Tomas Tranströmer – vertaling in Afrikaans

Tomas Tranströmer – vertaal in Afrikaans deur De Waal Venter

 

Elegie

 

Ek maak die eerste deur oop.

Dit is ‘n groot sonverligte kamer.

‘n Swaar motor ry verby in die straat

en laat die porselein rittel.

 

Ek maak die tweede deur oop.

Vriende! Julle het die donker gedrink

en sigbaar geword.

 

Die derde deur. ‘n Smal hotelkamer.

Uitsig op ‘n agterstraat.

‘n Lamp wat glinster op die teer.

Pragtige klomp uitgebrande ervaringe.

 

Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter/2013

 



Uit die winter van 1947

 

Dae in die skool, daardie dowwe malende vesting.

In die skemer het ek huis toe gestap onder die advertensieborde.

Dan kom die fluistering sonder lippe: “Word wakker, slaapwandelaar!”

En alles wys na die kamer.

 

Vyfde verdieping, uitsig op die tuin. Die lamp het elke nag in ‘n skrikwekkende sirkel gebrand.

Ek het in die bed gesit sonder ooglede, stukke stukke films gesien met waansinnige gedagtes.

 

Asof dit noodwendig was …

Asof die laaste kindertyd opgebreek geraak het sodat dit deur die tralies kan kom.

Asof dit noodwendig was …

Ek het in boeke van glas gelees maar net die ander gesien:

die vlekke het deur die muurpapier gedring.

Dit was die lewende dooies wat hulle portrette wou laat skilder het!

 

Tot dagbreek wanneer die vuilgoed-mense kom en raas met die blikke daar onder.

Die agterplaas se vredige grys klokke

lui my aan die slaap.

 

Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter

 

.

 

Weeklag

 

Hy het sy pen neergesit.

Dit lê doodstil op die tafel.

Dit lê doodstil in die leë kamer.

Hy het sy pen neergesit.

 

Te veel wat nóg geskryf kan word nóg onderdruk kan word!

Hy is lamgeslaan deur iets wat verweg gebeur

alhoewel die wonderbaarlike knapsak klop soos ‘n hart.

 

Buitekant is dit voorsomer.

Uit die groenigheid kom fluitgeluide – mense of voëls?

En die bloeiende kersiebome troetel die vragmotors wat tuisgekom het.

 

Weke gaan verby.

Langsaam kom die nag.

Motte gaan sit op die ruit:

klein bleek telegramme van die wêreld.

 

(Uit: Den halvfärdiga himlen V – 1962)

Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter

 

DPM Botes (1937- ) het gedebuteer met Wat is ‘n gewone man (1965) en dit twee jaar later opgevolg met (1967). Twee jaar na die verskyning van Klein grys telegramme het R Schutte in ‘n Standpunte-artikel, “Moderne Sweedse poësie in Afrikaans”, Botes se plagiaat van gedigte van Tomas Tranströmer en Sandro Key-Aberg uitgewys (1969:10-13)

 

 

Alkaiskt

 

‘n Woud in Mei. Hier spook my hele lewe:

onsigbare vrag meubels. Voëlgeluide.

In die stil poele, muskietlarwes –

jy sien die woes dansende vraagtekens.

 

Ek ontsnap na dieselfde plekke, woorde.

koue bries van die hawe, ysdrake lek

aan my nek terwyl die son neerbak.

Die swaar meubelvrag  brand met koel vlamme.

 

Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter

 

Nota:

‘n Alkaïese strofe is vernoem na die vyfde eeuse vC Griekse digter, Alkaios. Dit is ‘n tipe ode bestaande uit vier rymlose reëls. Die eerste twee reëls bevat elf sillabes elk, die derde het nege en die vierde het tien.

Alkaios was ‘n tydgenoot van die digteres Sappho. Daar word gesê dat hulle minnaars was. Hulle het dikwels saam hulle werk uitgevoer in die stad  Mytilene op die eiland Lesbos waar hulle albei gewoon het.

 

 

*

 

Die reis se formules

 

Resans formler

(från Balkan -55)

Tomas Tranströmer

 

I

‘n Geruis van stemme agter die ploegman.

Hy kyk nie om nie. Die leë lande.

‘n Geruis van stemme agter die ploegman.

Een na die ander glip die skadu’s los

en stort in die somerlug se afgrond.

 

II

Daar kom vier osse onder die lug.

Geen hoogmoed aan hulle nie. En die stof

dik soos wol. Insekte se penne skraap.

 

‘n Gewemel van perde, maer soos

in die allegorieë van peste.

Niks mak aan hulle nie. En die son verdwaas.

 

III

Dorpie met klein hondjies ruik soos ‘n stal.

‘n Party-agent op die markplein

in die dorpie met wit huise wat ruik soos ‘n stal.

 

Sy hemel volg hom: dit is hoog

en nou soos binne ‘n minaret.

Slapvlerk dorpie op die heuwel.

 

IV

‘n Ou huis het homself in die voorkop geskiet.

Twee seuntjies skop ‘n bal in die skemer.

‘n Swerm vinnige eggo’s – skielik skyn die sterre.

 

V

Op die roete ‘n lang donkerte. My polshorlosie

gloei hardkoppig met die tyd se gevange insek.

 

Die vol kompartement is dig van stilte.

In die donker stroom die lande verby.

 

Maar die skrywer is halfpad in sy beeld

en reis daar, terselfdertyd mol en arend.

 

(Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter)

 

Hierdie gedig is tipies van Tranströmer se oeuvre in die sin dat dit handel oor oorgange en ‘n toestand van tussenin-wees. Mens kan die gedig lees asof die verteller op ‘n treinrit deur die Sweedse landskap is. Die geploegde lande en klein dorpies stroom verby. Die dag gaan skielik oor in die nag.

“‘n Swerm vinnige eggo’s – skielik skyn die sterre”

En dan vat die laaste twee reëls hierdie konsep pragtig saam:

“Maar die skrywer is halfpad in sy beeld

en reis daar, terselfdertyd mol en arend.”  (DWV. 20.3.2012)

 

*

 

 

Nagreis

 

Dit swerm onder ons. Treine vertrek.

Hotel Astoria sidder.

‘n Glas water langs die bed

skyn die tonnels in.

 

Hy het gedroom hy is ‘n gevangene in Svalbard.

Rommelend wentel planete.

Glinsterende oë flits oor die ys.

Die skoonheid van wondere is gevind.

 

Nattlig Resa, uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter 

Aantekening: 

Svalbard is ‘n eilandgroep tussen die Arktiese Oseaan, Barentssee, Groenlandsee en Noorweegse See. Dit is die noordelikste deel van Noorweë en baie afgeleë.

“Drömde mig en dröm i natt”

“Ek het ‘n droom gedroom laasnag” is die woorde van ‘n Deense volkslied.  Dit is in runeskrif aangeteken in die Codex Runicus – ‘n transkripsie van die Skåne – ‘n wet wat rondom 1300 geskryf is. Die lied gaan oor ‘n meisie wat droom dat sy ryk word.

Die Codex Runicus ‘n manuskrip wat in runeskrif op perkament geskryf is. Dit is geskryf rondom die jaar 1300 en bevat verskeie Deens wette wat die beste bewaar is Skåne Wet. Die Codex Runicus word in in Kopenhagen bewaar.

*

 

Eensaamheid

 

I

 

Hier het ek amper omgekom een nag in Februarie.

My motor het sydelings op die ys gegly, uit

op die verkeerde kant van die pad. Die aankomende verkeer –

hulle ligte – het nadergekom.

 

My naam, my dogters, my werk

het losgeglip en stil agtergebly,

al hoe verder. Ek was niemand

soos ‘n seun op ‘n speelgrond omring deur vyande.

 

Die aankomende verkeer se ligte was geweldig.

Helder lig op my terwyl ek beur aan die wiel

in ‘n deurskynende angs, vloeiend soos eierwit.

Sekondes word langer – skep ruimte daar –

word groot soos hospitale.

 

Ek kon amper net so bly

en ‘n oomblik asemhaal

voor ek verpletter word.

 

Toe kom daar ‘n vastigheid: ‘n bietjie helpende sand

of ‘n wonderlike  windvlaag. Die kar kom los

en swaai dwars oor die pad.

‘n padteken skiet op en knak – ‘n skerp knal –

vlieg die donkerte in.

 

Toe is daar stilte. Ek sit terug in my gordel

en kyk hoe iemand aankom deur die warrelende sneeu

om te sien wat oorgebly het van my.

 

 

II

 

Ek het lank rondgedwaal

in die bevrore Oos-Gotlandse veld.

G’n mens was in sig nie.

In ander dele van die wêreld

word mense gebore, leef en sterf

in ‘n onophoudelike drukte van mense.

 

Om altyd sigbaar te wees – te lewe

in ‘n swerm van oë –

moet daar ‘n spesifieke gesigsuitdrukking wees.

Gesig bedek met klei.

 

Die murmeling styg en daal

terwyl hulle onder mekaar verdeel

die lug, skadu’s, sandkorrels.

 

Ek moet alleen wees

tien minute in die oggend

of tien minute in die aand,

–        Sonder ‘n plan.

 

Baie.

 

Een.

 

(Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter)

 

 

 

Spår

Spoor

 

Twee-uur in die oggend: maanskyn. Die trein staan

in die veld. Ver ‘n dorp se liggies

wat koud flikker teen die horison.

 

Soos wanneer jy so diep in ‘n droom wegsak

jy nie eers kan onthou jy was daar

wanneer jy terugkom nie.

 

Of wanneer jy so diep wegsak in ‘n siekte

dat jou dae ‘n swerm flikkerende spikkels word,

yl en koud teen die horison.

 

Die trein staan doodstil.

Twee-uur: helder maanskyn, yl sterre.

 

 

April Och Tystnad

April en stilte

 

 

Die lente lê verlate.

Die fluweelswart watersloot

kruip hier langs my

sonder weerkaatsings.

 

Die enigste iets wat glinster

is geel blomme.

 

Ek is geborge in my skadu

soos ‘n viool

in sy swart kas.

 

Die enigste ding wat ek wil sê

glinster buite bereik

soos silwerware

in ‘n pandjieswinkel.

 

 

Två Städer

Twee stede

 

Elk aan sy eie kant van die smal see, twee stede

die een verdonker, beset deur vyande.

In die ander brand ligte.

Die skitterende kuslyn hipnotiseer die donker een.

 

Ek swem uit in ‘n beswyming

op die glinsterende donker waters.

‘n Dowwe tuba-klank dring in.

Dit is ‘n vriend se stem, vat jou graf en gaan.

 

 

Sorgegondolen nr 2

Droewe gondel

 

I

 

Twee ou mans, skoonvader en skoonseun, Liszt en Wagner, bly by die Groot Kanaal

saam met die rustelose vrou wat getroud is met koning Midas

wat alles verander wat hy aanraak in Wagner.

Die see se koue groen stoot op deur die paleisvloere.

Wagner is gemerk, sy beroemde Punch-profiel is moeër as voorheen

sy gesig ‘n wit vlag.

Die gondel is swaar gelaai met hul lewens, twee retoer en ‘n enkel.

 

II

 

‘n Venster in die paleis vlieg oop en mense frons in die skielike trek.

Buite op die water verskyn die vullisgondel geroei deur twee eenspaan-bandiete.

Liszt het ‘n paar akkoorde neergeskryf, so swaar dat hulle eintlik weggestuur moet word

na die mineralogie-instituut in Padua vir analise.

Meteoriete!

Te swaar om te dryf kan hulle net sink en sink reg deur die toekoms

tot die Bruinhemde-dae.

Die gondel is gelaai met die toekoms se opgehoopte klippe.

 

 

III

 

Loergate op 1990.

 

25 Maart. Angs vir Litaue.

Gedroom ek besoek ‘n groot hospitaal.

Geen personeel. Almal was pasiënte.

 

In dieselfde droom ‘n pasgebore dogtertjie

wat volsinne gepraat het.

 

IV

 

Langs die skoonseun, ‘n man van sy tyd, is Liszt ‘n motgevrete grand seigneur.

Dit is ‘n vermomming.

Die diepte, wat verskeie maskers aanpas en verwerp, het hierdie een net vir hom gekies –

die diepte wat in mense wil opstyg, sonder om ooit sy gesig te wys.

 

V

 

Abbé Liszt is gewoond om self sy tas te dra deur sneeu en sonskyn

en wanneer sy tyd kom om te sterf sal niemand hom by die stasie ontmoet nie.

‘n Ligte bries van begaafde konjak voer hom mee te midde van ‘n opdrag.

Hy het altyd opdragte.

Twee duisend briewe per jaar!

Die skoolseun wat sy spelfout honderd keer oorskryf voor hy kan huis toe gaan.

Die gondel is swaar gelaai met lewe, dis eenvoudig en swart.

 

VI

 

Terug na 1990.

 

Gedroom ek ry oor ‘n honderd myl tevergeefs.

Dan vergroot alles. Mossies so groot soos henne

het so hard gesing dat my ore toegeslaan het.

Gedroom ek teken klavierklawers

op die kombuistafel. Ek het op hulle gespeel, geluidloos.

Die bure het kom luister.

 

 

VII

 

Die klavier wat stilgebly het deur die hele Parsifal (maar geluister het) kan uiteindelik iets sê.

Sugte … sospiri …

Wanneer Liszt vanaand speel, hou hy die see-pedaal ingetrap

sodat die see se groen krag opstyg deur die vloer en saamvloei met al die klippe in die gebou.

Goeienaand pragtige diepte!

Die gondel is swaar gelaai met lewe, dit is eenvoudig en swart.

 

VIII

 

Gedroom ek moes skool toe, maar kom te laat.

Almal in die kamer se gesigte was wit maskers.

Wie die onderwyser was, kon niemand sê nie.

 

 

Ansikte mot ansikte

Van aangesig tot aangesig

 

In Februarie het die lewe tot stilstand gekom.

Voëls het gesukkel om te vlieg, en die siel

het teen die landskap geskuur soos ‘n boot

teen die brug waaraan dit vas is.

Bome het gestaan met weggedraaide rûe.

Sneeudiepte is gemeet aan dooie gras.

Voetspore het oud geword in die sneeukors.

Onder ‘n seil, vervagende taal.

Op ‘n dag kom iets na die venster.

Werk word gestaak, ek kyk op.

Kleure brand, alles keer om.

Die grond en ek spring na mekaar.

 

 

© De Waal Venter. 2011

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Tomas Tranströmer – vertaling in Afrikaans”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Wat ‘n lieflike reeks gedigte! Hulle vlieg in Afrikaans, en waar hulle vlieg gaan vreemde landskappe oop. Dankie vir die oopmaak, vir die in die lug gooi, De Waal. As ek mag vra: hoe kom dit dat jy ewe gemaklik uit twee baie uiteenlopende tale, Sweeds en Spaans, kan vertaal? (Die vlot vloei van die Afrikaans is ‘n ander kennistalent.)
    Breyten

  2. Hallo Breyten

    Dis vir my besonder lekker dat jy genot put uit die vertalings. Tranströmer se werk is regtig besonders, en soos jy sê, dit maak vir mens nuwe landskappe oop.

    Vertaling uit Spaans en Sweeds: ek het ‘n bietjie kennis van Latyn en dit het my gehelp om toegang te kry tot tale soos Spaans en Frans. Nogal interessant dat Engels ook af en toe kan help om daardie tale oop te maak.

    Ek vind dat daar sterk ooreenkomste is tussen Sweeds, Nederlands en Afrikaans. Kyk byvoorbeeld hoe maklik dit is om te sien dat “Fåglarna flög” in Afrikaans “voëls vlieg” word. (Letterlik vertaal. In die vertaalde gedig word dit iets anders. Kyk hieronder).

    Ek maak baie gebruik van masjienvertalings om my te help om die basiese struktuur van die gedig te begryp. Verder steun ek op die voortreflike woordeboeke en tesourusse wat in talle tale beskikbaar is.

    Sodra die letterlike sin van die gedig vertaal is, begin ek weer van voor en probeer die vertaling omskep in ‘n egte gedig – in Afrikaans.

    Ek steun ook op vertalings in ander Europese tale om my te help om die subtiliteite van die oorspronklike gedig te verstaan. Hier is weergawes van ‘n paar Tranströmer reëls in Sweeds, Frans en Afrikaans.

    ”Ansikte mot ansikte”:

    I februari stod levandet still.
    Fåglarna flög inte gärna och själen
    skavde mot landskapet så som en båt
    skaver mot bryggan den ligger förtöjd vid.

    FACE À FACE

    En février, la vie était à l’arrêt.
    Les oiseaux volaient à contrecœur et l’âme
    raclait le paysage comme un bateau
    se frotte au ponton où on l’a amarré.

    “Van aangesig tot aangesig”

    In Februarie het die lewe tot stilstand gekom.
    Voëls was traag om te vlieg, en die siel
    het teen die landskap geskuur soos ‘n boot
    teen die brug waaraan dit vasgemeer is.

  3. Buiteblaf Breytenbach :

    Beste De Waal: Dankie vir die insiggewende agtergrondsinligting – en jou vrygewigheid: vakmense praat nie maklik oor hulle manier en prosesse van doen nie. Jy illustreer weer hoe ‘n gedig gelei deur die hand van ‘n meester vakman deur tale kan beweeg, metamorfoseer (soos dit ‘n rustelose gedig betaam), ‘n nuwe baadjie aantrek by wyse van spreke en nog net so misterieus mooi anderkant uitkom. Wat my weer wil laat sê (ek weet dis al hier genoem) dat die essensiële aangee van vaardigheid in slypskole via die skryfdissipline van vertaalwerk behoort te geskied.

  4. Francis :

    Beste De Waal. Sou jy ook jou hand daaraan waag om gedigte uit Afrikaans in Sweeds te vertaal? Of weet jy van iemand wat dit sou kon doen? Francis

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    Francis: De Waal sal seker self antwoord. Ek dink jy het by implikasie ‘n baie geldige vraag gestel. Sover my kennis en ervaring strek is daar niemand in Swede wat direk uit die Afrikaans kan vertaal nie; sekerlik nie met die nougesetheid en aanleg en kennis wat De Waal aan die dag lê wanneer hy uit Sweeds in Afrikaans vertaal nie. Dit sou kon oorgaan in Sweeds via Nederlands – op sy beste ‘n lukrake aanmatiging, so asof mens uit Sweeds of Duits sou kon vertaal omdat jy Nederlands magtig is! Of dan natuurlik via die universele portaaltaal, Engels. Weinig kans op wederkerigheid dus alhoewel daar seker nie so baie meer mense is wat Sweeds gebruik as Afrikaans nie. (Dieselfde geld vir byna alle ander tale terwyl daar wel deeglik vertaal word uit ‘kleiner’ tale as Afrikaans. Selfs in Nederland kan jy die vertalers uit Afrikaans op één hand tel en dit hoef nie eens ‘n volvingerhand te wees nie – en dan het mens nog nie van digters gepraat nie.

    Wat is dit omtrent Afrikaans wat die wêreld se egalitêre literature en literators anderpad laat kyk? En hoekom laat Afrikaanstalige skrywers hulle dit so dikwels welgeval dat hulle werk meestal deur bemiddeling van Engels wyer vertaal word?

  6. Desmond :

    Is daar iemand wat direk uit Afrikaans in Portugees kan vertaal? Want die Brasiliane het ‘n vertaal- en boekkoopkultuur soos min, en hulle stel toenemend belang in wat ons hier aan die ander kant van die oseaan aanvang. PEN Afrikaans moet gaan kers opsteek daar…

  7. Hallo Francis

    Ek het ongelukkig nie die selfvertroue om Afrikaans na Sweeds te vertaal nie – veral nie poësie nie! Ek sal by my Sweedse vriende verneem of hulle dalk iemand ken wat kans sien vir soiets. As ek reaksie kry, sal ek laat weet.

  8. Francis :

    Baie dankie vir julle reaksie De Waal en Breyten. En jy is reg Desmond, PEN Afrikaans kan gerus ondersoek instel na die moontlikhede wat ander (kleiner) tale se (gesubsidieerde) vertaalkultuur vir Afrikaanse skrywers bied.

  9. Desmond Painter :

    Hallo Francis. Kleiner tale, beslis; maar ek het Portugees genoem juis ook omdat dit so ‘n enorme taal is. Ons kan skatryk word met ons bloemlesing “Os mais belos poemas em Africano”.

  10. Buiteblaf Breytenbach :

    Ryk genoeg dalk om elk ‘n lappie grond in Brasilië te kan bekostig – en sonde met die bure te hê as die plasies te na aan mekaar is? Ek terg nou, Desmond. Dit klink vir my na ‘n baie belowende idee of voorstel. Die paar keer wat ek voorleggings moes maak in Latyns-Amerikaanse stede was daar nog altyd baie belangstelling vir wat in Afrika ontstaan en aangaan, en dit sonder die Noorderse vooroordele of geykte sienings. Daar is netwerke wat nié deur die Noorde geïnstrumentaliseer of besoedel word nie. (En waar mense selfs nog nie eens van Lacan gehoor het nie – om nou maar te skimp op ‘n buurvrou se balhorige bok wat oor die plaasheing aan mens se angeliere peusel!) Lusofonie, bv., is ‘n vitale ruimte vir uitwisseling en verryking.) As ek dit reg het is daar in Brasilië ‘n Ministerie vir Afrika-aangeleenthede.

  11. Ek het op ‘n persoon afgekom wat die skuilnaam “Gonenative” gebruik. Hy stel daarin belang om van Afrikaans na Spaans te vertaal. Sy adres is: gonenative18@gmail.com

  12. charl-pierre naude :

    beste Francis,

    Ek het nou die aand aan George Lory gese ek wat ek nou aan jou gaan se: daar is ‘n vrou wat in Stilbaai woon, en getroud is met ‘n Afrikaanse narkotiseur, ek dink sy is heeltyds gevestig op Stilbaai. Hulle het lank in Swede gewoon. Sy is ‘n vertaler van beroep. Ek is tans in Johannesburg gevestig en kan dus nie die spoor daar vat daar nie. Twee vrae kom by mens op: In welke mate is sy literere vertaler na Sweeds? En in welke mate is sy met Afrikaans vertroud, in die lig van die feit dat sy met ‘n Afrikaanse man getroud is? Miskien kan iemand anders help met die spoor.

  13. Francis :

    Baie dankie Charl-Pierre. Ek gaan die spoor vat al langs hierdie klippies wat jy strooi. Hopelik vind ek die vertaler-van-Stilbaai!