Resensie: Skulp (Hennie Aucamp)

 

Skulp. Kwatryne. Deur Hennie Aucamp. Pretoria: Protea Boekhuis. ISBN 978-1-4853-0069-4 (gedrukte boek); ISBN 978-1-4853-0070-0 (e-boek).

 

Resensent: Bernard Odendaal

 

Nadat die veelsydige Hennie Aucamp sy buiging op die digkunsverhoog gemaak het met bundels liedtekste, tree hy in 1984, met Die blou uur, ook as kwatryndigter in die kalklig. In 1996 (Pluk die dag) en 1999 (Koerier) volg nóg versamelings kwatryne, en nou met Skulp ’n vierde.

’n Verwantskap tussen liedtekste en kwatryne is geleë in die vormtug en die gevolglike vernuf wat hulle van die digter vereis. Heel dikwels is die strofevorm wat Aucamp vir sy liedtekste kies, juis die vierreëlige. Die spel met klank- en metriese patrone, met woordskepping en woordbetekenisuitbuiting (en die moontlikhede tot klimaktisering en antiklimatisering, tot kontraswerking en ironisering wat dit alles bied), is aspekte waarin Aucamp as digter uitmunt. Daarby moet sy vernuf met die raak, gebalde beeld gevoeg word.

’n Mens voel by die lees van sy verse dikwels aan dat dié spel- en vernufkenmerke, die spanning tussen verwagting en vervulling wat daarin skuil, onderskragend van byvoorbeeld die opvallende erotiektema in sy werk funksioneer. Vandaar dat poësie en erotiek by wyse van beeldspraak, soos meermaals voorheen in Aucamp se oeuvre, in die volgende voorbeeld op mekaar betrek word: 

 

Debuutbundel

 

Haar skril stem striem my kuite,

my boude en my blaaie;

niks kan haar nou meer stuit nie,

sy staan in ligte laaie.

 

Komies-ironies dat die debuteringsdrif aangespreek word in ’n laat-bundel van ’n gedeë digter!

Ook Aucamp se hantering van motiewe soos verydeling, verganklikheid en sterflikheid, wat van die begin af in sy digwerk prominent is, baat dikwels by die genoemde vormlike en stylkenmerke. Soos sy vorige bundel, Teen die lig uit 2012, is Skulp as ’t ware gedrenk in die verganklikheidstematiek. So word byvoorbeeld die lotsverbondenheid van die veldheer en die maaiers wat nadoods op hom voed, te berde gebring op ’n wyse wat deurspek is van ironieë en dubbelsinnighede:


Op die oop veld

 

Onder die stink veldkombers lê die reste

van ’n veldheer, op sy dag ’n gedugte Romein;

en nou volg die slegste, of dalk beste:

Die maaiers krioel om hul domein.


’n Bepaalde onttrokkenheid – soms as ’n soort noodweer – word met betrekking tot die ontstemmende doodstema bewerkstellig deur die ten tonele voering van die tegniese vernuf, die stilistiese bedrewenheid en die (oënskynlik) lughartige aanslag. Die motto van Skulp slaan – met ’n komies-ironiese kinkel aangaande die woordkuns in die stert daarvan – op sodanige ‘afstandname’:


Am I indifferent, then, to my own death?

No, it’s not a matter of indifference, but

rather a kind of distance, a sort of

screen which is very difficult to

describe in words.

– Amos Oz, Late Love


Die twee gedigte in die bundel wat direk met die bundeltitel verband hou, handel beide, minstens blykens die beelding, oor sowel die sterflikheid (“seë waar jy op aarde nooit was nie”, luidens “Skulp”) as die verskuns self. “Nautilus pompilius” buig as kwatryn as ’t ware in op sigself, soos onder meer deur die omarmende eindrym vergestalt – en dié ‘matematiek’ lê ten slotte (ook vernietigend) oopgevlek:


Dié skulp, soos ’n S op homself ingekrul,

berg binne hom, ongesiens, ’n wenteltrap

wat matematies klim, stap vir stap;

en net die fynste deursnit kan dit onthul.

  

Die gevaar van eenselwigheid is wesenlik vir enkeldigsoort-versamelings. Aucamp bring egter genoeg afwisseling teweeg, byvoorbeeld deur wisselende rympatrone (omarmend, kruisend, parend, slagrymend, gebroke, volgens die Persiese kwatryn-skema), om te bly boei met Skulp.

Ook tematiese afwisseling word bewerkstellig. Naas talle verse oor verskeie manifestasies van verganklikheid, verval, verydeling en vernietiging is ook gedigte te vind met ’n meer of minder duidelike religieuse perspektief (“Die terugkeer”, “Heilige dae”, “Statebybel”, “Winternag”), of wat gaan oor die seksuele en die liefde (“Idioom”, “Druksoen”, “Maansopkoms”, “Viering”, “Trude Hesterberg”, en dergelike), oor die skeppingsdrang en die lewensdrif (“Windpomp”, “Bosveld-ontbyt”, “Boervrou”, “Poplier”), oor die kunste, die skone én die dekadente (“Mitologies”, “Ballet”, “Kunst der Fuge”, “Kamieskroon”, “Transvestiet”, “Wenresep”, ensovoorts). Behalwe ’n kennelike huldigingsgedig (“Gerrit Komrij†”) is daar ook heelparty waarin die huldiging implisiet is aan die intertekstuele toespelings en die sitate (”Drieankerbaai”, “Die skat van Java”, “What a lovely way to go”, “In Fairy Lands forlorn”, “Winternag”, en meer).

Soos ’n mens nou al weet van Aucamp se werk, staan sulke temas en motiewe dikwels vervleg met mekaar in bepaalde gedigte. Daar is geen duidelike indeling van gedigte op byvoorbeeld tematiese oorwegings nie – hoewel die verse oor verganklikheid, dood en ’n hiernamaalse perspektief na die einde van die bundel toe betreklik dominant raak. Die vervlegting van belewings staan eerder voorop, en die bundelopset maak  ’n bepaalde dagboekindruk – soos een van die kwatryne vroegerig in die bundel dit juis wil hê:


Dagboek

 

Hy vleg ervarings by sy dae in

en so ontstaan ’n wrong, en dit maak sin.

Maar ag, was sy lewe net afwisselend vaal,

kon jy straks ’n storietjie daaruit haal.


  • Resensie deur Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

 

 Resensie geborg deur

 

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: Skulp (Hennie Aucamp)”

  1. […] Volledige resensie: Versindaba […]