Marlies Taljard. Dans met die Minotaurus

“Vir my is die Minotaurus die versinnebeelding van kreatiwiteit en die kunste. Hy is een van die basterkinders van die verbeelding. Maar die soektog na die Minotaurus is ʼn gevaarlike pad om te loop. Mý doelwit is nie om hom dood te maak of te keer dat hy my vermorsel nie, maar om met hom te dans. By die groot byeenkomste in antieke Kreta het die Grieke nié die bulle doodgemaak, soos later in Spanje nie. In teendeel, die Kretaanse akrobate het tussen die bulle se horings deur bolmakiesie geslaan en flink op hulle voete geland. Ek wil graag in daardie arena kuns skep en aanskou.”

Aldus Evette Weyers, bekende beeldhouer van Rooiels. Volgens haar word kunstenaars deur die kunste geïnspireer. Sy glo dat kuns die vermoë het om haar te aktiveer en om die kreatiwiteit en bewustheid in haar aan te wakker. In haar boek Wat die hart van vol is … skryf sy: “Ek het ʼn hele uitstalling gewy aan die saamdans van die kunste; hoe hulle mekaar beïnvloed en wat dit vir my beteken. My een beeld heet Dans met die Minotaurus. Dit is gebaseer op die bogenoemde legende uit Kreta. Die beeld spruit veral uit my liefde vir teater en waardering vir die genot, kennis en insig wat teater my dwarsdeur my lewe verskaf het.”

Soos dit met die poësie die geval is, wemel Weyers se werk eweneens van argetipiese simbole wat dikwels hulle oorsprong in die mitiese en letterkundige wêreld het. Na aanleiding van haar beeld Die aarde droom haar toekoms (sien afbeelding hierbo) sê sy: “Dit was ʼn letterkundige, eerder as ʼn visuele beeld …”

Omdat die wêreld vol onverklaarbare dinge is wat bokant die begrip of verstand van ons nietige mense is, vind veral kunstenaars dit nodig om simbole te gebruik om dié konsepte te representeer wat ondefinieerbaar is en “wat om die grense flikker van [ons] duister woorde”. Volgens Jungiaanse insigte is woorde of beelde simbole wanneer dit meer impliseer en ʼn wyer betekenis het as die ooglopende betekenis. Simbole het as’t ware ʼn onbewuste aspek aan hulle wat nooit presies gedefinieer kan word of ten volle verklaar kan word nie. Soos die intellek met die simbool omgaan, word die mens soms gelei na insigte wat nie deur middel van die rede verklaar kan word nie. Ons daaglikse lewe is gevul met simbole, soos die sirkel, die kruis, die vis, ensovoorts. Baie van hierdie simbole is eintlik argetipes wat met die kollektiewe onbewuste verbind kan word en wat deur alle eeue heen tot mense gespreek het. Juis weens hulle meerduidige en argetipiese aard, vorm simbole ʼn belangrike aspek van die poësie wat weens sy aard meerdimensionele betekenis genereer. Ook in die beeldhoukuns (en ander kunste) vervul simbole dié funksie.

Die bostaande beeld, Die vrou wat vrede droom, (‘n beeld wat in Hirosjima op die vredesmonument geplaas is) is ‘n voorbeeld van die argetipiese aard van Weyers se beeldhouwerk: die oerfiguur sit gehurk met ‘n weekdier in haar hand – die skulp waarin die nageslag woon.

Winddanser

Die see is waarskynlik dié mees prominente argetipiese simbool in Evette Weyers se lewensfilosofie en in haar kuns, maar ook haar bewustheid van en respek vir die wind spreek veral uit haar beelde wat dikwels vlieënde figure met die wind in hulle hare is (sien afbeelding van Winddanser langsaan). Sy vertel graag die verhaal van haar afspraak met die wind. Toe hulle langs die Hartebeespoortdam gewoon het, het sy een aand toe sy die wind hoor opsteek, in die maanlig gaan seilplank ry. Na ʼn tintelende rit het sy die wind bedank en ʼn afspraak gemaak dat sy hom oor presies ʼn maand weer sal ontmoet. Presies ʼn maand later steek die wind weer die aand op, maar omdat hulle besig was om te verhuis en sy ʼn klomp beelde moes klaar maak, kon sy nie die afspraak nakom nie. Skielik hoor sy ʼn groot slag buite: “Die wind het ʼn klaargemaakte beeld omgeklits. Flenters!” Vir haar is die grens tussen fantasie en werklikheid vloeibaar. Hierdie insig breek telkens deur wanneer sy brokke van haar lewensverhaal vertel, hetsy aan jou persoonlik, in haar boek of op haar facebook.

Daarom is dit nie verbasend nie dat sy ʼn voorliefde en groot bewondering het vir die werk van Breyten Breytenbach wat eweneens steun op simbole en sterk argetipiese beelde. Benewens ʼn beeld van hom wat sy gemaak het (sien afbeelding onder), het sy ook enkele van sy gedigte in beelde omskep. Man wat val is ʼn beeld wat sy gemaak het na aanleiding van Breytenbach se gedig New York, 12 September 2001 wat in die bundel Die windvanger opgeneem is en handel oor die man wat op 9/11 uit die Twin Towers gespring het, veral oor die strofe

beelde bly kerm om uiting agter die oog

vliegtuie is bomme vol skrapnel van sagte lywe

dan die inferno van vlamblomme uit wolkekrabbers

mensfakkels soos neerstortende engele uit die hoogste verdieping

af,af, al langs glimmende geboue van glas en staal

gewigloos en slank en vuurvlerk vaartbelyn

verskietend weerspieël in die vlugtige taal van vergeet –

die helhond van vernietiging het ʼn rooi lagtong

 

Na aanleiding van hierdie gedig ontstaan nog verskeie engelbeelde: “vallende, vlammende engele”. Ook van Joan Hambidge se bekende gedig man wat val het sy ʼn beeld gemaak. Hierdie gedig handel ook, soos Breytenbach se gedig, oor die eerste man wat op 9/11 uit die Twin Towers gespring het. Die slotstrofe van hierdie gedig lui:

Maar eintlik was hy ʼn engel

wat tydens hierdie Armageddon

die ondraaglike breekbaarheid van lewe

oorwin.

 

Nog ʼn Breytenbach-gedig wat Evette omgebeeld het, is stukkende gedig uit Die ysterkoei moet sweet. Sy noem hierdie beeld Die klank van ʼn stukkende gedig. Veral die slotreëls eggo in die Weyers-beeld saam:

al glo jy dan nie in ʼn siel nie

ontrafel ten minste die frases wat in jou donkerste wese eggo

en breek hierdie moment oop in ʼn stom kreet[.]

 

Oor hierdie beeld skryf sy: “Marius het die hele gedig vir my op ʼn halfdroë kleiblad geskryf (my handskrif is te onleesbaar). Toe die klei droog was, het ek die kleiblad gebreek en gaatjies in elke stukkie gesteek, sodat ek hulle kon ophang as ʼn roerbeeld. Bo-op die spiraal het ek ʼn vereenvoudigde figuur van Breyten geplaas, net so kaal gestroop soos hy in die gedig is. Die stukkende gedig hang aan ʼn spiraal. Die skerwe stamp klinkend teen mekaar as daar ʼn luggie waai.”

Hierdie proses van beelde skep na aanleiding van ʼn poëtiese impuls behoort ʼn insiggewende studie te kan wees en behoort beslis deur iemand met kennis van beide kunsterreine onderneem te word.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Marlies Taljard. Dans met die Minotaurus”

  1. Joan Hambidge :

    Dankie Marlies. Baie inspirerend. Ek het terloops die kunswerk wat Yvette Weyers gemaak het in my besit van die vallende man op 9/11, gebaseer op my gedig. Dit staan prominent in my slaapkamer.

  2. Marlies Taljard :

    Ek beny jou die beeld, Joan! Mens moet eintlik die verhouding tussen haar beelde en ander kunswerke in meer diepte ontgin, dalk doen ek dit nog.