Carina van der Walt. Blauwe hemel – verhaal van ‘n gewone man

 

Danie Marais. Hoe ’n gewone man is hy? Dis ’n moeilike vraag om te beantwoord. Hy is in elk geval ongewoon genoeg om onwetend as inspirasie te kon dien vir ’n splinternuwe Nederlandse digbundel. Marais is die hoofkarakter in Blauwe hemel van Kreek Daey Ouwens. Blauwe hemel (Wereldbibliotheek) is op 30 Januarie tydens Gedichtendag 2014 saam met nege ander digbundels in Amsterdam bekend gestel. Onder die tien eregaste was twee digters uit Afrikaanse kringe: Alfred Schaffer met Mens Dier Ding (De Bezige Bij) en Marlene van Niekerk met Kaar (Human & Rousseau). Die enigste debutant was Hannah van Wieringa met Hier kijken we naar (De Harmonie). Haar blomryke taalgebruik het die volgepakte saal beïndruk, maar dit was veral Daey Ouwens en die Vlaming Geert Buelens (met Thuis by Ambo/Anthos) wat met hulle gestroopte antwoorde en skerp opmerkings die vol saal in die holte van hulle hande gehad het.

 

Hanneke Groenteman het ’n paar vrae aan elke digter gestel. Dis blykbaar moeilik om digters oor hulle werk uit te vra. Daarom het Groenteman ‘n persoonlike vraag vir Daey Ouwens gestel:

 

Is u ’n swaarmoedige tipe mens?

“Dat ben ik helemaal niet.”

 

of aan Buelens:

‘n Gedig is so moeilik. Daar is so baie wat mens daaruit kan haal. Hoe kyk u na u gedigte?

“Nou, dat vind ik fijn voor u. Kijk u maar.”

 

Dat Daey Ouwens nie ‘n pessimistiese geaardheid het nie, kan ek bevestig. Dit is die waan van die dag om die sfeer wat ’n bundel adem, uit te haal en dit dan om die digter se nek te hang. Gelukkig het Groenteman nie vir Daey Ouwens gevra waar sy haar karakters kry nie. Daey Ouwens het Marais in 2007 tydens Poetry International in Rotterdam ontmoet. Hulle het albei doodsbenoud langs mekaar gesit en wag vir hulle voordragbeurte. Toe het hy homself aan haar voorgestel. Die saadjie vir Blauwe hemel is geplant, maar eers moes ’n ander bundel daaroor groei. Daey Ouwens se De achterkant (Querido) was in 2009 genomineer vir die VSB-poësieprys. Die sfeer wat haar werk oproep is loodswaar, laat jou as leser geen ruimte toe nie, gryp jou aan de keel en wurg jou. Daarteenoor is die bladsye in haar bundels redelik kaal. Wat so besonder was aan De Achterkant is dat alles uit die perspektief van ’n dogtertjie vertel is. Die dogtertjie staan tussen haar twee sussies en sien al die ellende van hulle gesinslewe raak en speel doodgaan-doodgaan.

 

Dieselfde loodsware sfeer kom voor in die ongelukkige huwelik van meneer Danie in Blauwe hemel. Hy lewe uitsigloos van dag tot dag saam met mevrou Danie en haar kat. Eens op ’n tyd was daar ook ’n kind, wat doodgegaan het. En dan is daar die kassier Larissa, oor wie hy dagdroom, met wie hy in  sy gedagtes praat en vir wie hy briewe skryf. Die kontoere van ’n beknellende getroude lewe golf dwarsdeur die bundel in terugkerende beskrywings van suurlemoene, ’n kam, anemone, drome, ’n silwer lepel en meneer Danie se dwangmatige gedrag om strepe te tel. Die “gedigte” is sonder titels. Dit is eerder stukkies poëtiese taal met alles daarin wat van ’n teks ’n gedig maak. Die baie wit op elke bladsy kompenseer miskien vir die swaarte agter die woorde. Hier is die eerste brief aan Larissa (p.7):

 

Mijn Larissa,

 

Gisteren waaide een zachte wind, een wind

die ik van vroeger ken. Vroeger was alles

zacht, Larissa. De regen plakte mijn haren

tegen mijn voorhoofd, in mijn nek, tegen

mijn ogen. De wind blies mijn wangen droog.

In de wolken zag ik vriendelijke gezichten.

Nu striemt de regen tegen de ramen, als om

me de schrik op het lijf te jagen. Ik zit

aan mijn bureau. Op mijn schoot ligt de

kat. In geen jaren is een vrouw zo dicht

bij me geweest als vanavond de kat. Als ik

opsta, om iets te drinken te halen, blijft

ze liggen op de warme plek die ik achterliet.

 

Na die brief vir Larissa volg op die volgende bladsy net:

 

Mijn naam is Danie.

Ik woon mijn leven lang in hetzelfde huis.

Ik ben moe en trillerig en bekaf.

 

Die res van die bladsy is skoon. Hierdie naamlose inleiding van die digbundel het nog twee tekste:

 

Mevrouw Danie ademt als een vogeltje.

Ik koop citroenen, die zwaar zijn als ijzer.

Ik heb een droom.

Ik droom dat ik met een jonge vrouw ben. Ik zal niet met ze zijn.

Ik houd van vrouwen, die ouder worden.

Ik houd van hun blik. De manier waarop ze zitten.

We dansen over een vloer, die dof is als hun huid.

We fluisteren: ‘Lieveling.’

 

.

 

Er kan net zo goed een hemel boven mijn hoofd zijn

in plaats van een plafon.

 

Blauwe hemel bestaan uit vyftien onderdele, waarvan die langste deel die naam Bestaat niet het. Daarvoor kom Liefde. Dis een van die kortste dele. Lees die twee titels saam en jy kry ’n idee waaroor die bundel gaan. Die poësieleser wat soos ’n speurhond agter die name van die afdelings, agter mooi beelde en die musikaliteit in die taal, agter die briewe vir en gesprekke met Larissa en agter die talle wyse uitsprake aanlees, word oorbluf deur die meesterlike komposisie van hierdie bundel. Die sewende teks in Bestaat niet op p. 63, lui so:

 

Meneer Danie loopt achter zijn adem,

hij grijpt ernaar met zijn hand. Hij

krijgt hem niet te pakken, Hij klampt

zich vast aan een lantaarnpaal.

“Je moet toch niet meer zo lang weg-

blijven,’ zegt mevrouw Danie. ‘Daar

ben je te oud voor’ Dan vraagt

ze: ‘Wat zullen we eten vandaag?’

‘Wat je wil.’ antwoord meneer Danie.

Alle dagen moet er eten worden gemaakt

en afgezien van de groeten is het

alle dagen ongeveer hetzelfde. Liefde bestaat

niet.

 

Die kortste poëtiese teks in die bundel staan op die volgende bladsy:

 

Niet.

 

Mevrou Danie is die verwaarloosde huisvrou. Sy is die laspos wat meneer Danie se dagdrome met eenvoudige vrae en praktiese takies (soos om ’n gloeilamp te vervang) onderbreek. Sy dring nooit tot hom deur nie. Hy dink:

 

Wat maakt het uit wat ik doe.

Vraag me wat ik denk.

 

Vir Daey Ouwens is die volgende woorde ’n soort mantra. Sy sal dit in elke bundel wil gebruik. Dit lyk ook asof sy met elke klik ’n nuwe verhaallyn kan skep, maar die beklemmende angs, wanhoop en swaarmoedigheid is ‘n deurlopende onderdeel daarvan.

 

Klik. We draaien rond de wereld.

We vallen.

We staan op.

We zijn samen.

 

Daey Ouwens se styl word vergelyk met die debuutbundel van die Vlaamse skrywer, Charles Ducal. Ducal se Het huwelijk (1987) is ’n siniese relaas oor de getroude lewe in ‘n strak vorm en met Bybelse verwysings. In Blauwe hemel ontbreek die Bybelse verwysings. Daey Ouwens se meneer Danie herinner my ook aan John Lancester se roman Mister Philips (2000) – oor ’n onbeduidende mannetjie wat sy werk verloor het en dit dan vir sy vrou wegsteek deur in sy kantoorure deur die strate van London te gaan dwaal. Meneer Danie doen ook niks behalwe dagdroom oor Larissa nie. Sy lewe gaan elke dag sy doodgewone gang. Nie ek of Daey Ouwens weet hoe lyk die Afrikaanse digter Danie Marais se lewe nie, maar die literêre karakter meneer Danie doen sy naam ’n groot eer aan. Dit is ’n briljant gekonstrueerde bundel in fynsinnige taal.

Kreek Daey Ouwens lees voor uit De Achterkant by Literaire Salon in’t Wevershuisje, Junie 2013

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Carina van der Walt. Blauwe hemel – verhaal van ‘n gewone man”

  1. Maria Snyman :

    Goeie resensie, Carina. Blauwe hemel klink heerlik (on)heilsaam, fassinerende voorblad. Sal dit graag van voor tot agter wil deurlees om die “swaarmoedige” verhaallyn meer volledig te voel.

  2. carina van der walt :

    Dankie Maria. Die omslagillustrasie is deur Elly Strik: “String in Blue”(2010).

  3. Maria Snyman :

    Baie dankie vir die verwysing na Strik se werk, Carina. Ek hou daarvan en ek dink ek weet hoekom: ek dink ek is vir ewig getraumatiseer deur Ina Rousseau se gedig “Broderie anglaise” waarin ons, benewens die lieflike ligte kosmiese skaal, onder andere ook die rowwe aardse reël naamlik “Die ruwe rafelrande” teëkom. Daniel Hugo beskryf hierdie gedig as een van die mooiste huweliksgedigte en gesien dat ons te doene het met ‘n Meneer en Mevrou Danie plaas ek Rousseau se gedig hier indien iemand dit nog nie gelees het nie – ek het dit al oneindig baie gelees:

    BRODERIE ANGLAISE Ina Rousseau

    Gaatjies, sinnelose leegtes
    Steek die stilet in die batis
    Belemmer laf die fyn planmatigheid
    Waarmee die dwars- en lengtedrade
    In mekaar geskakel is.
    Maar wees nie kwaad nie, want gewis
    Verskyn in hierdie stadium ‘n naald
    Wat met sy giswit dun sygaring
    Klein-klein-klein stekies begin vorm,
    Die ruwe rafelrande
    Tot gladde sirkeltjies omboor,
    Tot kransies witter wit op wit,
    Wit garingringetjies op wit batis,
    Wit nulletjies en hoepeltjies
    Wat ongemerk begin te dans:

    Om ringe groter ringe kring
    Groter ringe kleiner ringetjies,
    Waarom weer groter ringe kring,
    En nóg ‘n ring, en nóg ‘n ring,
    En nóg ‘n groot ring ringetjies,
    En dan die laaste soos ‘n wye kring
    Planete om die son.

    Soos ‘n kring plante om ‘n son
    Omring ‘n ring die middelring
    En uit die groter sirkel kring
    ‘n Tweede ring, ‘n derde ring,
    ‘n Vierde ring en dan nog sewe,
    Wat konsentries loskring uit mekaar
    En middelpuntvliedend na die wit
    Periferie uitswewe:

    Verruklik, soos ‘n silwerdoek,
    Begin die wit batis te lewe.

  4. theo rikken :

    Carina,

    Ik beheers het mooie Afrikaans niet goed.Kan het al helemaal niet schrijven. Daarom in het Nederlands.

    Het is een mooie recensie. Je maakt een mooi schilderij van Kreek.

    Haar onzekerheid, maar ook haar kracht om door middel van haar sterke en soms ook romantisch – of is het nostalgisch? – taalgebruik te overleven. Dat lees je, vooral als je haar wat beter kent, toch ook “door de letters heen van dit gedicht”( Leo Vroman).

  5. Nee gits, Maria ek het nooit ges^e “Broderie Anglaise” is ‘n huweliksgedig nie.

  6. Maria Snyman :

    Jammer, Daniel, jy het gesê “(i)n Taxa staan van die mooiste huweliksgedigte in ons taal” (in Die Stilmiddelpunt (2003) p. 12).

    Maar, is “Broderie Anglaise” as laaste gedig van Taxa nie die pièce de résistance nie?

    Vir my is “Broderie anglaise” deur en deur ’n huweliksgedig – die wit van broderie anglaise (ook gebruik vir onderklere), die “silwerdoek”, “verruklik”, die “Gaatjies, sinnelose leegtes / Steek die stilet in die batis*, / Belemmer laf die fyn planmatigheid” … “’n naald / Wat met sy giswit, dun sygaring / Klein-klein-klein stekies begin vorm, / Die ruwe rafelrande / Tot gladde sirkeltjies omboor,” en dan die kindertjies en kleinkindertjies?: “Wit nulletjies en hoepeltjies / Wat ongemerk begin te dans:”, die “[kinder]kransies witter wit op wit, / Wit garingringetjies op wit batis” … die heerlike, heilige, (on)heilsame gesin, geruk deur geluk en geweld … ?

    Die grens tussen die huwelikspaar en die astronomiese heelal word verwoes/verwikkeld gemaak, waar begin en eindig ’n gesin … .

    Dis ’n gedig wat gis – “gis” staan langs “wit” wat in die middel van strofe 1 staan … “En nóg ‘n ring, en nóg ‘n ring, / En nóg ‘n groot ring ringetjies, …”

    Wankelrige, wiskundige perfeksie – vier oneweredige strofes … “Begin die wit batis te lewe[[/bewe]]”!

    *“satyn” vervang “batis” in Die Stilmiddelpunt – katoen broderie anglaise het satyn broderie anglaise geword. Ek verkies die meer aardse katoenweergawe.

  7. carina van der walt :

    Terwyl ek Aprilmaand in SA was, het die volgende Nederlandse resensie oor “Blauwe hemel” op hierdie webwerf verskyn:
    http://fleursdumal.nl/index.php?s=kreek+daey+ouwens&x=0&y=0