Breyten Breytenbach. Klein Reis (ex Africa, ex nihil…)

  

Klein Reis (ex Africa, ex nihil)

 

                                                           Over the island

                                                          A wind of voices

                                                     Vibrant with the deep

                                                     Song of human dignity

                                                       Murmurs messages

                                                 Of peace and responsibility

                                         And that movement becomes a space

                                                         For freedom to:

                                                          Imagine Africa

 

Dis die teks van die etiket op ons eie rooiwyn. Jare gelede het ons ʼn prysenswaardige besending goeie en diep wyn uit die Robertson distrik geskenk gekry danksy die bemiddeling van ʼn dame met visie. Of medelye? Ons het self die etiket ontwerp. Die bottels is in vraghouers hiernatoe verskeep. Abdou Salam het weke lank moes onderhandel met die doeane om dit die land in te kry. (Abdou Salam, so pas terug van ʼn pelgrimsreis na Mekka, moet na regte nou El Hadj genoem word.) Die klompie bottels wat nog oorskiet is byna almal suur of muf. Sterrestelsels wentel, alles kom tot ʼn einde om in ander gedaantes of gedagtes elders op te vlam.

Die uitsonderlike voorreg was dat so min mense in hierdie Moslem-omgewing daarvan gedrink het dat verlooptes soos Jek en ʼn paar heidene vir jare kon geniet van die wonderlike vrug van Rooiwal se wingerd. Diep laat-aand drome is bekonkel en groot verskille finaal die nek in geslaan rondom die houttafel in die binnehof van die Residensie terwyl bokke iewers in die nag hulle droewe opsommings van die lewe kreunend blêr en die sterre oorhoofs soos gekristalliseerde frangipaniblomme bewe in die wind. Die bokke weet slagting is hulle voorland.  

*

Ons moenie (net) treurig wees nie. Dis goed om soms melancholies te wees – of dan, dis goed om te weet dat dit deel is van die siklusse wat ons ervaar. Nie net op intieme vlak nie maar ook die groter wêreld daar buite. Ons sjôr almal op verskillende wyses deur die driwwe waar sterre versuip. Dis sekerlik makliker om uiting te gee aan mens se ontsteltenis of aan die triestigheid van drome en ideale wat bitter geword het (ek praat nou bv. van die Suid-Afrikaanse ontnugtering) as om die vreugdes van die tekstuur van lewe te artikuleer of om, hoe krities dan ook, vas te hou aan die onderliggende droom, die ‘dieper reg’ se behoefte/begeerte vir andersmaak en andersword wat tog die oorspronklike voedingsaar van mens se betrokkenheid by ‘n historiese proses is. Maar dis net so belangrik om te wéét en te ervaar dat ons seker altyd met hierdie tweespalt sal saamlewe – die dialektiek wat inhou dat dit wat goed is, die droom van bevryding en vooruitgang vir almal, ook die korrupsie en die verspilling meebring – maar dan in ‘n groter siklus van beweging waar dit belangrik is om te onthou dat mens nie net “aanhou beweeg om gedig te maak nie” maar dat jy ‘n agent vir verandering is en dat dit die moeite werd is. 

Twee stukkies vertaal uit ‘n opstel van Pierre Zaoui – in beide gevalle verwys hy na Spinoza se denke : “Die enigste ware vreugde is in ons aanwesigheid in die wêreld en in die vasgryp van alles wat nog lewe, wat kragtig is en selfs in die hart van ongelukkigheid oorlewe.” En: “Mens moet ook leer (of aanleer) om partykeer treurig te wees, al is dit slegs as beskerming (of teenwig) teen die buitensporige of narkotiese vreugdes wat maar al te dikwels lei na ‘n nog groter triestigheid. Want daar is eweveel onmag in die persoon wat nie weet hoe om te treur nie as in dié wat hom (of haar) nie kan verheug nie.”  

Dis in daardie konteks van aanvaarding en van sin maak van die sinnelose dat ons die ritmes van saamwees en van verskeurdheid moet leer verstaan of akkommodeer. Dis iets heeltemal anders om pessimisties of swartgallig of selfs fatalisties te wees! Jek weet byvoorbeeld dat daar sedert “la chute” ʼn skerper aanvoeling en gevoeligheid is vir beide die intensiteit van ekstase en die dieptes van ellende, vir die pieke en klowe en veral vir die groot wisselinge tussen die twee. Dis vermoeiend maar nie fataal nie. Jek weet ook dat daar dimensies ontsluit is waarvan ons voorheen nie bewus was nie, nie so nie : hierdie intieme vertroue beide liggaamlik en geestelik waar vertroudheid lei na ‘n groter begeerte om verder en dieper te gaan. Jek weet nie wat dit bring of mag beteken nie maar wil graag glo dat dit ook ‘n verryking is.

Natuurlik verbeel ons mekaar en in dié sin beantwoord die verbeelding dalk aan ‘n behoefte of ‘n verlies of iets wat mens mis – en tog glo ek dis meer as net verbeelding of alleen die voltooiing van iets binne mens. Want dis ook waar en dit het ook ‘n eie geskiedenis en dit kom van ver af… Die metafore van ʼn 1000 jaar waarmee ons die pad probeer oopmaak wil eintlik net sê dat daar aansluiting is, ‘n komplementering en ‘n verder-beweeg-verby-grense binne ‘n groter harmonie wat nooit ‘normaal’ sal wees nie en miskien nie die wette van swaartekrag gehoorsaam nie. En dit het nie ‘n afsnypunt nie. Of nié voordat die bottel leeg is en daar klonkend oorgegaan word in drome van wind en donker reise nie. Dit is hoekom ons nie (net) verdrietig mag wees nie.

(Jy/ek ­­= jek ; my/jou = mou ; myne/joune=moune) 

*

Eintlik is dit wat ‘lewe’ genoem word maar net ʼn klein reis. Dit, die reis, is  die storie van mou lewe. Soms verwar ek dit met die landskappe, die medereisigers wat ek langs die pad ontmoet, die wind wat kuiwe maak in die wolke – asof dit moune sou wees, en hierdie omgewing dan die land-in van die oopkoms waar alle verbeeldsels oorly.

Wat is woord en wat is waarheid ? Is Jek dan nog steeds so gekontamineer deur onkunde dat die vraag sin maak ? (Wat is oord en wat aarheid ?) Maar mens luister nie. Ou mense is ongehorig ! As ek dit wat deur die flardes van ʼn « Klein reis » gedek word saamlees is dit die lappiesjas van ʼn laat lewe. Dis nie moontlik om ʼn lewe te skryf nie – die skrywe is dan juis die pad. Skrywe is ʼn stomp koorsigheid, ʼn reislus gebore uit ʼn stel aanduidings of ‘afsprake’. Nog skrywe nog lewe kan herwin word. Solank jy daarmee besig is verander dit… This is not an autobiography

 

Jek weet maar al te goed dat die mate, die afmetings en dalk selfs die metrum van ons medeliefde bepaal word deur hoe ons omsien na ander, na hulle wat ons aandag en simpatieke meelewe verdien, daarop geregtig is (al word daardie aanspraak weggesteek of weg beredeneer om partykeer op te  duik as irritasie of as ʼn misverstand), sy dit kontraktueel of uit vrywillige en innige vorige bande, of omdat hulle eksistensieel deel van ons lewe is, die bindstof van gedeelde herinneringe, of afhanklik van ons, of bloedfamilie, of omdat ons verantwoordelik is (teenoor watter moraliteit?) vir die morele of etiese perspektiewe wat ons nog moet ontwikkel aan die hand van mens-simbole (ʼn Gandhi, ʼn Madiba) wat vir ons staangemaak is  om as voorbeelde na te streef. Of sommer net omdat ons lief vir hulle is.

Dit is tog, buiten daardie obsessie met die eie grafiek, wat ruimte en diepte en ʼn weerklank  gee aan die moontlikheid van deelneming.

Op die foto hierbo staan ʼn groepie mededelers van die destydse Dakar beraad (Julie 1987) wat direk gelei het tot die totstandkoming van die Gorée Instituut. Aan Van Zyl Slabbert se regterkant staan Penuel Maduna – wat sou van hom word? – en dan Archie (kom ons noem hom maar so) die ANC verteenwoordiger in Dakar.  Later sou dit blyk dat hy ook ʼn informant vir die Boere se Spioenasiediens was; ek vermoed hy lê roemloos iewers in ʼn sloot toegegooi. Langs Jek staan Benoît Ngom – hy was ons gladdetong pleitbesorger by die Senegalese owerhede – in gesprek met ʼn minister uit President Diouf se kantoor. En heel op die ander punt staan N. A. Liebenberg – een van die weinige kere, sover ek weet, wat hy met ʼn kamera-oog gesien is. Ons wag vir die wind.  

*

Wat bedoel Jek met “memory of wind” behalwe nou dat dit ʼn evokatiewe frase is? Wie was die mense wat hier die realiteit van vroeër tye belewe het? Hoe sou ek ooit weet? Hoe kan dit deur enigiemand voorgestel word? Is die verlede nie ons storie nie? Wat het die mense agtergelaat – want hulle staan altyd op vertrek? Wat is die substansie van wind? Beweging? Maar wat bly oor van beweging? Die stof in die bome? Hoe onderhandel mense met hulle verlede? Doen hulle dit regtig? Hoekom? Waarom sou hulle? Wat gebeur in interaksie? Is enigiets – houding, samestelling, produk – ooit nuut? Hoe? Wat is mutasie? Hoe gaan dinge verlore? Gaan hulle ooit werklik verlore? Van watter nut is geheue?

Saam-mekaar-andersmaak, ‘together-each-other-different-make’ – hoe verskil dit van transformasie? Hoekom moet daar getransformeer word? (En ek het nie die mislikheid waarop die term in Kakland ingemond word in gedagte nie.) Waarom en hoé praat-praat (thinktalk) ons oor hierdie verskynsels? Wat laat ons agter behalwe leë bottels en die gesuis van wind in die nag wanneer die voëls nog slaap?

Mense het gekom en gegaan. Selfs in Jek se tyd. Sommiges na hulle vlak grafte op die vasteland. Ek sien hulle gesigte nog duidelik, hoe hulle loop, die geritsel van hulle lag. Jek ook het gekom om nou te gaan. Somtyds gaan hy terug en ontdek die sluier voetstappe. Vir mou is dit ʼn skryfloop deur verskeie boeke net soos die wind verskuif en verskuifel is in die sand. Jek loop terug oor daardie bladsye en probeer die voeteval van geheue opdiep om die tekens uit te werk. Dit wil voorkom dat skrywe die oombliklike geheue-neerslag van bewussyn sou wees wat vervaag tot die palimpses van onthou se uitveegsel.

 

Natuurlik is dit méér as slegs die aanteken van spore waar iets vir die brewwe moment van passasie opgeflikker het en toe gesnuit is, méér as net die brandmerke van die verbygaande vlam. Om te skrywe is ook ʼn beweging wat nuwe grense daarstel. Oorkant daardie grense van ‘definisies’ en ‘uiting’ is ook ʼn wysiging van wat nié aanwesig is of gesê word nie. Die ongeuite word gewysig en miskien selfs gevorm deur dit wat wel verklaring kry. Dis hoe voortdurende verandering in werking gestel word. Herinnering is dus ʼn sedimentering, die nasaksel van bewuswees wat vorm teëkom. Dis eiestandig, onderworpe aan verslyting so soos beendere vergaan tot stof.  Maar dit is eweneens die deurlooplyn se in-gedagte-hou, ʼn aandenking van die feit dat die leeg (of die vol) daar buite anderkant geheue lewe.

So is die skryfwees ʼn proses (soos om op die eiland te arriveer) met ʼn dagbreek wanneer vraatsug na die in-beslag-neem (eiemaak) van ʼn nuwe territorium ontsluier word, die ure van die dag wat oënskynlik ingeslote beweging is, en die afskeid neem. Daar is altyd die droewige besef dat jy nie kon vasmaak wat jy wou vermag nie, dat dit alles te gou neusie verby is, dat ek te veel leë woorde opgeroep en laat aantree het net om dooie ruimte af te pen.

Geen doeltreffende uiting tensy dit wat geuiter word goed geïntegreer is nie. Geen effektiewe integrasie as daar nie veruiterliking is nie. Alhoewel, as jy jou gedagtes nie verder as die verwagte na die Anderkant kan neem nie, watter kans is daar dat jy enigiets anders kan maak?    

Die gedagte kom by mou op dat ek sou kon sê die skryfwerk, die herinnering aan wind, is ʼn eiland soos hierdie een. Dis marginaal, nie ver van die kus nie, nie verbind aan die vasteland nie behalwe onderlangs onder strome en die besoedelde seestraat waar allerlei visse en vaartuie die onsigbare deurgange kontroleer; dis ʼn dagsoom van hibridisering, daar’s geen ‘suiwerheid’ hier nie en weinig wat oorgebly het van die ‘oorspronklike’ bewoners; mense kom en gaan en al wat oorbly is die wind wat hul stemme gedra het.

Maar dit kan ook die plek wees waar basters gebore word en ʼn nuwe taal ontstaan. Dit kan nie ʼn plek van wette wees nie. Jek mag hier tuishoort maar dit kan nooit aan hom behoort nie. “Le propre de vivre sur une île est de partir…”

 

Na gelang die woorde vorm aanneem in die skryfdaad, uit (die) mou kom as wemelende versamelplek wat bewe van flardes waarop alles geskryf staan en waarvan ek net geweet het as skuur en skuring, as towergrot en skoelapperdroom, begin sien ek wat Jek is en wat hy doen of dink. Die uiting word die bewussyn. Probleem is dat dit in woorde verstrengel raak.

Jy skryf die niet. Die skrywe kom voort uit die niet. Jek skryf: niet. Augustinus het verwys na hierdie wordende, om die temporaliteit van die leë te vul, as “extensio animi” – oftewel, hoe om die tyd in ritme te verwyl.

 

            die reënwind, laat in die seisoen

            het vensterdeure laat klap

            en takkies uit die bome gepluk

 

            maar vanaand is die see rustig

            soos ʼn vrou wat diep en dikwels

            bemin is, en in die donker nog onthou

            van die mane in haar skoot

 

*

Robert Huchard, skrywer van “Autour de l’Afrique”, het Gorée in 1873 besoek. Wat my bybly van sy mooi beskrywing is hoe dit eindig, waarskynlik een laat middag, wanneer hulle wegvaar. Die eiland sink weg in die see, “’n vreemde rots wat op onverklaarbare wyse bo die getye uitsteek.” Hy kyk na die kus van die vasteland waarheen hulle op pad is – “somber, sonder kranse, sonder onderbreking, gelyk en dood soos die onmeetbare Sahara daaragter, tot niet gemaak, stil, en dit ook onder die groot verorberende son. En terwyl ons bark verder seil onthou ek soos ʼn droom: ʼn hospitaal, ʼn fort, ʼn kaserne – al wat oorgebly het op Gorée van ʼn eens welvarende verlede, ou sterwende dorp wat nog net die plek is waar doodgemaak word, waarheen jy kom om te sterwe.”

Ek weet nie so mooi van doodmaak nie, behalwe die katte wanneer daar te veel van hulle is (en dit moet ʼn nie-Moslem wees wat dit doen), en die gereëlde en rituele massaslagting van skape. “Waarheen jy kom om te sterwe…” is dalk ʼn ander storie. 

Louis d’Estampes (“La France au Pays noir”- 1892) haal ʼn bekende spreekwoord aan. “Wanneer die baobab haar blare verloor (die droë seisoen) sterf die swartes; wanneer die koraalbome bot (die reënseisoen) sterf die wittes.” 

 

*                      

ʼn Munisipale regulasie het in 1865 nog bepaal dat diere op straat verbied word. Rondloperdiere sal geskut en verkoop word. Inwoners word beveel om soggens voor agtuur die helfte van die straat voor hulle wonings skoon te vee. Na agt saans mag griots nie meer hulle dromme slaan nie. Ook mag daar nie hande geklap en in groepe op straat geloop en gesing word nie en « die blindes mag nie in hulle huise of binneplase of op straat skree nie. »

 

                    wanneer dit lig word

                    is die eiland nog stil :

                    die stil buitelyne en stylfigure

                    van mense wat buite slaap :

                    vodde versaakte vleis

                    gewikkel in veelkleurige lappe :

                    een vrou sit regop

en prewel met gebedekrale

die name van god :

die son wat ʼn vuurglas

gaan maak van die see

sal skerfmaan en sterre wegvee

onder voue van die hemeldoek :

die lettergrepe van opsê en sterwe :

drie witterige honde soek baas

op die strand :

woue wiel

 

*

geitjies, akkedisse, geelgesigvoëltjies, valke, vlieë, vrot reuke van maanontbinding, die eenbeendanser maak klippies bymekaar as wapens in sy toring om die passies van woorde uit te spel in die na-aap van poësie.

*

In die nag besoek Jek sy vriend V in Anderplek. Wat hom opval is dat alles hier oorwegend in bloue en perse getint is en dat die plek ʼn gevoel van ruimte en gerief gee. Tot sy verbasing sien hy dat sy vriend nog net so stewig in die vlees is as altyd. Hulle het ʼn lang gesprek en daar is geen spanning nie. Of hy enigiets mis ? Volg hy wat in die wêreld aangaan ?

V antwoord rustig, op sy gemak, en is vol grappies. Dis duidelik dat hy hom tuis voel hier in Anderplek. Hulle gaan speel pluimbal buite op die gras en dis goed om te sien hoe ballet-agtig V beweeg, hoe rats en lig hy op sy voete is ondanks die groot lyf. Baie besoekers het klaarblyklik hier kom dag sê (nag sê ?) vir hulle afgestorwe naasbestaandes en geliefdes en boesembuddies,  want toe die klok lui om die einde van die kuiertyd aan te dui word die besoekers in ʼn konvooi vervoer deur die blou en pers omgewing terug Wêreld toe… Die Wêreld is oënskynlik meer gekontrasteer, leliker, daar is ʼn daagliksheid van lewe met beskilderde boomskuite en duiwe en baasspelerige kraaie (in Anderplek was daar ʼn wind van stemme, selfs tydens die puk-puk van die pluimbalwedstryd kon die dynserige melodieë gehoor word, maar opmerklik geen voëls nie) – en tog is dit asof die dag-werklikheid slegs ʼn vel oor die chaos is, broos en verflenterd gespan oor die byna sigbare beendere net onder die oppervlakte van sien, die hoekighede en die vrot kolle. Die basaltrotsmure is swart van vuur, vlamme dans oor die klippe en rook draal bo die see. Jek kyk na die dartelende en swiepende swaeltjies bo die Poort van Terugkeer wat ʼn groepie kunstenaars van Réunion, afstammelinge van slawe, laas jaar hier kom oprig het en met sang en wierook en borde seremoniële offerkos ingewy het. Dan gaan dryf hy op sy rug in die baai en kyk na die onpeilbare en bodemlose blou hemel. Daar is ʼn paar strepe wit wolke asof van rook. Sou Anderplek anderkant die blou peilloosheid wees ? En as V nou die veerbal te hard sou slaan en dit na benede stort in die see – sou dit aangesien word vir ʼn dooie voëltjie of ʼn vlek papier wat op die water dryf ?.. By die huis spoel ek die sand van my voete, vertel vir Vieux dat ek op reis was in die nag en vir V gesien het (hy was die oprigter van die Instituut – ons het hom Papa genoem) en dat dit goed met hom gaan. Vieux is bly.

 

Ek is agter met my korrespondensie – en sommer ‘n klomp ander goed ook. Dit bly drukkend warm en bedompig op die eiland, tot so ‘n mate dat mens eintlik net enkele ure per dag kan werk, gewoonlik vroeg in die môre of dan laat in die nag indien mens nog wakker en vars genoeg is. Die plek het baie agteruit gegaan, dis vuiler en meer vervalle as ooit. Maar dis seker die lot van die wêreld want dit gaan oral slegter alhoewel nie altyd om dieselfde redes nie. En tog is ek bly om hier te wees. Partykeer dink ek Jek is heeltemal eilandmal (hier is ‘n paar malles op die eiland) – fatalisties, gelate, met min belangstelling in wat elders aangaan. En dan is dit weer nie so nie, is dit ‘genesend’ om op ander en dalk dieper wyses te herstel en dinge in perspektief te sien. Om anders te dink oor mens se eie werk. Om nuwe projekte te wil aanpak. Eintlik is dit lekker om terug te wees tussen my mense, gesprekke te hê, betrokke te raak by die doenighede – ook die Instituut s’n – en as ware op die rand van die wêreld te sit waar daar min sentimente is en lelik en mooi ewe intens ervaar word met weinig oordeel of selfs onderskeiding. Tussen die gruwelike en die verwaarlosing deur is daar momente van vervoering, ekstase selfs. Dit bly iets besonders om die lig silwer oor die see te sien daag, om buite te wees wanneer die buiteslapers (baie mense slaap buite in die stegies of op enige oop plek, miskien om te ontsnap aan die ergste hitte) nog skaars begin roer, en om dan heuwel op te loop.

Binnekort kom die omdraai. Die weer is ook traer, die wyn word min en die muskiete meer. Dan maar liewer terug Europa toe vir eers. Vanoggend is daar ʼn pluimbal op die houttafel in die binneplaas waar ek gewoonlik brekfis eet. Vieux, die opsigter wat tans aan diens is, sê hy het dit so daar gekry toe hy soos gewoonlik nog voor ligdag opstaan vir sy oggendgebed op die matjie. Watter kant lê Mekka ? Hy gaan daarna soos gewoonlik die plante afspuit.   

Geweld… Ons het so pas Saterdag klaar gemaak met ‘n tweedae-lange “Ronde tafel” simposium oor die mate waartoe die media (joernaliste) in Wes-Afrika die begrippe van vrede, menseregte en dergelike aanhelp – of dan juis die vure van geweld stook. Eintlik ‘n ontgogelende ervaring: om in die stomende hitte (die verkoeling in die saal kon eenvoudig nie bybly nie) tussen ‘n dertigtal mense te luister na relase, land op land, van afgryslikhede, geweld, marteling, doodslag. Werklik “verslae van die front.”

             

Jek moes die verrigtinge inlei en toe weer afsluit. Ek het gevoel ek kan werklik nie voldoen aan die verwagtinge nie. In Afrika is die neiging nog steeds om alles te mitifiseer – die persepsie geskep (die beeld en die woorde) word byna nooit gedekonstrueer nie. Hulle sien my dus as ‘n soort gesaghebbende wat gepaai moet word en dit is omdat SA ‘n mitiese wêreld is vir die meeste mense op die kontinent – terwyl dit eintlik veel meer kru en teleurstellend is as byna enige van die Wes-Afrika state. Maar woorde tel, gebare tel, rituele tel. Mens voel die tasbare (en vasvangende) aanwesigheid van woorde. Eintlik kan mens byna enigiets sê solank die ritme en die deling daar is. Ieder geval, ek probeer daaroor skryf, weet nie of dit moontlik gaan wees nie.

Desperate mense probeer vlug uit die ellende. Hulle sal enigiets doen, al is die kanse op verdrink of omkom van die honger op pad of moord ook hoe ongenadiglik hoog, om in die hemel te kom. Dit help nie jy verduidelik dat die hemel ʼn interneringskamp op Lampedusa is (hulle weet dit) of dat dié wat lewend deurkom tweedeklas nie-burgers in Europa is nie. Skaduhonde. Hulle is die bevolking van die Middelwêreld. Hulle is ondergrondse nomade.

Ek wens ek kon vir jou sê ek weet hoe hierdie dinge werk – die angs, die aanvaarding, die byna klewerige weerstand wat verhoed dat mense afstand kan neem, die verskriklike kontradiksie (en dis ‘n verskrikking) dat die menselewe tegelyk die opperwaarde is en as van geen belang geag word nie. Dit waartoe ons in staat is, die dun lagie van wete (van self of van die ander)…  Al hoe meer dink ek gedigte is eintlik maar net intieme korrespondensie, berigte of briewe aan enkelinge gerig, en dat dit so gelees en ‘verstaan’ word. Eintlik is dit ook die enigste manier om die ander, die jek, te leer ken. Of deur die kors te breek. Terwyl ‘n narratief of ‘n verhaal tog meer gemeenskaplik is en ʼn huid oor die chaos span.

 

 

die Coumba Castel kom laai al om die uur

bokke met klokke en dik stemme af –

oor drie dae is die massa-offering

van diere, dié wat in die plek

van die eersgeborenes geslag word

veertig dae na die einde

van ʼn maand se vas –

die bloed sal nog warm wegsypel

in slootjies in die sand –

maar intussen hang hulle peesters

lank en pienk en viriel uit die harigheid

tussen die bene

 

vroegoggend met die eerste oorvaart

verskeep die Coumba Castel

die toegelakende lyke van hulle

wat in die nag gesterf het

na die vasteland waar die laasgestorwenes

in vlak grafte weggelê verword

om vir ewig te vas

 

intussen van land na die eiland se kaai

en terug wanneer die dag in lig baai

bring die Coumba Castel jong meisies

met donker borste en trosse ingerygde krale

waaroor eindeloos gekibbel word

om die ure om te kry

 

  

*

Haar naam is Fatou. Sy is elf jaar oud, maar Jek glo dit nie. Sy is dan so klein, reik skaars tot aan sy heup! Sy dra ʼn verslete rokkie en plastieksandaaltjies. Haar hare is kroes en rooierig, so asof sy aan ondervoeding lei. Haar tandjies staan so effens uit. Haar slim ogies trek op skrefies wanneer sy glimlag. Toe hy weer kyk was sy daar by hom hier agter die golfbreker waar hy kom swem in die skadu van die gevangenismuur. Gewoonlik is hier byna niemand nie – die strand is te klipperig en die water onstuimig – net soms ʼn paar jongelinge met hulle draagbare konfoor gestook met ʼn stokkiesvuur waarop ʼn treksel kruisementtee prut. Meeste mense swem in die beskutte en vlakker baaitjie waar die pirogues uitgesleep word, soms met ʼn sparteling silwer visse in die bodem, en waar allerlei gemors op die strand uitspoel. Sy sal tog nie haar krale hier kan verkwansel nie ? In ieder geval, toeriste is skaars vanjaar. Sy maak ʼn halfhartige poging om hom om te praat om ʼn halssnoer te koop, sy sê haar ouma maak dit en dan probeer sy dit verkoop. Dan bly sit sy knoes langs hom en kyk uit oor die glimmende golwe. Hulle het min om vir mekaar te sê.

Die volgende dag is sy weer daar. Sy groet hom skamerig, kompleet asof hulle ʼn afspraak sou hê. Kom sit langs hom in die sand. Vandag is sy meer spraaksaam en nuuskierig. Sy beweer sy kan swem tot aan die punt van die hawehoof. Ek glo haar : die eilandkinders is soos klein dolfyne in die water, duik vir die munte wat passasiers van die Coumba Castel soms na hulle gooi. Sy wil weet of ek getroud is en waar my vrou dan is. Later streel sy byna liefkosend oor die haartjies op my voorarm. Wie het die kraalstringe om my nek gemaak ? Hierdie een is van my vrou, sê Jek. En die ander een is van my dogter. En die armband met die fyn kraaltjies wat Imagine Africa borduur ? Weer my vrou, sê Jek. Dis baie mooi, sê sy. As jou vrou meer wil maak sal ek dit vir haar verkoop. Wanneer Jek regmaak om te loop (want waaroor sal hy tog met so ʼn klein dogtertjie gesels ?) gee sy baie plegtig vir hom ʼn cadeau, ʼn geskenk – ʼn sleutelring van ʼn paar krale saamgeryg, en frons haar klein gesiggie ontsteld toe Jek haar daarvoor probeer betaal. 

*

Van die Chevalier de Boufflers – veelwywer, minnaar van faam, soetbekjakkals, amuseur de salons, libertyn, goewerneur van Gorée (tot Voltaire het sy gevatheid waardeer) – is gesê dat sy lewensfilosofie saamgevat kon word in : « Indien dit u welgeval om bemin te word, wie sou dit beter doen as ek, want ek leef net vir u, en om dit so te stel, danksy u ? »

Boufflers word verstrik in die Revolusie. Bonaparte, in ʼn oomblik van grootheid van siel, sorg daarvoor dat Boufflers se naam geskrap word van die lys van uitgewekenes wat verbied was om terug te kom. « Laat hom terugkeer ; hy sal vir ons liedjies skryf. » Maar die man wat weer la patrie se strand betree is nie meer die vleier-verleier van weleer nie. Hy is bedroef, stug, in homself gekeer, moeilik. Die eens briljante ridder sou nie weer madrigale slyp nie. Die skip wat hom teruggebring het, die 20ste November 1787, se naam was, ironies, le Rossignol.  

*

In Februarie van daardie einste jaar het hy nog aan Madame de Sabran, die geliefde vir wie hy ʼn bruidskat in Afrika probeer bymekaarmaak het, geskryf dat hy ʼn Negerinnetjie van 2 of 3 jaar oud gekoop het as geskenk (cadeau) vir Madame la Duchesse d’Orléans. « Sy is mooi, nie soos die dag nie maar die nag ; haar oë is sterretjies, en sy is so lief en so soet ek wil huil wanneer ek dink dat die kind soos ʼn skapie aan my verkoop is. As jy haar sou sien by die Palais-Royal, praat asseblief met haar in haar taal en soen haar met die gedagte dat ek haar ook gesoen het en dat haar gesiggie daarom die ontmoetingspunt van ons lippe is. » En om die epistel mee af te sluit : «  Ek gaan nou lê en probeer slaap met jou in my gedagtes, soos kinders soms maak wanneer hulle met ʼn lekker in die kies insluimer. » 

*

bruid in die water met swaeltjies

 

wanneer dit lig word

dryf ek op my rug in die see

tussen opdrifsels plastiek en papier

al die ou gedagtes

 

aan die een kant het die maan gaan lê

in die gevlekte lakens van ʼn sterwende nag –  

ver oorkant ʼn ander land

                                     van woude en woestyne

gaan die son opstaan uit wolke

                                    soos komberse oor die see

al die ou gedagtes

 

bo draai swaeltjies die tydwiel se ratte –  

eers net twee want so was die teken

                                    van paring en verbintenis

en dan ʼn dartelende en uitrygende swerm

vliegwieletjies

soos gate in die huweliksrok

                                    motte se ou-onrus gedagtes vertel

 

hierdie rots gaan swart gloei –

die stank van bokbloed weggesyg in die sand

sal mettertyd uitspel

in sillabes vlieë van die eindelose taal

waar die begrawe derms vervel –  

en die bruid se hemelruim word ʼn slaapvertrek

waar die woorde van die moskeeroeper

al die ou gedagtes  bring en laat kring

tot bid in die gebede bed

  

*

Ons lewe na ʼn grens. Miskien om minder pyn te hê, of beter te kan sien, of minder in die pad te wees of langer te mag lewe. Of om te reis. Asof die reis, omdat alles om jou afspeel, sou bewys jy bestaan en ʼn substansie het. Sonder die reisiger immers geen reis nie. Sonder waarnemer geen beweging nie. Die skynbaar eindelose en einderlose lig van wolke oor ʼn landskap.

Jek besef opeens dat hy die afgelope vier-en-twintig uur onophoudelik gereis het. Altyd in byna intieme nabyheid van ander. Hy sien en hy lees hulle houdings, die plooi van hulle lippe wanneer hulle slaap. Eers op die boot van die eiland na die hawe, die see was opstandig en ruig en donkerder sedert ʼn paar dae maar nog steeds lou op die vel wanneer jy gaan swem. Die Amerikaner aan boord met die jong Senegalees wat hom ‘help’ met Frans, volgens hom is die huise op die eiland voorbeelde van Franse argitektuur, dit laat hom aan New Orleans dink, hy is hier om die plaaslike manier van djembe’s speel te bestudeer, hy self slaan al sedert drie-en-vyftig jaar die tromme. Jek dink die man is gay. Samba en Hamidou wil albei Jek se koffer dra. Jek is die “grand frère”, die beskermheer van skoenpoetsers. Hulle kan nie lees of skryf nie al is Hamidou nou ook reeds getroud en al dra hulle donkerbrille. Hulle wil hê Jek moet hulle in ʼn groot tas wegsteek en saamneem paradys toe. Wat hulle daar gaan doen om te oorlewe? Skoene poets, versool, los hakke vasgom. 

Jek en sy seun, Seydou

Dan in die nag verder. Die stad en die paaie is vol motors en openbare voertuie, cars rapides soos verfrommelde visblikke vol mense, met Allah se name en Koraniese spreuke beskilder. Seydou praat, praat, praat. Die hoofweg lughawe toe se lamppale is gedoof. Dakar raak agter in armoede. In die donker met so baie rokende en stink voertuie wat rakelings by mekaar verbyskuur, wat mekaar verblind, en met markstalletjies tot reg aan die pad en mense wat oral uitpeul en luier of die straat oorsteek is dit moeilik om nie iemand raak te ry nie.

En dan die lughawe – warm, vogtig, oorstroom met mense. Jek staan sy aan sy met mense wie hy nooit weer gaan sien nie, hy skuifel vorentoe lyf aan lyf, hy sal deur die nag vlieg in die byna binnekamerse nabyheid van vreemdelinge.  Niks ruik so onaangenaam as ʼn oorryp menselyf nie. Jek weet altyd dat hy op ʼn vliegtuig vol Senegalese is wanneer die toilette verstop omdat die uitskot nie weggespoel word nie, wanneer die toilette se vloere nat is en die wasbakke klots vol seperige water.

Jek is ʼn rassis. Hy hou nie van witmense nie. Op die eiland al is hulle aanstootlik wanneer hulle koeisaam as toeriste deur die straatjies kom slof – slordig en onvanpas aangetrek, vet en nors en seer gebrand deur die son, die ongemaklike suur vrouens met hulle growwe kinders en die mans met bultende of pap pense. In teenstelling met die plaaslike Afrikane wat op en af loop nêrens heen met dringende doelgerigtheid en mekaar opvorder asof daar brand in die huis is, hoe lenig en slank die vrouens, selfs vet is mooi aan sulke lywe, almal gepruik of met verlengde haardosse, die swaai van die heupe, die rondinge van buik en swelsel van borste. En die trotse mans, selfs die mees miserabele is gespierd, elk geklee in ʼn kleurryke gewaad. Die fierheid is oppervlakkig. Elke handeling is ʼn transaksie. Daar kan nie ʼn kontak of ʼn transaksie wees wat nie berus op die poging om die ander te uitoorlê nie. Alle kultuureienskappe gewaan of eg sal knaend aangewend word – die aanspreeklikheid van familie te wees, die omsien na jongeres en die eerbied vir ouderdom, die onverbiddelikheid van deel en die byna heilige aanspraak op uitdeel, seks, verleiding, lis, humor, onderdanigheid, lieg (nagaanbare feite is nie ter sake nie), namaking, gemaakte gekrenktheid. En werklike gasvryheid, mededeelsaamheid, intelligensie. Hoe die pa’s hulle suigelinge se gesigte in die see was, met teerheid, asof hulle skapies is.

Ons lewe na ʼn grens. Die nag word dag en die dag word nag en Jek besef hy is oral, op land of op see, in die lug of in die stad of op reis deur ʼn land wat gedreineer word van lig, waar rook skeef trek en mis begin draal oor riviere, waar maanlig ʼn sipresboom gaan vul met ʼn substansie donkerder as ink of as skaduwees – dat hy byna oral ingelyf is tussen ander mense en byna geen woord met hulle wissel nie. Die gedagte kom by Jek op dat hy onsigbaar is. Miskien is hy dood. Jek dink dat hy baie vlak deur baie oë beweeg het, dat hy waarskynlik slegs ʼn flikkering van hulle ervaring van reis was.

 

Gorée – Oktober, November 2013

© Breyten Breytenbach.

 

 

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Breyten Breytenbach. Klein Reis (ex Africa, ex nihil…)”

  1. Gert :
  2. Marlise :

    ‘n Aangrypende reis! Dankie Breyten. Ek hou besonder baie van die gedigte hierin, veral ‘bruid in die water met swaeltjies’/

  3. Louis Jansen van Vuuren :

    Dankie vir ‘n meeslepende reisroete! Die gedig ‘bruid in die water met swaeltjies’ is vir my beeldskoon.

  4. Louis Esterhuizen :

    Breyten, watter oorweldigende stuk skryfwerk is hierdie nie! Die verpletterende dualiteit van belewenisse briljant verwoord. Veral jou slotsin(ne) het my geruk: “Die gedagte kom by Jek op dat hy onsigbaar is. Miskien is hy dood. Jek dink dat hy baie vlak deur baie oë beweeg het, dat hy waarskynlik slegs ʼn flikkering van hulle ervaring van reis was.”
    Onlangs het ‘n krieketkommentator gesê dat hy besonder dankbaar is dat hy as krieketliefhebber in die tyd van Jacquez Kallis kon leef … Ek weer is dankbaar om in die tye van jóú fluisteringe (ook nog) te mag beweeg en geraas maak.
    Dankie, dankie. dankie.

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie Marlise, dankie Louis, dankie Louis… Julle maak dat mens die riem onder die hart weer voel en die neus na die wind draai.

  6. Leon Retief :

    Ek het nou eers kans gehad om jou klein reis te lees. Dit roep om ‘n herlees, ‘n dag of wat se nadenke en dan weer lees. Aangrypend Breyten, baie dankie.

  7. Desmond :

    Ons slaap vanaand oor in Wildernis, op pad terug van Grahamstad af. Claire en Hania is al aan die slaap op die bed; en terwyl ek my gewone draaie gooi op die internet, kom ek af op hierdie lieflike stuk. Die foto’s is ook lieflik. Nou gaan ek koffie maak, buitentoe loop en kyk hoe die ligte van die huise weerkaats op die lagoon.

  8. Francis :

    Ek het ook nou hierdie reisverslag ontdek. Sal dit met aandag lees.

  9. Andries Bezuidenhout :

    “woorde tel, gebare tel, rituele tel”

  10. Waldemar Gouws :

    Panus leef, aan die brand, die ou lontwurm! Baie dankie vir hierdie teisterende beresenheidsdenkmaal.

  11. […] Volledige artikel: Versindaba […]

  12. Marel Grobler :

    Baie dankie, Breyten. Tussen al die gewoel het ek nou eers hierby uitgekom. Ek sien jy het dele van ons korrespondensie ingesluit. Dis ‘n wonderlike reiservaring wat so wyd kring en gemaklik aansluit by gedagtes uit Intimate Stranger. Die uittreksel oor Fatou het my in die besonder aangegryp. En die “Jek” ens. oorskry grense op ‘n nuwe manier!!