Joan Hambidge. Maria

Maria

 

—The gossip in Milan was that Callas
had swallowed a tapeworm.

But of course she hadn’t.

The tapeworm
was her soul

 

– Frank Bidart

 

Als van die woord wálg

het sy verstaan, lintwurms

verslind om te verslank glo;

dog met die wagtyd

van die liefde anders gesteld:

haar understudy Jackie O

mooier, perfekter, slanker,

beslis geen Griekse tragedie.

In die operahuis van die hartstog

het die applous verstil:

note krioel teen dusketyd

iets soos ek-het-gelewe-vir-die-kuns?

Tosca beproef deur Scarpia,

Callas verneder deur Onassis.

Nou is die lyf weg,

maar haar stem,

die lyflose taal, draal

lank na die laaste noot…

 

 

 © Joan Hambidge / 2014
 
 
Bookmark and Share

39 Kommentare op “Joan Hambidge. Maria”

  1. Maria Snyman :

    Die konsep van “stem, die lyflose taal” klink vir my bietjie ver gevat. Een van my gunsteling boeke (beginnende by die koue (swart en wit) maar sensuele skutblad) is Irwin Jones se boek Derrida and the Writing of the Body (2010, Surrey: Ashgate). Die titel waarin die “enigmatic, ambiguous genitive” in Heidegger se woorde in sy “The Anaximander Fragment”, soos aangehaal deur Derrida in “Différance”, gee ‘n mens al ‘n goeie idee, want die “of” hou verband met “the Being of beings” wat “the matter of Being (die Sache des Seins)” is, en waar die “grammatical form of this enigmatic, ambiguous genitive” ‘n “genesis (Genesis), the emergence (Herkunft) of what is present from presencing” aandui. My punt, dit is juis via die lyfgebondenheid van daardie stem dat ons dit steeds hoor “presencing” “lank na die laaste noot… “. Dalk sou ‘n paar Heideggeriaanse wasgoedpennetjie-aanhalingstekens (vergelyk Derrida se teks “Of Spirit” – “two pairs of pegs hold in suspension a sort of drape, a veil or a curtain”) om die frase “lyflose” werk, dit sou iets van die verdwynende-verskynende stem/asem/gees van Callas vertaal, gesien dat sy iets van die Grieksheid van taal verstaan het, want “van die woord wálg / het sy verstaan, lintwurms / verslind om te verslank glo” – lintwurms, lyne, traces, spore – ‘n sekere “Griekse tragedie”. Hoe dit ookal sy, “In die operahuis van die hartstog / het die applous verstil: / note krioel teen dusketyd / iets soos ek-het-gelewe-vir-die-kuns?”

    Terug by Derrida and Writing the Body: Irwin bied ‘n wonderlike en ook baie insiggewende lesing van Bataille in hoofstuk 2 getiteld “‘Except for a Certain Laughter’: Derrida, Bataille and the Trangression of Dialectic”. Irwin dui op Derrida wat meen Bataille se teks is “booby-trapped” en verwys na laasgenoemde se “methodological phrase (…) (and Derrida follows him in this)” naamlik “‘sliding’ (‘glissement’ from ‘glisser'(…)” wat min of meer die volgende denoteer: “‘slipping, gliding, skating, whispering, creeping, grooving'”.
    Ek hoop nie ek gly my eie gai af hier in hierdie argument nie, maar jy het my aan die skryf gesit, en daarvoor bedank ek jou, want ek hou ook van die gedig – ek vind vir een of ander rede aanklank by die beeld van die lintwurms?! Dit dra immers ook my naam – en as daar nou ooit ‘n lyf sonder ‘n stem was, is dit myne – vals sou my tweede naam kon wees.

    Liefde en lekkerte, laat jou “note krioel”, ons luister,
    Maria

  2. Joan Hambidge :

    Die toespeling van die lyflose taal is dat musiek ‘n liggaamlose taal is — dit gaan terug na Elisabeth Eybers. Koos Human het jare gelede ‘n lieflike bloemlesing met gedigte oor musiek saamgestel met die Eyberiaanse titel: Liggaamlose taal.

  3. Leon Retief :

    Meeste van ons luister na Callas op CD’s. Ons sien haar nie dikwels nie, behalwe daardie van ons wat videos of DVD’s van haar het. In daardie opsig is dit dus ligaamlose taal. Sy was ook een van die eerste stem-kunstenaars wat weggebreek het van die “park and bark” tradisie – ietwat oorvereenvoudig, ek weet. Opera is na my mening, saam met die simfonie-orkes, een van die grootste prestasies van die Westerse beskawing. Derrida en kie se gefemel in hierdie verband is waaragtig niks anders as iemand wat in die openbaar masturbeer en aan almal probeer vertel hoe diepsinnig hulle is nie. Dis juis en in die besonder mense soos Derrida wat verantwoordelik is vir die gier (want dis niks anders as dit nie) van regie-teater.

  4. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie tog, Leon! Die parogiale mens se rasende behoefte aan die (ver)vulling van ‘n holteverlies aan syn met ‘n eindelose gekwiebel om die niks te verwikkel in ‘n nog meer eindelose betekenende niks is kennelik onversadigbaar. Waar is Jantjie nou dat ons sy heerlike sinnelose vertaling in gebaretaal van engele se wiekegeklapper so nodig het! Kan daar dan nie maar binnensmonds gemompel word sodat ons heidene mag luister en miskien selfs hoor nie?

  5. Maria Snyman :

    Joan, interessant, dankie vir die leidraad.

    Leon en Breyten, ek vra uit die staanspoor om verskoning vir die volgende vermoeiende teks, maar ek glo julle gun die parogiale pleb om sy “niks[ie] te verwikkel in ‘n nog meer eindelose betekenende niks” – wie kan teen die reg om alles (of niks) te sê, wees? Breyten, dit sal moeilik wees om my teks te dekonstrueer, want dit is ‘n deliberate deur-mekaar-spul.

    Enersyds gaan dit my verstand te bowe dat digters nie Derrida se disseminerende diskoers kan sluk nie, maar aan die anderkant is daar ook niks duideliker nie. Wat gedugte digters moontlik irriteer omtrent Derrida, is dat hulle al klaar op daardie vlak van ‘n “entrancing confusion” (Ratele in Krog, Mpolweni en Ratele (2007) se There was this goat), van “living with the strange” leef – hulle is klaar bewus van die harde werk wat vereis word vir ‘n ver-taling, van die moeilikheid om ‘n stem te vind, ‘n styl te kry. Vir hulle is dit niks snaaks om van rêrige rotse wat val en van ‘n bok in ‘n droom wat teen ‘n huis opstaan (‘n sekere voorspellende “scapegoat”, of meer presies sewe “scapegoatS”) in een teks te praat nie, om nie te praat van hul skaamtelose belydenis dat hulle so dors was dat hulle gevra het dat iemand urineer in ‘n bord dat hulle dit kan drink nie …

    Ek ontken nie dat Derrida ‘n sekere reisende Jood was nie soos sy vader, wat vir dieselfde familiebesigheid sy lewe lank gewerk het, ook ‘n wandelende Jood, vgl. Devorah Baum* se artikel “How to survive Jacques Derrida”; ‘n sekere pilaarbyter (vgl. sy aanhaling in “Dissemination” in sy boek Dissemination (1981:342) oor “Two columns, which it was not difficult, much less impossible, to take for two boababs, …”). Aan die een kant sê hy inderdaad altyd dieselfde “ding”/logiese beweging – hy erken hy is “downright monotonous” in hierdie opsig, maar aan die anderkant sollisiteer hy ‘n mens tog elke keer weer deur sy vervreemding van ‘n ou staatmaker konsepte, soos byvoorbeeld geskenk, vertaling, verantwoordelikheid, ja, ensovoorts.

    Maar, Derrida stuur ‘n mens veral ook terug in die Westerse filosofiese geskiedenis in (‘n mens kan hom ook as ‘n soort poswese of possisteem beskou – ek is nuuskierig oor hoe hy al die verstommende aanhalings opgegrawe het in die dae voor internet) en soos Joan elders oor Opperman vertel wat gesê het “ken jou tradisie”, is dit vir my belangrike werk wat hy doen – die Westerse filosofie is baie snaaks!
    Wat sy werk vir my persoonlik aantreklik maak is die humor en sensualiteit (dekonstruksie is spoorsnywerk …’n “fine art”) in sy werk.

    Hy forseer ‘n mens om à la Aristoteles, soos die mees intelligenste mense (in my oë, na jou artikel Leon oor daardie “gedugte geoloë” wat ‘n “gedigte geologie” skryf), ooreenkomste tussen die mees onwaarskynlikste dinge raak te sien. Hoe meer jy van sy werk lees, hoe snaakser word dit – hy het hom vrek gespeel, soos sekere digters, wat sy/hulle geweldige produktiwiteit (en rondritsgeit) verklaar, en dit vir ‘n ou wat oorspronklik bang was vir vlieg – Malabou en sy boek Counterpath is ‘n baie lesersvriendelike boek en hoogs vermaaklik.
    Maar ja, dit IS vermoeiende leeswerkproses om by die punt uit te kom waar sy werk “extremely funny” word.

    Die dekonstruktiewe diskoers is dalk iets soos die Elisiese misteries waarin ‘n mens ingewy moet word …

    Of dalk is sy werk, gesien ook sy gespanne verhouding daarmee – en ironies-genoeg, ‘n sekere monsteragtige idee – net vir akademici bedoel, mense wat ander ‘n akademiese skryfSTYL moet leer. Wat is styl? Wat is smaak, hoe/soos wat proe iets? ‘n Sekere “selfscape” in Hopkins se terme – hoe proe jy vir jouself?

    Die verbasingswekkende vir my, nou na ek sy vroeë werke oor Husserl – min of meer, want dis ‘n sekere buitensporige gekheid, fenomenologie is nie vir anti-femelaars nie – onder die knie gekry het, is dat hy vir ‘n mens ‘n sekere pre-logika in logika wys, of anders gestel, die lewendigheid van intuïsie (in die volle spektrum van vorme en definisies daarvan) in intensie.

    Westerse metafisika is na dese vir my niks anders as ‘n sekere geometrie nie, ‘n “squaring of the circle” nie – om die infiniete in (parallelle) binêre pare op te deel (bv. Jean-Jacques Rousseau se noord-suid, “need”-“passion”, “tongues of geometers”-“tongues of poets” reeks of seriature), d.w.s. om die ruimte tussen-in (‘n sekere derde) te ignoreer.

    Om die idee van “squaring of the circle” te kan waardeer is Plato se beskrywing van die Ouroborous in sy teks Timaeus illuminerend. Dit is heel poëties, so ek plaas dit hier – ‘n vermoeiende stukkie teks, maar dit laat my elke keer glimlag – en gepraat van ‘n lyflose stem (neem ook kennis van die beweging van “living being” na “spherical form” na “universe”):

    The living being had no need of eyes when there was nothing remaining outside him to be seen; nor of ears when there was nothing to be heard; and there was no surrounding atmosphere to be breathed; nor would there have been any use of organs by the help of which he might receive his food or get rid of what he had already digested, since there was nothing which went from him or came into him: for there was nothing beside him. Of design he was created thus, his own waste providing his own food, and all that he did or suffered taking place in and by himself. For the Creator conceived that a being which was self-sufficient would be far more excellent than one which lacked anything; and, as he had no need to take anything or defend himself against any one, the Creator did not think it necessary to bestow upon him hands: nor had he any need of feet, nor of the whole apparatus of walking; but the movement suited to his spherical form was assigned to him, being of all the seven that which is most appropriate to mind and intelligence; and he was made to move in the same manner and on the same spot, within his own limits revolving in a circle. All the other six motions were taken away from him, and he was made not to partake of their deviations. And as this circular movement required no feet, the universe was created without legs and without feet.
    Bron: http://classics.mit.edu/Plato/timaeus.html

    Nog ‘n stertjie, of rafeltjie à la Ina Rousseau in “Broderie anglaise” waarin sy o.a. van “ruwe rafelrante” praat, om nie van die res van die heerlikheid in hierdie gedig te praat nie:

    Derrida beskryf die verloop van sy oeuvre in A Taste for the Secret as ‘n geval van ‘n “movement sur place”, ek vertaal dit in Afrikaans as kleitrap. Dit is ‘n spel op die Westerse filosofie wat beweeg maar nie beweeg het nie, waaraan hy deelneem sonder om daaraan te behoort, of soos Nick Norman dit in sy lieflike “Geology of the beaten track, exploring South Africa’s hidden treasures” (2013 Random House, Struik Nature) stel, “The more things change … the more they stay the same.” Tegnologies is die wêreld onherkenbaar in vergelyking met ‘n paar dekades gelede, ““face-lifts” is ons voorland”, maar hoeveel het ons geestelik gevorder?

    Dalk is dit steeds net gedugte digters wat werklik iets nuuts laat gebeur … wat ongehoorde ooreenkomste raaksien …soos ‘n lyflose stem … (wat ek nogsteeds sukkel om te sluk) …

    *Devorah Baum skryf: “(…) there is a certain conception of the Jew with which Derrida did seem to identify. The Wandering Jew as one who, by very definition, has no place. The uprooted stranger in the wilderness of messianic desire, always awaiting deliverance into the Promised Land as the promise of justice; the promise of a just place – a place always in the future, always to come.”
    Bron: http://www.jewishquarterly.org/issuearchive/article4f5f.html?articleid=39

    Dalk was Derrida ‘n soort Jerusalemganger … ‘n divinerende wiggelaar of waterwyser?! En nou is ons weer terug by Heraklitus en die voet wat nooit in dieselfde rivier teruggesit kan word nie … ek het my voet seker nou behoorlik in ‘n sponsdoring gesit – om so demonstruktief (in Tom Gouws se terme) saam met gedugte geoloë te praat, wat het my besiel?!

    Marlise, verwyder maar my “eindelose gekwiebel” as jy dink dit is nie gepas nie – ek het dalk ‘n lintwurm gesluk en ervaar dalk ‘n “holteverlies aan” iets meer substansieel …

  6. Buiteblaf Breytenbach :

    Wel, tik my met ‘n veertjie om…

    Ek gaan nie met u stry nie, me Snyman. Die dekonstruktiewe diskoers het my lankal van koers gebring, dis Sondag en ek bevraagteken nie die soom-aanrakers se reg op geloof nie, veral siende u klaarblyklik Derrida in sy taal van uiting en teen die lig van sy omgewing deurgrond het. Die wete dat hy dissipellinne het aan die suidpunt van Afrika sou hom miskien behaag het: soos so baie van ons was hy ook maar ‘n ydel omie. En indien my verwarring oor iets waarvan ek kop nog boude verstaan as neerhalend oorgekom het, vra ek om verskoning. Die aandigterskap maak mens nie noodwendig opmerksaam of noulettend nie.

    As u my dit vergun, tog ‘n gedagte of twee betreffende Derrida se (Algerynse) Joodsheid. In sy later tekste veral is hy bewus van sy Talmoedistiese soet tand vir woordklowery. En hier rondom 2002 toe ‘n groepie van ons na Palestina gereis het as afvaardiging van die Wêreldparlement van Skrywers (hard het ons daar met die niet gespook), waarvan hy ‘n stigterslid was, ons was nogal op die koördinerende komitee – sou hy eers saamkom en het toe kop uitgetrek en toe daartydens én agterna allerverskrikliks gewroeg. Die aandigter sou vir hom kon sê mens kan nie agter woorde wegkruip vir die werklikheid nie. Toegegee, soos baie van ons was hy ook maar ‘n bang omie. En hoekom nie? Ek sê weer: laat ons goed kyk na Jantjie (mense hoef nie te weet ons kyk nie) – want wie sal kan sê of hy die engele probeer verwilder het of probeer verduidelik het van die lintwurm in sy ingewande? (Nie dat daar juis enige verskil hoef te wees nie…)

    Met groete, en met die hoop dat ons nie Joan Hambidge se treffende gedig dood gooi met gekloofde nikskluite en dusdoende poësie nog ‘n slegter naam gee as wat dit reeds het nie.

  7. Maria Snyman :

    Ek stem Mnr B – laat die gedig sing! Met en/of sonder lyf – want dit is in elk geval ‘n mysterium tremendum. “A frightful mystery, a secret to make you tremble.”

    Dankie dus vir u gawe respons (met sy spoor van spondee).

    My spekulerende antwoord oor Mnr D se “kop uittrek” of “kleikoppie trek” (wat is die “lesser violence”? wat ruimte laat vir die ander) is dat die “domkop” – dom soos die krimpvarkie op die snelweg en die gevaar kan hoor maar nie kan sien nie – dalk gedink soos ek oor hierdie land dink (hoe verwaand van my!), en soos u dit goed verwoord, dit is om “met die niet [te] spook” tot tyd en wyl daar nie meer mense is met ontsag vir en kennis van die mal van die mondmiddel nie, ontsag het vir die stomp “lintwurm” tussen die lippe van die mond het nie … die “tapeworm / was her [bodyless] soul …”, maar ook (in) haar liggaam (sy’t (dit) gesluk) … haar liggaam was gekontamineer daarmee. Derrida het seker maar vir ‘n oomblik gedink en “toe daartydens én agterna allerverskrikliks gewroeg” oor die feit dat: “Als van die woord wálg“. Die mense waardeer nog nie hierdie komplekse feit nie.
    The Gift of Death and Literature in Secret is ‘n mal monster van ‘n boek, ‘n sekere (on)verantwoordelike boek (wat ‘n mens die vryheid gee om dit (on)verantwoordelik te lees, enige plek, enige tyd), maar mnr. D raak die saak van die drie monoteïsmes wat steeds walglike oorloë maak rondom die “Dome of the Rock” (p.70) deeglik (en heerlik (on)verantwoordelik) hierin aan. Hy het lank aan die boek gewerk – van 1990 dus lank voor 2002 tot na sy dood toe die 2008 weergawe beskikbaar geword het. A Taste for the Secret (2001) val daar êrens tussen-deur.

    “In die operahuis van die hartstog / het die applous verstil: / note krioel (…)”

  8. Leon Retief :

    Headdesk….

  9. Leon Retief :

    Joan, “hulle” sê mens moet elke dag darem ten minste een nuwe ding leer en ek het so bietjie agter geraak – sedert Vrydag het ek niks nuuts uitgevind nie. Die woord “dusketyd” in jou wonderlike gedig oor Callas (en vele dank daarvoor) het my laat wonder wat dit beteken want dit was aan my onbekend en ek het nie ‘n HAT hier nie. Ek het gaan gogel maar kon niks uitvind nie, ten einde raad ‘n vriend in SA gevra en hy het my vertel wat die betekenis is. Nou maak daai gedig vir my veel meer sin. Sommer baie meer sin. Die wyse waarop jy dit inwerk, saam met die “krioel” van lintwurms wat dit in my geestesoog oproep, is fantasties.
    Callas was na my mening een van die beste Butterflys ooit, min ander soprane kon die transformasie van ‘n onskuldige 15-jaar oue meisie tot die ontnugterde, verwerpte jong vrou en moeder so meesterlik vertolk, met soveel emosie en insig. Vir my is sy steeds een van die grootste stemkunstenaars van die vorige eeu, ten spyte van die ongelukkige tekortkomings van haar stem – dalk die gevolg (of so dink ek ennieway) van die feit dat sy op ‘n jong ouderdom Wagner-rolle gesing het waarvoor haar stem net eenvoudig nie geskik was nie. Dis maar my persoonlike opinie. Hier is wat John Steane, na my mening een van die grootste skrywers en kenners van sang, sangers, opera en lieder oor haar geskryf het. Ons besit al die opnames waarvan hy skryf, helaas, dis in ‘n boks in Kaapstad.

    http://www.gramophone.co.uk/HallofFame/Callas/Feature/Tribute

    Waarom noem ek spesifiek Butterfly? Omdat die SA sopraan Amanda Echalaz tans hierdie rol vertolk in die Met in New York. Resensies van die openingsaand het gewissel van redelik entoesiasties tot een met enkele voorbehoude. Dit was natuurlik resensies van die openingsaand en wel, ek dink nie mens moet die heel beste verwag van enige opera se openingsaand nie, voorts het die aangewese dirigent onverwags siek geword en moes hy inderhaas ter elfder ure vervang word met iemand wat van elders ingevlieg is en wat nog nie die geleentheid gehad het om die opera met die sangers te oefen nie en so iets sal natuurlik ‘n invloed hê. Gister het Lesli en ek geluister na ‘n radio-uitsending van Ecchalaz in hierdie rol (nie openingsaand se uitvoering nie) en sy was absoluut uitstekend! Sy het nie Callas se topregister nie maar ek kan dit nie teen haar hou nie, elke sanger/sangeres het maar die stem waarmee hy of sy gebore is en so is dit nou maar. Nietemin, Echalaz is iemand om dop te hou.
    Laastens, niks met Callas te doen nie maar ek voel net ek moet dit noem: die Britse tydskrif “Opera” het onlangs ‘n kompetisie geborg vir opera-kore. Wie wen? Die Kaapstadse opera-koor! Dis duidelik dat die Sheldonian Theatre se akoestiek nie te waffers is nie maar newwermaaind.

  10. Joan Hambidge :

    “Gistraand om dusketyd
    is ons twee uitmekaar vir goed
    en nou vanaand teen skemertyd
    net soos gistraand om dusketyd
    is dit vir my weer sukke tyd
    ons twee is uitmekaar vir goed
    wat doen ’n mens met sukke tyd
    en met gistraand om dusketyd.”

    Dis Boerneef se bekende gedig – en Laurinda Hofmeyr vertolk dit asemsnakkend goed. Dis dan die interteks — ek praat nou uit die kombuis uit…

  11. Leon Retief :

    Dankie Joan, nou verstaan ek die interteks wat jy daar ingevleg het en ek dink dit is meesterlik. Ek het nie die Boerneef-gedig geken nie, een van die vele gate in my opvoeding…

  12. Joan Hambidge :

    Laurinda Hofmeyr se Perd oor die maan begin met “Gistraand om dusketyd” – JNS musiek
    1999. info@jns.co.za

  13. Andries Bezuidenhout :

    Pragtige plaat, daai “Perd oor die maan”!

  14. Desmond :

    Ek dink die titelsnit se lirieke is deur Laurinda se broer, Murray.

  15. Desmond :

    Tapeworm laat my nou dink aan daai dae toe mens se kassette altyd in die kassetspeler afgerol en vasgespin het, en jy dit met ‘n potlood weer moes oprol. Daarna was daar altyd ‘n wankel in die klank.

  16. Maria Snyman :

    Haar stem is ‘n spoor van haar “lyflose taal” gesien die feit dat “Jackie O” dunner was, “mooier, perfekter, slanker” maar “beslis geen Griekse tragedie” nie.

    Die een met die (vietse) lyf is bloot net geskiedenis, maar die een wat “lintwurms [moes] verslind om te verslank”, (“The tapeworm was her soul …”), haar stem “draal, lank na die laaste note …” – dit moet altyd nog kom!

    Haar “lyf [is] weg” en is, soos haar oeuvre (werk, travail, geboortepyne/geboorteskenking, “labour”, harde vermoeiende vervelige par coeur papegaai werk maar wat ‘n mens ook paradoksaal van die hart leer), finaal oorgelaat in die hande (en genade, en verbeelding) van ander.

    Die “note krioel teen” hierdie tyd van “iets soos ek-het-gelewe-vir-die-kuns?”

    Heerlik sensueel en wat ‘n geweldige goeie
    wenk – want om vir die kunste te lewe is om vir fyn oordeel te lewe, vir fyn styl, vir fyn oorklimtrappies, om versoening te bewerkstellig, om iemand oor die klippe te help, om al die beproewinge en vernederinge te probeer oorkom en verby te steek.

    Want, dat “Als van die woord wálg / het sy verstaan” – alles walg aan en van die woord, die woord is en maak dinge moeilik, maar gelukkig ook geheimsinnig (bv. wat op dees aarde beteken dusketyd? ^^ (oosterse “smiley”)), want waar sal ons wees sonder geheime … sekresies wat “draal / lank na die laaste note … ”

    “A tremor that nothing can stop” …

  17. Buiteblaf Breytenbach :

    Heigend hert!

  18. Buiteblaf Breytenbach :

    Kan ons dan maar ooreenkom die sekrete definisie van poësie, die lyfloosheid wat hulle wie ingelyf is by die kodes fyn-fyn teen dusketyd hoor, “die wankelklank van die lintwurm” is?

  19. Maria Snyman :

    Mnr BB, die woord “dusketyd” is SO NUUT vir my ek sukkel nog om vat daaraan te kry, om die geVOEL daarvan te kry, maar u interpretasie as “die wankelklank van die lintwurm” is wragtig pragtig en dit gaan WOES baie help dat ek die woord nou deel van my maak, soos ‘n lintwurm sluk.

    Ek het juis laasjaar vir die kinders gesê dat EEN van die BAIE redes vir gedigte lees is om nuwe woorde teë te kom en kyk nou net hoe laat “maria” ons steier!

  20. Desmond :

    Maria Snyman skryf: “Derrida beskryf die verloop van sy oeuvre in A Taste for the Secret as ‘n geval van ‘n ‘movement sur place’, ek vertaal dit in Afrikaans as kleitrap.” Dis ‘n beeld waarmee mens inderdaad filosofies op loop kan gaan. Mens kan Plato se filosofiese taak beskryf as kleiosse bou; Derrida s’n as kleitrap; Foucault s’n as kleilat gooi… Help my, ons kan die hele filosofiese tradisie kleikry op hierdie manier.

  21. Maria Snyman :

    Vanaf die plattelandse poskantoortjie (naby aan moontlik die oudste impakkrater op die aardbol, tussen Vryburg en Mahikeng, sien Nick Norman 2013: 216) “Maria Snyman” – verskoon die stowwerigheid (die beginsel van stof heers hier, die onlangse goeie buie is ‘n uitsondering op die reël) en verweerde tralies, die mense hier kry nie baie pos en pakkies nie, dis maar ‘n armsalige gemeenskappie die (dalk jok ek en is ek net ‘n slegte bestuurder) – in Derrida se (nuwe) internasionale possisteem:

    Om my verwysing na Joan se herinnering aan Opperman se “ken jou tradisie” op meer presiese (dog palintropiese) premisse met Derrida se projek in verband te bring, bied ek hier ‘n aanhaling uit ‘n toespraak van Sean Gaston wat hy later ook in sy (lekkerlees) boek Starting With Derrida: Plato, Aristotle and Hegel (London and New York: Continuum, 2007) verwerk het. Die bron van hierdie aanhaling is http://bura.brunel.ac.uk/bitstream/2438/4093/1/Fulltext.pdf waar die res van Gaston se (nie oral ewe maklike) toespraak gelees kan word.

    Gaston vertel:

    “On 2 October 1994, Derrida participated in a discussion to mark the opening of a new doctoral programme in the philosophy department at the University of Villanova. On two occasions he tells his audience that the next day his latest work, Politics of Friendship, will be published in Paris: it is the day before the politics of friendship. Derrida goes on to say that his new work is ‘mainly a book on Plato and Aristotle’ and adds, ‘I think we need to read them again and again and I feel that, however old I am, I am on the threshold of reading Plato and Aristotle. I love them and I feel I have to start again and again and again. It is a task which is in front of me, before me’. Derrida reiterates not once but five times that when it comes to Plato and Aristotle one must start again – and again and again. At the same time, in Of Spirit Derrida had also insisted that ‘it is already too late, always too late’. One cannot, and must not, be beguiled by the possibility of a pure ‘recommencement’, by a ‘return’ that would ‘signify a new departure … or some degree zero’. It is always too late to start again.

    The gesture of starting again is itself already part of the tradition of metaphysics: metaphysics always starts again – and always with itself, with Plato and Aristotle.

    Some thirty years earlier in ‘Cogito and the History of Madness’, Derrida had already alluded to a turning back, to a backwards turn, that can be described neither simply as a starting again nor merely as a starting too late. From the start, he writes, we are presented with ‘the choice and division between the two ways separated by Parmenides in his poem, the way of the logos and the non-way, the labyrinth, the “palintrope” in which the logos is lost’.

    To start with and without Parmenides, with and without ontology, Derrida suggests, one must start with, be startled by, a palintrope, with a turning back that turns once more and always more than once – and loses the logos.

    It is this palintropic movement that Derrida evokes in ‘Force and Signification’ when he argues that phenomenology ‘leads Husserl back to Plato’, and in ‘The Pit and the Pyramid’, when he writes that Hegel ‘takes us back … to Aristotle’.

    In On Touching there is perhaps an unavoidable history of palintropes, as ‘the history of the departures from totality’, in Derrida’s reading of Aristotle’s De Anima, On the Soul.

    These histories of ‘tropological play’, as he calls them, these improprieties of the proper sense, these meetings or duels, these rencontres between the senses, are unavoidable in trying to reach (toucher) On Touching – Jean-Luc Nancy (205). (…)”

    As dit u nie raak nie, laat weet maar, die poskantoortjie is oop al lyk hy soms toe soos die rommel teen die deure ophoop – en ek is regtig al baie moeg om “penis enlargement” aanplakkertjies af te was, die goed walg my werklik.

  22. Andries Bezuidenhout :

    Freud – kleiserig?

  23. Buiteblaf Breytenbach :

    Iemand stuur vanoggend vir my hierdie diep gedagte: You can say lots of bad things about pedophiles but at least they drive
    slowly past schools. Soos die taaivloeibaarheid van kleipraat maar maak moes ek toe dink aan Oom Martin (“Klip & Klei & Kakiebos”) wat daar doer in die naghemel tuur en sê: “Nou ve’lang ek darem na kleikjenners wat ek nog nout ontmoet het nie.” En so van die os op die tuniek, al is my verwysingswêreld so toe soos ‘n kleios se denkorgaan, onthou ek toe onvermybaar hoe Mao Tsedong die filosooilike wêreld geruk het met die oerspranklikheid van sy denke ( Mao: “Good morning!” – dis in sy Rooi Boekie). Wat my toe (k)lei na die dame in Seepunt wat by die dienders gekla het oor die obsiene spektakel van naakte manlyke sonaanbidders op die rotse van Graaff se poel, en toe die poelieste na ondersoek niks vanuit haar venster oorkant die muur kon sien nie hoe sy toe uitwys jy sien dit wel as jy op die tafel klim. En daarvandaan vat my gedagtes my toe na Oom Izak wie se ghrêmmer teen dusketyd verklei het by die wankelklankende geraas van die lintwurms.. Berge bedek ons… “O vrinne, kan kleipraat hoër syg en ons nie van die tafel val nie?”

  24. Desmond :

    Mooi een, Andries. Dit herinner my nou ook aan Lacan se teorie van die ‘klei objek a’.

  25. Louis Esterhuizen :

    Liewe hel, Buiteblaf. Lanklaas het ek so gelag soos na jou kommentaar. En vir my met my dopamien-tekort na ek ophou rook het, is dit ‘n enorme prestasie, glo my. Maar oor die ter saaklikheid daarvan gaan ek my nie uitlaat nie. Ek HOU immers van Maria se standpunt.

  26. wysneus :

    Al is Breytenblaf Buitedacht verkeerd oor amper als (dit is, dink anders daaroor as nederige ekke), verknies ek my in sy opmerkings. Ek reken dis die streng germaanse aardsheid.

    Wasige romaanse woorwol maak derridaanse en fôkoltiese gebrabbel moontlik. Op suiwer afrika-ans sal dit klink na die kakpraat wat dit is.

    Byvoorbeeld, nie “dekonstruksie” nie; afbreek. Nie “dekonstruktiewe diskoers” nie; woorde wat afbreek. Maak dit nie die doel en gevolge van die afbreek-kunde helder nie. In ons afgebreekte samelewing kan ons slegs ironies en/of smalend sê dat iets goed is of waar is of mooi is of rein is of heilig is, of dat ek lief is vir jou.

  27. wysneus :

    Al is Breytenblaf Buitedacht verkeerd oor amper als (dit is, hy dink anders daaroor as nederige ekke), verknies ek my in sy opmerkings. Ek reken dis die streng germaanse aardsheid.

    Wasige romaanse woordwol maak derridaanse en fôkoltiese gebrabbel moontlik. Op suiwer afrika-ans sal dit klink na die kakpraat wat dit is.

    Byvoorbeeld, nie “dekonstruksie” nie; afbreek. Nie “dekonstruktiewe diskoers” nie; woorde wat afbreek. Maak dit nie die doel en gevolge van die afbreek-kunde helder nie. In ons afgebreekte samelewing kan ons slegs ironies en/of smalend sê dat iets goed is of waar is of mooi is of rein is of heilig is, of dat ek lief is vir jou.

  28. Desmond :

    Baie mense gooi name soos ‘Derrida’ rond as ‘n soort BA partytjietruuk, maar duidelik ken Maria sy werk van binne uit. Hy’s beslis ‘n opwindende leser van skrywers soos Kafka, Genet, Beckett, Bataille… en die vreemde eksperimente met outobiografiese skryf later in sy lewe is fassinerend. Nee wat, dis maklik om grappies te maak oor die kultus van poststrukturalisme, maar agter dit alles skuil daar tog ‘n fassinerende skrywer.

  29. Desmond :

    Ek weet darem nie… as jy Derrida op een punt van ‘n kontinuum plaas en een of ander analitiese Oxfordfilosoof op die ander punt, dan dink ek BB se filosofiese / beskoulike tekste neig, stilisties en tematies, in die Derrida-rigting eerder as in die ander. Daai Afrika-ans val nie so maklik in suiwerheid se strik nie…

  30. Leon Retief :

    Daniel Dennett skryf in een van sy boeke dat John Searle aan hom vertel het dat hy wat Searle is eenkeer aan Foucault gevra het waarom sy geskrifte dan soveel wasige woordwol (dankie Wysneus) bevat terwyl hy so maklik verstaanbaar is in persoonlike gesprek. Foucault antwoord toe dat sowat 25% van wat mens ook al skryf sulke wasige woordwollery (ek dink Foucault het die woord “nonsense” gebruik) moet bevat voordat dit ernstig opgeneem sal word deur Franse filosowe. Ek sou die persentasie op ietwat hoër as 25% skat, gee my liewer iemand van Oxford. Of, in die woorde van my oorlede swaer wat geweet het waarvan hy praat as dit by sulke dinge kom: bullshit baffles brains. (Koes en hardloop :-)

  31. Desmond :

    Leon, Foucault het inderdaad daardie kwytgeraak, en sy onderhoude, lesings en latere geskrifte het weggebeur van die obskurantisme van sommige van sy vroeere geskrifte. Hy was goeie vriende met Searle, terwyl Searle en Derrida groot vyande was. Dit bewys niks, maar darem dit: die idee dat daar iets is soos ‘Franse teorie / filosofie’ het meer te make met akademiese modes en bemarkingsfoefies in die VSA as met wat werklik post-WO2 in Parys aangegaan het. Daar was en is baie diversiteit en iemand soos Foucault is inderdaad nader aan Searle as aan Derrida, ten spyte van die verpakking en uitvoer van ‘poststrukturalisme’ asof al hierdie ouens wat by die ENS gestudeer het, met dieselfde intellektuele projek besig was.

    Derrida kan soms irriterend wollerig wees, en daar is plek vir analitiese helderheid in die filosofie. Tog word die ‘obskurantisme’ argument word soms ook te maklik ingespan. Op sy beste wys Derrida mens op die o”everblindery van die Westerse filosofiese tradisie, wat juis berus op sekere aannames oor die deursigtigheid, nie-materialiteit en blote funksionaliteit van taal… Ek s^e ‘op sy beste’, want daar is baie huff & puff en Derrida was nie ‘n onskuldige slagoffer van die dekontruksiekultus aan veral Amerikaanse universiteite nie. Ek probeer hom nie verdedig nie; ek is nie ‘n Derridiaan nie. Maar as hy minder interessant is as wat sy dissipels voorgee, is hy beslis meer interessant en beduidend as skrywer as wat sekere neerbuigende, selftevrede Oxfordfilosowe bereid is om toe te gee!

  32. Leon Retief :

    Desmond, Foucault se tong was sekerlik stewig in sy kies toe hy die opmerking gemaak het maar many a true word is spoken in jest. Natuurlik was daar baie diversiteit, ek besef dit al te goed, en nie als wat Derrida kwytgeraak het was nonsens nie, maar baie (na my mening) was. En dan praat ek nie eers van ander sogenaamde kontinentale filosowe nie. Of dan ten minste daardie geskrifte wat ek wel gelees het, laat my dadelik byvoeg dat ek nie in staat is om ‘n mening te gee or wat hulle als oor letterkunde geskryf het nie, vir al wat ek weet is dit heeltemal sinvol. Ek het maar Oxford genoem omdat jy Derrida en Oxford-filosowe teen mekaar gestel het, as ek nou moet kies sal ek maar koers kies na Engeland maar self sit ek in geen kamp nie. Ek dink ons moet maar ooreenkom om te verskil. .

  33. Leon Retief :

    Ek het ‘n smiley aan die einde van my vorige boodskap gesit, om een of ander rede wou dit nie deurkom nie, so kom ek probeer weer: 🙂

  34. Desmond :

    Leon, ek het juis gesit en dink, die enigste Foucault waarmee ek jou tevrede gaan stel is jou naamsgenoot, Leon Foucault… 🙂

  35. Leon Retief :

    Nie te ver verkeerd nie Desmond! En dat verskyn sy naam darem ook in ‘n bekende roman. Ek antwoord nou eers (op jou en Maria) omdat ek meeste van die dag soos ‘n spreekwoordelike couch potato gesit en kyk het na die Winter Olimpiese Spele, met die dat die F1 sirkus eers in Maart begin is dit al sport waarna ek kan kyk. Die ski, toboggan en snowboarding is ongelooflik. Die lewe begin by 200 km/h!

  36. Desmond :

    ‘n Vreemde ding het met my gebeur. Ek was in ‘n winkelsentrum in Parow en sien Eco se Foucault’s Pendulum in een van daardie Bargain Books winkels vir spotgoedkoop. Ek koop dit summier, maar toe ek by die huis kom en wil lees, sien ek hulle het die Deense vertaling aan my verkoop…

  37. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, as mens Afrikaans, Duits en Engels ken, is Deens kinderspeletjies! Die Deens vir “frikkadelle” is “frikkadelle”, maar ek weet nie of daar juis frikkadelle in “Foucault’s Pendulum” is nie.

  38. Leon Retief :

    Desmond, sulke dinge gebeur. My vrou Lesli koop nou die dag ‘n e-boek en toe sy dit wou lees is dit in (skynbaar) Roemeens of so iets – mens kon nie aan die titel sien dat dit nie Engels was nie.

  39. Maria Snyman :

    Oeps, kom ek nou op ‘n ou deur-die-papier-deurgeleesde moment in Derrida se teks Che cos’è la poesia? (“What is poetry?”) af. Ek het hierdie moment nooit bemeester nie en daar is steeds dowwe kolle (ek sien twee woorde, en dan drie??) in hierdie klein stukkie teks. Maar so begin ek ‘n begrip kry vir Mnr Genadeloos-met-Twakpraat Breytenbach se hérissonale horries oor sekere my opmerkings. Dit hou verband met Opperman se opdrag dat jy jou tradisie moet ken.

    Derrida antwoord die vraag oor wat in poësie en verwys na ‘n ellips (die herhaling van die filosofiese sirkel laat dit wankel en ‘n ellips of “undecidable” word – daar is dus nou twee punte, soos … Derrida is soms ‘n sekere dyk, sloot, damwal of lawamuur, d.w.s. ‘n dame wat ander dames be-wond-er, so by so dat hy hulle name verkrag, Levinas maak hy sommer EL (hoor elle) – hy meen “it (elle) will have been obligated” – sjoe, dit is nou vir jou geweld en metafisika gemeng op ‘n ongehoorde etiese vlak, suiwer dierlikheid, absoluut animaal!). Derrida se antwoord (uiteindelik):

    “In order to respond in two words: ellipses, for example, or election, heart, hérisson, or istrice, you will have to disable memory, disarm culture, know how to forget knowledge, set fire to the library of poetics. The unicity of the poem depends on this condition. You must celebrate, you have to commemorate amnesia, savagery, (…)”

    Opperman se opdrag dat jy jou tradisie moet ken word dus geproblematiseer as dit by die gedugte digkuns kom. G’n wonder Mnr G-met-T Breytenbach is nie beïndruk met diep (filosofiese/intertekstuele) lesings nie. Hy skryf immers – en ek wou dit al op Wisselkaarten se “Leve de poëzie! Waar blijft de kritiek?” blog geplaas het, maar het toe uitgehoender om eers dieper daaroor te dink en waarvoor ek geskryf en Mnr BB aangehaal het:

    Dalk is kritiek ‘n te langdradige (*)rol teks in die vinnige tye van vandag en het ons dalk uiteindelik die epog (of “untimely time”) bereik van die korter en kragtiger (op die man af?!) teks van die gedig.

    In die windvanger (pp.14-5) gee Mnr Genadeloos-met-Twak (Goedso!) Breytenbach ‘n mens ‘n ANDER rede vir die krisis in kritiek oor digkuns. Dit inderdaad in ‘n langerige gedig, maar die sinne is kort en kragtig en hy praat reguit, en wat, as ek reg lees, verstaan as dat die digter nie ‘n hond wil wees nie, d.w.s. nie “‘n vriend” wil hê “wat agter hom aanloop / met sak of met blik” nie. Ons merk ook dat die digter meer vrylik humoristies en vrolik vulgêr mag wees, die lewe/dood meer getrou op die “bladsy” kan “laat dryf”. Wie het nou kritiek daarop nodig? Mnr Buitensporige Breytenbach skryf bondig, dog lank en lekker uitgerek:

    18
    die kat krap toe
    die mens trek ketting
    as hy opstaan van die ketel
    visse doen dit diskreet
    in die see
    die vlieg is geheel
    sy eie stront
    meeste voëls tjorts
    bondig ‘n vlugverslag
    net die hond
    het ‘n vriend
    wat agter hom aanloop
    met sak of met blik
    dan blaf hy nog ook
    van weldadigheid

    nou sê jy vriend
    jy wil my pennevrug bestudéér
    nee asseblief néé
    dit was gekraam vir die lees
    om weggegooi te word
    en die mond weltevrete af te vee

    al wat ek wou hê
    was om vir hierdie oomblik
    my hand op die skaam land
    van jou bors te lê
    en te luister
    wat jou hart in die blik
    onderpols vir my sê

    ontlasting is om die dood
    uit die lyf te skryf
    die donker engel se versuipte lyf
    in die spieël
    van die bladsy
    te laat dryf

    Ons is terug by die idee van ‘n “lyflose stem” – “Als van die woord wálg / het sy verstaan” – die stem is die dubbelsinnige dood, dit moet “uit die lyf” gedryf/skryf word. Ons moet nie agter woorde skuil nie, ons moet by die werklikheid uitkom! Het Mnr Kant nie kant-en-klaar gemaak met hierdie onoorbrugbare gaping of dis-tansie nie. Mnr Jantjie Deur-mekaar-praat daag ons uit om ons distansie van distansie te behou, soos van sekere vroue met vagina dentata. Hoe? Hoe dan so? Dis dan ‘n duiselingswekkende idee!

    Ek hoop hierdie skrywe getuig van ‘n erotiese ellips wat (ge)reg(tigheid) aan Joan se gedig laat geskied. “maria” spook by my, dalk is ek gevoedoe daardeur, dalk is Joan Callas, ‘n “Griekse tragedie”, ‘n genre/generasie/geskenk wat bly dryf. ‘n Diva!

    Wat my dus ‘n prime donne maak – vergelyk die (on)weerstaanbare Wikipedia.