Louis Esterhuizen. Poetry International Web fokus op Marlene van Niekerk

 

Met Poetry International Web se nuutste uitgawe word daar onder andere op Marlene van Niekerk, wie se derde bundel Kaar einde September verwag word, gefokus.  In sy uitstekende – en nogal omvattende – oorsigartikel, tipeer Leon de Kock haar digkuns soos volg: “Van Niekerk’s work is distinguished by several factors, among them an almost visceral energy at the level of the individual sentence (in her fictional prose), and the poetic line (in her poetry). This is an ‘energy’ that manifests phonically – literally, in word-bending sound-effects and visually, as ‘thick’ images which are evoked in layers, at a micro- as well as a macro-level. Writing with this kind of robust intensity, Van Niekerk succeeds in capturing an almost childlike sense of wonder at the sheer audacity of, for example, a shrike, in its will to live, despite the odds.”

En verderaan, die volgende: “In Van Niekerk’s poetry, then, the ethical challenge is to explore, much more boisterously than usual, the reaches of both language and what we perceive as reality. Her poetry forces readers to expand their categories of cognition, of seeing, and of translating such amplified observation into language which is both ample and finely grained.”

Nog ‘n wins by dié oorsig is die lys met uitgebreide skakels na vele onderhoude wat met die digter gevoer was, en ook resensies en/of besprekings van haar werk. En soos gebruiklik is daar sommer heelwat meegaande gedigte om te lees.

Gaan kyk en geniet dit …

Hieronder volg een van die gedigte wat op Poetry International Web gevind kan word.

***

NAGPSALM

dis ‘n ou klavier wat die nag verklaar
dis ‘n klawerbord
by die voete van dinge
by die voete van lamppale
by die vrank voete van olyfbome
dis metronome
by die soeter voete van die suurlemoenboord
in die vlei se voet van water
onder om die riete
om die voete van die lelies
dis ‘n ou klavier
miskien is dit ‘n weefstoel
dis die weefstoel se klikkende pedale
of  smidsgetinkel
onder-in die molm van die nag
of ‘n naaimasjien met ‘n klopvoet
wat zik-zik binne-in die kuil
dis skelm jazz op klepels
dis om die voet van elke halm
minus melodie
sonder kadens
dis ‘n ou klavier
dis ‘n ou klavier
dis ‘n spikkeling onder die voetsool
dit galm
om die voet van die laventel
dis voetlepels
dis voetmusiek
van kikkers en van krieke
dis hulle wat so dingel en dienk
aanhoudend in die elm van die gras
hierby hum ek
hierby strum ek
hierby swingel ek
my nagpsalm

© Marlene van Niekerk (2013)

 

 

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Poetry International Web fokus op Marlene van Niekerk”

  1. Marianne de Jong :

    Na aanleiding van ‘n gedig in Kaar van Marlene van Niekerk

    Wáár was hierdie vrou? En dan
    nogal ‘n digter amper boeredogter?
    Sy van alle mense.
    Weet sy nie:
    hier dryf die eende pense bo
    in klotsende seewater en haak
    onverlos vas aan gereformeerde kerktorings?
    Net hier
    kan alle dyke breek.
    Die nageboortes van perde nog halfswalkend van vrugwater
    word voskuile vir antropoloȅ.
    Ook hier stink die skape van wol.
    In die geykte hol van die gedig steek
    donkerblou boere hulle hande soos in ’n koeisak
    om bloedbeploerte kallers uit te trek.
    Bokke se uiers word verlig van melk.
    Die geite word nog versit. Yswater in die stortkrane
    word effens opgewarm
    vir suidelike familiegaste.
    Weliswaar, my kleinste neef maak kaasmolens . Nog erger:
    verkoop hulle op Leicester Square in London.
    Hy dra laarse. Sy pa se klompe staan êrens opgebaar.
    Nogtans: teug die laagliggende misreuk!
    Hollandse kase is gemaak van die varsste stront,
    vrygewig gelaatloop en netjies opgeskraap. Dus
    wees versigtig digter
    terwyl jy aanslik aan die ouwe klare: een erge snotverkoue
    en jy word gelys vir euthanasia, en met die modder opgeruim.
    Jy sal bid jy word ‘n drassige weiland, dat die swerms voeȅls
    net lank genoeg mag bly om jou suidelike aars gewaar te word
    voor hulle opvlieg na Siberiȅ.
    Jy sal bid om te lê langs ‘n groen sloot,
    om te luister hoe fietswiele verbyswiep op
    die jaagpad, om ‘n droȅ boot
    te voel wik en weeg. Hierdie ansichtkaart is leeg,
    twee konsonante sonder aa. Sonder baarland.
    Jy tog moet van alle digters weet
    hiér moet mens wroet.

    – Marianne de Jong

  2. Maria Snyman :

    ‘n Mooie parodie op Marlene, Marianne. ‘n Lekker kopkrapper ook – kritiseer jy Kaar omdat dit ‘n Hollandse kaart is eerder as ‘n kaart van ons (donker) freeky AfrikA? “I fink you freeky and I like you a lot” – Die Antwoord! Skakel: http://www.youtube.com/watch?v=8Uee_mcxvrw

  3. Waldemar Gouws :

    Klink nogal na ‘n brief van ‘n paar van jou vakansies, Marianne (“so long”.) Ek hoop nie jou siening van “wroet” is bedoel as etiese vereiste nie: in die HAT sien mens daai woord beteken “Jou verdiep in verkeerde of onaangename dinge.”

  4. Maria Snyman :

    Waldemar, hoe werk jou kop? “(W)roet” beteken ONDER ANDERE “Jou verdiep in verkeerde of onaangename dinge”, want dit beteken OOK “woel, vroetel, grawe” volgens my HAT (2005/2010:1403) wat vir my weer BAIE goed en reg klink. Ons sou kon praat van woel, vroetel, grawe in ver-keerde of (on)aangename dinge, d.w.s. in dinge wat “nog halfswalkend van vrugwater” is, d.w.s. woel, vroetel, grawe in dinge wat nog in die proses van genese of generasie is. Dit klink nie net vir my lekker nie, maar ook goed en reg tot op ‘n sekere buitensporige orgiastiese vlak! Hoe meer ek die gedig lees, hoe lekkerder kry ek.

    So, instede van “so long” Marianne moet ons eerder sê welkom ““to the summons of [the secret]”” (ek transformeer hier Heidegger se woorde oor Sofokles se Antigon soos aangehaal deur Steiner (1989:145) met ‘n sekere geweld), welkom in ““becoming housed in the condition of unhousedness”” (ibid.).

    Marianne (wie dit ookal mag wees) het haar hand “(i)n die geykte hol van die gedig [ge]steek”, soos die “donkerblou boere hulle hande (…) in ’n koeisak” steek, “om bloedbeploerte kallers [en kindertjies] uit te trek” en so “Die Kortstondige Raklewe van Anastasia W” by implikasie te verleng.

    “teug die laagliggende misreuk!”

    Lieflik!

    Want, is ons nie nog “onverlos vas aan gereformeerde kerktorings [nie]?”

    Praat ons nie nog “van die varsste stront, / vrygewig gelaatloop en netjies opgeskraap” nie?

    Kortom, Waldemar – die lyntjie tussen “verkeerde of onaangename dinge” en “regte en aangename dinge” is baie dun, dit is ‘n lyntjie wat “woel, vroetel, grawe.”

    “Net hier” op hierdie baie dun en dubbelsinnige lyntjie “kan alle dyke breek.”

  5. Waldemar Gouws :

    Maria, waaroor gaan die vergelyking De Jongteks-Van Niekerkteks in essensie? Wat is enersyds dieselfde en andersyds verskillend? Of jy hier af- of opblaas hang seker van die druk, o.a., van jou entoesiasme af. Vir my lyk die De Jong na ‘n sendingstasie, didakties, heilsboodskap in die sak, en miskien genadendol. Of ‘n uitdrukking van lokale surrealisme.

  6. Maria Snyman :

    Laat waai Waldemar, wroet maar in die wind. De Jong het gedink oor ‘n gedig van van Niekerk wat ek meen ‘n sekere vrolike reg daaraan laat geskied. Gedugte denke is danke in (on)heilspellende Heidegger se diskoers se terme – “the Being of beings is the matter of Being”.

    Ek begin deesdae regtig dink Suid-Afrika is nie sommer enige plek nie – ek begin ernstig dink dat as Heidegger ooit ‘n sekere middelpunt van die wêreld gesoek het, dit Suid-Afrika sou moes wees. Dis ‘n ludieke land hierdie – ‘n land met ‘n leërskare lekkerbekkige mense op luisterryke grond wat ‘n mens lekkerkrap gee – “Die geite word nog versit.” ‘n Lendelam lendestreek, ‘n plek waar jy werklik goed kan “teug [aan] die laagliggende misreuk!” ‘n Lendedoek (alias deurtrekker) par excellence. Jy kan nie ligsku wees in hierdie land nie.

    Jy sal [nog] bid om te lê langs ‘n groen sloot,
    om te luister hoe fietswiele verbyswiep op
    die jaagpad, om ‘n droȅ boot
    te voel wik en weeg. Hierdie ansichtkaart is leeg,
    twee konsonante sonder aa.

    kr?

    Viva Suid-A-freak-a!

    Dis ‘n land wat teen sy sin maar intuïtief plek maak vir die ander, ‘n laagliggende land wat ‘n mens lighoofdig maak, ‘n plek wat passie stook in Rousseau se parallelistiese terme – terloops, dis tyd dat daar ‘n kompetisie uitgeskryf word vir gedugte gedigte rondom die tema van “slaggate”.

    wees versigtig digter
    terwyl jy aanslik aan die ouwe klare:

    (…)

    Jy sal bid jy word ‘n drassige weiland, dat die swerms voëls
    net lank genoeg mag bly om jou suidelike aars gewaar te word
    voor hulle opvlieg na Siberië.

    (…)

    hiér [móét] mens wroet.

    KRap en grawe.

    Dis ‘n sekere Sa of savoir absolu die, al is dit ook die land van son en wors.

    Dis ‘n sie-sa land die, soos “Hollandse kase”, “gemaak van die varsste stront”.

    Soos daar in Voetskrif in Die ongedanste dans (p. 51) staan:

    34
    (reisende)

    De Aar(s) is in die middel
    van die wêreld

    35

    dié spoorlyne wat langs die patatranke vloei en bloei:
    watter séér stembande moet hulle nie wees nie!

    36

    hy sal onthou –
    (…)

    Gepraat van lokale surrealisme, wat is daar anders? Lokale is surrealisties, ‘n finiteit in ‘n infiniteit. Freaky!

  7. Waldemar Gouws :

    Maria, jy’t dikwels die Heideggerhef in die hand. Maar onthou jy hoe Jung se hare op die lughawe gerys het toe hy die slag in Nairobi uit die beskutting van die westerse vliegtuig geklim het? Ek vermoed Heidegger sou eerder Delphi as middelpunt van die wereld verkies het ver bo Suid-Afrika. Hier is baie naeltjies met goue ringe en al, maar nie ware jakob nie.

    Wat sal jy daarvan dink om na die De Jonggedig te kyk in terme van al die suggesties van klasse- en ideologiekonflik? Kyk na die wrewelige definiering van waar ‘n materialistiese lojaliteit geposisioneer is, en die nefie wat as kapitalis in Londen hom ‘n sterk mate van afkeuring op die hals haal.

  8. Marianne de Jong :

    Dankie Maria S vir jou lekker opmerkings omtrent my gedig wat, terloops, die gevolg is van die aansteeklike klank en taal van Kaar.