Resensie: Die rooi veer in Vasco se hoed (Rosa Smit)

Wat het ek misgevaar, verbygeseil?

(Rosa Smit: Die rooi veer in Vasco se hoed; Rosslyn-Pers, 2014; ISBN 978-0-9921978-9-6)

Resensent: Joan Hambidge

 

 

I

 

In sy uitgebreide studie oor die digkuns Mirakel en muse (Perskor, 1983) skryf Henning Snyman sinryk oor die betekenis van implikasie. Daardie stilswyende gevolgtrekking wat nie duidelik uitgedruk is nie of van iets ánders afgelei moet word. Nou is dit so dat die digkuns by uitstek werk met hierdie verskynsel al is daar nie so iets as een manier van ʼn gedig skryf nie. Snyman wys op hierdie verwikkelde konstruksies in sowel taal as denke en beklemtoon tereg dat die literêre konteks uiteindelik die implikasie voltooi.  Dit blyk ook verder dat referensie nie alleen genoeg is om hierdie verskynsel te verstaan nie en dat alleenlik gedeeltelik verklaar kan word deur konjunkte verbande te soek. Die omringende taalkonteks speel dan ook ʼn rol.

So gelees, en toegepas, sou die leser eweneens die tradisie waarbinne ʼn digter skryf, moet verdiskonteer soos pryse en kanonisering, die uitgewershuis, die aanbod van die bundel (voorkoms, bladsy-uitleg) en selfs die bemarking van die bundel. Ook kan een bundel nie die gang van die bedryf sommer verander nie, al is dit Tristia of Komas uit ʼn bamboesstok nie. Binne ʼn kanon is daar verskeie name en maniere-van-doen wat al stroomversnellings te weeg gebring het.

Rosa Smit het die Ingrid Jonker-prys ontvang wat ʼn bepaalde leesverwagting skep en van haar verse het al in bloemlesings verskyn soos andere Die braambos brand, Die mooiste liefdesgedigte en Afrikaans en ’n Honderd jaar later.

Die uitgewershuis is Rosslyn-Pers en die aanbod van die bundel dra die stempel van STN-drukkers in Pretoria.  Die vorige bundel het by Protea verskyn: Met die begeleiding van duiwe.

Die bundel beslaan 73 bladsye met ʼn kompas wat die verskillende afdelings markeer.

 

 

II 

In hierdie bundel gebruik die digter die gegewe van Vasco da Gama. ʼn Wonderlike gegewe vir die digter, omdat die Os Lusíadas, ʼn beroemde epos, aan die digter opgedra is.  Dit is dan die “objective correlative” – in Eliot se terme – vir die digter se eie belewenis van Da Gama se beroemde reise en die uiteindelike aankoms in Kalikut op 20 Mei 1498. Hierdie reise had natuurlik ʼn ekonomiese impak op die moederland en Da Gama is binne ons geskiedenis verikoniseer.

http://en.wikipedia.org/wiki/Vasco_da_Gama Besoek 11 Januarie 2014.

In Afrikaans het D.J. Opperman in Komas uit ʼn bamboesstok onder andere die reise van Marco Polo gesinkopeer met sy eie terugkeer uit die diepe koma en Antjie Krog het met Lady Anne die verhaal van Lady Anne Barnard as alter ego gebruik vir haar eie politieke stryd én die rol wat die digkuns in haar lewe speel. Beide digters het dus die epiese gang beheers om teen die “back drop” van die geskiedenis hul eie persoonlike lewens te kaats.

Beide digters is tegnies vaardig en behalwe vir die inspeel of terugspeel op die historiese gegewe, word elke gedig ʼn persoonlike en liriese bestendiging van die gegewe. (Verder terug in die tyd is daar Totius se Trekkerswee.)

Rosa Smit se bundel Die rooi veer in Vasco se hoed mis die digterlike dwingendheid van bogenoemde twee bundels.

Soos by Krog word die digterlike gesprek erken:

 

“Die digter sit op die dek, staan tussen jou arms en hou

die stuurrat vas, tuimel soms ongevraag jou nagmerries in

om met verskrikking uit te steier as jy seestrome

infoeter en baaie loshand bestorm, dat sy sweer

sy sal jou úit uit haar skryf maar dan enjam-

beer jy jou die volgende reël weer in.

Nou moet ek my genootskap met jou en jou togte

onderteken en erken dat ek hier is om te bly.”  (Verknoping, 17).

 

My resensie het ek geskryf met die PDF voorhande.

 

III

 

Kom ons begin by die eerste in die eerste afdeling wat die Vasco da Gama-gegewe aktiveer:

 

Noord en suid spoel weg

 

If we enlarge the tidal methaphor and see the mind as

an ocean lapping at a physical shore

–      L. Watson

 

Jy’t geweet, See

toe jy om die voet van die Kaap klots

dat Vasco tot by jou sal kom

om sy lyf hanswors te hou;

die rooi son soos ’n bal op te hop

en sy kop in jou wit kraag te steek!

Hy klim op sy skip soos ’n sirkusperd

en vat die toue lossies in sy hand.

Hy lê laag om jou hart te voel,

sy oë soek joune en jy swiep

jou nat sweep oor die dek.

 

Julle reis by mekaar in

in en uit en op en af,

noord en suid spoel

soos nat sand

en jy huil onder die masker van die maan

en voel hoe jy teen die boeg snik.

 

Julle land soms anderkant die ronde-oog-maan

en wag vir die skreeu van die albatros

tot waar ’n groot en groen golf voor julle rol

soos die arena se ring.

 

Julle ken mekaar:

skommel saam, dompel in drome weg, ruk op

en steek die ewenaar in die winter oor.

Hier kry julle mekaar weer:

hy druk sy vingers deur jou vel

en steek ’n ster aan jou lapel vas

en jy rol soos ’n kaart vir hom oop.

 

O See, jy sal hom mis as hy van jou weg loop

maar skiet jy ’n vis op uit jou skoot,

draai hy om en neig sy kop

soos ’n seil in die wind:

 

ek sien hoe ’n los brander strand toe krul,

hoe jy jou sagte woorde

van al julle reise

by sy voete lê.

 

So klink die programgedig dan in Rosa Smit se jongste bundel. Barokke oordaad is waarskynlik hoe ʼn mens hierdie bundel ten beste kan tipeer. Hierdie bundel is gepubliseer deur Ian Raper. Hierdie digter het verlede jaar Oorlopers gepubliseer by Cordis Trust. Bernard Odendaal het dit op RSG tipeer as verse vir die fynproewer.

 

IV

 

ʼn Paar voorbeelde van gesogte beelde en reëls wat tug kort sodat die leser moet besef waarheen ons op pad is:

 

En nou snags van die dek:

afgesplyte sterrelig op die woeste water.

Soek noord, die môrester,

die man te perd,

uitkamsels lig

en hoefstrale wat vonkend uit hom jaag!

 (Fernão Martins, 5).

 

Was my oë te diep in jou gesaai?

 

 

Orals waar ons laai

loer die mense deur biesieskerms

na de rooi veer in my hoed!

 

Dit moet sekerlik lees na DIE rooi veer in my hoed

 

Liewe mevrou Da Gama,

my vrou, my vrou,

die see sal vannag op sy pote

grom as die kusvure

wink en vergeet.

 

(ʼn Brief aan Mev Da Gama, 13)

 

 

Sou Eybers so gedig het, wonder ʼn mens?

 

 

Elisabeth skryf uit Amsterdam

 

Die sneeu stryk die landskap gelyk

en hou tóé soos ’n hand.

In die winter gly die paaie weg

soos stippellyne uit die stad.

 

Teen die somer weet ek

dat die kaatsing van die fyn son

weer deur my pen sal gly en dat swane

grys soos piouter op die water dryf.

 

Nou smelt die sneeu

lang pluime grond toe,

die koepel van die stad en polderlande by die see

en ek onthou ’n huis is iets wat teen ’n heuwel staan,

 

waar die son elke grou skaduweekol

versit tot troebel vensters

klaar soos kristal

van suiderlig deurstraal.

 

Van die witgroen binnelyn van ’n blaar

is dit ewe ver na die buiterand

en tyd stip halfpad

my bestek hier

en die jare in die ander land.

 

(49).

  

Marianne Faithfull se naam word verkeerd gespel.

http://en.wikipedia.org/wiki/Marianne_Faithfull (Besoek 6 Januarie 2014).

 

 

V

 

Die bundel opper ʼn genderproblematiek. Kyk onder andere na die volgende:

 

Aan jou, mooi pofbroekman, gee ek my dus oor.

By elke laaiplank klim ek saam met jou af, aan jou pols

gesnoer van skuimwit gewrigskant en jou vingers

bengel ’n dun kierie, jou oë oor die gesluierde

Arabiere en jou mond ’n geheim in jou baard.

Hoe lank voor ek jou jargon begryp?

Maar ek weet dat agter jou jekker se vergulde knope

jou hart soos ’n masseil swel in die koel

bries van jou bloed en ek spits

fyn agter jou asemhaling aan.  (Verknoping, 17).

 

By Krog, onder andere, vind die leser ʼn sterk intellektuele gesprek. “Mooi pofbroekman” is werklik embarasserend en familiêr.

En wanneer sy hom gemeensaam aanspreek as “Broeder” wonder die leser presies wat het hul uiteindelik gemeen?

Die opeenstapeling van te beelde word op die duur te veel sodat die goeie beeld sy impak verloor.

 

 

VI

 

In die tweede afdeling word die innerlike reis geaktiveer met ʼn aanhaling uit Rilke. Hier is momente van die ouer Rosa Smit. Minder woordryk, minder oordadigheid, maar steeds voel die leser die verse kort beheer en inkorting. Hier is die liriese digter aan die woord met liefdesverse, besoeke aan die Weskus, Imhambane, Angola, Venda,  o.a.  met belewenisse van fynbossie, vygie en skulp.

 

 

VII

 

Daar is wel onthoubare, gangbare verse in hierdie bundel.

 

Londen

 

In ’68 is Londen ’n los meisie

en Marian Faithfull sing dit

as ek my hare stryk in die kitchenette.

 

David Frost sê iets oor die koningin

en dat die Transkei sommer mahala was

oor al sy potholes en bokke.

 

Vir ’n pond lewer ek in Surrey pos af

en koop ’n Ruth Reed-jas in Petty Lane

wat ek op ’n staaltrap vir ’n man uittrek.

 

Ons drink bottels Guinness in ’n bruin pub

en ’n mate kry ’n gros kondome

vir ’n happy day.

 

Viëtnam is in die koerante

en in Hydepark praat iemand op ’n appelkas.

Die soldaat langs my se oë is so ver soos Saigon.

 

British Airways staak

net toe ek wil klim, toe land

ek in Larne met ’n trokdrywer

 

en sy trok op ’n ferry

om van Belfast

met my groen rugsak na Galway te stap.

 

In Ierland reën dit katte en klawers

en ek wag onder ’n brug vir iemand

om vir my ’n sambreel te bring.

 

Lees solank The Trumpet of Conscience

van King en verlang skielik na my land

en wonder of dit nog wit is.

 

(44)

 

 

’n Stadstoer van Moskou

 

Op Moskou se stadsterminus

waar trems na die Tsaarmuseum slof

lê die sneeu hom stug oor die koepels neer;

 

vanaf jou troika wuif jy my nader

en in die vlamme van die herbergvuur

reis ons kommunaal die aand na mekaar.

 

Vir oulaas wys jou vinger

na die oseaan en die spartelende beelde

van Oskar Kokoshka se Sea and Visions,

 

maar ek sal snags

jou torso kaal en blougrys onthou

as my potlood na die skaduwee

 

onder jou wimpers skuif, troebelreën

die waterblou van jou oë skets.

Jou armholtes in die allerdigste groen invou.

 

As jy slaap, knip ek ’n rooi fraaiing

uit jou mantel

vir my oorlewing sonder jou.

 

(45)

 

 

 

Tomas Tranströmer

 

ek soek straataf, geswerf

        tot hier:

Tomas Tranströmer

        en die wêreld om hom

 

kaats soos spieëls na mekaar

        word minnaars

as die Iepe-skaduwees in

die somerop sy tuingrond val

verlewe drome       op     die punt van sy pen

gaan sit

 

kyk nóú, die digter wat slaap

         met een oor oop

hoor die agterhekkie kraak

         waar die hoender vlerke breek

         vir ’n pit

 

 

’n perd proes

         voor sy huis verby;

aan die maanhare roer klein klokkies.

Tomas luister tussen die klepeltjies in:

‘klank is die drumpel van ’n vers’.

 

(52)

 

 

Inlywing

 

Dit was in New York waar reën en toe die son

die 9/11 oorblyfsels wou skoonbleik en uitwas,

maar die waaiende nekdoeke en helder toeriste,

die uitstalling van bloukaas en die ritse lapelruikertjies,

kon die groen mistige treurheid nie wegkleur nie.

Ek het gekom om die Goya-uitstalling

in die Guggenheim te sien en te wag vir ’n vriend.

 

Die snuffelhond van die skilder kyk ek mis,

ook die misdrag wat vermoedelik agter die heuwel lê,

toe die saal van helde voor my oopmaak:

Herkules en ’n draak, Helena en ’n hangmat vol blakende

    engeltjies.

Die skilder vaag bekend, haar naam

met ’n losserige skrif in die raamhoek uitgekrap.

Die moed van die weerbarstige gode

skeur deur die hemel met vlugtige pyle en boë,

mik en tref en kupido’s

hang oor die droomvreemde monsters

wat uit rots en grotte en stoomriviere klim.

 

Ek was in New York waar ’n paddastoel-wolkkolom hang

om te wag vir ’n vriend wat van Nepal sou kom,

met stories van fakkels en togte laatnag deur die strate

en prente van argaïese mense en diere:

“Ons geheue hou van lankal al die saad van môre”

het hy slaperig gesê

en later vertel van sy droom:

Jupiter en sy twaalf sterre val op die strand van Nieu-

     Meksiko.

 

’n Dag later spoel die see oor New Orleans se dyk

en dit terwyl ek melancholies in die American Museum

of Modern Art teen ’n korintiese kolom leun,

na ’n hardedop besie kyk wat uit die skedel klim

en geel etikette uit die neusgate en oë sleep:

elke holte is ’n venstertjie geraam en verdoemenis

met ’n fyn swart kwas ingeskryf.

 

Buite was die stad se lyf plat

met ’n asgrys wolk gesmeer

en die Manhattan-brug het geroer

aan sy kettings en kabels

voor die lae son op die water,

soos een wat by vuur dans

en gesigte sien.

 

(64)

 

 

VIII

 

Smit het destyds die Ingrid Jonker-prys verower vir haar bundel Krone van die narsing, wat ʼn bepaalde leesverwagting skep. Hierdie bundel, is om die minste te sê, ʼn vraag oor wat die werklike funksie van ʼn prys is.

Of dalk on-funksie.

Smit het op haar dag delikate liefdesgedigte en mooi religieuse verse geskryf. Inderdaad vra ons:” Wat het ek misgevaar, verbygeseil?” (30).

Dit is myns insiens nie ʼn goeie bundel nie. Gedig op gedig bevat momente, mooi beelde, maar dit is nie deurgekomponeer nie.

Ian Raper sal wel verskil:

 

As Rosa Smit ’n bundel gedigte

publiseer, dra dit die stempel

van kwaliteit. Dis enersyds die

rede vir die groot waardering

van haar werk. Elke woord en

reël het die volste en fynste

aandag geniet onderweg na die

klinkende kunswerk toe. Andersyds

is daar die uitsonderlike

en heerlike beelding en

verbeelding.

 

© Joan Hambidge / 2014

Bestel van Rosslyn-Pers, Posbus 53790, Wierdapark, 0149

 Resensie geborg deur

 

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Die rooi veer in Vasco se hoed (Rosa Smit)”

  1. Nee, Joan, ek stem toe volmondig saam: daar is ‘n “de” vir ‘n “die” en Marianne F. se naam is verknot. Dis jammer en dis die gevolg van haastige werk; onvergeeflik. Maar “volmondigheid” is wat baie van die gedigte bereik; ten beste ‘n prestasie. Die beheptheid met binding, eenheid, struktuur, argitektoniese konstruksie en beplanning wat uit die slotwoorde van die resensie blyk, is bepaald scary. Dis die geval omdat dit al regtig baie lank is sedert Opperman dit (gebrek aan samehang) teen Totius gehou het as ‘n oordeel; omdat ons sedertdien talle lieflike bundels gekry het wat uit kunswerke in eie reg bestaan, soos Nuwe verse (lees: kursief) waar “heel die driftige verband U (laat stort) oor U glas se rand”. Daar is bundels met minder of meer “scriptible” verse, waar die leser self implikasies moet konstrueer of bybring.
    Dan is dit scary omdat daar met ‘n modelteks gewerk word wat bv. “intellektueel” moet wees. Onthou ons wat het gebeur toe daar beweer is ‘n leesdrama is ‘n onding? Die voorskryf aan die gedig, veral in die naam van die digkuns en kanon, is gewoon onhoudbaar. Toe iemand vir Turner sê dat hy of sy nog nooit ‘n sonsondergang soos syne (in die voltooide skildery) gesien het nie, was sy antwoord: “True, Madam, but dont you wish you had?” Verbeelding; skepping!
    Dat vers en studeerkamer dikwels vuur en water is vir mekaar is in hierdie geval baie droewig waar. Die see is enorm, gewelddadig, die liefde en die drif onkeerbaar soos die kuns, alles kenbaar in “vog en vrugbaarheid en groot verlange”. Oordadig, geil; wat Yeats noem “random wantonness”, met oorgawe, ja, ook in die liefde. Soos o.a. Cussons se heerlikhede kan wees. Of moet alles nog in “klip en kaal” bepaal word, mooi ingelys, rasioneel, met vernuf en ‘n periodieke poepgrap in die neus?
    Dis nie gewoonlik goed dat ‘n uitgewer een van haar of sy skrywers se werk verdedig nie. Maar dit gaan hier ook oor geldige kritiek, ter wille van die groei van die “digkuns”, die krepeer van die kanon en die kinderspel van die onmiddellike vers.
    Dis dalk goed vir almal wat in die literatuur woel of net belangstel om die biografieë van Leipoldt te gaan lees. Kyk hoe maak die “establishment” met sy soort- en stofoordeel!
    Gelukkig bevat die resensie soveel aanhalings dat die leser self kan sien watter fees dit is; avontuurlik, speels, diep gelowig en klankryk soos ‘n seilskip.

  2. Ian :

    Na “Leipoldt” moet daar staan “en veral Uys Krige”.