Wicus Luwes. Perde en Poësie

(Cecil Skotnes se werk oor Wolraad Woltemade)

Ek moet ophou om vleis laat in die aand te eet – veral die koue braaivleis uit die yskas. Die dinge wat my pla volg my dan rond in my drome of my drome gee my nuwe dinge om oor bekommerd te wees. Met die nasionale verkiesing om die draai begin die telefoonpale swaar dra aan al die beloftes van die politici en ek wonder watter perd om my geld op te sit.

 

(The Daily News Review, 23 Jan 1901… Tekening van Genl. Christiaan de Wet op sy perd, Fleur. – Bron: https://www.facebook.com/valhallatees.co.za)

“Die 2014 La Ferrari het ‘n 963 perdekrag enjin,” sê iemand terwyl ek op my stoep sit en knibbel aan die koue braaivleis. “Het jy al gesien hoe lyk 963 perde wat voor ‘n kar ingespan is?”

Ek het probeer uitmaak tussen die stoom van my koffie wie praat en sien toe vier perde en hul ruiters wat in my voortuin staan. Niks meer braaivleis vir my nie.

 

“Tempest het nog altyd ‘n goeie voorgevoel oor verkiesings gehad,” sê ‘n man met ‘n netjiese kuil en pak terwyl hy stadig by sy perd afklim.

“Ek weet wat jy bedoel, Paul,” tree ‘n volgende stem na vore.

“Fleur het altyd onrustig geraak as die kakies in die omtrek was. Seker die dat hy nie die hensoppers wat my gevange geneem het kon peil nie, want hy het gedink dis sy eie mense. ‘n Mens besef nie dat dit hensoppers is totdat dit te laat is nie. Of wat sê jy Louis”

“Ou Chris, jy weet mos ek en Dopper het al ‘n paar kilo’s agter die blad, maar ek beywer my eerder vir versoening. Niemand wen werklik tydens ‘n oorlog nie. Jy kry mense wat baie praat en mense wat baie doen,” sê die ruiter terwyl hy wys na die stil ruiter aan die agterkant.

“Wolraad het nie sy heldedaad uitgevoer as afgevaardigde nie. Hy en Vonk het gesien dat die mense gered moes word al was hy ‘n man van by die 65 jaar oud.”

 

Die hond met sy nat snoet het my teruggebring na die werklikheid toe. Hy het seker kom vra vir die beentjie wat ek geëet het voordat my voorvaders my so verras het. My voortuin was weer leeg en ek het begin wonder oor die perde en hul ruiters.

(Genl. Louis Botha op sy perd, Dopper. Bron: https://www.facebook.com/valhallatees.co.za)

perde

perde is konings van heuwels
en hawer van duine en torings van vuur
perde is konings met mantels van blou
oker amandel skimmel soos grou
swarter as oonde witter as talk
maanhaar verstroom in vleie van wind

perde is konings met keile en hoewe
wat ratel oor berge riviere en rif
savannas en kranse en skeure met drif
o konings van klip met hoewe in vaandels
wat klop ametis ametis
hoewe in steensimbaal
dolomiet dolomiet

robyn is die kykers van perde
robyn soos die sterre teen skemer
waar die stofwolk draai waar die sand
in kringe soos poeier verdwyn

bruin is die oë van perde
bruin soos die maas op modder
waar die son waterpansag
in die somer kom lê

perde is konings wat proes en galop
oor pleine en plato’s van mense
perde dra vragte van kinders en ridders
of oues van dae soos ’n hut op die rug
perde runnik alleen en verruk in ritmiese bome

perde is visse in waterwoestyne
swiepend van links en na regs
en terug in die lug asof gode
hul koppe in nette wil vang
met hoewe in vaandels
wat klop ametis ametis
hoewe in steensimbaal
dolomiet dolomiet

perde is prinse wat die melkweg kantel
die oggend se as die stadige pas
perde is prinse en draf aan die hand
met spelende spiere wat dans deur die land
en klop ametis ametis

perde is vroue wat geheime in paaie ontdek
vroue met flanke wat glim in die sweet van die dag
kampeer tussen mane en sneeu tussen wasem en gras
wat kom lê in ’n stal soos ’n ster in ons pas

perde is konings en prinse en visse en vroue
perde is meer as salpeter van asem

(uit Passies en passasies – Marlise Joubert. Protea Boekhuis, 2007)

Ons word groot in ‘n nuwe generasie; in ‘n tyd dat perde bloot seremonieël gebruik word. Miskien het hul nog ‘n doel vir die berede polisie of vir die perde-wedrenne, maar dit het so vervlak. Miskien moet ek eerder fokus op die positiewe en op die raakpunte tussen perde en poësie. Beide kan funksioneel wees in die herstelproses van gebroke mense. Beide jaag die adrenalien-vlakke op wanneer hulle op volle vaart is. Die teuels in die hand van ‘n bedrewe ruiter en digter is kragtig en grasieus op dieselfde tyd.


Ek het die afgelope tyd heelwat gesien en gelees oor perde. Daar was die aankondiging oor Piet van Rooyen se bundel ‘Reisiger te perd’ en die daaropvolgende onderhoud deur Gisela Ullyatt. Op Facebook volg ek ‘n besigheid genaamd Valhalla Tees. Hulle het ‘n paar foto’s en prente op hul Facebook-blad oor bekendes figure en hul perde uit ons geskiedenis geplaas. Valhalla Tees maak t-hemde oor geskiedkundige figure, maar gee dit ‘n kinkel wat ‘n ander invalshoek op die geskiedenis gee.  Piet Retief bedryf sy eie vervoerdienste en Siener van Rensburg word ‘n privaat speurder. Selfs twee van my middernagtelike besoekers, Wolraad Woltemade en Paul Kruger kry ‘n Valhalla Tees-invalshoek.

 

Perde was instrumenteel in die opbou van ons land – in boerdery en tydens oorlog. Ons wegdryf van die natuur met ons vinnige pas en kits-oplossing versteur miskien ons ewewig meer as wat ons besef. Terwyl ek aan die yskas se handvatsel vat, besluit ek om eerder te gaan slaap voordat ek dalk nog ‘n perd opsaal. Netnou roep ek die ‘Ruiter in Swart’ van die foto-verhale op en wat weet hy nou in elk geval van die politiek af.

The Rescue

The man sits in a timelessness
with the horse under him in time
to a movement of legs and hooves
upon a timeless sand.
Distance comes in from the foreground
present in the picture as time
he reads outward from
and comes from that beginning.
A wind blows in
and out and all about the man
as the horse ran
and runs to come in time.
A house is burning in the sand.
A man and horse are burning.
The wind is burning.
They are running to arrive.
(deur Robert Creeley, uit Selected Poems of Robert Creeley. 1991, University of California Press)
Foto- en Prente-bronne
1. http://www.artmap.tv/news_detail.aspx?id=429
2. https://www.facebook.com/valhallatees.co.za
3. http://www.southafricancomicbooks.blogspot.com/2012/09/photo-story-magazines-ruiter-in-swart.html
Bronne
1. Creeley R. 1991. Selected Poems of Robert Creeley. University of California Press
2. Joubert M. 2007. Passies en passasies. Protea Boekhuis
3. Pretorius SJ. 1981. Smartlap. Kaapstad: Human & Rousseau.
Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Wicus Luwes. Perde en Poësie”

  1. Louis Esterhuizen :

    Hoe geniet ek dit meteens nie weer om hierdie aangrypende gedig van Marlise te lees nie, Wicus. Dankie daarvoor. Terloops, ek het haar by verskeie geleenthede dié gedig hoor voorlees en dan is ek telkens getref deur die galoperende ritme daarvan. Jy moet beslis Piet van Rooyen se bundel onder oë kry. Manjifiek gedoen, myns insiens.