Resensie: Hierdie mens (Wilma Stockenström)

In sy gebeente eg Stockenström: Hierdie mens – Wilma Stockenström

(ISBN: 9780798163736;  Prys : R 150.00, Sagteband, 64 pp,  Human & Rousseau, 2013)

Resensent: Dr. Marlies Taljard

Omslag

Veertien jaar na haar vorige bundel, Spesmase, verskyn Hierdie mens, Wilma Stockenström (wat op 7 Augustus 80 geword het) se agtste bundel poësie. By ‘n deeglike lees blyk dat die essensiële Stockenströmstyl steeds die gedigte kenmerk, hoewel die verwysingsraamwerk gekrimp het. Die handvol gedigte staan almal in die teken van “Dit wil-wil winter word” (30). Dit is gedigte oor die dood en oor afskeid in al sy verskillende en verskriklike vorme en gedaantes. Die titel berei die leser daarop voor dat die verse dalk ‘n meer persoonlike gerigtheid sal hê as wat ons tot dusver van die digter gewoond was: in die derde gedig spreek die digter byvoorbeeld haar tikmasjien aan wat haar “troue maat deur dertien dun / boekies” was – ‘n duidelike verwysing na die reële outeur.

Die openingsgedig, wat deur bladwit van die middeldeel geskei word, is ‘n gedig wat aansluit by Stockenström se siening van taal en digkuns soos dit uit die res van haar oeuvre blyk. Ek verwys hier (redelik willekeurig) na gedigte soos “Ek wantrou woorde” uit Vir die bysiende leser en na reëls soos “disparate reëls wat nie wil klont”, “‘n bek vol lig en lieg” en “stamel ek my ganse leegheid” uit Monsterverse. In die gedig “Om’t ewe” (7) spreek die digter die leser direk aan as “Geagte leser” – dit is ‘n soort voorwoord waarin die voornemende leser gewaarsku word oor die aard van die gedigte wat gaan volg: “Hulle sê terloops my verse is nie singbaar nie”, maar, soos altyd, skryf die digter ín téén die aanvaarde norme en neem sy oudergewoonte dié posisie in waar haar woorde haar van ander mense vervreem: “Sal ek my steur aan hierdie hulle? (…) Terloops, dis my om’t ewe.”

Die middelste deel van die bundel word oorheers deur gedigte oor die dood, oor minder word en oor afskeid. Die somber doodstema word meestal op ‘n satiries-ironiese wyse aangepak, soos in die gedig “Uitnodiging” (13) waarin die florerende begrafnisbedryf ironies belig word. Ten spyte van al die verskille tussen die oue en die moderne, bly die uiteindelike bestemming van die mens dieselfde:

Daar’s ‘n glimlag in sy stem.

Hy sê: kom binne, kom binne,

ons werk nie meer met linne,

dis nou as en beentjies en rook

uit ‘n vuur deskundig gestook

maar steeds vir daar doer bestem.

 

In hierdie gedig werk ritme, rym en enjambement saam om onder andere die haas te suggereer waarmee die gestorwene se liggaam uit die weg geruim word (sodat die volgende kliënt gehelp kan word) en selfs om die kortstondigheid van die lewe voor die gees te roep. As ‘n digter wat dikwels met die simbolistiese modus geïdentifiseer word, is dit nie eienaardig nie dat die dood ‘n terugkerende tema vorm in Stockenström se oeuvre. Monsterverse, wat in ‘n artikel in Literator (1990:1) deur F.R. Gilfillan beskryf word as ‘n siklus van “volgehoue ontginning van die self en die ontbloting van die monsteragtigheid van die self” (waarvan doodgaan ‘n faset is), open met “Hier kom die dik dood. Dag, my gabba” (5). Hierdie siniese, rou realisme vind ons terug in die bundel Hierdie mens, onder andere in gedigte soos “Olke bolke” (12) waarin geïnsinueer word dat die dood onafwendbaar dog willekeurig (soos deur ‘n aftelrympie) ‘n volgende slagoffer kies of in “Nalatenskap” (15): “Alles vir meneer Dood / laat die weduwee Lewe na”. ‘n Mens kry egter die indruk dat daar ‘n valse bravade, selfs ‘n weerlose spreker agter baie van die uitdagende gedigte skuil. “‘n Mat van woorde” (20) handel oor ‘n tema wat al Stockenström se bundels oorspan, naamlik die twyfel aan die woord en sy betekenis. Wanneer die mat van woorde figuurlik onder die spreker uitgetrek word, sê sy dat sy “sukkelend opstaan”. Ten slotte erken sy:

En om nie grommend te tuimel nie

klou jy, broos van ydelheid, kneukels wit,

aan betekenis en uitleg en vertolking …”

 

Met kwesbaarheid (soos uit die bostaande sitaat blyk) hang saam ‘n bepaalde besef van die nietigheid van die mens, van sy tydelikheid, toevalligheid en onvolkomenheid. In Monsterverse skryf die digter: “Ons is afspieëling van wat vergaan” en van die “armsaligheid genaamd lewe … tot stoflikheid in ewigheid gedoem”. In Hierdie lewe keer dié tema terug in talle verse: “Niemand gaan verbykom, dis ‘n gegewe” (22). In “Ode aan ‘n tikmasjien” (10) neem die spreker afskeid van haar “liewe Olivetti Lettera 22”: “Jy was my troue maat deur dertien dun / boekies, en toe raak jy verouderd, geen / tiklinte meer.” Tog vind mens in hierdie bundel geen oorbodige emosionaliteit, sentimentaliteit en selfbejammering nie. Steeds is ‘n objektiewe, selfbeheersde vertellerspersona aan die woord wat nie haar ironiserende greep op die lewe verloor nie – ‘n digter wat, in Opperman se woorde, stem gee aan haar digterlike stof in “fyn stellasies vers”.

Die digter se bewustheid van die nietigheid van die mens vind eweneens gestalte in enkele verse waarin primitiewe lewensvorme betrek word, soos “Heil die bladluis!” (18), “Nostalgie” (26), “Eenvoud is koning” (39) en “Ammoniet” (41). Haar vereenselwiging met die Boeddhisme en die strewe na die Groot Niet, sluit by bogenoemde gedigte aan waarin sy telkens die versugting uitspreek om minder as mens te wees: “A, die rus van die eensellige! Ag, om agteruit, / salig, gewetenloos, te kan ontwikkel …” (39). In “Ammoniet” (41) word ‘n toestand beskryf wat herinner aan diep meditasie waarin die ego getransendeer word: “Ek dink my in die ammoniet se gesigloosheid in, / ag my sekondes lank mateloos gelukkig en versteen. / Klaar gewees.” Eenwording met die Al word ook in die gedig “Hierdie mens” (24) vergestalt, waarin dit handel oor aflegging. Die einde van die gedig sinspeel op ‘n algehele leegmaak van die self en ‘n toestand waarin slegs die Logos (skeppingsbeginsel) oorgebly het – soos aan die begin toe die aarde leeg was:

Van hierdie mens bly net geluid oor

wat ‘n vorm soek om in te woon.”

 

Die laaste 5 gedigte in die middeldeel betrek almal die maan as simbool. Gesien in die lig van die minimalistiese onderbou van bundel, is die relatiewe oordaad aan maangedigte beslis nie toevallig nie. Dit is interessante gedigte, onder andere weens die byna surrealistiese aard daarvan, maar ook gegewe die uiteenlopende simboliese betekenisse wat die maan binne die wêreldletterkunde beklee. In hierdie reeks gedigte kan die maan, in aansluiting by die bundeltema, verwys na seisoene, siklisiteit, ritmes en tyd, waarin die volmaan, soos in die gedig “Maan aanspreeklik” (42) na volwassenheid en rypheid verwys, terwyl die sekelmaan simbolies is van die ouderdom:

Sekelmaan, groei nie,

taan nie, hang net

oopmond en wag

dat iets ingevlieg kom …” (43)

 

In teenstelling met die dood en verganklikheid wat in die voorafgaande deel van die bundel onder die soeklig gekom het, staan die maan egter soms as simbool vir onsterflikheid en ewigheid. Omdat die maan tussen die son en die aarde geleë is, is dit ‘n liminale simbool, soos sterf trouens ook is. Die maan word dikwels geassosieer met innerlike kennis, refleksie en die siel. Al hierdie uiteenlopende betekenisse speel op ‘n besondere wyse in op die voorafgaande deel van die digbundel en voeg by nabaat nuwe betekenisse toe aan gedigte wat in die eerste deel van die bundel staan. As simbool van vroulikheid en die vroulike aspek van die mens, tree die maan-simbool in gesprek met al Stockenström se vorige bundels waarin sterk vrou-gedigte staan, maar ook met die gedig “Diskriminasie” (14):

Hoekom is die dood altyd ‘n hy

en altyd die hyste hy? Nie ‘n sy

wat die beenmond rooi smeer en vals

wimpers aan haar oogkasse heg nie?

Nog ‘n voorbeeld van geslagsdiskriminasie

op Vrouedag te bespreke, suster.

 

‘n Gedig wat eweneens op simboliese inhoude steun, is die gedig “Nostalgie” (26):

‘n Rots het besluit om te rol.

Holderstebolder berg-af bonsend,

beland hy toe in geklitste wit

skuim van see. (…)

 

 Vir my is hierdie gedig besonder interessant omdat dit in intratekstuele gesprek tree met die res van die oeuvre waarin water en klip deurgaans as basiese aardelemente en beginsel van alle dinge gebruik word. Water is ‘n bekende simbool van eenwording met die Al, terwyl klip by Stockenström simbolies verwys na die voortalige bestaan en die beweginglose “dans tussen my vriende die rotse”, soos die digter dit in Vir die bysiende leser in die gedig “Vrug van klip” stel. Binne die konteks van ander water- en klipgedigte soos dit in ander bundels voorkom, impliseer ook hierdie gedig (onder andere) nouer kontak met die natuur wat ten beste op ‘n pre-refleksiewe vlak bereik kan word.

Die meeste gedigte in die bundel is relatief kort, vertoon ʼn sterk koherente struktuur en getuig van buitengewone aandag aan vormgewing en veral strofebou. Die streng en strak komposisie van vorige bundels word in hierdie bundel voortgesit. Ek mis egter die vitaliteit wat vantevore in byna elke gedig teenwoordig was. Vir my is die waarmerk van Wilma Stockenström se digkuns dat die woord deurdring “selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg”, soos Paulus dit in Hebreërs 4 stel. Só was haar vorige bundels en dié kwaliteit is steeds in die gebeente van hierdie nuwe bundel aanwesig: enkele gedigte in Hierdie mens laat die leser steeds skrik deur die naakte, skreiende waarheid daarvan. Ek dink veral aan die ysingwekkende “Hoor hierso” (16):

Nee, my ou suikerpot, my skuimpie, my Lyle’s Golden Syrup,

die lewe is nie net soet nie, die suur kom etsend by,

die bitter is soos heksverdriet, van lag maak dit broek nat,

want die dood is massavermaak en denke ‘n mank stut.

(…)

 

Een van die mooiste gedigte wat ook die bundeltema en die meeste van sy geledinge in hom bevat, is die slotvers wat, volgens die biografiese besonderhede waarna verwys word, gerig is aan die digter se oorlede man, Ants Kirsipuu. Hier sien ons ʼn sagter kant van Stockenström, hoewel dit ook hier aan ironie nie ontbreek nie. Ek haal ten slotte dié meesleurende, melankoliese gedig met sy ryk vokale in sy geheel aan:

Die woude van jou verlange het geruis,

donkerstemmig, van hordes en ridderordes.

Spieëlings, water, riete en tussen storms

die gelyke kalmte: só deur jou vertel

in jou tiende taal, ver ver verwyderd

van Oeral-Altaïes, klinkersangerig

op dorpspleine met klein fonteine,

op visserskuite, op weiveld en rogland,

in ou stede met ringmure en dik wagtorings.

Min het jy kon raai dat ons hemelse

blou oor rante en vlaktes jou sou vang,

en hou, tot die dood toe, hier.

 

 

 Resensie geborg deur :

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Resensie: Hierdie mens (Wilma Stockenström)”

  1. Joan Hambidge :

    Baie goeie resensie van ‘n deurwinterde digter se werk. Ironies, maar ook weerloos. En die aanspreek van die dood word goed en oortuigend gedoen.

  2. Ampie Coetzee :

    Ek het nog nie die bundel gelees nie; maar ek kry die indruk dat ons hier weer ‘n Wilma op haar ironies/satiriese beste kry – veral met haar gedigte oor die feilbaarheid van die woord – soos by alle digters wat primêr na betekenis soek. Ook deur haar metafore.

    Dat haar verse hier aansluit by die vorige
    bundels, het Dr Taljard deeglik nagegaan. Meer volledig as wat mens dit uit die aard van ‘n resensie sou verwag

    Dankie, so ‘n resensie is betekenisvol.

  3. Marlies Taljard :

    Dankie, Joan. Daar is steeds baie om oor na te dink in hierdie bundel.

  4. Andries Bezuidenhout :
  5. Andries Bezuidenhout :

    Louise Viljoen en Joan Hambidge in Media24 se dagblaaie:
    http://www.beeld.com/bylae/2013-08-25-blik-op-die-mens-in-doodgaanseisoen

  6. Andries Bezuidenhout :
  7. carina van der walt :

    Dankie vir hierdie resensie, Marlies. Ek vermoed jy’s die tipe leser waarvan elke digter droom. In afwagting van my eksemplaar van “Hierdie mens” het ek weer “Vir die Bysiende Leser” gelees en die organiese vitaliteit in baie van haar waarnemings slaan soms my asem weg. Hier in Nederland word deeglik kennis geneem van Wilma Stockenstrom se nuwe bundel. Sy het ‘n klein, maar besonder uitgelese, groep ondersteuners.

  8. carina van der walt :

    Dankie vir die skakels, Andries!