Resensie: Atlas teen die Vergeetrivier (Pirow Bekker)

Die gedig as geheuekaart teen die Groot Vergeet

 

Atlas teen die vergeetrivier, Pirow Bekker.  Protea Boekhuis, 2013.

Resensent: Tom Gouws

 

“It is time to be old,” sê Ralph Waldo Emerson in sy gedig ‘Terminus’, en dít het noodwendige gevolge vir diégene van sewentig en as jy sterk is, tagtig, dié wat “agter gestaan (het) / toe die lakens uitgedeel is”:

            The Baresark marrow to thy bones,

            But left a legacy of ebbing veins,

            Inconstant heat and nerveless reins,–

            Amid the Muses, left thee deaf and dumb,

            Amid the gladiators, halt and numb.

 

Die slotreël in Wilma Stockenström se gedig ‘Hoor hierso’, in haar nuutste bundel Hierdie mens, stel dit eweneens pront: “Dis doodgaanseisoen en die swaels sit op weggaan se drade.” Maar goddank nié in die Afrikaanse poësie nie –hier te lande is die digters geensins “klaar gedig” (soos Breytenbach dit in Katalekte sê) nie; híér doen die Afrikaanse digters goed besigheid met die dood én die lewe! Trouens, gemeet aan die geil produksie van nuwe werk deur ouer digters is dit eerder broeiseisoen! ‘n Mens sou met oorwoë respek die laaste jaar of drie kon noem: The Return of the Ancients of Days – benewens Stockenström lewer ook Petra Müller, Adam Small, Breyten Breytench, Hennie Aucamp, Dolf van Niekerk, T.T. Cloete, Lina Spies en M.M. Walters belangrike toevoeginge tot hul oeuvre, in party gevalle selfs hoogtepunte. G’n  rust-mijn-ziel sterfbedwoorde, veel eerder “Old Age’s Lambent Peaks”, soos Walt Whitman dit in ‘n ander konteks noem.Ná T.T. Cloete vir J.C. Kannemeyer so deeglik die kop gewas het omdat hy smalend verwys het na bejaarde kunstenaars [gaan lees ‘Antwoord aan Kannemeyer’ in Tydskrif vir Letterkunde 41(2) (http://www.ajol.info/index.php/tvl/article/view/29681)], durf niemand ooit weer ouderdom in spel te bring in die taksering en waardering van poësie nie. Dis seer seker ook waar van Pirow Bekker.

Om oor meer as veertig jaar lank ‘n standhoudende goeie oeuvre op te bou, is bepaald ‘n merkwaardige prestasie. Pirow Bekker se agtste digbundel, met die mooi titel: Atlas teen die vergeetrivier (ook met die allermooiste voorblad), is ‘n bevestiging van die digter se konstante goeie bydrae tot die Afrikaanse literatuur. Inderdaad is dit met hierdie nuwe bundel weer eens opnuut ‘n ontdekking om te sien hoe gemaklik ‘n ware vakman behendig met die woordkuns omgaan. Met ‘n proefskrif oor die titel in die Afrikaanse poësie kan ‘n mens bepaald verwag dat Bekker se bundeltitel veelseggend sal wees.

Uit die Griekse mitologie ken ons die figuur Atlas, die Titaan van navigasie en astronomie, en simbool van uithouvermoë. Zeus se straf aan Atlas was nié dat hy die aarde op sy skouers moet dra nie (soos ook die digter kies om hom te gebruik – sien die slot van die openingsgedig ‘Toekomende verlede’), maar wel Uranus, met sy voete stewig geplant op die aarde, om te keer dat daar nie ‘n primordiale omhelsing tussen die twee planete is nie. Derhalwe het hy as Atlas Telamon bekend gestaan, en het hy die simboliese beliggaming geword van die hemelse as waaromheen die uitspansel en die sterre draai. Hierdie mitologiese teelaarde waarbinne die bundel gebed is, bied uiteraard ryk ontginnings-moontlikhede, wat Bekker verken deur dit ‘n wyer metaforiese boeg te maak. Voortvloeiend hieruit word die betekenis van ‘atlas’ as ‘n versameling van geografiese kaarte uiteraard ook in die bundel vooropgestel en wyer gemetaforiseer (‘Adamsappel’).Maar Atlas is ook die naam van ‘n trippelstersisteem in die oop tros van Pleiades, beter bekend  27 Tauri. In hierdie sin word die bundelkomposisie van verskeidenheid (“woordskroot”) aangebied.

Daarbenewens is atlas die benaming van die boonste nekwerwel wat die kop (soos ‘n aarde) kan laat draai. Dit word ‘n belangrike kode in die bundel (byvoorbeeld verken in ‘Kopatlas’ en ‘’Nie om die hond nie’).

Die mooi woord ‘vergeetrivier’ in die bundeltitel slaan natuurlik op die Lete, een van die vyf riviere van Hades, die onderwêreld van vergetelheid, ook bekend as ‘Ameles potamos’, “the river of unmindfulness”. Almal wat van hom drink, se mond sal stink van verganklikheid, en dusdoende sal hul só van  hul aardse bestaan vergeet.

Maar vergeet wil die digterlike titaan nié – hy stel hom téén die dwingendheid van die ouderdom op, staan dit berekend teë, maak gedigte as geheuekaarte teen die Groot Vergeet. Die inskryf teen die vergetelheid is dikwels ook ‘n poging om dít wat verkeerd of verbrou is, te probeer herstel. In die roerende gedig ‘Kopatlas’ herbesoek die vader die pad van vaderskap wat hy geloop het, en probeer hy die vaderlike onvermoë in die bloedlyn uitpluis. Ironies genoeg word die poging tot vergeet juis ‘n onthou, en die verrekening ‘n vaslegging, duidelik ook as deel van die donker natuur wat in die generasielyn voortplant: “selfs ‘n plat plasebo / verbrei die atlas teen vergeet”.   

Soos in sy vorige twee bundels is daar in hierdie teks ‘n preokkupasie met oorgange, voltooid én onvoltooid, en word dit veral beliggaam in die dwingende begeerte om ‘n brug te slaan oor die vergeetrivier. Die brug word die “smal poort van die wonder” (soos Opperman dit mooi benoem het), die digterlike ek se bedagte/verdagte plan om die dood te fnuik. Dit word duidelik in die slot van die openingsgedig vooropgestel:

            Laat my wat nog hier duskant hou

            ’n sabbatsjaartjie toe om te prakseer

            hoe om ’n brug – hoe wankelrig ook al –

            oor die vergeetrivier te bou. Ek wil vra:

            Rus dié ou reisiger net een keer toe

            met die krag van ’n Titaan, ’n mak Atlas

            wat sy bevoelde aarde op sy skouer lig

            en oor sy hangbrug dra.

 

In hierdie credogedig, met die skynbaar teenstrydige titel: ‘Toekomende verlede’, word die oorbrugging in paradoksale tydkontekste voorgehou. Die onnatuurlikheid van hierdie aksie om “die vergeet” teen te staan, kry ikonies gestalte in ‘n onnatuurlike eieskepping, ‘n brugwoord as ‘t ware, hier spesifiek die neologisme ”be-onthou” (‘n jukstaposisie van ‘behou’ en ‘onthou’):

            Met honger gestil en dors finaal geles

            bly net die behoefte aan be-onthou:

            Ek wil nie drink uit die vergeetrivier

            soos ontsyfer aan bronne oor die reis

            deur daardie Dal met die eeue oue name.

 

Die brugkode word vindingryk vootgeplant in die betiteling van die verskillende afdelings van die bundel, So heet die eerste afdeling: ‘Die aard van brûe’. Die daaropvolgende afdeling is benoem as: ‘Verbrande hebbelikhede’, wat vindingryk slaan op die geïmpliseerde uitdrukking: ‘verbrande brûe’! Afdeling drie is getiteld: ‘Lyfdrif’, en benewens die noodwendige erotiese toespeling, is dit ook ook die brug van Van Wyk Louw: “Om twaalfuur was jy ‘n ligte brug, / ‘n hoë, gevaarlike gang” (‘n gedig soos ‘Interval’, waarin Louw soomloos ingeweef word, versterk dié vermoede, maar dit word bevestig met die gedig ‘Oor die uur van die donker dors’). Die vierde afdeling is deurspek met gedigte soos ‘Oorbrugging’ en “Oorgang’, wat die lomperige afdelingtitel: ‘Die wêreld het nog te veel oor vir jou’ in ‘n nuwe lig plaas, en so ook die vyfde afdeling: ‘Ruigtelied’, waar die gedigte ‘Interval’, ‘Daar is monsters’ (lees: Beyond here be Dragons), ‘Die pad is ‘n pad is’ , ‘Isak op pad na Moria’, en veral ‘Om ‘n trae weg te brug’, die brug as pad ondersoek. Die bundel sluit af met die afdeling ‘Vlugbrug’, waarin die digterlike spreker in die slotgedig bely:

            My brûe

            wat wyd geaard was, dof nou weg

            die groot Onbekende in.

 

Pragtig hoe die gebruik van die frase “dof nou weg” ‘n digterlike stelwyse vir ‘vergeet’, in sigself die kiemsel het om weer ‘n pad ( = weg) te word! Die digter (en dis nie net noodwendig Pirow Bekker nie) het die brug geslaan teen Ou Groot Vergeet. (Ek persoonlik is van mening dat die bundel hier moes afgesluit het – die beeld van Absalom wat by die hare bygesleep word, is totaal té pretensieus.)

Daar is baie ander aspekte van die bundel wat lesers en studente kan ontgin. Die standhoudende maar terloopse gesprek met ouer Afrikaanse digters (D.F. Malherbe, C.M. van den Heever, Van Wyk Louw, Eybers, Opperman, Boerneef, Ingrid Jonker, J.C. Steyn, dus “aan almal, wat voorgegaan het”, ook verskeie anonieme volksdigters) is nie besonder vernuftig nie, maar eerder in die trant van Leipoldt se Oom Gert: “Ja, neef, wat kan ek oumens, jou vertel?” Die bundel word met tye ‘n amperpaartie op die stoep van die Afrikaanse Digkuns se Ouetehuis (Cloete kyk skielik kwaai in dié rigting ;-)).

Bekker se ontginning van die kwatryn as versvorm (hy het indertyd ‘n MA-verhandeling daaroor geskryf) bly steeds interessant, veral in die gedigte ‘Liggaam’, ‘Bewaarder’, ‘Op Juvenalis se panem et circensis’ (wat ‘n aaklige titel!), ‘Paradys’, en andere. Soms versand dit egter tot die epigrammatiese, blote puntdigte, en nie met wat A.G. Visser of Daniel Hugo, byvoorbeeld,  wél daarmee bereik het nie. Ja, die ganse Ou “verseboek” (p. 104) “is alles nou volbring”.

Die taalgevoeligheid van die digter, veral sy knap uitbuiting van geykte taalvorme, is deurgaans opvallend, soos mooi blyk in die gedig ‘Besoeker onaangekondig’:

            Vir seisoene was my drempel laag gesny:

            Ek’t gesien hoe die voëls voor my deur verander,

            hoe die vonk in vinke verander tot as,

            die sketterende tarentale stemmig fluit

            en monniksomber loop in stoete.

 

            Ek kan maar oë kry soos dié in ’n piervoëlwal,

            ek kan maar vergaan soos ’n koringmied.

            Jy kan maar kom. Al sluk ek swaar,

            is daar niks wat my verbied

            om te bly knibbel aan ’n soetrietstam.

            Kom, laat jy jou rituele roer.

 

Maar dan: ‘n mens sou taalgevoeligheid natuurlik van alle goeie digters verwag. Daarom dan, alhoewel Bekker duidelik ‘n woordsmid is, is daar na my gevoelte te veel woordslordigheid (veral in die titels van gedigte!), soms te veel beredeneringe ten koste van poëtiese segging (byvoorbeeld in ‘Woordskroot’), tekste wat in blote vernufpoësie vassteek (‘Sensorraat’, ‘Ballade van die branderryer’, ‘Sprokie sonder punt’, ‘Inhoudsmaat’) en op die duur irriteer.  

Met die lees en herlees van Pirow Bekker se agtste digbundel, het ek my herinner wat  Fanie Olivier in ‘n resensie oor ‘n vroeëre werk van hom gesê het: “Stillerlewe is ‘n ryp digbundel en ‘n ryk leeservaring, en die manifestasie van ‘n lang omgang met die poësie waardeur ‘n mens gedwing word om weer bestek op te neem van Pirow Bekker se oeuvre en die plek wat dit inneem in die Afrikaanse poësie.”

Inderdaad het Bekker veel aan die Afrikaanse poësie gebied oor ‘n lang tydperk, al beskou die digterlike self hom as ‘n “randfiguur” (in ‘n gelyknamige gedig, p. 106) – hy is “tuis in sy domein, die marge”. As ‘n mens moet bestek opneem en besin oor die waarde van sy dig-oeuvre binne die Afrikaanse letterkunde, is dit ‘n moeilike opgaaf. Vir my het dit nog altyd gevoel T.S. Eliot se onderskeid tussen “major” en “minor” poets in ‘n literêre tradisie staan op prekêre bene. As ek die onderskeiding dus enigsins kan gebruik, is Pirow Bekker vir my ‘n major minor poet.  David Fergus skryf oor hierdie taksering: “It is no crime to be a minor poet. The great mass of poets are necessarily minor poets, but many a minor poet has written good poems or even the solitary memorable line. Few poets have been less gifted than John William Burgon, yet he produced the magnificent ‘A rose-red city half as old as Time.’ And major poets can be guilty of such duds as Wordsworth’s ‘Spade! with which Wilkinson hath tilled his lands.”

Ook Richard Tillinghast stel dit  besonder raak: “The implication, of course, is that a major poet is somehow better than a minor. Most of us, however, reserve a valued place in our reading lives for the ‘great minor poet’— someone whose work is of the highest distinction, is original and memorable, and gives great pleasure, but who lacks the grand ambition to make, like Milton or Dante, a major philosophical or religious statement; to define, as Homer, Virgil, Chaucer, Shakespeare, Yeats, and Whitman did, an epoch or a national or ethnic identity.”

Ten spyte van sporadiese swak digterlike kolle, pogings wat sterker teruggesnoei moes word en “verbrand(s)e hebbelikhede” is daar veel in die poësie van Pirow Bekker wat  oorspronklik en onthoubaar is, en my dikwels groot plesier verskaf, ook in hierdie bundel. Miskien slaan Bekker ‘n brug tussen major en minor in die Afrikaanse poësie:

 

           Om ’n brug te slaan

           

           ’n Brug moet geaard wees

            soos die eerste bome

            wat wolkekrabbers geword het –

            topswaar, gereed vir kantel

            toe jaloerse berge hulle skud

            tot hulle losgewikkel is, hul kruine

            laat tuimel

            om die stamme neer te lê

            oor ’n Eufraat se diep ravyn

            vir die pote van nietige diere

            wat soms treusel in ’n loot

            en nuut uit die wortel uit

            na ’n hemel reik.

 

 

                                       Resensie geborg deur

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie: Atlas teen die Vergeetrivier (Pirow Bekker)”

  1. Joan Hambidge :

    Ek dink Ernst van Heerden het altyd spottend na homself verwys as ‘n “major minor poet”.

  2. Henry van Eeden :

    So Tom, terwyl ons mekaar in bokse van major en minor druk… sou jy jouself klassifiseer as a major of ‘n minor profeet? 😉

  3. […] Volledige resensie: Versindaba […]