De Waal Venter. Die vertaler as lewerik

 

Uys Krige

Die vertaler as lewerik

Vertaling van goeie letterkundige werke uit ander tale in jou eie taal laat jou verder en wyer sien, verbreed jou visie en begrip van die ontsaglike kultuur wat die mens oor duisende jare opgebou het. Digters dig dikwels oor die vermoë om te vlieg, om die wêreld vanuit die hoogte te sien. Dalk is dit ‘n voortsettingvan die drang wat ons verre voorouers gehad het om hulle bolywe op te lig om oor die lang gras te kan kyk en wat uiteindelik daartoe gelei het dat ons vandag regop loop.

Maar vertalings is nogal geneig om taamlik vinnig te verouder. Elke nuwe geslag behoort eintlik hulle eie vertalings te maak van gewaardeerde digters. Mark Eisner skryf só daaroor:

Uit Mark Eisner se voorwoord tot die versameling vertaalde gedigte van Pablo Neruda The Essential Neruda – Selected Poems.

Translation is an arduous and complicated process involving many phases of thought and work. John Felstiner has written a very important book about translating based on his experience with just one single work of Neruda’s canon, The heights of Macchu Picchu, and in it he indicates the breadth of analysis and interpretation that must accompany the art of crafting a new tanslation. “With hindsight, of course, Felstiner wrote, “one can all too easily fault earlier practioners or forget that one’s improvements depend on their work in the first place. And possibly the early stages of translating a poet are marked with too much fealty: word or sense-for-sense renderings that stop short of exploiting the translator’s own tongue.Still, the essential question is not one of stages, of early as against contemporary versions. We have always to ask if a given translation comes across in its own right, as convincing  as any good poem of the day. In most cases, the idiom of translators goes stale sooner than that of other writers, so that ideally, the salient poets from any period deserve retranslating for the ear of each new generation.”

Dit is merkwaardig hoe ‘n taal oor ‘n paar dekades kan verander. Sekere woorde wat op ‘n bepaalde tyd algemeen gebruik word, raak in onbruik en klink dan vir latere sprekers outyds en lomp.

Nuwe woorde kom in gebruik en ander woorde verander van betekenis en word in nuwe verbande ingespan. Ek sien gister ‘n koerantopskrif raak wat beweer ‘n sekere persoon is bereid om te sing. Nadere ondersoek bring toe aan die lig dat dit niks met musiek te doen het nie, maar alles met ‘n misdaad.

In Krige se vertaling hieronder kom die volgende sin voor:

“en drink daar soos ‘n godedrank wat klaar is, suiwer,”

‘n Leser sou vergewe kon word indien hy hieruit aflei dat die godedrank opgeraak het – daar is niks meer oor nie, dit is klaar. Maar natuurlik het Krige iets anders bedoel.

Een van Charles Baudelaire se bekendste gedigte is “Élévation”. Uys Krige het dit, onder andere, vertaal en gepubliseer in “Vir die luit en kitaar” (1950).

Ek plaas hiermee sy vertaling en daarna my eie vertaling. Daar is groot verskille tussen die twee vertalings (gehalte is nie hier ter sprake nie). Ek het so na as moontlik probeer bly aan die oorspronklike, maar het nie probeer om die Franse gedig se rymskema weer te gee nie.

Krige het homself die moeilike taak opgelê om Baudelaire se rymskema weer te gee en in ‘n mate ook om die ritmepatroon te behou. In die laaste strofe veroorloof Krige hom om die woord “graan” in te voeg ter wille van die rym. Dit kom nie in die oorspronklike gedig voor nie. In Frans sou dit “grain” of céréales” wees.

Ek haal net die eerste en laaste strofe aan van die Franse gedig.

 

 

Élévation

 

Au-dessus des étangs, au-dessus des vallées,

Des montagnes, des bois, des nuages, des mers,

Par delà le soleil, par delà les éthers,

Par delà les confins des sphères étoilées …

 

…..

 

Celui dont les pensers, comme des alouettes,

Vers les cieux le matin prennent un libre essor,

— Qui plane sur la vie, et comprend sans effort

Le langage des fleurs et des choses muettes!

 

— Charles Baudelaire

 

Uys Krige se vertaling

 

Élévation

 

Hoog bo die berge en bosse, seë en die wolke,

hoog bo die groen valleie en al die mere,

verby die son, verby die grysblou eterkolke,

verby die verste grense van die sterresfere,

 

beweeg jy jou, my gees, met ‘n rats soeplheid;

en soos in die branding ‘n sterk swemmer hom verlustig,

deurklief jy bly dié diepe onmeetlikheid

met ‘n genot onnoembaar, mannelik-wellustig.

 

Vlug weg, vér weg, van hierdie dampe wat laat huiwer,

gaan reinig jou in hoër, glansryker gebied,

en drink daar soos ‘n godedrank wat klaar is, suiwer,

die helder vuur wat deur die son se dale vliet.

 

Vry van ons sorge en ons grondeloos verdriet,

die lewe, al sy kommer en sy smaad, sy hoon,

gelukkig hy wat met fors wiekslag op mag skiet

tot die ver velde van die lig waar vrede woon.

 

Hy wie se gedagtes, soos leew’rikke uit die graan,

smôrens tot die daeraad in vrye lug mag styg

–    wat oor die lewe swewe en moeiteloos verstaan

die taal van blomme en van elke ding wat swyg!

 

Uit Frans vertaal deur Uys Krige

 

De Waal Venter se vertaling

 

Hoogte

 

Ver bo die mere, ver bo die valleie,

die berge, die bosse, die wolke die see,

verby die son, verby die buitenste ruimte

verby die bane van die verste sterre,

 

beweeg my psige rats,

en soos ‘n goeie swemmer verruk in die golf,

skiet hy vreugdevol deur die ontsaglike ruimte

met ‘n onuitspreeklike manlike genot.

 

Vlieg ver weg van hierdie morbiede moeras;

gaan suiwer jouself in die hoë lug,

en drink, soos ‘n suiwer goddelike likeur,

die helder vuur wat daardie oop ruimtes vul.

 

Verby die sorge en groot smarte

wat swaar druk op ons wasige bestaan,

gelukkig is hy wat op sy sterk vlerke

kan styg na daardie helder en vredige ooptes;

 

Hy, wie se gedagtes soos lewerikke

vry opvlieg in die oggendlug,

–    wat bokant die lewe sweef en moeiteloos

die taal van blomme en stemlose dinge verstaan!

 

Uit Frans vertaal deur De Waal Venter

 

La beauté is een van Charles Baudelaire se ander bekende  gedigte. Hierin kom sy siening van skoonheid as iets hard en koud, ongenaakbaar selfs, na vore. Dit is “soos ‘n droom uit klip gekerf” en “soos ‘n onbegryplike sfinks”.

Dit is geskryf in die vorm van ‘n Italiaanse sonnet – twee kwatryne en twee tersines met ‘n “volta” in reël nege wat ‘n wending in die gedig aandui. Die reëls is vyfvoetige jambes.

Uys Krige het hierdie vers vertaal  “voor sy terugkeer na Suid-Afrika in 1935″ soos hy sê in die “Naskrif” van sy bundel “Vir die luit en kitaar” Afrikaanse Pers-Boekhandel 1950.

Hier is die oorspronklike gedig en Uys Krige se vertaling daarna.

 

La beauté

 

Je suis belle, ô mortels! comme un rêve de pierre,

Et mon sein, où chacun s’est meurtri tour à tour,

Est fait pour inspirer au poète un amour

Eternel et muet ainsi que la matière.

 

Je trône dans l’azur comme un sphinx incompris;

J’unis un coeur de neige à la blancheur des cygnes;

Je hais le mouvement qui déplace les lignes,

Et jamais je ne pleure et jamais je ne ris.

 

Les poètes, devant mes grandes attitudes,

Que j’ai l’air d’emprunter aux plus fiers monuments,

Consumeront leurs jours en d’austères études;

 

Car j’ai, pour fasciner ces dociles amants,

De purs miroirs qui font toutes choses plus belles:

Mes yeux, mes larges yeux aux clartés éternelles!

 

— Charles Baudelaire

 

Krige se vertaling:

 

DIE SKOONHEID

 

O sterfling, ek is skoon soos ‘n versteende droom.

My bors waar beurt’lings elk hom wond, singend my lof,

besiel, laat ieder digters hart vol liefde stroom

ewig en immer swyend-stom net soos die stof.

 

Ek troon in die asuur, ‘n sfinks, raaisel-verloor;

‘n hart van sneeu met blankheid van ‘n swaan vereen ek;

ek haat die beweging wat die vormrus verstoor;

en ek ken geen glimlag nie en nimmer ween ek.

 

My digters, voor my grootse houding en gebaar,

asof deur monumente fier my toebeskoor,

brand heel hul lewe op, my raaisel te verklaar;

 

want ek het, om altyd my aanbidders te bekoor,

rein spieëls wat alles skep tot skoonheid onverderflik:

my oë, my groot oë, met hul klaarte en gloed onsterflik!

 

Uit Frans vertaal deur Uys Krige

 

Dit is merkwaardig hoe vreemd die Afrikaans uit die dertigerjare vir ‘n hedendaagse leser kan voorkom. Woorde soos sterfling, ieder digters, swyend-stom, toebeskoor, klaarte ens. verwag mens nouliks in ‘n moderne gedig, om nie eers te praat van gesprekstaal nie.

Baie van die woordkeuses is waarskynlik te wyte aan die feit dat Krige die sonnet-rymskema volg en dus woorde moet kry wat volgens die abab skema rym in die eerste strofe (teenoor Baudelaire se abba). Sy ritme volg ook naastenby ‘n jambiese patroon.

Mens besef met die lees van hierdie gedig dat Afrikaans oor die afgelope tagtig tot negentig jaar nogal baie verander het. Soos die meeste tale is Afrikaans voortdurende aan die groei en ontwikkel en besig om te verander.

Ek het my eie vertaling van Baudelaire se gedig gemaak en besluit om die rym- en ritmepatrone heeltemal te ignoreer en eerder te probeer om die wese van die gedig in moderne Afrikaans weer te gee.  Ek het egter gehou by die patroon van twee kwatryne en twee tersines. My vertaling kan dus nie as ‘n suiwer sonnet beskryf word nie.

Hier is my weergawe van die gedig.

 

Skoonheid

 

Charles Baudelaire

 

Mense, ek is lieflik soos ‘n droom uit klip gekerf,

en my innerlike, waar elkeen keer op keer seerkry,

is gemaak om by julle ‘n liefde te wek,

ewig en stil soos atome.

 

Ek troon die blou lug in soos ‘n onbegryplike sfinks;

‘n hart wit soos sneeu gee ek die witheid van swane;

ek hou nie van beweging wat lyne versteur nie,

en nooit huil ek en nooit lag ek nie.

 

Digters slyt hulle dae in

moeisame studie voor my groot gebare

wat lyk of ek dit afkyk van meesterwerke;

 

want ek het, om daardie mak liefhebbbers te betower,

suiwer spieëls wat alles pragtiger maak:

my oë, my groot oë met ewige helderheid!

 

Uit Frans vertaal deur De Waal Venter

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.