinddoek met swaard en weegskaal in die hand dring sy aan op Trias Politica. Maar sy kies veral vir haar eie waarheid, soos opgeteken in die volgende nuwe gedig.

 

Dis wat die dood doen
Die dood vou jou op en pak jou weg
Die dood sny jou op en maak jou in warm olie gaar
Die dood breek jou op en gooi jou weg
Die dood maak ‘n gat en spit jou toe
Die dood is die ding wat wegraak
Die dood drink die water van die lewe.

Na my ma se dood het net die klein dinge verander

Eerste het die hekke afgeval
Die gras het doodgegaan
Die plante het ophou groei
Die vensterbanke het wit geword
Ek en my suster maak elkedag die kombuis skoon maar dit bly vuil
My suster se seuntjie van twee
Se tande het vrot begin raak
My pa probeer hard ‘n goeie ma wees, hy koop gereeld n klomp groente
Maar niemand maak kos nie
Ek dra my ma se trou ringe
Maar dit maak my vingers verskriklik seer.

 

Standbeeld van Justitia in Frankfurt. Foto: Fotolia

Bookmark and Share

73 Kommentare op “Carina van der Walt. Kamfer en die Trias Politica”

  1. ‘n Kwessie waaroor ek al lank wonder. Baie goed gestel hier bo. Die reaksie is gewoonlik dat die Afrikaanse letterkundige gemeenskap te klein is om ‘n skeiding van gesag te regverdig. Ek is nie so seker dat dit noodwendig ‘n geldige punt is nie.

  2. Carina van der Walt :

    Dis die eerste keer dat ek dié argument hoor, Andries. Ek twyfel ook oor die geldigheid daarvan. Nou wonder ek maar net hardop of hierdie demokratiese beginsel van magsverdeling nie ook byvoorbeeld geld vir ‘n moderne staat soos New-Zeeland nie? Ek bedoel: NZ het tans 4,4 miljoen inwoners met hulle eie variant van Engels, terwyl die sensusopname uit 2011 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes in SA aandui. Dis natuurlik sonder die baie kleiner letterkundige gemeenskappe aan albei taalgroepe se kante.

  3. Leon Retief :

    Askies as hierdie ‘n dom vraag is maar ek vra dit as ‘n letterkundige leek. Teen die tyd dat ‘n skrywer wil publiseer het hy/sy tog sekerlik al baie ander skrywers gelees en is dit onvermydelik dat daai skrywer opinies gevorm het oor ander skrywers/digters se werk – oftewel dan, opgetree het as ‘n kritikus, al is dit dan nou wat ek seker ‘n “privaat kritikus” sal noem by gebrek aan ‘n beter woord. Eweneens is dit onvermydelik dat so ‘n skrywer/digter deur dit wat hy/sy gelees het beinvloed sal word en dat dit neerslag sal vind in sy/haar werk, al is dit in baie/meeste gevalle waarskynlik onbewus. Talent sal (hopelik) ten minste die deurslag gee, maar ek dink/raai/vermoed dat skryftalent darem gepaard sal gaan met die vermoe om ander skrywers se werk te kan beoordeel en ook deur hulle beinvloed te word. Is dit nie onvermydelik nie?

  4. Leon, ek stem heeltemal saam, maar soos ek dit verstaan gaan dit oor die openbare rol wat digters en/of literêre kritici speel. ‘n Rugbyspeler kan waarskynlik ook ‘n skeidsregter wees en andersom, maar ‘n verdeling van arbeid is dalk belangrik om teen ‘n botsing van belange en die moontlike misbruik van ‘n sekere invloedsfeer te waak.

  5. Leon, ek moet byvoeg (teen my eie standpunt in) dat ek sal sukkel as ek tussen JM Coetzee as skrywer of kritikus moet kies.

  6. Leon Retief :

    @ Andries se eerste antwoord: jawel, maar dan kry mens die verskynsel dat skrywers op hierdie en ander platforms hul opinies lug, oftelwe as kritici optree.

  7. Buiteblaf Breytenbach :

    En Nabokov? En Borges? En wat van Van Wyk Louw? Ek vermoed die probleem hier is met mense wat alle en al die stoele wil vol sit. Maar hoekom so katvoet al om en om die gemaksboksie?

  8. Desmond :

    Interessante argument. Die probleem is dalk minder die skeiding van ‘gesag’ (dit pla my nie dat sommige skrywers oor kritici is nie) as die feit dat in Afrikaans die diskoers oor die letterkunde tot ‘n te groot mate oorheers word deur ‘literatuurwetenskaplikes’, en akademici in die algemeen. Ek lees baie graag rolprent- en musiekresensies, en daar vind jy dikwels dat die beste besprekings deur aanhangers, fans, geskryf word. Nie omdat hulle onkrities is nie, inteendeel; maar omdat hulle eerstens passievol en ontsluitend met ‘n werk omgaan, eerder as om onmiddelik ‘n meer ‘akademiese’ waardebepaling of inskatting te probeer maak in terme van ‘n kanon. Die akademici kan mos later aan die karkasse kou? Dit gee aan resensies dikwels ‘n soort bestrawwende toon, ‘n soort ‘as die rekenmeester kom’ kwaliteit, wat baie ver verwyder is van wat Foucault van die kritikus begeer het (en dis my eie begeerte ook): “Criticism that hands down sentences sends me to sleep; I’d like a
    criticism of scintillating leaps of imagination. It would not be sovereign or
    dressed in red. It would bear the lightning of possible storms.”

  9. Helize van Vuuren :

    1. Oor Desmond se probleem met “‘literatuurwetenskaplikes’, en akademici” – just shoot the bastards!
    2. En laat alle verdere bemoeienis met letterkunde dan deur Carina van der Walt se “middelste laag lesers” behartig word.
    3. Roep onmiddellik die Nuwe REMEP uit (Republiek van Ena Murray en Elize Parker).

  10. Desmond Painter :

    @ Helize. Ja-wel. Maar nee: ek het nie ‘n probleem met literatuurwetenskaplikes en akademici nie, net met die idee dat die soort vrae wat ‘n letterkundedosent (heel legitiem) vra die enigste en belangrikste vrae is wat in die openbare diskoers, in resensies, in essays, oor ‘n boek gevra kan word. En dan ook met die idee dat dit die akademici is wat ons gaan red van afdomming en middelmatigheid. Dit is nie die geval nie. Alle rolprentresensies hoef nie deur professors in filmstudies geskryf te word vir die gesprek oor daardie kunsvorm on gesofistikeerd en entoesiasties te bly nie. Die ‘middelste laag’ kykers en lesers is dikwels die draers van juis daardie sofistikasie en entoesiasme. Gaan luister na die kwaliteit van gewone jongmense, skoolkinders en studente, se gesprekke oor hulle gunsteling rolprente, regiseurs, sangers en liedjieskrywers – wat maak die Afrikaanse letterkunde so anders dat die diskoers daaroor voortdurend deur ‘n handjievol akademici ge-oudit moet word? So ja inderdaad, shoot the bastards!

  11. Johann de Lange :

    Helize

    Uiteindelik sê iemand wat ons al ‘n geruime tyd lank voel. Gaan gesels ‘n bietjie met boekeredakteurs & jy sal hoor hoe hulle sukkel om resensente te kry vir sekere boeke. Want resensente is gewoon nie lus om, ná hulle tyd spandeer het om ‘n teks deur te werk, & ‘n skamele bedraggie daarvoor betaal is, dan te moet luister hoe die skrywer en/of sy of haar fan club gal braak van alle kante & allerlei duistere motiewe toeskryf aan die einste resensent nie. Ons het op 3-4 mense na, nie meer behoorlike resensente oor nie, nie die soort waarmee my generasie nog grootgeword het nie.

    Die Afrikaanse letterkunde het ‘n soetlike klein glee club geword waar almal mekaar oor & weer prys, waar onopgeleides sommer inspring & resenseer, & waar werk van bedenklike gehalte teen ‘n al hoe groter doek gegooi word. Enigiemand wat kritiek het teen enige van hierdie literêre savante se werk word uitgeskel. Ons letterkunde het klein, benepe, oorbekroon & gemoedelik geraak. Die meeste jong skrywers se belesenheid & verwysingsveld is bedenklik, hulle kennis van & respek vir hulle medium is in ‘n nog erger toestand. In stede daarvan dat hulle dit aanspreek, word dit voorgehou as kentekens, iets om op trots te wees, iets wat sê dat hulle basies vere voel vir die vorige generasies wat in sommige opsigte geveg het vir die vryhede wat hulle vandag geniet. Erger nog, is die ouer sterre wat hulle laaste fase binnegegaan het & aan die uitbrand is, & in desperasie die gloed van die jongeres se goedkeuring & adorasie nog wil voel.

    Daar is jong skrywers wat dit ernstig bedoel met hulle skryfwerk, wat nie in duie stort oor ‘n kritiese resensie nie, wat daarin belangstel om te groei & wat trots is op hulle medium – & hulle sal jy nie hoor kerm & kla op webwerwe nie, of sien bedel vir simpatie & bewondering van sikofante nie. Die kunste (letterkunde, skilderkuns, musiek etc.) is soos Helize tereg sê die énigste terreine waar tot die eenvoudigste siel dink sy of haar opinie is kosbaar & behoort gehoor te word. Almal glo in hulle binneste dat hulle kunstenaars is, dat hulle kan skryf (wat is nou so moeilik daaraan?), dat hulle vyfjarige kind beter as Picasso kan skilder. En wee die kritikus wat hulle teegaan.

    Die letterkunde is nie vir delikates, of vir dié met ‘n chip op die skouer, of vir dié wat voortdurend gekoester moet word nie. Dit is ‘n harde terrein, daar gaan harde werk in, & jy gaan jou vasloop teen kritici. As jy dit nie kan vat nie, soek vir jou ‘n ander nering, appliek miskien. Maar hou tog op kerm & kla soos sissies elke keer as iemand nie dink alles wat jy skryf is wonderlik nie. En om te wil voorgee dat dit in ander kulture of op ander terreine ánders daaraan toe is, is gewoon onsin. Ek dink trouens dat dié wat die hardste weeklaag hiér, nie ‘n resensie van die voorste Britse of Amerikaanse of Franse resensente sal oorleef nie. Ek mag outyds wees, maar ek glo nog áltyd dat ‘n skrywer nié op ‘n resensie reageer nie. Dis onwaardig, & jy kom uiters selde goed daarvan af. Elke resensie, selfs die mees kritiese, het ten minste ‘n kriesel van die waarheid beet, iets waarvan jy kan leer & jouself kan verbeter. Soek dit, & gebruik dit. Gloeiende resensies, hoe welkom hulle ook al is, leer jou weinig.

    En Desmond, laas toe ek gekyk het, was Marlise die webmeester. Jy het jouself nou, na net een boek, bevorder tot die werf se moderator & moet oor absoluut alles iets sê. Dit maak nie saak hoe vinnig daardie ‘Nuutste kommentare’ scroll beweeg nie, hy is van bo tot onder vol van jou. Daar is ander name wat dieselfde doen, maar ek sal hulle nie noem nie, mens hoef net na die scroll te kyk op enige gegewe oomblik om te sien wie hulle is.

  12. Desmond :

    Er… Ek het voor ‘die boek’ (wat ek nie vir myself kan toeeien nie) eintlik nog meer gereeld hier gekuier – die moderator het my immers uitgenooi om te blog en geraas te maak. En dank die sterre vir Andries, Leon en ander scrollbesetters, want anders was daar gaan gesprek nie.

    Maar nou ja, dis nou presies die soort ‘oudit’ waarna ek verwys: selfs op ‘n oop, interaktiewe webblad wat afhanklik is van hierdie soort deelname, moet mens jou woorde en kommentare tel, want een of ander tyd gaan iemand ‘n bestrawwende vinger swaai, gewoonlik nie op grond van wat jy skryf nie, maar omdat hulle jou boeke of pryse of grade of konneksies getel het, en te min gevind het.

    Die gesprek het in elk geval nie gegaan oor hoe krities resensies is nie, maar oor wie die resensies skryf, wie waardebepalings maak, of digters oor ander digters se werk resensies behoort te skryf, oor verantwoordbaarheid, oor die etiek en politiek van literere meningsvorming… ens. Waarom sou die poel aktiewe en kreatiewe resensente groei as daar voortdurend hovaardig en verontwaardig gereageer word op gesprekke soos hierdie? En hoe op aarde is dit moontlik om jouself so absoluut buite alles wat jy kritiseer te posisioneer? Van waar praat/skryf jy? Watter posisie beklee jy om sulke stellige opmerkings oor ‘meeste jong skrywers’, desperate ‘ouer sterre’ en ons ‘benepe’ letterkunde te kan maak sonder om jou eie posisie in die sisteem in berekening te bring; sonder selfs ‘n sweem van refleksiwiteit oor eie aandadigheid, of selfs net eie deelname aan dit alles.

    Dit is hierdie illusie van ‘n neutrale, onskuldige en altyd beterweterige posisie vanwaar so absolutisties kritiek gelewer kan word, deur outoriteite wat skynbaar oor ‘n soort kulturele immuniteit beskik – wat altyd maar net slagoffers is van die kulturele aftakeling wat hulle beskryf, the last man standing, beautiful souls – wat die probleem is, en wat uitgeroei moet word.

  13. Johann de Lange :

    Ek is allermins neutraal, anders sou ek nie die moeite gedoen het om te reageer wanneer ek reageer nie. Ek het trouens allermins neutrale standpunte oor dinge waarop ek reageer. My aandadigheid, soos jy dit noem, neem die vorm aan van boeke wat ek skryf. Ek doen bittermin resensies, die pryse wat my oorgekom het, het ek nie nagejaag of eens begeer nie, anders sou ek nie die vryheid gehad het om te skryf soos ek geskryf het nie, in ‘n tyd toe daar heelwat minder vryheid & meer konsekwensies was as nou. Daar is meer skrywers wat nou vir pryse skryf & begaan is oor eie selebriteit as ooit tevore. Ek woon al dekades lank nie literêre partytjies nie, ek doen selde onderhoude, laat my nie saam met almal wat asemhaal afneem nie, & doen nie bekendstellings vir my boeke nie. Dit is die vorm wat my aandadigheid aanneem, & in daardie sin staan ek buite die ‘scene’. Maar die vervlakking wat aan die gebeur is, die dalende gehalte van wat gepubliseer word, & skrywers wat soos mak ape op die arm van die arme Letterkunde sit & toertjies uithaal vir verbygangers, of wat in hulle skryfwerk parodieë van hulleself geword het, dit & nog meer ontgaan my nie. Ek staan nie neutraal daarteenoor nie, want ek staan nie neutraal teenoor die letterkunde nie. In ‘n sekere sin het iets wat begin is met die beste van bedoelings, nl. geleenthede soos Woordfees, tot die gevolg gehad dat dit vir skrywers belangriker geword het om gesien & gehoor te word as om te skryf & hulle vak te ken & te bemeester. Die skrywer behoort vir my (& ek praat net namens myself, soos altyd) nie belangriker te wees as sy werk nie. As van hierdie publisiteitjagters dieselfde energie in hulle werk ingesit het as in die najaag van bekendheid of pryse, sou hulle werk & die letterkunde daarby gebaat het.

    Die poel resensente mag dalk groter word (hoewel ek dit nie sien nie), maar definitief vlakker. Skrywers resenseer mekaar se werk nog steeds, net soos in ander letterkundes, ek het nie ‘n probleem daarmee nie. My uitsprake oor die letterkunde spruit uit ‘n aktiewe betrokkenheid van meer as 3 dekades. Ek dink ek het darem langs die pad die een & ander opgetel. As ek om my kyk, sien ek heelparty Jack-of-all-trades, skrywers wat bietjie skilder, bietjie sing, bietjie dig, sonder om ooit in enige van daardie gebiede hulle beste te lewer. Dit is bittermin gegun om in meer as een genre of kuns groot werk te lewer. Skryf is ‘n eensame, harde aktiwiteit, sy genot is iets wat selfs goeie skrywers sukkel om te beskryf, maar dit is wat belangrik is, passie. Nie menings nie, nie ‘n geklets oor álles, gepeper met diepsinnige aanhalings nie. Selfs die skrywers wat die Afrikaanse letterkunde op PEN International verteenwoordig, wat ons gesig is na die buitewêreld, is junior figure met een of geen boeke agter hulle naam. Op die blad self is ‘n klomp betreklik onbenullige name, maar skrywers soos VWLouw, Peter Blum, & nog ‘n hele klomp van ons grootstes, is nié daar nie. Ek sidder as ek daaraan dink watter indruk ‘n buitelandse leser van ons letterkunde moet vorm, as dit wat op ons tuisblad daar staan die allerbeste moet verteenwoordig. Wat deurgaan vir diepte was nog selde of ooit so oppervlakkig as wat dit tans is nie.

  14. Waldemar Gouws :

    Soos Bob Dylan oor Corrina gewonder het, wil ek vra: Carina, Carina, Gal, where you been so long? En ek dink dit was sekerlik daar so waar dogmas vir die letterkunde gefabriseer word.

  15. Helize van Vuuren :

    Desmond, Dankie vir jou antwoord. Jy vra wat “die Afrikaanse letterkunde so anders (maak)” as die meeste “rolprente, regis(s)eurs, sangers en liedjieskrywers” . Buiten vir sommige uitsonderlike films, kan die res van jou voorbeelde nie met die letterkunde vergelyk word nie. Rede: die letterkunde (soos die musiek, die skilderkuns en ander kunsvorme) is ‘n onafhanklike, aparte estetiese diskoers en medium, met eie tradisies, wetmatighede en estetiese funksie. Vir ‘n klein taaltjie soos Afrikaans is daar nog merkwaardig sterk talent oor op hierdie ENKELTE TALIGE terrein wat (nog) nie weggekalwe (is) as gevolg van die polities-historiese konteks nie…Waarom opgeleides in die letterkunde (jou “literatuurwetenskaplikes” en akademici) se kundigheid in resensies vervang met vox populi (Carina se “middelste laag lesers”)? Al waarop dit uitloop, is ‘n doodsmoor van die oorspronklikste, waardevolste kreatiewe tekste en skrywers, en ‘n gelykmaking (dis trouens reeds aan die gang met die rare resensies deur oningeligte, onkundiges wat soos wildvuur op die boekeblaaie voortteel…). Vergelyk Balzac in 1837 (uit Benjamin se The Arcades Project, p.58):

    “Our epoch will be the link between the age of isolated forces rich in orginal creativeness and that of the uniform but leveling force which gives monotony to its products, casting them in masses, and following out one unifying idea – the ultimate expression of social communities”.

    Met Carina se soort argumente is die dood in die pot vir wat nog uitstekend, wêreldklas, is aan skrywers en tekste in die Afrikaanse letterkunde. Dit laat bitter min ruimte vir kundigheid, dit ontken dat daar eksperts op die terrein is, dit trek alles af na die gemiddelde (soos matriek in die nuwe republiek – met 30/40% as slaagsyfer!). Dit verban die intellektuele en opgeleides tot hutjies in die bos, as melaatses.

  16. Desmond :

    Helize, sonder om nou lang stories te maak: Ek ontken nie dat akademiese diskoers oor die letterkunde belangrik is nie. Ek ontken ook nie die gevare van die soort kulturele vervlakking waarna jy en Johann de Lange verwys nie.

    Ek het egter wel ‘n probleem daarmee wanneer mense (akademici en ‘intellektuele’) hulleself te (ge-)maklik eien as verteenwoordigers van groeperinge wat dit wat ‘wêreldklas’ is kan verdedig teen ‘oningeligtes’, ‘onkundiges’, die ‘vox populi’; of, in Johann se meer beledigende terme, ‘junior figure met een of geen boeke agter hulle naam’ (soos ek), ‘Jack-of-all-trades, skrywers wat bietjie skilder, bietjie sing, bietjie dig, sonder om ooit in enige van daardie gebiede hulle beste te lewer’, ‘skrywers wat soos mak ape […] in hulle skryfwerk parodieë van hulleself geword het’.

    (Om hierdie soort kritiek te lewer moet mens darem baie seker wees dat jy self senior, uitstekend, durend oorspronklik, ens. is – so wat so, trouens, dat jy jouself buite die ‘scene’ kan plaas, ‘n woedende waarnemer van ANDER mense, altyd ander mense, se foute en verval; die ‘publisiteitsjagters’, die jonges, die onbelesenes…)

    Dit is juis daardie neerbuigende kyk van buite wat my probleem is; ‘n soort ‘intellektualistiese’ conceit wat in sigself niks kan bydrae tot die skep van ‘n werklik intellektuele kultuur nie. ‘n Kultuur waar debat, diskoers en kritiek nie vervorm word tot die hekwagterrol of deur persoonlike (maar meestal geinsinueerde) aanvalle en selfkwytskelding nie.

    My probleem is nie dat julle te krities is nie, maar dat julle nie krities GENOEG is nie; met ander woorde, dat julle nie ook self-krities is nie. Dat julle nie vir ‘n oomblik talm en bietjie twyfel oor die kulturele en politieke aannames van julle eie kritiek op die ‘vervlakking’ van ander nie. Is akademiese selftevredenheid, en die neersien op bydraes wat van buite die akademie gemaak kan word, nie OOK simptomaties van ‘n soort kulturele vervlakking (of vervlakking van die idee van die kulturele) nie?

    En wat PEN Afrikaans betref: as ‘senior skrywers’ nie bereid is om deel te neem nie, goed, dit is hulle keuse; maar waarom dan van buite beledigings slinger na die ‘junior figure’ en ‘onbenullige name’ wat wel bereid is om iets te doen?

  17. Helize van Vuuren :

    Desmond, die kern lê hierin ingebed:
    Psigoanalise by Freud, of psigoanalise by Ant Jaatjie van Koekenaap? Opehart chirurgie by dr Chris Barnard, of opehart chirurgie by Oom Boetie van Blouberg? Breinskandering vir jou harsings-met-hoofpyn of sterrewiggelary/fortuin-lees/boegoe-tee drink?

  18. Waldemar Gouws :

    Dalk het die stiefmoeder vd demokrasie die dogmatiese oordosis aan CvdW geresepteer. In boek viii.3 van sy “The Spirit of Laws” skryf Montesquieu: “As distant as heaven is from earth, so is the true spirit of equality from that of extreme equality. The former does not imply that everybody should command, or that no one should be commanded, but that we obey or command our equals. It endeavours not to shake off the authority of a master, but that its masters should be none but its equals. (…) Such is the difference between a well-regulated democracy and one that is not so, that in the former men are equal only as citizens, but in the latter they are equal also as magistrates, as senators, as judges, as fathers, as husbands, or as masters.”

    Soos mens kan sien, sluit HvV se gedagte by hierdie laaste samevatting van Montesquieu aan.

  19. Leon Retief :

    Ek het ongelukkig baie kontak verloor nie net met Afrikaanse letterkunde op sig self nie maar ook met resensies – omtrent al Afrikaanse resensies wat ek hier in Canuckistan te lese kry is op Versindaba, so baie van wat ek wil sê is gebaseer op onkunde. Vergeef asseblief. Ek onthou nog die tyd, seker so twintig jaar gelede, toe daar nog (relatief) lang en goeie resensies in koerante verskyn het, mettertyd het die lengte begin afneem en ook die gehalte, lyk vir my asof dit nou maar bedenklik is. Helaas.
    Na my mening is daar meriete in beide die standpunte wat hier geopper is. Of ‘n goeie middeweg moontlik is, wel, ek weet nie. Feit is dat wat ek maar “ernstige” letterkunde gaan noem ook vir die gemiddelde leser toeganklik moet wees – ja, okei, ek weet die “gemiddelde leser se kennis van letterkunde begin en eindig dikwels met die feit dat hulle die woord kan spel, maar ek dink almal sal verstaan wat ek bedoel: die gemiddelde leser van “ernstige” letterkunde, hetsy poësie of prosa. Dit beteken daai mense moet die boeke gaan koop – as net letterkundiges en ander skrywers sulke boeke gaan aanskaf gaan Afrikaanse letterkunde spoedig onder die kluite beland en poësie gaan die eerste een wees wat in die graf gaan afsak. Dus: ja, die gemiddelde leser moet sy/haar opinie oor sulke werke kan gee en dalk is dit nie ‘n slegte idee om so nou en dan ruimte af te staan aan so iemand se opinie nie – nie dat ek kan sien dat so iets maklik gaan gebeur nie. Nogtans, sulke mense se menings is sonder twyfel belangrik.
    Maar: ek dink dis nie vergesog om ‘n ernstige stuk letterkunde te vergelyk met ‘n navorsingsartikel in ‘n wetenskaplike of mediese joernaal nie. Desmond, jy sal weet wat ek bedoel. Sulke artikels, dit wil nou sê die wat in ‘n toonaangewende joernaal soos Nature, Science, die New England Journal of Medicine en die Canadian Journal of Anesthesia (interessant genoeg een van die beste vaktydskrifte in die wêreld op daardie gebied), gepubliseer word is onderhewig aan eweknie-evaluasie. Oftewel, voordat besluit word of ‘n artikel publikasie werd is word dit gestuur aan ‘n aantal kundiges op die betrokke gebied en hulle gee dan hulle opinies. Natuurlik is hulle nie altyd reg nie, net soos maar die geval is in letterkunde, maar die beginsel is ‘n goeie een. Sulke mense dink ek is die ekwivalent van non-skeppende letterkundiges en na my mening is hulle onmisbaar.
    Die punt wat ek wil maak is dit: baie ernstige letterkundige werke is nie altyd in sy geheel of selfs ten dele toeganklik vir die belangstellende leser nie. Terwyl dit nie die wetenskaplike/mediese evalueerder se taak is om die betrokke stuk navorsing aan enigeen te verduidelik nie dink ek dat die “akademiese” resensent dit wel vir die non-letterkundige leser (iemand soos ek ) behoort te doen. Op die ou end gaan dit oor gehalte (in die wetenskappe) en in die letterkunde oor sowel gehalte as verklaring/verduideliking. Sonder sulke mense sal ek verlore wees. (En selfs MET hulle is ek soms verlore  )
    Dan, en ek dwaal nou seker so effens af, vergeef asseblief weereens maar ek probeer ‘n vergelyk tref tussen letterkundige resensente en evalueerders van wetenskaplike/mediese publikasies. Selfs bekwame evalueerders kan foute maak. In ‘n vorige leeftyd toe ek nog aktief navorsing gedoen het publiseer ek ‘n artikel oor ‘n nuwe analitiese metode wat ek prakseer het. So ‘n tyd later kry ek ‘n brief van ‘n ander biochemikus wat seg kyk, ek het jou metode ‘n paar keer probeer en ek kan nie jou resultate dupliseer nie. Ek gaan lees weer my gepubliseerde artikel en sien tot my skande, skaamte en ergenis dat ek waaragtig nagelaat het om te noem dat ek in ‘n sekere stap ‘n hoeveelheid asetoon bygevoeg het! Omdat dit ‘n geheel en al nuwe metode was het die evalueerder(s) dus nie geweet dat ek die asetoon moes genoem het nie, mens kan hom/haar/hulle nie verkwalik nie. Die kruks van die saak is dat ander mense my metode herhaal het om te sien of dit werk en ek wonder of enige letterkundige werk net een resensie werd is – resensente kan fouteer, net soos my evalueerder(s). Ding is net – ek dink nie dat daar veel kans is dat enige nuwe Afrikaanse werk meer as een resensie gaan kry nie.
    Ek kan dus aanklank vind by sowel Johan as Helize (spaar my asseblief net daai psigoanalise deur Freud of enigiemand anders . Jammer, ek moes daai stekie inkry! ) en ook Desmond. Johan, ek was verstom om te sien hoe heftig digters kan reageer op wat ek beskou het as skerp maar heeltemal redelike kritiek. Dit is egter so dat die natuurwetenskappe/medisyne en alle vorms van skeppende kuns bevolk word deur mense wat soms groot ego’s het en ek is geen uitsondering nie – ek onthou goed hoe die moer in ek was toe in daai genoemde vorige lewe ‘n artikel voorgelê het vir publikasie en dit deur ‘n evalueerder afgewys is – as ek hom ooit sou ontmoet sou ek sy knaters uitgeskop het! Die enigste verskil is dat mens in medisyne/natuurwetenskappe nie in die openbaar op dieselfde manier kan reageer as wat skrywers teen resensente kan doen nie.
    Desmond – die probleem vir my is dit: hoe gaan jy jou non-letterkundige resensente kies? Uit watter groep? Ek meen, ek dink ek stel meer belang in die digkuns as die gemiddelde Afrikaanssprekende persoon maar ek beskou myself nie as bevoeg om iets betekenisvol op daai gebied te lewer nie. En dankie ook vir jou kompliment maar om eerlik te wees: met betrekking tot waar die ander bydraers staan is ek wat die Ingelse noem ‘n “ankle-biter”.

  20. Desmond :

    Leon, ek stem ongeveer 95% met jou saam; self het ek nog nooit ‘n digbundel of ‘n klassieke CD geresenseer nie, en ek sou ook nie noodwendig sommer probeer nie. ‘n Ruimte soos Versindaba maak dit moontlik vir mense soos ek en jy om menings te gee, te debatteer, ens., maar eerder as teken van vervlakking sien ek dit as positief en eintlik ‘n verdieping van die literere kultuur en diskoers oor boeke en skrywers. As die diskoers oor sport, musiek, rolprente ens. op alle forums – nie net in formeel akademiese ruimtes nie – deur akademici oorheers sou word, sou daardie aktiwiteite gou steriel word, losgesny van die soort deelname waarvan hulle afhanklik is. Die letterkunde is nie regtig soveel anders nie. Navorsing oor lettekrunde, en die skryf van ‘peer-reiviewed papers’, is iets anders as die skep van ‘n lewendige, intelligente diskoers oor letterkunde. Belangrik, maar anders.

    My probleem is nie soseer met die feit dat akademici die resensies skryf nie, maar met ‘n soort houding. Eerstens, die geneigdheid om vervlakking, afdomming en val van standaarde by almal behalwe die self te diagnoseer, en die self dus onkrities te identifiseer as beskermer van genoemde standaarde, uitnemendheid, ens. Ek maak myself ook hieraan skuldig, maar dit is ‘n gevaarlike spel. Hierdie soort houding maak dit bykans onmoontlik om krities te besin oor resensiekulture en die kwessie van ‘spraakregte’ binne die literere diskoers (kyk na die heftige reaksies!), sonder om te verval in ‘n beledigende vingerwysing na ander.

    Die kritiese (en hopelik selfkritiese) gesprek oor resensiekulture en literere diskoers gaan nie bloot, en hier verskil ek van Helize, oor wie ‘meer weet’ en wie ‘minder weet’ nie. Dit gaan nie werk om, elke keer as iemand kritiek lewer oor hoe daar in Afrikaans geresenseer word (wat die aard van resensies is, wie hulle skryf, wat die kriteria is, ens.) voor te gee dat daardie kritiek kom van mense wat standaarde wil verlaag, wat nie opgelei is nie, wat nie belese is nie, wat die kultuur wil verloeder, of wat ook al nie.

    Die kern l^e NIE by die vrae wat Helize retories aan my stel nie: ‘Psigoanalise by Freud, of psigoanalise by Ant Jaatjie van Koekenaap? Opehart chirurgie by dr Chris Barnard, of opehart chirurgie by Oom Boetie van Blouberg? Breinskandering vir jou harsings-met-hoofpyn of sterrewiggelary/fortuin-lees/boegoe-tee drink?’

    Haar vrae hoort by ‘n ander debat, naamlik oor wetenskap (of ‘evidence based’ intervensies) vs nie-wetenskap – en dan ondermyn sy haar argument deur psigoanalise daarby in te sluit; want as sy, soos sy klaablyklik wil doen, die wetenskap-nie-wetenskap kriterium sommerso wil oordra na die letterkunde toe, sou sy Freud moes afstaan: hy verskil van Ant Jaatjie nie omdat hy wetenskaplik is nie, maar omdat hy ‘n ‘outoriteit’ binne ‘n bepaalde diskoers is.

    En dit is dalk die kern van die conceit: Helize en Johann verwar outoriteit binne ‘n diskoers (soos Freud binne die psigoanalise), met die aard van ‘evidence based’ wetenskaplike outoriteit: die ou met meer boeke het meer reg om aan PEN Afrikaans deel te neem; die een met ‘n PhD in letterkunde het meer reg om oor die letterkunde te praat.

    Maar die letterkunde kan nooit ‘evidence based’ wees nie, dit is ‘n geheel en al ander soort diskoers. Dus gaan ons nie ver kom met Helize se retoriese vrae nie. Sure, hartsjirurgie eerder by Barnard as by oom Boetie; maar Freud (en Helize, en Johann, en Joan Hambidge) kan nie op grond van dieselfde kriterium van Ant Jaatjie onderskei word nie. Dus gaan hulle altyd hulle posisie, outoriteit en interpretasies moet verdedig, en vewysing na hulle akademiese status gaan nooit die laaste woord wees nie.

    Ek bedoel dit nie as belediging nie: dit is gewoon die verskil tussen die literere diskoers en die wetenskap soos Helize dit retories mobiliseer in die debat. As daar plek vir Freud is, is is dit nie omdat hy homself wetenskaplik onderskei het nie, maar omdat sy diskoers intepretatiewe moontlikhede bied. Maar die aard en funksionaliteit van hierdie moontlikhede word nie aan die empiriese werklikheid gemeet nie; hulle word gemeet aan ons leesverwagtinge, die soort vrae wat ons vra, ons kritiese gewoonte – en iemand met ander leesverwagtinge, vrae en gewoontes kan dit dus verwerp op ‘n manier waarop jy nie empiriese feite sou kon verwerp nie.

    Dit is dus onafwendbaar en baie gesond as mense vrae vra oor die literere diskoers: wie skryf die resensies? waar word hulle geskryf? wat is die kritiria? wie se stem dra meer gewig en waarom? – en die huidige outoriteite gaan hulleself nie loswoel uit die debat deur die vraagstellers as anti-intellektuele riff-raff af te maak of om hulle ‘opleiding’ te paradeer nie.

  21. Buiteblaf Breytenbach :

    Iewers moet ek nog ‘n blikkie van Koo se ingemaakte appelkoosfyt uit Ashton hê. (Oom Jan Stomphand wat sy vingers in die fabriek verloor het, het dit destyds vir my gegee.) Hemels soet.

    Dis joune, Desmond – met opregte waardering.

  22. As Van Gogh once said, “Love many things, for therein lies the true strength, and whosoever loves much performs much, and can accomplish much, and what is done in love is done well.”

    Isn’t that what is missing from so much so called criticism which is, at heart, only the most thinly veiled negativity and pessimism? But the true critic must love as the poet must love. For it is the job of their love to deepen our understanding of these works and to activate the mysteries we only scarcely perceive not merely in the words, but in their relation to this world and to ourselves.

    Or perhaps not. I for one salute all those who continue to push the mule-cart of misery and outrage.

  23. Helize van Vuuren :

    Oom Bêrend van Baarscheerdersbos het my vertel: “Koo ming die appelkoos met pa’poen. Smaak na niks…Eet Ta’ Sannie se tuis-gemaakte appelkoos-jêm, vars in die fles, as jy appelkoos wil proe.”

  24. Buiteblaf Breytenbach :

    O gaats – nog’n illusie daarmee heen! Die blerrie Oom Jan darem… En hier het ek gestaan en dog vooruitgang waarborg kundigheid en lei tot smaak. Jammer, Desmond. ek vat my blikkie terug, maar darem nie my woorde nie. Sal maar druipstert wag totdat Ta’ Sannie ‘n gaatjie het om die oes na behore te resenseer en prosedeer. Tot stigting van ons almal.

    (Die blerrie Oom Jan darem…)

  25. Waldemar Gouws :

    Kan Carina of God nie ‘n boek, iets letterkundigs, in ons midde laat wat deur ieder en elk wat wil hier geresenseer moet word nie? Of ‘n kooksel konfyt om soos met ‘n nagmaal aan te peusel vir ‘n uiteindelike waardering?

  26. carina van der walt :

    Baie-baie dankie, Desmond. Ek kon nie vir ‘n beter leser gevra het om my standpunte oor die leemtes en gevare in die Afrikaanse literêre sisteem te verdedig nie.

  27. carina van der walt :

    Beste Breyten, Ek het inderdaad ‘n probleem met dié mense wat alle stoele tegelykertyd wil beset. Skrywers maak ‘n leterkunde en letterkundiges beskryf ‘n letterkunde, maar letterkundiges hoef tog regtig nie meer die Afrikaanse letterkunde te bewaak nie? Ek dink die twee rolle skrywer/letterkundige is uitwisselbaar, maar as dieselfde skrywer/letterkundige ook nog as keurder of resensent of kreatiewe skryfskooldosent wil optree, is enige taal se letterkunde ten dode toe opgeskryf. Natuurlik kan daar ook vernuwende skrywers/letterkundiges wees, maar die feit dat jy hulle by die naam noem (Borges, Nabokov, Van Wyk Louw) gee al aan hoe besonder dit is.

  28. carina van der walt :

    Dus Helize, jy sê eintlik dat letterkundiges (soos die psigoanalis Freud en die opehart chirurg Barnard – alhoewel lg. vgl. vals is, want ook Barnard het vernuwend opereer en ongebaande weë in sy vakgebied betree) op basis van hulle kennis wat hulle oor baie jare met tallose voorbeelde versamel het, alleenbepalers moet wees vir wat letterkundig is en wat nie; dat vernuwing verswakking en waardevermindering impliseer as dit in die eerste instansie ondersteun word deur die “vox populi” of die stem van die gewone mens? Help my reg as ek verkeerd is, maar sê jy nie eintlik: “Ons het ‘n sensuurraad nodig en die sensuurraad heet KWALITEIT” nie? Het die Amerikaase literêre kritikus, Harold Bloom, nie lank gelede al beweer dat alle nuwe skrywers in beginsel vadermoordenaars is nie? Het hy nie die konsep van “canonical strangeness” bekendgestel as dié handelsmerk van ‘n literêre werk se meriete nie? Ek dink hier spesifiek aan die herrie wat die bespreking van Nathal Trantraal se debuutbundel veroorsaak het. Of werk letterkundiges se kennis juis téén hulle met die wetmatigheid van die remmende voorsprong? Moet die vakgroepe Afrikaans aan universiteite se tradisionele funksies om die letterkunde nie net te beskryf nie, maar dit ook nog te ontwikkel in ‘n spesifieke rigting, nie soos ‘n ou vel afgegooi word ter wille van ‘n nuwer, demokratieser letterkunde nie? Behoort die letterkundige se rol as poortwagter en sensuris nie so langsaam tot ‘n uitgediende sisteem nie?

  29. carina van der walt :

    Ek pleit saam met jou, Leon, vir meer resensies oor dieselfde werk geskryf deur ‘n groter verskeidenheid resensente uit verskillende agtergronde. Dit sal ten minste ‘n gebalanseerder waardebepaling van die betrokke werk tot gevolg hê. Ek het verder niks teen eweknie-evaluasie of “peer review” as dit gaan om literêr-akademiese publikasies nie. My probleem by literêre tydskrifte is dat dieselfde eweknie-evaluasies deur letterkundiges as keuringsinstrument gebruik word op skrywers se werk in afdelings soos Nuwe Kreatiewe Werk. Waarom kan medeskrywers nie hierdie tipes keuring doen i.p.v. akademici nie? Letterkundiges behoort nié die alleenreg te hê om die literêre diskoers of selfs ‘n enkele literêre werk te “oudit” nie, soos Desmond tereg sê. Ek doen met my hele betoog slegs ‘n oproep op ‘n oper benadering tot die Afrikaanse literêre kanonvorming waarin niemand opgesluit word of die pen uit die skrywershand geruk word nie. EN ek reik hier geen rigiede sisteem aan nie (en hoegenaamd geen dogmas nie, Waldemar, maar baie dankie vir jou begrip en ondersteuning van hierdie ingewikkelde saak).

  30. Anita :

    Hierdie gesprekke word nou soos ‘n eierdans. Almal keer dat die eiers tog net nie gebreek word nie.
    Dit word ‘n gewafelde stroperige roomdans rondom teoretiese besinnings en slim maar vae veronderstellings. Verskeie sogenaamde rolspelers en sisteme word skielik anoniem aangekla van ‘misdaad’. Maar dit beteken niks nie. Kan iemand dan nie daadwerklik (en ek dink dit moet by Carina begin wat die blog gepleeg het), ingaan op feite nie? Noem dan voorbeelde, gee bewyse. haal aan. Wie se vingerafdrukke is hier ter sprake? Wie het wat gesê dan in resensies om aan hierdie klok gehang te word? Waar kom hierdie vreemde idees vandaan? Ons as lesers sal graag wil weet, dus lig ons in! Met feite!!

  31. Anita, van my kant af is daar geen behoefte om die gesprek te verpersoonlik nie (en soos Johann de Lange praat ek net namens myself). Die aanvanklike punt, soos ek dit lees, is ‘n sistemiese een. Aan die een kant is daar kommer oor die gebrek aan resensies wat diverse standpunte reflekteer. Om mense wat die moeite doen om wel resensies te skryf kwalik daarvoor te neem dien geen doel nie. Hulle is min en staan soms tyd wat hulle aan hul eie gedigte kon spandeer af om die gedigte van ander te bespreek. Die vraag is eerder hoekom daar nie MEER daarvan is nie.
    Aan die ander kant gaan dit oor die spelreëls en moontlike botsende belange in die veld soos dit op die oomblik lyk. Dalk is hierdie kwessie deels te danke aan hierdie gebrek aan diversiteit (ook van opinie). Digters soos Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal is besig om met ‘n ander kanon in gesprek te tree – Tupac, Radiohead, The National, Elbow – ek noem net ‘n paar voorbeelde wat in bv. Ronelda en Nathan se werk figureer. Om gevestigde figure teenoor bv. hip hop op te stel is allermins ligsinnig – in ons konteks (en ander) is dit polities en as dit mense ontstel, is dit intensioneel.
    Ek weet nie of baie van die bestaande resensente genoegsaam vertroud is met die veld om op ingeligte wyse daarop kommentaar te kan lewer nie. My indruk is dat hekwagters benoud raak as mense nie meer hulle hekke wil gebruik nie, maar elders gate in heinings maak. Dis nog altyd die geval met die literêre wêreld – Bourdieu daaroor, bv. – avant garde en underground is vir een groep vervlakking en vir ‘n ander vernuwing. In Suid-Afrika is dit ‘n giftige kwessie, omdat die literêre veld een van onregverdige diskriminasie en uitsluiting was en steeds is – die kanon is allermins neutraal. Maar weer, hoekom diegene wat die moeite doen om resensies te skryf persoonlik daarvoor kwalik neem?
    Is daar iets wat aan die breër sisteem gedoen kan word? Miskien is dit beter as dit heeltemal in duie stort, heeltemal legitimiteit verloor.
    Maar kom ons veronderstel vir ‘n oomblik dat daar tog waarde is in letterkundiges wat opstelle oor poësie skryf wat deur sowat tweehonderd mense gelees word (soms minder, soms darem meer). In neoliberale tye is sulke aktiwiteite van geen waarde nie, wat dit vir my die moeite werd maak om voor te baklei. (Persoonlik het ek baie baat gevind by bv. Helize van Vuuren se bespreking van “Katalekte”.)
    Dalk is daar ‘n rol vir PEN-Afrikaans of die Akademie om op meer wetenskaplike wyse na die spelreëls te kyk en aanbevelings te maak – ‘n gedragskode of iets dergeliks, geleenthede om op meer georganiseerde wyse met mediamaatskappye (die gebruik van die meervoudsvorm hier is ironies bedoel) in gesprek te tree.

  32. Johann de Lange :

    Wat Andries sê begin meer in die rigting van verantwoordelike diskoers beweeg (& onthou ek het op geen plek my opmerkings as enige soort diskoers voorgehou nie, & nie namens enigiemand gepraat nie). Wat niémand tot dusver gedoen het nie, & móés gedoen het, is om vir Carina van der Walt te vra watse snert sy hier kwytgeraak het. Ek het lanklaas so ‘n absurde stuk redenasie teengekom. En met haar eerbiedige bewieroking van Kamfer het sy my vir ‘n oomblik laat vrees dat sy óf ‘n beatifikasie van Kamfer in gedagte het, of dalk straks met Telkom se gesteelde koper vir Kamfer as Lady Liberty op Robbeneiland ‘n standbeeld wil gaan oprig.

    Ons beweeg al weer verder weg van die punt, maar in ‘n sin ook weer nader daaraan. Dit gaan nié oor arme agtergeblewe letterkudiges & skrywers wat kwansuis nie die verwysingsraamwerk of ander kanons wat deur nuwe tekste aangespreek word onder die knie kan kry nie. Wat Kamfer & Trantraal doen is nie vernuwend nie, dis nuut(erig). As mens luister na verál André Trantraal & jy maak jou oë toe kan jy sweer jy hoor die arm man se Bukowski. Tekste wat vernuwend was, iets soos Die ysterkoei moet sweet, daar was nou ‘n teks wat sommige literatore moeite gegee het. Bg twee skrywers se werk is nié vernuwend in daardie sin nie. Dit bevat niks wat nie begryp of ontsluit kan word nie. Daar kan wel met reg beweer word dat sekere lesers hulle nie die wêreld of realiteit kan indink waaruit dit voortkom of waarvan dit spreek nie, maar dis nie dieselfde as om te sê hulle weet niks daarvan af nie. Letterkundiges vir wie die letterkunde ‘n saak van erns is, sal byhou met tendense, hulle luister ook na iets anders as klassieke musiek, & hulle lees buite die landsgrense & oor ander onderwerpe. Ons het nie hier ‘n parodie van ouers & kinders nie. Daar is ouers wat ook bybly.

    My reaksie was in ‘n sin ‘n reaksie as skrywer, & ek het reageer omdat ek geruime tyd al voel dat die gemoedelikheid & vertroeteling van eie & ander ego’s die skryfwerk/letterkunde op die duur nie goed doen nie. Skrywers wie se gebreke aan hulle voorgehou word as stylelemente gaan nie vorder of leer nie. Ek het geleer by ‘n ouer generasie vir wie skryf hulle érns was, ook omdat hulle moes baklei vir die reg om te skryf wat & hoe hulle wil, iets waarvan jonger generasies (wat skrywers van alle ouderdomme insluit) nie meer bewus is nie want dit was nog altyd so dat hulle kon skryf wat & hoe hulle wou vandat hulle begin skryf het. Ek het geleer by ‘n generasie wat ‘n liefde vir hulle taal gehad het & trots was daarop & op wat dit as ‘n jong taal bereik het. Daarom grief die meng van Afrikaans & Engels my. Dit beteken nie dat ek nie sulke gedigte kan waardeer nie, waar dit ‘n onontbeerlike element is, maar waar dit deel van ‘n gier is, gaan ek nie daaroor swyg nie. Die poësie het al baie dialekte, idiolekte & ander taalvorme & woordeskatte absorbeer, & so sal dit ook uiteindelik Trantraal se straattaal/bendetaal/flytaal, wat hy dit ook wil noem absorbeer. Daar is niks nuuts onder die son nie.

    Die rede waarom daar nie méér resensies is nie, is deels te wyte aan die woelinge wat onder gedrukte media aan die gang is, & deels omdat baie resensente (& van hulle is ook skrywers wat, soos Andries noem, wat skryftyd moet afknyp om te resenseer) bittermin betaal word, & soms niks, om dan nog ook vir lief te neem met die galbrakery wat daar van skrywers kom wat veronreg voel, & erger nog, van kollegas wat die skrywers in hulle kwaad steur. Ons het ‘n situasie waar resensies wat vir dagblaaie of webblaaie geskryf word dikwels op twee stoele moet staan. Dit is belangrik om informatief te wees, maar ook evaluatief. Daar is nie genoeg streng literêre publikasies vir die suiwer akademiese artikels nie. En dié wat daar is, word oorlaai & het waglyste. Webblaaie soos Litnet & Versindaba laat ruimte toe vir beide soort besprekings, vir populêre besprekings & vir akademiese artikels. Maar dit is feitlik sonder uitsondering die akademiese artikels wat uitgesonder word as te ingewikkeld ens. Dit is nie vir álmal nie, & dit vat héélwat meer tyd & arbeid om te skryf. Dis nie bedoel om vir almal verstaanbaar te wees nie, & daar is in elke genre & kunsvorm werke wat ook nie onmiddellik of sonder bietjie sweet verstaanbaar is nie. En raai wat? Oor daardie soort kuns word ook geneul. Alles, maar álles, moet áf, nóg af, nee nóg láer áf, tot waar ook dié wat nie kan lees nie die boek of gedig sal kan verstaan. Die rede waarom ons opvoedkundige stelsel in die gemors verkeer waarin dit verkeer, is presies hierdie kultus van áf, na die Grootste Gemene Deler. Selfs die Bybel moes áf, sodat dit klink na ‘n Huisgenoot-weekliks-rubriek, want dit was te hoog geskryf.En soos die padda in die warmer wordende water, raak ons almal met al hoe minder & kakker tevrede. EN DIS NIE GOED GENOEG NIE. Jammer, ek gebruik eerder vloekwoorde as hoofletters , maar dis hoe ek voel.

    En laastelik, om vir ‘n oomblik terug te keer ‘n bietjie verder op, op hierdie rol: ek het geskryf wat ek geskryf het, nié omdat ek my buite of verhewe bo die letterkunde beskou nie, maar omdat dit my erns is (op die ou manier bedoel, ja). Nie omdat ek dink ek skryf fantasties & daarom kan ek sê wat ek wil nie. Ek dink dit nie, verre daarvan. Maar ek is ernstig oor skryf, & het géén tyd oor vir alles wat róndom boeke & skrywers aangaan nie. Al die funksies, die get togethers, die boekbendstellings, die skouerkloppery, gatkruipery & ander -rye. Nie omdat ek beter as daardie skrywers is of skryf nie (party van hulle is goeie vriende van my), maar omdat dit my nie ‘n lor interesseer nie. Daar is te veel daarvan, & te min fokus op skryf, op die belangrikheid & funksie daarvan. Solank dit áf-áf’-af gedwing word, kan daar nie sprake wees van ‘n verantwoordelike gesprek nie, sal daar ‘n ophef gemaak word van boeke & skrywers wat begin lyk na oorkompensasie & nie van enige werklike nut vir sodanige skrywers nie, & sal daar aanvalle geloods word op ‘n kleinerwordende korps van oorwerkte, oorstuurde letterkundiges wat al minder lus voel om te skryf oor wat hulle passie is nie. En di is sêd.

  33. Anita :

    Dankie Andries vir ‘n verduideliking. Die pennie wil-wil begin val. Ek dink die basiese probleem is dan miskien dat daar te min resensies verskyn oor ‘n boek. Ek het gehoor (sien ook) die media soos koerante skaal af daarmee. Soos de Lange ook noem. So sal die poel seker ook al hoe kleiner word, al word die boeke al hoe meer. Is daar enigsins ‘n oplossing daarvoor? Is dit nie maar ook net simptomaties van die land waarin ons woon nie?

  34. Anita, dít en die feit dat estetiese oordeel nie in ʼn klaslose, raslose, genderlose en geskiedenislose vakuum ronddryf nie. Die feit dat daar ‘n herevaluering van die Wagner-figure in die Afrikaanse digkuns plaasvind is seker ‘n noodwendigheid, asook dat sommige mense dit as afwatering sal beleef.

  35. Johann, ek dog ek help so bietjie met skietgoed:
    http://www.rollingstone.co.za/musicrev/item/2728-watch-toast-coetzer-jon-savage-perform-an-n-p-van-wyk-louw-poem
    As die Rolling Stone se video nie werk nie, is dit hier ook beskikbaar: http :// http://www.youtube.com/watch?v=bKZ7zi_f9aQ

  36. Johann de Lange :

    Baie dankie, Andries. Dit laat die ou hart sommer vinniger klop.

  37. Helize van Vuuren :

    Andries, wie is die “Wagner-figure in die Afrikaanse digkuns”?

  38. Helize, ek kan nou spesifiek aan Van Wyk Louw en Cloete dink.

  39. Helize van Vuuren :

    en hoe definieer jy “Wagner-figuur”?

  40. Iemand wat as ‘n kanonieke kunstenaar beskou word ten spyte van werklike of gewaande morele kontaminasie – dit gaan oor die spanning tussen etiek en estetika. Mens sou Heidegger ook as voorbeeld kon noem, om ‘n ander veld te betrek.

  41. Mag ek byvoeg dat ek skryf vanuit ‘n posisie van morele kontaminasie, beskrywend en nie as morele oordeel nie.

  42. Joan Hambidge :

    Ek skryf namens geen kommando of kliek nie. Ek het hierdie debat gevolg en hier is ‘n paar punte van my kant af:

    1Carina van der Walt pleit vir ‘n groter verskeidenheid van resensies uit verskillende agtergronde en vra hoekom Nuwe Kreatiewe Werk deur letterkundiges gedoen word. Sover ek weet gebruik Literator verskillende keurders hiervoor, skrywers en literatore. Dieselfde geld uitgewershuise waar daar ook twee anonieme keurverslae aangevra word. Ek doen nie graag keurwerk nie, weens ‘n druk program en omdat ek eerder resenseer. En self skryf.

    2 Niemand kan ‘n pen uit ‘n skrywershand ruk nie. As jy goed is sal jy deur die kanon breek.

    3 Die herrie rondom Nathan Trantraal se bundel (wat ek baie goed vind en my resensie staan op Litnet) het nie gegaan om die gehalte van die teks nie, maar dit was eerder sy uitsprake in ‘n onderhoud oor Kaaps en sy opmerkings oor Adam Small wat ‘n reaksie ontlok het. Hierop het Steward van Wyk, Robert Pearce en ander sinryk gereageer.

    4 Die letterkundige as hekwagter of sensuris is ‘n ou debat. Die idee van kritiek as monument het al sedert die sestigerjare verander na kritiek as ‘n voortdurende gesprek. Natuurlik het dit ‘n kanoniseringsfunksie, maar ‘n oordeel kan verander of genuanseer word. Digters wat o.a. “verdwyn”, kan herontdek word: dit het Komrij byvoorbeeld bewys toe hy “verlore digters” terug gebring het. Ek sien hierdie proses eerder as ‘n net wat uitgegooi word.

    5 Ek dink hierdie gesprek bewys juis hoe demokraties die proses geword het. Daar is ‘n veelheid van stemme: van ‘n respondent wat dink die resensente is bestraffend tot ‘n siening van die Wagner-figure in die letterkunde. Ongelukkig kan ‘n resensent nie applous gee vir ‘n swak of onafgeronde werk nie. Ouer digters is steeds aan die dig, jongeres is aan die opkom (hieroor het ek geskryf in my Nuwe stemme 5-bespreking op hierdie blad). Die digter skryf egter altyd teen die kanon in en net ‘n handvol het al die vermoë gehad om die gang van sake dramaties te verander: Opperman, Blum, Breytenbach, o.a.

    6 As die letterkundige / skrywer optree as resensent, keurder, skryfskool-dosent, ensomeer is die letterkunde “ten dode opgeskryf”? Daardie persoon is net een mening wat gekontrasteer kan word met ‘n ander mening. Louise Viljoen en ek het sopas tegelykertyd Hierdie mens geresenseer. Dit staan ander vry om hierop te reageer en boekeredakteurs bely dikwels dat resensente nie bereid is om te resenseer nie. Of die boek na ses maande met ‘n oliekol terugstuur of gewoon nie die “dead-line” kan haal nie. Dit sal my ook behaag as meer van my kollegas bereid sou wees om te resenseer. Niemand word egter uitgesluit nie. Litnet plaas menings, daar is blogs en weer eens: die reaksies op hierdie blog bewys dat daar menings van alle kante geplaas word.

    7 Een van my gunstelingboeke is Nabokof se beroemde lesings aan die Cornell Universiteit waarin hy klassieke romans punteneurig analiseer. Hier sien jy die skerpsinnige romanskrywer wat juis so goed kan lees, omdat hy so goed skryf. Die een aksie sluit nie die ander een uit nie. Dit versterk eerder.

    8 Skryfskole het die afgelope paar jaar die impasse in die Afrikaanse digkuns opgehef. Daar was by Nuwe Stemme ook ‘n werkswinkel aangebied vir die jong digters. Ouer skrywers, dosente, gevestigde figure gee dus terug aan die bedryf.

    9 “Wie skryf die resensies? waar word hulle geskryf? wat is die kritiria? wie se stem dra meer gewig en waarom?”, word eweneens gevra. ‘n Resensie in die New York Times dra meer gewig as een in die Kansas City Lights. As Harold Bloom iets bespreek, het dit meer waarde as wanneer ‘n bloggis sy sieninge plaas en algaande sy mening verander en nuanseer soos reaksies inkom.

    So die plek waar die resensie geplaas word en die persoon speel bepaald ‘n rol. Bloom het meer gesag – hy het meer gelees, langer gelewe, maar sy mening mag bevraagteken of gekritiseer word. Soos al gebeur het.

    10 En die goeie skrywer sal altyd herontdek word. Ek doseer tans Blum en dis fassinerend om te kyk na die resepsie van sy werk in sy tyd, die briefwisseling, sy eie reaksie – feit bly staan: sy gedigte het die toets van die tyd deurstaan.

    11 Die Afrikaanse letterkunde word nie deur ‘n handjievol “geoudit” nie. Daar was nog nooit soveel demokrasie nie. Jong digters op pryskomitees, resensies deur jonk en oud, gedigte van jonk en oud en onbekend. Niks keer enige belangstellende wat ‘n mening het om dit in hierdie dae te publiseer nie. Maar dit mág kritiek ontlok. Dis deel van hierdie proses. En self-refleksie is daar voortdurend. Hierom neem literatore deel aan internasionale kongresse, behartig blogs, skryf artikels, ensomeer. En as opleiding geparadeer word, sou ‘n mens tog kon vra: kundigheid is tog opgesluit in kennis. Min resensente kan Helize van Vuuren se lesing van Katalekte troef. Dis kundig, deeglik en sy help die leser om ‘n beter begrip te kry van ‘n komplekse bundel.

    12 Natuurlik is daar verskillende diskoerse. My besprekings vir FineMusicRadio is geskryf vir die luisteraar: dis toegankliker as my selfrefleksiewe essays op my blog “Woorde wat weeg”.

  43. Joan, baie dankie vir ‘n aantal sinvolle punte. Ek stem met die meeste daarvan saam, maar wil tog op een daarvan verskil: Punt 2, oor die noodwendigheid van die sosiale erkenning vir werklike grootse kunswerke. Is dit nie ‘n ietwat romantiese (dalk liberale?) siening van die interaksie tussen kuns en samelewing nie?

    Ek dink dit oorskat die agentskap van die kunstenaar en onderspeel die sosiale prosesse van erkenning wat die ontvangs daarvan bepaal. Speel toeval bv. nie soms ‘n groot rol nie? Iemand kom op iets in ‘n argief af. Hoekom het dit in die eerste plek daar beland? Wie skryf en wie gelees word hang tog van vele faktore af. Daar is reeds verwys na hoe die mediawêreld besig is om te verskuif, met nuwe geleenthede, maar ook die gevaar van vervlakking. Ek wil na Coetzee se essay oor “What is a classic” verwys, waarin Bach bespreek word (as ek reg onthou). Daar word genoem dat Bach vir ‘n tyd lank heeltemal van die toneel verdwyn het, maar weens ‘n groep aanhangers en die notasie van sy musiek het dit bewaar gebly. Later is dit herontdek en kan dit oor eeue heen steeds met mense praat. Ek sê nie toeval is alles en dat die gehalte van die werk (‘n seker universaliteit) nie belangrik is nie. Maar benewens toeval word die openbare gesprek, wie gepubliseer word, wie opgevoer word en wie uitgestal word tog ook deur ongelyke geleenthede en toegang tot blootstelling onderlê. Weer, ek sê nie dit bepaal alles nie, maar in ‘n plek soos Suid-Afrika was dit tog ‘n baie belangrike faktor en is selfs deur die staat voorgeskryf. Ek dink nou aan bv. Hein Willemse se werk oor mense wat deur die establishment uitgesluit is. Ek stem met jou saam dat daar baie geleenthede vir nuwe stemme is – ruimte vir agentskap – maar dis tog nie asof ons ‘n posisie bereik het waar mense op gelyke voet om ruimte meeding nie. In ons konteks, met ons geskiedenis, spesifiek ons taal (die land se grootste nierassige prestasie), lyk die wêreld darem steeds baie bleek.

    Ek wil allermins vir ‘n tipe paternalistiese regstellende aksie argumenteer. In elk geval, van die nuwe digters sal dit met die minagting wat dit verdien verwerp – ‘n punt wat jy ook al gemaak het en waarteen (dink ek) Nathan reageer met sy stelling oor Adam Small. Ek is net bekommerd dat die gesprek se kontoere te hard getrek word – deur beledigings van alle kante, in plaas van ‘n ernstige besinning oor die spanning tussen etiek en estetika.

    Breyten noem die kwessie van smaak. Ek sou weer Bourdieu oor die klasgebaseerde aard van smaak en onderskeid by die gesprek wil betrek. Hoe neutraal is daardie universele standaarde wat ons stel, die mense teen wie se werk nuwe stemme opgestel word? Is dit nie dalk verstaanbaar dat daar sekere figure is wat jonger digters eerder wil ignoreer as om te bemeester en dan dood te maak nie?

  44. Desmond Painter :

    Joan, dankie, ek stem ook saam met heelwat van die punte wat jy bo maak. En ek waardeer dat dit nie gelewer is in die vorm van ‘n aanklag, of ‘n diagnose van noodwendige vervlakking (by ander) nie: jy erken juis, lyk dit, die diepgang en diversifikasie wat OOK moontlik gemaak word deur nuwe fora, agente, stemme, ens.

    Nogtans, en dalk in aansluiting by Andries se laaste paragraaf, ek wonder nogtans oor hoe jy onderskei tussen ‘gesag’ as sodanig en ‘kritiseerbaarheid’ van die gesagsposisie? Dit is asof jy sê Bloom se GESAG kan nie bevraagteken word nie, maar kan wel bevraagteken of gekritiseer word. Maar gesag self (en ek gebruik Bloom maar net as voorbeeld) is nie neutraal of ‘onskuldig’ nie, en kan dus ook bevraagteken (of ten minste dan gehistoriseer) word.

    Met ander woorde, ek sou meen ‘n jong skrywer of kritikus sou Bloom kon kritiseer; maar hy of sy sou ook, om legitieme redes, kon besluit om sy gesag as sodanig te bevraagteken – om hom, in Andries se woorde, te ignoreer. Hier dink ek ook aan sekere 20ste-eeuse komponiste, soos Steve Reich, wat ‘n kanon konseptualiseer wat Brahms bv. gewoon uitsluit. Hulle probeer nie ‘deur die kanon breek’ soos jy dit stel nie; hulle probeer die kanon eerder breek!! (So to speak.)

  45. Desmond Painter :

    Korreksie: “…jy sê Bloom se GESAG as sodanig kan nie bevraagteken word nie, maar wat hy skryf kan wel bevraagteken of gekritiseer word.

  46. NS. Joan, op ‘n ligter noot, ek sukkel nog om “Hierdie mens” in die hande te kry (gaan nou Hatfield toe stap, want Brooklyn skiet te kort), maar ek het juis gewonder of dit na “Hierdie lewe” verwys. “Hierdie lewe” is vir my Schoeman op sy beste.

  47. Anna :

    “Poetry exists partly to undermine the certainties of an accepted intellectual system, by opening a fissure of awareness at which the reality of the unconquered world may enter”, “Slip-shod Sibyls”, Germaine Greer, Viking, 1995, p.3. Amen.

  48. Desmond :

    Andries, en dan herinner Schoeman se ‘Hierdie Lewe’ mens ook ‘n bietjie aan Stockenstrom se briljante roman ‘Abjater wat so lag’. Of so onthou ek dit; ek het beide te lank gelede gelees. Vir my persoonlik is Scoeman se hoogtepunt ‘Die Uur van die Engel’. Ek het dit op die Greyhound tussen Oos-Londen en Stellenbosch gelees, deur die nag.

  49. Johann de Lange :

    Andries

    Die titel is nie ‘n opsetlike toespeling op Schoeman nie. Wilma het juis om daardie rede gehuiwer om dit te gebruik. Dis eerder ‘n toespeling op “Ecce homo”, & haar betrokkenheid by die mens wat sentraal staan in haar werk.

  50. Desmond, ek stem saam oor “Abjater wat so lag”. Ook lank gelede gelees, maar my herinnering is ‘n eerstepersoonsverteller wat die leser dinge laat besef wat die verteller self nie van bewus is nie. Intussen het ek “Hierdie mens” opgespoor.

  51. Dankie daarvoor, Johann.

  52. Joan Hambidge :

    Is there a text in this class? Stanley Fish praat van die “interpretive communities”. Hier verwys hy ook na die normatiewe grense van lees. Met ander woorde, dat ons almal by ‘n bepaalde interpretasie uitkom, omdat ons dieselfde ervaring van taal en sisteme dra. Dus: daar is verskillende plekke en ruimtes van lees, maar die Gesag (gesag) van die leser word ook bepaal deur skoling, agtergrond, belesenheid, ensomeer. ‘n Jong leser gaan nie dieselfde insigte kan openbaar van byvoorbeeld “Hierdie mens” nie. In hierdie opsig is Johann de Lange se kritiek regverdig: té veel resensies word tans behartig deur lesers wat nie opgewasse is vir die taak nie. Net so min as wat ek met Andries Bezuidenhout op dieselfde vlak kan polemiseer oor sosiologie of met Desmond Painter oor die jongste ontwikkelinge binne die sosiale sielkunde (in beide velde stel ek wel intens belang), kan ‘n resensie van ‘n eerstejaarstudent dieselfde “gesag” dra as een van Louise Viljoen, Heilna du Plooy of Helize van Vuuren.

    Dat daar verskillende menings moet en kan wees, is wel interessant en belangrik. En gesprekke ja. Maar in die resepsie van ‘n bundel gaan ‘n navorser altyd wys op grade van belangrikheid / tersaaklikheid.

    Dus as ek Breytenbach doseer lees ek Viljoen en Van Vuuren. Wanneer ek skryf oor Cloete raadpleeg ek Heilna du Plooy. Oor die ouer digters bly Van Wyk Louw se opstelle openbarend.

    En ja die kanon kan herkonseptualiseer word. Vergelyk Opperman, Brink en Komrij met mekaar (ek doseer dit graag).

    Maar gesprekke leer ‘n mens nuanseer, weer kyk.

  53. Heilna :

    ‘n Paar algemene gedagtes wat dalk iewers by hierdie debat aansluit.

    1. Die onderskeid tussen literêre kritiek en literatuurwetenskap moet in ag geneem word in ‘n gesprek soos hierdie. Evaluering is net een aspek of een been van die hele wye terrein van die literatuurstudie wat filosofiese, teoretiese en praktiese komponenete insluit. Baie literatore verkies die literatuurwetenskaplike werk bo die kritiek want daar gaan dit om die bestudering van al die fasette van die verskynsel literatuur as die objek van analise, interpretasie, vergelyking en ook, maar nie uitsluitend nie, evaluering. Maar hierdie dissipline bring wel belangrike inligting na vore en maak groot bydraes om die maniere waarop gelees en geïnterpreteer word bloot te lê, te bevraagteken en te stimuleer. Dit is ‘n belangrike impuls in die aanstigting van gesprekke oor taal en literatuur en die gewraakte dosente van die literatuur het wel oor baie jare baie lesers gemaak van vroeër nie-lesende studente.

    2. Die verskynsel van skrywers wat ook oor die literatuur skryf en aan die literêre bedryf deelneem, is so oud soos die berge. T.S.Eliot se essays is steeds relevant (trouens, dit was ’n kenmerk van die hele modernistiese stroming dat skrywers hulle ook oor hulle ambag uitgespreek het). Veel vroeër voorbeelde is daar ook: Wordsworth se voorwoord by die “Lyrical Ballads” is steeds ‘n gesaghebbende bron oor die Romantiek. Skrywers het ook met mekaar se werk “ingemeng”: Ezra Pound se insette in Eliot se “The Waste Land” is bekend en nie minder gerespekteer omdat hy self ook geskryf het nie. In kleiner literêre wêrelde, soos dié van Afrikaans onteenseglik is en soos wat ons almal dit al lankal aanvaar, is dit nog meer onvermydelik dat die aktiwiteite rondom skryf sal ineenvloei. D.F.Malherbe het doseer en resensies geskryf, C.M. van den Heever was professor in Afrikaans, W.E.G. Louw en N.P. van Wyk Louw ook, Opperman het akademies klasgegee en nog erger, sy laboratorium het selfs egte skrywers uitgebroei! André P. Brink was nie net ’n vernuwende skrywer nie, maar het in die sewentigs en tagtigs ’n boekeblad hanteer waarmee hy inderdaad ‘n geweldige invloed op ander skrywers uitgeoefen het. Maar Brink is ook ’n uitstekende akademikus en skrywer van teorie.

    3. Die ordening van ‘n gemeenskap se aktiwiteite, die “aan die kant maak’ en skikking en plasing van wat almal doen, kan en het gebeur in hoogs geordende en gevestigde samelewings. Ook in ‘n bepaalde historiese periode en beïnvloed deur bepaalde filosofiese sieninge (hoor ek die eggo van Dooyeweerd se wetskringe?) Die modernistiese twyfels oor stelsels en die postmodernistiese karnavalagtigheid het nie regtig meer plek vir allerlei fyn ordeninge en onderskeidinge nie. Die hele ou spul loop deurmekaar.

    4. En as die deurmekaarlopery van terreine nou aansluit by ’n tradisie in baie Westerse tale (van die ander is ek nie seker nie en hou dus my mond daaroor) dat kreatiewe skryf, die kritiek, populêre en akademiese skryf oor die literatuur vermeng raak, het ek min hoop dat ons hierdie dinge vorentoe uitmekaar kan haal of hou. Trouens, ek twyfel erg of dit hoegenaamd ’n goeie ding sou kon wees. Daar is dinge wat toegelaat moet word om vanself te ontwikkel.

    5. As ’n bepaalde skrywer besluit hy raak nie, smaak nie, roer nie aan die kritiese en analitiese gesprekke nie, is dit sy goeie reg. As ’n iemand wat toevallig klas gee oor die literatuur (vir brood op die tafel en omdat hy/sy daarvan hou) ook iewers langs die pad self lus het om te skryf, wat daarvan? Wie is die hoofseun van skryf wat sê wie mag en wie mag nie?

    6. Natuurlik wil elke skrywer hê baie mense moet sy/haar werk lees. Maar as iemand daaroor skryf, kritiek moet pleeg (en onthou die kritiek is deel van die bekendstelling en bemarking van nuwe boeke ook!) wie wil mens hê moet dit doen? Die een wat op skool laas gedigte gelees het of die een wat net 20 (sjoe, dis al baie) gedigte ken? Of dalk iemand wat al 5000 gedigte in verskillende tale gelees het en ’n ontwikkelde aanvoeling het? Wil ’n skrywer hê ’n romanleser wat eintlik hou van die boeke met die dik rooi rose en goue strikke of die pienk boekies (wat wel almal hulle plek het) moet sy stem verhef oor ’n verhaal met ’n ernstige tema of ’n verbeeldingryke struktuur? Dis ’n onregverdige blootstelling na beide kante.

    7. Die beoordeling van kreatiewe skryfwerk is erge werk, veral as dit oor verskillende genres langs mekaar gaan. Tog dink ek ek kan met ’n redelike mate (ek probeer hard om myself nie te bluf nie) van eerlikheid sê dat die komitees waarby ek oor baie jare betrokke was, elke keer verbasend ernstig was oor hulle opdrag. Die deeglikheid en toewyding waarmee hulle die boeke bestudeer bespreek, het my elke keer weer opgeval. Sekerlik is almal nie engele nie en sekerlik het mense altyd hulle eie smaak en lewensaanvoeling, maar hulle is nie hekse of duiwels nie en doen wel hulle bes met ’n taak wat inherent eintlik onmoontlik is, naamlik om kreatiewe dinge met mekaar te moet vergelyk.

    8. Dit is ’n yslike misvatting dat alle resensies negatief is. In die negentigerjare het ek en Phil van Schalkwyk, toe ’n Ph.D.-student, ’n navorsingsprojek gedoen oor resensies. Ons het resensies oor tien jaar gelees met die oog op wat hulle sê, watter vooronderstellings uit die oordele na vore kom en oor die aard van die beoordeling wat hulle doen. Ons was stom verbaas oor die baie klein aantal negatiewe resensies, dit was sekerlik minder as 5 %. Die meeste resensente is baie hoflik en gee wel aandag aan die relevante aspekte van die teks. Die invloed van die (wel hipertrofiese) teoretiese aanpak van die tagtiger- en negentigerjare, het inderdaad die klem weg van die gehalte na die aard van die tekste verskuif. En as mens sleg voel oor jy nie positief genoeg beoordeel is nie, moet jy maar onthou dat die resensente loop ook maar deur: onder ander resensente en skrywers en les bes ook onder die skerp tonge van die dikwels ongelukkig oningeligde publiek.

    My slotsom is: Die belangrikste ding is dat daar gesprek is. Ons moet praat en redeneer en verskil en saamstem, ons moet sake fyner kwalifiseer en uitbrei, ons moet improviseer en eksperimenteer, as skrywers en as lesers van alle soorte. Maar ons moet daaroor bly praat – ons moet net nie begin stil raak nie. As ons nie “aanhou beweeg en geraas maak” nie, is ons dalk al dood, maar ons het dit nog net nie agtergekom nie.

  54. helize van vuuren :

    Die hart van wat hier geïgnoreer word in sommige standpuntinnames, is letterkunde as ‘n diskoers (nie ondergeskik aan politiek of geskiedenis of politieke korrektheid nie, soos wat JM Coetzee indertyd n.a.v. Rushdie se wegwys by die Mail en Guardian-boekforum geskryf het) – soos wat sosiologie en sielkunde ook ekspert-terreine is, en geskiedenis en meer ter sake musiek en beeldende kuns. Dit verg in die beste gevalle, van skrywer sowel as leser, ‘n onderdompeling en deurwinterde kennis van die tradisie en die kanon – nie net van die eie letterkunde nie, maar ook van die wêreldletterkunde. Grensverskuiwing en vernuwing kom in die letterkunde voort uit hierdie soort onderdompeling, en dit verg van enige kritikus wat met sulke werke te make kry, soos katalekte en memorandum, ‘n soortgelyke onderdompeling. Bloom verwys in The western canon, spesifiek voor sy stuk oor Finnegans wake, na kanon-aantasting en -ondergrawing in die VSA-sillabusse, ter wille van politieke korrektheid. Politieke korrektheid het ook ‘n rol, dit registreer sensitiwiteit vir die eietydse kwessies en dringende identiteits-kwessies, maar duidelik is die geesteswetenskappe en spesifiek die literêre bedryf in die moeilikheid aan universiteite en in boeke-blaaie en van uitgewers en boekwinkels in die knyp, omdat dit wat esteties goed is nie meer ooreenstem volgens baie lesers (en deesdae ook sommige resensente) met dit wat sogenaamd nie polities korrek en veral “populêr” is nie. (Dis nou buiten vir die opkoms van die elektroniese boek en die duidelike wegbeweeg van ‘n logosferiese era na ‘n videosferiese era).

    Ter sake is seker ook die debatte oor Heidegger (en Paul de Man) se “morele kontaminasie” indertyd en hoe sy werk geherevalueer is vir wat blywend en grensverskuiwend daarin is (sien veral Manfred Stassen se inleiding tot die boek, Philosophical and Political Writings: Martin Heidegger, 2003). En wie kon meer “verkeerd gegaan” het as Ezra Pound met sy ondersteuning van Fascisme in W.O. II? Ignoreer ons daarom die kwaliteit en uitdagendheid van sy werk? Tik sy naam in op Google, en kyk die verstommende boeiende materiaal oor sy werk, soos oor die van James Joyce.

    En om nou die groot Bapsfontein Verhore vir die Afrikaanse letterkunde te wil uitroep oor “morele kontaminasie”, berus ook op onwetendheid – die debatte oor Van Wyk Louw is al gevoer . En ook oor Cloete is se ideologiese perspektief in sy vroeëre fase as kritikus sowel as digter, is al uitgebreid gedebatteer. In vakblaaie soos Stilet, Tydskrif vir letterkunde, Literator en boeke soos Perspektief en profiel (nou weer ter perse in vier volumes, waar baie van hierdie kwessies deur kenners aangespreek word).

    Twee sake word verder deurmekaar geklits: maklike toeganklikheid en verwikkeldheid. Hoe toeganklik is “Groot ode”, Memorandum of Katalekte vir die “gemiddelde leser”, die man en vrou in die straat? Skryf hierdie digters vir “die man en vrou in die straat”? Dit suggereer die duidelike bestaan van verwikkelde werke met ‘n hoë uitdagingsgraad. En hierdie verwikkelde, elite letterkunde is die tekste wat dikwels die toets van die tyd deurstaan weens hul raaiselagtige, magiese werking en lesers, ook in ander taalgebiede ná vertaling in hul tale, bly fassineer. Van Wyk Louw, Breytenbach, en Van Niekerk sal gelees word, waarskynlik lank na ons almal onder die kluite verdwyn het. Die groot uitdaging is om hul tekste breër beskikbaar te maak, en te vertaal.

    Die “huis van my vader” – en die Afrikaanse letterkunde- het (egter) “baie kamers” – vir die toeganklike sowel as die verwikkelde werke. Bapsfontein verhore (a la Nürnberg) oor gewaande “morele kontaminasie” van sekere skrywers, sal net die reeds fragiele posisie van Afrikaans verder verswak. Geen kritikus hier is ‘n Goebbels by Nürnberg nie…Dis ‘n vals papierpop wat daar staan gemaak is…

  55. Helize, ek sien absoluut geen rol vir politieke korrektheid nie. Politieke korrektheid, soos ek dit verstaan, gaan oor die verandering van taalgebruik sonder om die onderliggende strukture van uitbuiting en uitsluiting daadwerklik aan te spreek. Ek het ook nie voorgestel, of eers geïnsinueer, dat iemand verhoor behoort te word nie. Ek is nie in die morele gesagsposisie om daarop aan te dring nie. As daardie papierpop bestaan, het jy dit self uitgeknip.

  56. Waldemar Gouws :

    Andries, mens kan die kat ook in die lig knyp.Aanvanklik (19/8 e.v.)is jy ten gunste van ‘n skeiding van gesag/arbeid t.o.v.die rolle in die Afrikaanse liter^re bedryf. Dan kom jou kategoriese verdeling van moreel gekontamineerdes teenoor moreel ongekontamineerdes in die Afrikaanse digkuns ter tafel, en ons word ingelig dat dit alreeds ‘n feit is dat die herevaluering plaasvind, alhoewel jy jouself veilig buite sodanige proses hou. Nou sien ek jy aanvaar die geldigheid van die idee van ‘n “morele gesagsposie,” derhalwe van iemand wat ‘n oordeel sal kan uitspreek oor die “moreel gekontamineerde” Afrikaanse digters. As hierdie handeling wat deur jou geopper is nie ‘n ou elementjie van ‘n verhoor bevat nie, weet ek darem nie, want die aanklag en skuldigbevinding is deur jou verwoord. Weet jy miskien wie die straf gaan bepaal? Dit lyk my jy is ‘n agent (met agentskap) vir die een wat die herwaardering van die “gekontamineerdes” hanteer.

  57. Waldemar, dit gaan maar vir my daaroor dat die Afrikaanse literêre veld met die geskiedenis van apartheid vervleg is en dat die een helfte van die taal se sprekers die ander helfte – ook in die naam van die taal – uitgesluit het. Dis noodwendig dat die heronderhandeling van daardie verhouding ook in die digkuns met etiese en estetiese vraagstukke sal saamgaan. Ek beskou myself nie as ‘n persoon met klinkklare antwoorde op hoe dit gedoen moet word nie en waardeer die erns waarmee veral letterkundiges aan die gesprek deelneem.

  58. Desmond :

    Regverdigheidshalwe, Waldemar, ek dink darem nie Andries het ‘n onderskeid getref tussen “moreel gekontamineerdes” en “moreel ongekontamineerdes” nie. Hy het immers juis geargumenteer dat die estetiese nie van die etiese en die politiek los te maak is nie; en dus, dat nie een van ons vanuit ‘n neutrale, “ongetamineerde” posisie (dikwels geartikuleer as onverbonde verteenwoordiger van daardie mees gemedieerde posisie van almal, “myself”) aan hierdie gesprek kan deelneem nie, of literer kan oordeel nie.

  59. Dankie Desmond. Ek moet dalk net ter wille van buitelandse lesers van Versindaba (wat dalk nie debatte oor letterkundiges en sensuur in Suid-Afrika gevolg het nie) verwys na ‘n baie volledige weergawe van gebeure: Peter McDonald, The Literature Police: Apartheid Censorship and Its Cultural Consequences (Oxford University Press, 2009). As ek een ding uit die lees van die boek neem, is dit om versigtig te wees vir letterkundiges wat hul oordeel as “neutraal” of “wetenskaplik” beskou.

  60. Desmond :

    Absoluut, Andries – die illusie van objektiewe wetenskaplikheid, maar ook die illusie dat mens bloot namens jouself kan praat; dat mens ‘n absoluut subjektiewe posisie kan inneem, ongeassosieerd, onverbonde. In ‘n historiese situasie soos die van ons, wat jy goed beskryf, is nie een van ons immers net onsself nie – wat seker ‘n ander manier is om aan te dui dat ons die etiese dimensie nooit kan ontsnap nie, of van buite dit kan praat nie.

  61. Waldemar Gouws :

    Slegs twee digters, NPvW Louw en TT Cloete, is as “moreel gekontamineer” deur Andries uitgesonder -en nie die hele wit digtersdom in Afrikaans nie, hoewel dit nou lyk asof Andries en Desmond ander insig en definisie gekry het. Waarom nog van “Wagner-figure” praat as almal wat verse maak oor dieselfde kam geskeer sou kon word volgens Desmond se rou redenasie? (Sou mens vir Leipoldt en Eugene Marais, pre-apartheid, uitsluit, maar vir Totius van die wit kerk insluit onder die gekontamineerdes? Ek dog hier kom ‘n projek om die Afrikaanse digkuns te wil rehabiliteer vanuit ‘n etiese posisie – maar wie se etiek kan daarvoor toegepas word: Badiou, Stalin, Kant? En waar bevind die toepasser sigselwers? Dink aan Galileo).

  62. Johann de Lange :

    Waldemar, dis wanneer mense oor dinge praat wat buite hulle veld van kundigheid lê. Soos ek heel aan die begin gesê het: Desmond kan homself eenvoudig nie help nie. Hy weet ‘n ietsie van bykans álles & met ‘n teoretiese sousie vol paradokse voorgesit, is daar niks waaroor hy nie ‘n gesaghebbende opinie, of ten minste net ‘n opinie het nie.

    Ek sit nou & dink, miskien moet ons Afrikaanse skrywers vra watter onderklere hulle dra, want sien, ek lees nou die dag dat Hugo Boss die uniforms van die Nazi’s se SS offisiere ontwerp het. So, daar is nou ‘n handelsmerk wat moreel gekontamineer is. En dus ook almal wat vandag Hugo Boss ondersteun, dan nie?

    Twee skrywers is lukraak uitgesonder as Wagner-figure & die etiket van moreel gekontamineer gegee. Gevalle wat soos Helize van Vuuren geskryf het, volledig & tot vervelens toe opgerakel & uitgewan is. Die oomblik wat die bedenklikheid van só ‘n uitgangspunt duidelik geword het, het Andries & Desmond begin terugkrabbel. Uitlatings herfraseer sodat dit paradokse word, & nou ja, uit ‘n paradoks kry niemand hom losgewikkel nie.

    Ek sou wou sê, skoenmaker hou jou by jou lees, as ek gedink het dit sou help.

  63. Desmond :

    Ek weet regtig nie waarom dit vir De Lange so belangrik is dat ek nie aan die gesprek moet deelneem nie – is ek regtig die enigste mens op hierdie webblad sonder die nodige kundigheid om saam te gesels?!

    Hoe ook al, laat die vier of vyf kundiges dan maar alleen onder mekaar verder gesels. Ten slotte dus, net vir die rekord: ek het nie een keer teruggekrabbel nie. My argumente was dalk verkeerd, maar beslis konsekwent. Gaan lees maar weer. My standpunt was nooit dat almal wat verse maak, of selfs kritiek lewer / resensies skryf, oor dieselfde kam geskeer kan word nie.

    My probleem was gewoon met mense wat, soos De Lange, vanuit hulle posisies van kundigheid so maklik, so selftevrede, so venynig ander mense se ‘onkunde’ en ‘vervlakking’ aan die kaak wil stel. De Lange se kundigheid en statuur as digter en vertaler is inderdaad nie te betwyfel nie – ek is trouens ‘n aanhanger van sy werk.

    Dit is net jammer hy kan nie aan ‘n potensieel produktiewe gesprek deelneem (want hierdie is ‘n gespreksruimte, nie Tydskrif vir Letterkunde nie) sonder om persoonlik en beledigend te word nie. En hierdie gesprek, soos almal wat hier lees, is nie die eerste keer nie.

    Ja, ook hieroor het ek ‘n opinie, en dit is inderdaad gesaghebbend: De Lange is ‘n aggressiewe, onaangename, remmende, onproduktiewe, en op die ou end, meer male as nie, intellektueel teleurstellende deelnemer aan debatte.

    En nou kan hy my beledig en oor ‘n dag aandring dat sy beledigings van die blad verwyder word. Ons almal ken die dril, en ons is almal ewe blerrie verveeld.

  64. Desmond :

    Korreksie: ‘…soos almal wat hier lees weet…’

  65. Johann de Lange :

    Desmond

    DIt verskaf my diep leed om te weet dat ek die intellektuele diepte wat jy probeer peil het nógmaals met my bydrae vervlak het. Maar dan het ek nog nooit enige aanspraak van diepte aan my kant gemaak nie. Om die waarheid te sê, voel ek soos (was dit Ava Gardner, of Tallulah Bankhead, of Mae West?) wat gesê het: “Deep down I’m a very shallow person.”

    As ‘n oppervlakkige persoon soos ek, onkundig in die veld van sosiale sielkunde, al om die hawerklap oningeligte, of halfgebakte uitsprake oor die vakgebied maak of oor beofenaars van die vakgebied, hoe lank sou dit jou vat om my te begin reghelp? DIt is altyd die letterkunde, waarskynlik omdat ons almal taal in gemeen het, dat almal voel wat hulle te sê het, het waarde. Of dat selfs die oningeligste uitspraak oor die harde werk van akademici, of die danklose arbeid van resensente, in orde is & deel uitmaak van die “oop gesprek”. Gaan kyk ‘n slag wat VWLouw met die “oop gesprek” bedoel het voordat jy dit ongenuanseerd bepleit. En dink daaroor of jy die soort oop gesprek wat ons tans het (& wat helaas my insluit) vir baie lank oor jou vakgebied sal duld.

    Ek belowe ek sal my woorde nét so laat staan. En vriende van my & kennisse sal jou inlig dat ek die antitese is van jou kensketsing van my is. Moet net wees dat jy dit uitbring in my, soos ‘n uitslag.

  66. Waldemar, ek het Van Wyk Louw en Cloete genoem om twee redes. Eerstens, hulle figureer sterk in debatte oor sensuur, maar op verskillende maniere. Van Wyk Louw was van mening dat die letterkunde gebruik sou kon word om binne die stelsel teen sensuur te werk. (Die sensuurraad is n.a.v. ‘n ondersoek deur ‘n sosioloog gestig.) Cloete, aan die ander kant, was ‘n aktiewe sensor, van o.a. werke deur Breytenbach en Jensma. Tweedens, Van Wyk Louw en Cloete is van die belangrikste figure in die kanon. Die woord “kontaminasie” het ek gebruik omdat JM Coezee die woord gebruik het met verwysing na sensuur onder apartheid, ook op homself toegepas. ‘n Punt om te maak oor die tipe sensuur onder apartheid is dat dit eers ingeskop het na publikasie, wat besluite baie onvoorspelbaar gemaak het. Die gevolg was ernstige selfsensuur deur bv. uitgewers – om politieke en ekonomiese risiko te verminder. Die punt wat ek daardeur maak is dat die kanon fundamenteel deur apartheid gevorm is – deur staatsinmenging en die aktiewe deelname van digters en letterkundiges daaraan. Om dit uit te wys, ook vir nuwe generasies wat nie in die 70s en 80s aan die debatte en gesprekke deelgeneem het nie, is ‘n noodwendige en, myns insiens, redelik onkontroversiële punt om te maak. Ek verstaan nie waaroor die bohaai gaan nie.

    Gaan hierdie kwessies oor vervloë dae en ou koeie uit die sloot? Ek is nie so seker nie. As ek na die letterkundige landskap kyk – wie steeds publiseer, die feit dat ‘n instansie soos Radio Pretoria ‘n amptelike mediavennoot van ‘n Afrikaanse kunsfees soos Aardklop is – wonder ek soms. Dis amper asof mense so half wil sê: oeps, dit was ‘n ou glipsie dat ons die helfte van die sprekers van ons taal polities, kultureel en ekonomies uitgesluit het, maar ter wille van die taalstryd moet ons nou die verlede vergeet.

    Ek skryf nie hier as sosioloog nie, maar as digter met een bundeltjie agter sy naam. Maar ek doen dit ook as iemand wat konstant vrae vra oor waar ek binne die bestel staan en wat my verantwoordelikheid as moreel gekontamineerde is. Ek praat nie van skuld en oordeel nie, ek praat van verantwoordelikheid. Niemand kan vir my sê om stil te bly oor hierdie kwessies nie.

  67. Net iets oor hoe ons gesprekke hier voer. Ek behou die reg voor om my opinies te verander – ek is nie ‘n politikus of propagandis nie. Ek neem aan die gesprek deel omdat ek die gespreksgenote hier respekteer en waardeer dat hulle die moeite doen om deel te neem aan ‘n aktiwiteit wat waarskynlik geen akademiese artikels of digbundels tot gevolg sal hê nie. Ek respekteer mense, in hierdie geval veral Joan Hambidge en Heilna du Plooy, vir die manier waarop hulle standpunte duidelik en sonder beledigings uiteensit en stem met die meeste daarvan saam. Wat hulle skryf het ‘n impak op hoe ek oor sake dink, want ek is nie hier om te skermutsel nie. Om egter aan te toon dat die gebruik van “moreel gekontamineer” nie die binêre teenoorgestelde impliseer nie, is nie om terug te krabbel nie. Om aan te toon dat ek van Wagner gepraat het, en nie Goebbels nie, is nie om terug te krabbel nie.

  68. Desmond Painter :

    Johann, wat jou vriende van jou as mens te sê het is nie ter sake nie: ek praat van die manier waarop jy aan openbare gesprekke deelneem. Ek is nie die enigste een wat jou ‘kundigheid’ wat dit betref bevraagteken nie.

    My akademiese day job het ook geen betrekking op hierdie debat nie: sover ek weet is jy nie ‘n dosent in ‘n letterkundedepartement nie; volgens daardie kriterium (akademiese spesialisasie) vir ‘kundigheid’ behoort jy, Louis Esterhuizen, Breyten Breytenbach en die meeste ander skrywers dus ook nie oor die letterkunde te praat nie, want hulle is nie akademeci nie.

    Dit sou ook beteken Joan Hambidge mag nie oor Lacan of rolprente skryf nie (sy’s nie ‘n psigoanalis of ‘n professor in fimstudies nie) en Hennie Aucamp nie oor die Boesmans nie (hy’s nie ‘n antropoloog nie). Dit sou absurd wees. Dit is soos om te sê net politieke wetenskaplikes en ekonome kan oor die politiek en die ekonomie praat – die onderdruktes en die armes moet nie met die ‘kundiges’ se kundigheid inmeng nie. (Terloops, die toenemende kolonisering van ons ervaringswêreld deur sielkundiges en sielkundige speasialisasie is vir my ‘n probleem, dus ondersteun ek absoluut almal se reg om oor die sielkunde te praat; om teen die spesialiste terug te praat.)

    Indien my akademiese spesialiteit (sielkunde eerder as letterkunde) my dus nie uitsluit van die gesprek nie, wat dan? Net soos jy lees en skryf ek – jy is bloot meer suksesvol wat laasgenoemde betref. Maar dit, produktiwiteit en sukses as skrywer, kan ook nie ‘n kriterium vir kundigheid en dus deelname aan ‘n gesprek soos hierdie wees nie, want dit sou beteken ouer skrywers het altyd meer reg om te praat as jonges; De Lange sou meer reg h^e om aan debatte soos hierdie deel te neem as Bezuidenhout, en Breytenbach meer reg as De Lange… ‘n selfs meer absurde situasie!

    Nee, jy gebruik jouself as kriterium: jy stem nie saam met wat ek skryf nie, en eerder as om die argumente te weerlê, probeer jy my stilmaak deur jou te beroep op akademiese kundigheid en spesialiteit (my gebrek daaraan). As jy met my saamgestem het, sou my gebrek aan kundigheid nie ‘n probleem gewees het nie. Dus: die kundiges is diegene wat saamstem met De Lange; die onkundiges is diegene wat van hom verskil. Erger: wanneer hulle van jou verskil weerlê jy nie hulle argumente met jou kundigheid nie, maar deur hulle te beledig.

    Dit sou bloot ‘n irritasie gewees het, iets om te ignoreer, maar hierdie poging om kritiese debat oor belangrike vrae te ontduik bloot deur eie kundigheid en akademiese spesialisasie uit te basuin, as uitsluitingsmeganisme te gebruik, is aan die hart van hierdie debat.

    Ek weerhou my meestal daarvan, selfs wanneer debatte skerp is, om persoonlik te raak. Ek dink egter dit is wel gepas dat iemand hom ‘n slag – in die openbaar, want dit is oor jou deelname in daardie domein, nie oor die kwaliteit van jou persoonlike verhoudings nie, waaroor dit gaan – uitspreek teen jou beledigende, venynige styl. Jy het by meer as een geleentheid al op hierdie webblad moes om verskoning vra vir jou beledigings, so jy weet en almal weet waarna ek verwys.

    Behalwe dat dit die meriete van jou standpunte en die waarde van jou bydraes ondermyn, is dit gewoon net onaangenaam. Ek is seker jy is ‘n goeie en geliefde vriend; ek is dit ook. Dit is nie nodig vir ons openbare gesprekke om so onsaaklik en gemeen te word nie.

  69. Leendert Dekker :

    Kan hierdie vuvuzelasimfonie nie maar klaarkry nie?

  70. Johann :

    Goed dan, ten slotte: dit gaan vir my oor die vervlakking van die openbare diskoers tot ‘n bulletin board geklets waar die wêreld & sy vrou hulle sê kan sê sonder om noodwendig enige insig aan die dag te lê. Die oop gesprek is vir my per se ‘n gesprek tussen kundiges & ingeligtes. Ek het nooit beweer dat kundiges nie buite hulle veld mag gesels nie, net dat hulle kundig is.
    Ek het my nêrens oor my persoonlike akademiese kwalifikasies of geskiktheid uitgelaat nie behalwe om te sê dat ek die een & ander langs die pad opgetel het nie. Ek het myself nêrens verhef bo die norm nie, of voorgehou as goue standaard nie.
    Ek neem dan ook uiters selde of ooit aan hd openbare debatte deel want hulle haal selde indien ooit die vlak van diskoers & word deur altyd die bekende gesigte oorheers.
    Maar elke dan & wan bereik my irritasie kritieke massa & dan reageer ek (teen ny beter wete in, maar o heilige ongeduld, ek kan nie swyg nie). So wanneer ek skryf, is ek de moer in & ek draai nie doekies om nie. En ja, as ek by geleentheid fouteer, misverstaan of ekstra inligting kry, dan vra ek verskoning. In hierdie geval sal dit nie gebeur nie.
    Ek dink steeds dat in stede van boeiende diskoers, die tipe wat mens nie kan neersit nie & voel jy wil die skrywer gaan omhels omdat hy of sy jou n waardevolle insig bygebring het of jou kennis verbreed het, ons hier nog steeds meestal ‘n gemoedelike geklets het. Dat byna almal mekaar se halfgebakte idees applous gee, of by dit of dat n diepsinnige vraagteken plaas. Maar dis n diepte wat bedrieg. ‘n Welkome uitsondering is Leon Retief.

    Wanneer ek ‘n gesprek hier volg, vra ek myself af of VWLouw of Opperman hulle daarmee sou opgehou het. Die antwoord is altyd nee. Met die dood van ‘n paar geliefde & gesiene figure het die intellektuele diskoers ook gesterf. Dit het derderangs geraak in vergelyking met wat ek oorsee te lese kry. Maak dit my moerig?? You bet. En daar is ook figure wat my venunigheid laat lyk na Hoofse hoflikheid. Ek erken ek het nog oneindig baie om te leer.

    Ek belowe (njannies!) ek gaan my bes doen om hd werf net ‘n mis te gee, & ek wil vriende vra om nie wat hier aangaan, onder my aandag te bring nie. I couldnt care less. As julle probleme daarmee het, neem die vaandel op. My eie skryfwerk, & die van sommige ander, gee my oorgenoeg om te doen & te geniet. Ek wil my eerder daarop toespits & leer wat te leer is – oneindig baie – & gesprekke per e-pos te voer met digters hier & elders vir wie se werk ek respek het. So, liewe Desmond, Andries, et al, die vloer is julle sin. Laat die dekdanse & die bekdanse begin.

  71. Andries Bezuidenhout :

    Leendert, jammer dat ons so in jou ore raas. En dit op ‘n Sondag! Ek weet Johann sal hierdie nie lees nie, maar ek sal bly wees as iemand hom sal laat weet dat ek meestal die gesprekke met hom insiggewend gevind het. Ek sou dit graag verder wou voer – ek het vrae oor bv. Telkom se gesteelde koper. Ek sou ook wou praat oor digters wat mens respekteer en waardeer, maar nie noodwendig as rolmodelle beskou nie.

  72. Waldemar Gouws :

    Andries, dankie vir die verwysing. Ek sien nou hoe JM Coetzee die woord “gekontamineer” gebruik het t.o.v. skrywers onder die apartheidsensuurbestel: “Time and again they record the feeling of being touched and contaminated by the sickness of the state.” Ek wonder of jy nie eerder aan kollaborateurs gedink het nie toe jy na VW Louw en Cloete verwys het en ‘n prentjie van ‘n (gevolglik) geperverteerde kanon voorgehou het. In ‘n onderhoud met sy biograaf (in 2009) het Coetzee ‘n belangrike opmerking gemaak oor sy siening van die skrywer se posisie teenoor sensuur, wat betrekking het op VW Louw se bemoeienis toe hy met die relevante kabinetsminister gaan praat het om eerder die kundige prof. Gerrit Dekker as voorsitter van die publikasieraad aan te stel bo die ambisieuse (maar minderwaardige) A Coetzee of AH Jonker. JM Coetzee het hom so verwoord: “When one works within the system, at least one can prevent it from becoming too harsh. It happened in Russia in the 19th century. If we had known in 1960 what was going to happen, we would perhaps have behaved differently.” Die hoofstuk oor sensuur in AP Brink se memoir gee nog ‘n perspektief.
    Mens sal in Groot Verseboek en in De Vries se kortverhaalversamelings moet gaan soek vir voorbeelde van kollaborateursgetinte werke (waardeur die kanon getipeer word).
    Heidegger het geskryf dat “The work is the origin of the artist.” Ek voorsien ‘n swak gehalte klompie werke deur Afrikaanse skrywers oor so twee of drie generasies (indien hoegenaamd enige) omdat ons beste skrywers aan die af- en uitsterf is. Breytenbach, wat die Nobelprys waardig is, kry slegs twee resensies van sy jongste bundel. Die kapitalistiese rol van Media 24 in hierdie toedrag van sake is nie ‘n geheim nie.
    Kom ons stel ons voor die taal bly asmaties voortleef in mondelinge verband, met die paar Afrikaansprekende kinders in 2075 aangewese op tuisonderrig deur reisende taalonderwysers. Die leerkragte se kennis is in vodde. Een leer die kinders van VW Lou se lang struggle-gedig “Rakker.” ‘n Ander een noem as voorbeeld van die surrealisme Bruidenbag se bundel “Die ysterbul moes weet.” En nog ene verwys na ene Shakesper se outydse bestaansvraag: “To pee or not to pee.”
    Dis dalk iets om oor te wonder as daar nie meer oor die verdeling van drie staatsmagte buite verband gespekuleer word nie.

  73. Andries Bezuidenhout :

    Waldemar, jy’t vroeër verwys na waar mens die grondslag vir etiese besinning sou vind. Jy’t Badiou, Stalin en Kant genoem. Ek neem aan jy’s sarkasties met die verwysing na Stalin, maar dit het my nietemin aan ‘n briljante boek oor sensuur in die Sowjet Unie, deur ‘n Nederlander Frank Westerman, laat dink. Ek het die Engelse vertaling van die boek gelees, “Engineers of the soul”. Sensuur in die USSR was baie meer intervensionisties as die apartheidstaat se masjinerie en een van die tragikomiese dele van die boek is ‘n bespreking van hoe amptenare toneelstukke op grond van vraelyste, wat deur gehoorlede ingevul is, beoordeel het – Westerman haal uit van die vraelyste aan.

    Ek dwaal nou af en ek is regtig bang dat ek Leendert se sensitiewe oordromme met my geraas gaan ontstel.

    As dit gaan oor letterkunde en etiek, vind ek Maurice Blanchot se essay “Literature and the right to death” inspirerend. Kwessies soos wat eens in Suid-Afrika “betrokke literatuur” genoem is, kom daarin ter sprake. Blanchot navigeer tussen Hegel en Marx en praat oor dit wat letterkunde produseer (lank voor Raymond Williams oor taal as materiële krag, dink ek) en skryf insiggewend oor die dilemmas van betrokkenheid en die noodsaak vir letterkunde om ook afstandelik te wees. As ek praat oor etiek, gaan dit vir my oor die dilemmas, eerder as ‘n universele standaard, iewers daar buite. Wat ek wel dink belangrik is, is dat daar darem ‘n gesprek moet wees oor die aard van daardie dilemmas, eerder as om die Afrikaanse letterkunde te hanteer soos wetenskaplike navorsing oor bv. akkedisse wat ten alle tye van politieke woelinge beskerm moet word.

    Ek keer terug na mense wat voor en na die Tweede Wêreldoorlog geskryf het nie om mense uit te lok nie. Ek stel nie die Holocaust en apartheid gelyk nie. Ons deel egter met Duitsland die kwessie van hoe mens met historiese trauma en verantwoordelikheid omgaan en kan uit die ondervinding leer. Maar ek dink ook ons sit op die oomblik met ‘n Weimar-tipe toestand in Suid-Afrika. Ons het ongekende vryheid – tot op die punt van dekadensie – maar die staat word al hoe meer onbeholpe en outoritêr. Ons het reeds pogroms gehad en vrae oor sensuur is nie iets van die verlede nie. Ek sou eerder my gesig na die muur toe draai en myself in my kuns wou verdiep (‘n beeld wat Blanchot gebruik), maar iets is aan die gebeur aan die anderkant van daardie muur.