Onderhoud met Piet van Rooyen

Piet van Rooyen gesels oor sy jongste bundel Reisiger te perd, met Gisela Ullyatt.

 

Piet, hartlik geluk met Reisiger te perd. In die voorwoord noem jy dat dié bundel twee liefdes van jou saamsnoer, naamlik perde en lees. Van die staanspoor af is dit duidelik dat jy met geweldige groot tydgleuwe uit die wêreldliteratuur omgaan: Homeros, Karen Blixen, Elias Canetti, Jan De Hartog, Virginia Woolf, om maar ’n paar te noem. Dan is daar ook Sergei Aksakov, Haruki Murakami, en Ivan Turgenev. Die bronnelys waaruit jy gewerk het is vier bladsye lank. Hoe het jy die tekste gesif vir jou omdigtings? Kan jy enkele skrywers/tekste noem wat nie in die finale weergawe van jou bundel ingesluit is nie? En waarom hierdie tekste grootliks nie as omdigtings gewerk het nie?

Hallo Gisela – ons praat altesaam van so tien jaar se lees. So dis baie boeke, bietjie meer as 400 altesaam. Ek lees natuurlik al vandat ek ’n kind is, Rooijan en Trompie en Olaf die Seerower en daardie soort goed, en het ontwikkel tot by die geniet van die klassieke werke, waar ek vandag staan. Dis ook al wat ek vandag nog lees en herlees. Ek probeer so nou en dan ’n moderne werk in die klassieke tradisie, maar oor die algemeen het my lees-smaak in die 1960’s geëindig. So nou en dan lees ek selfs Rooijan weer ’n keer.

Omdat ek so gou vergeet wat ek gelees het, het ek tien jaar gelede die idee gekry om die dinge wat vir my spesiaal mooi is in ’n aantekeningboek op te skryf. Daar is vandag al so ’n dosyn-plus van dié molvelle in my kas. Omdat ek self lief is vir perde en perdry, en dalk omdat die perd juis so ’n poëtiese wese is, ook in die oë van die ou skrywers (wie sou nou só oor ’n motorkar kon skryf?), het ek een dag met die teruglees deur my notas agtergekom dat baie van hierdie aanhalings oor perde handel. Ek wou dit aanvanklik gebruik as teksbasis vir ’n koffietafel-fotoboek, maar het skielik besef dat hier gedigte te skep was. Daar het ’n paar gedigte uitgeval in die finale keuse, omdat die uitgewer graag by 100 gedigte wou bly. Die gedigte wat uitgeval het, was óf swakker gedigte uit die werk van reeds-genoemde skrywers, óf daardies wat net baie sydelings na perde verwys het. Heelwat klassieke skrywers het natuurlik nêrens op substansiële manier na perde verwys nie, so hulle was buitendien uit in die keuseproses.

Om aan te sluit by die idee van omdigting – of poëtikalisering van die prosateks in die bundel se geval – wil ek graag weet of jy ’n sogenaamde ‘aksieplan’ gehad het wat poëtiese strategie en styl aanbetref. Deurlopend is die gedigte enjambies; gestroop van enige leestekens. Het jy dit so beplan of was dit iets wat organies uit die skeppingsproses gevloei het?

Nee, daar was nie ʼn aksieplan nie. Die enjambement en die gestrooptheid is seker maar soos ’n perd beweeg, op stap en op draf en op galop.

Die gedig “gedagtes te perd” (Na Stevie Smith:65) is een van die mees beeldryke gedigte van die bundel. Terselfdertyd is dit ook die bundel se titel. Die belangrikste elemente van die perd-tot-mens verhouding vervloei tot meditatiewe eenwording. Woorde word deel van hierdie proses van interconnectedness – om ’n Boeddhistiese term aan te haal – wat die oomblik van die Niet vasvang, wat paradoksaal, maar ook treffend is:

so saam met die gewieg

van my sitvlak op die saal

klop daar gedurig iets in my hart en in my brein

dis woorde wat soos droë blare waai

idees waarvoor ek soos vir wit hekpale skrik

gedagtes wat aan my binnegoed bly vreet

soos wurms in ’n lappie donkerbruin grond

 

Moet jy perdry om daardie “wurms in ’n lappie donkerbruin grond” om te woel en sin te maak uit die sinlose? Of bly alles meestal sinloos? Het jy gevind dat met die skryf van gedigte daar meer “gedagtes” was wat jou “binnegoed bly vreet” het as met die skep van prosa?

Perdry help my om te dink, ja. Mens gaan in ’n soort van reishipnose in, waar gedagtes en beelde loskom, en die kop ’n bietjie skud. Omdat dit in die natuur plaasvind, is die beelde wat inflits dikwels suiwer (selfs oers) en nie gekontamineer deur stads-roet en gedruis  nie. Ek dink nie dis intellektuele konstruksies nie, maar klots dalk eerder as deel van die onderbewuste in die brein rond. Dig is hier heel anders as prosaskryf. Met prosa is daar baie meer bewustelike konstruksie en beplanning nodig.

“kavallerie” (na Stefan Zweig:68) sluit uitstekend aan by “gedagtes te perd” se tematiek en behou die atmosfeer van die woordskepper/perderuiter wat die hier-en-nou onbevange beleef:

 

as ek in die saal sit is ek okei

my gedagtes strek niks verder

as die twee ore van my perd nie

 

Is hierdie twee gedigte gedurende dieselfde tydperk geskryf? Die omdigtings is van twee verskillende skrywers afkomstig; hoe het jy hulle tematies so nou saamgesnoer? Het jy baie ooreenkomste in die tekste van Zweig (Beware of pity) en Smith (Novel on yellow paper) opgemerk en is daar vir jou as leser en skrywer ook ooreenkomste tussen hierdie twee skrywers in ander tekste wat hulle geskryf het?

Die gedigte is almal so oor ’n tydperk van ses maande geskryf, wat seker “dieselfde tydperk” is, as mens terugskouend na tyd kyk. Met my poësie, anders as met my prosaskryf, werk dit so dat ek sulke stuwings van inspirasie kry, wat gewoonlik skielik kom en oor enkele maande strek. Dan moet ek insit wat ek kan. My eerste digbundel is in 1973 gepubliseer en tot vandag toe is daar maar altesaam ses, dus een elke sewe jaar, as my wiskunde reg is. Ek het nie eers besef die twee gedigte sluit so mooi bymekaar aan, totdat jy my daarop gewys het nie.

Jy was jare deel van die Infanterie en het ’n diepgaande kennis oor militêre werkinge en -kringe. In “kavallerie” laat jy die vraag aan die leser oor om self te besin of daar dan nog ’n tyd en plek is vir die weermag:

 

jy vra of daar sin is daarin

om in hierdie moderne tye

nog aan die kavallerie te behoort

of om enigsins in die weermag te wees

ek moet sê jy vra moeilike vrae

 

Die vraag of die weermag uitgedien is, is natuurlik kontensieus veral omdat die behoefte na oorlog asook beskerming van eie belang (die us vs. them-fenomeen) steeds voorrang geniet in meeste lande. Hoe versoen jy militêre dissipline wat meestal nie die individu in ag neem nie met die individuele handeling van kreatiewe vloei deur middel van skryf?

Ek is self nie ’n militaris nie – ons moes maar almal grensdiens doen – maar die perd is deur die geskiedenis deur, soos van die gedigte ook sê, simbool van oorlog en van stryd, net soveel as van die romantiek. Ridderskap in die Middeleeuse sin vat hierdie aspekte juis mooi saam, naamlik veglus en edelmoedigheid (chivalry). Ook die Kosakke en die ander oer-vegters waarvan ek praat, sien soldaat-wees en minnaar-wees dikwels in dieselfde lig. Die minnaar en die soldaat sit in dieselfde saal.

Ek self moet ook maar sê jy vra moeilike vrae!

Daar is ’n deurlopende stroom van satire wat deur die bundel loop. In “wie gaan voor ry in die erewag” (Na Stendhal:20) is fassinerend, omdat dit ooglopend in ’n Suid-Afrikaanse konteks omskryf is: “gestrykte kakiebroeke sokkies en hemde/wapperend agter ons sewevoudige hakekruis”; “ons aanvoerder die voorvader/diep uit die witte aarde opgediep”. En dan in die laaste strofe:

 

die voorperd is Storm self

swaar en swart die vlaamse reunperd

pasop vir die skrik – die duiwel self loop los

die grond is ver en die klip lê vlak

te vol geklip vir sagkens val

netnou vang die ghantangs hom

met die broek om die enkels

moeg gespook en tam getem

kies dadelik meer konserwatief

 

Die teks waaruit jy die omdigting gekies het van Stendhal is Le rouge et le noir; die titel beklemtoon en satiriseer dus ’n verdere nosie van ’n fascistiese beweging. Het jy spesifiek Eugéne Terre’blanche in gedagte gehad en was daar ’n sleutelaanhaling uit die Stendhal-teks waarmee jy assosiatief te werk gegaan het om die ontslape AWB-leier asook die militêre drama van sulke optogte op te roep?

Ja, spesifiek Eugéne Terre’blanche en die AWB. Ek dink die “swart en rooi” het my dadelik aan die AWB laat dink, maar assosiasies is dikwels moeilik om vas te pen.

Reisiger te perd is grootliks ’n bundel wat die manlike wêreld van oorlog, fisiese krag en viriliteit uitbeeld, soos veral gesien in “’n man op ’n perd”(Na Leo Tolstoi:25):

 

[…] sy geweer is in sy skede en sy pistool aan sy sy

Hulle is duidelik nie op pad na ’n piekniek nie

die man roer sy perd met die punt van die karwats

en laat pronk hom skuins-dwars oor die plein

die ruiter het donker oë en sy wenkbroue is ru

perd en ruiter albei barstens vol selfvertroue

albei baie bewus van eie manlikheid en krag

gereed om enige oomblik op te styg en te vlieg

 

In teenstelling met hierdie vertoon van man-perd viriliteit en brute krag, is daar ook ’n paar omdigtings oor hoe vroue in hierdie manlike magsvertonende universum figureer. “brose besittings” (Na Charles Doughty:33) verbaliseer byvoorbeeld die ondergeskikte rol van die kameelma wat gedwing word om haar melk (“emmers vol”) weg te gee aan saam saamreisende merrieperde. Die rede wat aangevoer word deur die spreker is dat die merrieperde bodemlose putte is:

 

uit blote woestynpol en gras

kry hul nooit genoeg nie

so is die merrieperd van aard

die slaaf van dors en honger

elke eienaar van ’n perd

staan onder die ekstra las

wie ’n perd of vrou besit

kan nooit behoorlik rus nie

want hierdie brose paar besittings

verg aandag en hoë onderhoud

 

Die laaste strofe bring die vrou na vore en hoe sy deur ’n skrywer soos Doughty as ook net in die konteks van eienaar-besitting beskou word en dus ont-eien word van eie wil of keuse, soos die kameelma en merries. Nog ’n beeld wat opgeroep word van die vrou is dié van mistieke madonna in “vrou wat in ’n koets klim” (Na Thomas Mann:35) asook in “die vrou is duidelik” (Na Ryūnosuke Akutagawa:46), waar die vrou ’n misterieuse swart kantsluier dra.

In teenstelling hiermee, word die vrou ook as ’n bron van seksuele innigheid beskou wat haar op die vlak van ‘meisiekind’, dus onvolwasse, plaas (“galop”:29, na Ivan Toergenjef):

 

[…] ek en my meisiekind my wilde amasone

nee verkeerd nie amasone nie maar sentour

half dier half godin wildweg aan’t galop

 

Is die uitbeelding van die vroulike in die omdigtings dus net gebaseer op hoe die skrywers van die tekste met hul omgegaan het (stereotiperings) of wou jy juis ’n spesifieke beeld aan die leser vestig van hoe die vroulike element deurgaans deur die manlike skryftradisie  verwring of selfs geïgnoreer is?

Daar is ook die treffende gedig van Maxine Hong-Kingston oor die vrou as kryger. Ek weet ek het al ʼn soort van etiket gekry as sogenaamde “avontuurverhaal” skrywer, wat natuurlik suiwer nonsens is, en as een wat na die vrou net op ʼn spesifieke manier kyk. My beeld van die vrou is inderdaad redelik klassiek, en ek glo dit pas in die persepsie wat die klassieke skrywers destyds oor die vrou gehad het. Ek sou dit definitief nie ʼn “verwringing” noem nie, eerder juis ʼn versuiwering.

Vertel ons meer van die treffende voorblad van Reisiger te perd.

Ja, dis mooi, né. Dis gebaseer op ʼn konseptekening van Jahni Wasserfall se beeldhouwerke oor perde.

Laastens: Noudat jy jou twee groot liefdes in vers versmelt het, na watter volgende poësie-projek kan jou lesers uitsien?

Dis donners moeilik om deesdae enigiets gepubliseer te kry, wat nog te sê van digwerk. Daar is ’n roman in die laai wat nog lê en soek na ’n uitgewer. Voor ek hom nie weggewerk kry nie, sal die inspirasie seker maar swaarkry. Maar gedigte laat hulle nie voorskryf nie. Dalk kom hulle een stil namiddag op ’n perd se rug skielik weer onverwags uit die skemering te voorskyn.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Piet van Rooyen”

  1. Joan Hambidge :

    Dit is ‘n pragboek. Sonder pretensie, op die man (ekskuus perd) af. Dit aktiveer die idioom: noem man en perd. Lieflike boek wat getuig van baie leeswerk en knap ‘found poetry’.