Onderhoud met Joan Hambidge

Die uiteindelike amberkamer 

Heilna du Plooy gesels met Joan Hambidge oor haar jongste bundel Meditasies (2013), Potchefstroom, 28 Oktober 2013

Heilna du Plooy (HdP) : Joan, baie geluk met hierdie bundel Meditasies. Ek dink dit is ‘n pragtige en ryk bundel wat inhoudelik en tegnies sorgvuldig afgewerk is. Met terloops, ook ‘n pragtige buiteblad wat aansluit by die dertigste gedig in die bundel, “Meditasie, Tyd”.

Die titel van hierdie bundel is Meditasies. In die lees van die bundel kom dit na vore dat dit gaan om verskillende soorte meditasies wat ook gerig is op verskillende onderwerpe. Is die gedig vir jou ‘n meditasie as sodanig of die plek/ruimte van meditasie?

Joan Hambidge (JH): Ek het hierdie bundel geskryf tydens en ná ’n reis-om-die-aarde so twee jaar gelede tydens my sabbatsverlof. Ek het spesifiek plekke (ruimtes) besoek waar ek as jonger digter was om ’n soort bestekopname te maak van myself as mens en as digter: Hong Kong, Beijing, Tokio, San Francisco, Los Angeles, Chicago, Washington, New York en Istanboel. Dis ’n idee van ’n vriend dat ons so ’n reis moes onderneem. Hy was saam met my in San Francisco en hy en ’n vriendin was agter my en ons het weer saam ontmoet in New York. Tydens hierdie reis ontdek ’n mens wat het verander, en veral: wat hét dieselfde gebly. My vriend was nog nooit in New York nie en dit was dan interessant hoe hý die stad ervaar het. Heeltemal anders as ek wat al telkemale daar was, vóór 9/11.  Vir my was dit anders. ’n Dubbeldoor-ervaring. Ek het ook onthou hoe ek die eerste keer in 1980 gereageer het op die stad en hoe ek tydens hierdie reis die impak van 9/11 kon voel en registreer.

Die gedig is ’n meditasie. Hierom is ’n gedig elke keer ’n ander registrasie, opskrywing, belewenis. Maar dis altyd die ek wat kyk, registreer, bely. Ek vertrek einde vanjaar na Viëtnam, ’n vreemde ruimte en dus sal die gedigte nie die selfverwysings dra nie.

 

HdP: Die motto’s by die eerste twee afdelings van die bundel handel albei oor koudheid, oor die liriese digter se koue hart en die digter wat drink uit koue klip. Hoewel die gedigte dikwels direk of indirek ook handel oor eensaamheid, stilte, leegheid en ‘n geïmpliseerde koue, vind ek tog baie energie in die verse as verse. Wat kan mens lees in hierdie verhouding tussen die onderwerp van die gedig en die gedig as gedig?

JH:

Lyric poets

Usually have – as he knew – cold hearts.

Czeslaw Milosz

I drank from honeycombs of

chill sandstone.

Geoffrey Hill

Dis die twee motto’s waarna jy verwys. ’n Mens is emosioneel of reageer sterk op iets (die dood van ’n geliefde, die dood van ’n ouer self, die einde van ’n verhouding of fase), maar die gedig self moet gedistansieerd wees en deur vorm of beeld die boodskap oordra. Die digkuns is tog soos Wordsworth al verduidelik het “emotion recollected in tranquillity”, om deur afstand die pyn in vorm te vertaal.  Die digkuns is beheerde emosie. Dit verwerk intense ervarings in vorm. En, pyn beteken nie noodwendig ‘n goeie of geslaagde gedig nie. Die goeie gedig eis vormbeheer, distansie, kilheid, afstand.

 

HdP: Stede staan sentraal in die bundel, veral in die eerste afdeling maar ook verderaan. Hoe lê die verband tussen stede en gedigte? Dit lyk vir my of die stede metafore word, of hulle vir die digter metafore gee of verskaf wat uiteindelik ‘n ander verhaal help vertel.  Soek jy die stede terug, of soek jy na gedigte in/oor stede of gaan dit om die herroeping van emosies in stede/agter die gedigte?

JH: My reis was ’n besoek aan hierdie stede. Soos ek reeds vertel het, het ek en ’n vriend een middag besluit kom ons reis-om-die-aarde. Toe het ek sommer die volgende dag die kaartjies bespreek. Visums by verstek is ’n bundel oor stede. In Meditasies word die stede metafore soos onder andere New York wat ek as ’n aksiegedig beskryf. As ek sou weet hoe die stad uiteindelik ’n gedig word, sou ek waarskynlik nie kon dig nie.

Daar is beslis iets “unheimlichs” hierin opgevang. Verlede jaar Desember was ek in Venezia, ’n stad wat ek na ’n pynlike aflegging besoek het. Dit was asof ek weer in daardie ellende ingestap het. Asof ek ’n begraafplaas besoek het en blomme gaan neersit het. Hieroor het ek ’n verhaal geskryf vir Peter van Noord se Skarlakenkoors wat binnekort verskyn.

Dieselfde geld vir my komplekse verhouding met New York, voor en na 9/11. Ek is gefassineer met die Amerikaanse digkuns en my eerste bundel Hartskrif het immers aan die Ooskus van die VSA ontstaan.

15 New York as gedig

 

Akatalektiese stad,

jy is ‘n aksie-gedig,

veelstemmig met Greenwich Village

wat resoneer met Harlem,

‘n Hudson wat terugpraat met die East.

Stad van allusies en illusies,

jy laat jou nie maklik skandeer

óf verstaan nie. Op Lexington Avenue

begryp ek iets van jou leksikale veelheid:

in Central park staan ek vol onsekerhede

oor hoé om jou in ‘n vers op te som.

Skuilplek vir haweloses en magnate: Donald Trump

hou die blinkkant bo nes die Rockefeller

met wapperende vlae.

Die World Trade tans herbou; ‘n aanval so getroef.

Maar jy val my telkens in die rede,

nes ek dink ek het jou onder die buigende knie.

Grimmig weet ek jy begryp Aposiopesis of ‘n weer-begin

as digterlike handgreep. Hierdie is my apostroof,

my groet aan jou: stad wat Auden tydelik huisves,

die grote Ginsberg se fantasieë versier

en Billy Collins laat kekkel en skater by kroegvoorlesings.

Vanaf die Brooklyn-brug kyk ek terug na jou:

ek neem afskeid vir ‘n vyfde, maar nie laaste keer.

Hartstad, dwingende stad, ingewikkelde stad,

my eerste elegieë het hier ontspruit;

ek sing vanaand die Westside-Blues.

*

Natuurlik vertel die bundel ’n verhaal: ’n reis (letterlik), dan ná die stede selfkonfrontasies en dan ook my afskeid aan gestorwe digters.  Die stad “verdwyn”. Elke keer wanneer ek Hong Kong besoek, is ’n gebou weg en staan daar ’n nuwe. In Los Angeles word die hotel waar ek gebly het, binnekort gesloop.  Dis bykans soos om na ’n foto-album te kyk of ou briewe te lees en te wonder wat het van daardie mens geword.  ’n Mens soek dus die ou stede terug en in die proses ook die mens wat jy was. Toe ek in die eerste keer in die VSA was, ontdek ek Roland Barthes se Mythologies in Las Vegas. En in die boek vind ek die hotel se adres waar ek gebly het. Dus het die gedig vir baie jare gebroei in Roland Barthes.

En ek kon skielik presies onthou hoe ek toe gevoel het. Alleen en reisend deur die VSA. So word die emosie dus baie jare later herroep in al die betekenisse van die woord.

 

HdP: Ek vind in die gedigte ‘n intense bewustheid van tyd en ruimte. Die drie gedigte oor Tokio handel by voorbeeld meer oor tyd as oor die stad self. Daar is ook deurentyd ‘n koppeling tussen plek en emosie – emosies gekoppel aan plekke of plekke gekoppel aan emosies. Mens kan amper sê, plekke word emosies, roep emosie op maar emosie word ook beleef in terme van plek. En soos blyk uit jou vorige antwoord, sien jy selfs die stad new York in terme van of as sodanig as ‘n gedig.

Nou is tyd en ruimte narratiewe kategorieë en die vraag kom by my op of mens die gedigte sou kon lees as momente of snypunte of knooppunte in ‘n (lewens)-verhaal. Of is die gedig net ‘n momentele verposing, dalk ‘n skuiling juis teen die voortgang van tyd?

JH: ’n Mens raak geweldig bewus van tyd wanneer jy reis. Tyd verander, jy moet op ’n lughawe wees anders verpas jy ’n vlug. (Ek het twee keer in my lewe tyd verkeerd gelees in die VSA en by genade gods het die lugredery my net op die volgende vlug kosteloos gesit.) Jy wen selfs ‘n dag wat jou selfoon registreer.

Die gedig is waarskynlik ’n momentele verposing; gedigte word tydens die reis geskryf, maar agterna het nog na vore gekom. Dus die letterlike reis, dan die herinneringsreis, dan die reis weer in gedigte. En ten slotte, die afwerking en die plasing van verse in ’n bepaalde orde.

’n Plek roep inderdaad ’n bepaalde emosie op: ’n mens kan nie in New York staan sónder om te onthou hoe die eens lewenskragtige stad aangeval is nie. My nuwe hartstad is Istanbul wat ek vroeër vanjaar weer besoek het. ’n Stad in sy skoonheid en geskiedenis wat ’n mens eenvoudig net nie kan deurgrond nie.

Jy as kenner van narratiewe digkuns sal weet ’n gedig vertel altyd ’n verhaal, al is dit indirek. Hierdie bundel is ’n digterlike bestekopname: van die mens/digter wat ek was en genadiglik nie meer is nie.

In die afdeling selfkonfrontasie dig ek:

 

21 Sel(f)portret op 55, ‘n meditasie

 

In watter hotelkamer,

op watter vreemde kontinent

het hierdie foto

uit my Fuji geklik?

Gepofte oë (ja watter on-lieflikheid

is sy nie hier nie?), wrewelmond,

ysterdraad hare,

gekleurde wenkbroue

en huilsakke onder die bril

geplaas op ‘n snuffelende neus.

Gordyne effens oopgeskuif,

hempkraag ópgeslaan.

Voetjie-vir-voetjie word jy emigrant,

verwys jy na Eybers tevergeefs,

selfverraaier, uitgevang met Nixon-wenkbroue,

skryn daar selfs ‘n helder lig in selfondervraging

oor die objek genaamd, bedrywer van die halwe rym

of waarheid: ‘n blikstem roep,

“This is your wake-up call”,

dis nou of nooit; vergeet van VWL en Eybers.

Luister na JdL se raad oor die sinergie

tussen foto en selfportret:

“You never finish a poem, just abandon it”

in hierdie digterlike Watergate.

In watter hotelkamer,

op watter vreemde kontinent

loop die muses so bakhand met die woord?

 

HdP: Die bundel is opgedra aan Johann de Lange. In die lees van die gedigte voel ek inhoudelik deurlopend ’n gesprek aan, met verledes en geliefdes en herinneringe, maar dit is ook asof die gedigte telkens gerig word tot gespreksgenoot. Baie gedigte is in elk geval duidelik apostrofies daarin dat iets of iemand aangespreek word. Is Johann de Lange in die bundel die primêre digterlike gespreksgenoot of klankbord en is daar meer sulke gespreksgenote?

JH: Johann de Lange word dikwels by die naam genoem, omdat ons ook verbind is per e-pos terwyl ek reis. De Lange vertolk ’n belangrike rol in my lewe: as vriend en as leser van my gedigte. My vader is ook ’n gespreksgenoot en dan die vriend, wat saamreis wat met sy aankoms ’n gedig sal ontvang – natuurlik eers later – oor dit wat ek nou in Tokio of Washington beleef het. Apostroof ja in die aanspreek van iemand, maar ook in die weglaat van iets/iemand. Ek noem die geliefde by die naam nie. Maar sy is daar. Sy lees nie my gedigte nie en ons verhouding is bedryf op ’n ander vlak. Die ander gespreksgenote is digters, lewend en gestorwe: Opperman, Eybers, Louw, Sexton, Plath, Breytenbach, Cloete…

Daar is ’n vers oor MM en weer eens word al die gesprekke met Cloete heraktiveer. Ek reis altyd met verseboeke (elektronies) en danksy die internet is die ewig-aangesprokenes, indien lewend, ’n e-pos of sms ver.

 

HdP: In die gedigte oor spesifieke figure, gestorwe digters en beroemdes, val dit my op hoeveel vrae daar in die gesprekke voorkom?  Is hulle, die 3 Afrikaanse digters, Chris Lombard, Carel Mischke en Wessel Pretorius en Adrienne Riche en Anne Sexton, op ‘n manier swyende gespreksgenote? Of voel jy ‘n soort solidariteit met voormalige en ander bewoners van die land van digkuns? Voel jy ‘n verantwoordelikheid teenoor ander digters as ’n soort beskermengel wat hulle moet verweer teen vergeet en vergetelheid?

JH: Ek voel ’n solidariteit met hulle nie net as swyende vertrekkendes nie, maar ook in die wete dat digters deesdae “verdwyn”. Hulle sterf en daar is miskien iewers ’n beriggie of opmerking. En as daar nie bewakers is nie kan hulle inderdaad verdwyn in ’n tyd waarin ons bedreig word met die onmiddellike inskrywing of gewoon blatante onkunde. Party digters oorleef desnieteenstaande hierdie bedreigings en dit was De Lange wat ’n voortreflike lykdig oor Wessel Pretorius geskryf het en die bedryf aangevat het oor die gebrek aan belangstelling:

Laatnagvrese

Wessel Pretorius (1949 – 2012)

 

Wessel, dis nou drie dae na jou dood

& die koerante swyg in al hulle kolomme

oor die dertiende van die derde

toe jy die onderspit gedelf het.

Die media voel fokkol vir digters.

Nou sit ek teen dagbreek heeltemal nugter

& half verleë, & ek skaam my vir my kollegas.

Al was ons haaks al om die hawerklap

(darem nooit slaags, behalwe in woorde),

verdien ’n digter darem ’n afskeidsgroet.

Laatnagverse & ander vrese bly

’n befokte boek, ons sal ver

na nóg een soos jy moet soek,

jy is ’n original, met jou ingat, ougat taalspel,

met jou liefdes & jou (dronk)verdriet.

Alles is verniet, & níks is verniet.

Trust jou om die dertiende

vir jou flatline op die Styx te kies.

Wás die lewe maar soos ’n LP

wat op ál die regte plekke vashaak,

daardie spesiale blikke & oomblikke

waaraan mens bly vasklou

as die naald gly oor die blinkswart strook

om in die voltrekte stilte te bly hakkel.

Met jou kroeg- & ploegpraatjies opgedroog,

& jou vrytyd verby, is dit saktyd

& jy is gans uit jou plek. (Boer jy

nou saam met Carl Ziervogel

& voer daai groen gesprek

wat net in begraafplase gedy?)

Of is jy sprakeloos gedryf

om druk ondergronds te skryf

met ’n lyf wat lykant toe leun?

Ek hoop jy het op jou nul-uur

weer daardie voël soos ’n telefoon hoor sing.

Tussen die eerste & die laaste reëls van ’n gedig,

tussen verloor & vind – dáár lê die ding.

 

HdP: En later is daar verskeie gedigte oor die ontvangers van gedigte: lesers, geliefdes en so aan, maar die digter het skynbaar nie baie vertroue in hierdie lesers nie? Kommentaar hieroor?

JH: Die digter het geen beheer oor hoé die gedig gelees of vertolk mag word nie. Jy moet dit afteken, laat gaan en dikwels jare later sal iemand reageer op ’n vers en dan is ’n mens bly dit het iets vir iemand beteken. Die gedig kry ’n lewe van haar eie. Dit word op ’n webruimte geplaas of in ’n bundel. Dit behoort nie meer aan jou nie. Iemand mag dit gebruik as ’n motto of voordra by ’n begrafnis. Of ’n liefdesgedig transporteer in Die Burger as ’n in memoriam by die dood van ’n kind.  Die lees- en skryfproses is ingewikkeld, kompleks – die gedig loop dikwels die tyd vooruit en ’n leser mag op die regte oomblik iets begryp.

Ek vertrou ook my ander belangrike leser Henning Snyman en my intelligente uitgewer, Etienne Bloemhof wat ’n fout onmiddellik optel.  Snyman is ’n belese leser van die digkuns en Bloemhof se algemene kennis is bepaald van waarde.

Ek dink Auden het die gebrek aan vertroue so goed opgesom in sy huldeblyk aan Yeats:

II

You were silly like us; your gift survived it all:

The parish of rich women, physical decay,

Yourself. Mad Ireland hurt you into poetry.

Now Ireland has her madness and her weather still,

For poetry makes nothing happen: it survives

In the valley of its making where executives

Would never want to tamper, flows on south

From ranches of isolation and the busy griefs,

Raw towns that we believe and die in; it survives,

A way of happening, a mouth.

 

HdP: Daar is vir my ook in die bundel ‘n gesprek met jouself, veral met jou vroeëre self (spesifiek in die San Francisco-gedigte). Sou mens in hierdie bundel ‘n behoefte aan selfondersoek en ‘n bewuswording van ‘n andere lewensfase kon sien? Dit kom ook na vore in die verse oor emosies soos woede of pyn, oor intense ervarings aan die een kant en stilte, verveling en ennui aan die ander kant?

JH: Meditasies is inderdaad ’n bundel van selfondersoek en my siening van spiritualiteit. Dit is ’n aflegging van my Protestantse jeug en ’n geleidelike oorgang in ’n meer karmatiese en Boeddhistiese siening van die lewe. Die intense emosies in die bundel is sterk gekoppel aan die reiservaring: tydens die proses is ’n mens dikwels verveeld of ontstig. Of gewoon moeg of jy beleef iets wat jy eers in retrospek kan begryp.

7 Stad van Engele

 

In hierdie stad verskyn hulle aan my,

die engele afgestaan aan die dood.

Die een se gesig staan op ‘n uithangbord,

die ander een afgeflets op ‘n winkelvenster.

Maar dis jy, vader, wat my wakkermaak

op ‘n Sondagoggend so teen kerktoegaantyd.

Ek hoor jou woordeloos roep na my

in die Stad van Engele én Illusies.

Terwyl ek hierdie vers skryf, hoop ek dat jy

weer aan my sal raak, voor toemaaktyd.

 

HdP: ‘n Sterk en opvallende tema of lyn in die bundel is dié van tussenwêrelde, tussenfases en tussentye, wat aansluit by die tema van reis. Ervaar jy reis of dalk selfs jou lewe as liminaal? Dit kom direk na vore in die gedig waarin jy verwys na Vladimir Propp en die funksie van die brug in Morphology of the folktale. En die gedig self is vir jou ‘n “transisie”. Is daar wel soms ‘n ervaring van bestemming, miskien momenteel in die skryfhandeling self? Of wil jy dalk bewustelik nie ‘n bestemming hê nie?  En wat ek toe na aanleiding van hierdie vraag gedink het, is dat die gedig wel tot bestaan kom en wel iets vasvang en behou.

JH: Die voorblad (die Brooklyn-brug) suggereer die proses van liminaliteit. Dit was ’n totale gelukskoot hierdie foto geneem vanuit ’n oopbus rég onder die brug. So is die opvang van ’n vers dikwels niks anders as ’n fluke nie. Susan Bloemhof het die voorblad ontwerp.

Skryf is vir my ’n proses van liminaliteit: ek skryf in hotelle en op vliegtuie. Op lughawens of op ’n trein. Of in ’n gastehuis. Ek beantwoord nou jou vrae in ’n restaurant wagtend op ’n gas. Ek probeer myself by herhaling in die oomblik indink, in-mediteer. Bly weg van gister of more. Dink aan nou.  Jy lewe nou. Eenmalig.

Ek gaan haal my gedigte ver op vreemde plekke: dan het ek afstand, ironie, en kan ek ongestoord my verse skryf.

*

Die gedig, nes die dood is wel ’n bestemming, ’n eindpunt.

 

59 Ars poëtica

 

Stilte, eensaamheid

dryf haar van geboorte af

van wieg tot kis:

soekend na ‘n ander

se aanraak of troos.

Op verskeie reise,

vlugtend van om verlaat-te-wees,

weg van pynlike ervarings,

terug tot in ‘n andersoortige kissie:

hierdie klein brose ding,

genaamd ‘n gedig,

nes die amberkamer

in die Hermitage.

Te vertelle,

eenling is jy gebore,

en só sal jy die gom

van die bome sny.

 

HdP: Oor die gedig wat jy hier aanhaal, moet ek iets byvoeg. Dit is ‘n wonderlike ars poëtikale gedig en die slotbeeld is werklik uitsonderlik, so eenvoudig en onderbeklemtoon maar by nadenke geweldig ryk. In die gedig (9) “Los Angeles, ’n meditasie” noem die digter haarself ‘n “woordsnyer” maar hier kom die beeld van die amber as versteende gom by, asook spesifiek die amberkamer van die Hermitage. (Die amberkamer is in 1716 aan Tsaar Peter die Grote geskenk deur Friedrich Wilhelm I van Pruise om ‘n verdrag te bevestig. Die vertrek is in die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s geroof en na Königsberg geneem, maar dit kon na die oorlog nie teruggevind word nie. Dit is vanaf 1979 met befondsing van onder meer Duitsland gerekonstrueer. Vanaf 2003 is die voltooide vertrek in die St. Catherine Paleis in Sint Petersburg te sien.)

Die amberkamer is ‘n afgeslote vertrek waarvan die mure grootliks met amber bedek is. ‘n Nabyfoto van een van die mure toon dat die gom soos mosaïek in klein stukkies gebruik is om die mure van patrone en selfs reliëf te voorsien. Die kamer is verder met goud en met spieëls versier, maar dit is die mosaïek van die amber wat die karakter daaraan gee. Met hierdie inligting in gedagte word die beeld van die gomsnyer en die amberkamer met verskillende dimensies en assosiasies verryk. Die gom wat amber geword het, hou soms ander dinge, deeltjies hout of plantmateriaal en selfs insekte, gevange in die deurskynende versteende vorm waarin dit uiteindelik gebruik word en dit dra by tot die karakter van amber. Maar die gom bestaan uit klein stukkies wat hier reggesny moes word  om in die mosaïek te pas. Die klein onderdele vorm saam ‘n patroon, later ‘n muur en uiteindelik ‘n kamer van skoonheid, afgesonder en selfs oënskynlik na binne gerig terwyl dit inderwaarheid ‘n verhaal van lewenssap en son en groeikrag en lewe, ‘n hele verlede in sigself opberg, alles bymekaargebring in ‘n verskansde plek van skoonheid.

‘n Nabyfoto van die mure van die amberkamer in Sint Petersburg.

‘n Foto van die amberkamer as vertrek.

 

HdP: ‘n Ander lyn wat ek raaklees, is ‘n bewustheid van ‘n metafisiese dimensie. Daar is engele, hoofletters, ‘n bewustheid van eindes (toemaaktyd) en oorgange, van wat nie konkreet sigbaar of vindbaar is nie.

Voor daardie groot Stilte my doodsmoor, 


gee ek my oor aan konkrete beelde


– vermy abkrete en luister na konstraksies –


hier laatnag in Chicago, beslis my soort stad,


in fyn afwering én balans met die groot Abstraksie.

Wil jy iets hieroor sê?

JH: Die digkuns is by uitstek die kuns van metafisika, van inbeweeg in die onsegbare, die verlore tyd/dimensie. Een van ons grootste digters, Elisabeth Eybers, het by uitstek hierdie oorbeweeg, tussentyd, goed begryp. Nie alleen in die gedig geskryf in ‘n tussentaal nie, maar ook die belewenis tussen hier en daar, toe en nou, Nederland en Suid-Afrika… Hierdie gedig staan in ’n huldigingsbundel vir ’n bekende literator en digter. Dit verskyn voorin Marié Heese se jongste roman as ’n motto. Die paradoks van die gedig: dit lewe tóg…

 

19 Istanboel, ‘n meditasie

 

In ‘n troebel droom

skeur ek die binneblad van ‘n boek uit,

daar waar die biblioteekdatumstempel staan.

Die boek handel oor hulle, die dooies,

die vertrekkendes wat soms in drome

hul opwagting maak of in vreemde stede

op ‘n haar-na-lyk soos ‘n inwoner van ‘n stad,

maar praat met ‘n vreemde tongval, verbaas opkyk

en nooit terug groet nie of in ‘n glaskas van ‘n museum

uitgestrek lê en onsiende staar. Hulle lewens

was op bruikleen. Dit het nooit aan hul behoort nie.

Hul lewes was ‘n blote storie en die Outeur

se naam in die kolofon blyk te wees ‘n skuilnaam.

Daardie Naam is die een waarna ek bly soek.

Vannag lees ek daardie geleende boek

oor die lewens van my vriende, my vader

en almal wat my pad gekruis het. Oor ‘n lewe

uitgeneem in die biblioteek van die Dood.

 

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Onderhoud met Joan Hambidge”

  1. Melanie Grobler :

    So ‘n goeie onderhoud van ‘n spesiale digbundel!

  2. Carina Stander :

    Baie geluk, Joan!

  3. Leon Retief :

    Van my kant ook Joan, veels geluk!

  4. Joan Hambidge :

    Dank aan almal en ook aan Heilna vir haar insigryke vrae.

  5. Louis Jansen van Vuuren :

    Lekker onderhoud. Geluk met die bundel – kan nie wag om dit in die hande te kry nie.

  6. Joan Hambidge :

    Kom gerus na die bekendstellings

    5 Desember 6 uur Book Lounge (gesprek met Etienne Bloemhof)

    7 Desember 11 uur Protea Boekwinkel, Stellenbosch
    (gesprek met Ronel Foster)

  7. […] Volledige onderhoud: Versindaba […]