Christine Barkhuizen le Roux. Twee gedigte (vir M; talodomide)

vir M                  

 

onthou jy die linoleum tapyt

die middagslape warm in ouma se ouhuis

die gang die kamers weerskant uitgewyk

die ouma-oupa slaapkamer die dubbelbed

 

onthou jy die wegsluip in die hitte

om so ‘n Sondagmiddag te ontwyk

en oupa in sy onderbroek opsoek

na kleinkinders se wegsteekplek

 

onthou jy druifsap in die korrels ryp

die Boland met sy ondergrond

vieruur se koffie tee en koekies

die soet vergoed vir sy vergryp

 

 *

 

talodomide

                  

kan jy op tagtig Ma nog uit

daardie skouers stug en stomp

mutasies van ‘n moeder

geërf met gene en verledes

arms hande vingers laat spruit

 

sal jy my op jou skoot kan tel

soos nooit tevore ooit

my kan laat drink tot barstens toe

uit ‘n geslote en verborge bron

voordat ‘n laaste skade vel

 

of moet ek hierdie lang verlang

uit God se wil uit wrik

met ‘n gebrekkige gebed

sodat ek nog ‘n óns kan red        

– die donker dring en ek is bang

 

 

© Christine Le Roux / 2014

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Christine Barkhuizen le Roux. Twee gedigte (vir M; talodomide)”

  1. Maria Snyman :

    Talodomide – goeie genugtig! Via die gedig leer ek nou daarvan op Wikipedia! Die lewe en sy vreeslike verrassings darem!