Hertzogprys vir Marlene van Niekerk se bundel “Kaar”

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het pas hul bekronings vir 2014 bekend gemaak. Die pryse sal na keuse van die bekroondes tydens bekroningsplegtighede, onderskeidelik op Stellenbosch (27 Junie) en Pretoria (5 September) oorhandig word.

HERTZOGPRYS VIR POëSIE

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl. J.B.M. Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie. Die prys van R50 000 word geborg deur Rapport. 

Die Hertzogprys word vanjaar toegeken aan prof. Marlene van Niekerk vir haar bundel Kaar.

In haar resensie van dié bundel het Zandra Bezuidenhout haar soos volg daaroor uitgelaat: “Die bundel Kaar kan beskryf word as ’n eksuberante verslag van onderdompeling in die groot tumult wat ons die Lewe noem; ’n verlustiging in die roes van menslike ervaring, maar ook in die taal self, en daarmee saam ’n strewe om alles teen die lig te hou. Intellektuele, filosofies-georiënteerde boustof, gewis, maar denkstof wat gekonkretiseer word in ’n ryp oes van daaglikse belewenisse. Elke gedig is ’n instansie van nadenke waar verwarring en verwondering tot heerlik sintuiglike poësie gemaal word. Daar word stilgestaan by lewensvrae, soms vermom as grap, genot of toevalligheid, wat strek van die misterie rondom die aantrekkingskrag tussen mens en mens, of mens en natuur (hoe innig spreek sy nie die waterbessieboom en die swaan in twee wonderskone verse aan nie), tot by die belewing van ’n kunswerk deur Bruegel, Magritte of Weissenbruch […] Van Niekerk plaas die Afrikaanse poësie op ’n nuwe trajek. Ek ervaar hierdie besonder ryk en ryp bundel as ’n adembenemende tog. Dit is ’n versameling verse wat saampraat met (en wegpraat van) die beste wat ons digkuns op die oomblik te bied het; meevoerend, esteties hoogs bevredigend en vormgewys briljant.”

‘n Welverdiende bekroning, inderdaad!

Gaan lees gerus die volledige resensie hier: http://versindaba.co.za/2013/11/25/resensie-kaar-marlene-van-niekerk/

By wyse van lusmaker volg een van die gedigte uit Marlene van Niekerk se bekroonde bundel.

Oggend van ’n waterfiskaal

(Uit die Cederbergsuite)

 

Allagot! geglip uit die knukkels

van hierdie kant se koskans- en hansmaker

wip die waterfiskaal die oggendkier in,

kaneeeeeel van verbasing op sy bors,

onder sy kruidnagelkloutjies die rinkink-rulle

spiksplinterspuwende Dwarsriviersand,

tinktuuuuur van manelkwik geveer op sy flanke,

strak in die frak, die keil platgekam,

akkelief hy oor die akkers tot die waterkant, kyk! –

triljarrrrrrrrrrde klein en groot fiskale innie spiekspiegel,

hokaai kohorte kansvatters

wat hy konter met pronkstand akimbo,

knipstert na die kindlig in die oewerkrui,

en wegstaan, kyk so, eeeeene Ollewagen-onderbaadjie,

hy is die een en innigste godontglipper

hier in die prilwilde hoogmakerson,

!tewiek in sy keel sit sy roepnaam !tewiek

soos ’n klok in die bergkut, ketoooools

van die mondsagte more.

 

(c) Marlene van Niekerk (Uit: Kaar, 2013: Human & Rousseau)

 

 

 

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Hertzogprys vir Marlene van Niekerk se bundel “Kaar””

  1. Baie geluk, Marlene!

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    Uitstekende nuus, die Hertzog vir Marlene van Niekerk se KAAR! Dubbel en dwars na verdienste. Veels geluk met ‘n welverdiende prys vir ‘n groot en grootse bundel verse, Marlene.

    Breyten

  3. Marlise Joubert :

    Marlene, baie geluk met hierdie groot prys vir Kaar! Dis welverdiend!

  4. Leon Retief :

    Veels geluk Marlene, welverdiend!

  5. anita :

    Marlene, baie geluk met die groot-groot prys! Dis ‘n wonderlike bundel waaraan ek nog ‘n leeftyd lank gaan herkou. Dankie dat jy weer gepubliseer het. Mag daar nog vele uit jou pen verskyn.

  6. Francis :

    Hartlik geluk met die erkenning vir ‘n juweel van ‘n digbundel.