Louis Jansen van Vuuren. November

 

Dis ’n skok vir enige sisteem om uit die woestyn se hitte in die sneeu te beland – om soos blits gekookte aspersies in yswater gedompel te word omdat dit stellig die verleidelike vars kleur bewaar. Dit werk nie vir my Dubai-tan nie. Ek sluk eerder gedwee my Echinaforce-doepa teen dreigende griep en verkoue.

Klimaatsverandering is een ding, die innerlike sprong van warm na koud is ’n gouskat met ’n stomp stert. Daar in die Suide is November die voorspel tot die somer.  Mens loop oor skulpe saam met jou beminde en droom van die eerste kreef uit Weskuswater. Jy verken Platbos saam met jou dogter in die Overberg en raak verlief op die gevlekte stamme van die Witstinkhoutboom. En die wind.

 

 

Gedig vir die wind

 

Wind jy’t my besoek die dertigste November,

oosnoordoos die heelnag deur, die oggend weer

en nou nog steeds ’n ruk- en plukgevaarte

dwars-bemoerd, balsturig, ’n onvoorspelbare

kalant. As kind het ek jou reeds besweer

met ’n frivole naam – Don Juan van winde –

oossuidoos, ’n ligsinnige verfraaiing.

Nou’t jy jou gewreek sien ek, my witstinkhout

van twaalf jaar oud se rug gebreek, ’n splint

wat wit by sy verslane romp uitsteek,

die oergroot vy gesplyt en uitmekaar –

gekloof, ’n volle drag aan elke tak

Uit alles wat ’n mens moet mis bot kompensasie,

nou verlaat ek my op lesers vir wie ek elk

van my berooide bome weer oprig en bevolk,

die witstinkhout met witbontrokkies wat in sy top

hul verre naby viertoon fluit,  die vy met vye

uit die lug gehou soos in ’n kunswerk

van Magritte, kompakte groen nodules

onder lugbrûe van verdriet. Vir elke oog wat kan verbeel

staan hulle weer op uit wit papier met rus

in vrede, voëls en vrugte gegraveer.

En ek? ’n Windkei onder waaisand, ’n dreikanter,

geboen, gepok, geskuur, gegroef en ondergrawe,

geen rede tot reduksie van repliek,

beproef my na my werk, noordoos,

’n regte yardang skerpgepiek, niks minder

as ’n veld zastrugi hierdie reëls –

ek en myne, ons dra jou merk

maar in ons terme.

 

Marlene van Niekerk. Kaar. Human & Rousseau. 2013

 

Willy Verginer

 

Hier in die Noorde is Novembermaand die poort na ’n uitgestrekte winterlandskap waarin mens gereedmaak vir die koue en die donker. Dit word ’n periode van refleksie waartydens mens die verloopte jaar in oënskou neem.  November in die Noorde is handrem tyd. Briek aandraai-tyd. In die truspieëltjie verdwyn die jaar se kom en gaan… dis amper vakansietyd en Krismis knipoog grootoog uit Carrefour se glansbrosjure. My oog val onwillekeurig op die mylmeter. Ek besef dat ek my eie November betree.

 

’n brief van hulle vakansie

 

vir oubaas:

 

Noudat ek uitgeswel van lyf is, kan ek treur

oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma,

die skamel offerandes van hulle gebede as hulle my

op die knieë van hul Gij Here God lê;

 

noudat ek agter ’n baard kou kan huil

as hulle snags my naam fluister met die ruite

donker knippende oë in die wind, oor die visolie

vir my griep, die ingelegde perskes (albertas) op die rak

 

In sy sestiger jaar swem my pa in Stilbaai se see

en stap myle vêr oor die sand met sy reguit bene

in ’n kortbroek en speel krieket op die duine

en eet alikruikels in die Sea View-losieshuis

 

want hys ’n bokser dokter boer

’n kaptein en ’n held ’n indoena tussen grysaards –

En as die reën soos ’n gesluierde bruid oor die see kom

word die lieflinghond ( Trixie) lam;

 

drie dae veg die veearts en buig dan die knie

en hulle dra die lyk terug na Kafferskuilsrivier

die plaas van hulle jong liefde en plant die saad

’n soenoffer in die diep grond se skoot

 

want nou is hulle minnaars

stil bome in die najaar met die wind

strelende drome in die takke

onder komete leeftye lang wêrelde

 

My ooms sterf soos kapok in die son

hartaanval beroerte kanker en tering

en my pa word stiller en meer verskriklik

van dop tot dop

 

Hier waar die harde winters en nat somers

my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor

die soet hart van my moeder

my pa se stil en bitter krag

 

Breyten Breytenbach. Die gewildste Afrikaanse gedigte. Human & Rousseau. 2013

 

Die hullabaloo oor watter variant-filosofie die postmodernistiese denke vervang is immer veranderend. Soos die sterrehemel in November. Alan Kirby het reeds in 2006 begin praat van pseudo-modernisme, daarna volg benamings soos participatism en post-millennialism. In 2010 gebruik kultuur-teoretici Robin van den Akker en Timotheus Vermeulen die term meta-modernisme. Hulle beskou hierdie bewussyn as iets wat verby moderne en postmoderne strategie beweeg. Hulle verwys na ’n ‘ informed naivety’, ‘pragmatic idealism’ en ‘ moderate fanaticism’ as reaksies op onder andere die klimaatsverandering , die finansiële krisis en politieke onstabiliteit.

“…another sensibility that negotiates between a yearning for universal truths and relativism, between desire for sense and a doubt about the sense of it all, between hope and melancholy, sincerity and irony, knowingness and naivety, construction and deconstruction.

The prefix ‘meta’ here refers not to some reflective stance or repeated rumination, but to Plat’s metaxy, which intends a movement between opposite poles as well as beyond.”

Kunstenaars, skrywers en skeppers wat glo metamodernisme weerspieël is rolprentmakers soos Michel Gondry en Wes Anderson, klank-kunstenaars soos CocoRosie en Devendra Banhart, die kunswerke van Peter Doig Paula Doepfiner, skrywers soos Haruki Murakami, Roberto Bolaño, David Foster Wallace en Jonathan Franzen.

 

CocoRosie

 

The end of time


This is the end of time
Lets all hug and say goodbye
This is the end of time
We are all heavenward and weary

The babes
The Guns
The waste
The punks
I don’t need no human friends
The cars
The wars
The shopping malls
I can leave you all behind
And I will chase my brother’s shadow
Leave my own hung in the closet
The stars that I could hardly see
I know you’re looking down at me

And Jesus by the way dear lord
You always protected me
From fathers harm, his wicked laugh
It echoes through the canyon
The earth will spit us out one day
Like broken angels cast away
Lets just hug and say goodbye
We are all heavenwards and weary

This is the end of time
Lets all hug and say goodbye
This is the end of time
We are all heavenward and weary

But love will come into our hearts
On that final day where life
Meets us at the edge of time
This will not be televised
The televisions all have died
Filled with water-cyanide
Angels, winged ones will survive
We are all blind smoke in our eyes
So lets just hug and say goodbye
We are all heavenwards and weary

This is the end of time
Lets all hug and say goodbye
This is the end of time
We are all heavenward and weary

CocoRosie.Tales of a GrassWidow. City Slang.2013

Vir die laaste paar jaar lyk dit asof Quentin Meillassoux se Speculative Realism die etiket vir ’n nuwe filosofies hoofstroom-denke word. Hoe dit ook al sy, almal is dit eens dat post-modernisme se doppie geklap het en dat opkomende tegnologie die aard van die skrywer, die leser en die teks onherroeplik verander het en dat gevoelentheid ook aangepas word.   As mens vandag na die kulturele markplek kyk, die boeke lees, na 21ste eeuse rolprente en Televisieprogramme kyk, na die nuutste musiek luister, is die spore van Derrida, Foucault en Baudrillard so te sê onsigbaar. Die visier is elders gerig – wat mik na ’n soort kritiese realisme wat aandag skenk aan ’n eietydse kulturele produksie. Die rolspelers bel, klik, druk, surf/verken, laai af, delete/skrap, like en verkas. Hulle share, connect, scroll, follow en tweet.

  

Moderne liefde

 

Jy was my attachment

Wis nie jy dra ’n virus

en nou maande na die tyd

is ek siek van verlang, onthou,

verlang, onthou

omdat my Norton nie jou

spesifiek gekodeerde boodskap kon uitwis.

 

Dus, nou is alles besmet.

My files van onthou. Ons liefde saam.

Jou hartstog soos ’n vlietende e-pos.

 

Iewers glo – lank na delete gedruk is – bly

’n boodskap, ’n hiëroglief, bestaan.

Ek sal jou nooit nie nooit onthou nie.

Ek sal jou nooit nie nooit vertrou nie.

Weg na die recue files is jy.

Vir eendag, miskien eendag

as liefde argeologies gesproke

 

weer moontlik of uitvoerbaar is.

 

Joan Hambidge. Kladboek. Protea Boekhuis.2008

  

Meillassoux se denkpatroon dwing ons om aan die wêreld te dink voordat daar mens was… en om te kyk na die toestand waarin ons wêreld homself nou bevind. Daar bestaan ’n bewustheid van ’n tweeledige ‘landskap’ – pre-apokaliptiese en post-apokaliptiese. Die aweregse  nostalgie is ’n verlange na ongeskondenheid…. maar met ’n vretende vrees dat dit dalk te laat is vir die mens en die aarde om te herstel van sy eie siellose hardhandigheid. ( Die gevoel is so intens dat Jonathan Franzen in The Kraus Project (2013) die internet wil afskryf en ’n voor-digitale lewe herroep.)

 

Op 1 November word Toussaint in Frankryk en Dia de los muertos in Mexiko gevier. Ander vier die eerste November as dié dag waarop miljoene monargvlinders, klokslag, na die dennewoude in die Mexikaanse berge vlieg. Daar word geglo dat dit die siele van afgestorwenes is wat op die dag terugkeer.

Hierdie jaar, vir die eerste keer in geskiedenis, het die vlinders nie gekom nie. Nié op die eerste November nie. ’n Paar handjies vol het ’n week later drupsgewys verbygekom. In verbysterende lae getalle. Verlede jaar se verdrietige sestig miljoen lyk nou weelderig in vergelyking met die ontstellende drie miljoen wat sovêr die maand verbygekom het. Soortgelyke probleme bedreig ander insekspesies. Die lot van die bye gemeenskap is ewe benard…

 

Heart of the Monarch

 

Lesser fritillaries or crescents might

have lost their  tribe in the Piedmont,

or some wayward zone, sailing northward like

tiny spinnakers over upper-austral regions

 

of deciduous hickory and gum

but near where flat coastal plains

verge westward across forests, overcome

by spring, the African-winged, black-veined

 

monarchs revive across the temperate

Mayish sky. Assembling each late noon

for sleep, the young bachelor males alight

in unison, the flash and dazzle of venation

 

klatched near a pond’s muddy crevasse.

This puddle club of monarchs, weary and peaceful,

dozes – unappetizing to the thrasher,

the rough-winged swallow, or the needle –

 

billed hummingbird – abdomens chock-full

of milkweed, foul-tasting to hungry fowl.

So this sleeping assembly, fearless, roosts till

Morning, when the herd ascends, their spiracles

 

Yawing as they make their way, steadfast.

Out of vivariums, out of seclusion

from under stones and turfy grass, the half-

grown caterpillar emerges; out of unsewn

mats of silk; out of wintery lethargy,

the hibernating chrysalis unruffles

its royal self, its larval life a wee

memory; out of the land of Nod, adults

 

begin their lazy, deliberate flights

( the conspicuous monarchs, mind you, not

the miniature, mimicking viceroy!)

these flower-eating kings, farsighted,

 

as the make their way across the psalm of America

toward Milwaukee and Manitoba.

There’s nothing to fear. They’re on their way.

 

Henri Cole. Pierce the skin. Farrar Straus Giroux. 2010

 

 

In die maand van November skitter Venus na sononder op haar helderste. Later in die aand maak Jupiter blink, maar na middernag is dit Mars wat die hemeltrans verlig.

 

hondster

 

As die winter ovaal maak in die noorde

skuif die hond oor die Melkweg op

verby dubbel-sterre en ‘n donker gat

 

As die somer ovaal maak in die suide

skuif Procyon verby ’n supernova

met ‘n witdwerg as behoeder

 

As die tye drie-ster in die hemel

skuif Betelgeuse uit sy goddelike oksel

en vergloed die nag en hemeltrans

 

Maar as die lente nuutmaak in ons wese

skop ons nes op Lemoenkop se hange

met bloulelie en boegoe in die sterrereën

 

           ek sing vir jou, my sater, van die lotusblom se skyn

           van fonteinbosbotsels  en die gloed van heuningtee:

            padparadascha

           padparadascha

 

Louis Jansen van Vuuren. 2013

 

Adrienne Rich

 

Friend,

by Jean Valentine

 

You came in a dream, yesterday

–The first day we met

you showed me your dark workroom

off the kitchen, your books, your notebooks.

 

Reading our last, knowing-last letters

–the years of our friendship

reading our poems to each other,

I would start breathing again.

 

Yesterday, in the afternoon,

more than a year since you died,

some words came into the air.

I looked away a second,

and they were gone,

six lines, just passing through.

 

for Adrienne Rich

2013

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Louis Jansen van Vuuren. November”

  1. Annette Taljaard :

    Dankie Louis, vir ‘n heerlike visuele toer deur November!

  2. Leon Retief :

    Wonderlik Louis, baie dankie!

  3. Marietjie Koekemoer/Swanepoel :

    Ek het saam gereis deur jou hemelruim
    tot by Lemoenkloof
    waar ek nou eers ‘n wyle gaan versuim

    Manjefiek Louis Jansen van Vuuren. Jy is Lotisblom, fonteinbosbotsels en heuningtee.

  4. Louise Hennigs :

    Baie dankie Louis, altyd ‘n wonderlike reis van woorde en beelde. Ek raak soms verlore daarin, maar vind weer rigting en kom anderkant uit, ‘n ryker mens.

  5. petre prins :

    Wonderlik Louis. Hoe op aarde, ten hemele, weet jy dat padparadascha(saffier) die kleur van heuningtee is? Dag dis net gemmoloe wat dit weet. Dankie dat ek vir ‘n wyle kon wegraak in woorde en ander werelde.

  6. Renée Conradie :

    Dankie, Louis..so meegevoer dat ek ook voel of ek in daardie goddelike oksel sweef. Wonderlik.