Plekgedig 43: Hennie Nortje. Langebaanweg

Langebaanweg

 

vat die weskuspad

draai by langebaan regs

deur die bleek strandveld

slegs ‘n hanetree

na hierdie vreemde plek

 

die bosbok sukkel

luidrugtig deur die lug

 

sierlik swiep

‘n paar impalas   

raak ‘n oogwink later

vaal stippels in die niet

 

op die horison dans

die magiese mirage

tot skielik in die hitte

‘n baster-cheetah staan  

slaggereed om vir oulaas

grense oor te steek

 

hou links

al met die stofpad af

‘n verkalkte myn

fosfaat eens gedelf

om kunsmis van te maak

en toevallig tussenin

‘n miljoen oergebeentes

viertand-olifant

kortnek-giraf

verradelike sabeltandkat

reuse afrika-beer

die troppe van ‘n trope

lê alkant hier versteen

 

langebaanweg

‘n langebaan lank reeds weg

en wie weet wat op die lange baan wag

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.