Jacobus van der Riet. Twee gedigte

Die Heilige Evangelis Lukas

– Feesdag 18 Oktober

 

Hooggeagte Lukas, oor jou besadigde, gedrae styl

kan ek kwalik sonder ‘n omhaal van woorde skryf.

Verdra my, verleen my verlof om sonder verwyl

my grenslose verwondering op die spits te dryf.

 

Nooit verraai jy enige verbasing, enige ontsteltenis,

nooit spreek jy ‘n oordeel of ‘n voor- of afkeur uit,

maar sin ná sin bly jy immer die selfbeheersde stilis

selfs as ‘n skare rumoer of matrose dreig om te muit.

 

Noukeurig, lakonies, klinies teken jy die gegewens aan,

oor ‘n tronkbewaarder, ‘n waarsegster of silwersmid,

oor die hoofman oor honderd, die towenaar se waan

of ‘n seun wat in slaap versonke op ‘n vensterbank sit.

 

O Lukas, hoe treffend die litotes, die onderbeklemtoning,

waardeur die gebeure des te meer uit die boekrolle spring.

 

 

*

 

Die Heilige Biskop en Martelaar Blaïsios (oorl. ong. 316 n.C.)

– Feesdag 11 Februarie

 

Die takbok se ore roer soos blare in ‘n bries

waar hy wei in die woud. Hy lig sy kop en luister,

hef ‘n poot tentatief op, skuif ‘n kousel in sy kies,

en stryk aan na waar ‘n ligkol wink in die duister.

 

In ‘n boomholte knip ‘n uil sy amber oë en kyk.

Hy klouter uit, sprei sy gevlekte vlerke en sweef

geruisloos na ‘n stomp voor die laaste sonlig wyk.

Ook die vos en beer se aantog kom stadig op dreef.

 

Een na die ander kom hulle te voorskyn uit die bos,

die muishond en die mol, die kewer, wolf en akkedis,

selfs die wildevark wat effens teësinnig sy truffels los

– bloot vaagweg begryp hulle wat hul beweegredes is.

 

Nou sit die diere grootogig voor die grot in ‘n kring

terwyl Blaïsios daarbinne innig die aandgebed sing.

 

© Jacobus van der Riet / 2014 



Bookmark and Share

Comments are closed.