Joan Hambidge. Viëtnam – ‘n digterlike reisverslag

 

Viëtnam – ‘n  digterlike reisverslag

 Joan Hambidge

 

 Poets travel the dark roads.  – Ruth Padel  

I

 

My reis na hierdie landstreek begin toe ek per ongeluk wyn mors op my paspoort: ‘n teken van geluk!

Ek reis besigheidsklas gewoon omdat dit geriefliker is en ‘n mens nie vir dae daarna nog sukkel met jet lag of spierpyne nie. Boonop is die kos en wyn op Singapore lugredery onoortroffe. ‘n 2009 Château Loudenne Médoc Cru Bourgeois uit die Bordeaux-streek troef die Taljaanse Marchesi de Frescobaldi Tenuta di Castiglioni uit die Toskaanse streek. Beide is uit 2009 en verander ‘n mens se palaat ten goede.

Hiermee smul jy aan Oosterse satay met uie, komkommer en ‘n grondboontjiesous. Die salm kry net ‘n peusel van my, want ek wag die Franse hoenderkerrie in met gesouteerde groente. Dis nie wys om garnale op ‘n vlug te eet nie en hierom kies ek die hoenderkerrie bó die Indiese garnaalkerrie. ‘n Wok werk nie vir my en pangeroosterde vis is te alledaags.

Hierna kies ek ‘n kaasbord met Caprini bokkaas en Forest Hill camembert. Met ‘n klein glasie Taylor 10 jaaroud Tawny Port uit Portugal.

Dan kyk ek na die Duitse rolprent Die wit lint wat net voor die Eerste Wêreldoorlog in Duitsland afspeel en ‘n ontstellende onthulling is van kindergeweld en –wraak, vertel vanuit ‘n agterna-perspektief deur ‘n onderwyser wat die ruimte verlaat, maar vir ewig daardeur verander is.

 

*

 

Toe ek Saigon binnestap, voel ek asof die landskap maar net ‘n blote herhaling van ander Oosterse landskappe gaan wees. Maar dit is nie so nie. Die subtiele verskille tussen hierdie landskappe kan ‘n mens waarskynlik ten beste met wyn vergelyk: die subtiele smaakverskille tussen ‘n Merlot, Shiraz of Pinotage.

Vir my skuil daar altyd poësie in vreemde landskappe. Jy beweeg weg van die bekende in die onbekende of voorstelling in van dit wat jy dink jy ken of waaroor jy gelees het. Of films gekyk het. Daar bestaan immers ‘n reeks uitmuntende films oor hierdie land waaroor Žižek ook praat in The pervert’s guide to ideology. Hy verwys veral na Full metal jacket om die betekenis van ideologie in al sy duidinge te behandel.

Ons is vier mense in die reis van Saigon tot Hanoi: twee uit Sydney, een uit Melbourne, die uwe en ‘n gids. Vreemdelinge vir mekaar. ‘n Moeder en dogter uit Sydney en ‘n vrou met kanker uit Melbourne. Die ouer vrou en ek uit Sydney skiet dadelik op. Sy is van Persië oorspronklik en ons gesels land en sand oor die Duisend-en-een-nagte, die Persiese kwatryn Omar Khayyam, Iran en die Shaj van Iran. Sy is ‘n Direkteur van HR en ons vind ook hier aanklank oor al die uitdagings wat ‘n mens moet oplos wanneer jy aan die hoof van ’n organisasie staan.

 

Presidentshuis – Saigon

 

 

Iewers in die bunker

van ‘n president se Uniegebou

hier in Saigon

wonder ek

te midde van hitte

en toeriste

waarom nog ‘n reis?

 

Miskien omdat ek telkens

plante uit ‘n hoogste gebou

sien spruit? Of met bewondering

toekyk hoe ‘n tuinman ‘n boom

snoei? Of die presisie van motorfietsryers

gadeslaan?

 

In daardie bunker

staan daar teleksmasjiene, radio’s

en ander outydse maniere van kommunikeer.

Oor die morsekodes

van verlang het ek my veelvuldig

uitgelaat, skuilgehou in ‘n gedig

teen die aanslae van insurgente.

 

In die draaigang

van hierdie bunker

stilgestaan in elke kamer

bundels geskryf na elke slagting.

 

Oor verdraaide raaisels

– ja wie het Kennedy werklik geskiet? –

en die aantal soldate uit die VSA

in strak nommers teen die muur aangeteken:

 

“om poësie te skryf dan

 net om oorlog te maak?”

 

 

II   12 Desember

 

Die eerste dag besoek ons die Notre Dame katedraal, gebou tussen 1886 en 1890. Ons verkyk ons aan die invloed van die Franse boustyle in hierdie netjiese stad.

Daar is nêrens ‘n papiertjie op straat nie (anders as in Hanoi) en die bome is gesnoei soos ‘n weermagoffisier se snor.

Op die eerste dag in Saigon besoek ons ook die oorlogsmuseum, ‘n aanskoulike weergawe van die oorlog en die impak daarvan op die Viëtnamese psige. ‘n Klein mannetjie ry op ‘n driewiel. Hy het ‘n oranjepakkie aan: hy is ‘n simbool van die Oranje-bom en die impak van Amerikaanse vergelding.

Die museum bestaan uit drie vlakke. ‘n Mens word met elke vlak al hoe meer bewus van die uitwerking van die oorlog op hierdie land. Die foto’s is verdoemende getuienis van sewentien jaar se oorlog. Ironies genoeg is daar ‘n uitstalling van fotograwe wat omgekom het in die oorlog. En al die wapens wat gebruik is. ‘n Mens staan skielik in Apocalypse now, Good morning Vietnam, Platoon en Full metal jacket. Om nie te vergeet van The deer hunter en The killing fields nie.

Ons besoek die Reunification Palace waar ‘n Noord-Amerikaanse tenk deur die hekke gedreun het aan die einde van die oorlog.

http://en.wikipedia.org/wiki/Independence_Palace

Besoek 24 Desember 2013

Die president (van Suid-Viëtnam) se woning is op die bo-vlak ‘n aanskoulike uitstalling van die rykdom. Gebou in die sestigerjare stap ‘n mens van vlak tot vlak en sien die onderhandelinge met die Weste. Dan stap ons af na die ondergrondse bunker. Hier is al die retro-produkte van kommunikasie: teleksmasjiene, outydse walkie-talkies, radio’s… Hier het die president bevele gegee oor waar die volgende aanval afgeweer moet word.

Ek neem foto’s van die kaart teen die muur en stap in die kronkelgang waar selfs sy ou Mercedes Benz uitgestal word. Daar is ook ‘n kaart om te verduidelik hoeveel mense het in hierdie oorlog omgekom.

‘n Reisgenoot merk op dat Kennedy waarskynlik geassasineer is, omdat hy hierdie oorlog wou stopsit…

Daardie nag droom ek van die footage wat ‘n mens in die museums sien: vrouens en kinders wat kennelik doodgeskiet is toe hulle op vlug geslaan het. ‘n Dooie baba in die arms van sy ewe dooie moeder, slapend, dog verewig in ‘n foto teen onreg.

Oorlogpropoganda van een kant af?

Mag so wees, maar wanneer ‘n mens hier stap, kan jy nie anders as om die universele boodskap dat oorlog sinneloos is, begryp nie. Hierna is dit middagete in ‘n restaurant waar Bill Clinton ook was. Hy staan langs kelnerinne en glimlag sjarmant. Die Ben Thanh-mark gee ek ‘n rojale mis.

Na ‘n oggend van konfrontasie met ‘n bloedige geskiedenis, sien ek nie kans vir shopping nie.

 

Dag twee  13 Desember Mekong-delta

 

Ons beleef ‘n bootvaart. Ons ry vir twee ure per bussie na die bote en op die eiland is daar die soetste vrugte denkbaar. ‘n Klein orkessie speel vir ons musiek met ‘n sangeres wat saamsing en beveel “Clap your hands if you’re happy”. Ek vermy die heuningtee weens my allergie vir bysteek.

Hou maar by water.

‘n Boa konstriktor is op uitstalling en al die toeriste storm nader vir ‘n foto-sessie met die slang gedrapeer om hul nekke.

Nee dankie, beveel ek. Ek is immers nie Nastassja Kinski nie.

Nou is dit verder stap op die eiland. Dit laat my terugdink aan eilandjies buite Maputo. Net so warm en soel. Met zoemende insekte wat verby jou woer.

En dalk ook Manaus? Dieselfde plantegroei, dieselfde gevoel van afsluiting van die res van die aarde wat net om die volgende draai gedekonstrueer word wanneer hy ‘n T-hemp kan koop van die Hard Rock Café Saigon.

Dan is dit weer ‘n klein vaart op ‘n skuitjie. Tussen die liane en ongediertes vaar ons net twee mense op die skuitjie.

Dan weer op land. Ons stap na ‘n klein winkeltjie waar ek ‘n Viëtnamese hoed koop en toekyk hoe hulle kokosneut-fudge maak.

Wanneer dit koud is, word dit opgesny in presiese stukkies en in pienk papiertjies toegevou.

Voortaan sal ek meer respek hê vir hierdie werk.

 

Dag drie  14 Desember

 

Cuchi-tonnels. Ons besoek die tonnels, terwyl die kwik verby 32 grade Celcius dreun.

 

Cuchi-tonnels in Viëtnam

 

http://en.wikipedia.org/wiki/C%E1%BB%A7_Chi_tunnels

Besoek 14 Desember 2013

 

Hier beleef ‘n mens ‘n soort rekonstruksie van die tonnels wat die Viëtnamese gegrawe het om die Yanks te fnuik.

Die park – dan: parkinstallasie – gee ‘n waarheidsgetroue weergawe van die tonnels waarin jy kan afklim (op voorwaarde jy is klein van postuur) en toeriste word getrakteer op ‘n video-opname van presies hoe slinks die klein mensies was in hul stryd teen die Amerikaners. ‘n Mens stap van punt tot punt saam met jou gids wat jou ook vra om langs die plastiekmodelle te poseer vir ‘n foto. In die agtergrond knetter geweerskote. Teen $1 kan jy ‘n AKA kry en ‘n skoot skiet.

Realiteitsvermaak?

Ons is vasgekeer onder die bome wat alles kloustrofobies maak en die humiditeit is hoog.

Ek ken die geskiedenis goed. Ek weet die Yanks het ingedreun, maar ek neem aanstoot oor die wyse waarop die gids verduidelik hoe hierdie lokval werk en daardie een. Met ‘n foto van ‘n jong Amerikaanse soldaat wat soos ‘n dier in ‘n gat getrap het en wie se been deur vier penne deurboor is. Om hom staan vriende en dokters wat probeer help.

Oorlogspropoganda werk na twee kante toe. Daar is nie een regte en ‘n verkeerde kant nie.

Op die pamflet word ‘n mens ook uitgenooi om hier te kom kampeer met jou studente. En met jou verkyker rond te stap. By my kom ‘n ander herinnering op. Ek is in Standerd drie en lid van die Voortrekkers. Ons het ‘n middernagmars. Ons het deur die dag geleer om messe te gebruik, toue te knoop en die “vyand” te oorrompel. Dit was die ou-Suid-Afrika. Afrikaner-nasionalisme. Weerbaarheid. Ek het presies een naweek gehou, want ek kon aanvoel in die stories wat die ooms te vertelle had, dat iets nie pluis was nie.

In 1960 – 1975 het hier ellendige tonele afgespeel wat nou op ‘n pamflet as “victories” uitgebasuin word.

Ons hoor hoe daar plakkies gemaak is met spore wat agtertoe wys om die Yanks op ‘n dwaalspoor te plaas!

In die agtergrond is daar skote wat knal. Mense speel argeloos oorlog-oorlog.

Miskien oorreageer ek na my oggend van ‘n mars deur een van die ellendigste installasies nog.

Hier kan jy selfs ‘n soldate-rantsoen eet. Netjies verpak as ‘n toeristiese maal.

 

Op ‘n pamflet lees ek:

Viet Congs: North communist Vietnamese supporters of the communist Front in South Vietnam during the Vietnam War (known in Vietnam as the American War).
The Viet Congs fought against both the government/military of South Vietnam and the armed forces of the United States between 1959 and 1975. They were initially a loose grouping of guerrilla fighters.
Quick Note: South Vietnam/South Vietnamese didn’t want the communist takeover from communist North Vietnam, they wanted to be a Democracy country, U.S. entered the War to stop the spread of communism and support the democratic South Vietnam.

 

Hierna is dit na ‘n tempel waar Confusius-aanhangers, Boeddhiste en Rooms-Katolieke saam aanbid.

Dit heet die Cao Dai-tempel geleë in Tay Ninh. Die geloof is Cao Dai wat al die verskillende gelowe saamsnoer en ook die verskillende argitektoniese aspekte van ‘n Chinese pagoda en Westerse katedraal saamsnoer.

Almal sit op die vloer. En ja, ek vind dit betredend dat toeriste met kameras die spirituele oomblik binnedring, terwyl mense aanbid.

Dan is dit weer per bussie terug Saigon toe na ‘n ete in die dorpie.

Die bestuurder is flink met sy hantering van die wiel. Dikwels vermy ons ‘n ongeluk net-net en die aantal motorfietsies werk op die senuwees. ‘n Hele gesinnetjie sommer op een fiets: Pappa, mamma en tussen hulle staan die kleintjie met die hond agterop!

Vier ure later is ons terug in die hotel. Lan Lan 1 hotel in die Thu Khoa Huanstraat.

Dan op pad uit.

Om vis en noedels en vark te eet.

 

Dag vier  15 Desember

 

Ons vertrek na Danang vir Hoi An per vliegtuig. Land dan in ‘n minder soel omgewing en bekyk ‘n grot in die berg. Die gids verduidelik dat dit die hel voorstel: mense wat met hulle na bo uitroep om hulp en dit is die gemeenskap se plig om hulle te red uit hul ellende.

Die dorpie Hoi An is outyds en sjarmant. Indertyd genoem Faifo, is Hoi An vandag ‘n vae herinnering van die belangrikheid as hawe tydens die Sy-roete. Dit is vandag ‘n UNESCO bewaringsarea en ‘n mens kan vandag die invloed van verskillende kulture sien op hierdie stad. Juis omdat dit ‘n hawestad was het verskillende mense hier aangedoen soos Japannese, Franse, Chinese en Portugese…

En die verskillende invloede kan ‘n mens sien in hierdie kleurvolle stad.

Dit begin liggies te stuifreën.

Die soel hitte van Saigon lê ver agter ons.

 

Dag vyf  16 Desember Hoi An

 

Die pragtige ou stadjie verken ons per voet na ‘n bootvaart van die hotel.

Orals stap mens op straat en verkoop ware aan toeriste.

Laatmiddag swem ek in die hotel se swembad. Dit heet die Vinh Hung resort en die hotelbestuur is baie vriendelik en behulpsaam. Tweekeer sluit ek myself uit my kamer, maar elke keer kom ‘n vriendelike persoon en red my uit hierdie dilemma.

Tipies soos alle Oosterse swembaddens is daar ‘n kroegie wat die swemmers bedien met drank. Daar is ‘n waarskuwing om nie te swem as jy dronk is nie en ek probeer ten minste – so hard as wat ek kan – laatmiddag verbete te swem om my fiksheid op te bou. Ons stap geweldig ver en die reisgenote is shopaholics. Terwyl hulle koop, sit ek en bekyk die mense wat verbystap. Drentel voort in hul daaglikse lewe. Orals is daar voëls in koue. Mahjong, die Oosterse spel, is rondom al die verskillende voëlspesies uitgewerk soos wat Confucius dit bepaal het.

Ek koop vir myself ‘n klein cyclo, ‘n pragtige speelding vir my versameling.

In die aand word rooi lanterns opgehang wat deel vorm van ‘n feestelike tyd.

Ons eet by ‘n pryswennende restaurant wat tereg elke prys moes wen met  sy stoomrys en vark. En hoendersop. In hierdie sop is daar stukkies vark en seekos. ‘n Vreemde, dog heerlike mélange.

 

Dag ses 17 Desember  Hue

 

Die digter Juanita Louw praat van “button up your chakras” om jou te verweer teen aanslae.

Liefdesgedig as reisgedig:

 

1 Om uit te check

 

Ek het jou verlaat

soos uit ‘n hotelkamer

gecheck: sonder adres

of foonnommer,

boonop nat handdoeke,

‘n onopgemaakte bed

agtergelaat

met ‘n vullisblik

vol verwyte,

foltering en verset.

My tas voor die deur

en die kodenommer

van die slot (soos my hart)

nou net aan my bekend.

Bykans vergeet

om vir die ekstras

van ons liefde te betaal.

Die rekening

hiervoor

sal waarskynlik

vir altyd

onvereffen bly.

 

2 Deur die doeane

 

‘n Packlite-rugsak, handtas,

dagboek, kamera, selfoon,

beursie, rekenaar, paspoort

 

geskandeer

 

om dalk iets ongehoords uit

te wys? Soos ‘n a-ritmiese

hartklop? ‘n Onthou-virus?

Dalk ‘n verwytende klont?

 

Tog bly hierdie sisteem

in gebreke

 

om ‘n handvol verse

se metriese patroon

vas te stel.

 

Jambies of anapes?

Dit wis ek nie.

Weet net

jy het immer

elke gedig oor jóú

hartgrondelik verpes.

 

3 Zip up your chakras

 

In ‘n droom verskyn

jy vraend aan my:

wat het ek gedoen

om hierdie stilte

te moet verduur?

Woordeloos, ek,

net om later

my nogmaals

te verweer

teen astrale vrae

ná voltooiing

van dyn en myn.

Nou’s dit
“zip up your chakras”

soos die liedjie lui;

dog geen woundology,

geen gedig.

 

4 Spoorsny

 

‘n sms

bazoeka

deur ‘n tonnel

waar ek

skuilhou

teen jou:

weer jou af

en vee

voetspore

dood

deur ons

te delete:

nou loop

ek vorentoe

en fnuik jou

met sandale

se spore

wat agtertoe

wys.

 

Na vier ure se reis per bussie oor die Hai Van-pas kom ons ongedeerd in Hue aan. Die paaie oor die berg is seepglad weens die reën. Beeste dwaal oor die pad en die bestuurder toeter hulle weg. Te midde van die gevaar is daar baie motorfietsryers op die pad. Argeloos oor die gevaar, lyk dit. Tog is daar ‘n subtiele verbintenis tussen motors en motorfietsryers. Almal gee vir mekaar ruimte. Die ryslanderye staan diep onder water. Daar word glo vier keer per jaar rys geplant en ge-oes, maar in sulke nat weer kan hulle nie plant nie. Die rys vrot gewoon.

Die tifone bedreig eweneens die boerderye, verduidelik die gids. Daar is altyd waarskuwings en dan slaan almal op vlug. Die dakke word afgewaai en almal begin van voor af. Die huise staan gatkant na die see sodat mense se voordeure wég is van die waters wat binnekort oral alles mag stroom en hulle ten minste kans gee om op vlug te slaan.

Dit is skielik snerpend koud. My baadjie is in my groot tas en na die hitte van Saigon is dit dramaties nat en koud. Ek sit ‘n serp om my nek. Gelukkig is die bussie warm.

My een reisgenoot het gister slegte nuus ontvang: haar skoonsuster het in ‘n motorongeluk gesterf. Sy wil terugdraai, maar ons oorreed haar om eerder die reis te voltooi. Die begrafnis is immers eers na Kersfees. Wat kan sy nou doen aan die geliefde skoonsuster se lot?

Sy probeer vrolik bly, maar ek kan sien dat dit haar geweldig steur. Veral omdat ek weet dat sy kanker het en hierdie reis vir haar simbolies geweldig baie inhou.

Dink aan nou, probeer die landskap en die oomblik geniet, praat ek haar moed in.

Ons ry deur die landskap en besoek etlike besienswaardighede soos die Minh Mang se tombe. Hier staan lieflike beelde: primordiale diere soos olifante en drake wat die wag hou.

https://www.google.co.za/search?q=minh+mang+tomb&tbm=isch&tbo=u&source=univ&sa=X&ei=7EO8UveEOseJhQfq24  AI&sqi=2&ved=0CCgQsAQ&biw=1366&bih=600

Besoek 26 Desember 2013

 

Hue Khai Dinh

 

10 000 mense het hier gewerskaf om alles so op te bou tussen 1820 – 1840.

In die Park hotel **** wag ‘n alterkasie my in. Die kroeg is gesluit vir die aand en daar is net ‘n lobby lounge met kroegstoele en jongelinge wat op die stoele lê en slaap.

Die ontvangsdame beweer ewe kontant ek moet maar soheentoe – dit is die drinkgat vir die aand.

“Waar is die bestuurder?”, grom ek.

‘n Vrou kom aangestap nadat die manlike bestuurder dringend sy selfoon moes beantwoord.

Sy maak verskoning en stuur ‘n gratis Heineken na my kamer. Nie goed genoeg nie, dink ek. Reis is harde werk; mens moet kan uitspan.

Na ‘n rit deur berge en dale, storms en ‘n lang, vermoeiende tog deur ‘n pagoda – met hierdie tweede gids wie se Engels baie eina is – het ‘n mens beslis lus vir iets méér “doenliks”.

Beslis in ‘n hotel met vier sterre.

Boonop is die ete hierdie aan in die Banana Flower ‘n teleurstelling: die kos is ‘n klap voor die bek: hard gekook, smakeloos, taai…

 

Dag sewe  18 Desember Hue

 

Die sogenaamde Imperial City en Forbidden Purple City. Dit word steeds gerestoureer na die aanvalle van die Amerikaners tydens die oorlog in Viëtnam.

Ons besoek ‘n pagoda en die steil trappe loop ek sterk uit. Thich Quang Duc se motor is hier te besigtig. Hy het homself in 1963 aan die brand gesteek voor sy motor in protes teen die krisis oor die regering se vervolging van Boeddhiste.

http://en.wikipedia.org/wiki/Thich_Quang_Duc Besoek 24 Desember 2013

 

Thich Quang Duc

 

 

Ons sien ‘n monasterium. Hier leef mense in eenvoud. Die kombuis is aan die stowe met groentes en allerlei disse. Die reis na Hue geskied moeiteloos. Tog – ten spyte van nog ‘n boortvaart – kan ‘n mens nie die impak van die Viëtnam-oorlog uit jou gemoed weer nie. Laatmiddag in die reën is ons in ‘n cyclo. Te lekker om hierdie Oosterse riksja te beleef.

Na middagete, vlieg ons Hanoi toe. ‘n Vinnige eenuur vlug.

 

Dag ag  19 Desember Hanoi

 

Ho Chi Minh Mausoleum

 

Ons besoek die beroemde mausoleum van Ho Chi Minh wat in staatsie lê. Ek het Lenin in Moskou ook gesien. Onvermydelik dink ‘n mens aan Mandela en mense wat enigiets sal doen om vir oulaas hul geliefde simboliese verlosser te sien. Die toue is lank en soldate wys: haal jou hande uit jou sakke uit, stap in gelid. Geen kameras word toegelaat nie. ‘n Mens weet: hier moet jy beslis in jou spoor trap!

Toe ons afstap, wys ‘n soldaat egter simpatiek dat ons aan die relings mag vashou.

O gedoente. Die vrou uit Persië kry ‘n asma-aanval en haar spuitjie is in die bussie, omdat geen sakke toegelaat word nie. In aller yl drafstap ek saam met haar na die bussie wat ver van die museum is vol plakkate van die geskiedenis en hoe Oom Ho, soos hy liefdevol genoem word, almal hier gehelp het uit hul ellende.

Hanoi is ‘n ouer stad as Saigon. Dit is nie so freneties as Saigon met sy vele motorfietse wat om jou woer nie. Die pas is rustiger en ons gaan tuis in die ouer gedeelte van die stad.

Die Confucius-museum is vol jong mense wat graad gekry het in die museum rondstap met hul togas. Daar is ‘n ligte byt in die lug. ‘n Paar dae terug was ‘n hemp letterlik van bo tot onder waternat. Nou is dit winter. Ek verruil my plakkies vir toe-skoeisel. Daar is skielik weer ‘n serp om my nek. Van 32 grade na 15 grade binne enkele dae!

 

Dag nege 20 Desember Hanoi na Halongbaai

 

Vroegoggend verlaat ons die hotel vir ‘n reis na Halongbaai. Dis vier ure per bussie. Die pad is lank en swaar en die Viëtnamese laat onse taxibestuurders na beginners lyk. Dis gewoon toeter en ry. En die stof waai. ‘n Keer of wat vrees ‘n mens dis die einde, maar die behendige bestuurder weet hoe om die aankomende verkeer te pypkan. Op pad is daar ‘n vark agterop ‘n motorfiets vasgebind. Dit blyk ‘n lewendige vark te wees, want ek kan sien hoe hy vervaard sy oë knipper.
“Hulle is op pad mark toe,” merk die gids emosieloos op.

Is hierdie mense wreedaards? Voel hulle niks vir diere nie? Of is hulle gesigsuitdrukkings net ondekodeerbaar?

Langs die pad – want dit is nogal koelerig – sien ek ‘n ou hond met ‘n woljassie aan. ‘n Ent verder sien ek ‘n kind speel liefdevol met sy hond.

Uiteindelik kom ons by die Bhaya Classic I aan. Na ‘n halfuur is ons aan boord en daar is verskeie uitstappies: swem in die baai, grotte besoek, sien hoe ‘n klein gemeenskappie leef, visvang en ‘n kosles.

Die film Indochine word vertoon om ons iets te vertel van die verhouding tussen hierdie land en Frankryk.

Ek neem National Geographic foto’s van die lieflike rotspunte. Salig, salig om op hierdie skip te rus in ‘n kabine na die afgelope tyd se rondhardloop van pagoda tot tempel, van tempel tot toring, van toring tot mausoleum, van mausoleum tot museum.

Vir oulaas is daar ontvangs op die wifi en sms. Dan is ons afgesluit van enige kontak met die buitewêreld. Dit gee ‘n mens kans om te rus en ‘n bestekopname te maak. Ek stuur verjaardagwense vir Johann de Lange.

Ek kyk na die galery foto’s wat ek geneem het en hoe dit op sy beurt weer ‘n ander storie vertel van hierdie reis.

Daar is ‘n happy hour met die bekende een glas gratis vir die een wat jy koop. Ek drink voortreflike wyn uit Chile.

En ek weet hoekom mense meen dat jy eers Viëtnam beleef het as jy hierdie wonderskone baai gesien het.

 

Gedig

 

HJS

 

‘n Reis soos ‘n gedig

loop immer op twee vlakke.

Moord eis speurder

soos ‘n liefdesvers

jy en myn(e) opeis:

liefde word tog dood-slag?

Iewers tussen Saigon

en Hanoi op pad na

Halong-baai

pleeg die digter

‘n pleonasme rapat

soos ‘n onbebroeide eier

raak dié referensie

kant nog wal.

Ek hoor jou vra:

hoe was die landskap

in IndoChine?

Blaas my siel.

Daar is geen mirakels

of muses hier.

Niks wat Cleanth Brooks

sou behaag;

net die Japannese linguis

ter harte neem

oor gevaarlike woorde…

Dus nou náskryf in stof.

Die leser, nes die digter

word vervlaks gefnuik.

 

Dag tien Hanoi

 

Reis is vermoeiend en aan die begin van ‘n reis – voordat alles op jou begin inwerk – is jy gedistansieerd, selfs skepties of jy die regte ding gedoen het. Dan begin alles inspeel en jy begin die reis op verskillende vlakke ervaar. Teen driekwart van die reis – daar waar ek nou is – begin jy vermoeid en onrustig raak. En dan skielik – soos met ‘n atleet gebeur in die pylvak – kry jy nuwe energie.

 

Ars poetica

 

Ek sien ‘n man

toue knoop

om vis te vang.

Daar was glo

‘n Visser

van mense,

‘n fyn wewer

van nette,

kon broodjies

en vissies ver-

meerder:

betekenis

is jy gevang?

Of bly beeld

met toepassing

‘n netwerk:

iets tussen

handewerk

en misterieus

Idees opvang?

 

Dag elf 22 Desember

 

Ek droom die hele nag van bekendes. In die middel van die nag hoor ek die bure in die aangrensende kamer stry. My twee reisgenote, die vrou uit Sydney en haar dogter, vertrek vandag. Die ander een het ons agter gelaat en sy is op haar eie, waarskynlik reeds terug.

Ek vermy die ontbyttafel: ek haat afskeide. Hulle het my e-posnommer. Ek eet alleen ontbyt en kyk CNN, die reisiger se kontak met die buite-wêreld. ‘n Program oor hoeveel mense per jaar in die VSA omkom weens wapenmisbruik, maak die ontbyt onplesierig. Dit blyk 10% meer in die VSA te gebeur as in ander lande. Selfdood is ‘n nuwe siekte, word beweer. Daar is selfs ‘n program oor die UK se operaskool en die ongelooflike nuwe talent wat hier te vinde is.

Nou hier in Viëtnam en met die besoek aan al die oorlogmuseums kan ‘n mens nie anders as om die geweld van die VSA opvang? 

Invalle en aanvalle.

Aan die een kant hipergesofistikeerde intellektuele, aan die ander kant koppesnellers.

Die reisagentskap het vir my ‘n middagtete gereël in ‘n klein naburige restaurant. ‘n Jong kelner kom haal my en ons stap twee blokke na die restaurant waar Kersmusiek dreun oor die luidsprekers. Ek vra hoflik vir stilte en begin peusel aan die slaai, vis en wagtend op ‘n geroosterde varkgereg.

Die kortstondige stilte word verbreek deur ‘n groep Yanks. Luid. Hul gids, van hier, neem die hele vertrek oor en begin vir hulle verduidelik wat te ete en te drinke is.

Ek kners op my tande en wuif hom nader. Verduidelik hier is ook ander mense in die restaurant; kan hy asseblief sagter?

Hy gee bes.

Maar die stilte duur nie vir lank. Die Amerikaners begin dan luidkeels hul menings uitbulder oor dit en dat.

Die aand is dit National Geographic wat ‘n program aanbied oor tsoenami’s en hoe weerloos die mensdom is voor natuurrampe.

Ek kyk in my notaboek en probeer alles verstaan wat ek deur die dag neergeskryf het.

 

Dag twaalf 23 Desember

 

Reis is altyd aan die einde problematies. ‘n Mens begin reeds oppak in jou kop en nou is daar vele ure voor jou. Jy is nie meer lus vir besienswaardighede nie.

Om te reis beteken vir my ook dat jy soms net moet sit en niksdoen. Voor die hotel is daar ‘n klein winkel en die eienaar het twee honde. Die een slaap voor in die winkel; die ander een is aan ‘n boom vasgemaak en grom vir verbygangers.

Ek drink die dag in. Neem alles waar. Die cyclo-bestuurders, mense wat stap, ‘n ou man (waarskynlik 95) groet my vriendelik. Buite taal verstaan mense mekaar ook en mense kan iets oorsein na mekaar sonder woorde.

Maar ek is skielik uit-ge-Oosters. Genoeg van die kos gehad, die klanke, die mense, die omgewing. Ek wil terug.

Die Weste begin terugroep. Ek lees die internet en sien dat Ryan O’Neill die Warhol-skildery van sy geliefde mag hou, ten spyte van die Universiteit van Texas se dringende teenstand.

http://www.hollywoodreporter.com/live-feed/ryan-oneal-says-farrah-fawcett-667508

 

Ek begin peuter aan ‘n vers:

 

Farrah Fawcett,

‘n Charlie’s angel,

hang oor Ryan

se bed

perfek

soos net

Andy Warhol

‘n portret

kon skep.

Hulle Love story,

glo my vry,

sal niemand beny:

die engel sterf

aan kanker anaal

en in ‘n hofsaak,

net so banaal,

gestry en baklei

of O’Neill,

geprostaat-,

gevelkanker,

sy gevalle engel

uit die verderf

mag red?

 

Tussendeur kyk ek na ‘n DVD (The Escape artist) wat sommer dadelik die gemoed lig. ‘n Lekker speurverhaal in drie dele. Hierna gaan ek na die restaurant waar die bloedjong sjef en die kelnerin my inwag. Ek noem haar mini-Madam (omdat sy nog jonk en ongetroud is) en hulle lag so lekker hieroor.

“Maak vir my asseblief ‘n bord Spaghetti Bolognaise.” Hulle begryp. Ek het genoeg gehad van Oosterse kos. Genoeg vark en vis en soja en noedels en hoender vir ‘n leeftyd.

Sy plak ‘n glas wonderlike Viëtnamese Da Lat-rooiwyn voor my neer. Daar kom die Spaghetti aan soos die Alibama. Ek vra vir rissies. Ek sien hulle lag skelm.

Hulle weet egter nie hulle het met die grootste rissie-eter op aarde te maak nie en net vir hulle plesier maak ek of my mond brand. Hulle lag alte lekker. Die spaghetti is prima!

Die kelners hier hou ‘n mens altyd dop, terwyl jy eet. Anders as by ons waar jy die kelners moet inwuif soos ‘n vliegtuig op die lughawe.

Dan bedtyd. More vertrek ek.

 

Dag dertien 24 Desember

 

So kom die afskeid dan in die Demantoid-hotel. Om 3.30 is dit Silk Air en dan Singapore Airlines terug huis toe.

Ek kyk na al my aantekeninge en gedigte in wording: die reis was goed vir my.

Op pad lughawe toe is daar ‘n vrou op ‘n motorfiets met twee geglasuurde honde. Ek gril. Almal is feestelik; selfs vyf mense op een motorfiets op ou Kersaand.

Ek tjekkereer in. Wil afklim op Johannesburg vir ‘n familiebesoek in die Noorde, maar helaas is die verandering nie aangedui soos ek per e-pos versoek het nie.

Ek pleit en dit gebeur.

Silk Airlines tot in Singapore- dan die lang reis terug na 1vm tot in Johannesburg. Daar is net een deur en almal stroom deur dieselfde deur wat die ambience van besigheidsklas versteur.

Ek is ongelukkig hieroor, maar ‘n glasie Chivas kalmeer die gemoed. Katherine Jenkins sing wonderbaarlik “You never walk alone” en ander opera-klassieke.

Genadiglik slaap ek onversteurd: uitgestrek op die bed. Tot brekfis. Heerlike vrugte en Post Toasties.

Johannesburg wag my reënerig in.

Dis Kersdag en al die amptenare wens jou ‘n Geseënde Kersfees toe.

 

 

Aantekeninge:

 

Taal:

 

‘n Mens kan dikwels net uitbars van die lag oor die wonderlike taaluitinge. Sekere klanke is kennelik onuitspreekbaar. “Fruits” word “froosh”. S-klank kan nie. Hy verdwyn sommer.

“Smoothy” word “moothy”.

Ja, ons soek muti. Gelukkig het ek ‘n frase-boekie byderhand wat handig te pas kom.

 

Kos:

 

Dit is waarskynlik nie ‘n onderbeklemtoning om te beweer dat hierdie land tans voor in die ry staan met van die beste cuisine op die aardbol nie. Vark en seekos word met groot swier saamgevoeg in ‘n rolletjie. Elke keer dink ons: nou was dit die lekkerste ete nog. Net om die volgende keer ‘n spyskaart te ervaar wat iets besonders is. Op hierdie georganiseerde toer is dit ‘n vaste spyskaart met sop, vis, groente, noedels, vleis, nagereg.

Maar telkens is die verrassing groot: die sop (hoender, garnale of groente) is iets besonders. Ek het waarskynlik van die lekkerste varkvleis nog hier gehad; en dit sluit Venezia in.

Gebraai, gekook, gestoom in ‘n ronde potjie, in bolletjies en rolletjies – lieflik. Hulde aan Porca!

Met stoomrys. Soms selfs vars vrugte daarop geskil soos mango of kokoneut.

Die vrugte is soet. Waatlemoen, pynappel, nartjies…

Telkens probeer ek en Mevrou Direkteur, wat kennelik ‘n besondere sjef is, uitwerk hoé ‘n dis tot stand gekom het.

Sy steel met haar oë.

Toegegee, om elke dag Oosters te eet, word op die duur te veel en ons almal skaterlag toe ons by die sewende dag wil rus en pizza bestel.

 

Gedigte-in-wording:

 

III

 

My hart

eens in Noord en Suid

verdeel:

‘n bloedige Viëtnam-oorlog –

stryd, opposisie

word nou én én.

Nou streef ek

na versoening

van opposisies

uiterstes,

hede word verlede,

in die ervaring

van die heuglike nou,

maintenant, now

in dit wat was

se uitspoel in windstreke

van ‘n lewensreis.

 

IV

 

‘n Reis

nes ‘n landskapvers

eis geduld;

‘n wagtou

deur sekuriteit,

‘n ondersoekbeampte

wat ‘n tas se inhoud

gadeslaan.

 

 

V

 

Plante groei bó in betonblokke:

‘n liefdesmetafoor

om die onmoontlikheid

van ons liefde te beskryf.

‘n Man snoei ‘n boom

nes oortollige beelde

en herinneringe

kil, afstandelik

uitgegooi word.

Ek vermy – soos jy eis –

om oorlog te verklaar

en in ‘n bloedige loopgraaf

stelling in te neem.

Ek beskryf eerder die lotus,                                                        

Nelumbo nucifera

en my gedig

sal bly saadskiet,

betekenis uitwaaier,

lank na my en jou vertrek.

 

VI

 

Vir oulaas

sien ek die skemer

oor Hanoi sak:

die rooi oog

van die son

bebloed.

 

Ek kyk af van die boonste verdieping van die hotel Demantoid en sien die son sak. Ek probeer dit in ‘n foto vasvang, maar helaas dit word skielik donker.

 

Post mortem:

Dis moeilik om die liggaam en psige te sinchroniseer. Die vlees is gewillig… Die psige neem helaas langer om weer hier aan te kom, bykans soos horlosies in ‘n hotel waar verskillende tye in stede aangekondig word.

Met my terugkeer kyk ek na die bekendste films oor Viëtnam. Ek begin met The deer hunter, Michael Cimino se klassieke film met Robert de Niro en Meryl Streep. Dit is in 1978 die eerste keer vertoon. Die herkenbare landskap maak die film des te meer ondraaglik. Die Russiese roulette-toneel bly steeds ontstellend en Stevie (John Savage) se reaksie van amperse waansin, beklemtoon presies hoe wreedaardig hierdie oorlog was. Die vuil varke wat in die grond rondkrap, is ‘n duidelike simbool van hierdie misdadigheid.

Burgerlikes word in bunkers vergas deur Viëtnamese van ‘n ander ideologiese oortuiging – wat ons terugneem na Žižek se analise van hierdie konsep. The deer hunter is ‘n buddy-film: vriende wat mekaar bystaan tydens die sinnelose oorlog en ‘n vriend wat met ‘n meisie trou wat swanger is by ‘n ander man. Russies-Amerikaanse staalwerkers uit ‘n dorpie, Clairton in Pennsylvanië, se wedervaringe in Saigon word in ‘n drieuurlange film ontleed. En De Niro is die “deer hunter”, die een wat die bok doodskiet, maar ook sy vriend met ‘n gebreekte been uit die water red en op sy rug dra. En by sy vriend se vriendin betrokke raak. Na die oorlog kan hy egter nie ‘n bok raakskiet nie. En die Russiese roulette uit die oorlog word herhaal wanneer hy ‘n vriend teister. En ten slotte is dit ook hierdie verdoemende spel wat Nick (Christopher Walken) se einde beteken. En by die begrafnis word “God save America” gesing, wat terugspeel op die banier in die eerste toneel, wat die patriotisme van die gemeenskap beklemtoon.

Die film begin met ‘n troue en eindig met ‘n begrafnis.

Die film het indertyd vyf bekronings by die Amerikaanse Akademie ingeoes en word steeds as ‘n klassieke oorlogfilm beskou. Die Russiese roulette-toneel het indertyd groot opslae gemaak nes die dood van een van die akteurs aan kanker, John Cazale, wat ‘n verhouding met Streep gehad het in die werklike lewe.

En wie sal ooit die lied Cavatina, vertolk deur John Williams, kan vergeet uit hierdie rolprent?

Tog was daar ontstoke kritici wat die film as rassisties en eensydig beskou het. Ek is van mening dat die ideologiese aspek van die film juis deur die simbool van Russiese roulette gekompliseer word: geluk of ongeluk. Die film word egter deur sy besondere akteurs gedra en die feit dat dit gaan om die werkersklasmense wat ingesleep word by ‘n groter ideologiese oorlog waarvan hulle nie werklik die implikasies van kon begryp nie. Walken is indertyd bekroon, ofskoon Streep en de Niro as uitstaande akteurs van hul tyd uitgewys is vanweë hierdie film.

http://en.wikipedia.org/wiki/The_Deer_Hunter

 

Besoek 28 Desember 2013.

 

Full metal jacket is Stanley Kubrick se unieke analise van hierdie oorlog.  “In Vietnam the wind does not blow, it sucks,” waarsku die poster van hierdie aanprypende en ontstellende rolprent. Die film is in ‘n ander sleutel gemaak as The deer hunter.

In die eerste helfte van die rolprent word die strawwe oefenprogramme met ons as kykers gedeel – met die ideologiese subjektiwiteite. Die wrede offisier, Gunnery Sergeant Hartman, met sy beledigings en vergrype verteenwoordig die ideologie van die tyd, soos Žižek tereg uitwys.

Die vetseun, die outsider, maak die offisier dood na vele vernederings en pleeg selfdood: ‘n skokkende kommentaar op die posisie van die outsider binne die gedrewe weermagswêreld. In die tweede helfte is die Marines in Viëtnam. Matthew Modine, ene Joker, die hoofkarakter, is die fokalisator waardeur ons alles waarneem. Nancy Sinatra se “These boots are made for walking” kondig die tweede helfte aan.

Die hoofkarakter dra ‘n “peace”-simbool en op sy oorlogpet staan daar:”Born to kill”: ‘n duideliker voorbeeld van verwarring kan die kyker nie vind nie. Hy is oorlogskorrespondent en die kyker beleef hoe daar gelieg word oor die oorlog.

As hy uitgevra word hieroor, bely hy sy dualiteit in navolging van Jung.

Die musiek dekonstrueer telkens die erns en lewer kommentaar op die uitsiglose bestaan wat oorlog inhou.

Daar is angswekkende tonele van oorlogmaak en die effek daarvan op jong mans. Kubrick lewer ook siniese kommentaar deur die uitsprake wat die oorlogskorrespondent maak oor die redes waarom die oorlog gevoer word. Die soldate is naïef. In ‘n toneel word ‘n Oosterse vrou opgeveil vir seksuele avonture – teen betaling. Hier kom ras-stereotipes na vore.

“Put a nigger behind the trigger”, merk ‘n swart soldaat sardonies op wanneer hulle die verkeerde rigting ingeslaan het.

Wanneer hulle in ‘n lokval gelei word, tree die waansin in en bevele word verontagsaam. Hier is dit die volle impak van oorlog wat ontgin word deur Kubrick.

Die koppesneller saai amok.

Soldate ondersteun ‘n sterwende buddy.

Hulle is almal “bros”.

Dan blyk die koppesneller ‘n jong meisie te wees waarmee Kubrick dwingende kommentaar lewer op hoe alle mense deel geword van die oorlog.

Ten slotte pleit sy dat hulle haar moet doodskiet, terwyl sy bid tot haar god.

En dit gebeur – in die slot wat ‘n mens altyd sal bybly. Uiteindelik het Joker die “thousand yard stare” en is hy dus nou ‘n werklike vegter.

Die gebruik van byname is opvallend: om dalk te illustreer dat vegter ander personas – soos Cowboy of Joker – moet aanneem om te kan doodmaak?

Die film sluit met die sogenaamde Mickey Mouse-mars.

Is oorlog uiteindelik dan net ‘n spel?

http://en.wikipedia.org/wiki/Full_Metal_Jacket

 

Besoek 29 Desember 2013.

 

Apocalypse now van Francis Ford Coppola is in 1979 bekend gestel. Die opera-aanslag van die film is alreeds uitgewys: Wagner se Rit van die Walkuries en die slot waar Brando uit Eliot lees en The Golden bough en From Ritual to Romance gewys word, aktiveer eweneens ‘n primordiale lesing van die film wat intense vrae oor die spanning tussen die goeie en die bose. Frazer se beroemde studie en Jessie Weston se werk, soos die digkuns van Eliot, is belangrike sleutels vir die begryp van die film. So beskou, is dit meer as ‘n oorlogsfilm. Dis eerder ‘n intense analise van primordialiteit en dat die goeie die “horror” sal oorwin. Martin Sheen, Marlon Brando, Robert Duvall en Dennis Hopper lewer uitstaande vertolkings in hierdie film wat die oorlog se waansin uitwys. Soos die bekende opmerking:”I love the smell of napalm in the morning” – en hierdie reuk word geassosieer met oorwinning.

Playboy girls word ingevlieg om die soldate te vermaak.

Joseph Conrad se The heart of darkness word getransponeer na die Ooste. Die musiek van The doors is eweneens belangrik vir die begryp van hierdie rolprent.

Coppola maak ook ‘n klein verskyning as ‘n joernalis wat die oorlog verfilm: “Don’t look at the camera, keep on fighting!”

Die “voice over” skep ook hier distansie, afstand soos in Full metal jacket.

Dis ‘n film met geweldige intriges: Sheen se hartaanval, stelle wat deur die weer verwoes is, Coppola se ongelukkigheid met Keitel se aanvanklike vertolking van Willard en hierom het hy Sheen verkies bó hom, Pacino wat nie wou meedoen nie, uit vrees dat hy mog siek word, ‘n onvoorbereide, oorgewig Marlon Brando…

Die dokkie van Eleanor Coppola, loon die moeite om al die probleme raak te kyk – soos dat dit ook ‘n geweldige duur film was.  http://en.wikipedia.org/wiki/Apocalypse_Now

 

Besoek 30 Desember 2013.

  

Cimino, Kubrick, Coppola, ‘n geweldige triade in die filmkuns.

 

Veral die volgende films word as tersaaklike rolprente beskou deur kritici:

 

 

 

Joan Hambidge

Desember 2013

 

 

Bibliografie:

Films:

 

Indochine.

http://en.wikipedia.org/wiki/Indochine_(film)

Besoek 24 Desember 2013.

 

The deer hunter

http://en.wikipedia.org/wiki/The_Deer_Hunter

Besoek 26 Desember 2013

 

The escape artist.http://en.wikipedia.org/wiki/The_Escape_Artist_(TV_series)

Besoek 14 Desember 2013.

 

The white ribbon.

http://en.wikipedia.org/wiki/The_White_Ribbon

Besoek 14 Desember 2013.

 

Slavoj Žižek: The pervert’s guide to ideology. DVD.

http://en.wikipedia.org/wiki/Nelumbo_nucifera Besoek 14 Desember 2013

 

Boeke:

 

Collins Vietnamese phrasebook. 2007. Londen: HarperCollins.

Ruth Padel. 2007. The poem and the journey. Londen: Chatto & Windus.

Henning Snyman. 1983. Mirakel en muse. Kaapstad: Perskor.

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

36 Kommentare op “Joan Hambidge. Viëtnam – ‘n digterlike reisverslag”

  1. Louis Jansen van Vuuren :

    Opwindende reisavontuur! Dankie.

  2. Marthe McLoud :

    Joan, ek het nou so lekker gelees. Dit bring al die herinneringe van my reis in 2012 in Vietnam terug. Dis jammer jy kon nie Kambodja met Vietnam kombineer nie. Ook regtig iets besonders en anders.

  3. Louis Jansen van Vuuren :

    …Om uit te check ruk die stang!

  4. Johann Lodewyk Marais :

    Boeiend!

  5. Joan Hambidge :

    Dis Uit my Oosterse dagboek!

    Time out

    Iewers buite tyd bestaan ons:
    in die voorportaal van die Demantoid
    drie horlosies se wysters staan botstil:

    Tokio, New York, Istanbul…
    wyl ‘n kersliedjie klokkie-klokkiespel,
    verkies ek tog ‘n klokkespel in Amsterdam.

    Met jou het ek tyd gewen, meen ek:
    my selfoon wys immers ‘n dag agter
    oor die tydverskil tussen Oos en Wes.

    My onopgemaakte bed verklap
    ‘n nag vol drome, hunkeringe
    na daardie tyd toe jy, les bes,

    onversadig, tydsaam en tydloos
    die oggendwekkers saam beleef het:
    klokke van die Katolieke kerk,

    die muezzin se dralende gebed,
    tot die dénouement: stadige
    liefdemaak in ‘n tydlose liefdesbed.

    Hanoi

  6. Leon Retief :

    Nog Joan! Nog!

  7. Joan Hambidge :

    Die reis “hangover” duur voort. Pas gekyk na “JFK” (Oliver Stone) en nou weer na “Hair”. Dan wag “Born on the Fourth of July”. So maar met reis: eers die werklike reis, dan daarna die herbelewenis, verpakking, nadink.

  8. Leon Retief :

    Ek het nie Stone se film gesien nie maar ek verstaan dis vol onakkuraathede.

  9. Joan Hambidge :

    http://22november1963.org.uk/how-accurate-is-oliver-stone-film-jfk

    Ek dink “JFK” oordramatiseer gegewe. Die waarheid gelieg, waarskynlik by tye. Die regisseur gebruik ook populistiese verhale om die kyker nuut te laat kyk na die gegewe.
    Hoe sal ons ooit werklik weet wat die waarheid is? Dit is egter ‘n film, d.w.s. ‘n dramatisering van ‘n historiese gegewe en binne hierdie verband is daar dus ruimte vir kreatiewe vryheid. Dit bly egter ‘n verstommende film wat soos alle films wat met
    ‘n historiese gegewe werk uiteindelik op die rekening geplaas moet word van die regisseur. Ek het die volgende gegoegeloer:

    It did not become widely known until after the release of Oliver Stone’s JFK that the CE399 bullet had been placed into evidence fraudulently, and was not the bullet that had been found on the stretcher. For details, see Gary Aguilar and Josiah Thompson, ‘The Magic Bullet: Even More Magical Than We Knew’ at history–matters.com.

    Sou graag jou intelligente mening oor hierdie film wou lees.

  10. Leon Retief :

    Joan, as jy van my ‘n intelligente mening van my wil hoor oor hierdie film as AS FILM dan verwag jy te veel. Ek is nie in staat om films op daardie vlak te beoordeel nie, die laaste film wat ek gesien het was ‘n paar maande gelede:“Rush” wat oor motorsport handel, en voor dit kan ek nie eers onthou wanneer ek laas ‘n film gesien het nie. Nietemin, ek besef dat Stone die film heel moontlik gesien as ‘n stuk “faction”, maar hy moes beslis bewus gewees het van die samesweringsteorieë rondom JFK se moord en dat sy film water op die meule vir hierdie mense sou wees. Na die beste van my wete is daar nêrens in die film ‘n “disclaimer” wat sê dat hy die gebeure gedramatiseer het nie. Na my mening behoort ‘n kunstenaar darem rekening te hou met die voorsienbare gevolge van ‘n kunswerk wat hy of sy die wêreld instuur. Dit is natuurlik moontlik dat hy self aan hierdie teorie glo.

    Ek byt nie aan die storie dat die “magic bullet” valslik daar geplaas is nie, sien:
    http://mcadams.posc.mu.edu/sbt.htm

    Samesweringsteorie en ander koekoes idees interesseer my nogal, ek het onlangs ‘n interessante artikel oor die moord gelees wat ek privaat na jou kan stuur as jy wil, dis te lank om hier te plaas, laat maar weet.

  11. Joan Hambidge :

    Ek vind hom ‘n briljante filmmaker en ek dink die film het verskillende lae. Hy laat dit egter ten slotte oor aan die kyker om self te besluit. Stuur gerus die stuk aan.

    Ek is nou besig met “Platoon” wat die Yanks se vergrype uitspel.

    Jy het gelyk: daar is geen “disclaimer” by “JFK” nie, maar die film self is so kompleks en hy gee nie finale antwoorde nie.

  12. Buiteblaf Breytenbach :

    Ek het die voorreg belewe om Oliver Stone te ontmoet en ‘n aand of wat in sy geselskap deur te bring. ‘n Vreemde meneer met ‘n dringende behoefte om erkenning/aanvaarding, om sy merk te laat. Veral daar waar die groot honde been lig. Soos maar te dikwels deesdae gebeur (want ons is mos bandeloos) sukkel hy maar om ‘n witwarm ego te bestuur. Sover ek weet staan hy by die ‘teorie’ van ‘n verskuilde vuil waarheid. Trouens, weer eens sover ek weet (wat nooit baie ver is nie), huldig hy ook die koekoe-oortuiging dat die Werklkheid ‘n werklykheid en ‘n duistere sameswering is, temeer so omdat dit op die oog af banaal en prosaïes is.

    Betreffende die Yanks se vergrype – sistematies, volgehou, straffeloos – geen samesweringsteorie is seker nodig om die gevolge van Orange Agent, Guantanamo, sluipmoorde, die heldhaftige drone-aanvalle, ‘swart’ kerkers vir marteling, staatsmoord deur die amptelike doodstraf, duisende Amerikaanse burgers in eensame aanhouding… trouens, Goldman Sachs en Monsanto (om maar net twee te noem) te interpreteer nie.

    Waar mens Stone en ander gelyk gee (Snowden…) is hulle besef dat ons hier te doen het met globale kapitalisme in volle swang.

  13. Leon Retief :

    Breyten, had ek besef watter rigting hierdie gesprek gaan volg sou ek my vorige opmerkings gekwalifiseer het. Verskoon dus asseblief my lang(dradige) antwoord. Ek dink mens moet onderskei tussen werklike sameswerings, samesweringsteorieë en wat mens seker samesweringshipoteses moet noem, maar wat in die handel en wandel steeds bekend staan as samesweringsteorieë en ek gaan dus hierdie woord in daardie konteks gebruik. Met samesweringsteorieë bedoel ek dit wat ooglopend plein donners koekoes is maar wat aanvaar word deur (andersins dikwels rasionele) mense wat in hierdie teorieë glo soos in die Bybel – goeters soos die sogenaamde vervalsing van die maanlanding, die sameswering deur farmaseutiese maatskappye mbt immunisasie teen aansteeklike siektes (wat kwansuis outisme sou veroorsaak), die baie algemene geloof onder kreasioniste dat bioloë elke denkbare ding wat evolusie sou ondersteun vervals, of dat die aarde net sowat 10 000 jaar oud is, dat wetenskaplikes als in hul vermoë doen om Velikovsky se plein donners simpel teorieë te onderdruk, dat buite-aardse wesens die wêreld besoek het en steeds doen en so voorts. Daar is ek weet nie hoeveel voorbeelde nie. Sulke teorieë fassineer my, vra my nie waarom nie maar so is dit nou maar.

    En jip, die Amerikaners het moerse vergrype gepleeg in elke oorlog waarby hulle betrokke was. Niks anders as elke ander nasie nie. En dis ook nie te verskoon nie. Maar – so ver as wat ek weet: die Amerikaners en/of die Westerse lande oor die algemeen het, anders as meeste ander lande waarvan ek weet (ek is oop vir korreksie) hul misdade (of dan ten minste die waarvan ons weet) aan die groot klok gaan hang. Weliswaar nie die spesifieke regerings nie, maar dan ten minste die relatiewe vrye pers waaraan ons nou gewoond is.

    Agent Orange: dit was ‘n defoliasie-agent wat gekontamineer was met dioksien (die regte Afrikaans vir dioxin hoop ek) en waarvan niemand op daardie stadium bewus was nie. Daar is verskeie isomere van dioksien en ongelukkig was Agent Orange gekontamineer deur die mees toksiese isomeer. Mens kan heel tereg vra of die Amerikaners dit moes geweet het, ek kan nie daaroor ‘n opinie uitspreek nie. Nogtans, dit was nie doelbewus nie en so ver ek weet (ek is oop vir korreksie) is die gebruik van Agent Orange in 1970 gestaak.

    Oor drones: dis na my mening iets wat baie fasette het. Ek sluit in skakel in na iets wat so paar maande gelede in Macleans gepubliseer is. Macleans is die beste tydskrif mbt sosiale, politieke en ekonomiese kommentaar wat ek nog teengekom het en ek het groot respek vir hul joernalistieke standaarde en integriteit.

    http://www2.macleans.ca/2013/11/11/game-of-drones/

    Natuurlik was en is daar werklike sameswerings waarvan jy ‘n paar noem maar ek is nie seker wat jy bedoel mbt Monsanto nie. Hul sakemodel is waarskynlik onder verdenking, maar as jy GMO’s bedoel, daar is geen sameswering om die gewaande gevare van GMO’s van die publiek te weerhou nie omdat daar geen gevare bestaan vir die gesondheid van verbruikers nie. Daar is toe ek laas gekyk het reeds meer as 1 700 studies gedoen, meestal deur onafhanklike instansies, wat dit aantoon.

  14. Desmond :

    Stone se dokkies oor Fidel Castro is fassinerend. Sommige van sy rolprente vind ek ‘n bietjie hamfisted: Natural Born Killers, bv., sou kon doen met ‘n ligter, meer ironiese, meer Tarantino- of Coen-agtige aanslag. Maar hy’s ‘n interessante rolprentmaker.

  15. Buiteblaf Breytenbach :

    Desmond: Ek is dit eens met jou. Miskien kan hierdie onderwerpe slegs met ‘n mate van afstandelikheid benader word. Soos die Coen broers dit op briljante wyse doen.

    Leon: Lyk my ons gaan oor grondbeginsels verskil! Wanneer dit kom by Amerikaanse imperialisme (en ek dink ‘n goeie saak kan uitgemaak word daarvoor dat die ideologie en beleid wat hulle optrede onderskryf in wese fascisties is) moet ek bely dat ek fundamenteel daarteen gekant is. Of dit nou opeenvolgende regerings se beleid is of die onderliggende ideologie en aannames waarop Amerika gebou is – die absolute “eerste reg” (die reg van die sterkeres) om hulle belange ten alle koste in die wêreld se kele af te druk, die heiliging van ondernemingsinisiatief, die “patriotisme”, vooruitgang as wetenskaplike dogma… – is eintlik nie meer ter sake nie. Hulle internasionale bedrywe (Monsanto, juis, wat hulle saad en insektedoder monopolisties afdwing op boere in Mali en Indië bv. en andere) en intelligensiedienste (NSA) as logiese uitinge van hierdie aannames kan blykbaar lankal nie meer beteuel of gerig word deur die VS administrasie nie. Hulle besmet die wêreld… Het Amerika ooit verantwoordelikheid aanvaar vir die nagevolge van Agent Orange? Maar nouja, hulle erken mos nie internasionale verdrae of instansies soos die Internasionale Geregshof nie. Ek glo nie dit betaam ons om die aard en uitwerking en geskiedenis van die VSA te relativeer nie. Beteken dit daarom dat Rusland of China se stelsels verkieslik sou wees? Natuurlik nie!

    En die gewraakte vitaliteit/onafhanklikheid van die vrye pers? Ek wonder tot hoe ‘n mate ‘n Bradley Manning die voordele daarvan waardeer.

    100% eens met jou oor die obskurantisme van die koekoesklan. Maar die veronderstellings en hulle uitwerking waarna ek hierbo verwys het niks te doen met samesweringspatie nie – dit word ten aanskoue van almal met minagting in die openbaar gepleeg en bedryf deur middel van drukgroepe (lobbies), finansiële manipulering, omkopery, korrupsie, brute magsverhoudings. Dis hoekom dit diabolies is (nie dat ek in ou Satang glo nie, maar hierdie uitbuiters doen proppers duiwelswerk): die kamoeflering in die lig.

    Ons dwaal ver af. Jammer daarvoor. Wou nog sê dat ek Joan Hambidge se Viëtnamgedigte geniet en waardeer. Sover ek weet sou die Viëtnamese te skroomvallig en byna privaat wees om die gebreklike monsters wat gebore is, vir meer as een geslag al, as nalatenis van die Amerikaanse owerhede se “defoliasie” veldtog, onder toeriste se aandag te bring.

    Groete!

  16. Leon Retief :

    Breyten, heiiii…. ek het nooit kant gekies vir die Amerikaners nie, ek het net wou toon dat die hele ding van drones nie altyd so eenvoudig is as wat mense soms dink nie. Ek is dit met jou heeltemal eens oor Amerikaanse imperialisme – as dit nie daarvoor was nie sou daar in die eerste plek nie drones in Pakistan of elders gewees het nie. Die brutaliteit van die onbeteuelde kapiltalistiese sisteem in daai land is walglik en hulle hele politieke sisteem is so reg uit ‘n riool.

  17. Buiteblaf Breytenbach :

    Ek klink ‘n glasie wyn saam met jou, Leon – indien daar nog iets oor is in die bottel van gister.

  18. Leon Retief :

    Breyten, ek sal moet wag vir vanaand voor ek daai glasie klink, dis nou nog 08h00 hier. Nog gou iets oor Yanks: my punt was dat agent orange ‘n onskadelike mideel (vir mense) is, feit bly natuurlik staan dat hulle nogtans verantwoordelikheid moet aanvaar vir die kontaminaies maar na die beste van my wete dit nie gedoen het nie. En ook nie sal nie. My vrou Lesli weier om haar voet in die VSA te sit want sy verafsku hulle arrogansie. Van die VSA as stast, nie die mense nie. En ek wil so graag die Met besoek…

  19. Desmond :

    Ja, dis ‘n belangrike onderskeid, Leon: tussen die VSA as staat en die mense. Want dat daar skitterende kunstenaars en skrywers en musikante en rolprentmakers uit daardie land kom, kan nie ontken word nie. En sommige van die beste kritici van Amerikaanse imperialisme is self Amerikaners. Ek voel oor die VSA ‘n bietjie soos U2 sing: ‘I can’t live with or without you’…

  20. Buiteblaf Breytenbach :

    Heeltemal waar, Leon en Desmond. Dis soos, byvoorbeeld, met die staat Israël. Die helderste kritiek kom van binne (soos met die destydse apartheidsbedeling…). Mens wonder net wanneer en hoe die verskuiwingspunt van werklike verandering kan kom en van hoeveel impak kulturele en etiese heldersiendheid mag wees. In die VSA is daar immers geen noemenswaardige politieke alternatief soos verteenwoordig in ‘n politieke party nie. En “alternatiewe denke”, soos sê-nou-maar ‘n sosialistiese bestel, is totaal marginaal. En selfs wanneer daardie punt bereik word, soos in ‘n paar Arabiese state, dan wil dit lyk asof tot ‘n revolusie gedoem is om te faal in die aangesig van die “hebbendes” wat donners goed genoeg weet hoe om mekaar te steun en verdedig. As ek nou geneig was om te dink daar is ‘n sameswering sou ek glo die byna anonieme rykes van die wêreld span internasionaal saam om ons kaalgatte te dehumaniseer en te laat krepeer. Eisj…

  21. Leon Retief :

    Weet nie van Europa nie maar dis vir my ontstellend dat die middelklas in die VSA aan die krimp is JUIS oor wat die rykgatte doen en dat hulle ooglopend nie ‘n hel omgee daarvoor nie. Ek weet daar word soms smalend (en verkeerdelik) na die middelklas verwys maar dis juis daai mense wat die ruggraat van ‘n land is – en ek dink nie die swart middelklas in SA groei snel genoeg nie. Ek dink nie dat daar sedert die feodale stelsel soveel mag en geld in so min hande gekonsentreer was nie. Ek dink kapitalisme is fine, maar die jirre weet nie soos die VSA dit doen nie.

  22. Leon Retief :

    NS: Kanada het essensieel ‘n drie-party sisteem en ek dink dit werk. En ek begin al minder van Stephen Harper hou.

  23. Buiteblaf Breytenbach :

    Europa is merendeels vasgevang in dieselfde spiraal. Selfs Duitsland. Enersyds ‘n groeiende armoede, andersyds die obsene verryking van ‘n klein kaste wat skynbaar immuun is teen die ekonomiese krisis. En al hoe minder kans op sinvolle kontak tussen die twee. Erger, oënskynlik geen hefbome wat met effek aangewend kan word teen die bankiers, spekuleerders, grootbase of selfs die politieke klas nie. In hierdie groeiende en radikale gaping stort die middelkas soos ‘n Niagara oor die afgrond. Ontleders in Europa praat al hoe meer van die proletarisering van die middelklas. In Moermikland, dink ek, word die fenomeen gedeeltelik verdoesel onder die verstrengeling van staat en heersende kliek: solank daar nog te aas en te plunder is, is daar nog baat te vind in kliëntelisme en die illusie dat ‘n middelklas ontstaan wat die bedeling kan bestendig. En as die geld opraak? As die Chinese hulle sommetjies begin maak?…

  24. Joan Hambige :

    By die oorlogmuseum in Saigon is hierdie verminktes – geklee in oranjepakkies – aanwesig en geld word vir hulle ingesamel. daardie museum — met sy drie vlakke — is die ergste geweld denkbaar teen gewone mense.

  25. Desmond :

    Leon en Breyten, met die dat die middelklasse toenemend uitgelewer word aan prekêre omstandighede (kroniese kontrakwerk en aflegbaarheid, tanende pensioenfondse, eskalerende mediese kostes, die toenemende kriminalisering en psigologisering van marginaliteit en maatskaplike lyding) praat sommiges deesdae al van ‘n nuwe sosiale klas: die prekariaat.

  26. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, Guy Standing se idee van die prekariaat is nogal interessant, veral sy verklarings vir nuwe vorme van protes en waaroor daardie protes gaan (bv. openbare ruimte en internettoegang as deel van die “commons”). Ek het hom by COSATU hoor praat oor die boek, maar die comrades daar het nie gedink dit het veel relevansie vir Suid-Afrika nie – dalk ook maar omdat hy (en, volgens hom, die prekariaat) nie veel ooghare het vir ou industrial unions nie. Oor nuwe klasstrukture sien ek uit daarna om die volgende boek te lees:
    http://www.theguardian.com/books/2014/jan/01/world-interior-capital-peter-sloterdijk-review

    NS. Dankie vir die verslag, Joan.

  27. Desmond :

    Andries, Sloterdijk is ‘n interessante denker… hy kan mens soms die moer in maak, maar hy’s die moeite werd om te lees. Dankie vir die skakel.

  28. Leon Retief :

    Ek lees vroeer vanaand iets wat Nasser glo gese het oor die Amerikaners: “…you never made clear-cut stupid moves, only complicated stupid moves.”

  29. Joan Hambidge :

    Dankie Andries. Die reis was fassinerend. Breyten, die gedigte is nog “onder konstruksie” en hierdie polemiek is uiters relevant.
    Leon, ek gaan nie akkoord met jou nie.
    Oor die “complicated stupid moves”. Dit is darem ‘n land met groot digters en kritiese intellektuele.
    Nou wat die films betref (wat hierdie polemiek dalk aangestig het):
    Ek kyk nou die afgelope tyd films oor hierdie oorlog: van “Hair” tot “Platoon”; “JFK” tot “Born on the 4 of July”. Elke film lewer kommentaar op ‘n eiesoortige wyse en eis van die kyker om die kodes van die film te volg.
    Stone gee nie finale antwoorde in “JFK” nie; hy problematiseer soos DM Thomas doen in sy roman “Flying into love” (1992). Kunswerke hoef nie disclaimers te dra nie – gaan lees gerus weer “Op soek na Generaal Mannetjies Mentz” (1998) en kyk hoe Christoffel Coetzee ‘n ander oorlog problematiseer. Ek kan nou nog die ontstoke reaksies op die Wraakkomando oproep…

  30. Leon Retief :

    Joan Ek is dit met jou eens oor Amerikaanse digters en denkers maar Nasser het verwys na Amerikaanse buitelandse beleid en optredes oor die wereld heen. Ek het ‘n vermoede hy was dalk reg. Wat ‘n land se intellektuele sê en wat daai land se regering doen is meestal twee verskillende dinge. Ek het nie Stone se film gesien nie so kan nie met gesag praat nie, wat ek wel weet is dat hy baie mense die verkeerde indruk oor die moord gegee het. Dalk is dit hul eie skuld maar hy het geweet dat dit deur Jan Alleman gesien gaan word.

  31. Leon Retief :

    Naskrif: die laaste “ordentlike” ding wat die VSA mbt buitelandse beleid gedoen het waaraan ek kan dink was die Marshall plan, maar ek is oop vir korreksie.

  32. Joan Hambidge :

    Stone problematiseer hoe die VSA reageer op JFK se dood. Kyk maar net hoe daar steeds films hieroor verskyn. Die skoot deur die keel (van voor) wat by die kop uitgaan en Jackie wat vervaard spring om die skedel op te tel.
    Meer nog: hierdie filmmaker gaan in op die onbewuste van die Amerikaanse denkwyse.
    Hy gee ‘n verkeerde indruk nie. Hy ondersoek verskillende moontlikhede.
    Ek weet Nasser verwys na die buitelandse beleid, net soos filmmakers hierdie beleid dekonstrueer.

  33. Joan Hambidge :
  34. Leon Retief :

    Jackie Kennedy se poging om op die agterkant van die kar te klim word dikwels voorgestel asof sy ‘n groot deel van Kennedy se skedel wou optel. In werklikheid het slegs kleiner stukkies been en brein oral gespat – meer daaroor later.
    Ene dr. Crenshaw wat in die ER was waar gepoog is om Kennedy se lewe te red het gesê dat die skoot in die nek van voor gekom en toe deur die skedel uit is. In werklikheid is daar geen aanduiding van enige skoot van voor nie en sy aansprake moet met groot sakke sout opgeneem word om redes waaroor ek nie nou gaan uitbrei nie maar ek kan as iemand belang stel. Kennedy se outopsie mbt tot die skedelwond toon ‘n duidelike ingangswond in die agterkop met “bevelling” van die binneste oppervlak van die skedelbeen soos mens sou verwag wanneer die koeël deur die agterkop ‘n ingangswond was en soos in die outopsieverslag beskryf word. Mens kan ‘n skets, gedoen vanaf ‘n foto wat tydens die outopsie geneem is, hier sien:
    http://en.wikipedia.org/wiki/File:JFK_posterior_head_wound.jpg
    Dit is nie ‘n uitgangswond nie.
    Hier is wat die koeël aan Kennedy se skedel gedoen het:
    http://en.wikipedia.org/wiki/File:JFK_skull_trajectory.jpg
    Daar is geen manier waarop ‘n koeël wat van voor af deur die keel ingaan die kranium so kan laat “ontplof” en dan ook nog so ‘n klein gaatjie maak soos onder die groot skedeldefek gesien word nie. Been- en breinfragmente agter op die kar word dikwels gebruik as “bewys” dat daar ‘n skoot van voor gekom het. Kleiner fragmente been en brein het inderdaad agter op die kar beland maar ook elders, insluitende binne die kar. Hier is ‘n skets wat gemaak is deur ‘n polisieman wat dit aantoon:
    http://mcadams.posc.mu.edu/limoexam.jpg
    Hier is Kennedy se outopsieverslag vir die wat belang stel. Skenk veral aandag aan die paragraaf wat as volg begin: The fatal missile entered the skull above and to the right of the
    external occipital protuberance.
    http://www.jfklancer.com/autopsyrpt.html
    Drie dinge hier: 1) Tydens ‘n outopsie word die nek gewoonlik gedissekteer. Die verslag maak geen spesifieke melding daarvan nie maar mens sou aanneem dat dit gedoen is. In daardie geval, as die koeël wat voor in die keel ingegaan is en deur nekwerwels na bo gedeflekteer is dan sou enige skade aan die nekwerwels waargeneem en genoteer word. 2) X-foto’s van die skedel toon klein metaalfragmente wat van die koeël afkomstig was. As die koeël inderdaad deur ‘n nekwerwel na bo gedeflekteer is sou mens ook elders, soos in die nek, sulke fragmente verwag. Dit is afwesig. Voorts, as die koeël dan nou opwaarts gedeflekteer is sou dit beslis ‘n sekere hoeveelheid weefselskade veroorsaak het op pad boontoe met gevolglike edeem en bloeding. Kennedy se mondholte word slegs beskryf as dat die mukose bleek is. 3) As die skedelwond die gevolg was van ‘n koeël wat die keel binnegaan en dan uitgaan deur die skedel, wat het geword van die koeël wat agter in Kennedy se rug ingegaan het? Dit is nie in sy liggaam gevind nie en daar is dan geen uitgangswond daarvoor nie.

    Toe ek destyds begin kyk het na samesweringsteorieë oor die moord het ek nie veel aandag geskenk aan Stone se film nie maar sedert ek onlangs bietjie meer oor hom en sy film se storielyn uitgevind het wil dit my voorkom asof hy self aan een of ander sameswering mag glo,(let wel: mag glo) veral na aanleiding van uitsprake wat hy by een of ander byeenkoms in November 2012 gemaak het. In daardie geval het hy natuurlik die volste reg om sy siening van gebeure aan te bied en mens kan sekerlik argumenteer dat hy die VSA se reaksie op die moord problematiseer. Ek wonder net of dit geregverdig is om dit op daardie manier aan te bied, gesien hoeveel blatant feitelike verdraaings daar is sy film is, sonder enige aanduiding waarvan ek weet dat die teenoorgestelde van dit wat hy aanbied dalk waar mag wees. Dalk gee hierdie skakel ‘n interessante perspektief op die situasie:
    http://mcadams.posc.mu.edu/robins.htm

  35. Leon Retief :

    Joan, weer ek: ek hou van die “eendagvlogies en tsetsevliegies! Ons is Johan sekerlik veel dank verskuldig vir sy spuitkannetjie.

  36. Joan Hambidge :

    Leon, dankie vir al die skakels. Gaan dit beslis alles lees. Ek was net besig met ‘n referaat oor “Ballade van die grysland” (DJO) wat my na Kubrick geneem het vir die USAN-kongres wat more op Stellenbosch begin.
    Pas gekyk na “The killing fields” (Kambodja)- eweneens puik film. In die postmodernisme (of dan post-postmodernisme) is disclaimers nie altyd ‘n gegewe nie. Hierom het ek jou verwys na DM Thomas “Flying into love”. Ook “The white hotel” problematiseer feite oor Freud en Jung.