Carina van der Walt. Elegie vir Mandela

 

5 Desember 2013

Nou is ons ikoonloos.

Die wêreld het sy grootste man aan die begin van die een-en-twintigste eeu verloor:

NELSON ROLIHLAHLA MANDELA

 

Hoe is dit moontlik dat ek na die nuus om tien gisteraand verdwaas deur die huis dwaal? Waarom die hartseer soos groot, heel eiers in my keel? Was die trane nadat ek hulle nie afgesluk kon kry nie, opreg? Is ek vandag saam met die massas verslae oor sy dood, hoe lank dit ook al verwag is? JA

 

Mandela het ek nooit ontmoet nie, maar hy het vir my ‘n sleutel gegee waarmee ek my nuwe lewe kon oopsluit. Afstand is ‘n groot katalisator. My fokus op my land en my mense is skerp. Mandela se sleutel het ek aan dié kant van die wêreld ontdek. UBUNTU

 

My respek vir hom, wat hierdie woord uitgeleef het, het gegroei elke keer wat ek ontdek het ubuntu wérk vir my. Ek kan verstaan dat hy vir baie mense ‘n soort Jesus-figuur geword het. Dit ontstel my nie.  Alle gelowiges en ongelowiges glo tog hulle dra ‘n klein bietjie Jesus of ‘n x-faktor in hulleself rond. Is dit nie so  nie? Maar die meeste mense maak ‘n lelike brousel van hulle lewens en steek daardie x-faktor diep-diep weg. Mandela het sy Jesuskant of  x-faktor of ubuntu nie weggesteek nie, maar uitgestraal – ondanks jarelange helse lyding wat daaraan vooraf gegaan het onder apartheid.   

 

Ek moes sý idee, ubuntu, my eie maak. Ubuntu het die sleutel geword om my voete te vind tussen mense met ‘n ander mentaliteit,  genuaseerder omgangsvorme, fyner omlynde klasseverskille, ongemaklike nuuskierigheid, ‘n eeue ou taal met ‘n groter woordeskat, ‘n skerp argumentarsenaal en onthutsende soms ontstellende humor – om maar enkele verskille te noem. Ek moes leer om oor my ek-gerigtheid te stap; om mense se tekortkominge te aanvaar soos hulle myne moes aanvaar; om hande te vat en te wéét – ons het net mekaar met al ons goeie en al ons slegte eienskappe.  Saam moet ons die wa deur die drif trek.

 

Nou het ons nie meer vir Mandela nie.

 

Dorkas vir Mandela

(belydenis en lof)

 

ek was die donkie met oogklappe aan

gemuilband deur ’n verhaal oor die volk van god

het die woord kafir spontaan uit my mond gegroei

met dorings & distels wat geil & hardnekkig gebloei

het winkelhake deur weggooiklere & ooptoonskoene geskeur

het Sondae is ek gestorie dikgevreet aan soetkoek kon ek tuis

wegkyk vir die dorings van middagete uit ’n getijpte blikbord eet

wegkyk vir die distels van flou koue koffie uit ’n afoorbeker drink

selde of ooit het ek opstandig gebalk oor tallose klappe teen kake

of gebloei oor die geskater agter bulterriërs se hakskeenbyte

my kop het ek tweedosyn male teen dieselfde klippe gestamp

toe weggehardloop met my lewe in ’n streepsak suiker op my rug

 

die bagasie van apartheid is saam agter my oogklappe

ek het nouliks geweet van hulle helder geleerde man

wat geweier het om in gelid te loop met ’n blaffende sipier

& die rook van gebrande bande & traangas & opslagkoeëls

geabsorbeer het vir elke Slegs Blankes-bank in elke park

& elke Slegs Blankes-toilet

Slegs Blankes-asdrom

Slegs Blankes-padblokkade

Slegs Blankes-caspir

 

kaalvoet was hy in ’n kalkgroef op ’n verlate eiland so god-

verlate soos ons myndorp se strate na ses in die aand

wanneer die werkers se pastyd vir die dag verby was

hý wat dag in dag uit maand in maand uit jaar in jaar uit

klippe moes kap totdat sy hande & sy rug krom gekramp

& sy oë sonder oogklappe gesweer het     van te veel wit

 

die donkie met die ingeperkte blik die oorwoekerde tong

het stil-stil geleer by die verdwaalde Dorkasse van haar taal

& geluister hoe hulle woorde soos goeie saad in harte plant

soms met ’n gedig soos ’n verdwaalkoeël die kaalvoetman tref

alleen in die stofwolk van die groef en die steen in sy hart splyt 

ek moes leer om skerp te kyk my woorde te tel      & te swyg

 

nou is ek die Dorkas uit ’n tweede werpsel van apartheid

ek het die muilband gebreek elf duisend kilometer ver

weggehol bloeiend & loeiend & balkend & verskrik gekwes

gevaarlik soos ’n halfgeleerde Afrikaner met sterk verhale

van god verlate onder hierdie grouwit hemel moes ek leer

van die lang grys kaalvoetman se sterk medisyne

 

ubuntu het ek gevreet soos pille teen

die haak-en-steekbos van boikot agterdog

ubuntu het ek gesluk vir die vergeet van

die dorings en distels wat Fort Europa beskerm

wegkyk van my as verdagte Dorkas met ’n dunsooldroom

ubuntu was daardie lang grys man se onverdunde muti

vir stadig gesond word met motho ke motho ka batho*

 

Dorkas kom nou met goud & wierook & mirre uit die weste

ontydig laat & vertwyfeld met haar dankie sê vir sy alles weet

niks vergeet & tog vergeef want ubuntu hou haar staande teen

dié noorderlinge met hulle koel berekende bloed in die are

& Dorkas buk voor die man met sy deurleefde wysheid

onwaardig om hom te abba na die een of ander Nuwe Jerusalem

 

Enkele dankwoorde:

Dankie Alister Sparks, dat jy in die laaste maande van Mandela se lewe soveel respek vir hom gehad het, dat jy geweier het om op ‘n persfoto saam met hom te staan. Jou eerbied vir hom in sy verswakte toestand keer die beeld van hardvogtige joernaliste op sy kop. Jy is die “gentleman” van die Suid-Afrikaanse joernalistiek. Dit was ‘n voorreg om jou hier in Tilburg te ontmoet.

 

Net soos wat dit ’n voorreg was om die apartheidsfotograaf Alfred Khumalo jare gelede op ’n vlug tussen Kaapstad en Johannesburg te ontmoet. Die man wat foto’s van die wolke gemaak het, het vir my gevra waar kan hy my (tot op hede nog ongerealiseerde) digbundel koop. Dankie vir die inspirasie, meneer Khumalo – al is ook hierdie woorde van my te laat aan u gerig.

 

En dankie aartsbiskop Desmond Tutu wat in Den Haag by die onthulling van Mandela se standbeeld verlede jaar die volgende eenvoudige woorde kon voorbid: “We love you, God. Thank you, God.” Niks hieraan het verander nie. Bid vir ons land. Ons treurende mense. Ek is stil.        

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Carina van der Walt. Elegie vir Mandela”

  1. sebra :

    Baie dankie vir ‘n ontroerende gedig. Ook aan al die ander digters wie se woorde soos motreën oor ons neergestuif het na en tydens die begrafnis. Al hierdie verse neem my terug na Shelley se onvergeetlike Ozymandias. Al die Mandela-beelde laat my dink aan daardie king of kings se verbrokkelde nalatenskap in ‘n sandwoestyn. Mandela se idealisme is aan uitrafel en verval na groter klasse- en standverskille as ooit tevore. Ryk en arm staan reg teenoor mekaar en mag raak almeer gesentreer. Vir my, ‘n een-en-twintigste eeuse mens sou dit meer sin gemaak het as mnr Mandela sy lyk aan ‘n instituut vir navorsing geskenk het en die verlammende begrafniskultuur verbreek het. Sodat mense besef dat hulle verganklik is en dat selfs die grootste onder ons tot stof terugkeer. Maar veral sodat die kleinste onder ons kan besef dat hulle iets kan bydra al is dit na die dood, ‘n oog, ‘n skeenbeen, ‘n vodde vel, ‘n flentertjie weefsel om ‘n ander se pyn te verlig in plaas daarvan om met ‘n blink kis ‘n begrafnisondernemer te verryk en jou gewete te sus dat die poort dalk vir jou sal oopgaan as die gemeente mooi genoeg sing en die een wat tekens maak dit reg doen.

  2. carina van der walt :

    @ sebra. Baie dankie vir die kompliment en deurdagte kommentaar. Ongelukkig groei die kloof tussen arm en ryk wêreldwyd. Dis nie net in SA ‘n tendens nie. En ja, daar’s niks edeler as om jou organe te skenk nie, maar in ag genome dat Mandela ruim twee dekades van sy lewe in ‘n beknopte sel moes deurbring, is dit seker verstaanbaar dat hy in die wydsheid van sy geboortegrond, die groen KwaZulu-Natalse heuwels, opgeneem wou word. Daar waar dit lyk asof die tyd stilstaan en die wind soos ‘n immer verliefde meisie deur die lang goue gras dans. En die sagte lag van ‘n stroompie nooit ver is nie.