Resensie: die agste teken

 

Die agste teken  –  Basie Duvenhage (ISBN: 9780620560344; R130, Inset Uitgewers, 2013)

Resensent: Tom Gouws

 

N GEMEENSAME ANNERLIKHEIT, ‘N TUISLIKE STEM 

Die Afrikaanse literatuur het ‘n uitsonderlik ryk tradisie van taalvariëteite, streekstaal, en gevolglik het ons ‘n skat van diverse kontreikuns. Ook in die poësie het die stem van die volksdigter nog altyd ‘n belangrike plek ingeneem. Voor die Afrikaanse digkuns nog regtig formeel beslag gekry het, het S.J. du Toit, een van die oervaders van Afrikaans, as ‘t ware profeties-akademies beslag gegee aan die belangrikheid daarvan in sy boek wat in 1924 in Nederland verskyn het, getiteld:  Suid-Afrikaanse volkspoësie. Bijdrae tot die Suid-Afrikaanse volkskunde.

In 1963 het Van Wyk Louw, in verwysing na die totale vernuwing wat die Nederlandse Vyftigers gebring het, voorspel dat die eksperiment in die Afrikaanse poësie nie noodwendig in vormvernuwing beslag sal kry nie, maar eerder “met die ashoop, die vuurtjie op die werf, die oesland, die volk se dans, toor en godsvrees te doen hê”. Die laaste vyftig jaar het wel heelwat vormvernuwing gebring, maar Van Wyk Louw se vreemde opmerking hou tog verseker water. Afrikaans het ‘n rykdom van poësiedokumentering van die eiesoortige tongval van verskillende streke in die wye en droewe land van ons – dink maar net aan Louw self in ‘Klipwerk’, Boerneef, Ronnie Belcher, Adam Small, George Weideman, Hans du Plessis, Donald W Riekert, Thomas Deacon, Nathan Trantraal, om enkeles van die belangrikste stemme te noem.

Van Trantraal gepraat – Ronelda Kamfer se onderhoud met hom op Litnet wys die ideolektiese volkstem het met verloop van tyd ook ‘n trotse ars poëtikale bewussyn geword: “Ek skryf poetry oo die liewe annie anne kant vannie kantlyn. As daa niks daa geskrywe innie margins staanie issit ma net oo dai stories nooit geskryf wod ie, of truthfully geskryf wod ie. As daa een ding is wat ek gelee et van opgroei in Bishop Lavis issit dié: daa is niks meer unimportant as die liewens van arm mense nie. As arm mense doodgan los hulle niks agte nie, niks trace dat hulle exist et ie. Vi my is my writing history as told by the losers. My moments van insight het n short half-life, soe ek need om altyd die woorde innie most simple en vinnagste way oppie blaai te kry. Dai is hoekom ek poems skryf en nie novels ie.”

In die blogkommentaar op die onderhoud maak ene Johannes Comestor dié hoogdrawende, dog veelseggende opmerking: “Dit is die soort taal wat die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad openlik en die ander lede van die ATR stilswyend bevorder pleks van hulle energie, uitgaande van ‘n voor die hand liggende beginselstandpunt, ten bate van Standaardafrikaans aan te wend.”

Ek vermoed Johannes Comestor sal ook Basie Duvenhage se poësiedebuut bes moontlik takseer as van absoluut onsuiwer allooi, al is die taalgebruik minder uitdagend, meer argaïes, definitief volksvernakulêr, nader aan volkspoësie. (Miskien sal Comestor se worstelvraag wees wie presies die volk is?)

Die agterplat van die digbundel bevat ‘n raak taksering van die aard van die poësie deur Wium van Zyl, wat nie net die uitgewer is nie, maar interessant genoeg ook bekend is as ‘n kenner van volkspoësie. (Sy MA-verhandeling aan die Universiteit van Stellenbosch was Die Afrikaanse volkspoësie met spesiale toespitsing op Boerneef se poësie.) Oor Duvenhage se debuut sê hy: “Basie Duvenhage is ‘n boorling van Niekerkshoop op die rand van die Kalahari en het later jare in Worcester se kontrei verseil geraak. Met hierdie bundel nooi hy sy lesers uit na daardie mooi, maar harde hartland van sy jeug. Hy breek gul die ‘swartgekorste asbrood’ van meel gemaal op ‘n gatskuur oop, laat ‘n mens proe aan die ‘witfyn lekkerkry’. Wees egter gewaarsku dat dit geen sagsinnige poësie is nie. Dit is ‘n kontrei waar die muishond, die pofadder en roofvoëls van alle vere steeds op die loer lê. En waar die mens se bestaan dit soms laat lyk of t!kaam sy gesig weggedraai het. Maar waar ‘n man nogtans trots kan verhuis van Stinkfontein na Eksteenfontein. En oompie Adderjan Kromstaan en ouma Magrie as die seisoen daarna is … O! ditsem!”

Die toonaard hiervan belig netjies die toonaard van die bundel – amper ‘n vertroude tipe kennis en ervaring, die oproep van gedeelde en bekende intiemhede, ‘n terughunkering na ‘n vergange, harde, maar onskuldige wêreld, amper anachronisties in die tydgewrig waarin ons leef. Uiteraard voed die poësie op ouwêreldsheid, gemoedelik-lokale realisme, en pure nostalgie. As jy die bundel met sy twee-en-sestig gedigte proe soos koffiekapitaal, by spreke van wyse, besef jy Basie Duvenhage kan die Dana Snyman van die Afrikaanse poësie word. Ek bedoel dit geensins neerhalend nie – Dana Snyman laat my dikwels ‘n nostalgiese traan in die oog kry, alhoewel die nostalgie op die duur vir my ‘n té maklike stylgreep word, en daarom soms verleë laat oor die armoedigheid daarvan, en soms verveel oor die eenselwigheid.

Dit gebeur ook met hierdie bundel. Daar is uitsonderlike poësie in hierdie debuut, maar die stylaard word later helaas te voorspelbaar.

Wium van Zyl trap in die slaggat met die laaste paar sinne van sy bundelcommendatio waar hy ook ingesleur word in die private verwysingtjies en die ewige ellips, afgesluit met die ampervergete ampervloekwoorduitroep “O! ditsem!”. Ek verstaan hoekom hy gekies het om hierdie kort bekendstelling (vir voornemende kopers) so af te sluit, want dit is kensketsend van die bundel. Maar ongelukkig kom dit in die dryfsand van ‘n té gemeensame annerlikheit, waar die wins daaraan amper net so groot is as die gevaar daarvan.

Ek het die gewoonte om met die eerste lees van ‘n teks met ‘n potlood regmerkies te maak as die taalvernuf my met die eerste ontmoeting oorrompel. Hierdie bundel wemel van regmerkies – heerlikhede wat getuig van ‘n vermoë tot raak segging, opwindende metaforisering, vars perspektief, onverwagse jukstaposisie, knap verbandlegging, alles verpak in pragtige, outentieke streektaalvariasies. Die knap gedig ‘Drumpelgeld’ is een van die hoogtepunte in die bundel, en demonstreer Duvenhage se duidelik digterlike hand:

 

Drumpelgeld

 

my gewillagheid staan daadlik op toe ek sien hoe springbokram so stywebeen

pronkfluit, pronkfluit, die witdos op sy kruis oopsprei, nartjieblomsoet

 

nout het ek kon droom dat stêre maak se ontvangenis die maan

so gou-gou, van leeg tot vol kan stoot

 

lê daar in jouse skoongeit

sjoe! – my poustertvreugde, maar in jouse oë, die skylte van jouse siel,

speel jy vir my op my ramkiesnaar die vlerkense van onse toekoms uit

 

in die skemerte sien ek jou deur die lanternbosse soos ’n koestertjie

knoesterknis wandel, in die oggend is dit jy wat uit jou heupe vir my

tjaibessies en nôiensborsies binnedra, skommel

tsamma en kambro steeds spuls in jouse mond, sny ek glinsteroog

steenbokooitjiespoor teen die hoogste dyn se rug

 

en in die mirrag is dit ons wat uit onse monde in onse omtes vir mekaar

bobbejaanspiëel maak, dan

ontbloot ons onsselwers deur onse oë en tonggesprek

 

ek lees van Simson en Delila

die liefde is die spel van pofadderlike gevaar, soos duiwelsbrood

 

ons moet ophou met geitjie-oge tong te klap en onse kwaaigeit

samet jongby, boegoe en wilde-als vir ’n sagte wang insmeer

voor diese goeterse

het ekke met myse drumpelgeld sorgsamig betaal,

nou t!khappara, lig myse hoed vir jou, riel ons oor onse misvloer varsgesmeer

 

sal jouse blinkblaar mooigeit my hele lewe in myse blindemolkaros egtig toevou

 

Daar is pragtige poëtiese en taaljuwele te lys uit hierdie bundel, wat ek vir die binnevet wil voorhou:

 

  • ·         “en draai geduld geduld die steen op steen”
  • ·         “tot die emmers boorelskuim, blink van sang”
  • ·         “opgewek tong die vuur”
  • ·         “in die son kaiingbleek gebrand”
  • ·         ”ons jaag soos ná-ape / oor die werf met ons karkoerkarre rond”
  • ·         “genooi of ongenooi, kom die armdorstiges”
  • ·         “rook sigrets tot sy vingers pruimgeelrowe brand”
  • ·         “ek pluk ‘n glansveer, sit dit agter my oor, ene sekretaars”
  • ·         “het die nuwe kers klaar vryelik in die blaker stoppelbaard gedrup”
  • ·         “die reuk van paraffien slenter nog in die huis”
  • ·         “mooi Vytjie September loop drilstêre – buk rondom die gloed / tel nog fynhoutjies op / lat die velviool nie sy stryk verloor”
  • ·         “oor kalbassies getrek het jy sokkies / gestop tot jou oë troebelvliese groei”
  • ·         “stik, roggel asbesslym /  spuug ‘n bloedpluim, oor die teer, by die skuiling se ploiingbek uit”
  • ·         “waar naaldekoker vrypostig in die son sybontrokvlerke sit span”
  • ·         “’n hond met hoepelribbes”

 

Nét hiervoor kan ons die debuut van Duvenhage ooparms verwelkom – dis so ‘n kosbare optekening van raakvat segginge, vars, aards en absoluut hartverwarmend.

 

Nodeloos om te sê: binne die aanbod van die teks is ongekontamineerde ongekunsteldheid noodwendig baie belangrik, veral om dit deurgaans geloofwaardig te maak, en nie te laat lyk na selfgekoesterde kuriosum nie (noodwendig die gevaar van alle literatuur wat met nostalgie wil waag). Derhalwe is dit meer hinderlik dat ‘n mens dikwels met die lees van die bundel geïrriteerd word deur ‘n doelbewuste literêre ingreep. Oor die algemeen vlieg die kite van baie verduidelikende gedigtitels nie (byvoorbeeld: ‘Die Prys vir karakoel’; ‘Pottebakkerson’; ‘Grondregte’; ‘Vry slawe’; ‘Traanrook’). Die aanspreek van die leser in ‘Die bekendstelling’ is in die bundelkonteks onvanpas. Dieselfde  tipe gedigstrukturering in die gedigte ‘Esel’, ‘Vry slawe’ en ‘Die kwepers’ hinder mens. Die oormaat gedwonge drieslagsamestellings word met die duur van die lees ‘n absolute stylhebbelikheid: “terglekkerseer”, “rooitaaitrane”, “helwarmkameelkole”, “stofwolkpluisies”, “skrouasem-gesprek”, “slangvelboepensblink”, “strepieskliptuin”, “klipgooierweg”, “beulskerpsnawelkreet”, en nog baie ander. Soms werk dit net-net, maar as gevolg van die taalgeforseerdheid raak selfs  “kruiebossiegoedpoepe”, “tokkeloskaros”, “dorslandsand”, “meelblomkoekiehuisie”, “katietieriempiesnoet” en “katerjoolgeitspasie” te dik vir ‘n Kalaharidaalder, al is dit ook hóé vindingryk. Dit voel gou na mooiskrywery.

 

Plek-plek is daar ‘n verliteratuurdheid met onnodige metatekstuele kensketsing – ‘n gedig soos ‘Sonnedou’ ontkom nie daaraan nie, ook byvoorbeeld nie ‘Skerpioendissel in die mond’ en ‘!Khwa-ka Afrika’ nie. Die gedig ‘Aasblom se bokhoringtjies bars oop’ is vir my gevoelte bloot pretensieus. Ook die bundeltitel, wat eintlik net simbolies uitgepluis word in die gedig ‘Sterreteken’, voel by die angel bygesleep. Dit sou die bundel meer gedien het as dit organies gegroei het uit die korpus gedigte.

 

Daarmee saam hang ook die taaltrant in sommige gedigte, wat buite die aangebode ervaringsfeer van die geheel hoort. Vergelyk woordgebruik soos “mikronsterkte sy”, “monetêre rol”, “stoffasie vir ‘n wanbalans”, “met jou Latynse benaming / ros solis”, “byvoeding”, “oerknal”, “homo sapien”, “hoeveel energie in hierdie / proses ontlaai”,  “valuta”, “die Sumeriese beskawing” (trouens die hele gedig ‘Sterreteken’ misluk vir my omdat dit die lokale teen ‘n historiese en kosmiese backdrop wil inforseer – die pragtige voorblad probeer ook al vroeg-vroeg die aandag daarop vestig). In die ‘t eenvoudig leven Gods  is daar inderdaad plek vir sulke geleerde woorde, maar dit vorm op die duur koorsblare op Duvenhage se digterlike tongval.

 

Die kwistige hoeveelheid uitroepe: “O! ditsem!”, “sjoe!”, en weer “sjoe!”, “o siesa!”, “o! olla!” is dalk net een te veel, omdat dit hoofsaaklik uit die mond van die digterspreker of abstrakte outeur se mond kom. In ‘n gedig soos ‘Bokwagter’, in die mond van ‘n figurant, is dit minder hinderlik.

 

Daar is noodwendig klankverletterliking van sekere woorde om hul meer outentiek te laat voorkom, byvoorbeeld “hinningby” of  “flyt” (in plaas van ‘fluit’), “vergeert” en  “glyktes”. Die bundeltitel: ‘Die agste teken’ is ook té doelbewus  gedoen, want later word “agt” (p. 39) wél met die meer bekende wisselvorm geskryf. “Innie” is in die konteks aanvaarbaar, maar hoekom dan die woorde meer as honderd keer as “in die” skryf. So ook ‘skrou’, soms ‘skreeu’; ‘n ander keer; ‘kjennerse’ teenoor ‘kinders’; ‘mirrag’ en ‘middag’. Hoekom word “opgefoet” só gespel, maar “gevoed” willekeurig anders? Vir ‘n paar kan ‘n mens dalk ‘n saak uitmaak, maar in die meerderheid gevalle is dit nie funksioneel nie, en kan dit  die Johannes Comestors onder ons se akademiese hovaardigheid legitimiteit gee.   

 

 Maar dit alles gesê – lanklaas ‘n debuutbundel in die hand gehou wat my laat kraai van lekkerkry soos hierdie een. Nee, ek lieg, Trantraal het dit ook vir my gedoen, die aaklige meidebakleiery van ons voorste digters wat daarmee saam gekom het ten spyt. Al span Basie hier en daar I.D. du Plessis én Hans du Plessis se kallers vermoedelik onwetend voor sy digterskarretjie in, het ons hier voorwaar ‘n tuislike stem van wie ek veel, veel meer wil lees.

Net asseblief, asseblief nie weer gedruk in die vreemde kleur en in die ongoddelike klein lettertipefont nie, maar groot dankie aan Wium van Zyl en INSET-uitgewers wat Afrikaans en “onse mense” ‘n ontsettende  guns gedoen het met die publikasie van hierdie debuut.  Lees die skunnige ‘Nagbesoek’ om dit onteenseglik te weet:

 

Nagbesoek

 

laataand, dis tyd vir nagbesoek

die reuk van paraffien slenter nog in die huis

se gange rond

en die kers se rooipit sterf stadig

 

ek luister na fluister-stemme in die wind

en wonder

is dit laatryp, is dit ystervarke wat die oes verniel

of ghaap wat gryssteekbaard groei

of die oogdans van die nag

wat oor die blou-karoo kol-kol-skuif

 

tongtepel –

die jagse ramme se gekoggel-koggel in die kraal

 

 

En as toegif die roerende gedig ‘Ouers’:

 

Ouers

 

wanneer die wind vannag gaan lê, ryp die boontjies dood

 

elk op ’n stoeltjie, ’n trekkersitplek, pote aangesweis voor die agterdeur

hy in sy ou groot vaaltrui deur ma gebrei, gate sigaret gebrand,

sopmerke op die laer bors rol hy duime, om en om, oor leegtes uit

 

krap die hond vlooie op sy ribbes, droog soos die houtkis langs die vuurherd

 

kruip uit die berg langlyf skadu’s nader

drink hul tee,

speel boklammers, dik gesuip, kopstamp-kopstamp oor die werf

herkou ooie rustig soos hul onder ’n wag-’n-bietjie skuil

 

die nag vou oop ’n karos van troos

hang stilte voor mond en oë langs die pakstoor slaap blou duiwe in takke

van die treurwilger

 

voete onder die stoeltjie ingevou, die een pantoffel

’n gat gesny die teder eelt het weer

groot gegroei na die laaste snoei smeer sy wilde-als

en boegoe, die vingers pyn, in die voorskoot toegedraai

 

hul praat ’n stil gesprek, terwyl die donkerte oor hul gesigte plooi,

twee ou vaalkorhane hou slaaptyd onhandig knielend hande

elk aan sy bedkant,

die lakens glad en koud,

 

snuit tog die kers vroeg vanaand

 

wanneer die wind vannag gaan lê, ryp die boontjies dood

 

 

                                       Resensie geborg deur

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.