Breyten Breytenbach. Kleinreis: Waarheen vlug die voëls in die somer?

Kleinreis: Waarheen vlug die voëls in die somer?

(vir die jong heiligdansers, en vir Andries Bezuidenhout)

 

‘n Gedeelte van Toskane wat minder bekend is as die poskaart-skouspelagtige landskappe in die omgewings van Pienza, Siena, Grosetto en dies meer, is die Casentino. (‘n Teorie vir die oorsprong van die streeknaam ‘Toskane’ is dat hierdie ryk en vrugbare streek die vroeëre hartland van die Etruskers was, en indien jy diep sou grawe kry jy nog steeds tekens van hulle aanbiddingsplekke en grafte. Maar dit nou tersyde.)

Mooi wêreld. Sowat 200 jaar gelede het ‘n Duitse reisiger so berig oor hierdie legkaart van heuweldorpies elk gemurmel langs nou straatjies  rondom ‘n kasteel of ‘n kerk, plaashuise gepunktueer met sipresbome en vergesigte van agtermekaar wingerde en olyfboorde waarvan sommige seker eeue oud moet wees:

“’n Landskap so groot en so ryp met soveel voue en deinings en wydte en variasie, met so baie geskiedenis geskoei deur die mens se hand en skoffelpik en verbeelding, met so ‘n ligrykheid en die verskuiwing van wolke se spore en verkleding op die aarde – dat daar geen maan nodig is om afstand en dimensie te verleen nie, dat maan trouens ‘n indringer sou wees.”

Die Casentino vallei dieper land-in noord-oos van Arezzo is ruwer, steiler en meer bebos. Van Arezzo gepraat (die lewe bestaan uit sywaartse bewegings): gaan besoek gerus daar die Basiliek van San Francisco waar Piero della Francesca tussen die jare 1452 en 1466 sy meesterlike reeks fresko’s, “Die Legende van die Ware Kruis”, geskilder het. Verkneukel jou, vergeet van asemhaal, kyk na die details, laat jou desnoods ophys in ‘n katrolsitplank om die hoër tonele van naderby te besigtig soos ‘n wafferse Juliette Binoche in die verfilmde weergawe van Michael Ondaatje se “The English Patient “. Huil van ontroering. (Ondaatje, verduidelik ‘n dame van Sri Lanka vir my, ontleen sy familienaam aan die sg. Burgers, ‘n Sri Lanka kaste van gemengde Nederlandse en inheemse afkoms – ‘n groep wat, so sê sy, aan die Kaap bekend sou staan as “mense van kleur.”)

Hoog in die Appenynse ruggraat van berge bo die Casentino is die oorsprong van die Arno, daardie rivier wat uiteindelik onder die brûe van Firenze sal deurvloei. Die vallei was die toevlugsoord van politieke vlugtelinge uit Firenze, soos Dante en Petrarca.

(Sywaarts: ek het nie geweet Petrarca, bekend vir sy sonnette in die Toskaanse dialek, het in 1341 ook ‘n lang epiese gedig in Latyn geskryf met die titel Africa nie!)

Dante het hom in jare ‘n raps vooruitgegaan. Na 15 jaar se ballingskap, dit was Meimaand 1315, kry Dante berig dat hy toegelaat sou word om terug te keer na sy geliefde stad, toe bekend vir onluste, opstande en wraak. Hy wys dit egter van die hand omdat die voorwaardes oneerbaar was. “Ek sal nooit weer Firenze binnekom nie. En dan? Miskien sal ek nie weer die sterre se lig sien nie? Kan dit wees dat ek nêrens anders in die wêreld die soet waarheid onder die hemel sal kan bepeins tensy ek terugkeer na my stad nie – sonder glorie maar tot skande van die Florentynse volk? Ek sal tog nie sonder brood gaan nie.”

Die Florentynse stadsowerhede het nie op hulle laat wag nie. “In die naam van God, amen,” word Dante Alighieri en sy seuns en saam met hulle al sy bondgenote tussen die ouderdomme van 15 tot 70 jaar in hulle afwesigheid vir minagting gevonnis: sou hulle ooit weer ‘n voet in die stad sit moet hulle “na die plek van teregstelling geneem word om daar onthoof te word sodat hulle mag sterwe.” Belangriker nog: daar word beslag gelê op al hulle besittings.

Maar ek loop die swerwerskap vooruit.

Na berekening is 1267 Dante se geboortejaar. Hy was nog jonk toe die feodale magstelsel van sy tyd uit die hande van adellikes en grondeienaars geneem is om vervang te word deur die Renaissance oorheersing van winkeliers, ambagslui en die kapitalisme. Terugskouend sou mens kon sê dit was die begin van die groot Vooruitgang afdraend. Vir hom moes dit ‘n sorgvrye jeug gewees het en hy sou later baie terug verlang (“Geen groter pyn dan om die gelukkige jare in tye van nood te onthou nie”) na die stad waar die Fees van Sint Johannes ‘n goeie twee maande elke jaar gevier is met opvoerings, dans- en eetpartyjies, en veral die vermaaklikhede aangebied deur “die Geselskap van Liefde” wat ‘n duidend lede gehad het en in wit geklee al bokspringende elke dag in optog deur die stad beweeg het met allerlei musieke om die bevolking te behaag.     

Dante was glo nie baie lank nie, maar fiks genoeg en goed afgerig in die kunsies van ruiterskap en hoe om die lans, die swaard en die knots te gebruik. Dit sou hom goed te staan kom toe hy as 24-jarige in die eerste linie van die Florentynse kavalarie teen die Ghibelliene van Arezzo moes veg tydens die veldslag van Campaldino, 1289. Hy het daarbenewens ‘n netjiese handskrif gehad en musiek het hom tot trane ontroer.

In 1285 trou hy met Gemma; saam sou hulle vier kinders hê – Giovanni, Jacopo, Pietro en Antonia. Hy begin reis na ander stadstate. In 1290 sterf Bice, die dogter van Folco Portinari, die gevierde Beatrice van sy reeks lirieke wat hy bundel en laat publiseer in 1294 onder die titel van Vita Nuova. Hy studeer filosofie (“My gesig was moeg van al die lees en my oë was so aangetas dat die sterre naderhand dynserig geword het”) en begeef hom wellig toe al in die politiek. Die res is ellendige geskiedenis – deurstraal ook met sy al hoe suiwerder wordende skryfwerk – armoede, afhanklikheid van die gunste en gawes van skelm samesweerders en ander beskermhere en borge, verlammende liefdes-ervarings, later van tyd ‘n rustelose gedwaal deur Italië op soek na strategiese alliansies teen die Swart Guelfs aan bewind in Firenze, die faksie wat die belange van die nuwe bourgeoisie verteenwoordig het. Dante se party was die Wit Guelfs. Sy ballingskap dateer uit 1302 toe hy tydens ‘n uitstedige diplomatieke sending voor die hof gedaag en skuldig bevind word aan bedrog, geldvervalsing, ensomeer. Hy wou of kon nie die boete betaal nie en is toe al veroordeel tot die brandstapel.

Eintlik is sy lewensgeskiedenis af te lees van sy geskrifte.

Hy steek pen in die dak, nogmaals op ‘n vergeefse sending om steun te probeer werf, in Ravenna, die 14de September 1321.

       (Saam met Dante en Giovanni Dodd, ‘n Brits-Italiaanse digter, net buite die Poppi Kasteel.)

 

* * *

  

                lig daag oor heuwels en valleie

                asof die nag se donker kleed

                uitgebrand het tot as:

                in die laagtes smeul ‘n rokie soms

                van die see se kant af,

                kom ‘n geel gloed stadig oor die wye wêreld

                van heuwels en valleie en landerye

                en breë plat riviere,

                laag na laag

                soos die donkerblou huid

                van ‘n ander afwesigheid,

                ‘n ander aanwesigheid,

                weggeskeur word:

                soms kan jy die geluid hoor

                in ‘n ritseling van voëlvlerke

                hoog in die lug,

                bergswawels wat hulle versadig aan lig,

                of ander vlugtelinge op pad

                na die koelte van bosse

                waar flardes van die vel

                weggesteek sal word

                soos ‘n verbleikende vaandel

 

 * * *  

 

 Ons ry deur ‘n magiese woud teen die steil berge uit en kom by ‘n kloosterdorp met die naam van Camaldolesi. In die “Antica Farmacia” waar die monnikke se brousels en konkoksies van plante en heilige water verkoop word (in Dante se tyd al was die eintlike stryd dié teen die Pousdom se aardse houvas op die mense), maar ook swaeltjies en ander voëls wat hulle uit hout sny en dan helder beskilder, trek ‘n langwerpige glaskas (so lyk dit) ons aandag. Dis smal, regop, en van bo tot onder agter ‘n valerige glaspaneel wat dien as deksel of as deur. Bo die kas teen die muur is daar ‘n bordjie wat dit beskryf as “Die Spieël van die Lewe”. Dan sien ons binne-in skaars uit te maak die volledige skelet van (so word ons vertel) ‘n 25-jarige vrou van gemiddelde lengte. Die geraamte is glo 150 jaar gelede in hierdie uitstekende kondisie opgegrawe. Waar? In sierletters staan daar verder op die bordjie geskryf, so iets in die trant van: “Nou kyk jy in ‘n troebel spieël maar binnekort van aangesig tot aangesig.”

Die aptekerin agter die toonbank is blond, mollig en Italiaans mooi. Sy sê sy is toevallig ook 25 jaar oud.

 

 

* * *   

 

 

(someroggend in Ortignano – vir my gasheer, my mede-reisiger)

 

die pere hang in die boom

en aan die lig

om met die somer

                                              vol rypheid te word

 

die somer se wit wolke

                                                het hulle gang

oor die groot land van heuwels

                                                en landerye

en af en toe bou hulle saam

                                                ‘n kasteel

van ruimte gerammel en die skyn

                                                van ligflitse

 

die voëls het hulle sang

elkeen soort vir soort

oor slote en sonvlekke

                                                van die verstand

 

ek sou vir jou ‘n woord of twee

                                                kon vang

as my aandeel van die somer

 

* * *

 

Mens sou jou verhaal so lank kon maak soos Dante Alighieri se omswerwings, so kompleks soos sy illusies en sy politieke skuiwe, sy vrugtelose soeke na bondgenote teen die vooruitgangers en kapitaliste wat van hom ‘n bedelsanger gemaak het, so uitgesponne soos sy metafore, so klokhelder soos sy metafisika en dalk so donker soos sy mistiek. Mens wens jy kon dit so silwerig en presies maak soos sy poësie (nie sy briewe nie), meestal in terza rima neergepen en in alle opsigte so vloeiend aktueel soos die gedigte van ‘n Raymond Carver, en met net soveel ruimte vir die insidentele detail en dit wat op die wieke waargeneem en vasgeskryf word. (Die gedig as voëlent vir nagsangers.)

Maar mens kan nie.

Laat my dus die Romena probeer uitklim.

Die vaevuurberg. Purgatorio is hier geskryf, sekerlik die eerste vier-en-twintig ‘canti’ of gesangeverse, in die tyd toe die Conti Guidi broers vir Dante onderdak gegee het. Wanneer jy die Romena besigtig vanaf Porciano of Pratovecchio, of as jy daarna sou kyk van Poppi se kasteel se kant, dan moet jy jou die neëntien torings en drie sirkels van buitense skanse probeer indink, en die klipmure wat bietjie laer af die terrasse afgemerk en bestendig het en nog net bespeur kan word onder braambosse en ander onkruid. Dink verder en verbeel jou jy sien vir Dante agter een van die kasteelvensters staan, met ‘n uitsig noordwaarts na Pratovecchio, en dat hy besig is om die berg te skets.

Jy weet hy het hier gebly. Jy kan jou voorstel dat die sirkel van drie skutmure en dan die dalende terrasse helling-af na waar die Arno en die Fiumicello vloei vir hom ‘n inspirasie was vir Purgatorio. Jy stel jou voor dat hy daardie stroom sterre gesien het wat nou nog daar is en dat sy hart donker was van onbeloonde liefde. Dieselfde sterre sal weer opduik in Paradiso Canto XXII as voorlied tot die Fiumana di Luce (“Die Rivier van Lig”.) Ook in ander gedigte. En wanneer hy in sy Inferno XXX verwys na die spruite wat van die groen heuwels van die Casentino na benede by die Arno aansluit, dan weet jy hoe belangrik Romena in die skrywe van sy Divina Commedia was.

(Die lewe is beweging: Met ‘n paadjie skuins langs een van die oorgroeide mure kom ons uit by die Branda Fontein – of wat dan daarvan oorgebly het. Uit die klippe syg ‘n lekseltjie water. ‘n Boer of ‘n skaapwagter het ‘n krip hier gebou om die lek-water op te vang vir sy diere. Langs die fontein is ‘n marmerblad teen ‘n rots met ‘n aanhaling uit Dante se Canto XXX.

                Ma s’io vedesi qui l’anima trista

                Di Guido o d’Alessandro o di lor frate

                Per fonte Branda non darei la vista

 

                Maar indien ek die droewe gelaat van Guido

                Of Alessandro of hul broer hier gade kon slaan

                Sou ek dit nie wil mis vir al die water van Branda nie

 

Dis duidelik dat Dante nie die kasteelmenere – die derde broer hier is Aghinolfo – aan sy boesem vertroetel het nie. Op ‘n stadium het hulle ‘n vervalser gehuur, ene Meester Adam, om Firenze se munte na te maak en so die stad se ekonomie te ‘Nigeriseer’. Die vervalste floryne had aan die een kant ‘n afbeelding van Johannes Doper en op die keersy die Franse lelie. Toe Adam op heterdaad betrap is het die broers hom opge-offer en op die brandstapel laat omkom. Vandaar seker Dante se renons in die broers: hulle duik behoorlik geswael in sy hel op . Mense het destyds nogal ‘n obsessie met verbranding gehad! Hoër op in die berge is daar darem ook ‘n gehuggie met die naam van Omomorto, “dooie man”, waar die kleinvolk nou nog klippies pak op ‘n stapel ter herdenking aan ‘n inkommer wat ten onregte daar aan die vlamme uitgelewer is.)       

 

* * *

 

Toe die daglig daal en dit reeds sterk skemer, toe die land gevou word in skakerings van diep groene en grys en potblou, loop ons die steilte uit na waar die Romena Castello soos ‘n donker aanwesigheid te bespeur is. Jy vermoed meer as wat jy kan uitmaak. Op ‘n ander manier is dit asof mens hier langsaam klim deur ‘n laning hoë sipresbome soos versteende vure alkant na waar Dante en sy gids Virgilius kon neerkyk op die kolkende gesukkel van die condition humaine.

               

 

(Al sy skryfwerk hier was darem nie net visionêr of veroordelend nie; Virgilius het hom taks teruggebring aarde toe na meer verdraagsaamheid. In sy De Vulgari Eloquentia is daar bv. ‘n passasie wat ook vandag nog van toepassing sou kon wees selfs in Suid-Afferka waar gespikkelde kapokkies  kekkel asof hulle vir die eerste keer eiers gekraam het, en dat daardie eiers enig van aard sou wees: “Nou, aangesien die Toskaners die mees berugte slagoffers van hierdie geestelike beneweling is, is dit beide van pas en nuttig om die volkstaal/straattaal wat gebruik word in die Toskaanse stede een vir een te ondersoek, en op hierdie manier die blasie van hulle ydelheid te laat bars.”)

Byna niks het oorgebly van die eens imposante kasteel met torings en borswerings nie. Dante se party, die Wit Guelfs wou met alle geweld hulle terugkeer na Firenze forseer (“going home to where it’s better than before,” sou Leonard Cohen sing), maak gemene saak met die Ghibbelliene, en teen Dante se beterwete en advies dwing hulle ‘n veldslag af waar hulle liederlik uitgewis word. Lyke gestrooi oor die rivierwalle. Daarna word die kastele en torings en vestings in die Casentino omver gegooi en gelyk gemaak met die geskiedenis. Van Romena is net ‘n homp tussen sipresbome teen die aandhemel nog afgeteken.

Krieke voorsien ‘n koor van skraapgeluide.

Met die helling af na benede langs die pad wat deur die vallei kronkel is ‘n goed bewaarde, strak en eenvoudige kerkie in die Romaanse styl (pieve) gebou. Dis seker dat Dante hierdie kerk geken het. Langs die weg boontoe het ons ‘n staalpen met ‘n geboë nek in die grond langs die pad gesien. Aan die boog was daar ‘n leë voëlkoutjie opgehang, van yster gemaak en met ‘n rooigeverfde deurtjie wat toegesweis was. Langsaan was daar ‘n bordjie met ‘n gedig van Szymborska.

‘n Paar dae later het ons (Yolande, Giovanni, Dante, Adam en Gufo) teruggekeer soontoe om foto’s te neem. ‘n Priester in burgerdrag, verantwoordelik vir die papplaas langs die kerk – die sentrum vir herstellende dwelmverslaafdes – was besig om saam met ‘n span jong mense ‘n lydensweg teen die heuwel uit te lê met die Szymborska gedig as eerste stasie. Hy het ‘n ware passie vir gedigte.

 

                in die kreupelhout het sy

                ‘n koutjie vir die bosduif gekry:

                sy het dit gevat en hou dit nou

                sodat dit leeg mag bly

 

      

 

 

* * *

 

miskien is elke oggend se gloed

die na-lig van gisters wat uitgebrand is

tot hierdie lig-geel asvlokkies

 

miskien is elke aand selfs wanneer die koepel

                                                skoon oor ons strek

die oond waar alles uitgebrand het

en net kole nog hier en daar gloei

sonder herinnering of verbintenis

 

miskien is die nag die knettering

van dit wat ons verlede noem

die dorre bewegings maar ook die groenhout

en verlepte liefdesblomme

die klere wat ons gedra het om die wêreld te ontmoet

die musiek wat soos ‘n vergeet deur ons harte

                                                geklop het

die krete op ons lippe

sodat ons die ooglede toeknyp teen die bitter rook

en die verwarring van niks meer te wees nie

 

elkeen het gepoog om ‘n verbygaan vas te lê

soos asemhalingtekens in as en in stof

en die gebeentes self het woorde geword

om soos geheue weg te waai in stof en as

 

en ons nie meer daar is nie

al ruik ons soms nog die vlees op die tong

en ons nooit hier was nie

want ons het blind teen die besetter geveg

ons het ons borste vir die duisternis ontbloot

 

miskien is almal wat ooit bestaan het

die statige wals die dreun van tromme

die wekroep tot weerstand

die rose van wonde

die reuk van vars koffie

miskien is alles wat was altyd hier

in elke oggend se gloed

van gisters wat uitgebrand het

 

miskien is ons alles net soos ons niks is

miskien het ons verskriklike vleeslike kennis

‘n wind verby die verbygaan van onthou

miskien het die swart voël in die tuin van nou net

se roep vervlietend geraak aan betekenisbegin

 

maar hoekom dan die treurige lied?

 

 

* * *

 

op die vooraand van ons vertrek uit Toskane

terwyl krieke heuwel-af uit volle longe fluit

omdat ons so aanmekaar onkant speel

 

nog gou die goue maanvrug uit die vyeboom gepluk

want mens wil dit nie daar so hoog in die takke

                laat verrot

en die stoep bemors nie:

die berghange het reeds donkerte genoeg –

om dit môre vroeg in die knapsak saam te dra

voor die oggendster weet van die voël se snik

 

 

Toskane, 7-16 Augustus

 

[© Breyten Breytenbach / 2013]

 

Bookmark and Share

14 Kommentare op “Breyten Breytenbach. Kleinreis: Waarheen vlug die voëls in die somer?”

  1. Melanie Grobler :

    Breyten, dis middernag en ek lees jou skryfsels terwyl ‘n magtige storm buite woed. Ek lees jou skryfsels, so wonderlik mooi! baie dankie, Melanie

  2. Desmond :

    Onthou ek nou daardie aangrypende toneel in The English Patient… en Degenaar se bespreking daarvan destyds. Aangrypende stuk hierdie, Breyten, dankie. O ja, jou “terwyl krieke heuwel-af uit volle longe fluit” laat my dink aan Bob Dylan se “crickets talking back in forth in rhyme”.

  3. My getuigskrif – vertaling van ʼn gedig deur Ko Un
    (hierdie een vir Breyten Breytenbach)

    Somtyds droom ek
    as die pelikaan oor die Indiese Oseaan wegvlieg.
    Soos my vader destyds in ons tuisdorp
    droom ek
    in die donker as lig agter die son verdwyn.
    As ek uit die droom wakkerskrik
    fluit ek soos ʼn telefoonlyn in die wind.

    Tot nou toe het ek teen drome baklei;
    selfs in my drome
    het ek drome probeer afweer.

    As ek destyds maar besef het,
    sou ek verbygaande drogbeelde of
    gedagtes uit kon werp.
    Wat oorbly, bly oor.

    Ek het
    fosforflitse snags op die see sien skyn.
    Ek het
    die wit tande van branders gewaar
    wat skaars in die duister glim.

    Wat oorbly, bly net oor.
    Soos die moeder en haar suigeling
    het ek dit gesien,
    glimmerend soos fosfor
    en dan weg.

    Nou aanvaar ek drome,
    nie net wat oorbly nie.
    Ek droom
    gister was
    nie vandag nie,
    vandag is
    nie môre nie.
    Ek droom net van môre.

    O, die goeie aarde is ʼn graf vir ervarings.

    Na Clare You en Richard Silberg se vertaling “My Resume” uit: Ko Un, The Three Way Tavern: Selected Poems (2006, University of California Press), pp. 20-21.

  4. Waldemar Gouws :

    verbysterend verhelder vanaf Dante se verlede tot Cohen se toekoms via Breyten – baie dankie

  5. Johann Lodewyk Marais :

    Baie dankie vir hierdie Dante-reis, Breyten.

  6. Leon Retief :

    Dankie van my kant ook Breyten

  7. Johann Lodewyk Marais :

    Ek lees nou Steve Ellis se helder en uitstekende vertaling van Dante Alighieri se “Inferno”.

  8. René Bohnen :

    O, hoe heerlik om die dag hiermee te kon begin! Dankie, Breyten, ek druk hierdie stuk nou uit en gee dit geskenk vir iemand wat vandag verjaar. Inderdaad ‘n reis wat tot diep nadenke stem.
    Dankie ook, Andries, vir die Ko Un vertaling!

  9. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie vir julle saamreis – en dankie vir die Ko Un gedig, Andries. Daardie fluitlyn soos ‘n telefoondraad gaan nog lank by my lui.

    Uiteraard het ek hier en daar kortpad gevat met die chronologie en die kompleksiteit van Dante se beweegredes. Hy het bv. ‘n hele aantal jare voor sy dood reeds die Casentino area verlaat (dit is binne bereikbare afstand van Firenze) toe dit vir hom duidelik geword het, en onaanvaarbaar, dat sy kamerade bereid was om vir hulle ‘n terugkeer te bekonkel na die stadstaat wat hulle verban het.

    Dis verstommend dat Dante so ‘n enorme leefwêreld kon bestryk – van die alledaagse na verslaggewing na liefdesvervoering na droomkonstrukte tot anderkant die mistiek… – binne die nogal streng tuglyne van die terza rima. Wys mens net jy kan alles in die poësie laat gebeur, selfs die lug van opinies!

  10. Ampie Coetzee :

    Al wat ek kan sê, is: dankie, Ouboet. Dis Mooier as ooit.
    Het jy/julle geweet dat die Paradiso en die Inferno vertaal is in Afrikaans deur Delamaine du Toit, plus verklarende aantekeninge.
    Vier indrukwekkende boeke. Dr du Toit het die vier boeke self uitgegee, as Zebra Publikasies, Kaapstad, 1990 en 2002.
    Dr. du Toit is ‘n ginekoloog.
    Hy is vereer vir hierdie vertalings in Ravenna.

  11. Andries Bezuidenhout :

    Breyten, in die volgende uitgawe suis die foondrade minder gekruis.

  12. Louis Jansen van Vuuren :

    Wat ‘n wonderlik meeslepende reis. Dankie.

    ‘Béatrice était toute ses yeux
    fixée dans le roues éternelles, et moi en elle
    je fixai mes regards, détaché de plus haut;’

  13. Annora :

    Fantasties!

  14. sebra :

    Baie dankie vir nog ‘n kyk op digterskap. Wat hierdie ou gestreepte donkie kwel, is dat skraapsugtige, magsmal sogenaande leiers steeds na al die eeue digters jag en teenstemme tot stilte probeer dwing. Sal menslike onnoselheid nooit einde kry nie, behalwe in die suiwer digterstem.