Resensie: Stil punt van die aarde (Johann de Lange)

stil punt van die aarde deur Johann de Lange (Human & Rousseau, 2014: ISBN: 9780798164917; Prys (insl. BTW): R 170.00; Formaat: Sagteband, 128pp.)

Resensent: Tom Gouws

 

Jy lees asemloos en vol verrukking

As kind was die Bybelverhaal van die Israeliete wat deur die Rooi See beweeg, met die siedende Egiptenare agter hulle aan, in my verbeelding ’n skouspel van epiese proporsies. Die volk van God moes in opdrag van Moses stil wees (Eks. 14:14) in hulle deurgang deur die middelpunt van die aarde. Toe hulle deurbeweeg het, het God die mure van water aan weerskante van die trekkersweg in die hart van die see laat inknak. Dit was veral die grootsheid van die oomblik vir die Israeliete tóé, as hulle terugkyk en sien wat gebeur het, wat ook mý grootoog laat stol het in die kristalsee van die ewigheid. Hierdie was daardie mitiese “one moment in time”, wat weliswaar in stilte geduur het sodat elke Israeliet “(could) feel eternity”, wat dit dan eerder maak: one moment in, and out, of time. In die ‘Lied van Moses’ sing hy dan ook van hierdie epifaniese moment: “The deeps were congealed in the heart of the sea.” (Ex. 15:8, American Standard Version).

Oor hierdie tipe ewige oomblik: van openbaring, verwondering, visioen of verbystering, “the sense beyond”, as jy teruggeruk word tot die primordiale oorsprong van alles, waar jy jou skielik bevind “in die nawel van die aarde” en “waarhede” in jou “(in)gebrand” word “soos die oggendster” (p. 90), handel Johann de Lange se tiende digbundel: stil punt van die aarde.

Mistici, dromers en denkers deur die eeue het oor hierdie ervaring van sinsverrukking geskryf, en uiteraard velerlei digters ook, such stuff as dreams are made on, ook poësie. Twee digters, beide Nobelpryswenners, wat ’n groot invloed op De Lange se digkuns het, was albei ook kreatief gevange gehou in hierdie amper hallusionêre sametrekking van ewighede, weliswaar ’n dénouement, en die titel van die bundel, en die inhoud daarvan, hang ten nouste saam met hulle belewenis, verkenning en poging tot verwoording daarvan.

Die eerste is T.S. Eliot se allereerste voorheen ongepubliseerde (dog nie onbekende) gedig, “Silence”, van rondom 1910, en sy vollediger ontginning van die idee later in Four Quartets. Die tweede digter is die Italianer, Eugenio Montale, van wie Rosa Nepgen gedigte vertaal en in 1979 gebundel het in Die geel van suurlemoene skyn, en spesifiek die gedig ‘Die suurlemoene’ (’n gedig wat De Lange ook in Afrikaans vertaal het). Daar is in hulle jonger jare ten beste ’n vreemde sinchronisiteit aan’t werk in dié toe ontluikende digters, wat weliswaar ook ’n bepaalde verwantskap met mekaar gehad het, asook vermoedelik ’n wedersydse beïnvloeding, veral ten opsigte van poëtikale beelde en filosofiese stramien. De Lange gebruik hierdie kreatiewe spanning as ’n matriks waarbinne hy hom situeer, met velerlei spore van hierdie twee digters wat in sy werk na te speur is.

Voeg mens daarby dat hulle albei sterk meegesleur is deur Dante Alighieri se donker stroom, soos ook De Lange se visuele medewerker in die bundel, Judith Mason-Attwood, dan begin die velerlei ingebedde fasette van hierdie teks stadig ontsluit. Daarmee saam – albei hierdie groot digters had ’n fassinansie met Orpheus en die onderwêreld. As De Lange vir die Engelse digter Tony Harrison aanhaal in afdeling III van die bundel: “I am Orpheus going down again”, laat dit hierdie bundel aansluit by die uitgebreide Orpheus-mitologisering waarbinne De Lange se totale oeuvre val, al is dit nie soseer ’n tema wat in die bundel as sodanig vooropgestel is nie. Hierdie ongedwonge vermoë tot oeuvrekomponering gee De Lange weliswaar die allure van digterlike statuur.

Net ’n een en ander oor die twee gedigte wat ’n direkte verband met die verstaan van die titel en die bundelstrekking het.

Volgens Lyndall Gordon, in haar biografie Eliot’s Early Years, het Eliot in die tyd dat hy gestudeer het aan Harvard College – terwyl hy op ‘n dag in Boston loop – hy skielik voor sy oë die strate sien inkrimp en verdeel. Dit was ’n moment waarin sy verlede en toekoms, sy alledaagse doen en late, sy drome, sy totale lewe, in ’n oogwink verdwyn het, en hy ten midde van die stadslawaai hierdie allesoorheersende stilte ervaar het. Die gedig wat hy in 1910 skryf, is dan gepas ook getiteld ‘Silence’, wat gestalte probeer gee het aan hierdie onnoembare ervaring van tydloosheid. “You may call it communion with the Divine or you may call it temporary crystallization of the mind,” het hy dit later verwoord. Dít is ’n verwoording van “stil punt van die aarde”.

In sy ‘Four Quartets’ (‘Burnt Norton II’) artikuleer Eliot hierdie primal experience meer genuanseerd en belig dit die bundeltitel pragtig, ook van die belangrike kodes in die teks:

            At the still point of the turning world. Neither flesh nor fleshless;

            Neither from nor towards; at the still point, there the dance is,

            But neither arrest nor movement.

            And do not call it fixity,

            Where past and future are gathered. Neither movement from nor towards,

            Neither ascent nor decline. Except for the point, the still point,

            There would be no dance, and there is only the dance.

            I can only say, there we have been: but I cannot say where

            And I cannot say, how long, for that is to place it in time.  .

Die derde laaste reël: “There would be no dance, and there is only the dance” is wat Breyten Breytenbach die ongedanste dans genoem het.

[’n Mens kan (in reliëf met Breytenbach) uiteraard veel verder sê oor die geesteslike raam waarbinne hierdie tipe belewenis meer gepas is, soos byvoorbeeld die Boeddhisme, en miskien selfs die Hinduïsme, maar dit het eweneens ’n duidelike plek in die Christologiese geloofservaring. De Lange se soeke na die “Divine”, in Eliot se term, vind veral uiting in die gedigte van Afdeling V, getiteld ‘Sange’, en dit is ’n diverse aanbod, wat oor verskeie godsdienstige tradisies strek.]

Die digterlike persona in De Lange se bundel het egter ook in hierdie “stil punt van die aarde” ’n knaende eksistensiële angs met ’n baie donker ondertoon. Eliot spel dít in sy ‘Preludes’ soos volg uit: “At such peace I am terrified. / There is nothing else beside.” Die “onsienbare lyn” van vergetelhed (p. 18), oftewel die vae kontoere van verwording (wat die visuele tekste van Judith Mason in die bundel by uitstek aksentueer) bring ’n bepaalde weerloosheid, maar ook ’n aanvoelbare eksistensiële angs na vore. Bietjie later meer hieroor.

Ter afsluiting van die Eliot-aanleuning: in ’Burnt Norton IV’ noem Eliot hierdie stasis-ervaring waaroor ek nou reeds uitvoerig geskryf het: “At the still point of the turning world”, wat bykans ’n presiese Engelse vertaling van die De Lange-bundeltitel is.

Eugenio Montale se gedig ‘Die suurlemoene’ is ’n kompleterende interteks van die bundel:

            Want in stiltes soos dié word alles verklaar,

            begin dit beweeg na ‘n oorgawe toe

            waarin dinge hul diepste geheime gaan openbaar,

            en ‘n mens verwag jy gaan ontdek

            hoe die natuur fouteer, waar die dooiepunt

            van die wêreld lê, die skakel sit wat nie hou nie,

            en hoe om die knoop te ontwar en eind’lik die draad te vind

            wat na die hart van die waarheid lei.

            Die oog ondersoek en beskou,

            die gees wat vors, verbind en skei

            in ‘n geur wat ver versprei

            wanneer die lig van die dag verflou.

            dis in hierdie stiltes dat aan ons,

            met elke menslike skim wat afskeid neem,

            die een of ander verstoorde godheid verskyn.

Wat Nepgen vertaal as “waar die dooiepunt /  van die wêreld lê” is in De Lange se weergawe veel nader aan sy eie bundeltitel, te wete: “die stil punt van die wêreld”.  Hierdie stil punt van die aarde word egter dikwels vir De Lange ’n dooiepunt, ’n horror vacui, ‘n verterende nothingness waaruit hy probeer ontsnap. Die paradoks is dat dit juis óók terselfdertyd as die kreatiewe baarmoer dien. Dít kan baie mooi geïllustreer word aan die slotgedig van die bundel, ‘O lig van die wêreld dra my!’, gebaseer op ’n gedig van die Amerikaanse digter Mary Oliver. Daar is ’n desperate uitroep na ’n mistieke Lig wat hom dalk sal kan transporteer oor die angswekkende verstilling wat die naderende, verswelgende doodervaring gaan meebring. Die aaklige realiteit hiervan word dramaties verbeeld deur die opstapeling van die tragiese lydingsgeskiedenis van talle Afrikaanse digters:

            Ingrid wanhopig vasgerank

            in die wier & gras van Drieankerbaai

            beenaf Ernst veg met fantoompyne nag ná nanag

            Barrie met sy pille & sy bottel gas

            die stemme in sy kop uiteindelik gestil

            Koos in pajamas praat met die dooies om sy bed

            Eugène Marais buite in die reën met die dubbelboor

            het die slang wat hom in die aar gebyt het opgespoor

            Stephan, sy pyn privaat, onverhoeds & alleen

            op sy dubbelbed betrap

            Casper in ’n hospies buite bereik van sy antwoordmasjien

            Ralph wroeg & wurg eensaam aan ’n bitter wattelbos

            Ina uit haar verlate tuin verban

            waar voëls nie langer sing & onkruid gedy

            & Sheila, broos & halfblind, die gelouterde lyf oplaas bevry,

            moet alleen die vlammende oortog maak –

Vir elkeen van dié figure was die stil punt van die aarde tegelyk hul kreatiewe vuur én hulle vernietiging. Elke digter verdúúr dit anders.

De Lange het verskeie antidote. Een van daardie wyses waardeur die digterlike subjek telkens in hierdie bundel probeer om van die dwingendheid van die dood te ontkom, is wat Gerrit Dekker in die poësie van D.J. Opperman genoem het: “verlossing deur vereenselwiging”. Daar is in hierdie bundel ’n oorvloedige soort selfprojeksie van dierlike aard, baie in ooreenstemming met Eliot se ‘Prufrock and Other Observations’:

            And I must borrow every changing shape

            To find expression … dance, dance

            Like a dancing bear,

            Cry like a parrot, chatter like an ape.

Die eerste twee afdelings van die bundel, ‘Josefskleed’ en ‘Spore’, wemel (in die mooi sin) van diere, voëls en insekte. Na my mening is die meeste van hierdie gedigte die grootste bate van die totale bundel. Jy lees asemloos en vol verrukking hoe die digter met ’n fyn waarnemingsvermoë, ’n totaal oorspronklike digterlike beskrywing, briljante metaforisering en ’n verbysterende stilistiese skeppershand beeldgestalte aan hulle gee. Deurgaans word die beskrywings gebalanseer tussen twee uiterstes: enersyds die verwording wat ek vroeër genoem het, en andersyds die mimetiese (waarbinne die spieëlkode die sterkste vooropgestel is). Dit word ’n heerlike spel wat boeiend aan verlossing deur vereenselwiging beslag gee. Een so gedig is ‘Die digter as perdeby’:

            Hy huiwer voor die taak,

            ’n donker instrument

            gedrewe & potent.

            Dié swart derduiwel

            rofkas met klei

            ’n gewikste swaelstertvoeg,

            ’n myterlas

            in ’n steengroef.

            Dan word dit ’n engelebak

            vir ’n rei, ’n brommende

            sixtynse koortjie,

            & later ’n bruin kokon

            wat trojaans gaan oopbreek

            vir ’n giftige bataljon.

Die gedig ‘Hottentotsgod’ is ’n kragtoer in digterlike stoffering:

            Kranige skadubokser afgeteken

            agter ’n blaar, vlugvoetige

            groen samoerai

            met jou spigtige pantser,

            lyf & harnas één,

            ’n groen hinderlaag

            perfek gekamoefleer

            met driehoekige kop wat krink

            op ’n spits nek

            & twee groot heuningkoek-oë.

            Wagtend oorpeins jy

            jou prooi: ’n mot, vlieg of suikerbekkie

            waarvoor jy rats van monnik

            na monster transformeer

            met getande voorpote

            wat blitssnel origami ontplooi,

            monstrans vir jou fees,

            jou goddelike umami!

 

Die tweede wyse waardeur die digterlike subjek in hierdie bundel desperaat die dood probeer kierang, is nie nuut nie, maar dit word hier verrassend nuut aangebied – om deur die ekstase van lyflikheid die dood ’n dooiepunt te steek.

Dis betaamlik om te sê bykans ál De Lange se bundels ruik na horing. Hierdie nuwe bundel is geen uitsondering nie. Ek bly my verstom oor hoe die digter nié sy slag met hierdie ou ramkiekie, die enkele snaar, verloor nie. Dit wat in die gedig ‘Roedes en roetes’ staan, is séér sekerlik (weliswaar plat) ook van De Lange waar: “sy eerste, grootste liefde bly sy lat”. Hy betower egter steeds met ’n nuwe liedjie, al het dit natuurlik teen hierdie tyd al die potensiaal om ’n holruggeryde ou deuntjie te word. Dié onderwerp-skopus by De Lange (en ja, géén Te Korte) word geiler en groter; die donker van sommige ervarings word dieper en meer duister; die onderbewustelike psigologiese kompleksiteite word dringender. Die reikwydte wat aan die leser gebied word, is verstommend – van die antieke Grieke se gehiefel en gefiefel; ’n lewendige eietydse Boerneef-gemeenplasigheid oor die handsambok;’n léwendige beskrywing van ’n skopofiel (met die webcam as ’n virtuele judasoog); selfs Bear Grylls en Francois Hougaard ontkom nie die naakte lis nie.

Maar dit is die seksuele ontluistering van die (fisiese en digterlike) vader wat, vermoed ek, die konfronterendste appèl tot die leser gaan rig. In menige gedigte ry Van Wyk Louw as digterlike vader swaar aan De Lange se pen (kyk byvoorbeeld na die gedig ‘Middernag’). Dis dikwels bloot met ’n gay digterlike tong in die kies, maar dit bereik dikwels nie veel meer as die skunnige anekdotiese nie:

            Ek laat sak my pen & merk N.P. aangestap

            kom, die son ’n laat nektarien.

            “Is dit ’n gedig in jou sak,” vra ek,

            “of is jy net bly om my weer te sien?”

Dié gedig laat die gevoel van ’n puntdig met ’n bedenklike Mae West-vineer. ’n Mens wens jy kan die uitsonderlike beeld in die tweede versreël red van die derderangse hotelversie. Ek verstaan die onderliggende moedwillige perspektief, die poging tot objektivering (veral via die inspeel op die gedig ‘Clifton’ van Louw), maar is dít wragtag die vlak waarop ’n Hertzogpryswenner satiries probeer wees?

Ek verstaan digterlike vaders moet á la Harold Bloom ten minste opgestuur word, ja soms brutaal om die lewe gebring word . Ek verstaan ook dat al die voorgangers soos spoke (eweneens ’n belangrike tema by Eliot en Montale) in tekste ronddwaal en dat daar met hulle afgereken moet word (“A familiar compound ghost / Both intimate and unidentifiable.”) Ek verstaan dat daar ’n behoefte is om op die vaders se grafte te spoeg (en in ‘Verlore vaders’ véél meer te doen) ja; selfs die metafisiese implikasies en die ooglopende simboliek daarvan kan ek snap, maar eerlikwaar, ek het swaar gesluk aan die eerste strofe van ‘Nog in my laaste blow job’:

            Nog in my laaste blow job sal jy wees,

            nog in die laaste polsings van die vlees,

            nog in die wynrooi skemering van jou mik

            voor die stilword waar ek my ledig in jou blik

Maar van die tweede strofe af het die gedig my hart ontsaglik aangegryp, uiteindelik uitgeruk en my ten diepste ontroer, ten spyte van die ontluistering van een van my geliefkoosde Louw-gedigte:

            deur al die donker ure tussen middernag

            & eerste lig waar ek eensaam op jou voetval wag,

            & weet dat niemand jou gelyke was,

            bloot stom vlees waarna ek in ’n donker tas.

            Maar jy, met elke soen ’n uitgerekte groet,

            wat getalm het, met donker oë wat vonk

            & in die voornag luid & jags & feestelik dronk

            kon moker aan my voordeur, hemp reeds uitgetrek,

            elke vesel saamgebal vir die hamergooi:

            jy was mooi in jou nood, & in jou walging mooi.

Ja, soms is selfs die walging mooi, en is dit miskien iets wat Johann de Lange regkry, om in die tematiese beperking van “stom vlees” steeds grensverskuiwend te blý. Die kindermolestering (p. 56), babaverkragting (p. 51), geslagsverwarring (p. 50),  die versugting na seks met die vader (pp. 57, 62 en 66) word digterlik uiters behendig hanteer, miskien selfs “Dantesque in its measured gravity and weight” (soos F.R. Leavis in The Living Principle oor die werk van Eliot sê).

 

Deel van die spoor-kode, wat reeds op die mooi voorblad vooropgestel word, en dwarsdeur die bundel op verskeie vlakke en met verskillende teksture uitgebuit word, bied heerlike ontginningstogte vir voornemende studente en ondernemende lesers. Maar, voor God, ek is te bang om iets van die filosofiese onderbou van Derrida se spore te noem, want ek weet Maria Snyman sal my vir die volgende paar maande op Versindaba se webwerf daarmee besig kan hou.

Ten besluite – Eugenio Montale het oor die poësie van sy tyd gesê wat eweneens waar is van die Afrikaanse poësie vandag; “Many of today’s verses are prose and bad prose.” Johann de Lange is ’n liriese uitsondering. Hoor hoe sing die gedig: ‘Catullus praat met die digter op Diemersdal’:

            Nou smee die dae met winterweer ’n grys komplot.

            Deur skuur & houtbeskot, deur elke kier, fluit ’n ysige wind.

            Sit weg die tuinvurk, die grond is kluithard, die jaar se oorskotvrugte

            is ingelê in gouestroop. Lees, of skryf gedigte. Kat se kind

            lê knus voor die kaggel terwyl dit buite geurig reën.

 

            Vir die hart ongedurig na ’n lang seereis

            wag die warmer keerkring van die palmblaar.

            Digters volg die soet spoor van die rietmuis

            wat ritsel oor papier. Woorde slyt teen mekaar

            & paar, rond & glad soos kieselsteen.

 

Hier is uitstaande verse in hierdie bundel. Helaas is daar ook heelwat swakker gedigte (ek sou byvoorbeeld die laaste twee afdelings van die digbundel nie ingesluit het nie, ’n gedig of twee uitgesonder). Maar, dis onteenseglik waar: De Lange is bepaald een van ons groot digters in Afrikaans, en hierdie bundel bevestig sy kragtige digterskap. 

 

(c) Tom Gouws 

 Resensie geborg deur

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: Stil punt van die aarde (Johann de Lange)”

  1. Melanie Grobler :

    Wonderlike resensie vir ‘n uitsonderlike digbundel. Baie dankie!