Christine Barkhuizen le Roux. Twee gedigte (nogtans; Meiringspoort)

nogtans                    

                                             

een oggend sal ek opstaan

die son sal flouer skyn

die luggie in die populierboombos

stiller nog stiller roer

die blare nie meer handeklap

 

die dam se dyk het oopgebreek

die water weggeloop oornag

en in die modderslik en kweek

onkant gevang verstrik versmoor

lê ‘n dooie skilpad omgedop

 

tog sal jy bly in elke weet

waarop my ore oë tong en neus

‘n vinger nog kan lê

die vuurklippe se skittering

laatskemer se lou net-nog lig

 

*

 

 

Meiringspoort

                  

hasejag

rietbos grys winterpopulier

blaarloos blomnek en varkenskraal

seepwater

geel rots

skelmkloofdrif

watter boer het hier

so skuwerig rondgeloer?

aalwyndrif

dubbele drif

steweldrif

sanddrif

hemelklip

na al die drif

‘n sprinkel  hoop liefde geloof  

maar die lewe spoed voort op galop

witperdedrif

ou tol

wadrif

witfonteindrif

uitspan!

watervaldrif

ontploffingsdrif

gerolms

rooi uitspanningsdrif

respyt van die groot gedruis

die klip van die dinamietslag

tot by die vrugteboord

waar ‘n man ‘n vrou sag soen

pereboomdrif

bloupunt

opmetingsdrif

laaste drif

daar kom ‘n end

aan waar die water loop

of lankal droog staan teen die rif

ek sif die son

ek hou die lig

 

© Christine Le Roux / 2014

                   

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.