Hennie Nortjé wen die Ingrid Jonker Prys 2013

Hennie Nortjé wen die Ingrid Jonker Prys 2013

 

Hennie Nortjé wen vanjaar die Ingrid Jonker Prys vir Afrikaanse poësie met sy digdebuut, In die skadu van soveel bome (Queillerie, 2012). Petra Müller, Melt Myburgh en Henning Pieterse was die beoordelaars.

Dié bundel bevat volgens een beoordelaar “talle sterk, afgewerkte gedigte waarin eienskappe van verskeie bome en diere verweef word met menslike emosies, karaktereienskappe en ervarings.” Dieselfde beoordelaar spreek waardering uit vir Nortjé se gebruik van rym en halfrym, asook die manier waarop hy digters soos Barend Toerien, Boerneef, I.L. de Villiers en veral D.J Opperman oproep deur gebruik te maak “van verskeie subtiele trope.”

Nortjé, meen ’n ander beoordelaar, “is ’n begaafde digter wat met ’n volwasse stem konstant stilisties afgeronde verse lewer van uitnemende gehalte. Hy verras die leser telkens met sy vermoë om die potensieel alledaagse te verhef tot verruklike poëtiese ervarings wat die grense van die verbeelding skuif.”

Die beoordelaars het dit duidelik gemaak dat daar vanjaar verskeie sterk aanspraakmakers op die prys was. Groot waardering is uitgespreek vir die ander drie bundels wat die kortlys gehaal het: Die lewe tussen pikkewyne deur Jasper van Zyl, Donkerkamer deur Fourie Botha en Wanpraktyk deur Andries Samuel.

Die Ingrid Jonker Prys word jaarliks beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het.

Nortjé sal op 20 Oktober tydens vanjaar se Melville-poësiefees die Ingrid Jonker Prys in ontvangs neem. Henning Pieterse sal die prys, wat uit ’n medalje en kontantbedrag bestaan, oorhandig en met die digter ’n onderhoud voer. Daarna sal Nortjé uit die wenbundel voorlees.

Danie Marais is die sameroeper van die Ingrid Jonker-komitee. Die ander lede van die komitee is Ronel de Goede, Diana Ferrus, Finuala Dowling en Leon de Kock.

 

 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Hennie Nortjé wen die Ingrid Jonker Prys 2013”

  1. Mellet Moll :

    ‘n Uiters verdienstelike toekenning. My opregte gelukwensing aan Hennie.

  2. gilbert g :

    geluk, en alles:
    die gedigte duidelik nie net in die skaduwee van al daardie bome nie…

  3. Charl-Pierre Naude :

    Baie geluk aan Hennie Nortje.

  4. Jasper van Zyl :

    Wonderlike bundel met ‘n spesiale plek op my rak! ‘n Waardige en belangrike wenner. Geluk!

  5. Joan Hambidge :

    Mag daar nog vele bome afgekap word vir jou! Joan

  6. Hennie Nortje :

    Dankie almal vir die mooi woorde. Vandag was ‘n besondere gesukkel met onbeheerde diabete – so asof die skoenmaker hom maar eerder by sy lees moes hou, soos Hippokrates vereis.
    Vergun my dan as selfterapie asseblief tog ‘n prul ten koste van die swaarmoedige swaar bekroonde. En dit geskied natuurlik met apologie aan die dubbelbandstrandkiewiet wat ‘n tog te pragtige voeltjie is.

    Die dubbelkroon-krankkiewiet

    In die woude van Goodwood
    waar van smorens tot saans
    die ambulans raas
    en karre verwoed bly toet,
    kon befaamde ornitoloë
    hulle verkykers gister skaars glo,
    want dáár, duidelik al áán in die jare
    en goed deur die blare,
    het die vreemdste denkbare hibried
    so wragtag iets pragtags
    van hoog in die takke gepiep.

  7. Johann Lodewyk Marais :

    Hartlik geluk, Hennie Nortjé. Jy het ‘n gedenkwaardige bundel geskryf.

  8. Nicolette van der Walt :

    Baie geluk, Hennie. Voorwaar ‘n besonderse prestasie!

  9. Ai, dink tog in hierdie dae aan die Polkadraaipad! Hennie, jy bly die beste klimraam (volgens Alexander die veroweraar) & dit was besonders om jou & Lettie te ontmoet.