Gisela Ullyatt. All apologies: Kurt Cobain (20 Febr 1967-5Apr 1994)

Kunswerk: Sarang Purandare

 

 

              Kurt Cobain, unplugged

 

jy krimp op

in ’n oorgroot knooptrui

 

jou lewe

kringfluit

 

die hees windbars in jou stem,

nou ’n finale knalsein

 

jou begrafnislelies en kerse

wag geduldig op jou heart-shaped box

 

jou eie grunge

het jou ingehaal

 

want jesus roep jou nie meer

vir ’n sonstraal nie

(Gedig: Gisela Ullyatt:2014)

 

8 April 1994. Die details van daardie dag is lankal uit my geheuebank gevee. Dit was my standerd nege jaar. Dit was die maand van die Groot Verkiesing. Daar was te véél blikkieskos in te veel huishoudings. Sousbone en Pilchards. Die volk se middelklaskos in tamatiesous.  

Nagwolf wat ek is, luister ek na Barney Simon se baie-laatnag-show op 5FM (helaas ontglip die presiese naam van die program my). Die nuus word uitgespu: Kurt Cobain, hoofsanger van Nirvana, het homself geskiet. Die Koning van Grunge is dood. Grunge is dood. Kurt Cobain dissipels in my skool laat druk rouswart T-hemde, haal Nirvana kassette te voorskyn (ek het niemand op daardie tydstip in my model C-skool geken wat ryk genoeg was om reeds CD’s te kon besit het nie). Almal luister of hulle sy selfmoord in die lirieke kon hoor. After the fact.

Ek besef selfdood is deesdae die meer aanvaarbare vervanging van selfmoord, ’n woord waaraan ontsettende stigma en pyn kleef. Maar gesien in die konteks van Kurt Cobain se vervlietende lewe, sal enigiemand wat sy lewe navors tot die gevolgtrekking kom dat hy ’n geweldige en gewelddadige moord van die self gekoester het. Dis voor die hand liggend in sy lirieke, dagboeke en sy  ontelbare pogings om homself met oordosisse heroïne die ewigheid in te spuit. Hy het ’n  doodsbegeerte van jongs af gekoester en reeds in 1981 het hy verskeie vriende vertel: “I’m going to be a superstar musician, kill myself, and go out in a flame of glory” (Cross:32).

Die vyfde April 1994 is egter die dag wat Kurt sy brose bestaan op aarde vaarwel geroep het. Hy was dus drie dae reeds dood in die kweekhuis bo die garage van die Lake Washington Boulevard-herehuis. Die grusame ontdekking van Kurt se stukkende lyk word gevind deur ene Gary Smith, ’n elektrisiën wat ’n nuwe sekuriteitstelsel moes installeer. Dis ironies dat  niemand daaraan gedink het om Kurt te loop soek in die mees vanselfsprekende plek waar hy sou wegkruip en homself geweld aandoen nie: daar was reeds talle soektogte deur die huis se vertrekke; Courtney Love het selfs ’n privaatspeurder gehuur om Kurt op te spoor. Niemand het daaraan gedink om in die anneks te kyk nie.

’n Remington M-11 haelgeweer en $100 Meksikaanse “black tar heroin” word deur die polisie gevind. Die outopsie openbaar ’n dodelike hoeveelheid van hierdie variëteit in sy maag. Ook ’n brief word gevind wat sy eksplisiete self-haat vir die laaste keer noteer: “I can’t stand the thought of Frances becoming the miserable self-destructive death rocker that I’ve become […] since the age of seven I’ve become hateful towards all humans in general”. Die nota sluit af met Neil Young se woorde “it’s better to burn out than to fade away” (Cross:338).

“Frances” verwys na sy dogter met Courtney Love wat in 1992 gebore is, ’n paar maande na hulle troue in Hawaii.

Ironies genoeg rig hy die nota aan ene “Boddah”, sy denkbeeldige maatjie uit sy kinderjare, wat terselfdertyd baie soos “Boeddha” klink. “Nirvana” is ’n Boeddhistiese term wat hy gekies het vir sy grunge groep se naam toe hy in ’n Boeddhistiese fase was (hy was ook tot sy dood gefassineerd met Djainisme). Verder word ’n deel van sy as deur Courtney Love na die Namgyal Buddhist Monastery naby Ithaca, New York, geneem waar dit seremonieel geseën en met spesiale klei vermeng word tot ’n tipiese Tibettaanse tsatsa gedenkbeeldjie.  

Maar wie was Kurt Cobain, of Kurdt Kobain, sy alter-ego?

Kurt is gebore en getoë in die bleek industriële dorp, Aberdeen, Washington; sy ouers, Wendy en Don was high school sweet hearts en het, soos duisende voor hulle, te vroeg getrou. Daar was altyd ’n chroniese tekort aan geld en drome; kort voor lank word Kurt se suster Kim gebore. Die familiedinamika is disfunksioneel en telkens word Kurt, omdat hy ’n hiperaktiewe kind was as die sondebok voorgehou. Terselfdertyd was hy uiters sensitief én begaafd; beide intellektueel en kunsgewys.

In sy tiende jaar skei die Cobains, ’n waterskeiding vir Kurt. Hy internaliseer hierdie gebeurtenis op ’n gewelddadige en intense wyse. Daardie jaar krap hy die volgende woorde teen sy muur uit: “I hate Mom, I hate Dad. Dad hates Mom, Mom hates Dad. It simply makes you want to be so sad” (Cross:21). Hierna word die haat vir die self egter stewiger gewortel as dié vir sy ouers en karteer Kurt sy selfvernietigingsdrange in sy dagboeke en kunswerke.

Veral die bitter verhouding tussen hom en sy pa vind neerslag in “Serve the Servants” (In Utero): “I tried to have a father, but instead I had a dad”.

Sy latere heroïne-gebruik wat veral eskaleer op Nirvana-toere het nie net te make met sy innerlike demone nie, maar ook met ’n onuithoudbare en chroniese maagkondisie wat deur die jare met min sukses gediagnoseer en behandel word. In sy dagboek skryf hy:

I decided to use heroine on a daily basis because of an ongoing stomach ailment that I had been suffering from for the past five years, [and that] had literally taken me to the point of wanting to kill myself. For five years, every single day of my life, every time I swallowed a piece of food, I would experience an excruciating, burning, nauseaus pain in the upper part of my stomach lining. The pain became even more severe on tour, due to the lack of a proper and regimented eating schedule and diet […] I consulted 15 different doctors, and tried about 50 different types of ulcer medication. The only thing I found that worked were heavy opiates. There were many times that I found myself literally incapacitated, in bed for weeks, vomiting and starving. So I decided, if I feel like a junkie as it is, I may as well be one.

Hierdie “junkie”-gevoel word uitgebeeld in Nirvana se eerste musiekvideo vir MTV (wat Kurt “Empty TV” noem), “It smells like Teen Spirit”. Die hele video het ’n chtoniese kwaliteit, wat eindig in ’n nabyskoot met Kurt in orgasmiese maar ook sinistere stuiptrekking. “Heart-shaped box” is gebaseer op kuns-konsepte in Kurt se dagboeke en daar is ‘n bisarre kruis en Christus, ’n fetus in bloed in ’n hospitaaldrup, en ’n dogtertjie in Klu Klux Klan-drag. Weer eens is ’n gevoel van kloustrofobie aanwesig, ‘n kenmerk van grunge-lirieke en -video’s.

Maar dit is tydens die opname van Nirvana, Unplugged in New York (November 1993) waarin Kurt se dowwe lig weer skyn, al is dit net vir een aand. Die atmosfeer was somber, maar nie ongewoon vir die grunge-era nie. Kurt het daarop aangedring dat die verhoog-dekor bestaan uit Stargazer-lelies, swart kerse en ’n kristalkandelaar. Ironies genoeg is die tweede song (“Come as you are”) van hierdie optrede reeds ’n waarskuwing van wat sou kom: “And I swear I don’t have a gun, and I swear I don’t have a gun”.

Hierdie lirieke vind ook neerslag in ’n blog van Andries Bezuidenhout (Versindaba, 5 Januarie 2010):

 

Geslaan aan kitare,

grunge en lang hare,

die pyn van Cobain […]

 

Jy’t gesê jy’s oraait,

jy’t gesê jy’s oraait,

jy’t gesê jy’s oraait,

jy’t gesê jy is okei

en Kurt Cobain het gesweer

hy’t nie ’n geweer,

Kurt Cobain het gesweer,

Kurt Cobain het gesweer

hy’t nie ’n geweer.

 

Daar is nie veel gepubliseerde gedigte oor Kurt Cobain nie. Johann de Lange (110-111) het wel ’n ontroerende gedig oor Kurt se laaste oomblikke geskryf. Die metafoor wat de Lange gebruik is ongewoon in die konteks van Kurt se lewe, omdat hy nie met swem geassosieer word nie. Tog is dit ’n geslaagde metafoor, omdat dit Cobain se verskriklike isolasie voorstel waarmee hy sy hele lewe lank geworstel het en herinner die water-konsep aan die idee van die baarmoeder waarmee gewerk word in die album In Utero:

 

Kurt Cobain (1967-1994)

 

Laastelik bly die stilte:

eensaam soos ’n swemmer

oorgehaal

op die punt van ’n duikplank

’n jong man alleen

in ’n vertrek,

voor die venster,

geen fotograwe

wat in die bome skuil,

geen kameras

wat verklik hoe on-

gelukkig hy was.

 

Die jagpet

waarmee hy hom

op straat vermom

het, afgehaal,

die blonde hare

oor sy oë laat val.

Ses dae later

is sy oorskot

eers gevind:

die Remington

dwars oor sy bors,

ID-foto op die vloer;

& die gelaat

eens só bekend,

was onherstelbaar geskend.

 

Hy het by die siel

van die grou loop

ingekyk, & toe

die koue staal

teen sy slaap

gedruk: vinger oor-

gehaal op die sluiter,

sy oë toegeknyp,

was hy vir die laaste

nabyskoot gereed.

 

          En die slag

het die vlies van stilte gekloof

soos ’n swemmer

wat boontoe kom vir

 

asem.

 

Kurt se laaste woorde, gevind in sy selfmoordbrief, lui: “It’s better to burn out than to fade away”. Hierdie woorde, gedruk op duisende T-hemde, word al te dikwels sonder hul oorsprong en konteks aangehaal. Hierdie reël is deel van Neil Young se lirieke op sy 1979-album “Rust never sleeps”. Die song is “My my hey hey (out of the blue)”:

Hiervan sê Neil Young die volgende in sy outobiografie: “John Lennon disagreed with that. Kurt Cobain quoted it in his last letter. People have asked me about that line since I first sang it in 1978. I wrote it referring to the rock and roll star, meaning that if you go while you are burning hottest, then that is how you are remembered, at the peak of your powers forever. That is rock and roll” (2012:331).

 

My my hey hey

Rock and roll is here to stay

It’s better to burn out

Than to fade away

My my hey hey

 

Bibliografie

Cross, C.R. 2001. Heavier than heaven. The biography of Kurt Cobain. Londen: Sceptre.

De Lange, J. 2010. Judasoog. ’n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Kaapstad: Human & Rousseau.

The End of Music. 2002. Kurt Cobain Journals. Londen: Viking.

Young, N. 2012. Waging heavy peace. A hippy dream. New York: Penguin.

 

 Skakels:

https://www.youtube.com/watch?v=n6P0SitRwy8 Video van “heart-shaped box”

https://www.youtube.com/watch?v=aWmkuH1k7uA  Video van “All apologies”, Nirvana Unplugged New York

https://www.youtube.com/watch?v=hTWKbfoikeg Video van “Smells like Teen Spirit”

http://news.sky.com/story/1229500 Polisiemateriaal

 

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Gisela Ullyatt. All apologies: Kurt Cobain (20 Febr 1967-5Apr 1994)”

  1. Wicus Luwes :

    Baie dankie hiervoor. Die stem van Gen X. ”n Lennon en McCartney vir die begin van die 90’s en lid van klub 27′.’Oh well, whatever, nevermind.’

  2. Marlise :

    Dis ‘n aangrypende beskrywing van hierdie sanger wat ek nie in my eie jeugjare geken het nie. Lank na my tyd. Mens wil so graag glo dat kuns, in watter vorm ookal, (musiek, skryf, toneelspel, skilder, ens.) die persoon sal help om dinge te verwerk en daarmee af te reken. ‘n Vorm van terapie dus, om ‘n balans te vestig tussen jouself en al die verskrikkings en traumas wat die mens teister. Helaas, is dit nie altyd die geval nie. Dankie Gisela.

  3. Solet Scheeres :

    Dankie hiervoor! Vandag het my 16jarige seun sy T-hemp aan waarop Cobain se gesig in swart-en-wit op gedruk is. Vir hom is Cobain se musiek soos ‘n evangelie van lank-lank gelede, hy bewonder die “andere tijden” en hy gebruik dit om deel te wees van die groep op skool met ‘n identiteit (wat sekerlik ook ‘n naam het ek weet net nie wat dit is nie)wat sê: ek weet tog wie Cobain was en jy nie… Sy fassinasie herinner my aan myne op dieselfe ouderdom: James Dean.

  4. Gisela Ullyatt :

    Inderdaad, Wicus. Cobain het juis van jongs-af gesê dat hy soos Jimi Hendrix wou ‘gaan’, dus deel vd ’27-klub’. Generasie X is onomwonde verbind aan die grunge-era. Net soos die Baby Boomers gelukkig genoeg was om Neil Young, Joni Mitchell, Led Zeppelin, ens te hê.
    Solet, soos Neil Young in ‘hey hey my my’ bevestig: ‘rock and roll will never die’. Ek’s baie in my noppies dat jou seun, twintig jaar post-grunge, Kurt gedenk. Ek dink dis veral Kurt se briljante lirieke wat nooit sal sterf nie en dus herdenk en na geluister moet word. Ek hoop hy weet van Nirvana unplugged. Die hele ‘show’ is te vinde op Youtube. Dis klassiek.
    Marlise, ek dink dis daardie tipiese kunstenaar-depressie skakel (Van Gogh, Plath, Eugene Marais) wat al soveel aandag geniet het in die sielkunde (in boeke soos Black Sun deur Julia Kristeva) wat die kunstenaar, skrywer, digter met ‘n tipping point laat. Iets in hul lewe versteur die reeds-sensitiewe kunstenaarsiel en breek die skakel met die vreugde wat hulle vind in skryf of skep. Vir sommige is dit makliker om te oorkom en bly hulle hul hele lewe lank uiters produktief. Soms het dit met chroniese siekte (soos in Kurt se geval) te make asook sogenaamde ‘suicide genes’. Kurt se oupagrootjie en twee van sy ooms aan vaderskant het hulself geskiet. ‘N ander oom het homself herhaaldelik in die maag gesteek totdat hy doodgebloei het. Laat my baie dink aan die Hemingways se intergenerasionele depressie en selfdood.