Jacobus van der Riet. Twee gedigte

Die Heilige Lukas van Simferopol,

die geneesheer (1877-1961)

– Feesdag 11 Junie

 

Duisende duiwe vleg kranse van dons en veer

waar hulle sirkel bo en om ‘n vasberade stoet,

al langs die volgepakte strate van Simferopol

waar die somber note van die Trisagion rol

oor die hoof van ‘n komissaris wat wou verhoed

dat pasiënt en gelowige ‘n biskop vir oulaas eer.

 

Dan in ‘n chirurg se jurk, dan in ampsgewaad                                     

moes Vladika Lukas wonde laaf en sepsis keer

van lid- en ledemaat, nou met ‘n klamp of lanset,

nou met olie, bieg en homilie, selfs die toerniket

van die tug as priesters hulle met sonde besmeer,

of net die balsem van ‘n sagte oor en gryse raad.

 

Nog vlug skares siekes en beseerdes na sy graf,

oortuig dat God deur hom steeds genesing verskaf.

 

*

 

Die Heilige Nuwemartelaar Philoumenos

van Jakob se put (1913-1979)

 – Feesdag 29 November

 

O salige put waar God, eens moeg van die reis,

sit en om water vra, jy het nou ‘n kerker en kapel,

jou blikemmer klingel wanneer die monnik dit hys,

maar jy kan jou troue opsigters op een vinger tel.

 

Op straat word hy beledig, geskel en gespoeg,

maar hy was hom, kry lafenis, kwiksilwer koel,

sluk genoeg, sonder om te verwens of te wroeg

tot hy weer die blye fontein in sy binneste voel. 

 

Min weet die Sionis jy het vir die Heer alles feil,

jy het al lankal, Philoumenos, aan jouself gesterf,

wanneer hy kom om jou seënvingers met ‘n byl

af te kap, ‘n bloedige kruis in jou voorkop te kerf.

 

Laat sak my, gekraakte kruik, wanneer ek bedroë kom,

katrol my weer op, tot oorlopens toe vol, van Hóm. 

 

© Jacobus van der Riet / 2014 



Bookmark and Share

Comments are closed.