Resensie: Klawerjas (Adam Small)

 

 

 

Klawerjas. Gedigte. Deur Adam Small. 2013. Tafelberg. ISBN 978-0-624-06545-6.

 

Resensie deur Bernard Odendaal.

 

Die verbreking van ’n veertig jaar lange digterlike swye deur Adam Small met die lywige Klawerjas het alreeds geblyk groot nuus te wees. In verskeie media is oor die bekendstelling van die bundel op Wellington enkele weke gelede berig.

 

Die luukse formaat waarin dit uitgegee is (hardeband met glansomslag), is deesdae eintlik net versamelwerke en keure uit die werk van die sterkste gekanoniseerde Afrikaanse digters beskore. Ook die uitgewery van dié bundel is dus kennelik onder die indruk van die belang van die gebeurtenis – ’n gebeurtenis waarvan Small self in die gedig “My woorde kom weer” sê: “Kyk, / die magie van my hand het nie verval nie.”

 

Dit alles moet ook beoordeel word teen die agtergrond van die Hertzogprys-toekenning aan Small verlede jaar, naamlik vir sy lewensbydrae as dramaturg. Daarby die huldigingsbundel Vi’ Adam Small wat ongeveer dieselfde tyd die lig gesien het (vergesel van ’n laserskyf met opnames van, onder meer, sy voordrag van eie gedigte, asook deur verskeie ander digters van die verse wat hulle op uitnodiging ter huldiging van Small geskryf het).

 

’n Beswaar dat die SA Akademie nie gehou het by sy eie toekenningsreëls nie, het met die bekendmaking van die Hertzogprystoekenning gepaard gegaan. En nou gaan ook die verskyning van Klawerjas vergesel van kontroversie, naamlik rondom sekere verwyte deur die onlangse digdebutant van die Kaapse Vlakte, Nathan Trantraal (in ’n mindere mate ook deur dié se broer, André, en eggenote, Ronelda Kamfer). Small is naamlik op die brood gesmeer dat hy, soos ook byvoorbeeld Peter Snyders, van Kaaps iets min of meer vermaakliks binne die Afrikaanse poësiesisteem gemaak het – iets wat nie met dringende onmiddellikheid die nood van die (destyds en steeds) gemarginaliseerde sprekers van Kaaps vertolk nie. ’n Hele paar polemici (hierdie resensent inkluis) het Trantraal oor die vingers getik weens sy misvattings in hierdie verband.

 

In bepaalde uitlatings van Trantraal sedert die bekendstelling van Klawerjas blyk egter dat hy eintlik meen dat Small – in die lig van die versoening wat binne Afrikaanse geledere in die breë gesoek word – só sterk in die hart van die sisteem opgeneem is dat hy kwalik meer as vertolker van die gemarginaliseerdes se situasie (kan) optree. Let op, dring Trantraal aan: Kaaps is nie Small se leeftaal nie; en Klawerjas is, op een gedig na (“Ons is op soek”), volledig in Standaardafrikaans geskryf.

 

Oor sy vroeëre gebruik van Kaaps as digmedium laat Small hom self soos volg uit (in die gedig “My woorde kom weer”):

 

               

 

[…] My Kaaps is goeie geskiedenis –

 

die stemme, soos ek dit verbeeld het, van die

 

stemloses. Maar dan kom ’n keer wanneer

 

’n digter ook aan sy eie belang sal dink,

 

homself as individu op die verhoog moet

 

bring. Daar’s immers werklikhede, van die

 

digkuns onder meer, ewe dringend tog

 

as dié van die ertappeleters van Van Gogh.

 

 

 

En ook, my Kaaps leef voort in die musiek van

 

hierdie nuwe verse, die paring van en speel

 

van binne- en buiteryme. Só bly die

 

Krismisbands en -kore, van tye her en nou,

 

in hierdie nuwe werk se landskap sing,

 

sing, sing en stap.       

 

 

 

Alles besonder interessant, veral gesien in terme van die dinamika van die Afrikaanse poësiewêreld in sy geheel. En tog eintlik net sydelings van belang in die beoordeling van die kwaliteite van die bepaalde teks wat die resenseertaak primêr vereis.

 

Klawerjas is ’n bundel wat ’n sterk belydend-bespiegelende indruk maak. Dit het dikwels ’n pront outobiografiese inslag (’n duidelik herkenbare “ek” is prominent). Vergelyk:

 

               

 

As digter hoop ek om langs hierdie pad nóg

 

’n werk te skryf soos Kanna: strak, presies,

 

gestroop tot op die been. Met versugting

 

dink ek seker dis nie meer moontlik nie.

 

Nou wend ek my, beskeie maar,

 

tot hierdie verse.

 

(“Op reis”)

 

 

 

’n Indruk van selfkoestering is plek-plek nie deur die leser te ignoreer nie; ’n paar keer, byvoorbeeld, word eie vorige werk as “groot” waardeer. Sweme van sentimentaliteit ontbreek ook nie – soos in “Nou vou ek jou toe”, wat ’n liefdestweegesprek tussen die digter en sy vrou, Rosalie, behels. Stilistiese naklanke van die Dertigers se belydeniskuns duik op (“skriklik”, “enkele groot dinge”); ook daardie geslag se Romantiese opvattings oor die geheime, bowepersoonlike poësieskeppingsproses (vergelyk gedigte soos “’n Soort chemiese proses”, “In die diep nag” en “Nihil ex Nihilo”).

 

Selfs van nogals gemoedelike lering word nie teruggeskrik nie:

 

 

 

Nou bring ek aan jou ’n woord van dank

 

vir die vriendskap wat jy Rosalie betoon het

 

in jul werk saam aan die UWK.

 

Want dis altyd nodig om in die werkplek

 

nie net kundigheid uit te ruil nie maar,

 

belangriker selfs,

 

ook medemenslikheid.

 

(“Juliana”)

 

 

 

Uitsegging, eerder as beelding en suggestie, oorheers. Hiervan spreek alreeds afdelingtitels soos “Wat is poësie?”, “Liefde”, “Herinneringe” en “Versoenings- en vredesgebede”. Wanneer wel van beelding gebruik gemaak word, gaan dit gepaard met betekenisuitlegging:

 

 

 

Ek word weer en weer gevra

 

hoe ’n gedig ontstaan.

 

Ek het verskeie beelde al van dié

 

gebeurtenis probeer gee – hier’s

 

nog een: om iets te teken, dan te

 

bou. Iets soos

 

Gerard Moerdyk se werk, elke

 

lang uur, lyn vir lyn, streep vir

 

streep [ensovoorts]…

 

(“Moerdyk – Van Wouw”)

 

 

 

Wanneer daarin geslaag word om te stuur in die rigting van die verhaal- of sketsmatige, na suggestiewe beelding toe, word die treffendste werk in die bundel opgelewer. Soos in “Wat is liefde?” (die gesellig kletserige openingstrofe nie in berekening gebring nie), waar die tekening van ’n sonsondergang- en ’n onweerstoneel evokatief van die intense liefdesbelewenis word, sodat die slotreëls ’n gemotiveerde en treffende abstrahering verteenwoordig:

 

 

 

                Ondanks die angs in dit alles ingebou, bly ek

 

                jou liefhê. Die ontstellende vreugde is myne.

 

 

 

Tesame met die neiging na langer, veelvuldig saamgestelde en herhaaldelik geparentetiseerde sinskonstruksies, asook die grootliks spanninglose versifikasie (met toevallige ryme hier en daar), werk die dikwels redenerende en mededelende inslag van die verse ’n prosa-agtige trant in die hand. 

 

Dié indruk word versterk deurdat baie van die gedigte in Klawerjas redelik deurspek is van retoriese uitroepe, vrae en aansprekings, asook nogals verslete uitdrukkings (“wonderlikste uitsigte”, “enorme stuk gronderosie”, “magtige Coloradorivier”, “asemrowende skakerings van kleur”, “falende lig” – almal uit ’n enkele gedig, naamlik “Grand Canyon”).

 

Op ’n manier aansluitend by laasgenoemde is die wyse waarop Small, op hoofsaaklik bevestigende, dit wil sê nie-kompliserende wyse, gebruik maak van aanhalings uit ander skrywers se werk. ’n Onbedoelde effek hiervan is dat die klinkendheid van die aangehaalde tekste die eie woorde van Small hoofsaaklik in die skadu stel. “Beluistering” is ’n voorbeeld. Vergelyk die openingstrofe:

 

 

 

As digter wéét ek: woorde is magies

 

word hul met styl gepraat en beluister.

 

Met die geduldige beluistering

 

van woorde begin, ondanks alle verskille

 

tussen mense, wysheid en vrede.

 

Die digter Jana Beranova is reg as sy,

 

gróóts, opmerk dat

 

“als niemand

 

luistert

 

naar niemand

 

vallen er doden

 

in plaats van

 

woorden”.

 

 

 

Na my wete moet die Tjeggies-gebore Nederlandse digteres se van met ’n geaksentueerde slotvokaal geskryf word – só: Beranová. Ek vermeld dié besonderheid, aangesien dit saamgesien kan word met die agtelosigheid dat die volgende aangehaalde Nederlandse woorde uit die tweede strofe van bogenoemde gedig verkeerd gespel is: “schuilplaatzen” en “gedaghten”. 

 

Klawerjas verteenwoordig op sy beste die rustige bespiegelings en mymerings van ’n “geduldige beluisteraar” van woordeskat wat sowel individueel- as maatskaplik-etiese, maar ook religieuse en filosofiese insigte vertolk. Myns insiens is dit ’n “versoenende” bundel in die huidige Suid-Afrikaanse konteks. Via die benutting van Standaardafrikaans, die waarderende sitering van die woorde en gedagtes van wit Afrikaanse digters soos Leipoldt, Opperman, Van Wyk Louw en Breytenbach, selfs via die benutting van ikoniese Afrikaner-gedenkbouwerke soos die Voortrekker- en Vrouemonumente as beeldingsmateriaal – trouens, die ryklike omgaan met ’n hele Europees-Westerse kultuurtradisie as verwysingsraam – is daar ’n bewuste (mede-)identifikasie met wat baiekeer as nie-Afrikagemeengoed uitgemaak word. Aan sowel Nelson Mandela as F.W. de Klerk word versoeningsgebede gewy, terwyl ook “’n Nuwejaarsgebed vir demokrasie” opklink in een van die latere afdelings van die bundel. Uit dit alles tree die beeld na vore van:

 

 

 

deur die lewe goddank uitgewan

 

’n ouer en wyser man.

 

(Slotwoorde van die slotafdeling, “Gegroet wees die leser”)

 

 

 

Maar of die verrassende, groot troef van die digterlike woord (waarop die bundeltitel onder meer slaan, blykens die gelyknamige gedig) genoegsaam in die proses meespeel om duursame resultate uit dié nadink en onthou op te tower? Myns insiens alte selde.

  • Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)

 

                                          Resensie geborg deur

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: Klawerjas (Adam Small)”

  1. Charl-Pierre Naude :

    Ek wil nie hier reageer op Bernard Odendaal se resensie nie, wat die funksie van ’n resensie vervul. Ek wil eerder in die geval van Klawerjas die aandag vestig op ‘n gelyklopende aspek van die “publikasie as gebeurtenis”. Dis sekerlik iets wat alreeds gedoen is (in verskeie forums), maar ek hoop die rede waarom ek dit weer doen, sal blyk.

    Baie publikasies het beide ’n literêre sowel as ’n moreel-sosiaal-historiese draagwydte. In die geval van Klawerjas, is laasgenoemde draagwydte besonder sterk aanwesig, in ’n byna oordonderende mate. Miskien is laasgenoemde feit die rede waarom heelparty kommentators en joernaliste die onbetwisbare belang van hierdie publikasie op effens geforseerde wyse in terme van die suiwer literêre probeer ontsluit het? Small se beste literêre prestasies is egter van só ’n blywende aard, dat ’n enkele soort interpretasie – omwil en dank – hierdie slag tog sekerlik nie nodig was nie.

    Waaroor nog veel meer geskryf kan word (en dis juis nie die terein van ’n resensie nie), is die moreel-sosiaal-historiese draagwydte van hierdie publikasiegebeurtenis, wat dit gedoen het met, en aan, die narratief van letterkundepublikasies in Suid-Afrika: Dit het daardie narratief op ’n ingrypende wyse verander, myns insiens.

    Ek het al die volgende definisie van poësie gehoor (en hoe moeilik is dit nie om “poësie” te definieer nie, bykans onmoontlik): “If it blows your mind, it is poetry.” Teen die agtergrond van die intellektuele geskiedenis van Suid-Afrika – die stil word en openbare terugkeer van ’n onmisbaar morele literêre stem (Adam Small) – is daar wat betref hierdie publikasie as gebeurtenis wel iets wat mense oor ’n wye maatskaplike spektrum verruk gelaat het, en wat dus op ’n ánder wyse as op die suiwer literêre manier met Small se beste werk kan saampraat. Dit het op ’n ánder manier iets soortgelyks vermag.