Gisela Ullyatt. Labirinte en Minotaurusse.

                                                                                          

Labirint by The Edge Mountain Retreat

 

Die pad Hogsback toe lê ineengerol tussen haarnaalddraaie wat nouliks een voertuig toelaat. Tog duik daar plek-plek die kranksinnigheid van twee voertuie op wat hierdie smal ruimte moet trotseer. Die kronkels is onvoorspelbaar en bosboutrokke met reuse houtstompe kruie voort. As jou voertuig agter een beland, is geduld en berusting jou onvermydelike voorland. Die pas beloon jou egter ook met verruklike berge wat oorgroei is met digte bosse, varings en watervalle. Wanneer dit reën, hang daar ’n mistige stortgordyn oor alles; die pas word dan iets wat die motoris se diepste vrese en verwondering ontketen.

Hoër op kom jy allerlei voertuie teë wat nie die pas kon volhou nie; enjinkappe gaap oop  soos verveelde monde. Wanneer ons in Hogsback aankom, het ’n cappucino nog nooit so pikant gesmaak nie. Ons is verlig. Volgende navigeer die GPS ons na die labirint. Opperste modderpad, met dongas en slaggate waarop ons karretjie erg moerig reageer. Dis net ’n paar kilometer, maar dit voel soos ’n Oos-Kaapse ewigheid. Met ons binnegoed behoorlik geskud, soos ou sakke meel, bereik ons The Edge.

Dit voel inderdaad of ons op die randjie van die aarde tot stilstand gekom het. Die labirint kyk uit oor berge, plantasies, skeure en valleie. Dit is uitgelê volgens die klassieke elfbanige Chartres-ontwerp. Ons begin die 700 meter met stadige, amper gewyde treë terwyl die son ons kopvelle gaarkook.

Die oorsprong van die labirint is nou verwant aan die mite van Theseus en die Minotaurus. Volgens oorlewering het Ikaros se vader, Daidalos, koning Minos se paleis-labirint, Knossos (in Kreta), ontwerp en gebou. Minos het sy vrou, Pasifaë, se kind, ’n hibried tussen ’n mens en  bul, in die middel van die labirint ingekerker. Een keer ’n jaar is sewe meisies en sewe jong mans van Athene gekies en in die labirint gedwing; hulle was die “monster” se enigste bron van kos. Theseus het besluit om ’n einde aan hierdie wrede praktyk te bring wat tot die slagting van die Minotaurus lei. Ariadne, Minos se eie dogter se hulp word benodig. Omdat die labirint ondergronds was, kon hy slegs sy weg terugvind met Ariadne se bol tou.

Die woord ‘labirint’ word dikwels met ’n doolhof (maze) verwar. Met goeie rede: gaan kyk jy in die Pharos tweetalige woordeboek, is die Afrikaanse vertalings ‘doolhof’ en ‘labirint’. Blaai jy na ‘labyrinth’, bly die konsep verwarrend: ‘labirint’ en ‘doolhof’ word beide weer as ’n propperse Afrikaanse vertaling gegee. Die Duits verduidelik ‘maze’ as das Labyrinth en ‘labyrinth’ het dieselfde verduideliking. Die Grieks en Latyn help ook nie veel nie: die Griekse woord vir beide ‘labyrinth’ en ‘maze’ is λαβύρινθος. Die Latynse term vir die twee konsepte is bloot ‘labyrinthus’.

Daar is egter ’n duidelike verskil tussen ’n labirint en ’n doolhof. Jeff Saward definieer ’n doolhof as volg: “To qualify as a maze, a design must have choices in the pathway” (2002:8). ’n Doolhof se doel is om ’n raaisel op te los; daar is verskeie ingange, sommige loop dood en die pad na binne is nie noodwendig die uitgang nie.

Volgens Saward, is ’n labirint ’n ontwerp wat slegs een pad volg; dus is die paadjie wat na die kern lei ook die pad wat jou na die begin terugneem. Die labirint is introspektief en gemik daarop om harmonie te bring; ’n reis na jou eie kern. Maar hierdie harmonie is geen speletjie nie. Die Minotaurus wat in die kern wag kan nie geëksternaliseer word soos in die mite nie. Jý is die Minotaurus.

Labirinte en doolhowe word ook in die digkuns as gelykwaardige konsepte uitgebeeld. W.H. Auden se gedig, “Labyrinth” is ’n uitstekende voorbeeld van hierdie verwarring; die titel en die inhoud korrespondeer nie:

Anthropos apteros for days

Walked whistling round and round the Maze,

Relying happily upon

His temperament for getting on.

 

The hundreth time he sighted, though,

A bush he left an hour ago,

He halted where four alleys crossed,

And recognized that he was lost.

 

“Where am I?” Metaphysics says

No question can be asked unless

It has an answer, so I can

Assume this maze has got a plan […]

His absolute pre-supposition

Is – Man creates his own condition:

This maze was not divinely built,

But secreted by my guilt.

The centre that I cannot find

Is known to my unconscious Mind;

I have no reason to despair

Because I am already there […]

 

 

Oor die algemeen blyk daar ’n lakune te wees in die Afrikaanse en Engelse digkuns wat labirinte aanbetref. Die labirint word meermale as ’n simbool aangewend, maar die proses van labirint-loop of die beskrywing van ’n labirint (byvoorbeeld die bane, die kern of die mitologiese oorsprong) word nie dikwels aangetref nie. Google-skakels lei die leser na swak gedigte vol clichés van innerlike berusting en “healing”, maar dit is duidelik dat dié gedigte as ’n tipe van terapie geskryf is. Die skrywers hiervan (ek huiwer om die term “digters” te gebruik!) inkorporeer selde enige kennis van die mitologie waaruit die labirint spruit of genoegsame agtergrond of beskrywing van die fisiese labirint.

Dieselfde lakune is opmerklik in die digkuns wat die Minotaurus aanbetref. Daar is vele gedigte oor mitologiese figure soos Ikaros, maar weinig oor die mens-bul. Daar is egter ’n hele paar voorbeelde van die Minotaurus in musikale komposisie: ’n vollengte opera genaamd Minotaur deur Harrison Birtwistle (1934-); ’n ballet – The Minotaur –  deur Elliott Carter (1908-2012), en Minotaurus, gekomponeer deur Karl-Binger Blomdahl (1916-1968).

Volgens die tradisionele mitiese uitkyk word die Minotaurus as monster gebrandmerk, verdoem tot ’n chtoniese labirint. Maar hierdie mite is dekonstrueerbaar: die Minotaurus kan ook dui op die vergete, mishandelde of misvormde kind, die buitestander of degenerate. Inrigtings vir “sielsiekes” is ’n goeie voorbeeld van hoe die gemeenskap sy eie Minotaurus wil besweer deur ’n sondebok te vind wat as “apart” beskou word. Die “mad woman in the attic” is ’n verdere voorbeeld. Etikettering van “fratse”, liggaamlik en geestelik, maak dit makliker om nie jou eie blindekol of skaduwee in te sien nie. Selde word ‘Minotaurus’ en ‘liefde’ in dieselfde asem genoem.

Petra Müller se ‘halfbul’ (Om die gedagte van geel:106) is een van die weinige gedigte wat wel dié mitologiese misfit verwoord:

die donker word moeg van sy eie rumoer,

gaan lê ver weg, trek hom plat,

word stil

 

die minotaur rus, herkou die herkoms

van sy eie vlees – ’n ou verhaal waarin daar steeds

die sidderinge loop van iets wat eenmaal liefde was

 

soms hoor hy klanke uit die bowe-wêreld:

vroue, kinders, water, duif

 

hy steier half-orent, en sien die bulstuif van sy asem

uit sy eie neus se gate kom;

 

laat sak sy skof weer,

gaan weer lê

Bronne:

Mendelson, E. ed. 1991. Collected Auden. New York: Vintage.

Müller, P. 2012. Om die gedagte van geel. Kaapstad: Tafelberg.

Saward, J. 2002. Magical paths. Londen: Mitchell Beazley.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Gisela Ullyatt. Labirinte en Minotaurusse.”

  1. Marlise Joubert :

    Absoluut genotvol om te lees Gisela. Ek sal op ‘n dag die gees en voertuig in daardie rigting wend.

  2. Gisela Ullyatt :

    Dankie Marlise. Jy sal nie spyt wees om dié mooi deel van die land te besoek nie. Leen dalk net ‘n tenk of so iets vir die pad daarnatoe!

  3. Gisela Ullyatt :

    Nota: Trienke Laurie se gedig ‘Labirint’ is wel een van die min voorbeelde in die Afr digkuns wat ‘n mooi onderskeid tussen ‘n doolhof en labirint tref. Dit kan op Versindaba gesoek en gelees word.

  4. Joan Hambidge :

    Donker labirint (1989) is ‘n bundel waarin ek die betekenis van die labirint uitwerk. Interessante bydrae, veral oor die verskille tussen die labirint en doolhof.

  5. Gisela Ullyatt :

    ‘Donker labirint’ is beslis op my nuwejaarsboekelysie. Met dié nuwe inligting is ‘n tweede blog oor die labirintmotief ‘n amperse moet. Dankie Joan.