Onderhoud met Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout gesels oor sy nuutste bundel

 Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” met Louis Esterhuizen.

 

Louis Esterhuizen (LE): Andries, eerstens van harte geluk met ‘n manjifieke bundel; ‘n kragtoestel, inderdaad.

Andries Bezuidenhout (AB): Dankie Louis! Ek hou van die “kragtoestel”. Ek hoop maar ek het die positiewe en negatiewe pole reg om gekoppel.

LE: En daardie titel … ‘n Titel wat so gelaai is met bybetekenisse, want in ‘n verbruikersamelewing is ons as mense immers net soveel huishoudelike “toestelle” as wat ‘n wasmasjien is, byvoorbeeld. Hoe het hierdie titel hom by jou aangemeld? Watter implikasies hou die titel vir jóú in?

AB: Dit titel was daar voor die meeste van die gedigte en kom uit ‘n poging om my verskillende wêrelde nader na mekaar toe te trek. My werk as bedryfsosioloog maak dat ek gereeld die binnekant van fabrieke sien. Een van my navorsingsprojekte was oor hoe werkers in yskasfabrieke in Suid-Afrika, Australië en Suid-Korea reageer op hul werkgewers se dreigemente om fabrieke te skuif na lande toe waar arbeid goedkoper is en werknemers meer inskiklik is. In die fabriek in Changwon, Suid-Korea, kan hulle ‘n yskas in agtien sekondes aanmekaarsit. Baie van die navorsing in my veld gaan oor motorfabrieke, omdat maatskappye soos Ford so ‘n belangrike rol gespeel het in die ontstaan van massavervaardiging en massaverbruik. Dink maar aan Ford se stelling oor die kleur van karre (“You can have any color of car, as long as it’s black”). In daardie stelling oor massavervaardiging en verbruikerskeuse sit ‘n stukkie ironie, dalk selfs sinisme. Ek lees ook poësie daarin raak. Die motorkar het dus amper ‘n simbool van verbruikerskultuur geword. My navorsing oor yskasfabrieke het my ‘n ander blik op vervaardiging en verbruik gegee. Ek het begin oplees oor die belangrikheid van voedselpreservering vir samelewings in tye voor yskaste. Ek het ook opgelees oor die meganisering van huishoudelike werk en hoe dit verhoudings tussen mans, vroue en hul gesinne verander. Teen hierdie agtergrond neem Defy se “Automaid” nogal ‘n wrang betekenis in Suid-Afrika aan. Baie van hierdie leeswerk, dinkwerk en wroegwerk moes elders heen. Akademiese artikels en boeke het hul eie plesier, maar met die digkuns kan mens soveel meer met iets soos ‘n yskas of ‘n wasmasjien aanvang. O, my siel daar’s ryke stof! In my eerste bundel (Retoer) was die geskiedenis, reis en stedelike landskappe op die voorgrond. Ek wou ‘n opvolgbundel skryf wat nader aan my vel kom, maar sonder om ‘n blik op die buitewêreld te verloor. Ek het gedink kombuistoestelle is goeie reisgenote vir so ‘n projek, intieme masjiene wat met pype en kabels aan die infrastruktuur daarbuite gekoppel is.

LE: Nog ‘n aspek rondom die titel wat my interesseer, is die ‘veelvuldige gebruike’-komponent; en dan veral in kontras tot die tersaaklikheid van ‘toestelle’. Lees ek te veel in die teks in indien ek in hierdie teenstelling iets van ‘n arse poetica en/of doelstelling ten opsigte van die digkuns en meer spesifiek: die máák van ‘n gedig vind?

AB: Dis Maurice Blanchot wat oor die materialiteit van taal geskryf het, dink ek. Taal is simbolies en kreatief, maar dis ook gesetel in klankgolwe en lywe – in materie. In ‘n stadium het ek die vervaardiging van die gedigte so begin geniet dat ek die gevaar geloop het dat die bundel nooit sou klaarkom nie. Ek moes van daardie vervaardigingsproses ook weer afstand kry.

LE: Andries, jou het ek leer ken as iemand wat elke aspek van sy digterskap ten nouste bedink; daarom dat jou motto’s en aanhalings, byvoorbeeld, nie sommer net vir die ‘lekker’ gekies word nie. So vind ek byvoorbeeld ‘n besonderse saampraat tussen die McCarthy-aanhaling (waarmee die openingsgedig “Kombuiskomplot” ‘n aanloop neem) en die lang Walter Benjamin-aanhaling by die titelgedig, “Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” enkele bladsye later. Die raakpunt lê vir my in die kontras tussen die weerloosheid van dinge en die katastrofale  rommelhoop wat die geskiedenis is … Jou kommentaar?

AB: Louis, ek is bly jy lees daardie gesprek tussen die aanhalings raak. Die aanhaling uit Tony Hoagland se gedig “Dialectical materialism” heel aan die begin van die bundel is vir my baie belangrik. Ek hou ook van Hoagland se meer teoretiese werk en ek wil graag ‘n stuk uit een van sy essays hier aanhaal. Hy verwys hier na die moderne wêreld, maar ook na nie die versplintering in betekenis en identiteit wat die kakofonie van die verbruikersamelewing, waarna jy verwys het, meebring. Sommige sal na daardie versplintering as ‘n postmoderne toestand verwys (alhoewel die term se betekenis weens oorgebruik aan ernstige slytasie ly):

“Modern consciousness may indeed be splintered, but it is one function of poetry in our time to fasten it back together – which does not mean to deny its complexity. When poetry can name the parts and position them, when it brings us out of the speedy, buzzing fog that is selfhood and modern life, our sense of being alive is heightened and intensified. How strange it is that when I read a particular poem, which brings the world into focus for me, that I can feel my own self come into focus. I was already part of that world, I know – but the unifying, clarifying impact of the poem delivers me to a deeper, and more conscious state of being-in-the-world. Deeper and better than before, when I was only lost in it.” (Die aanhaling kom uit Tony Hoagland se essays in Real sofistikashun: Essays on poetry and craft, in 2006 deur Graywolf Press gepubliseer, p. 172.)

Dit gaan hier oor die rol van digkuns in hierdie sogenaamde postmoderne era, waarin die individu (of die subjek) nie noodwendig ‘n kern het nie. In die ou dae – die tyd van die tagtigers, byvoorbeeld – was so ‘n postmoderne projek radikaal, want dit het die sterk figuur van Afrikanernasionalisme ondergrawe. Ek sukkel egter met die etiese posisie waarmee dit my nóú laat. As ek, as wit, middelklas man in ‘n postkoloniale Suid-Afrika, my posisie op hierdie manier laat versplinter, beteken dit nie ook dat ek my verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid opgee nie?

Ek dink ook om vir werkers in yskasfabrieke te predik oor die versplintering van die subjek maak nie juis sin nie. Hoe keer mens terug na komplekse (maar sinvolle) gesprekke oor ons rol in die geskiedenis? Dis waarmee ek worstel. Ek het nie ‘n behoefte om na ou sekerhede en harde ideologie terug te keer nie. Dis waarom ek met mense soos Benjamin en Marx worstel, veral Benjamin se beeld van die engel die geskiedenis as rommelhoop. Daardie stuk word gewoonlik in Engels as “Theses on dialectical materialism” vertaal. Dan is daar die stuk uit die Kommunistiese Manifes, wat ek in die voorlaaste gedig op die kop probeer draai, soos Marx destyds beweer het hy met Hegel gedoen het. Dit alles gaan vir my weer oor die materialiteit van taal – die soeke na ‘n plek om te staan in ‘n wêreld waar alle grond dryfsand geword het. Ek gorrel en roggel nou – die gedigte verwoord dit beter.

LE: ‘n Besonder opvallende aspek van jou nuwe gedigte is die groot hoeveelheid vrae wat in bykans elke gedig gevra word. Dui dit op ‘n element van onsekerheid, met ander woorde: watter ander, ‘veelvuldige’ gebruike moontlik is te midde van die tersaaklikheid van bepaalde ‘huishoudelike toestelle’?

AB: Dis sowaar onsekere tye, Louis! Die Eerste Wêreldoorlog het honderd jaar gelede uitgebreek. Ek was gisteraand lank wakker oor wat in Oekraïne aangaan. Ook Uganda se absurde wette wat liefde kriminaliseer. Dan is daar die onsekerheid waarmee die fabriekswerkers met wie ek onderhoude voer lewe. Wat gebeur as die maatskappy oppak en China of Swaziland toe loop? Hoe verstaan mens dit alles? In onseker tye loop mens die gevaar dat daar na fundamentalistiese halms gegryp word – ons sien dit in politiek en religie. Van die Australiese fabriekswerkers waarmee ek praat word erg rassisties weens hierdie onsekerheid – hulle blameer die Chinese. In Suid-Afrika gebeur dit ook, want ons is baie goed daarmee om sondebokke te soek. Die digkuns waarby ek aanklank vind vra vrae, eerder as om antwoorde te verskaf. Dink maar aan Szymborska, iemand wat haarself as kunstenaar van die Party kon losmaak.

LE: Nog ‘n opvallende aspek van dié bundel is die gebruik van illustrasies by van die gedigte; wat was jou oogmerk daarmee?

AB: Elkeen van daardie sketse is van bestaande patentesketse gemaak – ek het hulle nagetrek en ingekleur. Een interpretasie daarvan sou seker kon wees dat enige kreatiewe proses op reeds bestaande modelle se skouers moet staan. Patentesketse is egter interessante goed. Daar is kuns by betrokke, maar die kunswerk word gemaak om iemand se idees as kleim te karteer – as intellektuele eiendom te registreer. Ek wou hê die sketse moet daardie spanning tussen skepping en beheer vaslê.

LE: In Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle is daar etlike reisverse; verkennende reise deur ver, afgeleë plekke met ‘n pertinente kyk na die argitektuur van hierdie plattelandse geboue. Vertel ons van hierdie aspek van jou tematiese veld?

AB: Louis, ek hoop regtig nie my antwoord klink vreeslik pretensieus nie. Ek het myself reeds aan ernstige “name dropping” skuldig gemaak. Die kort antwoord is dat ek regtig van rondreis hou en soms stilhou om iets neer te skryf of om ‘n foto te neem. Ek skilder meestal landskappe. Daar is egter ‘n dieper betekenis in landskappe en geografie en waarom ek in die spanning tussen taal en plek belangstel. As mense oor postmodernisme praat, verwys hulle telkens na die linguistieke keerpunt (“linguistic turn”) – die besef dat alles wat ons doen talig is, selfs dat daar niks buite taal is nie. Daardie posisie is vir my te los, te vloeibaar, te onstandvastig. Ek noem nou weer die fabriekswerkers waarmee ek onderhoude voer. Hoe help die linguistieke keerpunt hulle? Ek probeer om weer ‘n plek te vind om te staan en ek dink ek vind daardie plek in die meer onlangse geografiese keerpunt (“spatial turn”) – die besef dat mens iewers moet staan, dat mens noodwendig van iewers af praat.

Jou boekwinkel het een van die beste versamelings filosofie in die land, so laat ek myself weer skuldig maak aan “name dropping”. Ek lees graag David Harvey en Henri Lefebvre – skrywers wat hulself met die ruimtelikheid van ons bestaan bemoei, wat aantoon dat daar absolute ruimtelikheid is wat buite taal staan. Albei het sterk Marxistiese invloede, maar sonder die standvastigheid en sekerhede wat die Gulag veroorsaak het. Daar is elemente in Harvey en Lefebre se werk wat daardie spanning tussen taal en ruimte op teoretiese vlak oopskryf, dink ek. Ek weet nie of dit nou sin maak nie, Louis. Gedigte moet konkreet wees, nie filosofiese werke nie. Die gedigte in hierdie bundel gaan in die eerste plek oor yskaste en stowe en sulke goed.

LE: Jou gebruik van humor in hierdie nuwe verse vind ek oorweldigend, Andries. Veral omrede sekerlik een van die moeilikste dinge is om by poësie te betrek. En tog hanteer jy dit regdeur en met verbluffende gemak; soms wrang, soos in “Die jaar toe Pa die skottelgoedwasser gewen het” (p. 30) en “Op pad tussen Ermelo en Morgenson” (p. 32), soms ironies (byvoorbeeld “Welverdiend” op p. 43) en dan dikwels ook gewoon vir die plesierigheid soos in die lieflike “Vrae oor vere” (p.52) en “Wasmasjien” (p.57). Verbeel ek my of het humor vir jou meer as net ‘n toevallige komponent van jou digkuns geword?

AB: Milan Kundera oor lag en vergeet. Humor is ‘n belangrike politieke wapen teen outoritêre tendense. ‘n Mens moet ook vir jouself kan lag. My eerste bundel het so swaar aan skuld gedra dat daar van verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid min sprake was. Daardie gedigte wag vir die kaptein om te kom oordeel. Die meer onlangse gedigte praat van ‘n ander plek af, dalk een met meer afstand, maar ook minder swaarwigtigheid, hoop ek.

LE: Andries, jy is inderdaad ‘n multibegaafde persoon: digter, skilder en natuurlik ook musikant. Die gevaar bestaan dus uiteraard dat jy soms ‘n liriek sal pleeg wat pretendeer om gedig te wees en andersom … Tref jy ooit ‘n onderskeid, wonder ek meteens. Of is dit maar alles dieselfde ding vir jou? Op watter stadium wéét jy byvoorbeeld hierdie wil ‘liriek’ wees, of anders gestel: ‘n gedig?

AB: Ek merk op dat die feit dat mens so promiskueus is soms teen jou gehou word. Ek wens ek kon een dissipline kies – digkuns, beeldende kunste, of musiek. Die grootste verskil is dalk tussen digkuns en liriek aan die een kant en beeldende kuns aan die ander. Talig teenoor nie-talig. Melodie en harmonie is egter ook nie-talig. Ek is beter met melodie as met harmonie. Ek weet nie, Louis, hoe moet mens kies? ‘n Liriek word soms ‘n gedig, soms andersom. Soms tree ‘n gedig met ‘n skildery in gesprek. Ek kan nie verduidelik hoe dit gebeur nie. Ek het Ingrid Winterbach daaroor gevra en sy maak tyd vir beeldende kuns en skryfwerk op verskillende tye. Ek dink egter ons promiskueuses moet soveel harder aan elkeen van ons verhoudings werk as monogame kunstenaars. Dis ‘n vloek, nie ‘n seën nie. Daar is egter ‘n baie groot verskil tussen die standaarde wat ek aan gedigte en lirieke stel. Lirieke het musiek as kruk of vlerk, waar gedigte heel op hul eie moet staan.

LE: Aansluitende by voorafgaande vraag wonder ek meteens ook oor jou werkswyse … Dig en skryf en skilder jy volgens ‘n vaste roetine of is dit maar ‘n geval van soos die inspirasie jou beetpak?

AB: Ek moet met opset tyd vir elkeen maak. Dit gaan ook oor die implemente en toestelle wat jy benodig – verf, esel en palet, ‘n kitaar, ‘n rekenaar. Ek het ‘n ateljee een vloer boontoe in die woonstelblok waarheen ek ontsnap daarvoor. Ek voel bevoorreg om dit te kan doen.

LE: Ten slotte – die voor die handliggende vraag. Hierdie bundel het jy voltooi as deel van ‘n Magistergraad in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Watter invloed het dié interaktiewe proses op jou as digter gehad?

AB: Daar is min ander geleenthede wat geskep word waartydens skrywers betaal word om ander mense se werk aandagtig te lees en sistematies daarop kommentaar te lewer. In so ‘n kursus doen jou studieleier jou nie ‘n guns nie, want dis sy of haar werk. Ek het die voordeel van fenomenale dosente (een ‘n seil, die ander ‘n anker) en meelewende klasmaats gehad. Die graad is een van die lekkerste dinge wat ek nog in my lewe gedoen het. Ek het ongelooflik baie geleer, ook om oor en oor en oor te skryf. Ek weet baie mense kritiseer sulke kursusse in kreatiewe skryfkunde, omdat die “produkte” kwansuis dieselfde klink (Ford se swart motors). Dis nie my ervaring daarvan nie – dit geld ook vir kursusse wat by ander Suid-Afrikaanse universiteite aangebied word. Dalk het ons die voordeel van die intimiteit van ‘n klein taal, wat Fordistiese massaproduksie teëwerk. Die kleur van die digterlike karre wat hier vervaardig word, asook van diegene wat aan die stuur van sake sit, het meer met die geskiedenis te doen as met die inhoud van die kursusse, dink ek.

KOELKAS

volgens die tweede wet van termodinamika
is verkoeling die meganika

van hitte verwyder, eerder as koue byvoeg:
ook bekend as kriogenie.

koue, my lief, is dus niks anders
as die afwesigheid van hitte nie

en ek wat op die klipvloer bewe
vandat jy nie meer hier is nie.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Onderhoud met Andries Bezuidenhout”

  1. Maria Snyman :

    O, daai outydse naaimasjien op die voorblad! Die veel-vul-dige gebruik van toe-stelle?! Om ‘n lewe mee te maak, om die lewe mee te ervaar. Sien baie uit om hierdie bundel in die hande te kry – ek dink ek ervaar alreeds die heerlike humor. Dankie Andries & Louis vir hierdie lekker onderhoud – dit gee ‘n mens ‘n goeie voorsmakie en maak mens ironiesgenoeg juis lus om “op die klipvloer [te] bewe”?!

    Ek sien uit om die spanning tussen die “implemente en toestelle” eerstehands ervaar. Ek het vir ‘n groot deel van my lewe ‘n baie intieme verhouding met naaimasjiene gehad, so by so dat ek op ‘n stadium geglo het die goed praat met my?! Ek sien ook uit om die tekeninge te sien.

    “We have too many things and not enough forms” – Flaubert, motto vooraan “Force and Signification” (Derrida).

    “This universe articulates only that which is in excess of everything, the essential nothing [i.e. die essensiële infiniete] on whose basis everything can appear and be produced within language; and the voice of Maurice Blanchot reminds us, with the insistence of profundity, that this excess is the very possibility of writing (…) Only pure absence – not the absence of this or that, (…) – can inspire, (…) can work, and then make one work.” Derrida, Writing and Difference, 1978:7.

    koue, my lief, is dus niks anders
    as die teenwoordigheid van die infiniete nie

    en ek wat op die klipvloer bewe
    vandat jy nie meer hier is nie.

    “Koelkas” help mens verstaan hoekom die mens so ‘n groot behoefte aan liefde het, en hoekom fabriekswerkers dit van hul werkgewers moet kry …

    Een van verskeie dinge wat my bedruk gemaak het in Suid-Korea was juis die baie groot swart motors (ek sien lykswaens, die Koreane sien status – ek het daaroor uitgevra), die min verskeidenheid aan vorms en kleure van motors … ek het die baie kleure van die “digterlike karre wat hier vervaardig word” gemis!

    Teveel werk en te min speel … Gelukkig is daar die digkuns om ons gesond te hou – met die “digkuns kan mens soveel meer met iets soos ‘n yskas of ‘n wasmasjien aanvang”!

  2. Andries Bezuidenhout :

    Maria, met my besoek aan Suid-Korea het hulle pas Saterdag as deel van die naweek ingestel. Koreane was glad nie gewoond aan twee dae se rus nie. Verdwaasde kerngesinne op die moltrein: Wat maak mens met soveel vrye tyd? Ek het gehou van die manier waarop hulle hard kuier na werk, asook die feit dat mens ʼn vrugtebord saam met jou bier in kroeë kan bestel. Dan is daar Kim-chi en die spesiale yskaste wat hulle daarvoor vervaardig. Kim-chi is vol knoffel en rissies (die tipe wat brand) – albei oorspronklik uit Suid-Amerika, maar nou outentiek Koreaans.

  3. Maria Snyman :

    Andries, ek was gelukkig, my skool het my darem nie op Saterdae laat werk nie, maar my ko-juffrouens moes. Die hard kuier na werk was, so ek verstaan het, meestal net vir die mans beskore – jy moes party oggende maar koes-koes stap tussen die kimchi-en-ander-kosblapse. Die klein kindertjies so laat op straat saam met die ouers was wel ook so – hulle slaap min. 23 uur kom die hoërskool kinders bult-af vanaf die skool as ek bult-op laat by die huis kom. Omtrent die rissies het ek verstaan hulle het dit by die “gehate” Japanese (wat hul metaal “chopsticks opgesmelt het vir wapens) geleer. Ek mis die seewierdisse woes – droog, beter as chips, en die seewiersop – wat ek net bygedam het met swartpeper (altyd in my handsak byderhand – my ko-juffrouens het saamgestem, dit maak ‘n goeie verskil). En ek moet eerlik wees, daar was ook ‘n blou motor, die Hyundaitrokkies (en baie geel privaatskoolbussies!) – ‘n ou kêrel van my het een gehad, so hy was saam met my daar in Suid-Korea … ou kêrels en hul karre, darem -“koue, my lief”!