Pablo Neruda – vertaling in Afrikaans

 Pablo Neruda – vertaal deur De Waal Venter en Johann Lodewyk Marais

 

Sonnet C

 

In die middel van die aarde sal ek

die smaragde wegskuif om jou beter te sien

en jy sal die koringare kopieer

met ‘n water-pen boodskapper.

 

Wat ‘n wêreld! Watter dieptes van pietersielie!

Wat ‘n seilboot wat vaar in die heerlikheid!

En jy miskien en ek miskien ‘n topaas!

Daar sal nie meer wanklanke in die klokke wees nie.

 

Daar sal niks meer wees as die vrye lug nie,

die appels gedra deur die wind,

die sappige boek tussen die takke,

 

en daar waar die angeliere asemhaal

sal ons ‘n kledingstuk aanmekaarsit wat die ewigheid

van ‘n seëvierende soen sal weerstaan.

 

(Pablo Neruda : Soneto C ; uit Spaans vertaal deur De Waal Venter)

 

 

Ode aan wyn

 

Wyn met die dag se kleur,

wyn met die nag se kleur,

wyn met purper voete

of bloed van topaas,

wyn,

sterre-kind

van die aarde,

wyn, glad

soos ‘n swaard van goud,

sag

soos wilde fluweel,

spiraalgeskulpte wyn,

deurdrenk met liefde,

soos die see,

nooit kon net een glas jou hou nie,

een lied, een man,

jy is koraal, mensliewend,

en op die minste moet jy gedeel word.

By tye

teer jy

op sterflike herinneringe,

en jou golf

spoel ons van tombe na tombe,

klipwerker van ysige grafkelders,

en ons ween

verbygaande trane,

maar

jou pragtige

lenterok

is anders,

die bloed styg op in die stamme,

die wind roer die dag,

niks bly oor

van jou stil siel nie.

Wyn

laat die lente bloei,

geluk groei boontoe soos ‘n plant,

mure verkrummel,

kranse,

skeure gaan toe,

‘n lied word gebore.

O jy, ‘n fles wyn, in die wildernis

met daardie geurigheid waarvoor ek so lief is,

het die ou digter gesing.

Dat die wynfles

liefdesoen op liefdesoen gee.

 

My liefling, skielik

word die lyn van jou heup

die oorvloedige kurwe

van die wynglas,

jou bors is ‘n druiwetros,

die lig van die alkohol skyn in jou hare,

jou tepels is druiwekorrels,

jou nawel is ‘n kuis seël

gestempel op die fles van jou maag,

jou liefde ‘n onuitputlike

kaskade van wyn,

die lig wat my sinne verhelder,

die aardse prag van lewe.

 

Maar dis nie net liefde nie,

die vurige soen

of brandende hart nie

jy is

die wyn van die lewe,

maar ook

vriendskap van mense,

deursigtigheid,

koor van dissipline

oorvloed van blomme.

Dis lekker om op die tafel,

wanneer mens gesels,

die lig van ‘n bottel te hê

met intelligente wyn.

Drink dit,

en onthou in elke

goue druppel

in elke topaas-glas

in elke purper skeplepel

wat die herfs geswoeg het

om die houer met wyn te vul,

die donker man onthou,

in die gang van sy dagtaak,

om te dink aan die grond en sy plig,

om ‘n loflied aan wyn uit te sing.

 

(Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter)

 

 

 

Gedig 19

POEMA 19

Niña morena y ágil, el sol que hace las frutas,

Pablo Neruda

 

Bruinhaar, ratse meisie, die son wat die vrugte vorm,

die koring ryp maak en die seewier krul,

het jou lewenskragtige lyf gemaak, jou helder oë

en jou mond wat die glimlag van water inhou.

 

‘n Swart en opgewonde son rol jou in die krulle

van jou lang donker hare wanneer jy jou arms oopmaak.

Jy speel in die son, soos in ‘n riviermonding

en dit maak twee donker poele in jou oë.

 

Bruinhaar, ratse meisie, niks van jou kom na my nie.

Alles van jou gaan weg van my, soos van die middag.

Jy is die dolle jeug van die by,

die bedwelming van die golf, die krag van die koringaar.

 

My somber hart soek na jou, nie te min,

en ek bemin jou lewenskragtige lyf, jou sagte en vrye stem.

Bruinhaar vlinder, so lieflik en seker

soos die koringlande, en die son, die papawer en water.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

16 Junie 2013

 

***

 

ʼn Klompie gediertes

Dit was die aand van die likkewaan.

Van sy reënboogkleurige kroon
sy tong soos ‘n werppyl
weggesink in die groenigheid,
die monnikagtige miervreter
het met musikale voete deur die oerwoud gestap,
die guanaco, delikaat soos suurstof
in die wye bruin hoogtes
het gaan wandel in sy goue stewels,
terwyl die lama sy onskuldige oё
geopen het vir die fynheid
van ‘n wêreld gevul met dou.
Die ape het ‘n eindelose
erotiese tou gevleg
langs die dagbreek-kus,
mure van stuifmeel afgetrek
en die pers vlug
Van Muzo se skoenlappers verskrik.
Dit was die nag van die kaaimanne,
die suiwer, polsende nag
die snoet wat uit die slym steek
en uit die sluimerende moerasse
die dowwe geruis van skubplate
wat terug gaan na die oorsprong van die aarde.
Die luiperd het die blare aangeraak
Met sy gloeiende afwesigheid,
die puma hardloop deur die ruigtes
soos ‘n verterende vuur
terwyl in hom die alkoholiese oë
van die oerwoud brand.
Ratels krabbel op die oewer
van die rivier, snuif aan ʼn nes
vol sidderende lekkernye
wat hulle met rooi tande gaan verslind.

En in die diepte van die groot waters
soos die sirkel van die aarde,
is die reuse anakonda
bedek met seremoniële klei,
verslindend en religieus.

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter. (Die gedig “Algunas bestias” kom uit sy bundel “Cantos General” en is besonder interessant omdat dit getoonset is deur Mikis Theodorakis as ‘n oratorium.  Jy kan hier kyk en luister na die canto.)

 

 

voorheen Klippe van die hemel

 

Hier is die boom in suiwer klip,

onomstootlik, in soliede prag,

oor tien miljoen jaar opgebou.

Agaat en kornalyn en altaarlamp

die hout en sap is omgesit

tot die reuse stam

bestand was teen die verrotting van water

en dit soos ‘n standbeeld begin lyk het:

die lewende blare

het hulleself vernietig

en toe dit omgedruk is,

vlammende bos, brandende stofwolk.

hemelse asse het dit omhul

tot tyd, en die lawa ‘n geskenk

geskep het van deursigtige klip.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

 

  

Poësie

 

En dit was op daardie ouderdom … poësie het gekom

om my op te soek. Weet nie, weet nie waarvandaan

dit ontstaan het nie, uit die winter of ‘n rivier.

Weet nie hoe of wanneer nie.

nee, dit was nie stemme, dit was nie

woorde, nie stilte nie.

Maar ek is uit ‘n straat geroep

uit die takke van die nag,

skielik tussen die ander uit,

uit gewelddadige vlamme

of alleen teruggekom,

daar is ek sonder gesig

en dit het my geraak.

 

Ek het nie geweet wat om te sê nie, my mond

het nie geweet

hoe om te praat nie.

my oë was blind,

en iets was aan die klop in my siel,

koors of verlore vlerke,

en ek het alleen geraak,

daardie brand

ontsyfer,

en ek het die eerste vae reël geskryf,

vaag, sonder liggaam suiwer

nonsens,

suiwer kennis,

van hom wat niks weet nie,

en skielik

die lug sien

onthul

en oopgaan,

planete,

polsende saailande,

deurdronge skaduwees,

deurspek

met pyle, vure en blomme,

die oorstelpende nag, die heelal.

 

En ek, die kleinste wese,

bedwelm deur die grootse niks

sterrestelsels,

die beeltenis

van geheimenis,

het myself suiwer deel gevoel

van die leegte,

draaiend saam met die sterre

my hart losgebreek in die wind.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

 

 

Ode aan ‘n groot tuna in die mark     

ODA A UN GRAN  ATÚN EN EL MERCADO

Uit: Tercer libro de las odas [1955-1957] (1957)

 

In ‘n groentemark,

‘n koeël

uit die dieptes

van die oseaan,

‘n swemmende projektiel,

het ek jou raakgeloop,

dood.

 

Oral om jou

was daar slaaikoppe

seeskuim

van die aarde,

wortels,

druiwe,

maar

die waarheid

van die see,

van die onbekende,

van die

onbepaalbare

skadu,

die waters

se dieptes,

die afgrond

wat net jy oorleef het

‘n pikswart, glansende

getuie

van die diepste nag.

 

Net jy, donker koeël

uit die afgrond,

akkuraat,

verniel

net aan een punt,

voortdurend

herbore,

geanker in die stroming,

sy gevleuelde vinne

vinnig

waaiend

in die vlug

van

die

skadu

van die see

soos ‘n treurende pyl

pylpunt van die see,

vreeslose olyf.

 

Ek het jou daar dood gesien,

‘n gestorwe koning

van my eie oseaan

lewenskragtige

groen, silwer

ondersese

den

kern

van getygolwe,

daar,

oorblyfsels van die dood,

in die mark

sien ek

egter

was jou vorm

die enigste een met ‘n doel

tussen

die verwarrende warboel

van die natuur:

jy was

tussen die delikate groentes,

soos ‘n skip

vin en boeg swart en geolie,

asof jy nog steeds

die voertuig van die wind was,

die enigste

en suiwere

masjien

van die see:

ongeskonde, varende

op die waters van die dood.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

 

Arme ouens

(Pobres muchachos – Pablo Neruda)

Wat kos dit op hierdie planeet
om mekaar lief te hê in vrede:
die hele wêreld ondersoek die lakens,
almal bemoeilik jou liefde.
En hulle sê vreeslike goed
van ‘n man en ‘n vrou
wat, na baie rondval,
en baie oorweging,
iets onvervangbaars doen,
saam op ‘n bed neerval.

Ek vra myself af of die paddas
hulleself dophou, hulleself geringskat,
of hulle fluister in dammetjies
teen onwettige paddas
teen die genietinge van hulle soort.
Ek vra myself af of die voëls
voëlvyande het
en of die bul luister na osse
voor hy begin vry na die koeie.

Nou het die strate oë,
die parke het polisie,
die hotelle het geheime,
die vensters skryf name af,
troepe en kanonne word uitgestuur
vasbeslote teen die liefde,
onophoudelik aan die werk
die kele en die ore,
en ‘n ou en sy meisie
word gedwing om te blom
terwyl hulle vlug op ‘n fiets.

(Uit Spaans vert. deur De Waal Venter)

*

 

Jou voete
(Tus pies – Pablo Neruda)

Wanneer ek nie na jou gesig kan kyk nie
kyk ek na jou voete.

Jou voete met benige boë
jou harde klein voete.

Ek weet hulle dra jou,
en dat jou lieflike gewig
gelig word op hulle.

Jou middel en jou borste,
die dubbelpers
van jou tepels,
die holtes van jou oë
wat pas weggevlieg het,
jou breë vrugtemond,
jou bos rooi hare
my klein toring.

Maar ek is lief vir jou voete
juis omdat hulle geloop het
op die aarde en op
die wind en op die water
tot hulle by my uitgekom het.

(Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter)

 

*

EK SAL TERUGKEER

 

‘n Ander keer, man of vrou, reisiger,

later, wanneer ek nie meer lewe nie,

kyk hier, soek na my

tussen klip en oseaan,

in die lig stormend

deur die skuim.

Kyk hier, soek na my,

want hierheen sal ek terugkeer, woordeloos,

sonder stem, sonder mond, suiwer,

hierheen sal ek terugkeer om die gekarring

van die water te wees, of

sy ongebroke hart,

hier, sal ek ontdek en verlore wees:

hier, sal ek, miskien, klip en stilte wees.

 

(vert. Johann Lodewyk Marais, 2012)

 

*

 

Werkwoord

 

Ek gaan hierdie woord frommel.

ek gaan dit wring,

ja,

dis heeltemal te glad

dis of ‘n reuse hond of groot rivier

sy tong daaroor gelek het of water

oor baie jare.

 

Ek wil dít in die woord hê

dat die ruheid gesien word.

die ystersout

die tandelose krag

van die aarde,

die bloed

van hulle wat gepraat het en hulle

wat nie gepraat het nie.

 

Ek wil die dors sien

binne die sillabes:

ek wil raak aan die vuur

in die klank:

ek wil die donkerte voel

van die skreeu. Ek wil

woorde hê, ru

soos maagdelike rotse.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

 

*

 

Liefde

Vrou, ek het jou seun geword
deur die melk van jou borste te drink,
soos uit ‘n fontein.
deur na jou te kyk, langs my te voel
en jou te besit in ‘n goue lag, die stem van kristal.
Deur jou te voel in my are soos God in die riviere
en jou te aanbid in treurige beendere van stof en kalk,
omdat jy sonder pyn langs my verbygegaan het
en weggegaan het deur die strofe – sonder enigiets sleg –

Hoe sal ek weet om jou lief te hê vrou, hoe sal ek weet
om jou lief te hê, lief te hê soos niemand ooit nie!
Om te sterf en steeds
jou meer lief te hê.
En steeds
jou meer lief te hê
en meer.

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

Nota: Hierdie vertaling probeer nie om die klankpatroon van die oorspronklike te volg nie. Dit het ‘n eie klankpatroon wat anders tot uiting kom in Afrikaans. Hier is geen eindryme nie, maar eerder interne klankherhalings.

 

*
 

 
Die kat se droom

 

Hoe netjies slaap ‘n kat nie,

slaap met sy pote en gravitas,

slaap met sy wrede kloue,

en sy bloeddorstigheid,

slaap met al die ringe

soos ‘n reeks gebrande sirkels

wat die geologie vorm

van ‘n stert die kleur van sand.

 

Ek sal daarvan hou om te slaap soos ‘n kat

met die hele pels van tyd,

met ‘n tong van vuurklip

met die droë drif van vuur

en nadat ek met niemand gepraat het nie,

strek ek myself uit oor die wêreld

met intense vasbeslotenheid

om die rotte van die droom te jag.

 

Ek het gesien hoe hy golwend

slaap, die kat: die nag

vloei deur hom soos donker water,

en miskien val hy,

of daal neer op

ontblote sneeubanke.

Miskien word hy slapend

so groot soos ‘n tier se oupagrootjie,

en spring in die donker oor

dakke, wolke en vulkane.

Slaap, slaap kat van die nag

met biskoplike seremonie,

en jou snor van klip:

orden al ons drome,

beheer die obskuriteit

van ons sluimerende talente

met jou bloeddorstige hart

en die yslike waaier van jou stert.

 

(Die gedig SUEÑO DE GATOS, uit Spaans vertaal deur De Waal Venter)

 

Pablo Neruda (12 Julie 1904 – 23 September 1973) was die skywersnaam en later die wettige naam van die Chileense digter, diplomaat en politikus Neftalí Ricardo Reyes Basoalto. Hy het die naam gekies na aanleiding van die Tjeggiese digter Jan Neruda.

Neruda het in verskeie style geskryf – erotiese liefdesgedigte, surrealistiese werk, historiese eposse en onbeskaamde politieke manifesto’s. In 1971 wen hy die Nobelprys vir Letterkunde. Die Colombiaanse romanskrywer Gabriel García Márquez het hom eenkeer “die grootse digter van die Twintigste Eeu in enige taal” genoem. Neruda het altyd in groen ink geskryf wat sy persoonlike kleur van hoop was. -DWV

 

*

 

Ode aan die tamatie

 

Die straat

het vol tamaties geword,

middag,

somer,

lig word in die helfte

gesny

soos

‘n

tamatie,

die sap

loop

deur die strate.

In Desember,

onverpoos

val

die tamatie

die kombuis binne,

met middagete kom hy in,

vat

dit gemaklik

op kombuiskaste

tussen glase,

botterbakke,

blou soutpotte.

Hy skyn

met sy eie lig,

goedaardige majesteit.

Ongelukkig moet ons

hom vermoor:

die mes

sak weg

in lewende vlees,

rooi

binnegoed,

‘n koel

son,

verhewe, onuitputlik,

bevolk die slaaie

van Chili,

gelukkig getroud

met die helder ui,

en om dit te vier,

gooi

ons

olie oor,

essensiële

kind van die olyf,

op die helftes,

peper

gee

ekstra geur,

sout gee magnetisme:

dit is die troue

van die dag,

pietersielie

hys

sy vlaggies,

aartappels

kook lekker,

die geur

van die braaiboud

klop

aan die deur,

dis tyd!

komaan!

en op

die tafel in die middel

van die somer,

die tamatie,

ster van die aarde,

herhalende

en vrugbare

ster,

vertoon

sy vouinge,

sy kanale,

met sy merkwaardige volheid

en oorvloed,

geen pit

geen doppe,

geen blare of dorings,

bied die tamatie

sy gawe

van vurige kleur

en volkome varsheid.

 

 

“Oda al Tomate” – Pablo Neruda

Vert. De Waal Venter, 2012

Bookmark and Share

28 Kommentare op “Pablo Neruda – vertaling in Afrikaans”

  1. Johann de Lange :

    ‘n Groot plesier om te lees. Dankie, beide van julle.

  2. Johann de Lange :

    Ode aan die kat
    Pablo Neruda

    Iets was nie pluis
    met die diere nie,
    hulle sterte was te lank, en hulle was
    treurig van aangesig.
    Bietjies bietjies is hulle
    aanmekaar gesit
    om ‘n landskap te vorm,
    ontwikkel geboortevlekke, en grasie, fut.
    Die kat,
    net die kat,
    tree tevoorskyn afgerond
    en trots:
    gebore in ‘n staat van totale voltooidheid,
    hou sigself eenkant en weet presies wat hy wil.

    Die mens wil eerder vis wees of voël,
    slange, weer, begeer vlerke,
    en honde is kastig leeus,
    ingenieurs wil digters wees,
    vlieë boots swaeltjies na,
    en digters probeer hard soos vlieë wees,
    maar die kat
    wil net kat wees
    en elke kat is pure kat
    van sy snorbaard tot sy stert,
    van sesde sintuig tot lewende rot,
    van die nag tot by sy goue oë.

    Daar is geen eenheid
    soos syne,
    nóg die maan nóg blomme
    het dieselfde bondigheid:
    uniek op sigself
    soos die son of topaas,
    en die elastiese kurwe van sy rug
    tegelyk sterk en delikaat
    is soos ‘n seilskip se boeg.
    Sy geel oë
    is die enigste
    gleuf
    om die nag se munte te deponeer.

    O klein
    keiser sonder ryk,
    veroweraar sonder vaderland,
    miniatuur sitkamer-tier, bruilofs-
    sultan van die hemel
    van erotiese dakteëls,
    die sweem van liefde
    in die buitelug
    eis hy op
    as hy in die verbygaan
    vier delikate pote
    talmend
    op die grond sit,
    snuffelend,
    wantrouig
    jeens alle aardse dinge
    want als
    voel vuil
    vir die kat se onberispelike poot.

    O wilde onafhanklike
    huisdier, vermetel
    spoor van die nag,
    lui, rats
    en vreemd,
    ondeurgrondelike kat,
    geheime polisie
    van tuistes,
    kenteken
    van verdwene fluweel,
    daar is sweerlik niks
    enigmaties
    omtrent jou gedrag nie,
    dalk is daar geen misterie nie,
    die ganse wêreld ken jou, jy behoort
    aan selfs die mins misterieuse bewoner,
    almal maak hulle wys
    dat hulle meester,
    eienaar, oom
    of metgesel
    is van die kat,
    kollega,
    dissipel of vriend.

    Nie ek nie.
    Ek is nie oortuig nie.
    Ek weet van katte niks.
    Van ander dinge weet ek als, van die lewe en sy argipel,
    oseane en onpeilbare stede,
    van die plantlewe,
    die stamper en sy dwalings,
    die plusse en minusse van matesis,
    die aarde se vulkaniese uitstulpings,
    die krokodil se onwerklike vel,
    die brandweerman se onerkende goedheid,
    en die priester se blou atavisme,
    maar ‘n kat kry ek nie klein nie.
    My verstand glip oor sy onverskilligheid,
    sy oë bewaar goue syfers.

    [Vertaling: Johann de Lange ]

  3. Johann Lodewyk Marais :

    Baie dankie, Johann de Lange; ook vir jou knap vertaling.

  4. Ek het ook lekker gelees, altwee Johanne 🙂

  5. Dalk moet ons een of ander tyd ‘n bundel Afrikaanse Neruda uitgee. Of is daar dal al een?

  6. Buiteblaf Breytenbach :

    Asseblief, De Waal Venter – so ‘n bundel moet verskyn! Dis belangrik. Dis tog die enigste haalbare en verstaanbare manier om die vrae rondom Neruda se politieke gedienstigheid aldan nie, en so ook die tietestomp-makende gekwetter oor wat presies “goeie” of “aanvaarbare” gedigte nou eintlik sou wees – toe te lig aan die hand van ‘n verteenwoordigende keur uit hierdie digter se werk.

    Ek is bereid om saam te werk. Laat net weet hoe.

    Met dank en bewondering oor die wyses waarop julle lewe en “inheemsheid” gee in Afrikaans aan Nerude se verse.

  7. Hallo Buiteblaf

    Of moet ek sê “Breyten”?

    Ek is besonder in my skik dat jy hou van die vertalings en dat jy die waarde daarvan insien. Ja, ek dink ons moet beslis werk aan ‘n bundel in Afrikaans, dit kan ons letterkunde baie verryk. En dit sal vir my regtig aangenaam wees as jy wil meedoen. Ek het nog nie van Johann gehoor nie, maar ek hoop hy voel ook so.

    Neruda het so ‘n uitgebreide oeuvre dat mens mooi sal moet besin watter dele daarvan vertaal moet word om verteenwoordigend te wees. As die bundel ‘n groeppoging gaan wees, sal die vertalers moet beraadslaag watter gedigte vertaal gaan word. Ek dink dit is ‘n onbegonne taak om die hele oeuvre binne ‘n redelike tyd te vertaal.

    ‘n Verdere voordeel van ‘n groeppoging is dat die vertalers ook kan optree as ondersteuners van mekaar en mekaar se vertalings kan help verbeter. ‘n Subtiliteit van Spaans wat my byvoorbeeld kan ontsnap, kan ‘n medevertaler dalk raaksien en my reghelp.

    Dankie vir jou geesdrif, Breyten. Kom ons pak die ding en doen iets betekenisvols vir ons taal.

  8. Desmond :

    Bakgat idee. Ek het Neruda en Lorca in Afrikaans gelees lank voor ek dit in Engels gelees het — danksy Uys Krige se vertalings. Ek verkies nog steeds Krige vertaling van “Walking Around” bo die meer bekende Engelse vertaling. Dis hoeka hierdie jaar, op 23 September, die 40ste herdenking van Neruda se dood.

  9. Buiteblaf Breytenbach :

    De Waal: Sê maar ‘Breyten’ – ek spreek hom soms op daardie naam aan as hy te rammetjie-uitnek word.

    Ek dink ons het hier die begin van ‘n projek wie se tyd gekom het, soos Lyndon Johnson dit sou stel op sy dag. Met wonderlike ramifikasies en moontlikhede. Ek sal graag later vandag of môre langs hierdie selfde weg enkele voorstelle wil maak,want ek dink dis belangrik dat ons die kollektiewe en oop-vir-kritiek aard van die proses probeer staande hou.

    Voorlopig reeds: dis duidelik dat daar enkele besonder knap vertalers en aanvoelers van Neruda in hierdie omtes is. Dit sal goed wees as hulle/julle betrek word. En Desmond om die inleiding te skryf.

    Die 23ste September was my ma se verjaardag.

  10. Ek stem volkome saam, Breyten. Die tyd het gekom.

    Ek het reeds ‘n handjievol gedigte van Neruda vertaal, maar nie volgens enige plan nie, net dié wat my aandag getrek het.

    Hiermee nooi ek dan belangstellendes uit om te werk aan vertalings van Neruda se gedigte met die oog op publikasie van ‘n bundel. Ek dink ons moet ooreenkom wat betref werkswyse: watter gedigte vertaal moet word, wedersydse kritiek en ondersteuning, tydraamwerk ens.

    Ons kan seker aanvanklik hierdie forum gebruik om aan die gang te kom en dan later e-pos en die ander hedendaagse hulpmiddele soos Skype en stemboodskappe gebruik.

    Dit sal ook ‘n plan wees om literatuurkenners uit te nooi om hulle stuiwers in te werp – veral wat betref die bepaling van watter gedigte Afrikaans moet begin praat.

    Het jy al begin skryf aan ‘n voorwoord, doktor Desmond?

  11. Christo van Staden :

    Wonderlike vertalings, dankie. Die tuimelende ritmes van die Ode aan die Tamatie het my nog altyd aangegryp – dis lekker om dit in Afrikaans ook te lees, wat op ‘n manier meer vatbaar is vir die Spaanse ritmes as Engels.

    Daar is, benewens Neruda, reeds ook bydraes uit die wyer Spaans-Amerikaanse poësieskat, soos die sterk César Vallejo-vertalings van Charl-Pierre Naudé.

  12. Goeie woordkeuse, Christo: “tuimelende ritmes”.

    Jy klink soos iemand wat self al uit Spaans vertaal het. Ek vind in der daad dat daar ‘n soort sinergie is tussen Afrikaans en Spaans. Dit is maklik om ‘n ritme in Afrikaans te vind wat die gedig se aard weergee (nie noodwendig dieselfde ritme as in Spaans nie).

    La calle
    se llenó de tomates,
    mediodia,
    verano,
    la luz
    se parte
    en dos
    mitades
    de tomate, …

    So begin “Oda el tomate”. Die kort, dikwels eenwoord reëls maak dit maklik om die ritme in Afrikaans met die gedig s’n te laat ooreenstem.

    Wanneer dit egter kom by die klankstruktuur, volg ek persoonlik heeltemal ‘n ander strategie. Ek dink nie as ek die Spaanse klankstruktuur probeer naboots in Afrikaans, sal dit hoegenaamd werk nie. Ek probeer eerder die gevoel van die gedig in die mees idiomatiese Afrikaans waartoe ek in staat is, in Afrikaans te herskep.

  13. engemi ferreira :

    Wat ‘n briljante idee; soos Desmond het ek ook groot geraak met Uys se ‘Spaans’ in my mond, ore en hart, as ek hardop vir die Kalkveldse klippe sy verse voorgelees het. Dit was selfs toe reeds, so 8/9 vir my vanselfsprekend dat die Suiderlande met hul warmer temperamente tog eenvoudig net veel nader aan ons. In Taal en gemoed en passie, sou ek dink. En met die projek word dit dan nou ‘n werklikheid. Ek sal verder hoop dit bly nie net by Neruda nie, maar veel meer: Lorca, Pesoa, Saramago en meer. Teen die tyd meen ek is julle al sekerlik byna klaar met die bundel? Plaas tog bietjie lusmakers vir die lekker alst u blief ;~)

  14. engemi ferreira :

    Askies, die opwinding het my oorweldig en toe vergeet ek om dankie te sê vir dit wat reeds hierbowe verskyn het: Baie dankie aan almal wat vertaal het, heerlike leesuur

  15. Hallo Engemi

    Dis lekker om te hoor jy’s so geesdriftig oor Neruda in Afrikaans. Maar stadig oor die klippe! Die projek is nog eers besig om stadig vorm te kry. Sulke vertalings kan mens natuurlik nie aframmel nie, dit neem tyd.

    Maar, as jy gaan na die “translations/vertaling” afdeling van Versindaba, sal jy nog ‘n handjievol gedigte van Neruda sien wat ek en ander ouens vertaal het. Ek stuur gewoonlik ‘n vertaling vir Versindaba sodra ek daarmee klaar is en dan kom dit gewoonlik in die afdeling vir vertalings. Jy kan so af en toe daar gaan kyk vir ‘n nuwe gedig.

  16. engemi ferreira :

    Dankie De Waal. Ja, ek het maar bietjie geterg oor ek self so stadig skryf en alle ander mense so vinnig. Maar dankie vir die advies – sal so maak en lekker werk aan die projek; julle is ‘n danige klomp woordenaars bymekaar

  17. Hemels! Ek het my toegerank in hierdie vertalings – dankie, dankie, dankie! Ek word oud – moenie te lank vat met so ‘n publikasie nie, netnou is ek anderkant toe voor ek dit kan lees.

  18. Dis lekker om te hoor jy geniet die vertalings, Elizabeth :}

    Ek werk so vinnig as wat ek kan, maar wil nie oorhaastig wees nie. Verder is ek ook baie besig met ander dinge. Ek is ‘n arbeider (lees: stadsraadslid) in Krugersdorp. Ek sien jou kantoor is hier naby die dorp.

  19. Jip, (my MAN se kantoor) – ons woon en werk in die Cradle. Dag niemand hier rond hou van digterye nie – ek sukkel met die mense jong. Opgegee en is nou my eie beste vriend en lees my lese en geniet my boekdinge!

  20. Magda :

    Dankie vir die pragtige vertalings!!

  21. Hallo Magda. Dankie vir jou kommentaar 🙂 Hou hierdie venster dop – daar kom nog!

  22. voorheen Klippe van die hemel – grote dank vir die vertaling. Ek is mal oor klippe en die oer-oue taal wat hul praat.

  23. Maria :

    Oe, “Ode aan ‘n groot tuna in die mark ” is fantasties! Dit verskaf my fenomenale vreugde om dit te lees! Ek wil elke keer van voor af begin – sjoe, lanklaas so helemal gek gegaan oor/deur ‘n gedig?!

  24. Nicolette van der Walt :

    Heerlik om een van my gunstelingdigters ook in Afrikaans te kan lees. Hierdie vertalings is knap gedoen. Dankie! Ek sien uit na ‘n hele bundel in Afrikaans van Neruda se werk – ek sal een van die eerstes wees om een te koop :-))

  25. Magda :

    De Waal is hierdie wonderlike vertaling al geboekstaaf?

  26. Hallo Magda

    Nee dit is nog nie in ‘n gedrukte vorm geplaas nie. Ek is besig om genoeg gedigte van Neruda te vertaal sodat mens ‘n versameling kan publiseer. Maar ek is nog nie daar nie. Daar is wel ‘n groep vertalings hier op Versindaba, soos jy seker weet. Jy kan ook op my webruimte kyk – ek dink daar is Neruda gedigte wat nog nie op Versindaba gepubliseer is nie. Hier is die skakel: http://blogs.24.com/poems/ Jy kan die “Search” funksie op die blad gebruik. Groetnis.

  27. Susan Smith :

    Aan die Johanne en De Waal – dit voel of hierdie gedigte bedoel was vir Afrikaans, die klankrykheid is lieflik, sensueel, kragtig. Ek sien uit na ‘n volle bundel!

  28. Hallo Susan

    Ja, dit is merkwaardig hoe tuis mens voel met die Spaans. Alhoewel die een Germaanse oorsprong het en die ander Latynse, kon hulle nesowel broers (of susters) gewees het!