Onderhoud met TT Cloete

Dr. Marlies Taljard in gesprek met Prof. T.T. Cloete

oor sy nuutste bundel Karnaval en Lent

 

Dr. Marlies Taljard (MT):

Prof. T.T. Cloete, dankie vir ʼn baie gesellige en inspirerende kuiertjie by u aan huis waartydens ons onder andere gesels het oor u nuwe bundel Karnaval en Lent wat binnekort by Tafelberg verskyn. Om by u te kuier, is amper soos om die Orakel van Delphi te raadpleeg – ʼn mens kom verryk na siel en gees huis toe. Die vrae wat ek in hierdie onderhoud aan u gaan stel, stel ek na aanleiding van ons gesprek – ek vra liewer minder vrae sodat u in meer besonderhede kan antwoord en potensiële lesers ʼn voorsmaak kan kry van die heerlike menslike, ironiese en komplekse aard van die bundel. Hoewel ek nou sê dat die bundel kompleks is, bedoel ek daarmee dat dit ʼn verbysterende veelheid van verbandhoudende temas saamtrek, maar nié dat dit te kompleks is vir “gewone” lesers wat nie oor gespesialiseerde kennis van die digkuns beskik nie. Ek het die bundel fassinerend, humoristies, ontstellend, bevrydend en aangrypend gevind. Die wyse waarop u oënskynlik onversoenbare aspekte van ons menswees jukstaponeer en die metafisiese vrae wat so ʼn saambestaan van uiterstes by die leser ontlok, is myns insiens een van u grootste digterlike bates.

Wat my getref het, is die byna naatlose integrasie van die visuele prikkel, naamlik Pieter Brueghel de Oude se skildery, Die geveg tussen Karnaval en Lent (1569), op die bundelomslag en die gedigte wat almal op een of ander wyse put uit die filosofiese laag van die skildery óf daarop kommentaar lewer. Ek het dadelik gewonder wat eerste was: het u die gedigte gemaak na aanleiding van die skildery of het die gedigte eerste ontstaan? Waarom het u juis hierdie skildery as bundelomslag gekies?

Prof. TT CLoete (TTC):

Die titel van die bundel het lank ná die gedigte gekom, byna soos ‘n kind eers gebore word en daarna gedoop word. Kunsgeskiedenis en –waardering, soos die vak destyds geheet het, was een van my doseeropdragte, en my geheue het my na aanleiding  van die gedigte gelei na die skildery wat ek so lank so goed ken. ‘n Mens dig mos maar hoofsaaklik uit jou onderbewuste. Die gedigte van die bundel het as ‘t ware in een worp ontstaan, binne een raam, wat later ingevul en georden is, amper soos die stukke van ‘n legkaaart wat ordeloos rondlê en later in- of aanmekaar gepas word.

 

MT

Die laaste reëls van die bundel lui:

“die gedig wil die geveg tussen karnaval en lent

in ’n onbesliste gewapende stilstand op die ou end

in taal besweer”

Volgens my beskeie lesing van die bundel vat hierdie reëls een van die belangrikste aspekte van die bundel Karnaval en Lent saam, naamlik die misterie dat die Skepping van God sowel die heilige, die edele en die transendentale omvat, maar ook die vulgêre, die afstootlike en die “onheilige”. Wat beskou u as die sentrale tema van die bundel en hoe het u dit in poësie gestalte gegee?

TTC

Reg gelees. Die Grieke was al gepla met die dubbele gesig van die werklikheid. My lewe lank is ek gepla met die Janusgesig, een wat regs kyk, een wat links kyk. Die Jode van die Ou Testament was net so gepla met goed en kwaad wat kop in een mus is. Op drie plekke in die Bybel, in Deuteronomium, Jesaja, en in Amos staan dat God alles gemaak het, die goed en die kwaad, die voorspoed en die teenspoed, die heil en die onheil. Ons het egter nie die Grieke en Oud-Testamentiese Jode nodig om dit vir ons te vertel nie, ons sien dit daagliks om ons heen. Ek het die aand voor ons gesprek deur ‘n vergrootglas ‘n muskiet sit en bewonder: so onbeskryflik delikaat en volmaak gemaak, dat hierdie diertjie alleen deur die Skepper gedink of gepraat kon word [“gefluister” kon word, soos dit op een plek staan], want geen vinger is fyn genoeg om hierdie verfynde mooi gogga te maak nie, maar dis tegelyk ‘n venynige, pynigende, soms dodelike diertjie.  Hoe onverklaarbaar is hierdie versoening van heilig en onheilig in een liggaam!

Dit is een aspek van die bundel. ‘n Tweede een is dat ek liggaam is, met ‘n vel, daarbinne vleis [spiere, bloed, senuwees, water, chemikalieë], binne die vleis is been, daarbinne murg. Maar vleis, been en murg [ons brein is maar murg en ons hart is vleis] kan woorde maak, dink, droom, glo, huil, musiseer, dig, ens. Hoe is dit moontlik ? Hoe kan biologiese materie omgesit word in die immateriële, die konkrete in die abstrake, vleis in woord, hoe kry die muskiet dit reg om te sing? Ek het nêrens in alles wat ek gelees het in die biologie, filosofie, antropologie, ens., ‘n verduideliking hiervan teengekom nie. Die vraag alleen van hierdie omsetting was vir my ‘n soort ontdekking. As uitvloeisel van die gedigte, en tegelyk met die ontstaan van die gedigte, het ek Die Ander Een Is Ek geskryf en uitvoerig ingegaan op hierdie verstommende fenomeen: dat my liggaam kan dig.

Ons ligaam kan twee kante toe transendeer: na die kant van die goeie en mooie, en na die kant van die kwaad en afstootlike, selfs walglike en vulgêre.

Daar is drie kragte in ons: die maag, wat eerste ontwaak en werk. Uit semen en ovum ontstaan ‘n embrio en fetus, wat ons moeders eet, en dan eet ons tot ons sterf. Of ons kan van honger en dors sterf. Tweedens en later ontwaak die libido, en derdens en nog later ontwaak die intellek. Die verstommende intellek se funksies hang af van die maag. As die maag gaan staan, sterf die brein. Descartes se cogito ergo sum moet eintlik wees: ek eet, daarom is ek. Ek dink uit en met my maag. En die ander krag, die libido, kan die harsings beduiwel, kan chemiese stowwe afskei wat die brein oorweldig, kan ons laat aanteel tot 7/8 miljard mae wat honger en dors is, en as hulle dit nie kry nie, kom daar opstand, rewolusie, oorlog. Die maag kan soos die libido die brein oorweldig en verkrag of moord pleeg, lewe vernietig, ook die lewe van plante en diere, en die aarde self. ’n Koei vreet die heeldag om ons te laat aanhou dink en voel as ons haar eet, haar melk drink.

En dan het daar ‘n derde ding by my opgedaag: Ons, die mens, het niks uitgevind nie, ons ontdek alleen wat van vóór die Oerknal af bestaan. Ons BMW of selfoon is geheel en al gemaak van alles wat reeds bestaan van lank voor die mens daar was. Alles is Gemaak millennias voor ons daar was. Die wiskunde het voormenslik reeds bestaan, lank lank voor daar mense was om dit te ontdek. Alles wat ons maak, sg. “uitvind”, is na-maak of om-maak. In plaas daarvan dat ons dit nederig erken, maak dit ons arrogant en ontken ons die Goddelike wat agter alles sit.

 

MT

Prof. Cloete, U word soms gekritiseer vir die redelik onkonvensionele geloof in God wat uit u gedigte spreek. Ook in hierdie bundel is daar verse wat nie inpas by konvensionele gelowiges se Godsbeeld nie. Ek dink aan ʼn vers soos:

“jy glo met jou maag

onbegryplik hang die begryp van die heilige en ewige

af van vleis en brood . . .”

 

of:

 

“die groot digters wat as mense

hardop hulle dink van God verkondig

systap die teengewig wat my skaal en ewewig

omvergooi

 

ek kom in verset

ek pleit om vergifnis

ek kan geen kwaad aan God toeskryf nie

 

is dit hubris as ek met my bietjie murg

klankdig geïsoleer in sy kapsule van ivoor

(. . . hoe Groot is God . . . hoe pas Hy in?)

as ek homo insciens

sy vreemde tale wil verstaan

Hom middernag met my berookte slons

wil opspoor

 

hoe veilig om die hart te laat ontspan

hoe groot is die versoeking om Hom te teister

of te wil ontken

of na my onafhanklike dowwe insig te herskape

 

te vereenvoudig

 

en in ’n eenvoudige vervalle wegkruiphuis

in die half uitgestorwe idilliese Vanwyksdorp

te verdwyn”

 

Is u ʼn “godsdienstige digter”? (Ek weet dié vraag word dikwels aan u gestel, maar dit lyk nie asof mense werklik u antwoord hoor nie, aangesien u steeds by geleentheid so gekategoriseer word). Watter rol speel geloof in God in u digkuns en veral in die tersaaklike bundel? Watter aspek(te) van God word in hierdie bundel onder die soeklig geplaas? En behoort ʼn digter nie in sy werk die Godsbeeld van die grootste deel van sy lesersgehoor te eerbiedig en God as enkel genadig en troosryk te besing nie?

TTC

 Ag ek het my al telkemale veset teen die kategorie-lesers [meestal professionele literatore!], die rubriserende-lesers. Daar was glo ‘n keer ‘n Afrikaans-prof. wat op die skryfbord  hokkies geteken het en dan die name van skrywers daar ingevul het. ‘n Hokkie-prof vir monocle-lesers. Mense wat in hokkies dink en in –ismes deel dit graag aan ander uit.

Nee, ek is nie ‘n godsdienstige digter nie, ek is ‘n digter, nogal teen my sin. Ek weet nie of God ge-diend is met my gedigte nie. Is my erotiese gedigte, my gedigte oor my vrou en kinders, is dit nou godsdienstig? Is my talle en talle natuurgedigte, oor insekte, voëls en ander diere, plante en klippe, is dit godsdienstig? Is ek ‘n entomologiese digter omdat ek oor goggas skryf? Is ek ‘n ornotologiese digter omdat ek oor voëls en vere skryf? ’n Varkdigter omdat ek oor varke skryf?

Maar ek glo wel in God en die goddelike. My wonderlike brein alleen al oortuig my daarvan, want ek het ‘n brein, maar ek verstaan hom nie! Dus, ek het nie self my brein gemaak nie. As ek my brein self gemaak het, sou ek hom verstaan het, en ‘n idioot gewees het! Ons brein maak ons as mense intelligent. Maar alle lewe het intelligensie. Die Grieke het ‘n mooi woord gehad vir die intelligensie van die nie-menslike lewensvorme, soos van die hoender of die vark, die verstommende intelligensie van die kopluis, van die boom, die grasspriet. Die Grieke het hierdie natuurlike wete of kennis entelegie genoem. Hoe weet die bye dwaarsoor die aarde om hulle heuning in ‘n heksagoon te maak, hoe weet al die satynblomme in Namakwaland om ‘n heksagoon in hulle kern te hê? Hoe weet sekere dennebome dat hulle, van alkante bekyk, ‘n pragtige geometriese kegelvorm moet hê! Hoe weet ‘n atoom dat hy hom dwarsdeur die kosmos eenders moet gedra?

Ek glo in God soos die Ou-Testamentiese Jode wat met Hom baklei het tot hulle bene breek, en vandag nog, soos ek self gesien het, Hom teen die klaagmuur In Jerusalem slaan! Ek glo soos Ferdinand Deist gesê het: ek worstel met God ter wille van God.

Maar God sal my kwalik neem as ek, soos party lesers, die vermetelheid het om my ‘n godsdienstige digter te noem. Ag, die hokkieslesers maak my moeg ! Laat die oneerbiediges en eti-ketters my dan maar eti-ketter. Ek kan in elk geval ook nie agter ander mense se voorstellings van God aandig nie. Hoekom moet almal eenders dink? Mense wat hulleself as maatstaf beskou, glo ek moet soos hulle glo. Ek dink in elk geval die meeste gods-dienste is oorgeorganiseer en verhout, muf.

Ook wat my Godsbegrip betref, wil ek nie in ‘n vakkie/hokkie dink nie, geëti-ketter wees nie.

Ten slotte: ek dink mense wat nie in God glo nie, leef in ‘n gemaklike, selfbehaaglike ontkenning. ’n Soort geestelike luiheid en gemaksug.

 

MT

andoelie kom eerste

andouille   nothing on life’s menu is more popular

honger was ons eerste versoeking

 

eet was ons eerste sonde

 

ons eerste opstand teen die Heilige

 

uiteindelik sal ons sterf met vet om ons lippe

en vleis tussen ons tande as die armaggeddon kom . . .

 

Daar is talryke gedigte in die bundel wat fokus op eet. Waarom is eet binne die konteks van die bundel so belangrik?

TTC

Ons neem dit as so vanselfsprekend aan dat ons ‘n maag het, dat ons nie daaroor nadink nie. Ons luister nie na Malthus nie, ons teel al meer mae, wat nie gevoed kan word nie, wat mense in Afrika en in die Ooste gras en boombas laat eet, wat mense dwarsoor die aarde laat steel en moor vir kos, werkloses teel, onderbetaaldes teel, opstande en revolusies kweek, Marikanas maak, polisie maak wat skiet op die ondervoedes en dorstiges, alles omdat ons ‘n maag het. Ons het olie nodig omdat ons moet eet, en omdat ons moet eet maak ons oorlog. Daarom “beskerm” Amerika die olie van Iran. Die groot revolusies was buik-en-brood-revolusies. Die groot ideologieë het uit die maag gekom.Ek luister na die blink vet gesigte van lywige, swaarwigtige  politici wat nie die probleem deurdink nie en opgaan in verkeisings om Houghtons te bou langs Hillbrows, Nskandlas [dis soos ek die woord spel] langs onmenslike makoekas van plastiek en karton…

Hoekom het ons motors wat ons aarde berook, besoedel en verwarm? Om by die werk te kom. Hoekom werk ons? Omdat ons mae het en moet eet en drink, om die brein te voed. Brood is Bybelkos het Versfeld gesê, nie verniet nie.

Maar ek wil nie eensydig dink en net op die maag fokus nie. Daar is ook gedigte oor die sublieme in die bundel, en ek het klaar gedigte vir ‘n bundel oor die sublieme, vir ‘n ander dag.

 

MT

Die eerste afdeling van die bundel staan onder die opskrif “Gedigte wat ek nie graag wou skryf nie”. Kan u dié vreemde afdelingstitel verklaar?

TTC

Die probleem van gedigte skryf, is dat die gedig jou oorweldig. Soos Sheila Cussons en MER, Shakeseare en Schiller, en talle en talle digters vertel, jy kies nie die gedig nie, die gedig kies jou. Dieselfde gebeur ook maar met die leek: gedagtes, emosies, ens. kom hoofsaaklik onwillekeurig en onbeheers by elkeen van ons op, ook by die straatveër; net, by die digter kom dit in ‘n bepaalde struktuur op. Ek haal Jan Swanepoel graag aan: ‘n gedig word nie beplan nie maar as hy klaar is, het hy ‘n plan. Gedigte daag soms teen jou sin op, as geskenk, en ‘n mens gooi nie ‘n geskenk weg nie, jy publiseer dit, want die gedig daag by jou op ter wille van iemand anders. Ek het dit pobeer duidelik maak in Die Ander Een is Ek. ‘n Mens skryf nie gedigte ter wille van jouself nie. Jy is dus ‘n medium, ‘n tussenganger, en jy moet die gedig gehoorsaam. Shakespeare is die sekretaris van Hamlet, sê Nijhoff. Vir die oningewyde mag dit gek klink, maar dit is eg so. Ek kry teen my sin ‘n gedig in, wat dalk kan help om ander mense uit hulle voeë te ruk, soos dit jouself uit jou voeë ruk. Lewe liewer riskant as om elke dag donker op te staan, badkamer toe te gaan, aan te trek, werk toe te gaan, donker tuis te kom, te eet, te gaan slaap, en soos Bolero van Ravel elke keer weer voor te begin en aan te gaan in ‘n onstuitbare kringloop, dan af te tree, dood te gaan met ‘n muf brein en verskrompelde hart. Gedigte dwing ‘n mens tot stilstand.

Ek het al aan gedigte skryf gedink aan ‘n soort verkragting. Dit staan in ‘n gedig van my van lank gelede.

‘n Mens is natuurlik ook bang dat jou gedigte vervreemding kan bring tussen jou en mense wat nie verwag het dat jy só blatant sal skryf nie. Wat gaan jou vriende sê, jou familie, jou kinders? Darwin was bevrees vir wat sy vrou van sy evolusieteorie gaan sê.

 

MT

As ʼn mens u digterlike credo in prosa, “Die ander een is ek” (2013) gelees het, word dit duidelik dat dié werk en die bundel Karnaval en Lent mekaar aanvul en as’t ware in gesprek tree met mekaar. Wat is die doel daarvan om nabyverwante temas in sowel die prosa as die poësie te ontgin?

TTC

Die gedig sê altyd te min, want dit is nie net die woorde wat in die gedig praat nie, die manier waarop die woorde daar staan, sê net so veel of dalk meer as die woorde alleen. Die trobar clos is van Homeros af daar. Maar dan is daar ‘n oorloop wat nie in die gedig ingaan nie en wat jou dan dryf om die oorloop te beskryf. Digters doen dit. Nijhoff doen dit in De pen op papier, Van Wyk Louw doen dit in Rondom eie werk en Die digter as intellektueel [hierdie geniale man moes ook van minderes, die eti-ketters, hoor dat hy ‘n ”intellektuele” digter is], Eliot het dit gedoen, Auden doen dit in Poets at word, ens, ens.

 

MT

Karnaval en Lent bevat verskeie verwysings na die skryfproses, byvoorbeeld die Ars Poëtika op bladsy 150:

ons gewete

 

ons skryf nie gedigte nie

hulle is ons

 

hulle kondig hulle by ons ongenooid

sonder afspraak aan

 

voor ons húlle ooit verwag

weet gedigte hulleself vooruit

 

dikwels lap hulle teen ons sin alles uit

 

hulle is ons toesighouers en gewete wat vir ons weet

hulle dwing ons om oop te praat wat ons graag verswyg

of stilweg ontken in ons alledaagse toepraat of vergeet

 

Waar kom gedigte dan vandaan indien die digter dit nie uitdink nie? Glo u dat digters (en ander kunstenaars) in kontak is met ʼn abstrakte, immateriële of onverklaarbare fenomeen waaruit groot kuns aan hulle gegee word? Is die digtalent genade of straf of plig? Wil u dalk die geheim hoe hierdie bundel ontstaan het (en hoe u oor die algemeen gedigte skryf) met die lesers deel?

TTC

As die mens gedigte kon uitdink of skilderye of beelde, dan het ons almal gedig, geskilder en gebeeldhou. Gedigte is ‘n gawe, dis gegee. Ek dink die beste beskrywing daarvan is dat dit ‘n fenomeen is. ‘n Misterie. ‘n Rariteit en raaisel. Dis die bekoring daarvan. As almal kon dig, dan was dit kommin. ‘n Taal lewer net een Van Wyk Louw op in ‘n eeu. Een Sofokles, een Sakespeare, een Dante in eeue. Jy kan nie daarvoor studeer nie, jy kan nie dit aanwen nie, nie verwerf nie, nie steel of koop nie. Jy kan dit nie kloon nie. Dit is in jou ingebou, soos die wiskunde ingebou is in sekere breine en nie in alle breine nie. Terloops, alle kunswerke kom uit die brein, ook die oordrewe emosionele gedigte. Daar is linker- en regterbreine, en die digkuns hang daarvan af in watter deel van jou brein dit in jou ingebou is. In ‘n sekere sin is die digter ‘n savant. Eerder: hy is ‘n meervoudige persoon, hy het “Multiple Personality Order”. Noem die gedig gerus genade.

Daar staan geen gedig oor my vrou in hierdie bundel nie, maar haar kanker en wrede dood het my aan die dink gesit. Byna al die gedigte in hierdie bundel het ontstaan uit vrae wat my sterwende vrou aan my gevra het. Die eerste gedigte van die bundel [nie in die bundel nie] het onmiddellik na haar dood by my opgedaag. Haar brein het al opgehou om normaal te funksioneer, toe het haar organe, maag, blaas, ens. nog perfek gewerk. Dit het my laat vra: hoekom het God kanker gemaak? As Hy dit nie gemaak het nie, Wie anders dan?  Hoekom het Brueghel by die put in die middel van sy skildery, links [!] ‘n vark en regs [!] ‘n vis [Ichthus= Jesus Christus] gesit? Links ‘n kroeg, regs ‘n kerk. In die middel ‘n put waar die twee gekonfronteer word. Hoe sou ‘n werklikheid sonder kroeg gewees het? Waar kom die fenomeen geloof vandaan? Hoekom is die pleroma afhanklik van die soma? Kon die pleroma nie sonder die soma bestaan het nie, die vis sonder die vark, die vrou sonder die man, voortplanting sonder seks? In die gedig “vegetatiewe vrou” het ek ‘n toekomstige mensheid gefantaseer sonder manlikheid, ‘n suwier vroulike menslikheid, soos by sekere reptiele en insekte.

 

MT

Dit lyk soms asof kritici van skrywers verwag om telkens wanneer ʼn nuwe publikasie verskyn, met iets heeltemal nuuts vorendag te kom. In Karnaval en Lent kom weer verskeie temas voor wat ook in u vorige werk belangrik was, soos onder andere ʼn diepgesetelde verwondering aan die Skepping:

“ek het nie die opstanding van lasarus uit die dood

bygewoon nie

ek was nie by die vermeerdering van brood

en visse nie

 

maar by skuimende wolke bo my en gloorblou lig

in die ooste met sonsak is ek teenwoordig

 

ek kyk op Jupiter met die gewapende oog vas

teen die slakkehuise van gas

en die alikreukels van die vangoghse werwelkolke

 

ek sien die plaasdam

wat met sonsondergang soos ’n roerlose vuur vlam”

 

In hoeverre mag die leser aandring op vernuwing wanneer ʼn nuwe publikasie verskyn en in welke opsig, sou u sê, is daar in Karnaval en Lent vernuwing aanwesig?

TTC

Ek dink dis ’n kompliment as ‘n kunstenaar ‘n eie, dadelik herkenbare timbre het. Ek kan dadelik hoor of dit Bach, Mozart, Haydn of Beethoven is, veral Bach! Ek kan Rembrandt dadelik onderskei van Rubens. Ek kan T.S. Eliot dadelik onderskei van Yeats, Rilke dadelik en duidelik van Hölderlin. Dit gaan met gedigte soos met Gezelle se waterinsekte: “ze schrijven en herschrijven …” Ek hou my liewer besig met die onuitputlike as met die vlakke. Dit gaan met jou eie gedigte amper soos met Van Wyk Louw se “dat akkers op die sinkdak val”. Ek het in ‘n opstel vir Heilna du Plooy se huldigingsuitgawe van Literator daarop gewys dat ek van daardie 12 kernwoorde ‘n haas oneindige aantal herskrywings kan maak. Ek kan van ‘n muggie duisend gedigte maak, elke keer in ‘n ander beligting en binne ’n ander konteks. Ons praat van intertekste. Daar is ook intertekstuele bundels. Van Wyk Louw se “Die profeet” het “Die hond van God” geword en lg. weer het “Groot ode” geword.

Ek kan nie oordeel oor die vernuwing of gebrek aan vernuwing in Karnaval en Lent nie, ek weet net dat ek nog nie vantevore so ‘n bundel geskryf het nie. En ek het, om die balans te handhaaf, ook vis-gedigte in die bundel opgeneem, soos die een wat jy noem.

 

MT

Is daar een van die gedigte in Karnaval en Lent wat u besonder ná aan die hart lê en wat u graag as ʼn lusmaker hier wil plaas?

TTC

As ek een moet uitsonder, sal dit die gedig wees wat, eerstens, as Lent triomfeer oor die karnaval en wat, tweedens, beskryf hoe die liggaam getransformeer of getransendeer word in die woord en gedig, of eintlik, hoe die siel op misterieuse wyse ‘n nuwe “liggaam” kry in die woord en gedig:

hierdie sigbare gedig

 

But if I write what my soul thinks,

then it will be visible,

and the words will be its body. – Helen Keller

 

hierdie gedig is geskryf

met die bloed van my are wat vinnige riviere

loop deur my ganse lyf tot in my oorlelle

(vlesige afkoellappies soos die olifant se ore)

 

– is geskryf met my worsige ingewande

se wurmkrulle

waar my maaltye van vandag wat kom uit die aarde

nog verwerk word en magies omgetoor word

tot harsings

 

– is geskryf met hormone en elektrochemiese polsings

in my kop waar woorde van gemaak word

en van woorde word raaiselagtige vleeslose

oordragte gemaak

 

met my kiestande en lippe

my vingernaels en hare

my snorbaard my tong

my adamsappel skryf ek

 

hierdie gedig is geskryf met die kilometers

vertakkings van my senustelsel

 

met my vel groot soos my vloermat

van koedoevel

 

die meer as 70% water van my liggaam

my hormone en testosteroon

geel gebeente vol grys murg

my ribbekas en kniekoppe

is vol mossiemusiek

 

om met die hart te skryf is sulke goedkoop

sulke smakelose cliché so ’n mistasting

dat ek dit kieskeurig soos my blindederm verswyg

 

hierdie gedig is geskryf met die vingerpunte

van my linkerhand

eintlik skryf mens met jou pols

maar myne is vol artritis aan my regterhand

 

– van my skedel af tot by my groottone

en voetsole is hierdie gedig geheimsinnig

geskryf in die mees ongryplike sublieme efemeros

van ’n pynlik gebakkelde lyf

 

MT

Professor Cloete, baie dankie vir u tyd: ek het heerlik by u gekuier en u het die vrae wat ek aan u gestel het so volledig en interessant beantwoord! Hierdie onderhoud het inderdaad my oë in meer as een opsig oopgemaak en my die muwe bundel met groter begrip en verwondering laat lees. Ek hoop die bundel oor die sublieme waarvan u in die onderhoud melding maak, verskyn binnekort. Sterkte met al die bekendstellings wat nou voorlê en met die skryfproses wat by u nooit ophou nie. Karnaval en Lent is ’n bundel poësie wat ek ten sterkte by alle poësielesers wil aanbeveel. Dit stimuleer die leser om denkpaaie te neem wat dikwels al met gras oorgroei is of wat nog heeltemal onbewandel is.

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Onderhoud met TT Cloete”

  1. carina van der walt :

    Baie dankie vir ‘n grondige onderhoud, Marlies. Jy maak my nuuskierig, veral oor die bundel se titel. Duskant is dit dag drie van karnaval – veertig dae voor paastyd. Die meeste mense is uitgejol, maar of hulle nou regtig gaan vas a la Katolieke tradisie? Ek twyfel! En ja, dis vanaf 1 Maart amptelik lente en dit voel ook so. Daar’s ‘n groot spanningsveld tussen die onomkeerbare groei en vreugde in die natuur en die mense se morbiede religieuse tradisie om juis dan die vleistande te trek en die drinkskoene uit te trek.

  2. Susan Smith :

    Marlies, dankie vir ‘n knap “inlywing” in die vlees en bloed van hierdie bundel. Ek vermoed dit gaan ons as lesers “uit ons voeë ruk” en met nuwe oë na die samehang van alle dinge laat kyk, na die goddelike en die banale, na die kiestande, die lippe, die grys murg en die sentimeters vel waarmee die digter dig. Die eerlike eenvoud en reguit blik van die digter skyn helder deur in jou gesprek.

  3. Joan Hambige :

    ‘n Goeie onderhoud. Marlies Taljard se insigryke vrae en die digter se reguit antwoorde werp beslis lig op die bundel en die skrywerskap.

  4. Joan Hambidge :
  5. […] Volledige gedig en onderhoud: Versindaba […]