Marlies Taljard: Valstande in ‘n glas

Die gedig Apostase in Marius Crous se bundel Vol draadwerk (2012) verbeeld die sprekende ek se afvalligheid van die Christelike godsdiens. Dit is nie toevallig dat dié gedig in die afdeling staan wat heet Aufhebung nie – ‘n woord wat vertaal kan word met “uitkansellering”, “opheffing”, “afskaffing” en “ongeldig verklaring”. Hierdie is een van die sentrale gedigte in ‘n bundel waarin spirituele kwessies deurgaans onder die vergrootglas kom:

APOSTASE

wat help dit om te kniel

as jy ‘n dwerg is by ‘n altaar wybene

want die sleutel tot die raaisels

vra vir ‘n lang lyf met goeie oë

dweiler en dweper sal ek helaas bly

hier om die slagtafel

treiteraar van die vroue

ou prewelende spreeus en mossies

met my bollemakiesies en my swetse

geen vetgesmeerde gesig en glinsteroë

vir die boggelbek-beeldpoetser van die bees nie

dus wind ek my wind en ek tiep die kelk

en vreet die liggaam van die silwer skaal

Hierdie gedig werp ook lig op die drie openingsgedigte van die bundel, Gesonke katedraal, Duiker by Ys-eiland, kus van Bretagne en Messiaen. In die openingsgedig van die bundel, Gesonke katedraal word beskryf hoe die katedraal by Ys-eiland in die see wegsink:

GESONKE KATEDRAAL

die katedraal sak af in die water

soos valstande in ‘n glas     wit grimas van steen

uit ruite en deure

van gate en openinge

van kantelende kandelare

altare wat oopkraak onder die water

die kruis wat wieg soos seebamboes

losgehaak tussen die dobberende mariabeelde

wanneer hy neergeplof het op die rug van die see

sal ek in en uit by hom kan swem

sal ek die timbre en die seegroen toonkleur van debussy

nog kan hoor

Soos ek in twee vorige blogs geskryf het, is hierdie gedig duidelik gebaseer op die legendariese gesonke katedraal by Ys-eiland waarop die komponis Claude Debussy op sy beurt sy bekende klavierstuk La Cathedrale Engloutie gebaseer het. Die digter se keuse van juis hierdie stof is om meer as een rede veelseggend. Soos uit my bespreking van die legendariese stof blyk, het die katedraal juis gesink vanweë die sogenaamde sondigheid van die inwoners van die stad Ys en hulle aangetrokkenheid tot ander godsdienste, spesifiek die Druïsme (Paganisme). Soos telkens uit gedigte in die bundel blyk, kan ook die sprekende ek van die bundel homself nie meer gemaklik met die Christelike godsdiens vereenselwig nie. Die sink van die katedraal, as simbool van die Kerk, is dus ‘n wegwyser na belangrike kwessies wat in die skering en inslag van die betrokke bundel ingeweef is.

Die banaliteit van beelde soos “soos valstande in ‘n glas” en “wit grimas van steen” dien enersyds die doel om die clichés wat gewoonlik gebruik word in verband met die kerk, die godsdiens en sogenaamde heilige simbole te ontluister. Andersyds is dit egter ook ‘n doelbewuste “vreemdmaak” van dié dinge met die oog op ‘n nuwe kyk en ‘n herinterpretasie van simbole, waardes en beginsels wat, weens hulle oorbelading met geykte inhoude, reeds versteen het en, gehul in die beeldspraak waarin hulle tradisioneel geklee word, nie meer direk tot die hart en siel van gelowiges kan spreek nie. Hulle het dus hulle oorspronklike krag verloor en daar moet iets nuuts in die plek daarvan kom. Hierdie interpretasie word ondersteun deur die speurtog van die spreker in die tweede gedig van die bundel, Duiker by Ys-eiland, kus van Bretagne en die “opkatrol” van die katedraal in die derde gedig in die bundel, Messiaen.

DUIKER BY YS-EILAND, KUS VAN BRETAGNE

in hier en uit daar swem ek

met my nuwe lyf ‘n seedier

in sy mensgesoomde pels

deur die gate en die krake

in die mure van die katedraal

gesonke

geen seeperde hou hul lyf harp hier

stil die orrel

sy pype ‘n aanpakplek van skulpe en koraal

ek voel belieg deur die burgery

waar die see op sy rug lê

hier waar ek die myters hoor dobber

die krapgeluide van die kruise as hul tuimel

hier die altare hoor oopkraak

of bybelblaaie soos wiere

flapflap in die seestrome

hier is geen klavier of fluit

hier net die asemstote wat uitborrel

voor my derde oog

van plastiek

 ***

MESSIAEN

messiaen lig die katedraal

wat debussy laat sink het

soos ‘n hand vol skulpgruis

uit die see

debussy het hom laat wegsink

soos ‘n skatkis in die geelgroen slik

maar messiaen

voor die orrel

katrol hom stadig op

op

op

op

tot op ‘n piek in darien

Banalisering en ontluistering van lank gekoesterde heilige simbole en rituele dui egter ook op verlies van geloof in dié dinge. Veral die eerste twee gedigte in die bundel wemel letterlik van beeldspraak wat dui op vernietiging en fragmentasie – ‘n losmaak van simbole uit die verband waarbinne hulle spirituele krag geleë was en ‘n metaforiese val van uitgediende gode, simbole en selfs argetipes: “kantelende kandelare”, “altare wat oopkraak”, “dobberende mariabeelde”,”die gate en die krake / in die mure van die katedraal”,”kruise … tuimel”, “bybelblaaie … flapflap in die seestrome” … Ondermyning van Christelike waardes staan in skerp jukstaposisie ten opsigte van die oorspronklike legendariese stof oor die stad Ys: volgens oorlewering het die stad met sy katedraal gesink weens die inwoners se onwilligheid om die nuwe godsdiens, die Christendom, te aanvaar; etlike eeue later is dié godsdiens – in die gedig-metafore – so aangeplak van skulpe en koraal, die inhoude so deurspek met leuens dat die oue moet sink en nuut bedink moet word alvorens dit stadig opgehys kan word. Daar moet as’t ware ‘n heel nuwe spirituele orde kom – so nuut soos die Westerse “ontdekkers” die Stille Oseaan die eerste keer vanaf ‘n piek in Darien gesien het.

‘n Herevaluering van die oue – soos in Duiker by Ys-eiland – behels nie slegs die disseksie van die bekende nie, maar ook die ontginning van die spirituele inhoude van ander godsdienste, soos gesuggereer word deur die laaste twee reëls van dié gedig. In plaas daarvan dat die spreker se derdeoog hom in staat stel om die hoër spirituele dimensies te verken, is daar slegs “asemstote wat uitborrel” voor sy “derde oog” – hierdie betekenisonderskeiding dui nie op ‘n spirituele praktyk nie, maar suggereer dat dit wat die sentrum van spirituele belewenis kon gewees het (soos in baie Oosterse godsdienste die geval is), nou slegs ‘n addisionele oog is (‘n vyfde wiel aan die wa?), wat boonop van plastiek gemaak is – ‘n stof wat gewoonlik geassosieer word met gebruiksvoorwerpe van minderwaardige gehalte, iets wat nie duur nie.

Ek het in die bostaande bespreking gepoog om slegs enkele aspekte van die ryk betekenisdimensie van die betrokke gedigte vlugtig aan te toon sonder om by ‘n rigiede interpretasie uit te kom. Dit is nou die taak van die leser om aan die hand van hierdie wegwysers stadig die gedigte te verken, die legkaart stukkie vir heerlike stukkie verder te bou en hopelik in die labirint van die verse te verdwaal. Besinning oor spiritualiteit is maar een van verskeie verwysingsvlakke in dié gedigte. In ‘n volgende blog sal ek onder andere aan die psigologiese dimensie van die gedigte aandag gee.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Marlies Taljard: Valstande in ‘n glas”

  1. René Bohnen :

    Dankie vir hierdie besprekings, Marlies – ek bêre hulle vir herlees ook, sommer saam met die bundel.

  2. Marlies Taljard :

    Dankie vir jou komentaar, René. Dis ‘n bundel wat mens nie maklik loslaat nie.