Plekgedig 34: Carina Stander. Volmaan, Nature’s Valley

VOLMAAN, NATURE’S VALLEY

 

bo vanaf die bergpas die strand wagtend, gloeiblou;

‘n koue oseaan onder ‘n brandende maan

 

kronkel-kronkel afwaarts soos ‘n boomslang

en dan die dorp: ‘n straatligafwesige habitat

‘n tussengrond

van see en berg en woud – hierdie woud, vroeëre woude

asof jy slaap langs ‘n oeroue maagd

 

nie juis aartsonskuldig nie:

 

‘n bobbejaan het ure gelede die bure se roomys

en hoender uit die vrieskas gedief

en boonop die parfuum gedrink;

toe het kees, met ‘n fyn sin vir simboliek

‘n hengse hap uit Raka gevat

 

byna alles is vergeefbaar in die maanlig

wanneer die vallei vreet en verteer soos ‘n dier

aan jare se vrese, die uur vir uur gedruk van ‘n oor

teen die venster van ‘n stadshuis, tevore

die stip geluister na voetvalle

of skril versplinterende glas

(in die begin is die bosvark op die grasperk

vir ‘n inbreker aangehoor)

 

‘n bosboktrop skemer deur die mistigheid

in die kloof agter die huis bebaarde bome

wat ná agthonderd jaar steeds weier om te sterf

rooi loerievlerke

en tussen takvingers

die sagblou skrotums van slapende ape

 

hoeveel spesies onontdek

hoeveel grysaards wat hulself hier vermink

skiet vergiftig verdrink

asof, as jy net eenmaal migreer,

dit dié plek is om heen te swerf

 

op elke werf verbrokkel ‘n boom

stilweg tot baie bome,

had ‘n ou tuinier vertel

 

vanaand sal die strandmeer

aangevuur deur die maan

weer in vlamme opgaan;

die kind sal tuin toe gaan

vol afwagting

‘n swerm flikkervlieë deur sy arms laat vlieg

kortsluitings in die kleine;

sy ma sal nie sê: ek het jou gesê nie

sy pa glo nie als wat getykaarte voorspel nie

hulle weet dié kusbos is vir insekte en kinders

die duine vir afskeid

sekelrûe van haaie in ‘n sloepie

silwer dolfyne in ‘n boog gestring

 

ook aan die ander kant van die aarde sing walvisbulle

in agt oktawe

 

dit is byna volmaan in die kusdorp – die uur van vermeerdering

in die straat, ‘n reënwind

in die huis, hunkering

in die liggaam, saad

 

op só ‘n aand neem sy jou in

 

 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Plekgedig 34: Carina Stander. Volmaan, Nature’s Valley”

  1. Niek :

    So mooi en aards.

  2. René Bohnen :

    Treffergedig, baie geluk Carina 🙂

  3. Susan Smith :

    Baie geluk, Carina! Jou gedig is meesleurend en gevoelvol. Welgedaan!

  4. Carina Stander :

    Susan, dis vriendelik van jou, dankie!

  5. Trienke Laurie :

    Ek het gehou van ‘die sagblou skrotums van slapende ape.” Vol atmosfeer. Geluk!

  6. Johann de Lange :

    Geluk Carina.

  7. Carina Stander :

    Baie dankie, Johann!

  8. Carina Stander :

    Dankie, Trienke! En moenie die slapende ape wakker maak nie:).

  9. Nini Bennett :

    Baie geluk, Carina!