Joan Hambidge. Philip Seymour Hoffman R.I.P.

Philip Seymour Hoffman R.I.P.

 

Wie sou ooit kon raai

dat jý weerloos gevind

sou word met ‘n naald,

prikkende slang

om jou arm gedraai?

 

Of dat jy voete eerste

by jou rykmansapartment

nie die pers sou kon systap?

 

Jy was immers berug

om (self)konfrontasie,

besoeke aan ‘n rehab

om ‘n reputasie te red.

 

Die talentvolle Meneer Ripley

ruk jy aan stukke – hierna maak hy

van jou ‘n voetskrif;

in die laaste kwartet kyk jy

lodderoog in ‘n spieël

met ruwe wenkbroue

agterdogtig en slu.

 

Jy word telkens jou karakter:

lispelende, psigopatiese

Truman Capote

trap jy fyn fyn

na in die spoor.

 

Waar begin jy

en eindig hy?

 

Lewe, weet ons,

behels meer as boogie nights,

roem of faam ‘n blote sinekdogee.

As kind vertolk jy

Hompie Kedompie

en in die voetspore

van die grotes sou

jy gewis kon volg

met ‘n King Lear of ‘n Richard III.

 

Nou net jou ryk of nalatenskap

vir ‘n high of ‘n score:

“A horse, a horse, my kingdom for a horse!”

 

Verslawing ‘n blote benoeming

vir die beste ondersteunende akteur;

na die derde keer

genadeloos,

‘n laaste Oscar

oorhandig

sonder bedankingstoespraak

of applous.

 

 

© Joan Hambidge / 2014

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Joan Hambidge. Philip Seymour Hoffman R.I.P.”

  1. Maria Snyman :

    Tom Junod skryf in sy artikel getiteld “Philip Seymour Hoffman’s Final Secret” met die inleidende opmerking “The cost of holding up a mirror to those who could barely stand to look at themselves”:

    “The great character actors are now the actors whose work has the element of ritual sacrifice once claimed by the DeNiros of the world, as well as the element of danger— the actors who thrill us by going for broke. It should be no surprise when, occasionally, they break, or turn out to be broken. RIP.”

    Ek dink alliterend aan Rimbaud. Ek hou ook baie van die volgende opmerking:

    “That’s what I thought, anyway — in reading the early reports of his death, I was surprised that he’d battled the demon of addiction, because I’d always confused Hoffman’s mastery with detachment, and assumed that he had lived by Flaubert’s charge to live an orderly life so that he could be violent and original in his work.”

    Die volgende laat my dink aan Heidegger wat horries gekry het oor die uitwissing van die verskil tussen Wese (Sein) en wesens/om te wees (net om ‘n magdom van verskille te hand-haaf, en dit met twee hande) – “The oblivion of Being is oblivion of the distinction between Being and beings” – Junod se skrywe bring ‘n sekere luisterryke (on)heilsame verwarring* mee:

    “The line between character actors and movie stars is being erased — in art, anyway, if not in life. In life, it’s different, because the “movie star” remains not just the product of looks and charm, but also a kind of social construct, with very distinct social obligations.”

    Die asemrowende spel van “pure and interminable disquietude of thought striving to “reduce” Difference” by going beyond factual infinity toward the infinity of its sense and value, i.e., while maintaining Difference.” (Derrida (Leavey, Jr. vertaler) 1989:153)

    Dankie Joan, ek begin nou werklik ‘n smaak vir jou gedigte kry (liewer laat as nooit). Jy maak dit o.a. ook vir my moontlik om my Derrida-beduiwelde diskoers op te saal en te ry (“mount”) – “A horse, a horse, my kingdom for a horse!” – om hopelik so my eie stem te vind. Ek hoop jy interpreteer dit as ‘n poging om “in die voetspore van [‘n] grote(…)” te volg.

    “Waar begin jy / en eindig hy?”
    In hierdie gedig maak jy soos in jou ander gedigte oor sterre, jy VERVREEM die onverskillige verskil van apartheid.
    “Jy word telkens jou karakter: (…) trap jy fyn fyn / na in die spoor.”

    Skryf (wat jy natuurlik reeds doen, in ‘n sekere “overdose” mate – maar soos JD sal sê, daar is overdose en overdose)! Jy laat my begin sing! Per dalks soos ‘n kokaaid kraai, maar in die waai van ‘n boom of been of monster gebeur dinge wat verwoord wil en moet word.

    daar is baie baie mooi
    belewenisse in die wêreld
    en meeste van hulle het
    ‘n snytjie tussen die bene
    (…)

    Breytenbach (2007:23)

    Ek sluit af met die magtige motto wat Breyten voor sy gedig “die geslote boek” in die windvanger geplaas het en dit o.a. met die doel om die leser soontoe te stuur:

    (“the wrench of parting with consciousness
    is unspeakably repulsive” – Vladimir Nabakov)

    Bron van Junod se artikel: http://www.esquire.com/blogs/culture/hoffman-junod

    *Die filosoof, metafisiese (s’entendre parler), post-strukturalistiese en analitiese denker, soos die man op straat (”in life”) onderhou (maintain) die verskil, maar in die Griekse (diapherein) vorm en nie in die Latynse vorm wat ook kennis neem van die uitstel wat deur verskil geïmpliseer word – “to differ is to defer” – “maintaining Difference” “while maintaining” “to talk, live, love and murder” en “overdose too”. ‘n (Empiriese, analitiese, “in your face” (lees Levinas)) malheid!

  2. Andries Bezuidenhout :

    “Synecdoche New York” is een van daai wilde, wildvreemde flieks wat mens weer wil sien. Ek is bly Joan verwys daarna. Dis jammer dat soveel van diegene wat oor sy lewe skryf dit ignoreer. “Happiness” ook.

  3. Joan Hambidge :

    Andries, ‘n gedig dikteer natuurlik presies waarna ‘n mens kan en mag verwys. Die afwesigheid van “Happiness” (ofskoon ‘n uiters ironiese titel) word deur die gedig gesuggereer; nes die horse nou staan vir die dwelms…
    ‘n Mens besef uit al die reaksies dat hy as akteur in beheer was, terwyl sy lewe kennelik chaoties was. Sy dood is ‘n groot verlies en ek is tans besig om al die hoogtepunte weer te bekyk.

  4. Andries Bezuidenhout :

    Joan, ek weet nie of ek die moed het om “Happiness” weer te kyk nie. Dis uitstekend, maar sjoe! Dis te rou, dis te rou…

  5. Joan Hambidge :

    Andries, ek het dit gisteraand weer gekyk. Wat ‘n film: puik spel en ‘n kompromislose ontginning van eensaamheid. Elke karakter in die film is afgesluit in sy / haar ellende. Ek kyk nou al sy bestes weer.

  6. […] Lees verder: Versindaba […]

  7. Desmond :

    Joan en Andries, Hoffman het ‘n paar jaar terug die hoofrol gespeel in die enigste rolprent waarvoor hy self ook die regie behartig het – ek dink die titel was Jack Goes Boating. Lou ontvangs gekry, maar ek het dit regtig ontroerend gevind, en sy spel oudergewoonte briljant.

  8. Andries Bezuidenhout :

    Nog nie gesien nie, Desmond. Sal beslis ‘n plan maak.

  9. Desmond :

    Andries, jy’t seker The Savages gesien?

  10. Leon Retief :
  11. Joan Hambidge :

    “The savages” is puik in sy metakommentaar oor die drama wat ons sien gebeur en die suster se opgevoerde drama teen die einde van die film. Kragtige vertolking van PSH veral waar hy die suster tot leuenaar verklaar.

  12. Andries Bezuidenhout :

    Daar’s my Harry Potter movie naweek daarmee heen! Ek gaan moet opvang met my Hoffmans.

  13. Desmond :

    Leon, dankie vir die skakel. Baie goed!