Resensie: Karnaval en Lent (TT Cloete)

 

 

Karnaval en Lent. TT Cloete. Tafelberg. ISBN 978-0-624-06774-0. Prys: R150. 160 bladsye. Sagteband.

 

Resensent: Zandra Bezuidenhout

Is die mens in sy diepste wese die Groot Vraat? ’n Maaksel ingebuig op homself en sy drifte, en ’n bederwer van die aarde? Of is hy ‘n goddelike skepsel, skaars minder as die engele en beklee met heiligheid? Of albei?

Dit is die kernvraag wat op verskillende maniere in hierdie beskoulike en tegelyk sterk beeldende bundel na vore kom. Cloete bied ‘n veelkantige visie op die mens deur in gedig na gedig ‘n praktiese voorstelling te gee van hoe die mens hom gedra in sy verhouding tot God, die medemens en die Skepping. Die bundel word uiteindelik ‘n ryk prenteboek van homo sapiens in soveel fasette dat dit die leser laat met die eeue oue raaisel: Wat is die mens?

Ter illustrasie en as vertrekpunt gebruik die digter een van die groot werke van die laat-middeleeuse Vlaamse kunstenaar Brueghel de Oude, Die geveg tussen Karnaval en Lent – ‘n kleurvolle, lewendige uitbeelding waarin die tweedeling tussen Goed en Kwaad in ‘n menseskaar sigbaar gemaak word. Aan die linkerkant van die skilderdoek, met ‘n taverne op die agtergrond, wemel dit van aktiwiteite wat met die karnaval-gedagte verband hou: ‘n oorgawe aan vleeslikheid, bandeloosheid en genot. Regs verlaat ‘n stoet van nonne en ander gesuiwerdes van gees en vlees ʼn plek van aanbidding as toonbeeld van onthouding, net om op die stadsplein gekonfronteer te word met die sogenaamd aardse en goddelose en, wie weet, spoedig weer daaraan toe te gee. Vir my lê die sjarme van die gedigte in die wyse waarop die digter sy leser attent maak op hierdie wisselspel, waarby elkeen hom ʼn reeks klein lewende tablo’s uit eie ervaring sou kon verbeel.

Hoe diep en onpeilbaar hierdie grondgedagte ook al is, giet Cloete dit nie in moeilik verstaanbare poësie nie. Hy vermy filosofiese swewerigheid en noem ‘n ding op sy naam. Hy ken sy moedertaal tot in die fynste voutjies, en weet dat bekende volkse uitdrukkings soms hiervoor nommerpas is. Maar hy ken ook die taal se hoër registers, sy verwantskappe met antieke tale en die jargon van wetenskaplike vaktaal – uit dit alles put hy om aan sy digkuns reliëf te gee. Tog is die stelwyse meestal direk en konkreet, en met ‘n bietjie naslaanwerk kan jy ‘n vreemde woord jou eie te maak en maklik tot die kern van die gedigte deurdring. Hoewel hierdie digter, net soos Marlene van Niekerk,  Breyten Breytenbach en Wilma Stockenström, steeds die taal in sy menige moontlikhede ontgin, is sy jongste bundel nie so sterk gefokus op neologismes, taalspel en taalverwringing nie. Die taalgebruik is “natuurliker” en minder gestileerd, en oor die algemeen toegankliker.

Een van die fassinerende subtemas is die mens se waan dat hy deur sy tegnologiese deurbrake “gearriveer” het, terwyl dieselfde beginsels reeds sedert die oorspronge van die heelal in die natuur aan die werk was. Die “toe” van die voortyd word as’t ware deur die digtershand verbind met die “nou”. Vir Cloete gaan dit hier nie slegs om die ondeurgrondelike wonder en skoonheid van die natuur in al sy verskyningsvorme nie, maar veral om hoe die mens dit benader, gebruik en misbruik. Die omvang en detail waarmee Cloete hierdie gegewe as boustof aanwend, is indrukwekkend. Deur sy uitgebreide benoeming en beelding, tot in die mees onverwagse besonderhede, laat die digter die wisselwerking tussen mens en natuur in die gedagtewêreld van die leser ontplooi. Heel funksioneel is die digter se doelbewuste gedagtespronge wat aandui hoe magteloos die mens staan in sy pogings om tot enige gesinkroniseerde begrip van die mens as maaksel binne die Skepping te kom.

Aansluitend by die beginsel van “goed” teenoor “kwaad”, is die religieuse motief wat soos ‘n onderstroom deur die bundel loop. Dit gaan hier nie om spesifieke geloofsaspekte nie, maar om die omvattende begrip van die mens teenoor ‘n godheid of ‘n godsbewustheid, en die geïmpliseerde vraag of dit nog hoegenaamd ‘n rol speel in die postmoderne mens se belewing van die self en die wêreld om hom. Hierdie gedagtegang kom veral na vore in die tweede afdeling, “Die middelpunt en die teëwig”. Die digter plaas die hedendaagse teenoor die paradyslike van die voortyd, waar God by wyse van spreke nog as sentrum teenwoordig was. Cloete se aanhaling uit die werk van die 17de eeuse Nederlandse digter Vondel spreek van die geloof in ‘n bestaan wat gedrewe was “Om’t een en eenigh middelpunt.” Wat dus vir Cloete intrigeer, is die problematiek van ‘n goddelike kern teenoor die bedreiging van die “Teëwig van daar-Buite”, waar laasgenoemde as ʼn produk van die menslike selfstandigwording gelees kan word. By wyse van ‘n metafoor dig Cloete hierdie gegewe om tot “’n giftige velling buite om/ die heilige velling”, buite die “fluoressente Imperium waar God woon” (38). Die “stil veilige middelpunt” staan egter onder verdenking, en daar heers by die mens ‘n toenemende onrus, soeke en onsekerheid. Daarmee saam is die digter intens bewus van die dubbelheid van die mens as “homo duplex” wat “voor my in my en rondom my” kom staan. Die spreker bely in hierdie verband sy onwete, en die feit dat “die teengewig” ook sy persoonlike “skaal en ewewig/omvergooi” (42). Hy word heel tipies “gedryf tussen Karnaval en Lent” (45), en bestempel dit as ‘n “wrede uitputtende geskarrel”, terwyl die kwessie van die vrye wil (by hom reeds “papgedruk”), sy denke “laat … bollemakiese slaan”. Dit is maar een voorbeeld waar diepe besinning gerelativeer word deur lugtige, volkse uitdrukkings, waarby die voorplat se karnavaleske en tegelyk droewige figuur met sy dubbelkyk so goed inskakel.

Herinneringe uit die kindertyd en die verknogtheid aan eie bodem is nog ‘n bekende aspek uit Cloete se werk wat in hierdie bundel verder uitgebou word, dikwels in aansluiting by die religieuse motief: “maar ek kom uit die [Vredefortse] Koepel se groot oop vlaktes” (43), sê die die digter in ‘n lang persoonlike belydenisvers, waar alles by implikasie nog ongekompliseerd was, soos waarskynlik ook die denke oor God. Hy vervolg: “ek sien my ouerhuis van ver af/ die huis van koestering” (44), wat ook as die geestelike of goddelike tuiste vertolk kan word. Die herbesoek aan ‘n vroeëre tyd met sy vele verwysings na die eenvoud en geborgenheid van ‘n vergange plattelandse leefwêreld vorm by hierdie digter, nou reeds in sy negentigste jaar, ‘n gepaste terugblik op sy steeds groeiende oeuvre. Interessant genoeg kom hierdie sig op die verlede ook in jonger digters se werk voor, en sou dit as ʼn sirkulerende motief by plaaslike en buitelandse digters ondersoek kon word, of in samehang met die herinneringsliteratuur in ander genres.

‘n Mens kan jou ‘n Cloete-bundel nie voorstel sonder die omgaan met liggaamlikheid en sinnelike genot nie – ‘n denkveld wat in sekere opsigte saamval met dié van eet en oordaad, en so ook met die karnavalgegewe, wat konvensioneel gesien in teenstelling staan tot die gedagte van Lent as ‘n tyd van onthouding, suiwering en vergeesteliking. Vermoedelik sinspeel die digter op ‘n versoening van opposisies, of minstens die vervlegting daarvan wat met menswees ingegee is. Reeds uit die titel van die openingsafdeling, naamlik “Gedigte wat ek nie graag wou skryf nie”, word dit duidelik dat die digter hom met omsigtigheid waag aan die oopskryf van die menslike kondisie wat ook verwysings na die banale noodsaak. Die “ek” bly, soos vir A. Heschel wat in “the I” (14) aangehaal word, vir Cloete ‘n “obscure text to himself”. Die “onreine/ in [s]y pynlike peins” (15) laat hom egter nie doodswyg nie, en in “die drie stadia” (17) se tweede gedeelte, “eskatologie a”, beweer die spreker:

“ek staan verstom dat grond

vol minerale vol plante en diere

geheimsinnig in my omgelyf word in vleis

in my gebeente en spiere tot in my murg

dan ná die omlywing

          in ‘n raptus mentis

blom my maaltye van kool en ‘n stuk varkvleis

of van vis bo alle begrip uit

in ‘n tweede geheimsinnige onvleeslike omwentel

in eteriese ekstatiese musiek en in

skilderye en gedigte

en uiteindelik in geloof in God[.]

Dat die mens ‘n wese van drifte is, ‘n smulpaap in die wydste betekenis van die woord, en ‘n produk van liggaamsdele, liggaamsappe en hormone, is nie noodwendig iets afskuweliks nie. Ook in en deur die daad van verorbering, en in die gepaardegaande ekstase, styg hy uit bo die klei en reik hy na die sublieme. Nietemin is eksesse vir die digter problematies, soos wanneer skade aangerig word aan die natuur, die medemens of die self. Uit sy bemoeienis met oordaad vloei Cloete se gedigte met ‘n ekologiese strekking, onder andere “ekologie” (34) wat sentreer rondom die honger van die armes wat geëksploiteer word ter wille van die winste van die rykes. Dit laat die spreker met die tergende vraag of dit gaan om die oorlewing van die seeskilpad, of om dié van die mens “op ‘n aarde/ wat regeer word uit ‘n vol of leë spens”. Die verbruikersgemeenskap word meermale genadeloos aan die kaak gestel, soos in “dronk gedraai” (29), ‘n gedig wat oor vyf bladsye strek en waarin die groot gevreet geen einde ken nie, onder andere met verwysings na die jag op renosters vir “opgekikkerde ereksies” (31) en “ondernemende ontwikkelaars”/ [wat] die aarde konsumeer” (33).

Die eet-motief funksioneer as ‘n deurlopende metafoor. “[E]et was ons eerste sonde”, en “jy glo met jou maag” (17), herinner die digter ons. In “Brueghel bestry Descartes en Kant” (23) word hierdie gegewe verder beklemtoon. Veelseggend is Cloete se omsetting van Descartes se stelling: “Ek dink, daarom is ek” na die versreëls: “ek éét/ dáárom is ek”. Die spreker brei dit vervolgens uit na gulsigheid en vraatsug deur sy beskrywing van die genoemde Brueghel-skildery, en koppel dit onder andere aan Van Gogh se Aartappeleters en ander bekende elemente uit die geskiedenis. Steeds stoei Cloete met die idee van opposisionele kragte as hy skryf van “die eindelose onbesliste swaar/ Geveg tussen Karnaval en Lent”, ‘n gedagte wat ter beklemtoning teen die einde van die gedig in ‘n effens gewysigde vorm herhaal word.

Een van die vele vondste in die bundel is die eiesoortige wyse waarop die digter liggaamsdele en menslike optredes omskryf. Die skedel word ‘n “ivoorkissie” of “ivoorkoepel”, en die brein ‘n “gekoekte grys murg” of ‘n “mooi grys groeisel wat alles wil oopwring/ oopwrik oopwurg ooppeil/ oopvlam met sy weerlig”. In ‘n “verfynde versteekte kannibalisme eet/ die een mens die brood uit sy broer/ en suster se mond”, terwyl die libido beskryf as ‘n “hiperpotente mandator” wat van ons bedelaars maak wat “broodkorsies soek/ in vulliskonkas” (22). Hiervan sou mens ʼn uitgebreide lys kon opstel.

‘n Lang gedig met ‘n uitsonderlike aanslag, nagenoeg hilaries en terselfdertyd ontstellend, is “god lees koerant nadenkend” (81) in die afdeling “Die onbemande krag”. Hier word God, terwyl hy deur die koerant blaai, aan die woord gestel oor die mens, anders as in die gedigte waar die mens oor God praat. Op ‘n vindingryke manier word daar kommentaar gelewer op menslike onbesonnenhede, soos die individu se geneigdheid om sy eie God te maak:

[…] hulle sny my op

verdeel my soos die hongeriges ‘n karkas opsny

in die harslag karmenaadjie en kotelette

my ingewande voer hulle vir hulle honde[.]

Enkele reëls later volg die priemende reël: “hulle dink met ʼn afgeslote dink my dink vir my”, en dan die onverwagse verwysing na die eietydse: “hoe nader hulle aan my kom/ met selfone en satelliete/ hoe nader ek hulle aan my alwetendheid verdra// their impact will fade into nothingness. Die God-spreker het berou, want in skuinsdruk word benadruk: “die eiegeregtige vrate/ is te veel snoep klein happies/ van my geheime toegelaat”. As die klem verskuif na God se ander maaksels, word daar opnuut aangeknoop by een van die prominente temas in die bundel, naamlik die mens se beperkte insig in vergelyking met die altyd bestaande wysheid van die godsplan (84):

my walvisse sing soos kanaries vir mekaar

tussen die pole en ruik die ewenaar

van ver lank baie lank voor ek mense gemaak het

my insekte kan mekaar van ver roep

in die nag mekaar ruik

mekaar opspoor met feromoon

sonder radio of telefoon

van ver af in die donker

gloei die koue geel lig van vuurvliegies

en gloeiwurms morse vir mekaar . . .

Uiteindelik vou God die dagblad vol menslike “leuens” toe en laat hy die mens aan sy eie oor om die lewe sonder hom te geniet. Heel moedswillig lê Cloete die aangepaste woorde van F.W. Reitz se Klaas Geswind in die mond van God: “ek is soos ʼn jong komkommer/ sit my in die vrieskas van die werksweek/ dan verlep ek sommer”. By Cloete is alles inderdaad nie die ene erns nie; deur verrassende verbandleggings en absurdistiese oomblikke voer hy ʼn sekere lugtigheid in en demonstreer hy hoe naby groot en klein, of lig en swaar, aan mekaar verwant is.

Kritiek op die mens word uitgebrei in die vyfde afdeling, “Antroposeen”, ʼn wetenskaplike gonswoord vir die resente geologiese tydperk waarin die effek van menslike aktiwiteit steeds meer merkbaar word. In ooreenstemming daarmee word die afdelingstitel gerealiseer in gedigte wat sosio-maatskaplike kommentaar lewer. Aanvanklik word die kloof tussen ryk en arm konkreet gemaak deur verwysings na plakkerskampe, werkloosheid en vigs, en gestel teenoor die weelde van knus kombuise, duur “karretjies” en luukse kameras. Maar dit is in “vyf beelde van die mens” dat die mislukking en aftakeling van God se skepsels en sy skepping ʼn uitgesproke tragiese toon verkry – hulle wat eers “om ʼn vuur/ gedans het by die disko’s van die sterre/ het deur Sy sukses met ons ná korte duur/ heilige bitter ironie/ misluk” (93). Die natuur gaan tot niet, elande word verdring deur motors van rubber en metaal, en “uit hulle anusse van vlekkelose staal/ poep hulle sigbare giftige koolsuurgas” (“elande”, 95).

Dit is byna onvermydelik dat die luukse van ʼn vakansiehuis in so ʼn groep verse sal opduik. “Parool” (99) gee ʼn treffende beeld van die gegoede moderne mens wat vir ʼn wyle uit sy hipergeordende gevangeneskap ontsnap. Die raak titel, tronkmetafoor, kompakte versvorm en klankeffekte, saam met die inhoudelike seleksie en rangskikking, maak daarvan ʼn sterk vers waarby baie lesers aanklank behoort te vind. Die gedig “3 Januarie” (101) sluit tematies hierby aan ten opsigte van die bevoorregtes se kleinburgerlike verbruikersbestaan. Die beste vers in hierdie afdeling, en vir my ook een van die bestes in die bundel, is “kragonderbreking Tsjeljabinsk 15 Feb. 2013”. Die inhoud is verbeeldingryk en die gedig knap gekonstrueer. Een van die mees ontstellende, dog onthoubare strofes kom hierin voor (105):

ek wou nog sê ʼn kragtige wind

swaai die leë skoppelmaaie

en weef spinnerakke om poppe en driewiele

in Tsjernobil[.]

Cloete se genadelose blik op die mensdom kring steeds wyer uit as hy in “straffelose leunstoel-meedoeners” (107) verwys na die mens se vraatsug na verbode dinge soos “sekseskapades en wrede misdaad”. In die kompakte, maar suggestieryke “dryfhout” (108) met sy eenvoudige, sprekende slot word die afgooi van oortollighede netjies saamgevat. Kostelik, en in ʼn selfs snediger toonaard, is die vers “lewensafrigters” (114) waarin die digter onder andere sy bedenkinge uitspreek oor die nuwe gier om mense “soos honde en perde/ katte en papegaaie af te rig/ om te lewe”. ʼn Gedig van groot skoonheid (ondanks die “g” in “springkane”) is “onsydige vegetatiewe vrou” wat ʼn interessante perspektief op geslagtelikheid bied, en ʼn haas verdwene beeld van ʼn vrou in ʼn landelike omgewing oproep (122). Hierdie afdeling bevat ʼn gawe verskeidenheid verse wat almal skakel met die grondtema van die bundel, naamlik “so lyk die mens”, en “so is die goed en kwaad in hom verknoop”. Dit is ook die afdeling waarin die meeste gedigte vormlik deurdag en goed afgewerk is.

In die afdeling “Die onsigbare sprong” val die klem op die sprong van mens na mens, na die self, en na die natuur. ʼn Uitsonderlike gedig is die beknopte dog veelseggende “[S]arkofaag” (126) waar die spreker weer ʼn kind word wat in die donker skuur uitgestrek op ʼn lusernbaal lê, betower deur die “skerp spies van die sonlig/ wat netjies deur ʼn roesgaatjie/ in die sinkdak pas”. “Kunstenaars kan hulle kinderlikheid behou, hulle ontroering wat hulle gereed maak vir ontvoering uit hulle self”, skryf Cloete in Die ander een is ek (Pooka, 2013), ʼn boeiende prosawerk oor die digkuns, menswees en die kunste in die breë, waarvan etlike sleutelgedagtes in Karnaval en Lent tot poësie omgeskoei word. ʼn Ander treffende vers wat die kindertyd oproep, is die sintuiglike “Kaalgat” (127), waar ʼn bejaarde spreker sy krukke voor die ruit ophang, sy hande uitsteek na die “nat hemel” en onthou hoe hy as kind kaal uitgeloop het in die “nat sagte wind”. Deur die invoeging van ʼn strofe uit J.H. Leopold se gedig “Om mijn oud woonhuis peppels staan”, met sy ewe atmosferiese verwysings na ʼn woonhuis en die reën, skep Cloete ʼn skitterende dubbelbeeld van sy eie belewenis. Ook “priesterwerk” (142), ʼn meer tradisioneel gestruktureerde vers, vormvas en deels rymend, reflekteer die digter se intense bewustheid van reëlmaat in die natuur, waarvan een strofe lui:

die skoenlappers met hulle feillose kompas

en die Melkweg op hulle vlerke geteken kom

voor my venster met hulle ingeboude

horlosie elke jaar in Oktober na dieselfde blom[.]

Sowel die mens se ervaring van sy eie lyflikheid as sy betrokkenheid by die skryfhandeling bly vir Cloete ʼn bron van verwondering, en heel gepas word die twee versoen in die slotafdeling “The words will be its body”. Hy bieg in “hierdie sigbare gedig” (146) dat hy uit sy hele “pynlik gebakkelde lyf” skryf: uit sy “worsige ingewande”, “elektrochemiese polsings” en “kilometers/ vertakkings van [s]y senustelsel”. Hy betrek ook die dans van woorde (149), die gedig wat dikwels teen ons sin alles uitlap (150), en hoe die woord “kan vat aan die sagte/ borrel of bel van ʼn droom” (151). En hy skryf oor sy taal; dat hulle hom as digter gaan doodmaak “deur my woorde af/ te neem, as hulle my taal kafdraf” (153), totdat hy die moderne Milners waarsku: “mense met ʼn aptyt/ vir vuurvreet sal vonke skyt” (154). Tot slot word die oorkoepelende tema en die skildery van Brueghel saamgetrek in “Agteraf” (160):

die gedig wil die geveg tussen karnaval en lent

in ʼn onbesliste gewapende stilstand op die ou end

in taal besweer.

Met die lees van hierdie bundel kom ʼn mens weereens onder die indruk van van Cloete se begaafdheid as woordsmid, en van sy omvattende kennis en denke. Tog ontstaan die vermoede dat ʼn minder omvangryke bundel sy digterskap beter gestand sou doen, sodat die verrassingseffek nie taan omdat onderwerpe, gedagtes, woorde en beelde mekaar eggo nie. Daarby lyk dit of die digter hier, moontlik doelbewus, losser en woordryker skryf, wat geen belemmering hoef in te hou nie, behalwe dat mens soms die skerpte en presisie mis waarmee sy werk vroeër geassosieer is. Lesers moet ook nie die onderliggende patos en teerheid verwag wat hulle voorheen in verse oor die digter se eggenoot en naastes teëgekom het nie. Dit is ʼn bundel met ʼn nugter, beredeneerde en soms lakonieke aanslag wat op ontbloting en besinning ingestel is en wegstuur van emosie.

Alles in ag genome, vorm hierdie tiende digbundel van Cloete, met sy klinkende, gelade titel en briljante verweefdheid met Brueghel se visuele teks, ʼn belangrike toevoeging tot sy oeuvre. Die wins lê vir my hoofsaaklik aan die tematiese kant, te wete die wye optiek op die skepsel wat “mens” genoem word, en wat van oudsher af wentel tussen Karnaval en Lent. Eerlik en prikkelend, met as subteks die erkenning dat ons, van nature geneig tot die kwade, tog langer in die buurt van die karnaval vertoef; “ons gaan feesvierend op/ in die vals lig van ons geluk” (93). Word ons versinnebeeld deur die karnaval-voos wese op die voorplat met sy mosaïek van ʼn miljarde klein vergrype? Op weg na Lent, of omgekeerd?

Dié vraag bly uiteraard onbeantwoord, maar deur ʼn vernuftige samespel van teendele suggereer die digter ʼn ondeurgrondelike geheel: “Augustinus kon die Heilige in die heuning proe/ hier op die aarde” (54), maar “ons staan verleë met slym en skubbe/ in ons leë hande as ons dink ons het dit beet” (57). Só word die denke op hierdie markplein deur woorde versinnebeeld.

 Resensie geborg deur

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Karnaval en Lent (TT Cloete)”

  1. Louis Esterhuizen :

    Fabeljant! Dankie.

  2. Joan Hambidge :

    http://www.dieburger.com/bylae/2014-04-06-soeke-na-goddelike-in-moderne-wreld-boei

    Visagie skryf:”Hierdie skildery is ’n uitbeelding van die karnaval, wat deur uitspattige gedrag en oordadige kos- en drankgebruik gekenmerk word en wat volg ná die einde van die sobere vastyd wat as Lent bekend staan.”

    Dis egter eers karnaval, dan lent. Die Lent, aldus die Rooms Katolieke kalender, volg na die uitbundigheid. Dit staan ook so in die voorwoord tot die bundel.