Resensie: Die afwesigheid van berge (Louis Esterhuizen)

Die afwesigheid van berge deur Louis Esterhuizen (Human & Rousseau, 2014; ISBN: 9780798164948; Prys (insl. BTW): R 170.00;  Formaat: Sagteband, 128pp.)

Resensent: Marlies Taljard

 

Louis Esterhuizen se nuwe bundel, Die afwesigheid van berge is ʼn eerlike, diepgaande ontginning van die kollektiewe Suid-Afrikaanse psige, maar terselfdertyd is dit ʼn konfrontasie met die donkerste skagte van die self. Die teks is geweef op ʼn mat van bekende en minder bekende teksfragmente en intertekste – die belangrikste waarskynlik Psalm 121 waaraan die titel ontleen is. In die Ou Vertaling klink dié psalm só:

Op pad

ʼn BEDEVAARTSLIED

Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?

My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie.

Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.

Die Here is jou Bewaarder; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand.

Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie.

Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.

Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.

 

Ook die twee bundelmotto’s resoneer sterk saam in die bundel. Die eerste is ʼn strofe uit Breyten Breytenbach se gedig alles wat búite is vlieg uit die bundel Voetskrif (1976):

ek wil na die rante gaan

waar die aalwyne brand soos aas vir die sterre

waar die miere vestings bou om ’n bruid

waar ’n vinger in die stof die seisoene voorspel,

ek wil die hemelruim betas,

ek wil op die aarde lê,

ek wil die berge sien loop,

ek wil leef

soos net die dood nog kan lewe[.]

Die ander bundelmotto neem die digter uit Het Uur U van Martinus Nijhof:

Het was zomerdag.

De doodstille straat lag

te blakeren in de zon.

Een man kwam de hoek om.

Er speelde in de verte op de stoep

een groep kinderen, maar die groep

betekende niet veel,

maakte, integendeel,

dat de straat nog verlatener scheen.

Uit hierdie groepie intertekste kom die belangrikste simboliese en metaforiese stof vir die bundel Die afwesigheid van berge.

Met die eerste oogopslag tref dit die leser dat dié bundel slegs uit 8 gedigte bestaan. Die eerste drie gedigte kan gelees word as ʼn soort tema, ʼn agtergrond en inleiding tot die bundel. Daarna volg ʼn diepgaande ontginning van die tematiese materiaal, wat, in die musikale sin, as variasies en refreine beskou kan word. Die laaste twee gedigte vorm ʼn sintese, die uitgepuurde produk van die “bedevaart” wat in die hoofdeel van die bundel beskryf word.

In die eerste gedig vind ons die eksposisie van die “drama” wat sigself in die loop van die bundel afspeel: “Hoe kan jy vertel hoe dit is // die straat, blinkwit geskrik een middag laat / toe die man aan die bopunt verskyn”, na aanleiding van die Nijhof-fragment. Die belangrikste problematiek wat die bundel onderlê, word hier aan die orde gestel, naamlik die onmoontlikheid om dit wat in ons land aan die gebeur is, te “vertel” – om die omvang daarvan te begryp, moet dit eerstehands beleef word. Vandaar die dramatiese inslag van die bundel. In plaas van vertel, stel die digter die gebeure wat hy onthou, meestal op dramatiese wyse teenwoordig. Die “man” wat hier ter sprake is, is ʼn belangrike ordenende simbool wat dwarsdeur die bundel op belangrike plekke opduik. Aanvanklik is hy “… geklee / in ligblou hemp, bruin broek, sandale / en ’n piesang in elke oor” – die mens wat met oorklappe deur die lewe gaan; dan is hy “die man van seisoene” wat tyd uitdeel; later word hy die man wat “die landskap / betree van teer, vuur en rook”; hy word die “skofbaas” en die myner wat jou dwing om ondergrond te gaan, te boor na oorspronge en rykdom. Teen die einde van die bundel begin dié man ooreenkoms vertoon met die Ander in Van Wyk Louw se bekende Ballade van die bose:

En wie is jóú vyand, grom die uittandman

by jou oor: teen wie se oordeel

probeer jý staande bly? O, beslis die vreemdeling

by die deur, antwoord jy –

Hy wat op onwelkome tye om aandag kom vra

met ’n verkreukelde smeekbrief

in die hand en ’n groet wat na my toe

gemompel word

soos dié van ’n uitgegroeide baber

in modderwater. Hy: geklee in weggooiklere,

weggooiskoene en oorskietlewe,

hý is die vyand –

Met ’n gesig stomp soos ’n mol s’n wat hom

onverwags in die lig bevind, sy regteroog

bloedbelope, sy linkeroog

soos dié van ’n slang. Ja, die vreemdeling

by die deur is die ander

met sy loperige neus, koorsblaarlippe

en hande soos papvrot piesangs.

Hy wat daar staan

sonder om jou in die oë te kyk,

aanhoudend by jou verby

aas na wat daar agtertoe te stele is.

En wanneer hy praat,

is sy stem ’n onvaste geploert

wat na jou toe stink

soos gister se asem uit suur vate wyn –

Waar hy loop, val sy skaduwee

op al die plekke waar die lig

nie skyn nie. O, ja. Jý, (wou jy sê),

jý is die vyand.

Maar nou is hy die teertang

waarteen jy staande probeer bly

hier, op jou knieë,

met ’n .38 Colt Special

in fellatio[.]

Die tweede gedig sny die tema van “beheer verloor” aan: “Want sirenes laat in die nag / is soos ’n tuimelaar wat greep verloor / op die sweefstok”, terwyl die derde gedig ʼn verdere belangrike bundeltema aan die orde bring: “Terwyl julle slaap hou julle hande vas”. Hoewel die bundel fokus op geweld, word balans verkry deurdat die liefde ʼn konstante kontrapunt ten opsigte van die magteloosheid in die aanskyn van soveel geweld, brutaliteit en verskeurdheid vorm.

Die kern van die bundel bestaan uit drie omvangryke gedigte wat die grootste deel van die teks beslaan, naamlik ʼn BEDEVAARTSLIED om kwart voor drie, ʼn HOOGLIED onverwags en ʼn DANKLIED om kwart voor oulaas. Die skrywende “ek” laat hom op sy bedevaart lei deur “die geheue / wat soveel sagter as ’n gister jul gordyn eenkant toe / druk.” Op die mees sigbare vlak van interpretasie is hierdie drie gedigte terugflitse uit die digter se outobiografiese verlede wat sy vorige werk insluit en uit die kollektiewe hede en verlede (en tekste) van die mense van Suid-Afrika. Op ʼn meer abstrakte vlak kan die teks egter ook gelees word as ʼn verkenning van die menslike psige waarin beelde van verskrikking, wreedheid, vrees en geweld afgewissel word met van die mees meesleurende, metafoorryke liefdesgedigte in Afrikaans.

Die metafoor “kwart voor drie” versinnebeeld die tyd wanneer die horlosiebeeld ʼn horisontale lyn vorm – in die skilderkuns is dit die skildery wat geen horison het nie:

Want in die afwesigheid van berge word die horison

met die harde potlood se rubberkant uitgewis,

word dit ’n klad waarop elke bos en klip

ingeskryf staan,

elke wolk by elke rivier

of spruit[.]

Dié beeld wys onder meer op kwesbaarheid – dat alles sigbaar word en niks ver-berg kan/wil word nie. In die Ou Testament was die bergvesting die plek waar hulp vandaan gekom het – ʼn veilige vesting waar die hulpbehoewende skuiling teen die aanslag van sy vyande kon vind, waar hy hom kon versteek sodat hy nie uitgelewer is aan diegene wat teen hom saamsweer nie. Die afwesigheid van en die bedreiging van so ʼn veilige bergvesting en die benarde posisie waarin die pelgrim homself as gevolg daarvan bevind, is die oorkoepelende tema van die bundel Die afwesigheid van berge. Die oopheid van die landskap word terselfdertyd ook simbool van eerlikheid en die voorneme om niks onder die mat in te vee wat as getuienis kan dien nie.

ʼn Bedevaart of ʼn pelgrimstog is ʼn etiese en spirituele soektog. Op die metaforiese vlak kan dit ʼn innerlike reis na herkoms en die wortels van jou lewensbeskouing en geloof behels. Jung beskou die pelgrim as ʼn argetipe wat met individuasie of selfkennis verbind kan word. Nog ʼn interessante aspek van die pelgrimstog wat in hierdie bundel saamresoneer, is dat dit die besoek is aan ʼn heilige plek, ʼn plek waar ʼn heilige persoon tot inkeer of tot spirituele ontwaking gekom het of ʼn ander plek wat op een of ander rede met die numineuse verbind kan word, byvoorbeeld deurdat daar wonderwerke gebeur het. Besoek aan so ʼn plek – so word geglo – baat die pelgrim in sy persoonlike lewe deurdat hy tot kontemplasie gedwing word, geestelik seën vind of deurdat hy genees word van fisieke kwale. Dit is ironies dat juis die teenoorgestelde dikwels in hierdie bundel waar is: die bedevaart lei die spreker by geleentheid op paaie van afsku, skaamte en onregpleging. Tog – soos uit die slotgedeelte blyk – is die wins wat die pelgrim uit sy bedevaart put, dieselfde as wat ander pelgrims uit ʼn bedevaart na ʼn heilige plek put. Dit laat die leser met belangrike vrae aangaande goed en kwaad, heiligheid en boosheid en die aard van wonderwerke. Dit bevry die aandagtige leser – soos alle goeie gedigte – van kategoriese denke.

Al die bogenoemde aspekte van die bedevaart speel op een of ander wyse ʼn rol in die tersaaklike bundel. Veral in die drie kerngedigte word klem gelê op herbesoek aan die verlede, die hede en selfs die toekoms – om kwart voor drie, wanneer daar geen belemmeringe is nie, wanneer alles oop en kwesbaar lê, is alles immers moontlik.

Die middeldeel van die bundel is een lang, vloeiende rivier van poësie: die een gebeurtenis word aan die ander geryg; gedagtes, visioene, slagspreuke en drome vind gestalte langs en as deel van mekaar. Daar is weinig belemmeringe soos sinseindes en gedigeindes. Esterhuizen kry hier iets reg wat nog nooit vantevore in die Afrikaanse poësie gedoen is nie – sonder om poëtiese segkrag in te boet, sonder om samehang in te boet, sonder ʼn blote opeenstapeling van idees word die gedigte ʼn lang, uitdeinende deurgekomponeerde fuga, ryk aan kontrapunt, nooit vervelig nie weens die wendinge wat die tema telkens op verrassende wyse aanneem; boeiend, aangrypend tot die einde. Hoewel die middeldeel uit drie gedigte bestaan, skakel hulle onderling naatloos met mekaar deur aktivering van die tema in al sy onderskeidinge en in al sy verskillende toonaarde, hoewel elke gedig fokus op ʼn bepaalde aspek van die pelgrimsreis.

Skrik, vrees, misdaad, marteling, kortom: die hedendaagse Suid-Afrikaanse werklikheid word veral in ʼn BEDEVAARTSLIED om kwart voor drie in al sy verskriklike fasette beskryf, bedink en opgediep uit die donker verlede:

… Op dié reis blyk die reisiger

onverwags ongereed te wees: gedaantes om jul bed

met wapens gerig op die binneholtes

van jul skrik. En slaan jy jou oë op na die berge

om kwart voor nou, vir oulaas,

is jul hulp kasdeure wat oopgeruk word

om alle vensters vloeibaar te laat

soos ’n gebed om kwart voor sterwenstyd.

Terwyl die Suid-Afrikaanse hede in al sy kliniese besonderhede tentoongestel word, vind verplasing van die blaam nooit plaas nie. Die skrywende “ek” is ʼn notaris wat alles wat hy waarneem en onthou, neerskryf. Hoewel daar van aangrypende metafore en verrassende beelde gebruik gemaak word, is die optekenaar steeds die nugter skrywende agent wat meestal van die meer direkte “showing” gebruik maak as van die subjektiewe “telling”. Daarom ontbreek dit ook nie aan selfondersoek nie – ook hier val die lig verblindend skerp op die eie lewe en op die kulturele bagasie van alle groepe wat saam sing aan die Suid-Afrikaanse volkslied waarvan fragmente telkens as refreine in hoofletters uitgelig word in die verskillende tale waarin dit gesing word.

Die tweede gedig van die hoofdeel, ʼn HOOGLIED onverwags, vorm ʼn teenmelodie (selfs ʼn helder diskant) vir die somber bedevaartslied. Dit fokus op die bestaan en ontwikkeling van ʼn liefdesverhouding parallel met die somber gebeure waarop die vorige gedig konsentreer. Die man in die bundel, wat oor die algemeen ʼn donker, skadufiguur en selfs die dood simboliseer, word hier vervang met die minnaar:

In die straat wag ’n man om ’n vrou te ontmoet

wat heel betyds en lieflik

uit die gedruis van kleur na hom

aangeloop kom

op hierdie skaam uur

van die dag, die uur wanneer verkeersligte

sonder voorval verander van geel

na rooi. En weer

terug. Met nêrens iets wat beweeg nie.

Net sy, wat nou haar bestemming bereik,

en hy syne. Ons reis begin met son,

sê sy later aan hom …

Die gedig ʼn DANKLIED om kwart voor oulaas getuig van ʼn dieper bewuswees van die dinge wat in die voorafgaande gedigte beskryf is. Dit is asof die grense vervaag het en die sprekende “ek” tot die besef van ʼn soort ambivalensie in sy interpretasie van die “werklikheid” gekom het; asof daar ʼn mate van rypwording ingetree het, ʼn versigtigheid om onkrities te kategoriseer en stereotipies te dink:

kwart voor oulaas en hoe onvanpas hierdie droom

wat soveel dunner as ’n naald jul saamwees

met die deken verweef. En rig jy jou oë na bo,

ten laaste maal, is jou hulp

dit wat jou uitgang en jou ingang

sal bewaar

met die hoop dat dit alle versugting

dankbaar gaan laat om kwart voor drie, want

vreugde is nou die skaduwee in jou hand

met die son ’n teruggehoue begeerte, bedags,

en die maan ’n stil teenwoordigheid

agter gordyne, snags –

Hierdie gedig is ʼn voorspel tot die slotverse van die bundel waarin die pelgrimsreis voltooi word. Veral uit hierdie gedigte blyk dat ʼn innerlike reis, ʼn soeke na die self, ʼn soeke na waarvandaan ons as nasie kom en waarheen ons (kollektief en individueel) op pad is, nou voleinding gevind het in ʼn soort vreugde wat ʼn ligtheid van gemoed as gevolg het. “Die dal van doodskaduwee” is besoek. Volgens Jung is die konfrontasie met die Skaduwee – waarop die oorgrote klem in hierdie bundel val – een van die vernaamste vereistes om ʼn individuasie-ervaring te begin. Ontkenning en verplasing van die blaam is wel gemakliker as konfrontasie van die argetipes van die donker onbewuste, maar deurlewing en aanvaarding van die donker is die enigste pad na die lig van insig:

En nou, met die reis voltooi

sny die onthou kriskras, heen en weer

soos skaatsers op ’n ysbaan

by jou verby. Op al die yl roetes

van jou verblyf

loop jy terug, staan jy oplaas by

die strook wat omgeploeg word en kyk

na blinkvet sooie

wat soos skape met skeertyd

omgedop word. Asof dit ook nog

vergifnis kan wees.

En op dié manier is dit goed.

Hierdie koue grond

te midde

van soveel lente

agterna –

Dit is onmoontlik om ʼn komplekse en gekompliseerde bundel soos hierdie in die bestek van ʼn enkele resensie volledig tot sy reg te laat kom. Struktureel is dit ʼn kragtoer wat min digters Esterhuizen kan nadoen. Daaroor behoort ʼn diepgaande studie onderneem te word. Wat vir my wel jammer is, is dat digters hulleself deur die onnadenkende plagiaat-heksejag gedwonge voel om hulle bronne (asof die bundel ʼn akademiese teks is) in besonderhede te vermeld. Die raaksien van intertekste en flardes teks uit ander bronne was nog altyd vir my deel van die ontdekkings- en speurvreugde van die gedig. Bronverwysings ontneem die kundige leser (vir wie die gedigte immers geskryf is) van hierdie spesiale kwaliteit van poësiewaardering. Oorkoepelend gesien is Die afwesigheid van berge ʼn teks wat ʼn beroep doen op alle sintuie. Die ongeëwenaarde vloei, die klankskoonheid, die vormgewing wat nooit op marsmusiek trek nie, die suiwerheid en finesse van metafore, die sterk simboliese lading en die vindingryke struktureringsprinsipe in die afwesigheid van eindrym, maak hierdie ʼn leeservaring by uitnemendheid. Elke Afrikaanse poësieleser behoort dit aan te skaf, want ook die leser kom – soos die bedevaarder – gesuiwer en verryk aan die ander kant uit!

(© Marlies Taljard / 2014)

 Resensie geborg deur

 

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Resensie: Die afwesigheid van berge (Louis Esterhuizen)”

  1. Pragtig!

  2. Sestig jaar gelede het ek my week se een sjieling sakgeld in die seesand by Langebaan verloor en jare daarna nog hoopvol daarna gesoek.
    Met hierdie aangehaalde gedigte en die resensie wat soos die gedigte met jou praat, voel dit asof ek my muntstuk teruggekry het. Baie geluk aan Louis en Marlies. Dalk het hier ‘n nuwe maatstaf ontstaan waaraan toekomstige publikasies/resensies gemeet kan word ( om nou die Kaar siening te gebruik).

  3. Zandra Bezuidenhout :

    Louis, jou bundel is meesleurend, roerend; vernuftig saamgestel. Angs/ontreddering teenoor veiligheid/koestering vindingryk aangebied. Jy bring iets nuuts. Veels geluk!

  4. Louis Esterhuizen :

    Dankie, julle. Ek waardeer die vriendelike woorde enrom.

  5. Melanie Grobler :

    Ek is ontroer deur jou digbundel, Louis.